1
Slawe se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans
deur
Helena Liebenberg
2
Slawe se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans
Helena Liebenberg
Afrikaanse Taalmuseum, 5 Desember 2017
Baie dankie vir hierdie uitnodiging. Dit was ’n voorreg om weer deur die woordeboord van
ons pragtige moedertaal, Afrikaans, te stap en die vrugte te pluk van ’n oes wat ryp geword
het in die lewegewende son van ons land. Ek nooi u nou om saam met my die taleweg tot in
die verre verlede te volg. Die datums is heel insiggewend: 183 jaar verloop sedert die eerste
VOC-Resolusie in 1651 tot die vrystelling van die slawe in 1834, waarna nog 183 jaar
verloop tot nou in 2017.
1. Inleidend
1.1 Woordriglyn
Die voordrag is suiwer gerig op woorde, naamlik dié uit die Ooste, wat reeds in die VOC-taal
en -dokumente gebruik is, asook die mense daarby betrokke en die verrykende skakeling wat
in hierdie opsig tussen die Ooste en Weste hier aan die suidpunt van Afrika plaasgevind het.
Die lys Oosterse woorde wat nie voorkom in die VOC-dokumente wat reeds ontsluit is nie, is
aangevul uit verskeie bronne, o.a. die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (2003).
1.2 Ontsluiting van VOC-brondokumente
Sedert 2001 met my eerste transkribering vir TANAP (Resolusies van die Politieke Raad),
gevolg deur TEPC (boedelinventarisse, vendusierolle) albei in die Kaapse Argief uitgevoer,
Poort tot die Roelandstraatse tronk, behou
as ingang tot die Wes-Kaapse Argief
3
tot die huidige VOC-dagregisterprojek het ek baie geleer en beter insig gekry in die verloop
van gebeure soos aangebied in die VOC-dokumentreekse, aangevul deur die VOC-
kaartversameling. Ja, selfs op ’n kaart of tekening verskyn woorde van belang.
Die transkribeerder/redigeerder moet Afrikaans-moedertaalsprekend wees, omdat die werk
met taalinsig en begrip geskied. Ons verstaan wat ons lees, juis omdat Afrikaans uit 17e- en
18e-eeuse Nederlands ontwikkel het en steeds in noue verband daarmee staan1. Volgens
onlangse navorsing is daar na 366 jaar steeds 66% Afr. en Ndl. woorde met dieselfde
betekenis het, 17% woorde waarvan die betekenis min verskil en 17% waarvan die betekenis
baie van mekaar verskil.
Die volgense VOC-reekse is my hoofbron van inligting:
Resolusies van die Politieke Raad, 1651-1775
Inventarisse van intestate boedels, 1673-1834
Vendusierolle
Bandieterollen en
VOC-dagregisters.
MOOC8 op die Argief se rakke
Veral in die TEPC-projek het duisende mense, in die besonder slawe en bandiete, herleef deur
’n naam te kry en sodoende deel van die Kaapse gemeenskap van destyds te word. In die
Inventarisse alleen is daar 16 519 slaafname gekodeer, waarvan 1 493 sg. “unnamed” was.
Van die groottotaal is daar egter ’n onbekende aantal dupliserings. Naamindekse verskyn aan
die einde van die Inventarisse en Vendusierolle. Al die name in die “Bandietenrollen”, wat
insluit slawe, bannelinge en bandiete, is ook gekodeer:
1 Volgens woordkorpus van ANNA (Woordeboek: Afrikaans-Nederlands/Nederlands-Afrikaans)
4
5
2. Wêreldseë vloei ineen
2.1 Die Kaap as middelpunt
Die skepe met hulle vrag aan die Kaapse “rheede”, het ingesluit goedere tot in die fynste
besonderhede getel, geweeg en opgeskryf, bv. die presiese aantal spykers, rolle eksotiese
Oosterse materiaal, porseleinware en “glaseruitjes” (heel of stukkend). Maar ménse was die
belangrikste, wat bestaan het uit VOC-dienaars, vlugtelinge, slawe en bannelinge (ook heel of
stukkend). Die volgende is my vereenvoudigde voorstelling van wat hier te lande gebeur het:
ATLANTIESE OSEAAN INDIESE OSEAAN
vloei ineen by die Kaap
Inheemse stamme
Europa Ooste
Wes-Europeërs: Oosterlinge:
VOC-amptenare Slawe
Franse Hugenote Bannelinge
Bandiete
Vryburgers Vryswartes
17e-eeuse Ndl. Maleis
Ndl. streekstale Hindi
Neder-/Platduits Tamil
Skandinawiese tale Sanskrit
2.2 VOC-taalbeleid
Amptelik het 17de-eeuse Nederlands binne én buite die VOC se struktuur en administrasie
gegeld. Al die amptenare, soldate en skeepslui, asook slawe en vryliede moes dit gebruik of
aanleer. Jan van Riebeeck het die tradisie gevestig om “Hollands” te praat. In die Resolusies
word slegs die benamings “Nederduijtsch” en “Duijtsch” vir die taalvorm van daardie tyd
gebruik.
