19
Kampusnuusbrief na Alumni: Nr 2 Junie 2016 NWU Alumni Nuusbrief / Newsletter

Nuusbrief / Newsletter NWU Alumni · Die spelers, wat uitsluitlik uit huidige studente bestaan het, het die lewe en tye van drie geslagte gegradueerdes binne ’n gesinsopset uitgebeeld

  • Upload
    others

  • View
    1

  • Download
    0

Embed Size (px)

Citation preview

Kampusnuusbrief na Alumni: Nr 2 Junie 2016

NWU AlumniNuusbrief / Newsletter

Inhoudsopgawe Boodskap van die Kampusrektor (waarnemend): Prof Linda du Plessis

NWU: ons nuwe reis begin

Kampus vier vyf dekades van sukses en impak

Unieke studenteproduksie beeld 50 jaar van groei uit

Ons tydlyn (hoogtepunte)

Alumni 2016 – geleentheidsoorsig

NWU Alumnitoekennings 2016

Alumni maak ons trots!

Herfsgradeplegtigheid – ‘n viering van akademiese uitnemendheid

Kwaak-kwaak! Vuvu herskryf die geskiedenisboeke

Mnr en Mej NWU Vaal – ontmoet ons nuwe handelsmerkambassadeurs

Eerste NWU Vaal Kleurlopie ten bate van graduandi ‘n groot sukses

Ons stel bekend: NWUtv YouTube-kanaal

Beraad fokus op die leierskapkwessies binne die Suid-Afrikaanse konteks

Die span

Ons wil van JOU hoor!

BOODSKAP VAN DIE KAMPUSREKTOR (WAARNEMEND): PROF LINDA DU PLESSIS

Die tyd vlieg behoorlik! Kan jy glo dat die eerste semester van die 2016 akademiesejaar al iets van die verlede is?

Intussen is dit asof ‘n mens kan sien hoe die windjie die somer wegwaai, wanneer die blare in die oggend van die bome afval langs die pad kampus toe. Die seisoen het gedraai en ons pragtige kampus is in die allermooiste herfskleure getooi. Mens kan nie anders as om te hoop dat die seisoen ook vir die hoër onderwyssektor in Suid-Afrika gedraai het nie: dat ongelukkigheid en onsekerheid van ons land se kampusse af sal wegraak en ons land se studente weer kan voortgaan om hulself vir ‘n vrugtevolle beroepslewe voor te berei. Verskeie instellings van hoëronderwys het die afgelope tyd miljoene Rande se skade opgedoen en baie onderrigtyd het in die proses verlore gegaan.

Met dié verwikkelinge in gedagte, wil ek graag elke familie wat op die Vaaldriehoekkampus verteenwoordig word salueer. Die grondslag van respek, medemenslikheid en integriteit kom sterk na vore in tye van krisis en onsekerheid. Desondanks die onsekerheid binne die veld van hoëronderwys het die Vaaldriehoekkampus nie ’n enkele dag se onderrigtyd verloor nie, en ons het geen geweldadige optrede op die kampus

gehad nie. Ons studente – en meer so die Studenteraad, het deurentyd deelgeneem aan konstruktiewe debatte en sodoende verseker dat stabiliteit seevier. Ons is bevoorreg om te funksioneer binne ’n kultuur van samehorigheid en eenheid.

Meer en meer lees ‘n mens op sosiale media hoe ons studente, personeel en alumni ‘n verskil maak in die lewens van andere. Bemagtigingsessies, talentkompetisies, welstanddae en besoeke aan kinderhuise dui daarop dat ons kampusgemeenskap besef dat ‘n mens die wêreld waarlik kan verander deur dit wat jy vir ‘n ander beteken.

Dit maak my so trots om deel te wees van hierdie kampus! Ek bewonder elke positiewe poging wat jy aanwend om jou medemens aan te raak en ‘n verskil in jou gemeenskap te maak. Dít is die nalatenskap waaroor ek droom vir ons kampus, sy studente en alumni: ‘n Kultuur van omgee en aanraak wat sal voortgaan selfs nadat dit vir ons elkeen tyd word om die kampus te verlaat.

