View
366
Download
0
Category
Preview:
Citation preview
`n Kritiese vergelyking tussen die ekklesiologieë van G. Heitink en G.D.J. Dingemans – toegepas op die NHKA
van die een-en-twintigste eeu
Deur
Marna Venter
Voorgelê ter gedeeltelike vervulling van die vereistes vir die
graad Magister Divinitatis aan die Fakulteit Teologie,
Universiteit van Pretoria
Studieleier: Prof. Dr. J Buitendag
Oktober 2008
2
`N KRITIESE VERGELYKING TUSSEN DIE EKKLESIOLOGIEË VAN G. HEITINK EN G.D.J. DINGEMANS – TOEGEPAS OP DIE NHKA VAN DIE EEN-EN-
TWINTIGSTE EEU ......................................................................................................... 1
HOOFSTUK 1 ................................................................................................................. 4
INLEIDING ......................................................................................................................... 4 1.1 Probleemstelling ............................................................................................ 4 1.2 Metodologie ................................................................................................... 6 1.3 Omlyning van struktuur van skripsie .......................................................... 7
HOOFSTUK 2 ................................................................................................................. 9
DIE KERK AS INSTITUUT EN AS GEMEENSKAP ..................................................... 9 2.1 Inleidende opmerkings ................................................................................. 9 2.2 Die dimensies van die Kerk - “instituut” ................................................... 10 2.3 Die Kerk as Organisme – “Communio Sanctorum” ............................... 17 2.4 Samevatting ................................................................................................. 24
HOOFSTUK 3 ............................................................................................................... 26
DIE EKKLESIOLOGIE VAN G HEITINK, DIE KERK AS GEMEENSKAP EN
INSTITUUT ...................................................................................................................... 26 3.1 Inleiding ........................................................................................................ 26 3.2 Heroriëntasie - ’n Inleiding ......................................................................... 27 3.3 Kerk as “instituut” – Die matriks ................................................................ 33 3.4 Samevatting – Transformasie ................................................................... 48
HOOFSTUK 4 ............................................................................................................... 49
DIE EKKLESIOLOGIE VAN G.D.J. DINGEMANS, DIE RONDE-TAFEL KERK .... 49 4.1 Inleiding ........................................................................................................ 49 4.2 Die Kerk as die bedding van die Christendom ....................................... 50 4.3 Christelike “gemeenskap” as kruispunt ................................................... 53 4.4 Die geloofs”gemeenskap” in `n (post)moderne tyd – Die “Ronde-tafel”
kerk ............................................................ ........................................................... 58 4.5 Samevatting ................................................................................................. 64
HOOFSTUK 5 ............................................................................................................... 65
`N KRITIESE VERGELYKING TUSSEN DIE EKKLESIOLOGIE VAN G. HEITINK
EN G.D.J. DINGEMANS BINNE DIE RAAMWERK VAN DIE KERK AS INSTITUUT
EN GEMEENSKAP ......................................................................................................... 65 5.1 Inleidende opmerkings ............................................................................... 65 5.2 Algemene vergelyking ................................................................................ 65 5.3 Besondere vergelyking ............................................................................... 67 5.4 Samevatting ................................................................................................. 75
HOOFSTUK 6 ............................................................................................................... 77
DIE VERGELYKING TUSSEN DINGEMANS EN HEITINK TOEGEPAS OP DIE
NHKA VAN DIE EEN-EN-TWINTIGSTE EEU – BEVINDINGS ................................ 77
3
6.1 Inleidend ....................................................................................................... 77 6.2 Die vergelyking tussen Dingemans en Heitink, toegepas op die NHKA
van die een-en-twintigste eeu ................................................................................ 78
LITERATUURVERWYSINGS ...................................................................................... 82
4
HOOFSTUK 1
INLEIDING
1.1 Probleemstelling
Tot watter mate is die ekklesiologie van die NHKA in die een-en-twintigste eeu nog
toepaslik? Die afgelope dekades het die kerk oor die algemeen `n afname in lidmate
beleef (Knippenberg 2005:3). Hierdie tendens word ook waargeneem in al die
hoofstroom Suid-Afrikaanse kerke en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika –
die fokus van ondersoek – is geen uitsondering nie (Dreyer 2003:1054).
In Europa is hierdie feit te wyte aan sekularisering asook materiële
vooruitgang en morele agteruitgang (Heitink 2004:502). Die kerk se bevoorregte
posisie van die afgelope eeue is nou net `n herinnering. Tussen 1950 en 1980 het
deelname aan georganiseerde godsdiens afgeneem tot so ’n mate dat dit krisis-
afmetings aangeneem het en die kerke begin leegloop het (Knippenberg 2005: 3).
Die situasie het in so `n mate versleg dat daar in die tweede helfte van die 20ste eeu
en die begin van die een-en-twintigste eeu, 450 Moskees in Nederland gebou is,
terwyl daar in dieselfde tydperk geen Christelike kerkgebou opgerig is nie en die
bestaande geboue eerder platgestoot is (Knippenberg 2005:88).
Die situasie in Suid-Afrika was baie meer rooskleurig tot `n paar dekades
gelede. Die sekularisering en kerk-verlating wat in die middel van die 20ste eeu in
Europa plaasgevind het, het Suid-Afrika veral eers na 1990 getref. Dreyer
(2003:1051) skryf hieroor: “In Suid-Afrika het die Christendom `n groei vertoon met
77% van die totale bevolking wat in 1980 met `n Christelike kerk geassosieer is. Die
syfers daal egter na 74.5% in 1991.” Hierdie tendens word dan ook vêrder in die
genoemde studie van Dreyer bevestig oor die NHKA (Dreyer 2003:1054). Die effek
van emigrasie, politiek en groeiende agnostisisme moet ook nie buite rekening gelaat
word as oorsake van hierdie feit nie (Dreyer 2003:1054). Suid-Afrikaanse kerke se
ledetalle verklein by die dag en ons erediens bywoning raak net al hoe swakker.
As gekyk word na die situasie waarin Suid-Afrika en die kerk haarself in die
een-en-twintigste eeu bevind, is dit ontoereikend om net oorsake te gaan soek en in
diepte studies daaroor te doen. Die probleem moet nie net geprofileer word nie, maar
5
sovêr moontlik ook aangespreek word. Anders staar die NHKA dieselfde toekoms in
die gesig as baie van die Europese kerke, waar die kerkgeboue omskep word in
museums en selfs klubs.
As hipotese wil ek stel dat die ekklesiologie van die NHKA direk saamhang
met haar verlies aan lidmate. Die NHKA se ekklesiologie kom weliswaar uit die Skrif,
maar ook invloede sedert die 16de eeu in Nederland het hiertoe bygedra. Teoloë
soos onder andere Van Ruler, Barth, Hoedemaker, Berkhof en Langman (Dreyer W
2006:1348) het die NHKA se selfverstaan sterk beïnvloed. Hierbenewens het die
sosio-kulturele situasie van Suid-Afrika gedurende die 19de en 20ste eeu
aantoonbare invloed op die NHKA se kerkverstaan gehad (Dreyer W 2006:1365).
Hoe die kerk haarself verstaan is dus medebepalend vir haar voortbestaan. Die
ekklesiologie van die NHKA vra gevolglik indringende aandag. Daar is egter
dissonansie tussen die beeld van die kerk en die ekklesiologie (Buitendag 2003:354)
`n Kerk wat onkrities uit die verlede leef en nie sensitief vir die veranderde en
veranderende situasie om hom is nie, is `n kerk wat nie kan groei nie. Oplossings
word gesoek, maar is nie in die situasie van vandag prakties houdbaar nie (Dreyer W
2006:1338).
As slotsom word gestel dat kerke in hulle soeke na oplossings, ongelukkig
terugval op hulle sosio-kulturele wortels en na daardie modelle gaan soek wat in die
verlede gewerk het. Daar word byvoorbeeld in die NHKA oplossings gesoek in ’n
onlosmaaklike band tussen kerk en volk. Die kwessie van die jeug se betrokkenheid
word ook voortdurend ’n brandpunt gemaak (Heitink 2007:22).
Die punt wat dikwels misgekyk word, is die veranderende konteks. Die
veranderende situasie van die een-en-twintigste eeu word in min van hierdie studies
verdiskonteer. Die konteks waarop die meeste van die NHKA se studies fokus, is die
van die volkskerk. In vandag se konteks is dit net nie meer houdbaar nie (Dreyer W
2006:1365).
Daar is skrywers wat praat vanuit `n een-en-twintigste eeuse perspektief en
wat sensitief is vir die verandering, maar soms fokus hulle te veel op die teorie. Die
ander groep skrywers se gaping tussen die praxis en die teorie is ook te groot en
hulle fokus net op die praxis (Dreyer W 2006:1365). Dit kan lei tot verideologisering.
Die teorie en die praxis moet in konstante kommunikasie wees met die konteks, om
onderhoud baar te wees om die kerk se oorlewing te verseker (Dreyer T.J.F.
2005:804).
6
Twee resente Nederlandse teoloë wat hierdie gaping probeer oorkom het, is
G. Heitink en G.D.J. Dingemans. Daarom gaan hulle werke rakende ekklesiologie in
`n veranderde en veranderende situasie integraal gebruik word in hierdie studie.
Hulle open perspektiewe wat die teorie en praksis in ag neem. Aangesien die NHKA
tradisioneel graag by die Nederlandse Hervormde Kerk kers opgesteek het, is dit ook
net goed dat ook nou na die Protestantse Kerk in Nederland (die voortsetting van die
Ned Hervormde Kerk) se teoloë gekyk word vir koers. Uiteraard moet dit ’n kritiese
en eklektiese proses wees.
Die twee genoemde teoloë kom albei uit Nederland, waar ontkerkliking hoogty
vier (Knippenberg 1992:225). Hulle het in hulle onderskeie werke oor die
ekklesiologie (De Stem van de Roepende van Dingemans en Een Kerk met Karakter
van Heitink) gepoog om nuwe perspektiewe te open op die kerk se identiteit en
relevansie vandag in Europa.
Hulle poog om die balans tussen praxis en teorie te herstel in hulle boeke, en
daarom gaan ek poog om insigte uit hulle boeke te trek om nuwe lense te kry om te
kan kyk na die situasie waarin die NHKA vandag is.
Daarom gaan hierdie studie poog om perspektiewe te open vanuit hulle
ekklesiologiese ontwerpe en daarvolgens perspektiewe rakende die NHKA se
ekklesiologie te probeer identifiseer.
Hierdie studie gaan poog om `n model voor te stel as moontlike antwoord op
die genoemde navorsingsprobleem. Die studie sal gedoen word vanuit bestaande
resente literatuur wat konteks-sensitief is, in besonder gemelde twee teoloë se
relevante werke.
1.2 Metodologie
`n Literatuurstudie waarin die ekklesiologiese modelle van G.D.J. Dingemans en G.
Heitink krities met mekaar vergelyk word, gaan onderneem word. Aandag sal gegee
word aan beide outeurs se betrokke publikasies wat sal dien as die hoof bronne. Die
fokus van hierdie studie is ekklesiologie en daarom gaan ek ekklesiologie in breë
kontoere deur die geskiedenis bespreek, asook die probleem met die ekklesiologie in
vandag se veranderende en veranderde konteks.
Ek gaan twee nuwe modelle, in Europese konteks, breedvoerig met mekaar
vergelyk en opsommings van hulle standpunte weergee vir ontleding en evaluering.
7
Daarna gaan ek die twee modelle krities met mekaar vergelyk. Die NHKA se
ekklesiologie gaan kursories bespreek word waarna die voorafgenoemde vergelyking
toegepas gaan word op die ekklesiologie van die NHKA.
Ander materiaal wat bydra tot die verstaan van die geskiedenis van
ekklesiologie in die algemeen en in die besondere die ekklesiologie van die NHKA ,
sal met diskresie toegepas word.
1.3 Omlyning van struktuur van skripsie
Die skripsie het ses hoofstukke.
Hoofstuk een beslaan die probleem stelling, die metodologie en die omlyning
van die skripsie.
Hoofstuk twee is die inleidende hoofstuk met die ontwikkeling van die
ekklesiologie vanaf die Nuwe Testament tot die een-en-twintigste eeu. Die
klassieke formulering van die Apostoliese Geloofsbelydenis en van die
Nicaeno-Constantinopolitanum, sal uiteraard heuristies gesproke, die koers
aandui. Ek gaan gebruik maak van die insigte van o.a. Käsemann, Berkhof,
Moltmann en Küng vir `n wyer verstaan van die ontwikkeling van die
dimensies van die kerk oor die eeue. Dit is belangrik omdat dit die fondament
vir die verstaan van die probleem in die een-en-twintigste eeu is. Calvyn,
Luther en Barth sal ook aandag kry vir die ontwikkeling van die
Reformatoriese ekklesiologie.
Hoofstuk drie behandel die eerste van die twee Nederlandse teoloë se
ekklesiologie modelle. G. Heitink word in hierdie hoofstuk breedvoerig
bespreek en weergegee, ontleed en geëvalueer. `n Inleidende paragraaf word
gegee om die agtergrond van die teoloog se ekklesiologie te bespreek.
Hoofstuk vier behandel die tweede Nederlandse teoloog se ekklesiologie
model. G.D.J. Dingemans sal in hoofstuk vier bespreek en opgesom, ontleed
en geëvalueer word. `n Inleidende paragraaf sal gegee word om die
agtergrond van die teoloog se ekklesiologie te bespreek.
In hoofstuk vyf word die insigte van die bogenoemde teoloë krities met mekaar
vergelyk word. Ooreenkomste en verskille en agtergronde sal vergelyk word.
Hoofstuk ses fokus op moontlike toekomstige ekklesiologiese kontoere vir die
NHKA in veranderende tye. Hier sal die insigte wat in hoofstukke drie en vier
8
verkry is opgeweeg word teen die geskiedenis en die konteks van die
ekklesiologie van die NHKA. Die etos en tradisie sal deurgaans in ag geneem
word, maar sonder dat dit die evangelie kompromitteer.
9
HOOFSTUK 2
DIE KERK AS INSTITUUT EN AS GEMEENSKAP
2.1 Inleidende opmerkings
Ekklesiologie is die teoretiese nadenke van die kerk oor haar identiteit en roeping wat
uitloop op die bestaan van die kerk as ’n gemeenskap van gelowiges. Dit bring
insigte mee in die wyse waarop die kerk haarself sal moet aanpas as instituut, om
aan te hou oorleef en ontwikkel (McGrath 2007:391). Hier kan die twee fasette van
ekklesiologie duidelik gesien word. Hierdie twee gesigte is die “instituut” en die
“gemeenskap” van die kerk. Daarom gaan die kerk se “twee gesigte” (Berkhof
1979:343) heuristies dien vir die studie onderweg. Om dit te doen gaan vanaf die
algemene na die besondere gewerk word. Beide eienskappe gaan in die algemeen
verduidelik word en breedvoerig, in die besonder bespreek word.
Die kerk as “instituut” en as “gemeenskap” is nie op `n kunsmatige wyse aan
mekaar verbind nie, maar is so verbind dat die instituut die fondasie en die wortel van
die gemeenskap is en die gemeenskap weer die doel en die vrug is van die instituut
(Berkhof 1979:343). Die instituut, wat die wesensvraag is van die Kerk, word beskryf
deur die dimensies van die kerk soos verduidelik in die klassieke formulering van die
Apostoliese Geloofsbelydenis en van die Nicaeno-Constantinopolitanum, “Een,
Heilige, Katolieke en Apostoliese kerk”. Die gemeenskap weer is die organiese aspek
van die kerk, die communio sanctorum, die samekoms van die gemeente van God en
word ook opgeneem in die Apostoliese Geloofsbelydenis deur die frase, “[ek glo] die
gemeenskap van die Heiliges”. Hier gaan dit oor die bestaansvrae van die Kerk en
daarom is die Gemeenskap, die Communio Sanctorum (Barth 1959:141) die
samekoms van individue wat saamgebind is aan God en ander mense en wat
saamgeroep is deur die Heilige Gees (Berkhof 1979:339).
Daar gaan vanaf die algemene verstaan deur die geskiedenis, van die Instituut
(Afdeling 2.2) en die Organisme (Afdeling 2.3) gewerk word na beide se besondere
verstaan. Die Instituut se besondere verstaan is die notae ecclesiae, en die
Gemeenskap/Organisme se besondere verstaan is die Kerk as volk van God, as
skepping van die Gees en as die liggaam van Christus.
10
2.2 Die dimensies van die Kerk - Instituut
In die Ou-Testament is die “kerk” verstaan in terme van die volk se verbondenheid
met God. Sedert God met Abraham die verbond gesluit het, (Gen 12:2) was die
nageslag van Abraham aan God verbind. God identifiseer Homself met hierdie volk
van Hom, en die Kerk identifiseer haarself met die volk van God. Hierdie
verbondsvolk is saamgebind deur die Heilsgeschichte en die eskatologiese
verwagting van die Messias en afstammeling (Küng 1969[2001]:117-119).
In die Nuwe-Testament weer was daar volgens die mening van Käsemann nie
`n ecclesiologia perennesis (Käsemann 1969:295) nie, maar `n paar basiese
ekklesiologiese tipes. Dit is die gevolg daarvan dat Jesus nie `n “onderskeibare”
gemeenskap kom stig het nie, maar dat Jesus wel gemeenskap moontlik gemaak het
onder sy navolgers (Käsemann 1963:290). Hy het geen kerk kom stig in die na-
Konstantynse sin van die woord nie. Die kerk word met die gang van tyd en die
institusionalisering van die gemeenskap as die gemeenskap van gelowiges en die
liggaam van Christus beskryf.
Sedert die Konsilie van Konstantinopel in 381, het die Kerk die belydenis van
Nicaeno-Constantinopolitanum onderskryf. Hierin opgeneem is die beskrywing van
die dimensies van die Kerk (Küng 1969:263). Die Apostoliese belydenis, wat vroeër
gedateer word (+-150 n.C.), word in die Middeleeue as vaste onderdeel van
godsdiensoefening gebruik by die doop van volwasse bekeerdes. Die ontwikkeling
van hierdie belydenisse was `n groot stap in die groei na konsensus met betrekking
tot die leerstellings onder die vroeë Kerk.
Die belydenisse onderskryf die dimensies van die Kerk as volg; “Een”,
“Heilige”, “Algemene” en “Apostoliese” kerk. Vanaf die vierde eeu na Christus tot en
met vandag, het hierdie vier woorde groot belang vir die kerk en haar self verstaan
(McGrath 2003:494). In die ekklesiologie staan die vier dimensies wat die kerk
definieer sentraal tot die verstaan van die kerk se roeping in `n gegewe situasie
(Küng 1969:4).
Tydens die Reformasie is daar weer oor die identiteit van die Kerk nagedink
(McGrath 2003:480). Luther en Calvyn het die vier dimensies onderskryf, maar het
die vraag na die eienskappe van die “ware Kerk” aanhou vra. Vir hulle was die
eienskappe `n verskil in klem. Hulle het die Kerk gesien as die plek waar die
Evangelie suiwer verkondig is, en die sakramente korrek bedien is (Küng 1969:266).
11
Eers daarna kan die vier “onsigbare” dimensies wat deur die Rooms katolieke kerk
aangehang is sigbaar word (Küng 1969:268).
Die onderskeid lê daarin dat die dimensies van die Kerk of as “kenmerke” of
as “eienskappe” en “kriteria” verstaan word. Sonder “kenmerke”, word die wese van
die Kerk aangetas. Die “Kriteria” is dan die vorm waardeur die Kerk sigbaar
gemanifesteer en bely word in die wêreld. Soos gesien kan word in die voorafgaande
paragrawe, moet die verskil en samehang tussen die “eienskappe” en “kenmerke”
reg verstaan word, om eensydigheid te voorkom (Moltmann 1993:337). Küng verkies
om van “dimensies” te praat omdat die woord “merktekens” net maar kan verwys na
die stigmata Christi en genoemde vier begrippe slegs bepaalde perspektiewe of
dimensies van die kerk aandui.
Die teologiese ontwikkeling van die 20ste eeu bring ook nuwe perspektiewe
op die identiteit van die kerk mee. Die teologiese ontwikkeling van die 20ste eeu was
die gevolg van die groei in die ekumeniese beweging en die teologiese besinning van
die Tweede Vatikaanse Konsilie (1962-1965). Hans Küng se benadering tot die
ekklesiologie word die beste beskryf deur sy aandrang op die nodigheid van `n
kritiese Bybelse fondament van elke ekklesiologie en die gevolglike insig in die
verskil tussen die kerk en die Koninkryk van God (Ford 2005:164). Moltmann beskryf
sy ekklesiologie as `n “messiaanse” ekklesiologie, of ook “relasionele” ekklesiologie.
Hierdie twee terme plaas die kerk binne die kader van God se trinitariese geskiedenis
van die wêreld. Beide moet verstaan word binne die raamwerk van die sending van
die Seun en die Gees op hul weg na die eskatologiese koninkryk (Ford 2005:215-6).
Karl Rahner verstaan die kerk as binne die sakramentele, wat beteken dat die kerk
daar is om Christus sigbaar te maak in die huidige konteks, in `n historiese, sigbare
en liggaamlike vorm (McGrath 2003:488). Vir Karl Barth is die kerk die gemeenskap
wat geskep word in respons tot die verkondiging van die Woord van God. Die kerk is
die kerugmatiese gemeenskap wat die goeie nuus van die liefdesdaad van God deur
Jesus proklameer (McGrath 2003:489).
Die vier dimensies van die ekumeniese simbole rakende die wese van die
kerk is sentraal aan al die bogenoemde en is ook konstant in gesprek met die
konteks, en verstaan daarvan is dus ook vloeibaar.
12
2.2.1 “Eenheid”
Die eenheid van die kerk is van vroeg af `n twispunt onder Christene. Die Wêreldraad
van Kerke se ontstaan is te danke aan die Bybelse appèl om eenheid. Hulle definieer
hulleself as “a fellowship of churches, which confess our Lord Jesus Christ as God
and Saviour” (McGrath 2003:495). Maar al is daar onder die kerke wat deel is van die
WRK, eenheid, is die WRK nie kerk nie. Hoe kan mens dan praat van “een” kerk, as
daar soveel verskillende verskynings is van die Christelike kerk is die WRK se
uitgangspunt?
In die geskiedenis van die kerk was daar twee gebeure wat die kerk vir altyd
verander het rakende die strukturele eenheid. Die eerste was die Donatiste
kontroversie rondom die Diocletiaanse vervolgings in Rome (303-313 n C). Die
vervolging het daartoe gelei dat sommige Christene afvallig geraak het en priesters
hulle boeke oorgegee om verbrand te word. Dit het verdeeldheid veroorsaak rakende
die hantering van die afvalliges (traditores) in die kerk, sou hulle weer wou deel word
van die gemeenskap. Augustinus, wat die saak moes beredder, het teruggeval op
Cyprianus van Kartago, wat aangedring het dat die eenheid van die kerk absoluut is,
en het dit vergelyk met die “seamless robe of Christ”. Hy het gesê dat as die eenheid
in gedrang kom, dit die identiteit van die kerk gelyktydig sou verwoes. Hy het die
bekende frase “extra ecclesiam nulla salus” – buite die kerk is geen redding nie, as
reaksie op die genoemde afvalligheid geskryf. Vir hom was daar geen ander wyse
van redding, as binne die een kerk nie (McGrath 2003:495).
Die ander groot gebeure was die Reformasie wat die ekklesiologie gedien het.
Die kritici op die Reformatore wou weet hoe die wegbreek-faksies legitiem wou afskei
van die een en enigste kerk? Dit was mos `n skending van die heilige eenheid van
die onverdeelde Rooms-Katolieke Kerk. Die Reformatore het, soos vroeër genoem,
hulle besluit gegrond op die feit dat die RKK in hulle oë bedorwe geraak het. Die
Middeleeuse kerk was nog ’n “Christelike kerk”, maar oppad om die sig te verloor van
hulle andersoortige identiteit en doel. Daarom het die kerk, hervorming nodig gehad
(McGrath 2003:495-6).
Beide gebeure het te make met verdeling as gevolg van leerstellige verskille.
Dit het die weg geopen vir meer verdelings op grond van leerstellige verskille
(byvoorbeeld die afskeiding van die Church of England van die RKK af). Daarom was
daar van die 16de eeu af duidelik `n tendens wat getuig het dat die tradisionele
13
opvatting oor die “eenheid” van die kerk, soos verstaan in die Apostoliese
Geloofsbelydenis, nie meer as ’n institusionele eenheid verstaan kan word nie.
Deur die ontwikkeling van die teologie, het baie teoloë probeer om hierdie
veelheid en eenheid weer by mekaar te probeer kry. Daar is die imperialistiese
siening wat beweer dat die empiries waarneembare kerk (die RKK) die enigste en
ware kerk is en dat almal wat buite daardie kerk beweeg, vals en onwaardige
afskynsels is. Hierdie siening is hersien tydens die Tweede Vatikaanse Konsilie
(1962-1965). `n Volgende siening was dat daar `n onderskeid gemaak moet word
tussen die empiries waarneembare kerk en die “ideale” kerk oftewel, civitas platonica
(Barth 1959:142). Platonies van aard, het hierdie siening min aanhang geniet. `n
Siening wat hieruit afstam is die van die eskatologiese benadering. Die argument is
dat die kerk weer een sal word in die volheid van tyd. Die volgende benadering gaan
oor die organiese eenheid binne “familiale” kerke. Die organiese eenheid is soos die
struktuur van `n boom. Daar is een basis, maar vele takke. Die Postmodernistiese
benadering rakende die eenheid van die kerk, is dat die kerk soos `n ruim huis is. Dit
sluit aanvaarding van pluraliteit in.