Veral met die koms van die slawe na die Kaap, was die Kommandeur onder streng verpligting
om toe te sien dat niemand Portugees, die lingua franca in Asië, met slawe praat nie, slegs
“ons Moedertaal”.
Reeds op 17 April 1658 is begin met skoolonderrig vir die “Angoolse compagnies-
slaven ende -slavinnen, per Amersfoort uijt de Portuguese prijs becomen”. Die slawe is
in die voor- en namiddag onderrig deur sieketrooster Pieter van de Stael2 van
Rotterdam, wat goed opgelei was om studente regte egte Hollants Nederduyts te leer
lees. (JvRDR)
2 Van der Stael was ’n Culemborger, soos Van Riebeeck wat dus dieselfde “Hollants Nederduyts” gepraat het.
Duytsen, Nederlanders, Hollanders (26/8/1658) word blykbaar sonder verskil in betekenis gebruik.
6
Uit die volgende blyk dat taalvaardigheid ook vir die huwelik as belangrik geag is:
Op Saterdag 6 Julie 1658 (JvRDR) staan geskryf van die voornemende huwelik tussen
Jan Sacharias van Amsterdam, 27-jarige vryburger en Maria van Bengale, 20 jaar oud,
gewese slavin van die einste sieketrooster Pieter van der Stael. Toestemming vir die
huwelik word gegee toe Jan Maria se “transport van vrijcopinge” kon toon EN “also
oocq verseeckert dat voorsz: Maria de Nederduytse tale volcomentlijcq niet alleen
verstaet, maer oocq duydelijcq spreeckt”.
Die Kompanjieslawe se kinders het onderrig in Nederlands ontvang, hetsy in die slawelosie of
in die ander Kaapse skole. Uit die Resolusies blyk dat die slawelosie se “Schoolmeesters” die
“Neederduijtsche Taal” magtig was.
Binnehof van die slawelosie in Kaapstad met
ingemessende grafstene aan die buitemuur
Hans Jacob Jurgens van de Caab doen in 1744 aansoek om vrygestel te word (2.6.1744, C.
122); hy kon Nederlands vlot praat en was toe reeds omtrent 15 jaar skoolmeester. In 1751
vra Christoffel van Simosia wat al 19 jaar daar skoolmeester was, om vrygestel te word
(27.4.1751, C. 129). Hy stem in om na sy vrystelling nog enkele jare daar onderwys te gee.
Een van die vereistes om uit slawerny vrygestel te word, was juis die bewys dat die aansoeker
volkome in beheer van die “Neederduijtsche Taal” was.
2.3 Slawe en slavinne aan die Kaap
Die slawe wat na die Kaap gebring is, was veral afkomstig van die eilande van Indonesië,
Bengale in die noordooste van Indië, die Kus van Koromandel in Suid-Indië, Maleisië,
Madagaskar en die kuste van Afrika, onder andere Guinee, Angola en Mosambiek. Die slawe
uit Indië en sommige plekke in Indonesië is besonder gewaardeer vanweë hulle vaardighede
as ambagslui. Die Angolese slawe weer kon swaar arbeid verrig. Die Malgassiese slawe was
besonder geskik vir die landbou, omdat hulle sterk van liggaam en ledemate was; ook was
hulle goedgeaard, diensbaar, gewillig en baie gesond. (VC-DR, 1686).
7
Wat eienaars betref, kon die Kaapse slawe in drie groepe verdeel word, naamlik diegene wat
behoort het aan die Kompanjie, Kompanjiesdienaars en vryburgers. Vryswartes het ook slawe
besit.
Vervolgens praat ek kortliks oor Angela van Bengale as voorbeeld van slavin, vryswarttin en
latere stammoeder: In 1655 koop Jan van Riebeeck die slavin Angela van Bengale by Pieter
Kemp, ’n Kompanjiesdienaar.
Die volgende speel af in die Fort de Goede Hoop waar die seemanswoord ‘kombuis’ reeds in
die grondplan van die vesting ingeskryf is.