Vriendelike groete,

Beste alumni, Prof Linda du Plessis

Linda du Plessis

NWU Alumni

NWU: ons nuwe reis begin“Ons doel is om uitmuntend te wees in innoverende leer en onderrig en baanbrekersnavorsing, om sodoende die gemeenskap deur kennis te dien.”

Die NWU staan op die drumpel van ‘n nuwe reis waar uitnemendheid, maatskaplike geregtigheid en institusionele eenheid die hoofrigtingwysers sal wees.

Dít spruit uit belangrike besluite wat die NWU-Raad tydens hul vergadering op 20 November 2015 geneem het. Die Raad het ‘n nuwe strategie en bestuursmodel vir die universiteit aanvaar en daarmee die proses voltooi wat die universiteit se strategiespan in Julie 2014 begin het. Ná 15 maande se harde werk en oorlegpleging met die verskillende NWU-belangegroepe, is ons uiteindelik – met die Raad se seën – gereed om die drumpel oor te steek en ons nuwe reis aan te pak.

Our strategieOm die NWU te transformeer en as unitêre instelling van voortreflike akademiese uitnemendheid met ‘n verbintenis tot maatskaplike geregtigheid te posisioneer.

Our droomOm ‘n internasionaal erkende universiteit in Afrika te wees wat bekend is vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ‘n sorgsaamheidsetiek.

Our doelOm uitmuntend te wees in innoverende leer en onderrig en baanbrekersnavorsing, om sodoende die gemeenskap deur kennis te dien.

Our waardesOns sal betrokke en sorgsame personeel en studente koester en die volgende fundamentele waardes vaslê, wat op die grondwetlike beginsels van menswaardigheid, gelykheid en vryheid gebaseer is:• etiek in alle strewes• akademiese integriteit• akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike ondersoek• verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, billikheid en deursigtigheid• entoesiastiese aanvaarding van diversiteit.

NWU Alumni

Kampus vier vyf dekades van sukses en impakDie jaar 1966 is in die anale van die geskiedenis

opgeteken as een van die mees onvergeetlike hoofstukke in die geskiedenis van Suid-Afrika. Het jy geweet dié jaar verteenwoordig ook die geboortejaar van die Vaaldriehoekkampus as ’n gerekende speler in die veld van hoëronderrig in die streek, en die Gauteng-provinsie?

Die jaar 1966 was ’n jaar vol gebeurtelikhede. Die Suid-Afrikaanse krieketspan vier ’n tuis oorwinnng teen die span van Australië, Radio RSA kom tot stand en, die Amerikaanse politikus – Robert Kennedy, besoek Suid-Afrika vir die eerste keer. Kunstenaars soos Miriam Makeba, The Troggs, Simon and Garfunkel en Stevie Wonder neem hul plek in op die internasionale Top 100 trefferslys.

In Vanderbijlpark word die jaar 1966 ook met groot opwinding onthou as die jaar waarin die Vaalriviertak van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) sy deure oopmaak. ‘n Groep van 79 studente het in daardie jaar geregistreer vir die BCom-lesings. Sedertdien het die kampus van krag tot krag gegaan en spog vandag met meer as 6 000 geregistreerde student..

Die Alumni-kantoor kon daarin slaag om ‘n handjievol alumni van 1966 op te spoor. Deur die loop van die jaar sal hierdie alumni-lede as spesiale gaste na verskeie kampusgeleenthede genooi word. Hierdie geleenthede sluit in die Amptelike Akademiese Opening en alle alumni-verwante aktiwiteite.

Klik om meer foto’s te sien

NWU Alumni

Unieke studenteproduksie beeld 50 jaar van groei uit“‘n Heildronk op ‘n familie (NWU) waarop ons baie trots kan wees, en goeie wense

vir die toekoms. Aan al die studente wat hard daaraan werk om ‘n beter toekoms vir hulself en hul families te bewerkstellig! Aan al die personeellede wat die Kampus doeltreffend en effektief aan die gang hou - ten spyte van nasionale uitdagings. Aan ons alumni wat die pad vir ons gelykgemaak het en steeds elke student-generasie inspireer en motiveer! Ons sou nie vandag hier gestaan het, as dit nie vir al die mense was wat help bou het aan hierdie kampus nie. Dankie dat julle ons ‘n akademiese tuiste bied en ons vorm om elke dag ‘n beter weergawe van onsself te wees. Ons lig ons glase en dink aan die 50 jaar wat verloop het, en aan die volgende 50 jaar wat voorlê!”