In die afgelope paar jare het daar egter `n verskuiwing plaas gevind. Die
ekumeniese beweging het opgang gemaak, met hulle benadering dat die “ware”
eenheid van die kerk, gesoek moet word. Die eenheid van die kerk word gesien in
die stelling van Ignatius van Antiochië. “ubi Christus, ibi ecclesia” – waar Christus is,
is die kerk ook (McGrath 2003:497). Dit dui op die eenheid van die kerk wat in
Christus is, en nie in geskiedenis, kultuur of strukturele eenheid nie.
Käsemann (1969:295-6) bespreek hierdie tendens breedvoerig. Hy beweer
dat die eenheid van die kerk vandag verstaan moet word binne die raamwerk van die
verstaan van die kerk tydens die Nuwe-Testament. Hulle het die kerk se eenheid nie
verstaan in die sin van `n organiese ontwikkeling nie, maar in die realiteit van die
waarheid en die Heilige Gees. Daarom bly die eenheid van die kerk primêr
eskatologies, wat net ervaar kan word as dit as gawe ontvang word. Die kerk is die
bymekaarkom van die gelowiges en die uitlewing van hulle geloof as die regnum
Christi op aarde (Käsemann 1969:291). Hierdie regnum Christi oorstyg altyd die
menslike organisasies, teologie en godsdienstige praktyke.
Küng gebruik ook die Nuwe-Testament as oriënteringspunt. Die eenheid moet
nie sosiologies of organisatories verstaan word nie, maar teologies (McGrath
2003:497). Volgens Küng lê die eenheid van die kerk in die reddende werk van God
14
in Jesus Christus. Hierdie eenheid is sensitief vir kultuur en konteks, en veronderstel
die meervoudigheid van die plaaslike gemeentes (Küng [1968]2001:274). Nie almal
hou van alles soos wat die ander daarvan hou nie, en nie alles is toepaslik in alle
situasies nie. Die eenheid veronderstel nie net `n veelheid van kerke nie, maar ook
die diversiteit van God se roepstem, deur die veelvuldigheid van die gawes van die
Gees aan die kerk en deur die verskeidenheid gawes en funksies onder lidmate.
Eenheid lê daarom in diversiteit. Die kerk sal altyd `n corpus permixtum bly.
Ons bestaan in `n sekere tyd op `n sekere plek, en daar is die kerk, die een kerk.
Omdat die kerk in Christus is (“waar daar twee of meer bymekaar kom in My naam,
daar is Ek” (Matteus 18:20)), sal daar altyd op een of ander manier, te midde van
diversiteit, eenheid wees met mekaar.
2.2.2 “Heiligheid”
Wat moet ons verstaan onder sancta ecclesia (Barth 1959:143)? Dieselfde spanning
kom na vore in die “heiligheid” van die kerk as met die “eenheid” van die kerk. Die
eintlike en die oneintlike situasies. Die kerk is `n historiese gegewe, en het daarom `n
geskiedenis, met mense daarin. Mense is sondig, maar behoort aan die “heilige”
kerk?
Deur die geskiedenis was daar pogings om hierdie dimensie ook beter te
probeer verstaan. Die Donatiste en Anabaptiste het dit baie letterlik opgeneem, en
almal wat nie heilig en sondeloos volgens hulle was nie, of wat afvallig geword het, is
uit die kerk gesluit. Vir hulle was die kerk as instituut die heiligheid self wat bewaar
moet word teen “onheilige” invloede. Dit was in teenstelling met menige Nuwe-
Testament tekste wat duidelik die feilbaarheid en vergewens opdrag van die mens
beskryf. Dit opper die vraag, of die kerk sonder mense kan voortbestaan (McGrath
2003:499).
Augustinus en Thomas Aquinas neem hulle eskatologiese argumente uit die
Platonisme. Die ideale heilige kerk is in die hiernamaals, en die kerk in die wêreld is
die minder ideale afskynsel daarvan. Die kerk van die hede is `n corpus permixtum
van lede wat sondaars is. Hierdie lede is egter ook simul iustus et peccator. Die kerk
en sy lede is nou sondig, maar op die laaste dag sal die kerk en sy lede gereinig en
geheilig word (McGrath 2003:499).
15
Om die saak beter te probeer verstaan gaan kyk beide McGrath en Küng na
die etimologie van die woord “om heilig te wees”. In gewone spreektaal dui die woord
op “moraliteit”, “reinheid” en “regverdigheid”. Hierin kan gesien word dat daar min tot
geen verwantskap is met menslike gedrag of die kerk nie. die Hebreeuse woord vir
heilig, wat ook die stam is van die Griekse woord in die Nuwe-Testament, het `n
heeltemal ander fokus in betekenis. Dit beteken “om afgesny te wees” en “ om apart
te wees”. Dit wil sê, om heilig te wees is om vir God se doeleindes “apart” gehou te
word. Mense is heilig in die sin daarvan dat hulle deur God “apart” gehou is en dat
hulle onderskeidbaar is van die wêreld deur hulle verbondenheid aan God (McGrath
2003:499; Küng [1968]2001:324). Die subjek van heiligheid word verklaar as God
(Rom 15:16 en 2 Tess 2:13). Die mens kan alleen heling verkry deur God (Buitendag
2004:9). Dit wys dan op die heiligheid van deur God, om getuie te wees van die
genade en redding wat God ons gegee het. Daarom word die term “heilig” verstaan
in `n teologiese sin en nie in die morele sin van die woord nie.
Die kerk soos ons dit tans sien, se heiligheid is in die manier waarop Christus,
wat heilig is, ons as sondaars verlos het (Moltmann 1993:338). Die kerk sal altyd, om
hierdie rede anders wees as die wêreld se organisasies. Net die Christelike
gemeente kan die ecclesia sancta wees, want dit word onderskei van ander
organisasies deur die taak wat opgelê is en die fondasie en doel voor die kerk (Barth
1959:144).
2.2.3 “Katolisiteit”
Die term “katoliek” kom uit die Griekse frase kath`holou wat verwys na die geheel.
Later het die woord in Latyn opgeneem geword, as “catholicus”, wat die betekenis
van “universeel” en “algemeen” het (McGrath 2003:500). Alleenlik in Hand 4:18 kom
die woord netso voor (Küng [1968[2001:297). Daar word dit gebruik om te verwys na
deeglikheid, totaliteit en geheelheid, maar deurgaans word die kerk nooit as katoliek
beskryf nie.
“Katoliek” is die eerste maal gebruik met verwysing na die Nuwe-Testament
deur Ignatius van Antiochië. Dit is gebruik in dieselfde sin as dat Christus die
legitimering is vir die kerk, so is die biskop die legitimering vir die kerk. In hierdie sin
beteken katoliek, die hele kerk, en word in teenstelling geplaas met die lokale kerke.
Ook word die woord gebruik deur die ortodokse kerk om standpunt in te neem teen
16
die sektes en heidendom. Augustinus gebruik die woord om te verwys na die ware
kerk wat universeel is, en in elke plek, tyd en konteks, konkreet manifesteer en nog
steeds soveel meer is as die hier en nou (Buitendag 2004:9). Die drie betekenisse
kan as volg verduidelik word uit McGrath (2003:501):
1. Universeel en alles omvattend. Die kerk omgord en onderlê al die lokale
kerke. Die term is beide beskrywend en a-polemies, wat wys op die feit dat die
lokale kerk `n verskynings vorm was van die universele Kerk. Hier kan `n
duidelike ooreenkoms gesien word tussen “eenheid” en “katoliek” wees.
2. Die kerk wat ortodoks in haar teologie is. Die term word nou sterk polemies en
voorskriftelik gebruik. Daar word `n onderskeid getref tussen “katoliek” en
“skisma” en “dwaalleer” wat aan die gemeente gewys het wanneer jy buite die
grense van die leerstellings van die kerk beweeg.
3. Die universele kerk wat deur die hele wêreld versprei is. Hierdie gebruik van
die term, onderstreep die missionêre karakter van die kerk en die geografiese
verwysing na die groei as gevolg van daardie karakter.
Luther het veral die ortodokse betekenis van die woord behoue laat bly in sy betoog
tydens die Reformasie. Hy wou aandui dat hy nooit `n nuwe kerk in gedagte gehad
het nie, maar deel was van die erkende kerk van sy tyd.
Die kerk kan alleen en waarlik katoliek wees, as die algemene kerk sigbaar
word in die plaaslike konteks van die lokale kerk. `n Kerk kan sy katolieke karakter
verloor as hy homself afsny van algemene kerk. Daarom is denominasies “katoliek”,
want hulle is deel van die groter algemene kerk. Die totaliteit van die kerk is nie in
gedrang gebring nie (Küng [1968]2001:300). Dit gaan nie net om kwantifiseerbare
faktore soos getalle en bedrae nie, maar oor die identiteit met die katolieke kerk
(Buitendag 2004:10) Daarom is die katolieke kerk ekumenies van aard.
Deur die eeue kan gesien word dat hierdie katolieke karakter van die kerk nie
verander nie. Dit bly konstant en tog onsigbaar veranderlik. Daar is natuurlik
verskillende verskyningsvorme van die lokale kerk, maar die kerk bly getrou aan sy
identiteit en wat sy universaliteit tot gevolg het (Barth 1959:144). Hierdie katolieke
karakter is daarom nie sigbaar nie, maar word geglo en kry uitlewing in die groei na
Christus toe. Deur hierdie uitlewing na Christus toe, word die onbegrensde
heerskappy van Christus sigbaar in elke tyd en plek en in die inklusiewe karakter van
die lokale kerk (Moltmann 1993:338).
17
2.2.4 “Apostolisiteit”
Apostolies wys na die oorgelewerde gesag van die Kerk in die ecclesia apostolica
(Barth 1959:145). Al die vorige bespreekte dimensies se legitimasie hang af van die
vierde dimensie. Die Kerk kan alleenlik een, heilige en katoliek wees as hy apostolies
is (Küng [1968]2001:344). Wat hier ter sprake is, is dit wat gevestig is op die apostels
en daarom apostolies is. Ter verduideliking van die term apostel, beteken dit die
volgende (McGrath 2003:503):
1. Iemand wat die roeping en opdrag van Christus ontvang het om die evangelie
van die koninkryk te verkondig
2. Iemand wat getuie was van die opgestane Christus, of iemand aan wie
Christus homself laat verskyn het.
Dit wys dan daarop dat die ekumeniese simbole die historisiteit van die kerk wat
gegrond is in die evangelie, en die kontinuïteit tussen die kerk en Christus en sending
van groot belang ag.
Die Bybel bevat nie die woord “apostolies” nie. Die term apostel kom wel
gereeld voor en is `n baie belangrike term as daar gepraat word oor sending. Die
woord word gebruik as daar gepraat word van `n groep mense wat uit gestuur is, en
is verwant aan die Hebreeuse term vir “gestuurde” (Küng [1968]2001:346). Daarom
moet die Apostolisiteit van die universele Kerk in die kader van die sending van
Christus en die Gees verstaan en geïnterpreteer word (Moltmann 1993:338).
Hierdie sending moet gesien word as uniek en konteks gebonde. As die
apostels net nagemaak word in hulle reise, is daar geen sensitiwiteit vir hulle
uniekheid en eenmaligheid nie (Buitendag 2004:11). Die opdrag om sending te doen
is geleë in die apostels se voorbeeld. Die apostolisiteit kan dus in drie kriteria
saamgevat word. Die vestiging van die kerk, die ontvangs van die Woord vir die kerk
en die voortdra van die Woord vir die kerk (McGrath 2003:505). Die apostoliese
karakter is dus geanker in die werk van Christus en die Heilige Gees.
2.3 Die Kerk as Organisme – Communio Sanctorum
Vir die verstaan van ekklesiologie, is dit belangrik om te besef dat die kerk bestaan
het lank voordat die Christene die kerk sistematies begin institusionaliseer het. Die
roeping en identiteit van die kerk lê juis opgesluit in die verstaan van die vroeë kerk,
rondom die bestaan van die kerk as ’n gemeenskap van gelowiges. Hierdie
18
gemeenskap, soos dit voorkom in die Bybel, verwys na die gesamentlike ervaring en
deling van die Drie-eenheid asook die lewe van geloof binne die kerk (McGrath
2007:407). Die term kan verstaan word op ’n vertikale en horisontale vlak (Berkhof
1979:339). Vertikaal is dit die gemeenskap van die gelowige met God. Horisontaal is
dit die gemeenskap van gelowiges met mekaar (McGrath 2007:407). Deur die
geskiedenis het hierdie verstaan van die kerk verander en meer geïnstitusionaliseer
geword. Gedurende die 19de eeu het die klem egter weer begin verskuif na meer
gemeenskaplik. Die gemeenskap se rol is ook regulerend van aard en moet waak
daarteen dat die kerk weer te veel klem plaas op die instituut (McGrath 2007:407).
Hierdie gemeenskap op die horisontale en vertikale vlakke omvat die
betrokkenheid van die Drie-eenheid. Die vertikale, as die gemeenskap en God se
verhouding. Hier gaan dit oor die kerk as geroepenes van die Vader. Hierdie
verhouding word moontlik gemaak deur ons verhouding met Jesus Christus en dit
kom na vore deur die vertikale dimensie van kerk as liggaam van Christus. Hierdie
gemeenskaplikheid binne die liggaam van Christus word bewerk deur die horisontale
verhouding met die Heilige Gees wat as die dimensie van die skepping van die
gemeenskap na vore kom. Die karakter eienskappe van die kerk as gemeenskap
gaan nou bespreek word.
2.3.1 Die Kerk as geroepenes van die Vader
Qehal Jahwe is die Hebreeuse uitdrukking vir die “geroepenes van God” Dit beteken
dat God die God van Israel was en dat Israel die volk van God was. Hierdie
verhouding is egter verbreek deur die ontrouheid van Israel. Daarom het die “Volk
van God” ’n eskatologiese funksie begin vervul. Hierdie eskatologiese verwagting sou
’n nuwe verhouding inlei vir die Israeliete en God (Küng [1968]2001:107-120). Hierdie
nuwe verhouding kry toe gestalte in die kerk. Binne hierdie nuwe verhouding, noem
die Christene hulle self die volk van God. Al die gelowiges behoort tot die volk van
God. Daarom mag daar volgens Küng nie na die kerk as ’n eksklusiewe gemeenskap
gekyk word nie (Küng [1968]2001:125). Almal behoort tot die volk van God. Daar
mag geen onderskeid gemaak word nie. Almal behoort aan die koninklike
Priesterskap, die heilige volk (1 Petrus 2:9). Almal wat binne hierdie groep is geroepe
deur God, geregverdig deur Jesus Christus en geheilig deur die Gees. Hierin is almal
binne die kerk gelyk. Al die lidmate binne die kerk is ook tot geloof, gehoorsaamheid
19
en toewyding in liefde geroep deur die boodskap van Jesus Christus. Hierin ook is
alle lede gelyk (Küng [1968]2001:125).
Binne die kerk, onder gelowiges, bestaan daar ook verskeidenheid. Hierdie
verskeidenheid mag egter nooit dien as ’n skeidingsfaktor nie. Daar is niemand binne
die gemeenskap wat “non-ordained” (Zizioulas 2004:216) persone is nie. Deur die
geskiedenis kan gesien word dat die doop en belydenis van geloof gebruik is om die
deel-wees aan die gemeenskap van die God fisies uit te beeld. Daarna het dit egter
verander na “deelname aan die kerk” en is die gewone lidmate gesien as “getalle”
(“pew fillers”) (Zizioulas 2004:216; Küng [1968]2001:125). Hulle het ’n minder
belangrike rol gespeel as die priesters of die ampte binne die kerk. So ’n
onderskeiding mag nie gebeur binne die gemeenskap van die geroepenes van God
nie. Almal behoort tot die volk van God. Daar is natuurlik verskillende charismas,
dienste, take en funksies van persone binne die kerk. Hierdie mag egter nooit die
fundamentele beginsel van gelykheid ondermyn nie. Binne die gemeenskap van die
geroepenes van God, gaan dit nie oor ras of hiërargie nie. Dit gaan oor of die
persoon leef in geloof, gehoorsaamheid, hoop en liefde (Küng [1968]2001:126).
Almal behoort aan die volk van God deur sy roepe na ons. Daarom mag daar geen
poging aangewend word om die gemeenskap van die geroepenes van God privaat,
hiërargies en eksklusief te maak nie (Küng [1968]2001:127). Dit gaan oor die
gemeenskap wat gevestig word onder die geroepenes van God. Daarom kan die
ontstaan van die gemeenskap van geroepenes nie terug gelei word na ’n stigters
persoon of spesifieke gemeente nie (Käsemann 1963:290). Die ontstaan van die
gemeenskap van die geroepenes van God het en kan alleen tot stand kom deur die
roepstem van God (Küng [1968]2001:129). Die boodskap van die Evangelie as
innerlike konsensus en die doop as uiterlike teken is wat die geroepenes saambind
as gemeenskap. Die kerk begin en eindig met God en bly God se “instituut” van sy
gemeenskap van geroepenes (Küng [1968]2001: 125). Daarom is die kerk die
geroepenes van God. Die kerk kan nie bestaan sonder die gemeenskap nie, maar
die gemeenskap kan bestaan sonder die institusionele kerk. Soos wat die
gemeenskap afhanklik is aan die roepstem van God, is die kerk afhanklik aan die
gemeenskap van geroepenes (Küng [1968]2001:129). Juis daarom moet die kerk die
diversiteit binne die gemeenskap van geroepenes akkommodeer en nie segregeer
nie (Dreyer 2006).
20
As die kerk haar ontstaan verstaan as te danke aan die roepstem van God en
die gemeenskap van die geroepenes van God (Heidelbergse Kategismus, V&A 54),
sal die kerk haarself ook nie veridealiseer nie (Küng [1968]2001:130). Dan kan die
kerk nie ’n statiese supra-historiese fenomeen word wat onveranderd van situasie na
situasie en jaar na jaar kan voortleef nie. Die kerk is altyd ’n vloeibare gemeenskap
van geroepenes wat leef in ’n bepaalde tyd en ruimte. Daarom is die kerk saam met
haar lidmate altyd en route (Küng [1968]2001:130) en nooit gearriveer nie. Die kerk is
deel van hierdie aardse bestaan binne tyd en ruimte en is dus nie gevrywaar van
foute nie. Die ideale kerk bestaan nie. Die kerk reis deur foute en verkeerde draaie
en het konstant die genade en vergewing van God nodig. Daarom is daar ’n
konstante houding van nederigheid en metanoia nodig (Küng [1968]2001:130). Die
kerk is nog nie die kerk van post-wederkoms nie en moet daarom voortdurend die
frase ecclesia (reformata) semper reformanda leef (Küng [1968]2001:130; Buitendag
2004:4).
2.3.2 Die Kerk as skepping van die Heilige Gees
Die gemeenskap van die geroepenes van God is vry gemaak. Vry gemaak van die
sonde wat ons gebind het, deur die genade van Jesus Christus. Vryheid is ’n gawe
van God (Küng [1968]2001:162). Vryheid is ook die werk van die Heilige Gees wat
inwoning neem van ons lewens deur die woord en sakramente en wat daardeur
vryheid in ons wakker maak. Hierdie vryheid deur die Gees bring ons vryheid van die
wet van sonde en dood. Die Heilige Gees draai die mens weg van die wêreld en van
hom- of haarself en plaas hom/haar onder die genade van God. Maar hierdie Gees
word net gegee aan die gelowige deur die gegewenheid aan die gemeenskap van
die geroepenes van God, die kerk (Küng [1968]2001:163). Die kerk is die
gemeenskap van gelowiges en die sfeer van hulle lewens is die regnum Christi in die
wêreld en dit kan net voortgebring word deur die werk van die Heilige Gees
(Käsemann 1963:291).
Die kerk is dus die werk en die werktuig en die teken en die getuie van die Gees
van God wat dit vul. Die Bybel gebruik verskeie beelde as daar gepraat word oor die
Heilige Gees. Die een wat Küng verduidelik is van die kerk as die tempel van die
Gees (Matt 16:18; Mark 14:58 en Joh. 2:19). Hy gebruik drie tekste wat meer lig werp
op hierdie beeld.
21
1. Die individuele gemeenskap wat gebou is deur die Gees (1 Kor. 3:16). Die
gemeenskap van die Korinte is waar die gedagte “tempel “ eerste gebruik is,
“Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God binne
julle woon nie?” As daar so verwys word na die kerk as die tempel van God
moet dit egter nie verstaan word in ’n vergeestelikte sin nie. Hierdie
gemeenskap van geroepenes von God is mense met foute en tekortkominge,
maar is nog steeds die tempel van God (Küng [1968]2001:170). In en deur die
Gees is God aktief besig met sy volk. Die kerk is die plek waar die
teenwoordigheid van God veral gesien kan word. Hy kleef in die gemeenskap
van gelowiges te midde van al hulle swakhede en tekortkominge. Daar is nie
meer nodig om ’n fisiese gebou of tempel te wees nie, want die gemeenskap
van gelowiges is die nuwe geestelike tempel van God. Om hierdie rede is dit
nodig dat die gemeenskap die tempel onderhou in broederlike eenheid. Die
feit dat die kerk ’n geestelike tempel is, verwag dan van die gemeenskap om
ook geestelik te leef in verantwoordelikheid en gemeenskaplikheid (Küng
[1968]2001:170).
2. Die hele kerk is ’n gebou van die Gees (Efesiërs 2:17-22).
“Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede
gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié
wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode,
deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Julle is dus nie
meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers
van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. Julle is
‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en
die profete, ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die
hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit
tot ‘n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam
opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon.”
Die bogenoemde woorde van Paulus in die brief aan die Korinte, word hier
uitgebrei om die hele kerk te omvou. Hier praat Paulus oor die universaliteit van
die kerk asook die “vêr” en die “naby” lidmate van die kerk. Die fondasie van
hierdie geestelike gebou is die apostels en profete, almal wat die Woord van God
direk by Christus gehoor het. Die lidmate van die kerk, almal wat glo in Christus.
Hier word nie net Jode ingesluit nie, maar ook Heidene en nie-Jode. Die sleutel
22
steen is Christus wat hierdie diverse gebou saambou en bymekaar hou. Die
Gees is die krag wat gegee word om die gebou saam te hou. Alleenlik deur die
Gees kan die stene wat die gebou staande laat bly, funksioneer binne die gebou.
Dit sluit beide Jode en nie-Jode in. Deur die een Gees en die een liggaam het
almal toegang tot die Een God. Daarom is die kerk ’n pneumatiese realiteit.
3. Die bo-genoemde “pneumatiese” realiteit is waarna die derde teks volgens
Küng refereer. Die gelowiges is opgebou en bou self die gebou van die Gees.
“Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur
is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende
stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te
wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God
welgevallig is. Daarom staan daar in die Skrif: "Kyk, Ek lê in Sion ‘n
hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit
teleurgestel nie.” Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat
nie glo nie, geld die woorde: "Die klip wat deur die bouers afgekeur
is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword"
Die beeld van die hoeksteen beklemtoon die belang van die opgestane Here vir die
kerk as die gebou van die Gees, die geestelike huis. Die huis word opgebou uit
lewende gelowiges op die hoeksteen fondasie van die lewende Christus. Omdat ons
lewende stene is, moet ons onsself toelaat om opgebou te word. Hier word elke
gelowige se priesterskap bevestig. Ons bou saam aan die huis, maar ons bou nie
alleen nie. die Gees maak van die huis ’n pneumatiese huis met pneumatiese gawes
soos geloof, liefde, vrugte van die Gees en ’n lewe van dankbaarheid. Dan het die
geroepenes van God hulle priesterskap waarlik opgeneem.
Dus kan gesien word hoe die Gees op verskeie wyses die basis, lewe en
beherende krag agter die kerk se bestaan uitmaak (Küng [1968]2001:172). Die kerk
word gevul deur die lewegewende en onderhoudende krag van die Gees. Die kerk se
bestaan is afkomstig van die Gees, (Käsemann 1963:291) asook die voortbestaan
van die kerk. Dit verwys nie net alleenlik na die eenheid van die Gees en die kerk nie,
maar ook na die heerskappy van die Gees oor die kerk. Die kerk kan nooit oor die
Gees beskik nie, maar die Gees het gesag binne en oor die kerk (Buitendag 2004:5).
Kerk kan alleenlik kerk wees as dit besef word. Die Gees is nie die kerk nie, omdat
die kerk ’n menslike struktuur is en die Heilige Gees goddelik is (Küng
[1968]2001:172). Daarom werk die Gees nie op die wyses wat ons graag wil hê nie.
23
Die Gees gaan die kerk ook vooruit. Die Gees kom eerste en daarna kom die kerk
wat deur die Gees skep God die kerk aanhoudend nuut (Küng [1968]2001:175). Die
Gees werk ook waar en wanneer hy wil. Die Gees is nie net werk agtig binne die
ampte van die kerk nie. Ook nie net onder Christene nie, maar in die hele wêreld is
die Gees besig om te werk. Hierin kan gesien word dat die Gees nie eksklusief aan
die kerk behoort nie, maar dat die kerk eksklusief aan die Gees behoort.
2.3.3 Die Kerk as liggaam van Christus
Hoe word die verbondenheid wat verkry is in die vorige twee punte sigbaar
gemaak? Deur deel te word aan die liggaam van Christus deur die doop en die
Nagmaal. Deur die doop en Nagmaal word die belydenis van sonde en die oorgawe
in geloof aan Christus voor die gemeenskap van die geroepenes van God gewys
(Buitendag 2004:6). Die gemeenskap glo dat deur die doop die wil van God vervul
word. Die doop gebeur in herinnering van die doop van Christus deur Johannes die
Doper as respons op die hele boodskap van die prediking van Christus, wat die mens
roep tot belydenis en geloof . So word die gedoopte deel van die gemeenskap asook
deel van die eskatologiese reddings gebeure (Küng [1968]2001:207).