'T FORT DE GOEDE HOPE Sleutel by Kaart No. 814 van Rijksarchief, Den Haag – g Combuys (rooi omkring)
MARIA EN ANGELA
Maria de la Quellerie, Marie in Frans, sit en wag in die woonkamer van die Fort.
’n Slavin van Indiese afkoms verskyn in die deur en kom na haar aangestap om bekend
gestel te word. Jan het die jong vrou gister by Pieter Kemp gekoop. Haar naam is glo
Angela van Bengale.
Maria is so dankbaar om hulp te kry veral met die kindertjies, want dis maar moeilik
oral raak te vat en nog haar rol as Kommandeursvrou ten beste vol te staan. Die lewe is
nie maklik nie, maar sy en haar mense weet mos hoe om gevare te oorleef. Hulle is nie
verniet Hugenote nie, gejag, gemartel; gedood en verslaaf (die mans as galeislawe van
die Rooms-Katolieke het in die kettings gesterf).
“Goeiemôre, Angela. In my taal is jou naam Angèle wat beteken ‘engel’. Maar jy ken
tog die betekenis. Ja, ek lees jou gedagtes: Al praat ek vlot Nederlands, sal die woorde
van my hart altyd Frans bly. En jy wat van Bengale af kom, sal ook nooit die klanke van
jou moedertaal vergeet nie.
8
Ek hoor dat jy self kinders het; ook dat jy lief is vir kleingoed – jy sal dus mooi na my
kosbare pand omsien; maar glo my, hulle mondjies is eers tjoepstil wanneer hulle ogies
toe is. Ek sing hulle aan die slaap met bébé dodo. En jy sing seker baba dodoi? Hoe
eenders klink ons woorde tog!?
Ek hoor jy’s ’n voorslag in die kombuis. Op die rak is daar borrie en ander
smaakmiddels vir heerlike bobotie en sosaties.”
“Dankie, mevrou, ek sal u nie teleurstel nie.”
En toe, na nege jaar se troue diens deur Angela vertrek Jan, Maria en hulle jong gesin in
1662 na Batavia. Maria neem moeilik afskeid van al die bekendes, want sy het lief
geword vir die Kaap én vir die mense en hulle vir haar.
Die laaste een om te groet, was Angela wat wag in die nou so bekende woonvertrek van
die Fort. Hulle is alleen. Hulle gesprek is vol onthou van insidente, gelukkig, komies,
hartseer. Veral die kinders, wat hulle albei aan die hart lê.
Maria tree vorentoe, plaas haar hande op die jong vrou se skouers en sê: “Ek sien dat jy
binne ’n paar jaar ’n vrye vrou gaan word soos dit hoort, dat jy ’n goeie huwelik sal
aangaan en die hart van jou gesin gaan wees. Ons sal mekaar nie weer sien nie, maar
ook nie vergeet nie, daarvoor het ons te veel lief en leed gedeel. Ek gaan nou na jou deel
van die wêreld, jy bly hier aan die Kaap. Ek sal dink aan jou, Angèle.”
“Ek sal ook dink aan u, en baie dankie vir die goeie jare, eh … Marie.”
Toe is albei heel aangedaan en omhels mekaar skugter in die stilte van afskeid.
Wat Maria voorsien het, het gebeur, want Angela, in die omgang ook Ansla en Ansiela
genoem, word in 1666 die derde vryswarttin naas Katrina en Maria, almal van Bengale.
Angela is gedoop in April 1668 en in Desember 1669 getroud met Arnoldus Willemsz:
Basson van Wesel (Duitsland). Hulle het sewe kinders gehad. Sy is ook genoem Maai
Ansiela, met maai wat in Mal.-Port. ‘ma’ beteken. Soms is die woord geskryf dat dit lyk soos
moei, Ndl. vir ‘tante’, en ook ‘leermeesteres’.
Haar boedelinventaris is gedateer 18 Julie 1720 (MOOC8/4.15). Veronderstel sy was 20 in
1655, dan was sy 85 met haar dood. In die Tafelvalleij het sy ’n huis en tuin asook vyf slawe
besit. Op haar buiteplaas, genaamd Hondswyk, is drie Malgassiese slawe opgeskryf.
Toe Van Riebeeck se kleindogter, Johanna Maria, die Kaap in 1710 besoek, skryf sy in ’n
brief van “Ansiela”, die vrou wat haar pa en sy broers en susters (d.w.s. die Van Riebeeck-
kinders) opgepas het. Sy skryf verder dat Ansiela later met ’n Hollander getroud is en dat haar
dogter die vrou van kaptein “B.” was.