Het jy geweet dat ’n student in 1966 sy Volkswagen Beetle vir ’n skamele R2,31 kon volmaak? Selfs nog ongeloofliker is dat klasgeld vir vyf vakke ‘n skamele R150 was!

Ter viering van hierdie geskiedkundige mylpaal het die kampus op Vrydag 12 Februarie in ’n unieke student-opvoering die groei en sukses uitgebeeld van wat vandag as die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit bekend staan. Die produksie met die titel: “The Vaal River Branch Experience – A look at the past to the present”, is geskryf deur Kinga Siejek – ‘n alumna van die kampus.

Die spelers, wat uitsluitlik uit huidige studente bestaan het, het die lewe en tye van drie geslagte gegradueerdes binne ’n gesinsopset uitgebeeld. Daar was ’n groep grootouers wat oor hulle studentedae gemymer het, ’n ma wat haar studente-ervaring met dié van haar ouers en kinders vergelyk het, en laastens ’n huidige student wat verstom gestaan het oor die transformasie van die kampus. Die storielyn was soortgelyk aan dié van ’n Nuwejaarspartytjie.

Benewens die toneelstuk het ’n aantal pratende modelle ook op die kampus rondgeloop en aan personeel en studente iets vertel oor die spesifieke jaar wat hulle voorgestel het. Die 1966-model het byvoorbeeld die storie vertel van hoe 77 studente klasse by die Carel de Wet Hoërskool bygewoon het (omdat daar nog geen formele infrastruktuur ontwikkel was nie); die 1986-model het die storie vertel van die hervestiging van die kampus na sy huidige ligging langs die Vaalrivier; en die 2004-model het inligting oor die geboorte van die multikampus-Noordwes-Universiteit gedeel.

’n Foto-uitstalling en musiek-speellys (gespeel deur River FM) het die verloop van die afgelope 50 jaar met musiek en foto’s uitgebeel. Klik om meer foto’s te sien

NWU Alumni

Klik op die jaartal om die hoogtepunte te sien

Ons tydlyn (hoogtepunte)

ANDER HOOGTEPUNTE:• Die ontwikkeling van verskeie Navorsings Fokus en –Nisareas• Twee dinamiese fakulteite: Fakulteit Geesteswetenskappe en die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie• ‘n Uitgebreide programaanbieding. Nuwe programme sluit in: Regte, Maatskaplike Werk, Sport en Rekreasiekunde, verskeie verlengde programme en na-graadse

programme in Toegepasde Riskikobestuur, Positiewe Sielkunde en Ontwikkeling en Bestuur vir Engineurs.• ‘n Aktiewe en goed georganiseerde studentelewe.• Moderne fasiliteite soos die Leer-en Navorsingsmeent en die Gebou vir Afrika Tale.

NWU Alumni

Alumni 2016 – geleentheidsoorsig

Teken die 19de Augustus en die 1ste Oktober in jou dagboek aan en maak seker dat jy as ‘n lid van die kampus se alumni-gemeenskap geregistreer is. Indien jy by die alumni-gemeenskap wil aansluit of jou kontakbesonderhede bevestig, skakel asseblief vir Alwine by 082 802 9299 of stuur vir haar ‘n e-pos na [email protected]. Alternatiewelik kan jy ook die webblad besoek: www.nwu.ac.za

Klik vir meer

NWU Alumni

NWU Alumnitoekennings 2016

Op 7 Oktober 2016 tydens die jaarlikse NWU Alumnitoekennings sal die kollig weereens val op alumni wat uitsonderlike prestasies

behaal het of navolgenswaardige bydraes gemaak het tot die sameleweing.

Dié gesogte toekenningsgeleentheid word vanjaar vir die vierdekeer aangebied, en alumni kan in verskeie kategorieë deelneem: NWU leeftydprestasietoekenning; NWU Alumnitoekennings van Uitnemendheid en die Jong NWU-alumnus-toekenning.