Die Nagmaal is vir die gemeenskap van gedooptes ’n maaltyd van (koinonia
en communio) gemeenskap en herinnering (Küng [1968]2001:216-218). Daarin kom
uit die Nuwe-Testament drie motiewe na vore wat konstant was in die vroeë kerk.
1. Die perspektief op die verlede
Die Nagmaal is ’n herinneringsfees ter proklamering van die dood van
Christus in die lig Sy opstanding en die ewige lewe en versoening wat Hy
daardeur vir die gemeenskap van gelowiges bewerk het. Dit is ’n maaltyd
van feesviering (Küng [1968]2001:217).
2. Die perspektief op die hede
Nagmaal is ’n maaltyd in gemeenskap binne die nuwe verbond in
gemeenskap van Christus. Die nuwe verbond word tydens elke Nagmaal
geleentheid weer geproklameer en herseël. Dit is ’n liefdesfees onder die
lede van die gemeenskap van gelowiges (Küng [1968]2001:217).
3. Die perspektief op die toekoms
Die Nagmaal is in antisipasie vir die eskatologiese maaltyd van die
Messias. Die gemeenskap kyk vorentoe na die toekoms en proklameer so
nie net die dood en opstanding van Christus nie maar ook Sy tweede koms
24
(Küng [1968]2001:218). Dit is ’n verwagtings fees waar ons saam uitsien
na die maaltyd aan die tafel van die Bruidegom (Buitendag 2004:6).
Deur die doop en die Nagmaal word daar uitdrukking gegee aan die
verbondenheid met Christus en die liggaam van Christus, die kerk. Volgens Küng
([1968]2001:222) gebruik Paulus die beeld van die liggaam as aanduiding op die
samewerking van die ledemate om uitdrukking te gee aan die eenheid in Christus.
Paulus praat van die liggaam van Christus as binne die plaaslike gemeenskap en
binne die algehele kerk.
Dat die kerk die liggaam van Christus genoem word beteken dat Christus
teenwoordig is in die kerk (Küng [1968]2001:234). In die hele gemeente van die kerk
is Christus teenwoordig. Die sigbaarheid word gesien in die sakramente, die
Woordverkondiging en die teenwoordigheid van die Gees. Ook omvat Christus die
hele kerk. Sonder Christus is daar nie kerk nie. Dit beteken egter nie dat Christus
slegs teenwoordig is in die kerk nie. Hy bly die hoof en die kerk bly die liggaam. Dit
bring mee dat die kerk ontwikkel in gehoorsaamheid tot Christus. Die kerk groei
vanaf die hoof en moet aanhou groei. Hierdie groei is steeds aards en is nie ’n groei
na perfektheid nie. Dit is ’n konstante groei na gehoorsaamheid van die kerk aan die
wil van God.
In die inleidende opmerkings tot hierdie afdeling is daar gesê dat die kerk ’n
organisme is binne die communio sanctorum. Die kerk het as geroepenes en as
liggaam van Christus diverse ledemate en funksies binne die kerk. Binne hierdie
gemeenskap is een nie beter as die volgende nie en almal is gelyk. Die doel van kerk
is om gemeenskap te wees in diversiteit tot eer van Hom onder wie die kerk staan.
2.4 Samevattend
Hoofstuk twee kan in die volgende drie lyne saamgevat word.
1. Waar die Christelike kerk is, daar is Christus e is ons in verbinding met
Hom. Dit veronderstel die eenheid, heiligheid en universaliteit van die
kerk. Waar die Apostoliese Kerk is, sal die notae ecclesiae ’n
definitiewe teken wees dat Christus die Heerser is oor sy kerk (Barth
1959:145). Onder geen omstandighede mag die kerk haarself as
heersend verklaar nie. Daarom kan die kerk in teorie nie demokraties of
25
monargies regeer word nie. Die mens se regering kan alleenlik gesien
word as ’n representasie van Christus se regering. Christus regeer deur
sy woord en die Heilige Gees en daarom is kerkreg onderhewig aan die
Skrif. Daarom is dit nodig dat die kerk aanhoudend besig sal wees met
die Skrif. Waar die Skrif ’n sekondêre plek inneem daar is die kerk nie
meer die een heilige universele kerk nie (Barth 1959:146).
2. Die lewe van die “een heilige universele kerk” word bepaal deur die
voorbeeld wat sy stel deur haar funksie in die gemeenskap. Die kerk is
’n gemeenskap soos enige ander, maar in die diens verander dit na ’n
andersoortige gemeenskap. Die bediening van die sakramente en die
Woord verkondiging, is die basis van hierdie andersoortige
gemeenskap. Die probleem wat aangespreek moet word, is die vraag
na wat gebeur deur al hierdie funksies binne die kerk? Waar die kerk se
diens selfgerig word, daar is die kerk dood. Die kerk moet leef met die
gedagte van kerugma as diens. ’n Kerk wat dit ten volle leef sal besef
dat dit nooit oor die “self” kan gaan nie. Die kerk is in essensie die
gemeenskap van God. Waar die kerk leef moet dit die vraag vra of daar
diens gelewer word in die sendingopdrag aan almal.
3. Daar waar die kerk is, is die koninkryk van God. Die doel van die kerk is
om die koninkryk van God te laat gestalte kry in die wêreld. Dit kan
gebeur dat ons kyk na hierdie doel en maklik moedeloos word. Dit is
egter geen rede om moed op te wil gee nie. Iets groter is op die spel.
Waar die Apostoliese kerk waarlik leef, daar sal die
hoop wees om aan te hou bou aan die gemeenskap van die kerk. Die
hoop bring ons ook dan al hoe nader aan die werklike koninkryk van
God.
26
HOOFSTUK 3
DIE EKKLESIOLOGIE VAN G HEITINK, DIE KERK AS GEMEENSKAP EN INSTITUUT
3.1 Inleiding
Gerben Heitink is emeritus hoogleraar in die Praktiese teologie aan die Vrije
Universiteit in Amsterdam. Sy boek, die fokus van studie, “Een kerk met karakter –
Tijd vir heroriëntatie” (2007) is ’n boek wat geskryf is as reaksie op die verswakkende
lidmaatgetalle in Nederland. Heitink besef die dringendheid van die situasie en sien
die toekoms as bleek as daar nie ingrypende heroriëntasie binne die kerk as instituut
plaasvind nie. Sy oortuiging is dat die kerk ’n integrale deel van die voortgang en
groei van die Christelike tradisie is en dat die Christelike tradisie nie sonder die kerk
as sosiale verband en voorlopige gestalte van die Koninkryk van God in hierdie
wêreld kan funksioneer nie. Dit is die oortuiging waaruit hy hierdie boek skryf. Hy wil
hê dat die kerk weer karakter moet toon in die samelewing. Geloof is die beweging
teen die populêre kultuur en hy voel dat dit nou ’n goeie tyd is vir die kerk met
karakter om mense weer opnuut aan te spreek, inspireer en geestelik onderdak te
bied (Heitink 2007:1).
Die titel van sy boek “Een kerk met karakter” dui juis op hierdie soeke na ’n
kerk wat die moed het om te dien as die teen-kultuur vir vandag se mense. Die
subtitel, “tijd vir heroriëntasie” verwys na ’n paar dinge. Dit verwys na die
dringendheid van die situasie. As daar langer gewag word, kan dit dalk te laat wees.
Maar Heitink plaas ook ’n meer optimistiese betekenis op die titel. Hy gebruik tijd om
te bedoel, ’n geleentheid in die sin van kairos, dat die tyd ryp is vir heroriëntasie. Met
die gebruik van tijd bedoel hy ook dat die proses van heroriëntasie tyd gaan neem.
Die boek is ’n ekklesiologiese besinning oor die gesprek rondom die heroriëntasie
waarvan ons deel is. Heitink maak baie van die sestiger en sewentiger jare waar die
kerk en populêre kultuur gebots het en die kerk ’n swakker posisie gekry het.
In my bespreking van die boek gaan ek drie afdelings gebruik. Hoofstuk een
“Heroriëntasie”, gaan my eerste afdeling wees en gaan oor die agtergrond van die
probleem sowel as die vorming en verduideliking van die “soek ontwerp” om by
heroriëntasie uit te kom. Afdeling twee gaan die bogenoemde matriks in agt afdelings
27
bespreek en evalueer. Afdeling drie gaan oor Heitink se laaste hoofstuk wat die
transformasie van die situasie aan die hand van die agtvoudige matriks ekstrapoleer.
3.2 Heroriëntasie - ’n Inleiding
Die situasie wat aanleiding gee tot die stand van sake in die Protestantse Kerk in
Nederland (voorheen Gereformeerde, Hervormde en Lutherse) en breër konteks,
word hier bespreek. Die vraag word geopper oor wat daaraan gedoen kan word?
Hierdie hoofstuk poog nie om die antwoord te bied nie en dien alleenlik as diagnose
en as koers aanduiding van die proses wat gevolg gaan word.
Heitink oriënteer die leser deur te beskryf hoe vloeibaar die term “kerk” is.
Daar is die fisiese kerke wat gestalte kry in verskillende plaaslike gemeentes. Ook is
daar die abstrakter betekenis as daar gepraat word van die “kerk van alle tye”. Hy
gebruik dit ter illustrasie van hoe kompleks die verskynsel kerk is. Dan probeer hy ’n
definisie formule van ekklesiologie wat poog onsensitiwiteit aan die dag te lê met
betrekking tot die verskynsel kerk. Hy definieer ekklesiologie as die sistematiese
refleksie op die kerk met betrekking tot en in agneming van oorsprong, geskiedenis,
leer en praxis (Heitink 2007:20).
Hierna gaan hy oor na die verduideliking van die situasie tans (Heitink
2007:20). Hy noem die posisie waarin die kerk haarself nou vind “stagnasie”. Hy sê
dan dat hierdie situasie verskeie reaksies uitlok. Sommige raak mankoliekig en
wonder of die kerk nie haar tyd gehad het nie en nou maar die situasie moet aanvaar
nie. Ander raak mismoedig oor die proses van sekularisasie en dink nie dat die kerk
dit sal kan oorleef nie. Van binne en van buite word die kerk bedreig. Van binne deur
apatie en moedeloosheid teenoor die situasie en van buite deur sekularisasie en
kultuurverandering. Vir Heitink gaan dit daaroor dat die kerk soveel beter kan doen
as tans. Daarom stel Heitink (2007: 21) voor dat die kerk weer visie, beleid en
strategie moet ontwikkel om te oorleef. Hy identifiseer agt faktore wat bydra tot die
verswakking van die kerk se situasie. Hy sê dat as mens die onderliggende
samehang van die agt faktore verstaan, kan mens probeer om die groei daarvan te
stuit en ’n teenbeweging daarteen te begin. Vanuit hierdie oogpunt is die boek
geskryf. Die agt faktore verduidelik hy as volg (Heitink 2007:22-23):
28
1. Die eerste faktor is kultuur. In die samelewing van vandag het die kerk
geen seggenskap op enige veld nie. Die mens is mondig en het nie
die kerk nodig nie.
2. Godsdienstige opvoeding is die tweede faktor. As gevolg van die
verandering in kultuur, tuis en in die samelewing, het dit daartoe
gekom dat godsdiens opvoeding nie meer gedoen word nie by die
skool of tuis nie.
3. Die derde faktor is identiteit. Intern en ekstern verbrokkel ons identiteit.
Waarvoor staan ons geloof? Daar is te veel onduidelikheid en dit
veroorsaak verwarring in identiteit.
4. Die vierde faktor is die betekenis van lidmaatskap aan die kerk. Die
kerk word gedra deur die gemeenskap van lede. Deelname aan die
kerk word al hoe minder, randkerklikes word al meer en die impak van
ontkerkliking word ook oral gevoel.
5. Die vyfde faktor is die gebrek aan werfkrag. Daar is min tot geen
aanwas van buite af. Dit begin ’n al hoe kleiner groep “insiders” word
met min tot niks wat hulle kan bydra vir die gemeenskap buite nie.
6. Stagnasie betreffende die ritueel is die sesde faktor. Al hoe minder
mense word geraak deur die “produk” wat die kerk in haar vieringe
aanbied.
7. Gebrek aan leiding is die sewende faktor. Dit geld op gemeentelike,
landelike en streeks vlakke. Inspirerende leierskap is in groot mate te
kort. Daar is niemand wat kan lei en inspireer nie.
8. Die agste faktor is spiritualiteit. Die persoonlike geloof van die lede
van die gemeente en kerk. Baie lede van die kerk soek besielende en
inspirerende prediking vir hulle geloof, maar al wat hulle vind is water
wat deur hulle vingers glip. Daar is te min pastorale en lewendige
prediking.
Heitink noem dat hierdie agt faktore nie die enigstes is nie en dat dit geen wonder is
dat dit nie goed gaan met die kerk nie. Elk van die bogenoemde faktore raak die kerk
tot in haar diepste wese en daarom is ’n fundamentele heroriëntasie nodig. Hierdie
agt faktore speel al ’n invloed uit op die kerk vir amper ’n half eeu. Sedert die sestiger
jare het daar ’n breuk gekom met die kerk. Sosiale wetenskappe, godsdiens-sosioloë
29
en psigoloë en die kommunikasie wetenskappe het al ’n aantal van hierdie faktore
raak gesien. Maar steeds raak die ontkerkliking erger (Heitink 2007:23).
Heitink maak dit duidelik dat daar meeste van die tyd navorsing gedoen word
oor die kwantitatiewe aspek van die kerk. Maar hy sê dat die kwalitatiewe aspek nie
verwaarloos moet word nie. Die twee moet ook nie verwar word nie. Dit kan
veroorsaak dat die maatreëls wat aangewend word om die ontkerkliking te bestry net
lei tot simptoom bestryding. Die kompleksiteit van die saak word nie verdiskonteer
nie en maklike antwoorde word gegee op komplekse sake (Heitink 2007:24). Daarom
vra Heitink dat daar met ’n sisteem sensitiwiteit gekyk word na die situasie. Dit kan
ook gesien word in die metode wat hy dan volg in sy boek. Hy ontleed die situasie
empiries. Tweedens reflekteer hy teologies daaroor, die hermeneutiese perspektief.
Derdens sit hy voorstelle op die tafel wat dan dui op die strategiese perspektief.
Daarom praat hy eerder van ekklesiologie as kerkopbouw as gemeentebou. Die
gemeente is deel van die groter geheel van die kerk. Juis met hierdie perspektief as
agtergrond sê hy dat sy studie ekumenies van aard is om die kerk in groter geheel
ook te help (2007:26).
Hierna bespreek hy die kerk wat van die Heer is. Die identiteit van die kerk
staan sentraal tot die proses van “gemeenteopbou”. Hy gebruik metafore wat in die
Nuwe-Testament voorkom.
1. God se volk onderweg
Hierin opgeneem is die ecclesia van die kerk as geroepenes van God. Dit deel die
beeld van die volk van God wat onderweg is. Hierdie beeld is afkomstig uit die
Ou-Testament met betrekking tot die volk van die eksodus. In die Nuwe-
Testament het hierdie beeld `n ander betekenis gekry as nuwe eksodus. Die
vrymaak van die dood en die sonde. Die kerk is in diens van die komende
Vrederyk waarheen die kerk tans oppad is. Hierin lê die teologiese
aanknopingspunte vir die bogenoemde faktore van kultuur en werfkrag.
2. Die liggaam van Christus
Met die beeld van die gemeente as die liggaam van Christus word die organiese
verband van die gemeente en al haar lede asook die diversiteit van die gawes
onder hulle veronderstel. Christus bly die hoof van hierdie liggaam. As gevolg van
hierdie diversiteit staan die kerk die gevaar om te skeur en in verdeeldheid te
verval en dit doen dan skade aan die liggaam van Christus. Baie lede vorm deel
30
van die geheel van die liggaam van Christus, elk met hulle gawes en hulle doel.
Die faktore wat hier aanknoop is lidmaatskap, ritueel en leiding (2007:26).
3. Die tempel van die Gees
Die gemeente as huis van God of die tempel van die Gees is `n bou-metafoor wat
uit die Nuwe-Testament gebruik word. Hier gaan dit oor die leiding, struktuur en
beheer en bestuur. Beheer is nie net vergaderings en finansies nie, maar ook die
dienaars van God wat die misterie van die ekonomie van God verstaan (2007:27).
Daarom word hier ook gebruik gemaak van die faktor van leiding. Ook word
opvoeding en spiritualiteit opgeneem hierin (2007:27)
4. Die bruid van Christus
Die Bybel spreek ook oor die Bruid van Christus. Dit beeld die intieme en diep
verhouding uit wat daar bestaan tussen die kerk en Christus. As hierdie metafoor
vêrder geneem word kan die Christene gesien word as die kinders van die
moeder wat die kerk is. Hierin opgesluit lê die faktore van opvoeding, ritueel en
spiritualiteit.
Uit die bogenoemde kan gesien word dat die agt “probleem” -faktore
essensieel gekoppel is aan die identiteit van die kerk. Juis daarom moet daar
daadwerklik daaraan aandag gegee word (2007:28).
Hierna behandel hy die notae ecclesiae kursories en voeg ook by elk `n paar van
die probleem faktore. By heiligheid voeg hy kultuur. By eenheid voeg hy leiding.
Katolisiteit kry identiteit en apostolisiteit kry werfkrag. Die gemeenskap van die
heiliges omvat al die res. Spiritualiteit as uitlewing en bou van geloof. Opvoeding
as inwyding in die gemeenskap. Lidmaatskap as deelname aan die gemeenskap
en ritueel as viering in die heil.
Die agt ekklesiologiese faktore wat die kerk beïnvloed in haar ekklesiologie,
bewys dat die kerk die gevaar loop om algaande haar relevansie in die
samelewing te verloor (Heitink 2007:37). Heitink gebruik die drievoudige karakter
van die kerk volgens die model van H. Berkhof om die agtvoudige indeling van die
faktore wat lei tot stagnasie aan te spreek. Die kerk as gemeenskap, die kerk as
instituut en die kerk as die dinamiese wisselwerking daartussen. Onder instituut
verstaan ons die bestaan as struktuur sowel as lidmaatskap en verbondenheid.
Gemeenskap verwys na die lewensverband van die gelowiges. Die derde is die
brugbouer tussen die twee. Die kerk as instituut stig die gemeenskap en die
gemeenskap maak die kerk relevant in die wêreld. Die kerk as instituut stel dan
31
dus die doelstellings voor en die gemeenskap die funksie van die kerk. Die
gebeure wat tussen die twee moet gebeur om die gemeenskap relevant te maak,
het gestagneer in ons tyd. Waar die instituut sukkel om gemeenskap te stig, leef
die kerk `n dooie bestaan (Heitink 2007:37). Daarom groepeer Heitink 4 van elk
van die 8 faktore binne die verstaan van die kerk as instituut en as gemeenskap.
Die faktore wat saam met die Instituut gegroepeer word is doelstellinge van die
instituut en die vier wat saam met gemeenskap gegroepeer is word funksies van
die gemeenskap genoem. Die doelstellinge rig die oog op dit waarvoor die
instituut bestaan en het betrekking primêr op die kerk as geheel. Funksies word
vervul deur `n gemeenskap en voorsien in die konkrete behoeftes van die mense
in daardie gemeenskap. Elk gaan nou in kort bespreek word.
1. Kerk as instituut
a. Inkulturasie
Dit is die operasionalisering van “kultuur”. Heitink maak dadelik die
onderskeid tussen inkulturasie en akkulturasie. Waar akkulturasie die
aanpassing is by die heersende kultuur, is inkulturasie die integrasie van `n
vreemde kultuur. Heitink wil juis met inkulturasie reg laat geskied aan die
kerk binne `n post-Christelike tyd. Dit gaan om die aanpassing van die kerk
in die omliggende vreemde kultuur maar ook gaan dit om die vorming van
`n teenkultuur (Heitink 2007:38).
b. Integrasie
Hier gaan dit oor die konkretisering van identiteit (Steyn 2008:67). Verskille
onder geloofsgemeenskappe en binne kerklike gemeenskappe bring
spanning en konflik mee. Hierdie spanning en konflik veroorsaak interne
verdeling wat die identiteit van die kerk skade aan doen.
c. Evangelisasie
Evangelisasie is die operasionalisering van die faktor “werfkrag”. Dit is die
wyse waarop daar gekommunikeer word met die omgewing, waarmee daar
altyd in wisselwerking met mekaar getree word. Dit het ook te doen met die
na-binne of na-buite gerigtheid van die kerk.
d. Organisasie
Die operasionalisering van die faktor leiding is organisasie. Die kerk is `n
organisasie wat ook moet beantwoord aan die inhoudelike doelstellinge
32
van die geloofsgemeenskap. Hierdie doelstellinge moet ook in pas wees
met die huidige omstandighede in die samelewing. Die organisasie mag
nooit `n doel opsig self word nie.
2. Kerk as gemeenskap
a. Inisiasie
Godsdienstige opvoeding en begeleiding is die operasionalisering van
inisiasie. Dit gaan oor die deel word van die mense aan die gemeente. Die
inwyding in die lewe van die gemeente (Heitink 2007:39). Groeiende
geloofsoortuiging is wat mense inwy en deel maak van die gemeenskap.
Kerk word soos `n aflos-stokkie van een generasie tot die volgende
aangegee, en kan nooit behoort tot `n spesifieke tyd of plek nie. Hier kan
stagnasie verskriklik maklik intree as die kerk begin eksklusief dink in plaas
van inklusief.
b. Deelname
“Partisipasie” is die operasionalisering van lidmaatskap.
Die sigbaarheid van die kerk word verkry deur die mense wat bereid is om
hulle self te verbind aan die kerk. Hierdie lidmaatskap bring meelewing,
betrokkenheid en verpligtinge. Daarom het die kerk lidmate nodig en is
stagnasie so sigbaar (Heitink 2007:39).
c. Kongregasie
Dit beskryf die versamelde gemeente wat deelneem aan die kerk se
handelinge. Die kerk se sigbaarheid is teken van haar samekomste op
Sondae en met spesiale rituele. Kerk bywoning raak deesdae al hoe
minder, en dit is definitief `n teken van stagnasie (Heitink 2007:40).
d. Kontemplasie
Kontemplasie is die operasionalisering van spiritualiteit. Hier gaan dit oor
die eenheid van die kerk as liggaam van gelowiges. Daarom is die
gemeenskap van gelowiges ook `n ondersteunende groep wat help om jou
geloof uit te leef. Hier is verseker stagnasie sigbaar (Heitink 2007:40).
Hierdie agt faktore, vier doelstellinge en vier funksies, werk op mekaar in soos
vingers wat inmekaar invleg om water te hou. As een swak is gaan die hande nie
die water kan hou nie. Daarom verduidelik Heitink die agt invalshoeke in agt
hoofstukke. Heitink gaan ook uit vanuit `n pneumatologiese oogpunt wat baie
klem op die werking van die Heilige Gees plaas. Deur sosiaal-wetenskaplike en
33
teologiese insigte met mekaar te laat kommunikeer het Heitink probeer om die
konteks met die teologie en die kerk te laat praat. Hy rangskik die agt invalshoeke
al om die ander een juis om die onderlinge verwantskap aan te probeer toon. Ek
gaan die agt invalshoeke volgende baie kursories bespreek waarna ek `n
opsomming gaan gee.
3.3 Kerk as instituut – Die matriks
3.3.1 Inkulturasie – In spanning met die heersende kultuur
Die Christendom (Heitink gebruik hier die woord Christendom om die kerk in groter
konteks te verteenwoordig) is altyd in kultuur opgevang in die samelewing waarin die
kerk as gemeenskap van gelowiges bestaan. Kultuur is die samehang van
opvattinge, waardes en norme van ’n bepaalde gemeenskap (Heitink 2007:44). In
elke samelewing is daar ’n dominante kultuur. Van die begin van die Christelike
beweging af, tot die 1960s was die Christendom die dominante kultuur in die
samelewing. Die Christendom het suksesvol van konteks na konteks binne
veranderende sosiaal-kulturele verskuiwings gegroei en die dominante kultuur gebly
vanaf Konstantyn tot en met die sestigs. (Heitink 2007:44). Aggresiewe inkulturasie
van die christendom in die tyd van Konstantyn het die “kerstening” van die Weste
begin. Hierdie kerstening het behels dat die christendom die dominante kultuur word
of oorneem en dit veroorsaak dan gelyktydig dat die samelewing van binne af
hervorm word. Die sestigs het egter ’n verandering in die sosiaal-kulturele
omstandighede veroorsaak waarby die christendom nie kon aanpas of as teenkultuur
dien nie (Heitink 2007:49).
Hierna gaan Heitink oor na wat hy noem die “heroriëntasie”. Hierin probeer hy
`n weg vorentoe baan vir die kerk, te midde van alles wat hy vooraf bespreek het. Die
kerk sit vandag in `n besondere unieke situasie. Wanneer en hoe sy dit gaan hanteer
sal bepalend wees vir haar eie toekoms asook die van die samelewing. Heitink noem
dat `n studie van die Wêreld Raad van Kerke bepaal het dat die kultuur dreig om
uitmekaar te val (Heitink 2007:73). Baie mense staan wantrouig jeens die kerk en
kultuur daarmee geassosieer. En daarom vra Heitink die vraag of die kerk opnuut
weer `n heilsame rol kan speel in die samelewing?