Dié dogter was Anna de Koning, gebore uit ’n buite-egtelike verhouding tussen slavin Angela
en ’n Europeër. Sy was mooi en ook geletterd. As vrou van kaptein Oloff Bergh van
Gotenburg, Swede word sy die Bergh-stammoeder.
9
Anna de Koning
2.4 Vryswartes
“Vryswarte” verwys na ’n vrygestelde slaaf of slavin. Vryswartes se nageslag (gebore nadat
hulle ouers vryheid gekry het) het as “vrygeborenes” bekend gestaan.
Tussen 1709 en 1763 was daar 14 inventarisse van vryswartes wat intestaat gesterf het: tien inventarisse met slawe en slavinne, vier met geen.
Al 14 inventarisse is deur amptenare opgeskryf.
Drie vryswartinne teken met X. Twee vryswartmans, Jan Smiessing en Jan Pieterse teken, wat impliseer dat hulle kon skryf.
In die reeks is daar 85 “vryswartes” se inventarisse. Daar was sekerlik veel meer wat in ander reekse opgeteken is.
Twee van die 14 inventarisse is van bekende figure, naamlik Armosijn Claasz: van de Caab in 1733. Sy het slegs een slavin gehad. En dan Robbert Schot in 1741 met ses
slawe en twee slavinne as eiendom.
10
2.5 Bannelinge
Alle soorte mense is van Oos-Indië en Suid-Asië na die Kaap verban. Aan die begin was
die meeste politieke gevangenes en geestelike leiers, asook koninklikes en persone van hoë
stand wat by hulle eie owerhede in onguns verval het. Later kom misdadigers by.
Die volgende Oosterse koninklike titels, range en benamings kom voor, o.a.
Bappa/Pappa ‘heer’
Raden ‘titel op Java; lid van die vorstelijke geslag, laer as pangeran’
Radja ‘Koning’ ook ‘titel van ’n dorpshoof van hoë status’, en
Sultan ‘in Persië het ’n sultan die betekenis van goewerneur van die 2e rang gehad’.
11
Die gevaarlike bannelinge is na Robbeneiland gestuur, terwyl nie-gevaarlike bannelinge,
soos Nicolaas Ondatie, toegelaat is om in die Kaap en die distrikte te woon.
NICOLAAS ONDATIE
Hy was ’n gewese kassier, tolk en St. Thomas Christen3 van Colombo. Weens ’n mindere
oortreding is hy in 1727 Kaap toe verban waar hy in 1737 oorlede is. Hy was ’n geleerde,
opgevoede en gerespekteerde man en het vlot Nederlands geskryf en daarin onderrig. Daar is
ook na hom verwys as die “vrijswart Nicolaas Ondatie van Colombo”. Sy van is van Tamil-
oorsprong. ’n Versameling briewe in Singalees tussen hom en sy familie in Colombo vorm
deel van sy argieflêer.
Memorie Boeck van Nicolaas Ondatie
In sy klein “Memorie Boeck” maak Ondatie in 1733 ’n lys van sy skoliere, naamlik die
Hugenotekinders, die Fouries, Leriese, Foses en Malerbes, en in 1736 die De Jagers-kinders
en Nicolaas Haarhoff. Die volgende speel af in die Fouries se woonvertrek:
DIE MEESTER EN SY LEERLINGE
“Môre kinders!”, groet Nicolas Ondatie die ses Fourietjies waar hulle om die tafel sit.
“Môre, Meneer Ondaaitjie”, koor die kinders al bryend in Nederlands, want hulle
huistaal is mos Frans.
“Julle moet maar naby mekaar sit, die winter is koud hier. So anders as in my land.”
3 “The St. Thomas Christians of India, known as Mar Thoma Nasranis, simply Nasranis or Syrian Christians, are
Christians of India that trace their origin to Apostolic times. The ancestors of Nasranis were baptised by St. Thomas the Apostle, one of the disciples of Jesus Christ.” (Wikipedia)
12
“Ag Meneer, vertel ons tog hoe dit daar lyk en van die diere en plante”, sê Marcus ewe
kordaat.
“Ag, nee, boetie man, ek wil liewer hoor van Meneer Ondaaitjie se familie; hy verlang
seker baie, maar een van die dae klim hy op die skip en dan is hy sommer gou weer
daar!” sê Anna.
“Nou maar goed, kinders, dan hou ons nou sommer ’n Indiese oggend. Eers
aardrykskunde en dan familie. Reg so?”
“Ja, dankie Meneer!”
“Ek kom van Colombo waar dit die hele jaar somer is; pragtige plantegroei en alles is
groen met lemoenbome wat geil groei. Sekere tye van die jaar kry ons geweldige reëns.