1. NWU Leeftydprestasietoekenning Benoemings word nie aangevra vir die Leeftydprestasietoekenning nie aangesien die lede van die Uitvoerende Komitee van die Konvokasie self sal besluit of hulle hierdie toekenning aan een of meer persone wil maak wat vir ’n Alumnitoekenning benoem is.

Hierdie toekenning word net in hoogs uitsonderlike gevalle gemaak, om kandidate te vereer wat uitsonderlike en verdienstelike diens aan die samelewing gelewer het en wie se buitengewone leeftydprestasies, persoonlik sowel as professioneel, hulle inspirerende rolmodelle vir die toekoms maak.

2. NWU Alumnitoekennings van Uitnemendheid

Benoemings kan in EEN van die volgende 7 kategorieë gemaak word:• Kuns & Kultuur; • Navorsing;• Sakeleierskap; • Sport;• Gemeenskapsbetrokkenheid • Openbare Diens• Onderwys;

3. Jong NWU-alumnus-toekenning (dieselfde kategorieë as bogenoemde)

“Sterkte aan al die genomineerdes!”

Vorige wenners van die NWU Vaal

In 2013 het die Vaaldriehoekkampus met drie wenners in die Top 10 gespog:

• Mnr Eric Ntumba, Korporatiewebestuurder: Kommersiële Bank, Kongo

• Prof Johann Coetzee, Industriële Sielkundige

• Mnr Maans Pretorius, President: Seadrift Coke

In 2014 het Mnr Ettienne le Roux, Hoof-ekonoom: Rand Merchant Bank met die louere weggestap terwyl prof Anis Karodia – a professor in plantkunde, in 2015 as die kampuswenner aangekondig is.

NWU Alumni

Alumni maak ons trots!

Verskeie lede van ons alumni-gemeenskap swaai hul alma mater se vlag hoog – veral tydens die afgelope ses maande.

NKOSI JAMES MOREMOHOLO

Dié 23-jarige alumnus van die Vaaldriehoekkampus beleef groot sukses met sy boek: “Mind Power (#iprayineverdiebroke)”. Die boek dien as ‘n motiveringsgids vir jongmense en handel oor finansiële onafhanklikheid. Die boek is aanlyn beskikbaar asook in boekwinkels regoor die land.

SARAH BOTES

Tydens vanjaar se gesogte Mej Suid-Afrika Kompetisie het Sarah – ‘n 22-jarige Industriële Sielkundige, ‘n huishoudelike naam geword toe sy as een van die top 4 finaliste om die kroon meegeding het.

ZENZILE RENS

Zenzile Rens leef volgens die motto: “I was saved to inspire.” Dié woorde is inderdaad waar vir Zenzile, wat as baba ernstige brandwonde opgedoen het. Hy is onlangs aangewys as die nuwe segspersoon vir die National Burn Association of South Africa (NBASA).

MELANIE LAW

Melanie Law se veld van kundigheid is redigering, en meer spesifiek die manier waarop redigeerders met die taal van tekste werk. Hierdie trotse alumna van die kampus is aanvaar vir die cotutelle PhD-program in Australië aanvaar . Sy het boonop die internasionale Macquarie-beurs vir uitmuntende navorsing (International Macquarie Research Excellence Scholarship) ontvang wat die koste dek van haar onderrig, reis en stipendium om vir ten minste ’n jaar aan die universiteit te studeer.

VERONA GOSLETT

Verona Goslett léé haar droom. Sy het al in ‘n gewilde TV-reeks gespeel, die finale rondte van ‘n TV-werklikheidsreeks behaal, ‘n betaalkanaal-program aangebied (wat haar na eksotiese eilandbestemmings geneem het) én sy bied ook haar eie radioprogram aan. Verona skuif soggens agter die mikrofoon in vir die Simply Breakfast-program op 90.6FM en dien ook as aanbieder van die Youtube-program: WildlifeRanching.tv

LLEWELLYN VAN ZYL

Professor Llewellyn van Zyl het onlangs geskiedenis gemaak toe hy as die jongste Voorsitter nog van die Society for Industrial and Organisational Psychology of South Africa aangewys is. Hy is ook ‘n geregistreerde Industriële Sielkundige by die Raad vir Gesondheidsberoepe in Suid-Afrika. Hy spesialiseer in Positiewe Sielkunde.