Soos wat Heitink vroeër in die hoofstuk gewys het, het die skeiding tussen
kerk en staat groot gevolge ingehou vir die Christendom. Dit het veroorsaak dat die
34
Christendom eksklusief begin word het (die verkerkliking van die Christendom) en nie
meer in die publieke sfeer was nie (Heitink 2007: 37). Dit was ook as gevolg van ‘n
gevoel van angs, omdat die gemeentelede nie opgewasse gevoel het om voldoende
teenkultuur te vestig vir die wêreld, wat rasionaliteit hoog op prys gestel het en
ongelowig was (Heitink 2007: 37). Toe trek die kerk eerder terug in haar dop, as om
standpunt in te neem.
Die privatisering van die persoonlike lewe is wat die kerk laat skade ly. Dit
veroorsaak dat die kerk nie meer relevant is vir die samelewing nie, omdat die kerk
ook privaat begin leef het, en nie meer in die lewensomstandighede van die
gemeente leef nie.
Heitink vra om hierdie rede die vraag, na of die tradisie genoegsame
aanknopingspunte bied vir die kerk se vernuwing, wat uit bogenoemde heel nodig
blyk. Hy noem dat die kerk vele swaar lesse geleer het, m.b.t. politiek binne die kerk
en dat die kerk eerder nou daarvan af wegbly. Die politiek beïnvloed en verander die
kultuur. Die kultuur pas dan dienooreenkomstig daarby aan of vorm ’n teenkultuur.
Die kerk, wat binne hierdie kultuur en samelewing bestaan, moet hierdie kultuur in ag
neem, maar nooit ten koste van haar essensiële identiteit daaraan probeer
konformeer nie. Het die kerk ‘n genoegsame kultuur visie om hierby aan te pas?
(Heitink 2007: 74) Die kerk kan nie net elke kultuur omarm en aanneem nie, en sal
krities moet staan teenoor die huidige kultuur. Daar sal vanuit die Christelike Geloof
aansluiting gevind moet word by die heersende kultuur. Daar sal vanuit die evangelie
en die tradisie wyses bedink moet word om tot hierdie kultuur deur te dring. Dit vra
wyding aan die wêreld, nie vermyding van die wêreld nie. Dit sal uiteindelik vorm
begin gee aan ‘n teenkultuur, wat trou bly aan die kerk se eie identiteit sowel as die
identiteit in die Sache Jesu (Heitink 2007: 75).
Die heersende kultuur vra nie van die kerk om politieke of maatskaplike
voorkeure goed- of af te keur nie. Hierdie reg is die kerk ontneem na die Tweede
Wêreldoorlog. Hierdie reg en die misbruik daarvan, het meer skade deur die
geskiedenis veroorsaak as wat nodig was. Daarom stel dit die vraag aan die kerk om
haar lidmate in so ‘n mate te stimuleer en aan te moedig om hulle geloofsoortuigings
deel te maak van hul politieke en maatskaplike arena, en hierdie geloofsoortuigings
ook te konkretiseer in die samelewing. Dit sal ook moet gebeur op elke vlak van die
samelewing. Deur hierdie toerusting aan die gelowige te bied, word die kerk haar
sigbaarste in die samelewing (Heitink 2007: 75). Hierdeur kom die apostolêre funksie
35
van die kerk na vore. Daarom word dit duidelik dat uit die tradisie hulp gebied kan
word vir die vorming van ‘n nuwe model van inkulturasie.
Die Lutherse twee ryke leer se hedendaagse interpretasie (Heitink 2007: 75)
sal miskien hiermee kan help. Christene is burgers van twee ryke: die ryk van die
staat en die ryk van die Here. In die ryk van die staat word alles bepaal deur die
politieke en staats verteenwoordiging. Die trias politica, die staats, politiek en
verteenwoordigers van die volk, bring balans in die politieke magsarena. Christus is
hier op alle terreine aanwesig en aktief besig, vanuit die geloofsgemeenskap al dan
nie. Die ryk van God is waar Christus heers deur die woord en werking van die
Heilige Gees. Hier geld ander waardes as in die politieke ryk. Dit is ook vanuit hierdie
arena waar die gemeente aktief betrokke is in die samelewing.
Volgende bespreek Heitink die “bondgenote” in hierdie bogenoemde proses.
Hy noem wetenskaplikes, filosowe en enige ander beroepe van mense met ‘n
Christelike agtergrond as bondgenote in die proses om die heersende debatte in die
samelewing in te kleur met hulle mening. Die Christelike geloof is gemaak om in die
samelewing uitgeleef te word. Heitink praat ook daarvan as “Gods wet is levenswet”
(Heitink 2007: 76). Hiermee bedoel hy dat Christene in die samelewing moet leef
soos die bevryde samelewing wat hulle in Christus is. Dit maak die kerk dan weer
sigbaar en openbaar.
Die opkomende neo-religiositeit kan ook gebruik word in die proses van
inkulturasie. Dit beteken dat daar aansluiting gevind sal moet word by die huidige
prosesse as dit kom by die pastoraat en ander gemeentelike verantwoordelikhede.
Die kerk sal ook ander wyses moet oordink om jong mense te stimuleer tot
betrokkenheid. Heitink vra egter nugter die vraag of dit alles genoeg is om ‘n
Christelike samelewing weer te laat herleef. Hy antwoord net so nugter, dat daar nog
nooit so ‘n samelewing was nie. Elke situasie en konteks vra nuwe oriëntasie van die
kerk, en dit veroorsaak ook dat die gelowige sal moet heroriënteer. Die kerk staan
aan die ander kant ook verleë, a.g.v. kwynende lidmaatgetalle. Die kerk vorm ‘n
minderheidsgroep in die samelewing tussen vele andere godsdienste. Daarom kan
die Christelike gemeenskap nie meer op haar louere rus vir getalle en groei nie
(Heitink 2007: 77). Daarom moet godsdienstige opvoeding binne die gesin en
samelewing ‘n groot rol speel binne die kerk. Die eie verantwoordelikheid,
priesterskap van elke gedoopte (Heitink 2007: 77) staan voorop as dit kom by die
36
kultuur en tradisie oordrag. Enigiets wat vroeër as vanselfsprekend geneem is, moet
nou nie meer so opgeneem word nie.
3.3.2 Inisiasie – Inwyding in die lewe van die gemeente
Daarom gaan Heitink oor na sy tweede tema “Inisiasie”. Hierdie is Heitink se eerste
dwars snit faktor van die 4x4 matriks wat Heitink vroeër genoem het. Dit is belangrik
om te onthou dat die kerk nie ‘n vereniging is van mense wat soortgelyke belange het
nie. Die kerk is ‘n geloofsgemeenskap waarin mense ingewy moet word. Hierdie
inwyding vind plaas deur onderrig, van die gebeure in en rondom die kerk. Onderrig
vind ook plaas deur die meedoen aan die kerk se rituele. Dit is die wyse waarop die
kerk oorleef het deur al die eeue. Onderrig en oorlewering van tradisies and rituele.
As ‘n mens kyk na die moderne tyd het die proses van oordrag gestagneer. Dit
veroorsaak dat daar nou ‘n generasiegaping is in die kerk, wat die toekoms van die
kerk bedreig (Heitink 2007: 79).
Heitink vra die vraag na, waarom daar ‘n generasiegaping gekom het? Wat
veroorsaak dat die jongmense van vandag nie wil kerk toe kom nie? Heitink meen
dat hierdie proses al lank aan die kom is. Die kerk het die effektiewe onderrig en
tradisie-oordrag verloor. Dit is vanweë veranderde kategese modelle. Die huidige
model praat met die kind vanuit ‘n volwasse oogpunt, met die gedagte dat die kind
volwasse status wil bereik (Heitink 2007: 89). Die kinders van vandag soek “instant
gratification” (Heitink 2007: 93). Hulle word alle denkbare geleenthede gebied om ‘n
goeie kinderontwikkeling te hê, maar word a.g.v. hierdie druk op hulle al vroeër meer
volwasse. Die kategese/pedagogiese situasie het nie hiermee rekening gehou nie.
Nog ‘n faktor wat bydra tot die verswakkende kerkbywoning van kinders is die nie-
outoritêre gevoel wat kinders het. Hulle wil as gelykes behandel word (Heitink 2007:
96). Godsdiensbeoefening tans het ook verswak of totaal verval. Dit veroorsaak dat
daar ‘n kennis leemte is wat nie altyd met basiese kategese gevul kan word nie
(Heitink 2007: 98). Heitink beperk homself in sy boek tot kategese en doop as die
belangrikste elemente van die inisiasie proses.
Doop is vir Heitink ook ‘n belangrike saak m.b.t. die inisiasie-proses. Dit het
hier ook te doen met die kategese proses and pastorale sorg. Daarmee saam kom
onderrig in die Christelike tradisie. In die kerk word die doop as proses van inwyding
gebruik. ‘n Mens word deur die doop ingebring in ‘n hegte sosiale netwerk wat ‘n
mens onderrig en bystaan. Die vroegste doop word aan kinders en volwassenes
37
gegee. Kinderdoop is eers van die Reformasie af (volgens die Bybelse verbond uit
die Ou Testament) gedoen as inlywing. Deesdae is daar ‘n neiging daarna om die
kinderdoop uit te stel, totdat die kind vir himself verantwoording kan doen daarvoor.
Daar moet egter oor die Doop herbesin word aangesien die samelewings
veranderinge dit, net soos die kategese, beïnvloed het. Heitink bespreek nuwe
moontlikhede, waarvan een ‘n gemeentelike gesamentlike doopkategese is waar
daar dan daarna elke jaar ‘n doopviering is. Dit word dan ook so gevier dat die
gemeente die land op die doopdagviering groet. Heitink noem ook dat daar meer van
die kerk se kant af gedoen sal moet word om dopelinge van buite die gemeente te
kry.
Soos gesien kan word is kategese en die doop onder groot druk om relevant
te bly. Kategese sukkel om by die kinders uit te kom, en met hulle te praat. Die doop
sukkel om heeltemal relevant te bly omdat die kultuur omstandighede aangrypend
verander het van die vroegste kerk af. Daar sal ook m.b.t. kategese ‘n plan gemaak
moet word om die gapings te vul wat veroorsaak word deur verminderde
huisgodsdiens, sowel godsdiens as vak op skool (Heitink 2007: 111). Die kerk het
dringend heroriëntasie nodig om hierdie groeiende ouderdomsgaping te vul. Heitink
noem in sy antwoord op die bogenoemde probleme dat die kerk steeds kinders in
kategese “infantiliseer”. Die kerk neem nie die klimaat waarin die kinders van vandag
grootword in ag nie. kinders van vandag is baie meer volwasse as generasies
vantevore, en hulle vra ook meer deelname en om eie verantwoordelikheid te kan
neem (Heitink 2007: 112). Die kinders wil ook ‘n kategese leerder en predikant hê
waarmee hulle kan vereenselwig. Hulle wil iemand hê by wie hulle iets kan leer
(Heitink 2007: 112). Daarom moet die kategese aanpas by die omgewing en
omstandighede waarin die kinders grootword. Daar kan gebruik gemaak word van
die internet om met hulle kontak te hou. Daar kan betrokke geraak word by hulle
skole en naskoolse aktiwiteite. Die punt wat Heitink wil tuisbring is dat kategese nie
meer ‘n geïsoleerde aktiwiteit kan wees wat agter in die kerk afgerammel word nie.
Die kinders moet voel dat daar binne die kerk erns gemaak word.
Die kategese moet ook nie geïsoleer wees van ander aktiwiteite nie. Dit moet
aanpasbaar wees by die leer klimaat van die gemeente. Heitink noem ook dat daar
op verskeie plekke in die verlede aan kinders se godsdienstige opvoeding aandag
gegee is. Vandag lyk die prentjie egter anders. Die kerk is hoogstens nou die plek
waar kinders godsdienstige opvoeding kan ontvang. Huisgodsdiens word minder tot
38
nooit gedoen deur ouers wie se godsdienstige kennis ook gebrekkig is (Heitink 2007:
113). Op skool, in multikulturele omstandighede, is godsdiens opvoeding ook baie
moeiliker as ‘n paar dekades gelede. Daarom het godsdiensopvoeding by skole die
vorm begin aanneem van lewensopvoeding. Om hierdie rede het die predikant en die
kerk soveel groter verantwoordelikheid teenoor die jeug van vandag.
Heitink gebruik ‘n voorbeeld om hierdie verskuiwing in die aanbieding van
kategese aan te dui. Hierdie voorbeeld gaan nie vêrder bespreek word nie. Hy noem
egter dat hy weet dat hierdie voorbeelde van hom is net “fantasieë” en sal nog baie
werk en inisiatief neem om te realiseer. Dit is egter ‘n noodwendige verskuiwing van
klem, wat sal moet aanpas by die wêreld van jongmense en kinders. Hy sluit hierdie
gedeelte van sy boek af deur weer aandag te vestig op dit waar dit alles begin: die
Doop (Heitink 2007:116). Die dooponderrig en doopviering, sowel as vernuwing, is
nodig en is van groot belang vir die gemeente en die erns daarvan moet ook
oorgedra word aan die gemeente. Die doop is die inlywing in die liggaam van
Christus en die gemeente. Die maak die doop ‘n voorreg en geskenk (Heitink
2007:116), vir die dopeling, ouers en die hele gemeente. Almal het deel aan die
doopbelofte, wat tydens die doop afgelê word. Dit sal veroorsaak dat die kerk en die
gemeente die weg wandel van godsdiensopvoeding en inlywing in die liggaam van
Christus, saam met die dopeling. Dit sal ook die gevoel van koinonia onder die
gemeente versterk.
3.3.3 Integrasie – Eenheid en verskeidenheid binne die kerk
Die tweede lengte-deursnit wat Heitink bespreek is die proses van integrasie. Dit
hang sterk saam met inkulturasie, wat die beweging na buite met haar omgewing en
heersende kultuur is (Heitink 2007: 117). Integrasie is na binne gerig en het te doen
met die interne samehang en verbondenheid (Heitink 2007: 117). Tradisie vorming
asook die vorming van identiteit vind plaas tussen hierdie twee. Verskeidenheid
binne die gemeente was van die begin af daar gewees. Om hierdie identiteit te
behou, moet die eenheid ook behou word. Die soeke na eenheid is al sigbaar van die
eerste kerk af, en is iets waarmee vandag se kerk gemoeid is. Die ontstaan van die
ekumeniese beweging wys hoe relevant die vraag na eenheid steeds is. Daarom
bespreek Heitink die eenheid van die kerk vanuit die Nuwe Testament, en daarom
soek hy na Bybelse wortels vir die Christendom. Hy bespreek ook die situasie tans,
39
waar die kerk ‘n groot uitdaging in die gesig staar, m.b.t. eenheid. Hy neem die vraag
an die identiteit van Christus as die sleutel tot die identiteit en eenheid van die kerk.
Heitink noem die eenheid van die kerk ook die gemeenskap se eenheid. In die
gemeenskap van vandag is daar nie meer eenheid nie. Daar is soveel groeperinge
en afskeidings, dat ‘n mens kwalik kan weet wat om te kies. Dit is ‘n
spanningsverhouding tussen eenheid-soekend en verskeidenheid-aanvaardend
(Heitink 2007: 118). Dit is hierdie kragveld waarin ‘n balans gevind moet word. Die
kerk moet waak teen disintegrasie en die ontbinding van die gemeenskap, terwyl
dwang tot eenheid ook vermy moet word (Heitink 2007: 118). Daarom onderskei
Heitink tussen differensiasie en pluraliteit. Differensiasie is die teenoorgestelde van
integrasie. Sosioloë verstaan differensiasie as “de relatieve verzelfstandiging van de
verschillende samelevingsdomeinen met eigen functies, normen en waarden”
(Heitink 2007: 119). Daar is egter nog ‘n onderskeid tussen sosiale en waarde-
differensiasie. Dit bring mee dat daar pluralisering binne die samelewing plaasvind,
op samelewings- en individuele vlakke. Dit veroorsaak die integrasie van die
gemeenskap, sowel as die verlies aan tradisie (Heitink 2007: 120). Daarom sal daar
nuwe vorme van integrasie gevind moet word, sodat die kerk haar identiteit nie
verloor nie. Hierna bespreek Heitink pluraliteit. Hy meen dat dit die situasie waarin
die kerk is beter tipeer as differensiasie (Heitink 2007:120). Pluraliteit is die gegewe
dat daar groot variasie is binne ‘n sekere sosiale verband. Hier gaan dit dan
uiteindelik daaroor dat die verskillende opvattings skeuring kan veroorsaak binne die
gegewe sosiale verband. Dit mag egter nooit gebeur binne die kerk nie.
Daarom gaan Heitink hierna oor na die bespreking van wat op die spel is
binne die kerk. Hy bespreek die verskeidenheid in die kerk in die Nuwe Testament.
Hy vra ook hoeveel verskeidenheid/pluraliteit ‘n kerk kan verdra? (Heitink 2007: 121).
Deur die geskiedenis word eenheid binne en met die kerk deur magsmiddele behou.
Die skeiding tussen die Ooste en die Weste en daarna tussen Rooms en Protestants
(Heitink 2007: 121). Daar kan dus gesien word dat daar ‘n verskuiwing plaasgevind
het in die verhouding tussen eenheid en pluraliteit. Binne hierdie verhouding is dit
noodsaaklik dat Jesus Christus die regte prioriteit kry. Christus kan sonder die kerk,
maar die kerk kan nie sonder Christus nie (Heitink 2007: 124).
Hiermee bespreek Heitink die opkoms van die Jesus-beweging en die
verskillende strominge binne hierdie beweging (Heitink 2007: 125-140). Dit is hieruit
duidelik dat daar van die begin af pluraliteit was onder die lede van die Christelike
40
beweging (Heitink 2007: 140). Wat hul egter saamgebind het, was die Sache Jesu,
wat in elke tradisie sentraal gestaan het (Heitink 2007: 141). Elke tradisie het net ‘n
ander klem of opvatting gehad, wat beïnvloed is deur hulle kultuur en omgewings
(Heitink 2007: 145). Vandag nog, kan van hierdie strominge se aksente in die kerk
gevind word (Heitink 2007: 146). Daarom lê die verantwoordelikheid by die kerk om
die roeping tot integrasie en die weg na eenheid te probeer bewandel (Heitink 2207:
148).
Heitink begin sy heroriëntasie by die essensie, dat elke gemeente se identiteit
staan of val by haar geloof in Christus (Heitink 2007: 148). Daarom is die soeke na
integrasie, die saam soek na hom. Dit moet egter nie verwar word met
Christosentrisme nie. Daar moet wel herontginning van bronne plaasvind, om die
teenstand wat daar bestaan rakende Christologie te ontkom. Heitink noem dat hy ‘n
tipe verleentheid optel by die teologie en die kerk van vandag, rakende Christus en
God (Heitink 2007: 148). God word weer die Gans Andere, wat te ver verwyderd is
van alles en almal om te kan omgee. Dit veroorsaak vervreemding hens die Seun,
waarsonder die kerk nie kan oorleef nie, want Hy is die hart van die Christelike
geloof.
Die integrasie van die kerk speel af tussen die verhouding van Christologie en
ekklesiologie, wat die huidige konteks in oog hou. Dit beteken dat die Sache Jesu op
‘n geloofwaardige wyse in die kerk sigbaar gemaak moet word. Dit is haar doel en
missie (Heitink 2007: 149). Dit beteken dat daar vanuit die pluraliteit van die
gemeenskap gestreef kan en moet word.
Heitink bespreek vêrder die pluraliteit binne die kerk, hy onderskei tussen
pluraliteit, ‘n relatiewe nuwe term in die ekklesiologie, en pluriformiteit wat al ‘n ou
term is binne die teologie (Heitink 2007: 149). Kuyper was die eerste een wat hierdie
pluriformiteit gebruik het as legitimasie vir die veelheid van Protestantse kerke in
Nederland. Hy het gemeen dat in die kerk se pluriformiteit lê ‘n ontvouing van hulle
veronderstelde eenheid. Heitink bespreek vervolgens Kuyper se argument agter die
Doleansie en die afskeiding (Heitink 2007: 150).
Heitink wil die proses van integrasie gebruik om die pluraliteit vrugbaar te
maak vir die eenheid waarna die kerk streef. Daarom gaan hy terug na die Nuwe
Testament se debatte en na die essensie van die eenheid van die kerk, die Sache
Jesu. Die Sache Jesu is ‘n groot sambreel, waaronder vele kerke kan kom skuil al
verskil hulle.
41
Binne hierdie Sache Jesu kom dan ‘n breër teologie na vore, wat nie net gaan
oor sonde en genade nie, maar die skepping en herskepping van die kerk. Daar is
binne hierdie teologie plek vir baie interpretasiemoontlikhede, soos vroeër gewys in
die vier Nuwe Testament modelle (Heitink 2007: 151). Die essensiële vraag bly dan
staan: “Wie is Jesus eintlik?” Hierdie vraag moet geantwoord word deur die
gemeente. Dit vra dan die volgende vraag na geloofskennis, waarsonder
verantwoordelike verantwoording onmoontlik is. Daarom sal dit op die prediker rus
om te help met geloofskennis-ontwikkeling en die vorming van ‘n nuwe geloofstaal,
wat relevant is vir vandag (Heitink 2007:152). Dit moet ook ‘n geloofstaal wees,
waarmee elkeen hul geloof in die Sache Jesus sal kan beskryf. Heitink bespreek
laastens die proses wat hierdie heroriëntasie sal moet loop. Hy noem dat dit
belangrik is dat die kerk uit een mond sal moet praat, van sinodale vlak tot
gemeentelike vlak, om verwarring te voorkom. Laastens sê Heitink dat geen kerk die
waarheid besit nie, en dat elke generasie dit opnuut vir hulself moet ontdek, want dit
bring nuwe waardering vir die eenheid wat integrasie bring.
3.3.4 Deelname – Veranderinge in kerklike betrokkenheid
Met die tweede dwarssnede neem Heitink die stap vanaf Integrasie na Deelname –
die kerk as gemeenskap van oorlewering. Die essensiële kern van die kerk en die
gemeenskap, waarom alles draai is die Sache Jesu (Heitink 2007:153). Soos daar
nou al genoem is, verg die toetrede tot hierdie gemeenskap inwyding en onderrig.
Daarom volg die volgende dwarssnede as deelname aan hierdie gemeenskap.
Deelname is aktiewe betrokkenheid aan die gemeente. Dit het egter ook verander
oor die jare. Kerkverlating wat ’n al groter werklikheid word, verander aan die
karakter van deelname aan die gemeente (Heitink 2007:153). Deur die geskiedenis is
daar vanuit die perspektief van ’n “ledekerk” gewerk. Die kerk gebruik getalle om die
gesondheid van die gemeente aan te toon. Dit is egter ’n baie negatiewe en
modernistiese wyse om met die kerk om te gaan. Die kerk sal moet besef dat
deelname patrone van lidmate aan die verander is en dat die jaag na getalle nie
meer werkbaar is nie.
Daarom gee Heitink soveel aandag aan hierdie probleem. Hy noem dat
deelname en die verlies aan lidmate ’n sentrale probleem geword het vir die kerk van
vandag en dat dit bydra tot die stagnasie wat in die kerk gebeur. In hierdie verband
bespreek Heitink kortliks wat dit beteken om “kerk” te wees. Hy begin by die kerk as
42
vereniging. Hy bespreek hoe die kerk se sosiale gestalte met die van ’n vereniging
vergelyk (Heitink 2007:155). Hy sê dat die kerk egter nie net ’n vereniging is nie,
maar ook ’n gemeenskap. Hy maak onderskeid tussen die wêreld van die mens
(mikro wêreld) en die wêreld van die groter samelewing (makro wêreld). Heitink
noem dit dan die verbinders van mense binne gemeenskappe. Hierdie verbindings
bied leef ruimte, plek vir groei, welsyn, veiligheid en die bevordering van mense. Ook
word daar binne hierdie verbindings van mense verwag om bydraes te lewer tot die
opbou van hierdie gemeenskap (Heitink 2007:156). Dit kan ook binne die kerklike
gemeenskap gesien word as die “reg leef” in die samelewing (Heitink 2007:156).
Hierdie verhouding van die enkeling het egter verander bin die gemeenskap
sedert die 1960s waar daar nou ’n baie groter klem geplaas word op die individualiteit
van die persoon (Heitink 2007:157). Binne hierdie situasie word daar nie meer klem
op die belange van die groep geplaas nie, maar op die belange van die individu. Ook
die verbruikerskultuur waarin ons leef dra daartoe by dat alles gaan om die individu
se behoefte bevrediging. Dit maak die oorlewing van die kerk net soveel meer
kompleks. Die vraag wat nuwe lidmate eerste van ’n gemeente vra is “wat bied dit
my?” (Heitink 2007:158). Heitink vra dan of die kerk moet aanpas by hierdie kultuur
en of die kerk ’n teenkultuur moet bied?
Daarna gaan Heitink oor na die bespreking van die werking van die Gees en
deelname aan die kerk (Heitink 2007:158). Hy noem dat die Reformasie sterk klem
geplaas het op die werking van die liggaam van die gemeente met die onderskeie
gawes van elke lidmaat. Ook plaas die Reformatore sterk klem op die priesterskap
van elke persoon binne die kerk. Juis om hierdie rede is lidmaatskap aan die kerk
nodig, soos vervat in die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 55 (Heitink
2007:160). Maar die bogenoemde kultuur tendense veroorsaak dat daar indringend
gekyk sal moet word na die deelname en lidmaatskap modelle (Heitink 2007:161).
Heitink bespreek die verskillende kerk tipes deur die geskiedenis vêrder, vanaf
die vrye kerk na die charismatiese kerk. Hy noem dat die rol van die predikant ook
baie verander het deur die eeue vanaf die idee dat ’n predikant vir alles
verantwoordelik is tot die idee dat verantwoordelikheid gedeel word (Heitink
2007:163-166). Daarom leef die kerk tans in ’n oorgangsperiode waarin sy haarself
sal moet heroriënteer om relevant te bly rakende lidmaatskap (Heitink 2007:167).