Ek hoor die mense hier gebruik ook die woord moeson, dis wat ons dit noem. Maar dan
hoor ek julle pa’s praat van “tijgers”, dis nie reg nie, want die roofdiere hier is nie
“tijgers” nie. In Indië is daar wel die regte Bengaalse “tijgers”, groot, mooi diere met
strepe, nie kolle soos hier nie. En nog iets: julle weet mos nou ook al hoe lyk ’n
kalkoen, nè? Ja, die voël is genoem na die stad Kalikoet, Kalkutta in my land.
Net soos julle huistaal Frans is, so is my huistaal Singalees. Die meeste van ons praat
hier nou twee tale, met Nederduitsch as almal se taal, soos die Kompanjie dit wil hê.
Wag maar, later gaan julle kinders net hierdie taal praat. In Singalees skryf ons heel
anders as julle. Kyk, so lyk ons letters. Ek is seker julle sal dit nie kan lees nie! Ons is
van die Sint Thomas-Christene van Colombo. My ma se naam is Juliana, en my ander
familie is Philip, Matthijs en Tomis Christoffel. En, ja, ek verlang so om terug te gaan
huistoe.”
“Eendag gaan ek my dogtertjie Juliana noem, dis so mooi. En die ander name klink
amper nes ons mense s’n,” sê Susanna.
“Ja,” sê Ondaatie. “Daar is gewoonlik meer dinge wat ooreenstem, as dié wat verskil.
Die geheim is om dit te kan raaksien.”
3. Afrikaans as bewarea van ’n Oosterse erfenis
3.1 Uit die Ooste
Afrikaans dien as bewarea van talle woorde uit veral Maleis, waaronder Maleis-Portugees,
asook uit Hindi, Tamil en Sanskrit; waarvan die meeste deel van ons gebruikswoordeskat is.
3.1.1 Uit Maleis en Maleis-Portugees:
aanpiekel, agar-agar, aia, akkerwanie, alla, almaskie, amok, amper, atjar, baadjie,
baar, baba, baie, baklei, blatjang, bobotie, borrie, brinjal, denning (in denningvleis),
doedoe, doepa, doerian, froetang, gekko, ghantang, ghoem , ghoema, ghoen, ghoeroe,
ghong, goiing, haai, ilang-ilang, jamboes, kaketoe, kampong, kapok, kardoes, katel,
katjiepiering, kofia, kramat, laksman, laloentjie, lemoen, loerie, maai, maaifoedie,
mandaryn, mandoer, mango, mardyker, moesoek (jou moses teenkom), moeson, nêne,
13
nonna, nooi, ontong, oorlams, orangoetang, paai, paljas, pê, piekel, pieker, piering,
piesang, pitte, pondok, rabbedoe, rampokker, rottang, sago, salaam, sambal, sambok,
sambreel, sarong, seroet, sieal, soebat, soetamaling, sosatie, tee, thap, tjommel,
toering en tronk.
3.1.2 Uit Hindi, Tamil en Sanskrit:
H: kalkoen, sjampoe sis, tjoep (tjoepstil)
T: nartjie
S: aubergine, brinjal, maan, opaal, skof, swastika, syfer
3.2 Enkele woorde wat die oog en oor vang
Die volgende woorde het my aandag getrek, naamlik:
3.2.1 aanpiekel
Die Oosterse naamwoord pikol (19.2.1658 RvdPR) as handelsgewig en skouervrag
kom in Nederlands voor as ww. pikolen, piekelen wat beteken ‘aan ’n drastok oor die
skouer dra’. Daaruit lei Afrikaans die woord aanpiekel af met die eie plaaslike nuwe
betekenis, naamlik ‘met moeite iets na ’n ander plek bring’ en ‘aansukkel’.
Groote Kerk, Kaapstad, met pikol oor slaaf se skouers
3.2.2 amok Afr. amok kom uit Ndl. amok (1622, 1624) uit Maleis amo(e)k wat beteteken ‘verblind
deur raserny’, aanvanklik vanweë opiumgebruik.
In die 1713-dagregister het drie slawe, waaronder Trijntje, wat saamgesweer het om ’n
moord te pleeg, die Oosterse woord “amok” as wagwoord gebruik om mekaar in die
nag uit te ken.
3.2.3 baadjie
Afr. baadjie uit Ndl. baadje (1618) Ndl. baadje uit Maleis badjoe, baju, eers as
benaming vir ’n kledingstuk vir die bolyf deur Oosterlinge gedra, en later vir ’n
soortgelyke kledingstuk deur Europeërs, veral seelui gedra. Kom verbreid in Ndl.
seemanstaal voor en bereik so die Kaap. By Van Riebeeck o.a. as baytjes.