Klik op die naam om meer te lees

NWU Alumni

Herfsgradeplegtigheid – ‘n viering van akademiese uitnemendheidDie suksesvolle afloop van die onlangse Herfsgradeplegtigheid het weereens

die kollig op die voortgesette groei van ons kampus laat val. ’n Totaal van 53 Meestersgrade is hierdie jaar toegeken in vergelyking met 35 in 2015; ’n totaal van 33 PhDs is toegeken in vergelyking met 15 in 2015. Daar is in totaal 1 643 grade toegeken oor die verloop van die vier dae. Hierdie syfers is ’n ongelooflike getuienis van die kwaliteit onderrig en leer wat op die Vaaldriehoekkampus plaasvind asook die kwaliteit van ons nagraadse studieleiding en die deursettingsvermoë van ons studente.

HOOGTEPUNTE

Die eerste groep tegniese onderwysstudente is ook hulle grade toegeken tydens die gradeplegtigheid. Ons is trots om te kan sê dat elke laaste graduandus in

hierdie klas reeds sedert Januarie in diens van ’n tegniese skool in die area is. Nog ’n eerste en ’n trotse oomblik tydens die gradeplegtigheid was die toekenning van meestersgrade aan die eerste M Comm-groep van sewe studente in Risikobestuur. Die kersie op die spreekwoordelike koek was dat vier van dié studente hul graad met lof verwerf het.

Die sukses van ons studente hou nie daar op nie! ’n Aantal van ons studente wat in die verlengde programme ingeskryf was, het hulle kwalifikasies met lof behaal. Hartlik geluk aan elkeen van ons studente (nou alumni) en aan elke personeellid wat deel gehad het aan hierdie suksesse.

Geluk aan elkeen van ons graduandi, en welkom in die geselskap van ons uitgelese groep alumni-lede van regoor die wêreld.

Klik om meer foto’s te sien

NWU Alumni

Kwaak-kwaak! Vuvu herskryf die geskiedenisboekeVuvuzela De Vaal™ laat die koppe draai waarookal hy gaan. Jy sien, dié geliefde

kampusgelukbringer staan meer as 2 meter lank in sy skoene – of is dit nou pote? En ‘n vriendeliker gans het jy nog nooit raakgeloop.

Vuvu – soos hy meer algemeen bekend staan, is reeds vanaf 2010 die kampus se amptelike gelukbringer en hy het al sinoniem geraak met student aktiwiteite en –kaperjolle.

In 2010 was hy ‘n lid van die kampus se eerste digitale-studentepublikasie – Student 24/7. As redaksielid was Vuvu verantwoordelik vir die skryf van ‘n maandelikse opiniestuk (Vuvu’s soapbox) en het sy komiese beskrywings van kampusgebeure gou vir hom ‘n groot gros volgelinge besorg. Maar helaas, die mure van die redaksiekantoor het dié vrygees vasgedruk en hy het besluit om sy vlerke te sprei en sy snawel by die deur uit te steek. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis.

Bekend vir sy aansteeklike danspassies en vriendelikheid het Vuvu sommer gou

in oud en jonk se harte gekruip. Oral waar hy gaan word net drukkies uitgedeel en foto’s geneem – hetsy by die jaarlikse CANSA Relay for Life, die Rektor se verjaardagpartytjie of langs die sportveld. Hy het nou maar eenmaal die gawe om mense opgewonde te maak, en kort voor lank is almal op hul voete besig om sy danspassies na te maak.

Tydens die onlangse Herfsgradeplegtigheid het Vuvu omtrent vir ‘n beroering gesorg toe die hy op die verhoog stap tydens die plegtigheid. Sy voete, eintlik net sy voete, die res was Charles Baloyi. Charles – wat ‘n graad in BCom Finansiële Rekeningkunde ontvang het, was toe al die tyd die man in die gelukbringerpak. Volgens Charles was die tyd wat hy as Vuvu opgetree het, van die beste tye in sy studentejare en hy is baie trots daarop dat hy onthou sal word as die “eerste” Vuvu.