Individualisering, pluralisering, modernisering, mobilisering en intensivering is
vyf ontwikkelinge wat Heitink identifiseer waarna die kerk sal moet kyk, wat invloede
43
uitoefen op die gemeenskap om haar (Heitink 2007:170-172). Binne hierdie
gemeenskap het die idee rakende lidmaatskap en deelname alreeds ingrypend
verander. Hy noem deelname aan die erediens, huisbesoek en ander besoeke as
voorbeelde van veranderde konsepte (Heitink 2007:172). Ook die tradisionele
struktuur van die kerk het verander met die vereistes wat die veranderde gemeente
aan die kerk gestel het (Heitink 2007:175). Hierdie nuwe beeld van die kerk is sterk
geskoei op die Johanneïse geloofsgemeenskap waar daar aanvaarding en klem op
gawes was (Heitink 2007:176). Heitink noem hierdie model die “konsentriese”
gemeente vorm wat van binne na buite en van buite na binne groei (Heitink
2007:178). Hierdie klem op binne en buite moet egter nie die klem vorm van die
gemeente nie, maar moet gerelativeer word. Dit kan eerder ’n dubbel beweging
genoem word. ’n Beweging van binne na buite en van buite na binne wat in
verhouding staan tot die lewende midde waarin die kerk staan. Dit moet rekening hou
met die sirkels van betrokkenheid en speel in op die sentripetale en sentrifugale
kragte wat inwerk op die kerk (Heitink 2007:180). Heitink bepleit dit daarom dat daar
nie ’n sterk onderskeid tussen binne en buite getref moet word nie en dat daar
uiteenlopende deelname moontlikhede aangebied moet word. Dan sou mense
hulleself kon posisioneer binne die kragveld van die Gees (Heitink 2007:180).
Daarom is dit belangrik dat die gemeente moet weet in watter omstandighede
hulle leef. Die gemeente sal moet weet wat is die situasie waarin lidmate en die
gemeenskap hulleself bevind (Heitink 2007:182). Dit gaan oor die skepping van ’n
klimaat van aanvaarding en wederkerigheid (Heitink 2007:184). Johannes plaas hier
ook klem op gasvryheid en ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar (Heitink
2007:185). Binne so ’n gasvrye gemeenskap is huisbesoek nie meer een van die
bedienings aspekte wat jou die heel jaar besig hou nie, maar ’n moontlikheid tot
verhouding ontwikkeling. So word verhoudings gebou en word daar kennis gemaak
met die mense en hulle vraagstukke binne die gemeente. Dit sal ook ’n groter impak
maak en groter gemak veroorsaak en dit sal laat deelname aan die eredienste en
lidmaatskap organies gebeur (Heitink 2007:186).
3.3.5 Evangelisasie – Die gemeente uitgedaag deur haar omgewing
Soos hierbo vermeld in “deelneming” is die model van kerk wees aan die verander.
Die konsentriese model van gemeentevorming is daarop gerig om ’n verskeidenheid
44
deelname moontlikhede voor te stel en deur die gemeenskap breër te inisieer. So ’n
gemeente met haar identiteit gevestig in die Sache Jesu sal dan nie anders kan as
om ook vêrder uit te kring nie. Heitink noem dit “Evangelisasie” (Heitink 2007:190).
Heitink struktureer hierdie hoofstuk dermate/sodanig dat die vraag na wat
evangelisasie is eerste aan die orde kom. Hier maak hy ’n keuse vir die konsep
“evangelisasie” teenoor die ander meer gelaaide en uitgetrapte terme (Heitink
2007:194). Hierna maak hy dit vir die leser duidelik dat die kerk breër is as net die
gemeente en dat dit is waarom die sendings opdrag gehoorsaam moet word (Heitink
2007:196). Hy neem ’n oorsigtelike kyk na die geskiedenis se uitlewing van die
sendings opdrag. Vanaf gewillig tot onwillig na oorywerig (Heitink 2007:197).
Tans het die evangelisasie die karakter van diens aangeneem (Heitink
2007:198). Heitink noem dat K Barth daarteen is om mag te gebruik om te
evangeliseer asook om onsensitief te wees vir kultuur. Daarom gaan dit vir Barth oor
die geloofwaardigheid van die woord en daad (Heitink 2007:199). Dit is hierin waar
die wortels van die ‘presensie’ beweging lê. Gasvryheid word gebruik as uitnodiging
tot gesprek vanuit ’n meer antropologiese basis (Heitink 2007:200). Heitink noem
hierdie metode “sekulêre” verkondiging (Heitink 2007:201). Hierna noem Heitink dat
die kerk sal moet besef dat die groot en indrukwekkende getalle groei van die verlede
nie weer herhaal sal kan word nie. Vandag gaan dit veel eerder om die relevansie en
die behoud van die Sache Jesu binne ’n pluralistiese en postmoderne samelewing
(Heitink 2007:202).
Binne hierdie samelewing is godsdienstigheid sonder die kerk moontlik. In
vroeër jare sou dit as onmoontlik beskou geword het. Baie mense is vandag
godsdienstig maar nie noodwendig kerkgangers nie (Heitink 2007:205). Dit bring ook
mee dat daar gesoek word na rituele en hierdie soeke word gekanaliseer na
godsdienstige rites wat neig om soms subjektivisties te wees. Hierdie pseudo-
religiositeit word sigbaar in menige populêre media soos films, musiek en programme
op die televisie (Heitink 2007:207). Die opkoms van spirituele bewegings soos die
New Age en Boeddhisme is bewys daarvan dat die esoteriese ook nou meer
beklemtoon word as ooit. Die vraag moet egter gevra word of die aanhaling van
Cyprianus extra ecclesiam nulla salus op ’n eksklusiewe wyse toegepas moet word
soos in die geskiedenis met ’n sterk klem op die wat binne en buite is?
Heitink neem dan hierdie geleentheid om die mens as die homo religiosus te
bespreek. Hierdie soeke na spiritualiteit wat opgesluit is in die mens se wese (Heitink
45
2007:208). Hy bespreek dit godsdiensfenomenologies en kom as gevolgtrekking
daarby uit dat die pseudo-godsdienstigheid gebruik kan word as
gespreksgeleentheid. Hy beklemtoon egter ook die inagneming van die kultuur en
lewensopvatting (Heitink 2007:212). Hierdie gesprekke gebeur ook buite die kerk op
alle vlakke van die gemeenskap. Evangelisasie word ook pastoraal van aard en daar
word na die mens as emosionele wese gekyk wat heling soek in die postmoderne,
postmaterialistiese en hedonistiese kultuur van vandag waar daar gesoek word na
versadiging maar dit nie gevind word nie.
Heitink kan dit nie genoeg beklemtoon dat die kerk ook ’n sosiale struktuur het
binne ’n bepaalde konteks nie (Heitink 2007:216). Sosiale verantwoordelikhede speel
’n al groter rol binne die kerk. Daarvoor sal die “ope-kerk” (Heitink 2007:218) kan
dien. ’n Kerk wat die gemeenskap dien. Dit war die omgewing benodig, daarmee help
die gemeente as kerngroep van die eerste konsentriese sirkel. Daarom beklemtoon
Heitink dat die kerk in ’n nuwe era staan wat ryp is vir nuwe kanse vir die kerk. Al wat
die kerk moet doen, is om aan ’n nuwe gesig te werk wat die nood van die
omliggende samelewing in ag neem, sonder om opdringerig te wees en skade te
doen aan die Sache Jesu.
3.3.6 Kongregasie – Die gemeente in vergadering byeen
In sy inleidende opmerkings noem Heitink dat die samekoms van die gemeente die
hart van die gemeente is. In hierdie hoofstuk ontwikkel hy sy konsentriese sirkels van
gemeente wees vêrder. Hier gaan dit om die kern saak van die viering van die Sache
Jesu en die gesamentlike belydenis daarvan in die gemeente (Heitink 2007:226). Dit
is die geheim van die gemeente waarom alles draai en wat nooit werklik deur die
gemeente vasgevang kan word nie.
Heitink begin by die Bybel en die verskillende woorde vir die samekoms.
Qehal, ecclesia en synagoge is almal woorde wat die samekoms as antwoord op die
roepstem van God beskryf (Heitink 2007:228). Die aksie van die samekoms is hier
van belang. In die middel-eeue is dit die congregatie fidelium gewees. Die samekoms
van die gelowiges. Dit was verweef met God se roepe en met die gesamentlike
sosiale aard van die samekoms. Dit is dan die koinonia. Die gemeenskap wat
byeenkom op die roep van God (Heitink 2007:229). Daarom kan die kerk nooit ’n
geselligheidsklub word nie. Die viering van die koinonia sonder die Sache Jesu word
’n leë ritueel. Die ritueel moet egter ook by die gemeente pas (Heitink 2007:229).
46
Daarom moet die gemeente ’n gepaste styl ontwikkel vir die liturgie. Uit bogenoemde
maak Heitink dit duidelik dat die samekoms van konstitutiewe belang is vie die
gemeente se “sein”. Maar deesdae en soos vroeër gewys, word erediens bywoning
al minder belangrik.
Heitink bespreek hierna die liturgie en die ontwikkeling en die invloed van
kultuur daarop (Heitink 2007:231). Dit lei hom daartoe om oor die eie karakter van die
Protestantse erediens te praat. Hier noem hy die Genève agtergrond vir die orde van
die erediens (Heitink 2007:236) en bespreek kortliks die prediking en preekvorming
(Heitink 2007:238-240). Hy noem dat kinders ’n integrale deel van die gemeente is
maar dat hulle pedagogies afsonderlik ’n onderdeel van die gemeente is. Hy vra of
die huidige (Nederlandse) sisteem werklik ’n bydrae lewer tot die kinders se
godsdiens opvoeding? Hy beklemtoon die gesamentlike karakter van die deelname
aan die godsdiens opvoeding en viering as deelname van kinders aan die erediens
(Heitink 2007:247).
Volgens Calvyn se definisie van ’n erediens moet daar Nagmaal ook gevier
word. Heitink bespreek die toelating daartoe, asook die publieke karakter daarvan.
Hy bespreek ook vervolgens die toelating van kinders tot die Nagmaal. Hy meen dat
die keuse om toelating van kinders tot die Nagmaal, nie by die gemeente moet lê nie.
Dit skep verwarring as daar van gemeente verwissel word. Daarom vra hy
herbesinning daaroor. Vir Heitink het die toelating van kinders tot die Nagmaal ’n
verrykende effek op die hele gebeure (Heitink 2007:252). Dit gee ’n baie meer
gemeenskaplike asook feestelike atmosfeer aan die viering van Nagmaal. Heitink
beklemtoon egter weereens die eie karakter van die gemeente en dat die gemeente
daaraan ook getrou moet wees.
Die ruimte en tyd van die viering van die erediens kry ook bespreking. Die
liturgiese ruimte het ook ’n invloed op die viering van die erediens. Heitink bespreek
hier die invloed van die gemeenskapskerk (Heitink 2007:254). Hier word die
gemeente in ’n half-sirkel om die tafel van gemeenskap geplaas. Die kansel staan nie
meer so sentraal nie. So word die gemeenskaplike karakter van die erediens
beklemtoon deurdat almal mekaar kan sien. Die gewydheid word vervang met ’n
opgewondenheid en gees van afwagting (Heitink 2007:256). Daar sal ook besin moet
word oor die liturgiese taal binne die erediens. Dit moet meer toeganklik en
verstaanbaar wees vir almal (Heitink 2007:258).
47
Vir Heitink is die identiteit van die gemeente belangrik. Daarom beklemtoon hy
te midde van sy voorstelle, dat kontinuïteit behou moet word met die gemeente se
identiteit en opvatting van die Sache Jesu.
3.3.7 Organisasie – Die opbou van die gemeente en kerk
Heitink begin hierdie hoofstuk met die vergelyking van die kerk as organisme as ’n
gebou (Heitink 2007:261). Die nuwe-testament beeld word ook gebruik deur Petrus
en Paulus. Hierdie gebou kan krimp en groei en die vorm aanneem wat die grondvlak
dit bied. Heitink benadruk dat so ’n organisasie nie ’n doel in sigself is nie maar ’n
middel tot ’n doel in diens van die Sache Jesu. Hierdie Sache Jesu is ook bepalend
vir die kultuur en identiteit van die gemeente. Hierdie kultuur is wat deesdae die
“kniehalter” is vir die Protestantse kerk. Die protestantse kerk is nog steeds sterk
organisatories van aard in haar bestuur. Dit veroorsaak dat die kerk kwalik kan
funksioneer binne die konteks van vandag (Heitink 2007:261). Daarom poog Heitink
om in hierdie hoofstuk verbeterings voor te stel wat kan help. Sy hoof uitgangspunt is
dat die organisasie van die gemeente geestelik moet wees.
Heitink benadruk die feit dat die kerk nie ’n organisasie is nie, ’n feit wat baie
maal vergete bly. Heitink identifiseer twee modelle uit die Nuwe-Testament wat dui
op die vroegste modelle van organisasie. Die onderlinge sorg en die meer
hiërargiese model van presbyters met die ontwikkeling van die ampte. Hierna
bespreek Heitink baie kortliks die verskil tussen die parochie en die diocesen. Die
parochie is ’n hedendaagse gemeente en die diocesen ’n hedendaagse ring. Daarna
bepreek Heitink die 3 vlakke van organisasie (Heitink 2007:265):
1. Hiërargies
2. Amptelik
3. Territoriaal
Met die Reformasie verander hierdie egter heeltemal. Die klem val nie so erg op die
hiërargie nie, maar meer op die priesterskap van elke gelowige. Die hedendaagse
Protestantse kerk het die Presbiteriaal-Sinodale stelsel. Die knelpunte van die
Presbiteriaal-Sinodale is dat dit soms te lomp voorkom as gevolg van sterk anti-
hiërargiese voorkeure (Heitink 2007:271). Die gemeente grense is vandag nie meer
so duidelik soos voorheen nie en veroorsaak verwarring en kompetisie (Heitink
2007:272). Die pluraliteit in die samelewing veroorsaak dat daar modaliteite vorm
binne die kerk (Heitink 2007:274) wat spanning en moontlik skeuring kan veroorsaak.
48
Heitink stel egter drie nuwe moontlikhede voor om die knelpunte te beveg. Daar moet
gekies word vir ’n kleiner hegter gemeente, profilering en regionalisering moet
plaasvind binne die gemeente. ’n Hegter samewerkingsooreenkoms is by al drie
nodig om die proses te laat vlot verloop (Heitink 2007:279).
3.3.8 Kontemplasie – Die gemeente, voedingsbodem van die gelowige
Hierdie hoofstuk van Heitink handel oor die begeleiding van die gemeentelede.
Geloof het sy vanselfsprekendheid verloor binne die postchristelike samelewing
(Heitink 2007:327). Die grense tussen geloof en ongeloof het meer vloeibaar geraak
en dit veroorsaak verwarring asook pluralisasie (Heitink 2007:327). Daarom moet die
gemeente tyd bestee aan geloofverdieping. Die strominge van sekularisasie moet
oorkom word. Heitink gebruik die Bybelse metafoor van die saaier en die saad wat op
verskillende plekke val. Die verlede was ’n geborge omgewing van ’n
broeikas/herbarium waarin die kerk kon voort groei (Heitink 2007:327). Nou is dit nie
meer so nie en die kerk is op koue rotsagtige grond. Daarom vra Heitink dat ons die
gemeente moet toerus om te oorleef in hulle geloof.
Dit gaan van die prediker vra om die gemeente toe te rus met die regte
gereedskap om te oorleef en te vêrder groei. Dit gaan nie om die bestryding van die
sekularisme nie, maar oor die voeding van geloof en geloofsverryking binne ’n nuwe
lewenskonteks. Dit sal ook help met die vorming en groei van die konsentriese
gemeente vorming.
3.4 Opsomming – Transformasie
Vir Heitink gaan die heroriëntasie proses nie om verandering vir die punt om te
verander nie. Dit gaan vir hom oor die diensbaarheid aan die Sache Jesu. Dit vra van
die kerk om te heroriënteer en van die mense om te transformeer. Dit gaan nie om ’n
plotselinge antwoord te kry en te probeer verander nie, maar om getrou te bly aan die
kerk se identiteit asook die kultuur in ag te neem. Dit is ook nie ’n proses wat met
ongelukkigheid en die oog op mislukking gedoen moet word nie. Hoop vergemaklik
die proses. Heitink gebruik die gesegde “die situasie is ernstig maar nie hopeloos
nie”.
49
HOOFSTUK 4
DIE EKKLESIOLOGIE VAN G.D.J. DINGEMANS, DIE RONDE-TAFEL KERK
4.1 Inleiding
Dr. G.D.J. Dingemans is ’n afgetrede professor verbonde aan die Rijksuniversiteit
van Groningen in Nederland. Hy het gedoseer in Praktiese teologie maar het sy
proefskrif gedoen in sistematiese teologie. Sy teologie word gekenmerk deur sy klem
op die Gees en daarom is sy denke rondom teologie baie holisties van aard. Die
boek wat in hierdie studie bespreek word se titel weerspieël dit ook.
“Pneumateologie” as subtitel van die boek “de stem van de Roepende” wys dat die
Gees vir Dingemans ’n belangrike hermeneutiese sleutel tot teologie en
werklikheidsverstaan is (Buitendag 2007:1). Deur die bestudering van die boek kom
dit duidelik na vore dat Dingemans voortdurend insigte tap uit die Belydenisskrifte
asook die omgewing om hom. Hy is krities teen sommige formulerings in die
Belydenisskrifte en probeer dan ook om dit aan te spreek en nuut te formuleer. Hy
maak veral baie van die hedendaagse situasie en wil graag laat teologie en geloof
weer plek vind in die samelewing. Dit is juis wat ons vandag nodig het, ’n teologie wat
ons geloof raak en wat ons in die wêreld kan plaas. Die boek daag mens uit om
hierdie posisie in te neem en jou geloof te laat geld. Dingemans deel sy werk op in
drie hoofdele. Hy bespreek eers die “Landskap”, wat die posisie tans en in die
verlede verduidelik. Mens kan sê dat dit dien as inleiding vir die boek vêrder. Daarna
gaan hy oor in die “Ontmoeting” wat handel oor die kerk as gestalte in die wêreld.
Hier bespreek hy die situasie waarin die kerk haarself vind asook sy poging tot ’n
nuwe model. Nadat hy die voorstel gedoen het bespreek hy “sonde”, “verlossing” en
“dankbaarheid”. Hy noem hierdie deel “Steunpunte”. Hierin kom ook sy bespreking
van die drie-eenheid voor asook die Christologiese onderafdelings.
Om rede hierdie studie handel oor ekklesiologie, gaan ek net Dingemans se
tweede afdeling -“Ontmoeting”- bespreek. Die groter geheel van die boek sal plek-
plek deurslaan, maar daar sal gefokus word op die ekklesiologie. Dingemans deel sy
Ontmoetingsplaatsen d.w.s. ekklesiologie in volgens ’n baie sinvolle indeling. Eers
bepreek hy die geskiedenis van die kerk, waar hy die kerk as die bedding van die
50
Christendom verduidelik aan die hand van ’n baie interessante metafoor. Daarna vra
hy die vrae wat gevra moet word. “Hoekom gaan mense kerk toe?”, “Wat soek
mense in/van die kerk?”. Hy verduidelik ook `n paar gedateerde modelle van kerk-
wees. Sy laaste punt is die voorstel tot ’n nuwe model wat hy die “rondetafel
gemeenskap” noem. Ek gaan vir die doeleinde van hierdie studie ook by hierdie
struktuur hou.
4.2 Die Kerk as die bedding van die Christendom
Die afdeling van die boek, “de stem van de Roepende”, wat handel oor die
ekklesiologie se naam is “Ontmoetingsplaatsen”. Dingemans begin sy argument hier
met die bespreking van “ontmoetingsplekke” met die onuitspreeklike God (Buitendag
2007:16). Hierdie geleiers is godsdiens en die kerk. Vir die doeleindes van hierdie
studie word daar gefokus op die ekklesiologie.
Dingemans gebruik die metafoor van `n rivier om die kerk se loop deur die
geskiedenis te verduidelik. Woorde soos stroom, bedding en landskap verduidelik
hoe die kerk as rivier die stroom is waarvolgens godsdienstigheid gelei word, die
bedding as die voedingsbron en die landskap as die rivier wat die landskap uitkalwe
en omvorm. Die kerk het soos `n rivier ontspring in die berge, en die vorm van die
omliggende omgewing aangeneem. Soms is die rivier sterk en vorm die landskap en
soms gaan die rivier waar die landskap hom neem. Die rivier het ook vertakkings, die
verskeie denominasies, en soms kom die vertakkings weer bymekaar. En uiteindelik
kom die rivier bymekaar in die groot delta wat uitmond in die oseaan. Dit beteken dat
die kerk `n oorsprong het, deur die landskap gevorm en beïnvloed word, verskeie
verskyningsvorme het in vertakkings en `n gemeenskaplike eindpunt het (Dingemans
2005:199-201). Binne die konteks waaruit Dingemans skryf, Nederland, kan mens
sien hoe die geskiedenis van die land gevorm is deur die Ryn en die Maar-riviere. So
kan die kerk se geskiedenis ook nie losgemaak word van die omgewings waarin sy
vloei nie. Voorbeelde wat Dingemans gee is die Roomse-Hellenistiese wêreld asook
die Midde-Oosterse lewe.
Daarna gaan hy oor om die ontstaan van die “rivier” te verduidelik. Die
geskiedenis van Jesus Christus asook die ontstaan van die kerk word oorsigtelik
genome. Die dissipels van Christus is die stigters van die kerk gewees, en Paulus en
Petrus die “evangeliste” (Dingemans 2005:202). Die vervolgings deur die Romeinse
51
gesag kon nie die vloei van hierdie sterk en nuwe rivier stuit nie. Die Goddelike
Pneuma het veroorsaak dat die rivier van `n klein stroompie af so sterk kon vloei.
Tydens hierdie tyd het die kerk in verskeie gestaltes voorgekom. Dingemans noem
die volgende.
Die kerk in die tyd van ope organisasie. Meek (vgl. Dingemans 2005:204)
verduidelik dat Paulus op sy sendingreise by alreeds bestaande gemeentes
aangedoen het. Meek noem hierdie ope organisasies “huiskerke”, “Romeinse
collegia”, “sinagoges” en “skole”. Oorkoepelend kan mens dit noem huiskerke.
In hierdie vorm is daar geen hiërargie sigbaar nie, behalwe vir persone wat
bepaalde funksies verrig het volgens hulle gawes binne die gemeenskap.
Hierdie leierskap funksies het naas mekaar gestaan.
Die kerk in die tyd van `n vaster vorm van organisasie. Die pastoral briewe van
Paulus is geskryf aan gemeentes wat `n vaster vorm van organisasie gehad
het. Daar was nog huis gemeentes, maar die gemeente word nou groter
gesien as die “huis van God” (1Tim 3:15). Die gawes wat hier oor gepraat
word is nie meer die algemene gawes nie, maar meer spesifieke leiers
posisies wat seker wel bevoegde mense vervul het (Dingemans 2005:206).
Die gawe word deur handoplegging saam met gesag oorgedra aan die een
wat die vorige een opvolg. Daar kom nog nie `n uitgekristalliseerde
ampstruktuur voor nie, maar tekens van `n hiërargiese leidingstelsel word al
gesien. Die stroom van die rivier begin nou om in `n vaste struktuur te vloei
(Dingemans 2005:206).
Die episkopaalse struktuur. Hier is daar al duidelik `n hiërargiese stelsel van
gemeentes en leierskap. Die stelsel van hiërargie word oorgeneem vanuit die
Romeinse stelsel. Die biskop stelsel word deel van die kerk se struktuur. So
ontwikkel die kerk vanaf `n ope organisasie na die Katolieke kerk in vaste
vorm.
Hierna word die impak van die Reformasie bespreek as die tweede groot stroom
skeiding van die rivier (Dingemans 2005:207). Duidelik gryp sommige kerke terug na
die bronne van die evangelie en plaas dan nadruk op die term “die gemeente as
geloofsgemeenskap”. Hierdie is die Kongregasionalistiese kerke.
Dingemans gaan dan voort om die stroom in Europa te bespreek. Hy
verduidelik die splitsing van die stroom tussen die Ooste en die Weste, asook die
52
latere splitsing tussen Rooms en Reformatories (Dingemans 2005:209). Hy
identifiseer vier hoofstroom kerke wat na hierdie splitsing in die kerk gevind kan word.
Die Episkopale kerk. Die amp van die biskop speel hier `n groot rol. Die
ampsdraers word gesien as suksessief van Christus af. Die sakramente en die
belewenis van Christus word hier sterk beklemtoon.
Die amp van die Woord. Die Woord word hier sterk beklemtoon. Martin Luther
het hier `n groot rol gespeel. Bieg is ook belangrik.
Presbiteriaal-sinodaal. Die Woord gebeure staan sentraal tot die verstaan van
die Woord en Gees. Die ampte verteenwoordig saam Christus vir die
gemeente. Die biskop het nie alleen reg nie, maar die ampte.
Kongregasionalisme. Hier is nie formele ampsdraers nie, maar wel
funksionarisse. Die gemeentevergadering neem demokraties besluite.
Soos wat die kerk beïnvloed is deur die Romeinse tydperk, is sy ook beïnvloed deur
die omwentelings van die 1800`s. vanaf die Middeleeue tot die Verligting, was die
kerk so `n integrale deel van die samelewing soos die Rynrivier van Nederland se
landskap is (Dingemans 2005:213). Die kultuur en samelewing was deurweek van
die Christendom en die kerk. Die kerke en die burgerlike owerheid was verenig. Die
versmelting was in so `n mate dat doopregisters gebruik is as bevolkingsregister
(Buitendag 2007:18).