14
3.2.4 baklei ww.
Veg, vuisslaan, rusie maak. Wsk. via Ndl. seemantstaal, in 1668 reeds as pleknaam,
“Bachaley plaets” aan die Kaap, uit Laag-Maleis bekkelahi uit Maleis berkelahi ‘twis’,
lett. ‘in die hare vlieg’. Ook in die 1689-dagregister tydens ’n landtog op pad na
Isaquase stam opgeteken as “Bakkeleijrivier” (VD-DR, 15.1.1689).
3.2.5 doedoe
Uit Ndl. dodijnen (1617) ‘’n kindjie in die arms wieg en aan die slaap sing’. Sedert
1688 in S.A. versterk deur die Hugenote, aangesien die Ndl. woord kom uit Fr.
dodo wat bet. ‘slaap’ (kindertaal) en ‘bedjie’. Vgl. ook Maleis dodoi ‘wiegeliedjie’,
deur Maleise kinderoppassers aan die Kaap gebruik.
3.2.6 katel s.nw.
Bed, veral 'n eenvoudige ysterbedjie. Via die Ndl. seemanstaal uit Maleis katil ‘bed’.
In 1706 opgeken in die inventaris van Arnout Jansz: landbouwer. Vgl. die
seemanswoord kooij (22.7.1659 RvdPR), asook in “1 out veedre bedt met 2 kussens”
in Francois Chamfelaer se 1673-inventaris.
3.2.7 laksman s.nw.
In Afr. in die betekenis van ’n persoon. wat doodsvonnis voltrek wsk. via die Ndl.
seemanstaal, uit Maleis laksamana ‘admiraal, vloothoof’ lg. tans Laksamana Armada.
Omdat Suidoos-Indië deel was van die Indosfeer van Groter Indië, is Hindu-titels uit
Sanskrit gebruik, in dié geval Lakshmana:
Lakshmana (regs op foto) (Sanskrit: लक्ष्मण, IAST: lakṣmaṇa: “he who has the signs of fortune” d.w.s. laksa ‘geluk’ en mana ‘man’. Vgl. Afr. geluk ‘voorspoed’ en Eng.
lucky, Duits Glück.
ASOOK ‘persoon wat die doodsvonnis voltrek’, want hy het oor daardie mag beskik.
Die S.A. voëltjie word so genoem omdat hy sy prooi aan skerp voorwerpe ophang,
soos die “scherpregter” in die VOC-tyd.
https://en.wikipedia.org/wiki/Sanskrithttps://en.wikipedia.org/wiki/IAST
15
3.2.8 lemoen Die vrugnaam verskyn op 24.8.1652 en op 9.2.1656: “orangie-appelen (soetlemoen),
lemoenen, pisangh ende diergelijcke fruyten”, waar lemoen een of ander sitrusvrug
beteken.
Uit Ndl. lemoen, limoen (Mnl. limoen, lemuen) ‘klein citroen’ (1351-1400) uit Fr.
limon uit Turks limon uit Pers. limun uit Mal-Pol. limau/limo (B&N). Die Fr. uitgang
-on soos in limon, (Eng. lemon) het aanvanklik in ou leenwoorde in Mnl. -oen geword,
o.a. in meloen (behou in lemoen).
3.2.9 moeson
Uit Ndl. moesson (1605 in bet. 1 en 2). Op 27 April 1652 in die Van Riebeeck-
dagregister as “natte mousson”. Ndl. moesson uit Fr. mousson uit Port. moução uit
Maleis moesim uit Arabies mausim ‘tyd van die jaar, seisoen, vasgestelde tyd’.
3.2.10 maai s.nw.
Ma. Uit Maleis-Port may wat bet. ‘ma’ uit Port. māe, māi. Angela van Bengale is
genoem maai Ansiela, dus in die oorspr. betekenis, nie hierdie ongunstige Ndl.
betekenis. van maai ‘vroumens’ wat dit in Afr. is nie en wat niks met ma te doen het
nie.
3.2.10 paai
Ou kêrel. Uit Ndl. paai (al Mnl) ‘vader’, of uit Ndl. seemanstaal pay (1675), of uit
Mal.-Port. pay, Port. pae ‘pa’. Ndl. paai is wsk. die klankwettige ontwikkeling is van
Mnl. pade. In 1685 was paai, veral as ouwe paai, al ’n gewone woord in die Holl.
volkstaal. In verbinding met ’n eienaam was paai, ’n eerbiedwaardige aanspreekvorm
vir ’n ou man asook ’n ou, bevare matroos, soos Paij Isak in die aanhaling “sijnde een
oud man, met namen Paij Isak” (VC-DR: 28:n Jan: 1689) wat gaan red is nadat sy skip
by Terra de Natal vergaan het.