Charles se opvolger is reeds druk besig om homself voor te berei vir sy nuwe taak. Hy het immers groot (geel) skoene om vol te staan.

NWU Alumni

Mnr en Mej NWU Vaal – ontmoet ons nuwe handelsmerkambassadeursAs jy gedink het dat skoonheidskompetisies net oor die nuutste modes en voorkoms

gaan, moet jy jouself voorberei om aangenaam verras te word!

Die jaarlikse Mnr en Mej NWU Vaal-kompetisie is ’n viering van selfversekerdheid, karisma en talent. Vanjaar se kompetisie het op 14 Mei 2016 plaasgevind.

Die gesogte titels van Mnr en Mej NWU Vaal is toegeken aan Lawrence Marlow (Oryx) en Zinhle Maseko (Thuthuka). Die top 3 manswenners was: Lawrence, Neo Makobe (1ste Prins) en Stefan Coetzer (2de Prins). Die top 3 vrouewenners was: Zinhle, Marilyn Angel McOliphant (1ste Prinses) en Boitemogelo Mmakou (2de Prinses).

Vanjaar was die vyfde keer dat die kompetisie op die kampus aangebied word, en verteenwoordig ‘n samewerking tussen die Direktoraat Studentesake en Leierskap en die Studenteraad (SR). Deelnemers het die geleentheid gehad om hul debatvoering, prestasies, gemeenskapsdiens en talente (soos sang en dans) op die loopplank ten toon te stel.

Die beoordelaars van vanjaar se kompetisie het behoorlik die koppe laat draai, en het bestaan uit: Portia Phele (Besturende Direkteur, Diepo Solutions Pty. Ltd), Orepheletse Phela Plaatjie (Stigter en Uitvoerende Bestuurder van Glam Clan on Request), Olivier Tshimbidi (Entrepreneur en alumnus), Sarah Botes (Mej SA top 4 en alumna), Palesa More (Mej Statebond 2016) en Velaze Vinolia Mabele (aktrise). .

NWU Alumni

Eerste NWU Vaal Kleurlopie ten bate van graduandi ‘n groot suksesDie Vaaldriehoekkampus se eerste Kleurlopie het plaasgevind op Saterdag, 16

April 2016. Dié kleurryke geleentheid het nie net vir baie opwinding gesorg nie, maar ook verseker dat elke deelnemer van kop-tot-tone in helderkleurige poeier getooi was.

Die inisiatief was die idee van die Studenteraad (SR) en het as ‘n fondswerwings-geleentheid gedien om geld te in vir studente wat moet gradueer, maar wat uitstaande studieskuld het. Die fondse is aan die kampus se Veertjiefonds oorhandig.

Laasgenoemde is verantwoordelik vir die administrasie van die fondse.

Die kleurlopie het oor ‘n afstand van 5km plaasgevind en lopiebeamptes het laat loop met die poeier – die kleurwolke kon etlike meters ver gesien word. Oud en jonk het aan die geleentheid deelgeneem en die kampus se alumni was ook goed verteenwoordig. Die kleredrag van die deelnemers het, naas die besmeerde poeierlywe, beslis die koppe laat draai. Daar was deelnemers in tutus, feëtjievlerke, oordadige pruike en selfs snaakse maskers.

NWU Alumni

Meer oor die Veertjiefonds

Openbare instellings soos universiteite ondervind tans verhoogde befondsingsdruk, en die Noordwes-Universiteit is geen uitsondering nie. Met dié uitdaging en die besef dat toenemend meer akademiese presteerders nie toegang tot hoëronderwys kan bekom nie – as gevolg van hoë kostes, het die tyd daadwerlik aangebreek vir tersiêre instellings om met innoverende en volhoubare oplossings na vore te kom.

Volgens mnr Silvanus Welcome, senior fondswerwer op die Vaaldriehoekkampus, ervaar meer en meer studente hoë vlakke van finansiële angs wat hul studies nadelig raak. “Dit is ons plig as universiteite om die uitdagings in hoëronderwys op ‘n vindingryke en empatiese wyse die hoof te bied en sodoende te verseker dat die volgende generasie bevoeg is om as leiers en kenners na vore te tree”.