Die impak van die Verligting het egter alles verander. Die beklemtoning van
die rasionele ten koste van die esoteriese het `n groot terugslag beteken vir die kerk.
Die landsburgers was mondig en het rekenskap gegee vir hulle eie, rasioneel
gegronde, besluite (Buitendag 2007:19). Hier het die vrye kerk ontstaan. Almal wat
enders oor `n bepaalde saak gedink het kon “per afspraak” daaraan deelneem. Met
die Afskeiding van 1834 en die Doleansie van 1886 is `n nuwe era ingelyf. Die kerk
as verenigingsreg. Die kerk het `n baie meer apostolêre en belydende karakter
ontwikkel. Die kerk se nuwe klem was egter op diens aan die volk en dit het die kerk
as vereniging baie verarm (Dingemans 2005:219).
Dit het baie denkers (Bonhoeffer, Habermas en Weber) laat dink dat die
Westerse wêreld religieloos gaan word. Ander kaders het weer gedink dat die kerk
haarself moet distansieer van die geïnstitusionaliseerde kerk (Dingemans 2005:220).
Dingemans sien egter hoop. Hy meen dat die Postmoderne Christendom lyk of die
rivier opgedroog het. Daar is egter onder die oppervlakte `n groot stuk sugting en
spiritualiteit soos ondergrondse riviere in die Namib woestyn (Dingemans 2005:220).
53
Hy meen dat die postmoderne mens sukkel om oor die weg te kom met die “reels en
regulasies” van die kerk soos in die verlede gesien is. Die postmoderne mens sukkel
met organisasie vorms en om te behoort aan rigiede instellings. Hulle smag na `n
wyer bediening en losser organisasie. Huisgemeentes en omgeegroepe is vir die
nuwe gemeente hoe die kerk moet funksioneer. Die funksie van die kerk is nie net
om bewaarder te wees nie, maar ook as skuilplek en inspirasie, bron en
besinningsisteem vir die mense wat dit nodig het. Die kerklike organisasie word
losser en meer pluriform asook meer gekonsentreerd (Dingemans 2005:221).
Dit is uit hierdie uitdaging wat die kerk die kritiek op haar bestaanswyse moet
probeer aanspreek. Die kerk kan nie meer vandag die reels en regulasies op almal
probeer toepas nie. Daardie “reg” is die kerk ontneem deur die Verligting. Die
suksesse van die vroeë kerk asook deur die Middeleeue is te danke aan die
aanpassing by die bestaande kultuur. Daarom moet die kerk haarself binne die
bestaande kultuur orienteer en die Evangelie weer ernstig uitleef na buite. Die
evangelie moet vir vandag se mens relevant wees. Daarom vra Dingemans
(2006:222) dat die kerk `n ontmoetingsplek moet word.
4.3 Christelike gemeenskap as kruispunt
Hierna gaan Dingemans oor daarna om te vra wat die gemeenskap soek in `n
Christelike geloofsgemeenskap. Hy bied vier temas aan wat volgens hom die
verwagtings van die postmoderne mens van die geloofsgemeenskap koester. Bo en
behalwe die vier is die grootste die ontmoeting met die transendente God. Die vier
temas is vervolgens:
Geborgenheid – mense soek vandag `n gevoel van geborgenheid en
veiligheid binne die kerk. Dit is die intieme omgang met God binne die
liturgie en die belewenis van die kerk asook die heling wat gebied word
binne hierdie geborgenheid (Dingemans 2005:225).
Gemeenskap - `n gevoel van `n gemeenskaplike oriëntasie (Dingemans
2005:26). Die belewing en die sorg vir mekaar speel hierin ook `n groot
rol. Die erkenning van persoonlike identiteit asook die gemeenskaplike
identiteit is waarna gestreef word.
Uitdaging – inspirasie wat sal lei na nuwe lewens uitdagings is ook `n
groot verwagting. Binne hierdie gemeenskap word die lede geroep tot
54
`n lewe van uitdaging en inspirasie tot `n nuwe lewenstyl. Binne hierdie
verwagting wil die gemeenskap uitgedaag word tot missionaat,
diakonaat en pastoraat. Dit is dus die Goddelike roepstem wat elkeen
binne hierdie gemeenskap uitdaag tot hierdie verantwoordelikheid
(Dingemans 2005:227)
Oriëntasie – laastens soek die mense binne hierdie gemeenskap
oriëntasie om hulle lewe volgens te baan. Hulle soek vorming en leering
om dit te gebruik binne die deurmekaar lewe van vandag. Dit word
verkry binne die gemeenskap en ook uit omgang met die Bybel
(Dingemans 2005:228).
Dingemans dui (2006:228-230) vyf funksies aan wat die kerk oorspronklik in die
Nuwe-Testament vervul het (Handelinge 2:42). Dit is vir Dingemans die vier mure
van die kerk, waarby hy `n vyfde voeg wat meer implisiet is. Hierdie is:
Viering – hieronder verstaan Dingemans die “gemeenskap” onder die
lede van die gemeente. Die breek van die brood en die viering van die
Sondag.
Gebed – dit is die hart van meeste religieë. Dit is die intiemste omgang
met God. Dit geld vir die persoonlike, gemeentelike, voorbidding en
ander vorme van gebed.
Sorg – die onderlinge sorg van mekaar. Die gemeente is georganiseer
in “diakonale aktiwiteite” binne die netwerk van die gemeente. Dit sluit
dan aan by die lewe voor en saam met ander voor God.
Lering – dit is die verwerking van tradisie binne die konteks van die
gemeente. Dit moet deur oorgedra word van een generasie na die
volgende sonder om outoritêr te wees.
Handeling – hierdie een word nie eksplisiet in Handelinge genoem nie,
maar is wesenlik deel van die werking en die spiritualiteit van die
gemeente. Dit is die uitlewing van die gelowiges se geloof in die wêreld.
Dit sluit in sorg vir die naaste, persoonlike sorg en vrede en harmonie.
Met hierdie as agtergrond formuleer Dingemans (2006:230) `n omskrywing van hoe
`n Christelike gemeenskap moet lyk:
“De christelijke gemeensckap bestaat uit een groep mensen van een
bepaalde tijd, cultuur en sameleving, die – zich voegend in de
beweging die bijna 2000 jaar geleden met het optreden van Jezus is
55
begonnen – op zoek is naar God. Daarbij gaat het vooral om het vinden
van geborgenheid, gemeenschap, oreintatie en een specifieke
levensopdracht.”
4.3.1 Die invloed van die Kerk is aan die agteruitgang
Hierna gaan Dingemans oor na die kerk se agteruitgang. Die kerk sukkel om aan te
pas by wat van haar verwag word in die huidige politieke, ekonomiese en sosiale
situasie waarin sy tans haarself bevind. Die kerk sukkel om relevant te wees in haar
boodskap asook om die massas wat smag na `n relevante spiritualiteit, aan te
spreek. Dingemans identifiseer twee hoofoorsake van hierdie verswakte posisie.
Eerstens die interne verskuiwings wat plaasvind. Die kerk se plousibiliteit en
relevansie is vir die gemeentelede ook aan die verbrokkel. Die nuwe generasie
sukkel om by die geykte tradisies aan te pas want dit spreek hulle nie meer aan nie.
Die gesagsverhouding wat in vroeër tye van die ampsdraers verwag is, is nou nie
meer gangbaar nie. Wat hiermee saamhang is die sug van die postmoderne mens
om in `n demokratiese sisteem “gehoor” te word. Dit strook nie met die kerk se
verouderde hiërargiese kerkstruktuur nie. Die kerk sukkel ook om eenvormig te praat.
Die pluriforme samelewing veroorsaak dat die kerk voorkom asof daar onderling
geen konsensus is nie. Die hedendaagse spiritualiteit veroorsaak ook dat die wyse
waarop die kerk haar bediening uitleef nie meer relevant is nie. Kategese, liturgie en
prediking word gedoen op dieselfde manier as jare van te vore. Dit is duidelik dat
stagnasie ingetree het. Dit veroorsaak dat daar onder die jeug `n gevoel van “anti-
institusionalisme “ teenoor die kerk gekweek word want die postmoderne mens soek
meer vryheid en `n sterker gevoel van geborgenheid en `n persoonlike geloofslewe
Dingemans 2005:232).Tweedens het die kerk se funksie ook verander. Die kerk word
gesien as `n plek van intoleransie, wettisisme en onderlinge oorloë. Die strukture
waarop die kerk roem is ook te outokraties en dwang-gierig vir die postmoderne
mens. Dit veroorsaak vir die gemeente blokkasies in hulle geloof ontwikkeling.
Hierdie postmoderne mens is ook van mening dat die kerk nie nodig is om “kerk" te
konstitueer nie.
Daar kan gesien word dat die kerk se ekklesiologie `n dringende herbesinning
nodig het. Vir die oorlewing van die kerk is dit nodig om na hierdie bogenoemde
56
punte te kyk en dit spoedig aan te spreek. Dit veroorsaak spanning in eie geledere
asook tussen die funksie en die gemeenskap van die kerk binne `n bepaalde kultuur.
4.3.2 Die kerk as interpretasiegemeenskap
Dingemans probeer hierdié spanning aanspreek deur ekklesiologies daaroor te besin
(2006:238). Daar is `n groot spanning tussen die kerk as instituut en as
geloofsgemeenskap. Die kerk kan nie langer `n eksklusiewe goddelike instituut wees
nie en is ook nie net die gemeenskap van die heiliges (communio sanctorum) nie.
Die heiligheid van die kerk is nie opgesluit in die mense nie (2006:238), maar in God
se roepstem en die werking van die Heilige Gees wat gebruik maak van mense en
rituele en wat mense inspireer en laat verander. Daarom is die kerk vir Dingemans `n
ontmoetingsplek. Die ontmoeting gebeur deur kommunikasie tussen God en mens,
geloofsgemeenskap en kultuur. Dit is `n spanningsvolle verhouding tussen God en
mens, kultuur en evangelie, gemeenskap en individu en tussen kerk en samelewing.
Dingemans bespreek hierdie spanningsvelde dan as volg.
God en mens
Evangelie en situasie
Leer en lewe
Gemeenskap en individu
Kerk en wêreld
Instituut en beweging
Amp en gemeente lede
Feitelikheid en geloof visie
Die bogenoemde spanningsvelde is brugbouers (Dingemans 2005:253). Die
genoemde funksies van die kerk kry uiting in die spanningsvelde. Die Christelike
gemeenskap staan tussen die oorgelewerde tradisie en die uitdagende vraag na
relevansie binne die gemeenskap. Dit beteken egter nie dat die kerk die
spanningsvelde altyd moet laat balanseer nie. Dit bly die kerk se roeping om hierdie
velde dinamies in beweging te hou vir die vervulling van die kerk se geroepenheid
binne die samelewing. Hierdie roeping is deurslaggewend vir haar relevansie en
aanhoudend ontwikkelende identiteit.
Deur die geskiedenis kan gesien word dat die kerk haar relevansie in ag
geneem het binne en as gevolg van verskillende kultuurontwikkelings. Dingemans
57
bespreek in hierdie verband vier ekklesiologiese modelle wat deur die geskiedenis
gefigureer het. Dit is:
Die amptelike sakramentskerk
Die Woordkerk
Die liberale reglementkerk
Die belydeniskerk
Hierin kan gesien word dat daar al verskuiwings plaasgevind het en dat ’n vêrdere
verskuiwing drasties nodig is. Die beweging tussen God en mens en tussen mens en
kerk is nie meer eensydig, van tradisie na situasie of van bo na onder nie. Daar word
deesdae vanuit `n gegewe situasie deur die tradisie gesoek na `n nuwe interpretasie.
Dan sal daar gesien word dat die Bybel nie `n rigiede sisteem bied vir ons nie. Daar
is disharmonieë en wan-akkoorde (Dingemans 2005:264). Dit is juis dit wat die
postmoderne mense moet leer, om nie logies na die Bybel te kyk nie maar dialogies
betrokke te raak by die “moves and structures” (Dingemans 2005:264) van die tekste.
Dit is die werk van die kerk om hulle geloofsgemeenskap te leer om `n interpretasie
gemeenskap te word (Dingemans 2005:264).
Dingemans noem hierdie die hermeneutiese proses, waarin spanning nooit
opgelos word nie. Ons staan in die kerk voortdurend in `n interpretasie geskiedenis
van die tradisie. Die tradisie getuig van ervarings in die ou en die Nuwe Testament
en in die eeue lange interpretasie daarvan. Elke generasie voeg nuwe betekenis toe
aan hierdie tradisie. Ons moet dus ons eie identiteit en missie herformuleer. Die
tradisie moet gedurig vrugbaar gemaak word. Die moontlikhede en die self verstaan
van `n gemeente sal van tyd tot tyd verskil, daar is tog ook `n kontinuïteit tussen die
hede en die verlede.
Dingemans verwys na die volgende vier punte om ons te help om onsself te
verstaan. Eerstens moet die kerk mense uit die gesekulariseerde wêreld help om
weer die bronne van die Christelike tradisie te verstaan vanuit ons situasie. Dit moet
dus weer relevant en sinvol gemaak word. Tweedens het elke persoon die reg om te
leer. Een persoon het nie die alleenreg om almal voor te sê en al die ander te wil leer
nie. Dit gaan om die een kerk vir almal binne elk se gawes. Derdens leef ons in `n tyd
waarin pluriformiteit en variasie hoogty vier. Almal moet na almal kan luister en
mekaar nie veroordeel nie en gasvry wees teenoor ieder en elk. Laastens moet die
kerk probeer om op diakonale vlak mense in hulle situasies te help.
58
As die kerk dit besef sal sy volgens Dingemans haar roeping kan vervul in
haar taak as kerk wees. Kerk is dan `n lerende, gasvrye en pluriforme
geloofsgemeenskap wat daar is vir almal wat soekend is na nuwe interpretasies vir
die tradisie en bronne. Dit sal dan veroorsaak dat die vraag na geborgenheid,
oriëntasie en uitdaging beantwoord sal word en dat daar in barmhartigheid na
mekaar uitgereik sal kan word.
Hierdie selfverstaan kom deur identiteit vinding. Wat is die identiteit van die
Christelike gemeenskap, as alles so veranderd is? Die kontinuïteit van die tradisie
binne die verskillende situasies waarin die kerk haarself gaan vind. In die Nuwe
Testament is daar al `n verskeidenheid interpretasie gemeenskappe wat gevorm is
deur aksent verskille. Daar moet aanhoudend beantwoord word aan die vrae wat die
tradisie aan die situasie stel om hierdie kontinuïteit te behou. Hierdie kontinuïteit is
essensieel aan die kerk se oorlewing (Dingemans 2005:296-270).
Met dit as ideal skets Dingemans in die laaste hoofstuk rakende sy
ekklesiologie `n moontlike model vir kerk wees in die geloofsgemeenskap van `n
postmoderne wêreld (Dingemans 2005:270).
4.4 Die geloofsgemeenskap in `n (post)moderne tyd – Die “Ronde-tafel” kerk
Die kerk as “tafelgemeenskap” word as metafoor deur Letty Russel gebruik in haar
boek Church in the round. `n Ronde tafel moet die ontmoetingsplek wees vir die
Christelike gemeenskap. Almal is om hierdie tafel gelyk en almal is welkom
(Dingemans 2005:271). Die tafel dien ook as “herinneringsgemeenskap” waar
rondom mense dit wat Christus gedoen het kan onthou en saam gedenk. Dit bring
gemeenskap van verbondenheid na vore. Binne hierdie gemeenskap kan lewens
opdragte ook vervul word en die stem van die roepende God gehoor word. So word
die gemeenskap van gelowiges gaste aan die tafel van God as geroepenes van Sy
volk.
Hierdie kerk as tafelgemeenskap strewe na eenheid, `n eie Christelike
identiteit en na algemeenheid (katolisiteit). Die gemeenskap van Christene word
geroep uit haar verdeeldheid tot eenheid, in haar twyfel oor eie Christelike identiteit
en in haar pluriformiteit tot `n gemeenskap van onderlinge kommunikasie
(Dingemans 2005:273). Die tradisionele notae ecclesiae word gesien as doelpunt
59
waarna gestreef moet word. Die dimensies van die kerk moet imperatief verstaan
word en nie alleen as indikatief geleef word nie (Buitendag 2007:21). Die Christelike
gemeenskap kom bymekaar rondom die tafel van die Here waar die Woord en
sakramente bedien word en waar die tug uit geoefen word. Die tafelgemeenskap is
ook grootliks verantwoordelik vir die onderlinge sorg en diens in die samelewing
(Dingemans 2005:272).
Vir die tafelgemeenskap staan die erediens ook sentraal. Dit is waar die
ontmoetingsplek is tussen God en mens. Daar is geen verheffing van die predikant
bo die res van die gemeente nie, want in die tafelgemeenskap staan almal gelyk voor
God as geroepenes tot Sy volk.
Nadat Dingemans verduidelik het wat sy antwoord is op die uitdagings wat
genoem is in die vorige afdelings, gee hy `n uiteensetting van wat hy bedoel met die
kerk as tafelgemeenskap. Hy het 5 indelings waaronder hy verduidelik wat dit behels
om `n tafelgemeenskap kerk te wees. Dit is die kerk as ontmoetingsplek, as
spannende gemeenskap, as uitnodigende gemeenskap, as leer gemeenskap en as
institusionele gemeenskap. Elk gaan nou kortliks bespreek word om die onderlinge
verband en samehang te verstaan en hoe dit ook bydra tot die ontstaan en die
onderhoud van die tafelgemeenskap as kerk wat die uitdagings van `n veranderde en
veranderende tyd aanvaar en gebruik tot haar voordeel.
4.4.1 Die "Ronde-tafel“ kerk as ontmoetingsplek
Hieronder bespreek Dingemans die ontmoeting tussen mense en God, die
ontmoeting tussen mense en mense en laastens die eenheid in veelvormigheid. Die
rondetafel-kerk is eerstens die ontmoetingsplek tussen God en mens. Dit gaan nie
heir om die blote versameling van mense nie maar oor die samekoms as reaksie op
die roepstem van die Here. Hierin kan beide die bogenoemde Woordkerk en ook die
Sakramentskerk gesien word omdat al twee sensitief is vir die stem van die
roepende.
Binne die rondetafel-kerk sien elkeen hulle self as deel van die groter stroom
van die Christelike tradisie. Maak nie saak wat die grote is van die gemeenskap nie,
die kerk as tafelgemeenskap maak deel uit van die Una Sancta (Dingemans
2005:274). Binne hierdie groter stroom van die Christelike tradisie deel die
gemeenskap ook aan die gratia praeveniens van die liefde van God. Dit is `n reaksie
60
op die roepstem van God wat die gemeenskap daar plaas en die troos, bemoediging
en uitdaging bied waarna vandag se samelewing soek.
Hierdie ontmoeting met die roepende God gebeur op verskillende maniere vir
verskillende mense. Die tradisionele erediens kan vir sommige die ontmoeting bied
waar ander soek na iets anders om hulle spiritualiteit te voed en die ontmoeting te
kan voel. Solank as wat die erediens die ontmoeting met God is, wat deur die Gees
bemiddel word en die ontmoeting veroorsaak dat die erediens vierend, spelend en
meelewend is die doel van die erediens bemiddel. Daar word rekenskap gehou met
die behoeftes van die gemeenskap wat rondom die tafel vergader.
Die basis interpretasie van die rondetafel-kerk as ontmoetingsplek is die
herinnering aan Jesus Christus. Christene leef onder die gedagtenis van die kruis en
die opstanding. Dit is die verenigingsfaktor tussen verskillende denominasies van die
Christelike gemeenskap. Die “algemene” Christelike identiteit het oor die gang van
die eeue verander na mate die konteks dit van die gemeenskap vereis het
(Dingemans 2005:274). Dit is die samebindende Sache Jesu wat kerke saambind.
Hierdie oorgelewerde tradisie le ook in die tradisie, geboue en verskillende vorms
van die kerk. Dit is juis hierin wat die veelvormigheid le waaruit die kerk as
tafelgemeenskap kan gaan put in herinterpretasie binne nuwe kontekste.
Eenheid word van die vroegste tye af as die ideaal opgeneem. In die situasie
waarin die Christelike kerk ontstaan het is dit duidelik dat eenheid en identiteit van
kardinale belang was vir onderskeiding. Die belydenisse plaas ook groot klem op
eenheid, te midde van getuienis uit die Ou sowel as die Nuwe-Testamente dat daar
geen uniforme kerk was nie. Käsemann (1969) bewys dit ook uit die nuwe
Testament. Daar was verskillende aksente en vorme maar een geloof in Christus.
Vandag staan daar meer pluriforme visies en vorme en dit is die uitdaging van die
rondetafel kerk om hierdie visies en vorme te probeer akkommodeer. Dingemans vra
of dit werklik moontlik is. Hy eindig met die gedagte dat ons almal van `n
gemeenskaplike bron afkomstig is en dat dit ons verenig met Christus as fondament.
Daarom gaan hy oor na die bespreking van die amp wat die geïnstitusionaliseer
geword het as “waarheids” -legitimeerder (Dingemans 2005:277). Dit gee die werk as
regter aan die ampsdraer. Dit sal moet hersien word en volgens Dingemans
(2006:277) herdink moet word. Eenheid en legitimasie van waarheid hoef nie te kom
uit uniformiteit van idees en opvattings nie. Eenheid kan ook objektief lê binne die
stem van die Roepende. Dit gaan oor die gemeenskap, die mense en hoe hulle as
61
tafelgemeenskap reageer op die uitdagings van die konteks en die samelewing. Die
stem van die Roepende is die uniforme en deurgaans teenwoordige feit van die kerk
as tafelgemeenskap. Daarom is daar ruimte binne hierdie kerk vir die pluriformiteit
van die postmoderne era.
4.4.2 Die "Ronde-tafel”- kerk as spannende gemeenskap
Die geloofsgemeenskap moet weet dat hulle nie daar is om die teenstellings in die
samelewing te probeer reproduseer nie, maar dat hulle die hoërplan vir die kerk van
Christus, versoening, moet probeer uitleef. Hierdie versoening kan egter net gebeur
as die tafelgemeenskap `n luister gemeenskap word. Daarom se Dingemans is dit
nie goed om “spesiale” kerke te he nie. As daar onderskeid getref word tussen kerke
vir vroue, gays, verskillende rasse of ekonomiese groepe, word die eenheid en die
voorkoms van versoening verswak. Versoening is die hart van die gemeente en moet
daarom daagliks aan gewerk word. Dit gebeur op `n paar maniere. Deur te luister na
mekaar se verhaal. Deur gesprek te hê met mekaar waarin alles bespreek word.
Deur derdens te aanvaar met begrip vir die ander se situasie. En laastens deur te
vergewe.
Dit opper dan vir Dingemans die vraag rondom die gemeenskap en die
enkeling. Die enkeling binne die gemeenskap word deel van die gemeenskap en die
gemeenskap moet aanhou groei. Dit bring mee dat daar aanhoudend her-evaluasie
is van die gemeenskap se norme en waardes. Die gemeenskap kan nooit stagnant
word nie. Die groep moet aanhoudend opsoek bly na die waarheid, geregtigheid en
die liefde van Christus binne hierdié gemeenskap.
4.4.3 Die "Ronde-tafel”-kerk as uitnodiging
Die uitnodigende funksie van die rondetafel kerk kom tot uitlewing in die wyse
waarop die lede van die gemeenskap in die omgewing sigbaar word. Die skool,
werkplek, huis en ander byeenkomste. Kongruensie met dit wat in die erediens
gebeur deur die week in al die plekke waar daar ontmoet word of waar die gemeente
lid teenwoordig is (Dingemans 2005:281). Die rondetafel-gemeenskap is dan die
inspirator van die gemeenskap in die grote. Deelname aan die gemeenskap en
solidariteit met die gemeenskap is belangrik vir die tafelgemeenskap. Die dae van `n
asketiese bestaan van onttrekking uit die samelewing is verby. Die kerk moet weer
haar funksie binne die samelewing opneem. Die kerk moet die plek wees waar die
verlore en stukkende siele van ons samelewing kan kom heling soek. Dit moet ook
62
die voorbeeld stel vir die groter samelewing van hoe daar saamgeleef kan word
(Dingemans 2005:282).
Daarom is die tafelgemeenskap geroep om saam te dien in die gemeenskap.
Die beskerming van die samelewing as die skepping van God en die ontwikkeling
van die mense wat daarin leef is vir die tafelgemeenskap van groot belang.
Besinning, bemoediging en aksie in die konteks is belangrik (Dingemans 2005:282).
Die tafelgemeenskap moet gedryf word deur die hoop op die toekoms wat die
Roepende vir ons moontlik gemaak het.
Hierdie hoop is die verwagting van die Christene dat die liefde van God sal
oorwin oor die kwaad van die wêreld. Dit is die hart van die evangelie en word
gevoed deur die wete dat God altyd een stappie voor ons is (Dingemans 2005:283).
Dit open die toekoms vir ons en bemoedig en is uitdagend vir ons. Dit bring die
moontlikheid om te kan volhard wanneer dit moeilik lyk. Dit dryf mens om te bid en
die Skrif te lees want dit ontsluit die antwoorde van die stem van die Roepende vir
ons.
Die roeping van hierdie gemeenskap is om met hierdié hoop na buite toe te
leef. Dit maak van die gemeenskap die orgaan vir diakonia wat help en wat
regverdigheid soek. Hierdie hoop bemoedig ons vir dit wat vir ons voorlê. Daarom
kan die tafelgemeenskap leef in die verwagting van `n beter more. Die gemeenskap
word nie die swaarkry van die samelewing gespaar nie, ons het net `n ander
gesindheid waarmee ons dit aanpak.