Kaart van Suidoos-Afrika en Madagaskar deur Johannes Vingbooms, c. 1665.
Pyltjie vir Terra de Natal, Oos-Kaap (Grote Atlas, p. 354, NA, 4. velh 691.4)
16
3.2.11 piering s.nw.
Afr. piering kom direk uit die 17e-eeuse Indies-Nederlandse handelstaalwoord, uit
Maleis pi(e)ring ‘bord, houer’. In 1685 is dit opgeskryf as “drie raekies met coppies
en pieringen” (MOOC8/1.2 29.8.1685). Koppies, pierings en die teedrink-gewoonte
is direk uit die Ooste Kaap toe. Die woord is onbekend in Nederlands. Aan die Kaap
het kontak met slawe die verbreidheid van die woord bestendig.
Afkomstig uit Jingdezhen, Jiangxi-provinsie, Suid-China.
Vervaardig tydens Qing-dinastie (~1729-30)
Porselein in opdrag vir die VOC gemaak.
3.2.12 pitte s.nw. (geselstaal)
Geld. Uit Ndl. pitje (1631) uit Mal. picis ‘muntstuk met ’n geringe waarde’. Die ekv.,
met die uitgang op -s, is as ’n mv. opgevat met ’n nuwe ekv. pit. Lg. is toe in verband
gebring met pit ‘saadkorrel’, mv. pitjes, later ook pitten ‘geld in die algemeen’.
3.2.13 sis Dikwels is daar lyste met knope, sierband, trosse “garens” en kant. Wat veral opgeval het, was eksotiese materiaalsoorte soos “Persiaanse en Chinese sijde, baftas en
roemaals, geblomde armoesijnen [afgelei van die toenmalige Turkse stad Ormuz, tans
in Iran]. “Chitsen” was baie gewild.
Replikas van 17e-eeuse Oosterse chits, sis
17
Ndl. sits verwys na fyn bont katoen uit Oos-Indië met blomme en figure met die hand
daarop geskilder. Ndl. sits ‘bont katoen’ uit Hindi chimt ‘bont doek’ uit Sanskrit
chitra’s ‘helder’. Eerste optek. in JvR se DR, 4 Febr. 1659.
3.2.14 soebat
Op 23 Sept. 1656 gebruik Herry die Strandloper ‘gesoubat’, d.w.s. ‘mooi praat met,
smeek’, “welck Indiaens woort hij verstaedt ende tot Bantam – met d’ Engelse in
voor-tijden geweest – geleert heefft” (JvRDR). Die Nederlanders wat in 1648-49 aan
die Kaap was, het wsk. soebat uit Batavia gebring en dit vir Herry geleer. Ndl.
soebatten (1641) ‘dringend, aanhoudend smeek’. Ndl. soebatten uit Mal. sobat
‘vriend’.
3.2.15 tee s.nw.
Dié woord kry ons toe nie van die Engelse nie, maar reeds in 1620 van die VOC-
koopmanne. Ndl. the uit Maleis teh uit Chinees tê. Afr. behou die eintlike spelling, nl.
tee, sonder die Ndl. th- as “teepotje” in die heel eerste inventaris (1673)
(20/10/1673, Chamfelaer, MOOC10/1).
3.2.16 tronk
Trijntje wat 1713 amok geroep het, se juffrou het haar in die “tronk heeft laten
setten”. Die koloniaal-Nederlandse woord tronk (1663) kom uit Port. tronco ‘blok
waarin voete van misdadigers gesluit word’, asook ‘gevangenis’. Die Boegies- en
Sunda-slawe aan die Kaap gebruik tarunka uit Port. tronco, wat Afr. tronk versterk
het. Mauritius het nie ’n “gevangenhuijs” gehad nie, gevolglik is die bandiete daar
snags in “een tronk gesloten”. (5.4.1698, VC-DR).
4. Van dieselfde oorsprong?
Die wêreld is maar klein, ook die woordwêreld, meer nog as tale naby, selfs verlangse familie
is. Daarom kom die woord baie laaste aan die beurt:
4.1 baie
Na bewering ontwikkel Afr. baie via Ndl. as 18de-eeuse mengtaal (Bargoens) uit Maleis
banjak, of eerder direk uit Kaapse Maleis banjak. Eerste optekening in vroeë Afr. in 1769 in
die vorm banje.