Watter beter manier is daar om jou akademiese erfenis te vier as om ander te help om hulle drome waar te maak? Hierdie gedagte was die inspirasie vir die ontstaan van die NWU Vaal se Veertjiefonds wat in 2012 bekend gestel is. Die fonds is die resultaat van ‘n gesamentlike poging deur die Alumnikantoor en die Fondswerwingskantoor op die kampus en is daarop gemik om ‘n volhoubare toekoms vir die kampus en die gemeenskap wat dit dien, te bou. Met dié fonds sal minderbevoorregte studente gehelp word om hulle drome waar te maak en so sal die band tussen die verskillende geslagte alumni versterk word.

Deur geleenthede soos die Kleurlopie en die Alumni Homecoming poog die fonds om filantropiese vennootskappe tussen die besigheidsektor, alumni, personeel en die privaatsektor te vorm ten einde studente te help om hul drome te verwesenlik.

Vir meer inligting stuur gerus vir Silvanus ’n e-pos.

NWU Alumni

Ons stel bekend: NWUtv YouTube-kanaalDie NWU het onlangs sy splinternuwe YouTube-kanaal – NWUtv, geloods.

In ’n land waar vinnige internet geredelik beskikbaar is, is YouTube, die gewilde videowebwerf, ’n handige kommunikasie-hulpmiddel vir instansies en maatskappye. Die NWU, as ’n innoverende universiteit, het onlangs sy amptelike YouTube-kanaal bekendgestel. Die opwindende en boeiende NWUtv sal gebruik word om met alle betrokke belanghebbers van die universiteit te kommunikeer.

Aan die stuur van sake staan mnr Musa Zanempi, handelsmerkspesialis in die Institusionele Kantoor.

Volgens Musa verteenwoordig die kanaal ‘n belangrike hulpmiddel om die nuwe strategiese rigting van die NWU te kommunikeer. “Ons glo dit sal ’n doeltreffende instrument vir prof Dan Kgwadi, die Visekanselier, wees om belangrike inligting rakende die implementering en werking van die universiteit se nuwe bedryfsmodel te kommunikeer” verduidelik Musa. Die kanaal sal ook as platform dien om die prestasies van die instansie, gemeenskaps-betrokkenheid, navorsing en innovasie-projekte en goeienuus-stories te kommunikeer.

Die doel van die kanaal is voorts om die belanghebbers van die universiteit nader aan mekaar te bring. “Ons glo dit is ’n kanaal wat eenheid sal bevorder, veral tussen die drie kampusse. Dit is ook ’n handige hulpmiddel om prestasies, projekte en gebeure by die NWU bekend te stel” sê Musa

KANAAL SKOP AF MET GEMEENSKAPSPROJEKTE

Die kanaal spog tans met ‘n reeks informatiewe video’s wat ‘n oorsig gee oor sommige van die gemeenskapsbetrokkenheidsprojekte waarby die NWU betrokke is.

Musa voeg by: “Daar is soveel verskillende dinge wat gedoen kan word. Ons begin nou maar eers al die moontlikhede ondersoek; ons kyk ook tans na die moontlikheid om in die toekoms digitale veldtogte op die kanaal te loods. Die NWU het ’n goeie storie om te vertel en NWUtv is ’n goeie medium om dit mee te vertel. Ek moedig almal aan om in te teken op die kanaal en op die uitkyk te wees vir nuwe inhoud wat gereeld gepubliseer sal word.”

NWU Alumni

Beraad fokus op die leierskapkwessies binne die Suid-Afrikaanse konteks

Die wiele is aan die rol vir jaarlikse NWU Vaal Leierskapsberaad wat op Woensdag, 11 Augustus 2016 in Sandown, Sandton sal plaasvind.