4.4.4 Die "Ronde-tafel“ kerk as leergemeenskap
Die ronde tafel kan die plek inneem van die tradisionele preekstoel. Die Woord word
gesamentlik geleer en bestudeer en almal kan om die tafel sit en `n inset lewer. Die
gemeente neem nou ook meer deel aan die aanbidding en gebed as van te vore. Dit
bring ook meer verantwoordelikheid, want om te leer is om toe te pas. Die rol van die
herder is nie meer net om te lei nie, maar eerder as mede-Emmaüsganger wat op
weg is saam met die gemeente om die tafel. Daarom moet daar kommunikasie
plaasvind tussen die mense om die tafel. Dialoog en diakonie gaan saam in die
postmoderne konteks. Daar moet dus `n stuk onsekerheid en spanning wees by die
prediker. Die prediker mag nie en kan nie al die antwoorde he nie. Die predikant
moet ook verwonderd staan en aanhou wonder oor alles. Daarom word die hoe amp
63
van die predikant verruil vir n nederige dienaar. Die uitdaging aan die predikant sal
wees om as leraar sowel as tafel dienaar op te tree.
4.4.5 Die “Ronde-tafel” -kerk as instituut
Die kerk is in haar verskyningsvorm in die samelewing `n instituut, maar mag nooit in
wese `n instituut word nie. Die kerk is `n beweging met `n baie besonderse aard en
karakter. Die kerk is onder `n beweging `n handelings gemeenskap wat geroepe is
tot `n bepaalde doel binne `n bepaalde konteks. Die gevoel van gemeenskap kom uit
hierdie gesamentlike doel wat die tafelgemeenskap daagliks na strewe. Organisasie
is nodig vir gemeenskappe om te bly voort bestaan. Die organisasie mag egter nie
misbruik word as mag afdwinger nie. Die gemeente is bondgenote aan dieselfde
verband as mekaar (Dingemans 290). Dit word covenanting genoem.
Hierdie covenanting word verkry deur deelname aan die tafelgemeenskap se
wyer deelname. Die gesamentlike luister na die Roepstem van God is nog `n
samebindende en rigtinggewende faktor. Dit bevorder ook die eenheid onder die
gemeenskap. Die viering wat hierdeur plaasvind is die viering van die ontmoeting met
die God wat in Jesus Christus gestalte gekry het. Daarin is die eenheid van die kerk
opgesluit, die ubi Christus, ibi ecclesia (Buitendag 2007:21).
Dingemans plaas groot klem op die communitas van die geloofsgemeenskap.
Hy werk vir die kerk vanaf die geroepe volk van God na die werking binne die
liggaam van Christus waarin die Heilige Gees ook deel het. Deur hierdie werking van
die Heilige Gees moet ons binne ons kultuur die outentieke beliggaming word van die
liggaam van Christus. Hy noem egter dat die volgorde anders is vir die
gesekulariseerde wêreld. Daarin is die mense ook deel van die geroepe volk van
God, maar die Heilige Gees se werking laat hulle dit besef en daarna word hulle
lidmaat van die liggaam van Christus waarin die Heilige Gees ook steeds
teenwoordig en werkend is.
Dingemans onderskei tussen ’n pluriforme gemeenskap en ’n pluralistiese
gemeenskap (Dingemans 1989:183). Pluriformiteit is reg, pluralisme lei na
subjektiwiteit. Dialoog is vir Dingemans van groot belang. Nie om net te dia-loog nie
maar om saam te worstel na die waarheid toe. Dit dui dan op die moontlikheid van
groei en verandering en onderlinge korrektiewe, natuurlik gefasiliteer deur die Heilige
Gees. Binne hierdie dialoog bring dit ook mee dat die gemeente ook inspraak kan kry
binne die besluitneming van die gemeente. Dit bring Dingemans by sy model van
64
kerk organisasie wat hy voorstel. Hy stel ’n model voor wat meer gaan oor die
“beliggaming van die Sache Jesu” as die formulering van belydenisse. In so ’n model
is onderlinge liefde en versorging meer van baat as die leerstellings. Dit is hier waar
hy die Joodse kultuur se wyse van onderlinge sorg as voorbeeld inbring.
Dingemans se hermeneutiek kom hierin sterk na vore. Hierdie dialoog gebeur
binne ’n bepaalde gemeenskap binne ’n bepaalde kultuur. Deur die filter van die
Sache Jesu moet daar aan hierdie dialoog deelgeneem word om relevant te bly. Dit
bring dan die teenwig in die situasie sodat die kultuur nie die Sache Jesu begin
oorheers nie.
Vir Dingemans is die kinder doop sentraal aan die lidmaatskap van die kerk.
dit dui op die verbond van God met die geroepe volk en daarom wys die kinderdoop
op die deelname asook die deelwoord van die kinders in die gemeente. Dit maak
volgens Dingemans die kring van die gemeente se geroepenes breër as net die
belydende lidmate. Daarom is die inlywing by die liggaam van Christus so belangrik,
dit maak die onderlinge verbondenheid groter asook die betrokke word aan die
liggaam van Christus. Dit dien as ingang in die communitas en as uitnodiging tot
deelname (Dingemans 1989:184).
Soos Heitink noem Dingemans dat die elektroniese-kultuur tot die kerk se nut
gebruik moet word. Hy noem elektroniese kerk as ’n voorbeeld (Dingemans
1989:185)
4.5 Samevatting
As mens wil praat van `n geloofsgemeenskap, sê Dingemans (2006:295) moet dit nie
net gaan oor die viering van die ontmoeting nie, maar ook oor geloof besinning op `n
nuwe wyse. Daarmee sal rekening gehou moet word dat God sy volk roep as die
Christelike gemeente vanuit die toekoms. Vêrder verduidelik Dingemans die inhoud
van die Christelike geloofsgemeenskap wat nie vêrder behandel gaan word nie
aangesien die fokus van hierdie navorsing ekklesiologie is.
65
HOOFSTUK 5
`n KRITIESE VERGELYKING TUSSEN DIE EKKLESIOLOGIE VAN G. HEITINK EN G.D.J. DINGEMANS BINNE DIE RAAMWERK VAN DIE
KERK AS INSTITUUT EN GEMEENSKAP
5.1 Inleidende opmerkings
Nadenke van die kerk oor haar identiteit en roeping binne haar omgewing was nog
altyd deel van die kerk se bestaan. Die verskynsel van pluriformiteit verwag van die
kerk om ou belydenisse nuut te herinterpreteer (Dreyer 2006:1312). Soos in vroeër
hoofstukke genoem is, is hierdie innerlike refleksie van groot belang vir die
voortbestaan van die kerk. Dit bring mee dat die kerk haar identiteit soos uiteengesit
in haar verstaan as instituut en gemeenskap aanhoudend moet heroriënteer en
revalueer. Dit is die oogpunt waaruit G. Heitink sowel as G.D.J. Dingemans hulle
onderskeie werke geskryf het. In hierdie hoofstuk gaan ek die perspektiewe van “Een
kerk met karakter. Tijd vir heroriëntatie” en “Pneumateologie. De stem van de
Roepende” met mekaar vergelyk. Hierdie vergelyking gaan vanaf die algemene na
die besondere beweeg. Die algemene is die vergelyking van die breër perspektiewe
van beide werke. Die besondere vergelyking sal die heuristiese riglyne wat in
Hoofstuk 2 bespreek is, gebruik as koers aanduiding.
5.2 Algemene vergelyking
Dingemans sowel as Heitink skryf in reaksie op hulle omgewing. Hulle kom albei uit
hedendaagse Nederland waar sekularisasie en kerkverlating ’n gegewe is.
Dingemans uit die Hervormde tradisie en Heitink uit die Gereformeerde en albei tans
van die Protestantse Kerk in Nederland (PKN). Beide trek insigte uit die
belydenisskrifte vir die diskoers in hulle werke. Heitink gaan baie meer konserwatief
om met die belydenisskrifte en vind legitimasie vir sy sienings daarin, terwyl
Dingemans meer soepel met die belydenisskrifte omgaan en vrae vra wat hy meen
nodig is om gevra te word.
Albei handhaaf ’n baie sterk historiese bewussyn wat beide se pogings tot her-
kontekstualisering en heroriëntering beïnvloed. Die agtiende eeu se omwentelinge
sowel as die kulturele rewolusie van die sestigerjare beïnvloed beide se verstaan van
66
die kerk se veranderde posisie sowel as die verandering van kultuursisteme waarin
die gemeente en die kerk leef. Hulle gebruik nuwe lense om na die vroeë modelle
van kerk-wees te kyk en dit te evalueer en hulleself dan daarvolgens te heroriënteer.
Hierdie historiese bewussyn vind ook weerklank in die wyse waarop kultuur as
samelewingsfenomeen bespreek en gebruik word binne elk se ekklesiologie. Hierdie
kultuur sensitiwiteit bring nie mee dat daar apologeties gestaan word teenoor kultuur
nie, maar dat daar wyses gesoek word waardeur die kerk binne die bestaande
kultuur steeds relevant kan bly. Heitink sowel as Dingemans probeer ’n relevante
teenkultuur vestig binne die konteks van die samelewing waarin die kerk haarself
bevind. Heitink (2007:333) verwoord dit goed wanner hy stel: “De storing tussen kerk
en cultuur wordt in dit boek gezien als de belangrikste oorzaak voor de stagnatie in
de kerk.”
Hulle verskil in terme van regeringsmodel om hierdie relevante-teenkultuur te
vestig in die samelewing. Dingemans verkies ’n (aangepaste) kongregasionalistiese
model waarteenoor Heitink homself meer gemaklik binne die kader van presbiteriaal-
sinodale model bevind. Dingemans gevolglik ook ’n nuwe model van kerkwees
voorstel (“Ronde-tafel kerk”) terwyl Heitink die bestaande struktuur weer relevant wil
aanpas by die veranderde kulturele omgewing. Hierdie verskil in klem kan gesien
word in beide se onderskeie titels van die bespreekte boeke. Dingemans se klem is
op die kerk se leiding en legitimasie wat verkry word van die Gees (“Pneumateologie
- de stem van de Roepende”), Heitink se klem meer Christosentries en is op die
karakter van die kerk binne veranderende konteks toegespits, wat leiding en
legitimasie vind in die Sache Jesu en daarom kies hy vir die titel “Een kerk met
karakter – Tijd vir heroriëntatie”. Daarom is die gebruik van metafore so ryklik in
Dingemans se boek en die konkreetheid van Heitink se situasionele denke so
opvallend.
Die gedagte agter beide se bydraes tot die locus van die ekklesiologie is dat
die kerk haar relevansie en trefkrag verloor het. Beide stel modelle van herbesinning
voor met hul onderskeie klem- en nuansverskille. Hulle is suksesvol daarin dat die
leser gedwing word om die kerk se situasie te sien, maar ook die hoop in die situasie
vir ’n kerk wat weer relevant kan word binne ’n nuwe kultuur en steeds getrou bly aan
haar identiteit in die Jesus-saak.
67
5.3 Besondere vergelyking
In die besondere vergelyking gaan ek die heuristiese riglyn wat in Hoofstuk 2
bespreek is, ,op ’n vergelykende wyse op beide outeurs toepas. Dit moet in ag
geneem word dat geen van die dimensies of die organisme geïsoleer kan word nie
(soos vroeër genoem). Daarom gaan die vergelyking plek-plek oorvleuel.
5.3.1 Die Kerk as Instituut – Die dimensies
5.3.1.1 Eenheid
Volgens die vroeër opsommende bespreking van die dimensies van die kerk kan
gesien word dat die twispunt rondom “eenheid” vanaf die Nuwe-Testamentiese tyd
asook tans, handel oor strukturele versus Geestelike eenheid. Käsemann (1969:295-
6) skryf dat “eenheid” eskatologies verstaan is, as ’n gawe wat ontvang is van die
Gees. Daarom is die kerk die gestalte van die Regnum Christi wat alle menslike
organisasies oorstyg. Küng ([1968]2001:274) gaan vêrder en noem dat eenheid nooit
sosiologies of organisatories verstaan mag word nie, maar wel teologies ingebed is in
die Sache Jesu . Hierdie verstaan van “eenheid” is sensitief vir kultuur, konteks en
veronderstel die meervoudigheid van gemeentes. Daarom is “eenheid” die eenheid in
die samebindende wyse waarop die liefde van Christus grense oorskry. Die kerk is
“een” in die Sache Jesu en daarom is die kerk veronderstel om “een” te wees in die
wêreld. Dit is iets wat moet gebeur (Buitendag 2007:5).
Heitink gebruik die metafoor van ’n gebou om die eenheid van die kerk te
beskryf. Hierdie gebou kan krimp en groei en die vorm aanneem wat die grondvlak
dit bied. Die grootste klem val vir Heitink op die invloed van die grondvlak op die
groei van hierdie gebou. In die kerk kan dit egter nie so verstaan word nie. Klem op
die kultuur/grondvlak ten koste of ten behoewe van die eenheid is nooit
regverdigbaar nie. Alhoewel Heitink die noodsaak van die Sache Jesu besef as
onderlinge samebindingsfaktor is die klem vir hom steeds die konteks en kultuur van
die gemeente, wat dan die uitlewing van die Sache Jesu beïnvloed.
Dingemans gebruik die metafoor van ’n rivier om die veelheid van die kerk se
verskyningsvorme te beskryf. Daar is ’n gemeenskaplike oorsprong, maar
gaandeweg het daar vertakkings plaasvind. Hierdie verskillende strome is nog steeds
deel van die groter oorspronklike rivier en almal loop ook uit in dieselfde
gemeenskaplike delta. Dingemans se metafoor is baie meer organies en laat ruimte
68
vir veelheid sonder om gemaklike “samewerkingsooreenkomste” te sluit soos wat
Heitink voorstel nie (Heitink 2007:279). Daarom is Dingemans se eenheidsgedagte
baie meer eskatologies en beklemtoon die Geestelike eenheid. Sy verstaan van
eenheid is sensitief vir kultuur en laat nie toe dat die kultuur verhef word bo die
eenheid van die kerk nie. Die veelheid van gemeentes en kerke is die vertakkings
van die rivier met ’n eskatologiese eenheid. Dit beteken egter nie dat daar nie meer
gestreef moet word na eenheid nie. Hierin plaas Dingemans die onus op die werking
van die Heilige Gees asook die onderlinge identiteit en verbondenheid aan die Sache
Jesu.
Uit die getuienis in die Ou sowel as die Nuwe-Testament kom dit duidelik na
vore dat daar geen uniforme kerk was nie (Käsemann 1969). Daarom is die uitdaging
vir Dingemans om die pluriforme visies en vorme in die hedendaagse kerk te probeer
akkommodeer en nie te probeer elimineer nie. Almal het ’n gemeenskaplike
oorsprong in die fondament van die Sache Jesu . Eenheid gaan oor die gemeenskap
binne die tafelgemeenskap. Eenheid word gesien deur die reaksies van hierdie
gemeenskap op die kultuur en die samelewing (Dingemans 2005:277). Die stem van
die Roepende God binne die uitlewing van die identiteit in die Sache Jesu is die
uniforme en deurgaans teenwoordige faktor wat die kerk saambind as
tafelgemeenskap. Juis daarom is daar ruimte binne hierdie gemeenskap vir
pluriformiteit. Aanvaarding in die liefde van Christus wat grense oorskry binne die
postmoderne era is wat verwag word van die tafelgemeenskap.
Volgens Barth (1961:681) kan die eenheid van die kerk nie bereik word deur
die vorming van kunsmatige konfessionele ooreenkomste, samewerkings-
ooreenkomste of sentimentaliteit nie. Eenheid bestaan reeds te midde van die
pluraliteit binne die kerk en onder verskillende kerke. Die eenheid is daarin gesetel
dat die kerk in bestaan geroep is deur die Here en die Sache Jesu bind hierdie
gemeenskap saam. Hierdie eenheid kan ook nie met ons eie hande geskep word nie.
Hier stem Barth meer ooreen met Dingemans as met Heitink. Heitink plaas te veel
klem op dit wat die kerk kan doen om die eenheid te bewerkstellig. Die “gemene
akkoord” met betrekking tot die belydenisskrifte is vir die Gereformeerde Kerk
genoeg eenheid (Rapport voor de Generale Synode van de Nederlandse Hervormde
Kerk. Om de eenheid en heelheid van de kerk. 16 Maart 2001). Dingemans sien die
hand van die Gees in hierdie eenheidsvorming. Hierdie eenheid word sigbaar in die
69
gemeenskap wat daar is onder die verskillende mense binne die gemeente wat
saamgebind word deur liefde van God wat grense oorskry.
Heitink sowel as Dingemans meen dat die volkskerklike gedagte nie
volhoudbaar is nie (Heitink 1999:35). Die kerk bestaan as unieke gemeenskap binne
’n bepaalde konteks of kultuur waar haar Goddelike roeping gestalte moet vind.
Dingemans wil vir die leser wys hoe die natuur van die gemeenskap binne die kerk
juis teen-natuurlik is en nie afhanklik is aan kultuur nie. Dit skep ’n gemeenskap wat
uniek is in die uitlewing van ’n gesamentlike identiteit binne ’n bepaalde konteks en
wat ook gesamentlik dieselfde belydenis onderskryf.
5.3.1.2 Heiligheid
“Heiligheid” lê in die wyse waarop Christus wat heilig is, ons as sondaars verlos het
(Moltmann 1993:338). Daarom is die kerk essensieel anders as wêreldse
organisasies. Dit is die taak wat op die skouers van die kerk gelaat is, om ’n
andersoortige organisasie te wees wat getuig van haar fondasie as “vrygemaakte”
deur Christus (Barth 1959:144). Die verantwoordelikheid rus ook op elke individu
binne die kerk om hulle deur geregtigheid aan mekaar te heilig en dit na buite te leef.
Uit die agt faktore wat Heitink (2007) noem, is Inkulturasie die vergestalting
van “Heiligheid”. Hoe die kerk sigbaar word in die samelewing, bydraes lewer en
waarde bied aan die gemeenskap (Heitink 2007:333). In die samelewing van vandag
het die kerk haar seggenskap verloor. Die band tussen kerk en kultuur is gebreek en
dit het die kerk na binne laat groei. As daar gepraat word van Inkulturasie bedoel
Heitink die heiliging van die gemeenskap en die lewe.
Heitink maak te veel van kultuur en te min van die andersoortige natuur van
die kerk. Hy is soms te kultuur sensitief, ten koste van die natuur van die kerk. Die
vraag kan gevra word of die kerk binne die kultuur moet aanpas en of die kerk juis
die teenkultuur moet volhou in nastrewe van haar identiteit in die Sache Jesu? Is dit
die kultuur wat “geheilig” moet word of is dit die geheiligdes wat deur die kerk die
kultuur moet beïnvloed? Vir Heitink is die band tussen kerk en kultuur gebreek en
daarom gaan die kerk se getalle af. Nou moet die kerk by die kultuur van die wêreld
probeer aanpas om te oorleef.
Dingemans probeer hierdie spanningsverhouding tussen kerk en kultuur ook
aanspreek deur te noem dat die kerk moet streef om haar eie Christelike identiteit te
70
laat geld (Dingemans 2005: 272). Vir Dingemans is die kerkgemeenskap die
“Tafelgemeenskap”. Binne hierdie gemeenskap is die dimensies van die kerk
“streefdoele” (Dingemans 2005:272). Anders as by Heitink waar die wêrelde se
kultuur en die aanpassing daarby die doel voor oë is, is die dimensies van die kerk
die doel om na te streef vir Dingemans. Hy verstaan dat die kerk haar nie aan die
neus kan laat lei van wat volgens die natuur en kultuur aanvaarbaar is nie.
“Heiligheid” is die een dimensie wat vir al die ander dimensies ’n andersoortige
kleur bied. Die kerk is die kerk van die Here en het daarom die verantwoordelikheid
om anders te wees in die omgewing. Die Sache Jesu is die identiteit wat die kerk
moet leef. Nie die Sache Jesu vir ’n bepaalde tyd en plek nie, die Sache Jesu vir alle
plekke en alle tye.
5.3.1.3 Katolisiteit
Küng beskryf “katolisiteit” as die verwysing na die geheel en dat die kerk alleen kan
“katoliek” wees as sy sigbaar word in haar plaaslike konteks van die lokale kerk
([1968]2001:300). Dit gaan oor die identiteit van die kerk as een “katolieke” kerk, wat
altyd ekumenies van aard is. Die verskillende kerke is verskillende verskyningsvorme
van die een “katolieke” kerk. Binne hierdié verskyningsvorme bly die kerk tog getrou
aan haar identiteit in die Sache Jesu wat haar universaliteit tot gevolg het (Barth
1959:144). Daarom moet Christus se heerskappy sigbaar word binne die inklusiewe
karakter van die kerk (Moltmann 1993:338). Katolisiteit wys volgens Barth (1961:702)
op die kerk se identiese aard in alle omstandighede in al die verskillende gestaltes.
Die lokale kerk is die katolieke kerk aangesien dit die plek is waar die kerk bymekaar
kom (Zizioulas 2002:101).
Onder die katolisiteit van die kerk kom beide skrywers se hermeneutiek na
vore. Dingemans noem dat die kerk as besondere gestalte van die algemene kerk,
nie meer net eensydig vanuit die tradisie na die situasie of van die situasie na die
tradisie kan soek na haar katolisiteit nie (2005:263). Die kerk sal haarself opnuut
moet bring tot die verstaan van haar aktuele situasie en vandaar, met haar katolieke
identiteit, haar missie moet formuleer. Dit sal ook herhaaldelik gedoen moet word.
Voortdurende analises en interpretasie wat potensiaal en beperkinge aandui moet
onder oë geneem word as daar na die oorgelewerde tradisie geluister word
(2005:265). Van hieruit kom Dingemans se hermeneutiese proses wat insigte put uit
71
die “drie sirkel” -model van Jan Hendriks. Hierdie drie sirkels word ook deur Heitink
gebruik binne sy hermeneutiek en verstaan van katolisiteit. Die hermeneutiese
proses is ’n aanhoudende formulering en heroriëntering van die kerk se kernwaardes
binne die tradisie. Die Christendom sal moet aanhou evalueer binne die samelewing
waarheen sy oppad is. Daarom kan geloof en die kerk nie in alle omstandighede en
in alle kulturele omstandighede dieselfde wees nie. Daar moet ’n spanning wees
tussen die kontinuïteit van die tradisie en die groeiende diskontinuïteit van die
kultuur. Hierdie spanning veroorsaak dat die kerk nie sommer enige kultuur gaan
omarm nie, maar tog ook krities gaan kyk na dit wat die samelewing bied.
Die katolisiteit van die kerk moet fondament bied binne hierdie postmoderne
situasie en moet die lens wees waardeur daar na die besondere gemeente se
situasie gekyk word. Hierin slaag beide skrywers.
5.3.1.4 Apostolisiteit
“Apostolisiteit” veronderstel die gestuurdheid van die kerk wat ingebed is in die
oorgelewerde gesag van die kerk in die ecclesia apostolica (Barth 1959:145). Dit
moet verstaan word in die kader van die sending van Jesus Christus en die Heilige
Gees (Moltmann 1993:338). Die kerk is die gestuurde na die wêreld toe, soos ook
Christus gestuur was deur God die Vader (Küng ([1968]2001:346). Dit impliseer elke
gelowige se individuele gestuurdheid wat gestalte moet kry binne die wêreld.
Hierdie sending moet gesien word as uniek en konteksgebonde. As die
apostels net nagemaak word in hulle reise, is daar geen sensitiwiteit vir hulle
uniekheid en eenmaligheid nie (Buitendag 2004:11). Die opdrag om sending te doen
is geleë in die apostels se voorbeeld. Die apostolisiteit kan dus in drie kriteria
saamgevat word. Die vestiging van die kerk, die ontvangs van die Woord vir die kerk
en die voortdra van die Woord vir die kerk (McGrath 2003:505). Die apostoliese
karakter is dus geanker in die werk van Christus en die Heilige Gees.
Heitink noem die kerk, om bogenoemde apostolisiteit, ’n normatiewe
organisasie, wat moet beantwoord aan die inhoudelike doelstellings van die
geloofsgemeenskap. Dit wat vanaf die apostels gekry is, die Sache Jesu, moet binne
die organisasie van die kerk aan die huidige samelewing korrespondeer (Heitink
2007:39). Dit gaan oor die wyse waarop die kerk kommunikeer met die omgewing om
haar. Die kerk kan nie alleenlik na binne kommunikeer nie, maar moet ook ’n brug
72
bou na die samelewing. Daar is altyd ’n wisselwerking tussen die omgewing en die
kerk (Heitink 2007:38). Daarom noem Dingemans ook dat dit binne hierdie
gemeenskap van gelowiges gaan om gasvryheid en die aanvaarding van
pluriformiteit binne die gemeenskap en na buite gerig na die samelewing (Dingemans
2005:270). Beide wil hê dat die kerk haarself moet herinterpreteer sowel as
heroriënteer om na buite te leef en die wêreld en die mense wat in nood is te vind. Dit
is tog die oorgelewerde verantwoordelikheid van die apostoliese kerk, om uit te reik
na ’n wêreld wat in nood is. Die Goddelike roepstem daag die kerk uit om aan hierdie
verantwoordelikheid gestalte te gee deur apostolaat, diakonaat en pastoraat.
Dit kom duidelik in beide se boeke na vore dat die kerk as gemeenskap van
gelowiges die hoop wat hulle het in die opgestane Here na buite moet leef. Heitink
noem dat die gemeenskap moet kyk na wat die omgewing van haar vra. Daarin lê die
evangelisasie-moontlikhede. Hy noem hierdie model die konsentriese sirkels van die
kerk wat van binne na buite leef en wat van buite na binne leef. Hy sowel as
Dingemans plaas egter groot klem daarop dat binne die betrokkenheid van die
gemeente binne die samelewing mag daar nie afdwinging van mag plaasvind nie. Dit
is duidelik uit die geskiedenis hoe dit die kerk geaffekteer het. Daarom moet die kerk
werk aan ’n nuwe gestalte van evangelisasie wat die nood van die samelewing in ag
neem en so haar apostolêre verantwoordelikheid uitleef.
Weereens neem albei die kultuur baie sterk in ag. In die kader van
evangelisasie is dit van groot belang as daar teruggekyk word oor die geskiedenis
van die sending binne die kerk. Hulle probeer egter beide weg bly van die “social
responsibility” van die sendinggenootskappe. Vir Heitink en Dingemans is die hoop
wat die Sache Jesu kan bied vir ’n verwarde samelewing die dryfveer agter die
apostolêre na buite groei. As ons die drie kenmerke van die kerk as organisme in ag
neem, sal ons sien dat almal behoort aan die volk van God en dat die Gees binne die
werksaamhede van die kerk werk om dit aan die samelewing te bewys. Dan word die
drie kenmerke wat McGrath noem as kenmerke van apololisiteit bereik. Die kerk
word deurentyd gevestig, die Woord van God word uit gedra en die Woord van God
word ontvang deur ’n wêreld wat hoop soek en dit vind in die Sache Jesu.
5.3.2 Die Kerk as Organisme – “Communio Sanctorum”
5.3.2.1 Die Kerk as geroepenes van die Vader
73
Christene is die geroepe gemeenskap van God. Dit vra ’n lewe in gehoorsaamheid
en liefde aan hierdie roeping binne die verstaan en geloof in die Sache Jesu (Küng
[1968]2001:127). Die kerk is altyd ’n vloeibare gemeenskap, wat leef binne ’n
bepaalde tyd en konteks waarin die roeping van die kerk gestalte moet kry en moet
groei.
Die roeping van die kerk is die reaksie op die roepstem van God. Dit is die
sprekende wederkerigheid tussen die subjek en die objek. Hierdie gevoel van
roeping is die basiese ervaring wat die kerk moet probeer tot uitlewing bring. Daarom
noem Dingemans die kerk die “ontmoetingsplek” met die lewende God wat die
Roepende is. God roep sy gemeente uit die toekoms wat hy reeds vir ons gereed
gemaak het. Dit is ook vanuit hierdie roepe van God wat die kerk haar missionale
verantwoordelikheid moet besef. Dit maak die hele samelewing die geroepenes van
God. Weereens plaas beide Dingemans en Heitink groot klem op die gemeenskap en
die kontekstuele kultuur. Die kerk as geroepene van God moet haar vloeibaarheid
besef asook die landskap waardeur sy vloei. Om Dingemans se beeld te gebruik van
die rivier as die bedding van die Christendom, is dit die roeping van die kerk om te
vloei en nie te stagneer nie.
Dit vereis kritiese omgang van die kerk met die omgewing waarin die rivier
vloei. Die gestalte van die kerk binne hierdie omgewing dui op die ontmoeting van die
kerk met die roepende Here. Dit moet ook die troos en bemoediging bied wat die
wêreld so nodig het.
Juis omdat die kerk die geroepenes is van die roepende Here, rus daar ook
die verantwoordelikheid op die skouers van die kerk om te besef dat die kerk nooit
eksklusief mag wees nie (Küng ([1968]2001:125). Beide die skrywers slaag daarin
om dit vir die leser tuis te bring. Die kerk as die volk van God mag nie grense stel en
uitsluit nie. Daarom moet die kerk haar lewe as vloeibare rivier leef wat aanhou vloei
en die sowel landskap sowel vorm as daardeur gevorm word.
5.3.2.2 Die Kerk as skepping van die Heilige Gees
Die “geroepenes” van God is nuwe mense deur die werking van die Heilige Gees.
Deur die Gees is God aktief besig binne die wêreld met sy geroepenes. Die Gees
gee aan die gelowiges pneumatiese gawes om te dien in die wêreld as gestuurdes
van God. Die Gees behoort nie eksklusief aan die kerk nie, maar eksklusief aan God.
74
Dingemans en Heitink plaas beide klem op die werking van die Heilige Gees.
Vir Dingemans is die Gees die aktiewe krag van die roepstem van God. Binne hierdie
Gees is die Sache Jesu. Die Gees is die een wat die imperatief op ons laat om
hierdie Sache Jesu te beliggaam in ons hele lewe.
Heitink het ’n heeltemal ander klem, naamlik dat die Gees die een is wat
daagliks met die heroriëntasie help. Sonder die Gees as die vernuwer van die
gemeenskap swoeg die gemeente alleen om haarself sigbaar te maak binne die
wêreld.
Vir beide is die Gees ook die een wat die samelewing transformeer en wat die
leiding bied binne die samelewing. Weereens die beweging van binne na buite en
van buite na binne. Die Gees transformeer die gemeente van binne en laat op hulle
die imperatief van na-buite leef. Van buite werk die Gees binne die samelewing waar
daar ’n groot sugting is na die spirituele.
5.3.2.3 Die Kerk as liggaam van Christus
Deur verbondenheid te kry aan die liggaam van Christus word die geroepenes van
God ’n gemeenskap. Verbondenheid word verkry deur die doop en die Nagmaal.
Binne hierdie gemeenskap van verbondenheid is Christus teenwoordig as die hoof
van die liggaam. Die kerk ontwikkel daarom in gehoorsaamheid as gedeeltes van die
liggaam van Christus.
Vir Heitink sowel as vir Dingemans word die organiese verband van die
gemeentelede asook die diversiteit van die gawes onder hulle veronderstel deur die
beeld van die kerk as die liggaam van Christus (Heitink 2007:26; Dingemans
2005:278). Binne hierdie liggaam van Christus is die gemeente besig om te groei, na
binne en na buite toe. Na binne deur die onderrig en die sakramente. Na buite deur
die uitlewing binne die samelewing van die Sache Jesu as essensie. Daarom gaan
dit vir beide binne die kerk nie soseer oor die verstandelike onderrig nie. Heitink
plaas eerder die klem op die deelname aan Christus asook die inwyding binne die
liggaam van Christus en die gemeente. Dit lei na die na-buite leef, die onderrig van
die gemeente lede om in hulle daaglikse lewe hulle verbondenheid met die Sache
Jesu uit te leef. Daarom is die “ronde-tafel kerk” vir Dingemans die ontmoetingsplek
vir die herinnering aan Christus. Daarom plaas beide Heitink en Dingemans klem
daarop dat die liggaam van Christus gestalte vind in die uitlewing van die versoening
waaraan die gemeente deel het.
75
Hulle noem al twee dat die eenheid van die kerk in hierdie versoenende
diversiteit gevind kan word. Daar is binne die samelewing sowel pluriformiteit as
diversiteit en dit is die verantwoordelikheid van die gemeente as die liggaam van
Christus om hierdie diversiteit binne die versoening en liefde van die Sache Jesu uit
te leef. Respek lê vir Dingemans en Heitink aan die kern van hierdie versoenende
diversiteit. Respek vir sienings, ras, ekonomiese stand en vir diversiteit binne die
gemeenskap. Binne die gemeenskap van die liggaam van Christus is almal gelyk en
deel aan ’n gemeenskaplike versoening en hoop. Hierdie hoop en versoening moet
na buite uitgeleef word. Ons moet dus opsoek wees vir ’n nuwe kerkstruktuur, waarin
ruimte gelaat word vir diversiteit binne die besielende verband van die gemeenskap
van volgelinge van Christus binne die kultuur van die moderne wêreld (Dingemans
1989:177).
5.4 Samevatting
Soos gesien, is daar sowel baie ooreenkomste as verskille tussen Dingemans en
Heitink. Dit veroorsaak egter nie dat een minder reg is as die ander nie. Hulle
klemverskille is die resultaat van hulle onderskeie agtergronde asook kontekste.
Oorkoepelend kan die volgende wel genoem word as kritiese vergelyking aan die
hand van bogenoemde vergelyking.
Vir beide teoloë is die notae ecclesiae van groot belang vir die kerk se
identiteit en rigting. Ook is die verhouding tussen die kerk en die samelewing vir
beide ’n groot probleem (Dingemans 2005:1; Heitink 2007:333). Albei is ernstig besig
met kultuurkritiek. Beide sien die Sache Jesu as essensie van die kerk se communio.
Dit kom egter voor asof Heitink die heersende kultuur gebruik as lens waardeur die
notae ecclesiae gestalte vind binne die Sache Jesu wat geleef moet word en gerig
word na die samelewing. Dingemans werk vanuit die notae ecclesiae as lens na die
kultuur. Hy noem die notae ecclesiae sogenaamde “strewensdoelwitte”. Die notae
ecclesiae moet gesien word as imperatiewe waarna daagliks gestrewe moet word en
nie as blote indikatiewe nie. Beide sien die roeping van God deur die
teenwoordigheid van die Gees binne die liggaam van Christus as die vergestalting
van die Sache Jesu wat die samelewing transformeer en die essensie van die
gemeenskap van gelowiges is.
76
Daarom kan natuur nie die normatiewe word as daar deur die kerk aangepas
of heroriënteer word nie. Die kerk staan voortdurend voor die uitdaging om die
verhouding tussen geskiedenis en kultuur, deur die lens van die kerk se essensiële
identiteit, die Sache Jesu te beoordeel. Die kerk is juis ’n teen-natuurlike
gemeenskap, wat saamgebind word deur die Sache Jesu. In ons eskatologiese
eenheid en ons gesamentlike belydenis in die Sache Jesu, lê ons
verantwoordelikheid om die koninkryk sigbaar te probeer maak in die wêreld.
Daarom skryf Küng ([1968]2001:300) dat God groter is as verandering. Die
Christelike openbaring binne die “Een, Heilige, Apostoliese en Katolieke” kerk is in sy
essensie onveranderlik. Die belewenis en begrip daar van moet egter voorsiening
maak vir verandering en dit kom deur die beliggaming van die Sache Jesu binne die
communio sanctorum.
77
HOOFSTUK 6
DIE VERGELYKING TUSSEN DINGEMANS EN HEITINK TOEGEPAS OP DIE NHKA VAN DIE EEN-EN-TWINTIGSTE EEU – BEVINDINGS
6.1 Inleidend
As inleidende opmerking gee ek ’n direkte aanhaling uit die Kerkorde van die
NHKA.
ORDEREËL 1
“BELYDENIS
Die kerk is 'n gemeenskap van gelowiges wat God deur sy versoening
in Christus tot stand bring en in stand hou deur-dat Hy mense in Jesus
Christus in genade uitkies en deur die werk van die Heilige Gees
saambring om deur die Woord en sakramente 'n heilige volk te wees en
dienswerk in die wêreld te verrig.
Ons, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, bely in
gemeenskap met die kerk van alle eeue ons geloof in die Drie-enige
God, Vader, Seun en Heilige Gees wat Hom en alles wat vir ons
verlossing nodig is, duidelik en voldoende deur sy Woord, die Bybel,
bekend maak.
Ons belydenis is in die drie ekumeniese belydenisse verwoord,
naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van
Nicea en die Geloofsbelydenis genoem na Athanasius; asook in drie
Reformatoriese belydenisskrifte, die drie formuliere van eenheid, te
wete: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus
en die Dordtse Leerreëls”
ORDEREËL 4
“GEMEENTES EN KERK
'n Gemeente is 'n gemeenskap van gelowiges wat selfstandig
georganiseer is en deur die eenheid in geloof en belydenis saam met
al die ander gemeentes die Kerk is die wyse waarop die Kerk op 'n
bepaalde plek bestaan.
78
Die Kerk is 'n volkskerk met sy eie kerklike kultuur, geskiedenis, taal
en tradisie wat geroepe is tot die verkondiging van die evangelie van
Jesus Christus aan die Afrikanervolk en tegelyk aan alle mense.”
Soos wat gesien kan word uit die bogemelde is die NHKA se kerkbegrip dubbelsinnig
van aard. Die Kerk bely in Ordereël 1 dat sy die ekumeniese simbole bely, sy is ’n
gemeenskap van gelowiges wat deur God tot stand gebring is en in stand gehou
word en wat deel ’n die genade van God. Die Kerk bely ook dat sy deel is van die
katolieke kerk van alle eeue wat apostolies is. In Ordereël 4 wat handel oor
gemeentes en kerk bely die kerk egter dat sy in die eerste plek “volkskerk” is vir ’n
bepaalde volk en ewe teen alle logika in, die sinsnede, “en tegelyk aan alle mense”
daaraan toevoeg.
Ek gaan hierdie teenstelling bespreek aan die hand van die voorafgenoemde
vergelyking tussen die teoloë G.D.J. Dingemans en G. Heitink binne die heuristiek
van die notae ecclesiae.
6.2 Die vergelyking tussen Dingemans en Heitink, toegepas op die NHKA van die een-en-twintigste eeu
Uit die vergelyking tussen die ekklesiologieë van Dingemans en Heitink kom die
volgende aspekte rakende ekklesiologie na vore. Die notae ecclesiae asook die
dimensies van die kerk as organisme staan sentraal tot die definiëring van die kerk
se wese en dit beteken die volgende vir die kerk in die een-en-twintigste eeu:
1. Eenheid is ’n indikatief sowel as imperatief uit die Woord van God gegrond.
Hierdie eenheid is gegrond in die werklikheid van diversiteit. Eenheid mag
egter nooit ’n natuurlike eenheid verword nie. Hierdie eenheid mag dus nooit
ten koste van die versoening van Christus plaasvind nie.
2. Die katolieke kerk is die algemene verskyning van die besondere lokale kerke.
Hierdie diversiteit in die kerk word deur die verbintenis aan die Sache Jesu
verenig. Die kerk van alle eeue het verskillende verskynings vorms gehad
maar met dieselfde essensiële identiteit binne die belydenis aan die Sache
Jesu.
79
3. Die verbintenis aan die Sache Jesu is die apostoliese verbintenis met die kerk
van alle eeue. Hierdie kerk van alle eeue is veranderlik maar die Sache Jesu
nie. Die verbintenis aan die apostels wys op die gestuurdheid van die kerk na
die wêreld.
4. Omdat die kerk die apostoliese kerk is en die Sache Jesu bely, is die kerk
heilig. Dit beteken dat die kerk anders is as wat die natuur die mense binne
die kerk wil laat doen. Die kerk kan nooit vasgevang word in menslike
strukture of sisteme nie.
Die kerk as organisme binne die verstaan van die kerk as die geroepe volk van God,
die liggaam van Christus en die werk van die Heilige Gees word ook verstaan binne
die raamwerk van die eenheid binne die belydenis aan die versoenende Sache Jesu.
Dit is nodig dat die NHKA ’n onderskeid tref tussen die wese en die welwese van die
kerk. Die dimensies van die kerk en die kenmerke van die kerk.
Soos gesien kan word, is die bogenoemde ordereëls van die NHKA nie
houdbaar onder hierdie verstaan van die notae ecclesiae nie. Die NHKA se
volkskerk-denke skep eenheid binne ’n natuurlike volksgroepering maar misken die
diversiteit van die volk van God. Die NHKA werk ook vanuit die kultuur na die notae
ecclesiae en vergeet dat die kerk juis nie bloot ’n “kultuur-verskynsel” is nie. Omdat
die kerk heilig is, mag dit nie volstrek as instituut beskou word nie. Die kerk is ’n teen-
natuurlike organisme wat groei en die landskap om haar ook kan uitkalwe.
Daarom is dit nodig vir die NHKA om haar ekklesiologie dringend te hersien.
Die NHKA se ekklesiologie is nie meer relevant vir die situasie waarin sy nou is nie.
Suid-Afrika is ’n multi-kulturele sowel as postmoderne samelewing. Die samelewing
wil ’n relevante kerk hê wat aan die essensie van die Sache Jesu gestand bly. Maar
nie net die samelewing vra heroriëntasie van die NHKA nie. Die eiesoortige karakter
van die kerk van alle tye eis van die NHKA om ook eiesoortig en herorienterend te
bly. Dreyer (2006:1365) pleit dat die NHKA spanning tussen die kultuur en die kerk
sal handhaaf. Kerk mag nooit deel word van die mens se koninkryk nie, want sy bly
deel van die Koninkryk van God. Die kerk is egter deel van ’n bepaalde konteks op ’n
bepaalde tyd en daarom vra die notae ecclesiae om ook “katoliek” te wees binne
hierdie situasie waarin die kerk haarself bevind. Die uitlewing van die kerk se doel
kan ingeperk word deur die term “volkskerk” (Buitendag 2006:359).
80
Daarom kan konkluderend die volgende oor die ekklesiologie van die NHKA
gesê word:
1. Die veridealisering van kultuur en natuur word nêrens in die Skrif goed gepraat
nie. Volk, natuur en kultuur moet deur die lens van die Sache Jesu verstaan
word, nie andersom nie. Daarom is dit ’n kultuur-kritiese sowel as ’n Bybelse
imperatief om te heroriënteer (Buitendag 2008:13)
2. Daarom mag daar nie etniese skeiding binne die kerk as vergestalting van die
volk van God wees nie. Die gemeenskap van gelowiges mag nooit eksklusief
van aard wees nie. Dis hoekom Dingemans pleit vir ’n “oop” kerk en ’n “ronde
tafel” kerk waar daar inklusiwiteit en diversiteit is. Die kerk moet die eenheid
wat sy bely verstaan binne die veelheid van die kerk (Buitendag, Groenewald
2006: 1413). Eenheid kom tot uitlewing in die “versoenende verskeidenheid”
binne die kerk (van Aarde 1995:867).
3. Die relevansie van die NHKA hang af van hoe sy die situasie rondom haar
ekklesiologie gaan hanteer en die vergestalting daarvan in ’n nuwe konteks
met ’n nuwe heroriëntasie en visie.
4. Die sukses hiervan gaan afhang van hoe die kerk haarself binne hierdie
pluriforme en diverse gemeenskap gaan vind. As dit as bedreigend geneem
gaan word gaan daar net nog meer grense geskep word wat die uitlewing van
die Sache Jesu beperk.
5. Hierdie nuwe oriëntasie behoort dan ook aan die kerk ’n na buite gerigte
karakter te gee. Dit sal ook veroorsaak dat die koinonia gestalte vind in en
buite die gemeente. Daarom kan die NHKA nie eksklusief wees en ’n “sosiale
klub vir eendersgesindes” wees nie. Inklusiwiteit is die vergestalting en
bymekaar koms (Dreyer 2003:350) van die kerk se verhaal en die geloof in die
Sache Jesu.
6. Om dit te bereik sal die NHKA moet besef dat haar volkskerklike ekklesiologie,
al was dit goed bedoel in vroeër tye, net nie meer haalbaar is nie. Vir haar
gehoorsaamheid aan die Evangelie en oorlewing in ’n diverse en pluriforme
postmoderne samelewing, gaan dit nodig wees om weer haar essensie binne
die Sache Jesu te herontdek. Die enigste wyse waarop dit kan gebeur is as
die kerk haar verstaan rondom die notae ecclesiae asook die communio
sanctorum gaan revalueer binne die bepaalde situasie waarin sy haarself
bevind.
81
82
Literatuurverwysings
Barth, K 1959. Dogmatics in outline. New York: Harper & Row Publishers Incorporated.
Barth, K 1961. Church Dogmatics iv/i: The Doctrine of reconciliation. Ed. by G.W. Bromeley
and T.F. Torrance. Translated by A.T. MacKay, T.H.L. Parker. T & T Clark:
Edinburgh.
Bentley, W 2007. The notion of mission in Karl Barth`s ecclesiology. Ongepubliseerde Ph.D.
proefskrif, Universiteit van Pretoria.
Berkhof, H 1979. Christian faith: An Introduction to the study of Christian faith. Vierde
uitgawe. Grand Rapids, Mi: William B. Eerdmans.
Buitendag, J 2003. Die kerk se korporatiewe identiteit. HTS 59 (2), 353-365.
Buitendag, J Groenewald, A J, 2006. Is strukturele eenheid tussen die Maranatha Reformed
Church of Christ en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika moontlik? HTS 62
(4), 1395-1422.
Buitendag, J 2004. Ekklesiologie DCE 853. Pretoria: Universiteit van Pretoria.
Buitendag, J 2003. DCE 852. Pretoria: Universiteit van Pretoria.
Buitendag, J 2002. Postliberale teologie as raamwerk vir die kerk se korporatiewe identiteit.
HTS 58, 1-25.
Buitendag, J 2006. “Nuwe wyn in nuwe sakke en die behoud van al twee”: `n Herbedinking
van die Hervormde Kerk se identiteit aan die begin van die een-en-twintigste eeu in
Suid-Afrika. HTS 62 (2), 343-362.
Buitendag, J 2008. Ecclesia reformata semper reformanda – die ongemaklike eis. HTS 64
(1+2), 123-138.
Dingemans, G.D.J. 2005. De stem van de roepende. Pneumatheologie.Kampen: Kok.
Dingemans, G.D.J. 1988. Eenheid en verscheidenheid in de Nieuwe SOW – Kerk.
Gereformeerde Theologiese Tijdsckrift 88.
Dingemans, G.D.J 1988. Pleidooi voor een open kerk. Lezingen. De Kerk verbouwen:
Dingeman,s ecclesiologie critisch bekijken, 177-187. Nijkerk: Callenbach.
Dreyer, TJF 1995. Implikasies van die kommunikatiewe handelingsteorie vir `n prakties-
teologiese perspektief op die ekklesiologie. HTS 51 (3), 792-805.
Dreyer, TJF 1987. `n Prakties-teologiese evaluering van moontlike bedieningstrukture in die
Nederduitcsh Hervormde Kerk toegespits op die rol van die predikant. HTS 43 (3),
522-555.
Dreyer, T J F 2005. Preaching and culture. HTS 61 (3), 793-808.
Dreyer, T J F 2003. Statistieke vertel `n storie: `n Visie vir die Hervormde kerk op pad na
2010. HTS 59 (4), 1045-1062.
83
Dreyer, W A 2006. Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika as volkskerk: Oorsig en
herbesinning. HTS 62 (4), 1337-1368.
Dreyer, Y 2003. `n Teoretiese inleiding tot narratiewe hermenutiek in die teologie. HTS 59(2),
313-332.
Dreyer, Y 2003. Luister na die storie van die kerk: Riglyne vanuit `n narratief-hermeneutiese
perspektief. HTS 59 (2), 333-352.
Dreyer, Y 2006. Postmoderne kerk-wees in die lig van publieke teologie – eenheid en
verskeidenheid. HTS 62 (4), 1311-1335.
Heitink, G 2007. Een kerk met karakter. Tijd vir herorientatie. Kampen: Kok.
Heitink, G 2004. Veranderinge in sameleving en kerk en die gevolgen voor het beroep van
pastor. Verbum et Ecclesia 25 (2), 502-518.
Heitink, G 1999. Developments in Practical Theology in the Netherlands. International
Journal of Practical Theology Vol. 3 (1), pp: 127-144
Heitink, G1999. Praktische theologie in de context van de moderniteit: Een overzicht
(Practical Theology in the Context of Modernity: An Overview). Nederlands
Theologisch Tijdschrift Vol. 53 (1), pp: 25-41
Heitink, G. 1982 Toekomsverwachting. Gereformeerd Theologisch Tijdschrift Vol. 82 (1), pp:
16-27
Jacobs, P. J 1985. Die lidmaatskap van die Nederduitsch Hervormde kerk van Afrika, hoe dit
die kerk se interkerklike verhoudings en ook sy apostolaat raak. Ongepubliseerde BD
skripsie. Universiteit van Pretoria.
Jonker, W.D 1994. Bevrydende waarheid: Die karakter van die gereformeerde belydenis.
Wellington: Hugenote Uitgewers.
Käsemann, E. 1963 Unity and diversity in the New Testament ecclesiology. Novum
Testamentum Vol. 6, Fasc. 4, (Nov. 1963), pp. 290-297.
Kärkkäinen, V M 2007. The Church as the fellowship of persons, An emerging Pentecostal
ecclesiology of koinonia. PentecoStusies 6 (1), 1-15.
Knippenberg, H 2005. The changing religious landscape of Europe. Amsterdam: Het
Spinhuis.
Koekemoer, JH 1995. Die etos van die Hervormde kerk. HTS 51 (3), 876-880.
Küng, H 1995. The Church. 11de uitgawe. Kent: Burs & Oates.
Louw, D J 2006. Hans Küng en religieuse pluraliteit. HTS 62 (1), 207-234.
Maat, H A H; Meesters, A C; Smedes, T A 2001. Nieuwe woorden voor een oude traditie?
De vernieuwende kracht van Dingemans` pneumatheologie onderzocht. Nederlands
Theologisch Tijdschrift VOL. 55 (3). 233-247.
Moltmann, J [1975] 1993. The Church in the Power of the Spirit: A Contribution to Messianic
Ecclesiology. Minneapolis:Fortress Press
84
Rapport voor de Generale Synode van de Nederlandse Hervormde Kerk. Om de eenheid en
heelheid van de kerk. 16 Maart 2001.
Van Aarde, A G 1995. Die menslikheid van en die verskeidenheid in die kerk. HTS 51(3),
865-875.
Van Wyk, T 2007. ’n Histories-kritiese ondersoek na die ekklesiologie van die Nederduitsch
Hervormde Kerk met besondere verwysing na sie dimensies van ‘eenheid’ en
‘katolisiteit’ seder Ottawa 1982. M.div. skripsie aan die Universiteit van Pretoria.
85
Recommended