Die beraad spog jaarliks met gerekende voorlopers vanuit die industrie en sakegemeenskap, lede van die nasionale media, entrepreneurs en verteenwoordigers vanuit die privaat- en openbare sektore. Soos die geval in 2015, sal die beraad in samewerking met die Ukuvula Stigting aangebied worden sal prominente lede vanuit die sakewêreld asook die openbare sektor hulle insigte rondom leierskap – veral gegewe die Suid-Afrikaanse konteks, te deel.

Die beraad beoog om die rol van ’n forum te vervul waar idees, teorieë en ervaring gedeel kan word en waar daar sodoende tot volhoubare, vernuwende leierskap in alle sfere van die gemeenskap bygedra kan word. Die beraad poog verder om die volhoubare groei en ontwikkeling van Suid-Afrika en die kontinent te bevorder deur nadere ondersoek van beste-praktyke en ondervindinge vanuit die geledere van vooruitdenkende, baanbreker-leiers. Fondse wat deur die beraad gegenereer sal word, sal teruggeploeg word in beurse aan behoeftige, verdienstelike studente.

Die beraad vind plaas by die Sandown Castle Estate van 09:00 tot 15:00.

HOOFSPREKERSDie beraad spog met ’n indrukwekkende reeks sprekers en sluit, onder meer, Brand Pretorius (afgetrede Hoof Uitvoerende Beampte van een van Suid-Afrika se voorste motorhandelgroepe, McCarthy Beperk), Alan Knott-Craig jnr (suksesvolle sakeman, outeur en sosiale entrepreneur), Francois van Niekerk (stigter van die

Mertech Groep en medestigter van Atterbury Property, een van Suid-Afrika se voorste eiendomsontwikkelaars) en Mondli Makhanya (redakteur van die City Press koerant) in.

Die tema van die 2016-beraad is: “Om te floreer in tye van onsekerheid en kompleksiteit – ’n uitdaging in leierskap.”

VENNOOTSKAPPE TER BEVORDERING VAN TRANSFORMASIE EN ONDERRIGDie fondse wat die beraad byeenbring, sal aan die Ukuvula Stigting geskenk word. Die Ukuvula Stigting is ’n nie-winsgewende welsynsorganisasie wat gestig is met die oog op die koördinering en befondsing van sosiale ontwikkelingspogings. Die Stigting se visie, “om ’n verskil te maak deur die onderrig, ontwikkeling en die bemagtiging van mense”, kom tot uitvoering deurdat die meeste van die ondersteuning wat die Stigting verskaf, die vorm van beurse vir tersiêre onderrig aanneem. Studente aan die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit sal ook direk ondersteun word vanuit hierdie inisiatief.

Die beraad word verder ook deur die Industriële Ontwikkelingskorporasie (IDC) onderskryf.

REGISTREER NOURegistreer vandag nog aanlyn aanlyn om die beraad by te woon of per telefoon deur Charmaine Smith by 071 200 6852 te skakel. Alternatiewelik kan u ’n e-pos aan Charmaine rig. Die koste verbonde aan die beraad beloop R2 000 per persoon en alumni van die Noordwes-Universiteit betaal R1 500.

NWU Alumni

Direkteur Bemarking en Kommunikasie [email protected]

Alumnikantoor [email protected] +27(16)910 3520

Redakteur [email protected] +27(16)910 3180

Sosiale Media Koördineerder

[email protected] +27(16)910 3189

Uitleg en ontwerp Graphikos Design Studio

Die span

NWU Alumni

Ons wil van JOU hoor!Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s en nuusbrokkies.

Ons waardeer julle opinies en insette.

Skryf gerus en vertel ons waar in die wêreld julle jul bevind en hoe dit met jul loopbane gaan, of skryf sommer oor ditjies en datjies wat julle na aan die hart lê.

Stuur julle briewe na: [email protected] of pos dit na Annette Willemse, Vaaldriehoekkampus, Bemarking en Kommunikasie, Posbus 1174, Vanderbijlpark, 1900

Besoek jou alma mater vanuit die gemak van jou rusbank

Vir kampusnuus besoek gerus ons virtuele nuuskamer

Besoek ons Facebook Blad, hou daarvan en motiveer jou vriende om dieselfde te doen

[email protected]

Voltooi die aanlyn registrasievorm en word deel van ons uitgebreide alumni-familie

NWU Alumni