Daar is egter die ander kant van hierdie woordmunt, want die Platduitse bwe. banni, bannich,
bannig en Fries banjer beteken dieselfde as Afr. baie. En onthou, daar was destyds talle
Platduitse/Nederduitse sprekers aan die Kaap. In Platduits word juis gesê: “Bannig ist ja wohl
so ’n Allerweltswort”.
Die Ndl. s.nw. banjer, in afgeleide betekenis uit baanderheer, hoort tot die volkstaal, soos in
“zich gedragen als een banjer”, met die gedagte van grootdoenerig. Die ww. is banjeren.
Afr. baie se een wisselvorm banje is selde maar darem gebruik deur my Kaapse vriendin by
Unisa – haar pa was van Citrusdal en haar ma van die Swartland. Dit is
Tot dusver die enigste skriftelike bewys van baie uit die VOC-tyd is in Louies Reijnders se
1793-joernaal, gehou op die skip Ablasserwaard tydens hulle reis via Portsmouth op pad na
18
Batavia. Hy gebruik banjer as bw. in banjer kout, presies soos in Afrikaans, en neem dit mee
na Batavia waar Mal. banjak gebruik is.
Dagboekinskrywing, 30 Dec. 1793: “Banjer kout”
BELANGRIK: Uit twee hedentydse Afrikaanse taalkundiges, prof. Victor Webb en dr. Jan
Picard, lg. het in Indonesië grootgeword en praat Bahasa Indonesia vlot, se navorsing blyk dat
Bahasa Indonesia eeue gelede uit Sanskrit ontwikkel het. Dit beteken dus dat Maleis tot die
Indogermaanse taalfamilie behoort en nie meer daarbuite staan nie.
Dit pas, want Mal. banjak stem ooreen met Hindi bhamjak wat beteken grooot soos in
kirtiman bhamjak ‘rekordbreker’ en sakti-bhamjak ‘magsmakelaar’ (Eng. ‘power-broker’).
Vergelyk ook die Indonesiese Banyak-eilande wat na 71 eilandjies verwys, want daar is baie
van hulle. In die 1725-dagregister (VC22) verskyn die slaaf Banja van Mallebaar. Dalk was
hy grootdoenerig soos die Ndl. banjer of was hy een van baie?
19
4.2 Woordkoorde
Dwarsoor die wêreld is daar woorde wat oorblyfsels van ’n oeroue taal is en as woordkoorde
deur duisende jare heen behoue gebly het, soos o.a. woorde wat na pa en ma verwys. Wat pa
betref, die volgende:
a b x a b b a Aramees
p a x p a p p a Afrikaans
b a p p a (k) Bahasa Indonesia
Die Hugenote se papa en mama versterk waarskynlik ons gebruik daarvan.
20
Verdere hedentydse pa-voorbeelde:
TAALNAAM ONSE VADER VAN ONS
Aramees Abba (x ab) un
Galilees Avv on
Arabies Aba -na
Baskies Gure Aita
Eskimo Ataatavut qilangmitutit
Proto-Germaans-Indies Pater naseros
Grieks Pater hemon
Oudnoors Faþer vár
Maasai Papa lang
Luxemburgies Eise Papp
Bahasa Indonesia Bapa kami
Koerdies Bavê me
Wolof (Senegal, Mauritanië,
Gambië)
Sunu Baay
Xhosa Bawo wethu
Zulu Baba wethu
Sesotho Ntata rona
Sigeuners (Bajasi) Tata nostru
Nou skuif die kalender terug na ongeveer 350 n.C. met biskop Ulfilas se Atta Unsar, (Onse
Vader, eintlik Vader van ons):
Afbeelding van ’n 4e-eeuse Gotiese weergawe van die Atta Unsar
21
a t x a t t a Goties
t a x t a t a Sesotho, Bajasi
WNT: Papalief “Opa, … Tata of Papaetjelief”(1777). Nou nog verder terug na 6000 v.C. van SUMERIESE BEELDSKRIF waar die geskrewe
vorm van pa en ma so lyk:
AB, AP, ABBA Abba Vader, ‘ou man, leier’, pa(ppa). Sumeriese teken: Huis
a b x a b b a a-ba
p a x p/b a p p a pa-pa, ba-pa
en
AM Liefde (Lat. amo ‘liefhê’)
AMA Ma, liefde, ook moederskoot. Sumeriese teken: Ster binne ’n huis
a m x a m a
m a x m a m m a ma-ma
5. Slotgedagtes
Dié taalstroom wat langsamerhand deur die hele land vertak het in wat Afrikaans genoem
word, het ontstaan uit en is gevoed deur woord- en klankfonteine van verskillende wêrelde en
sfere, die Weste én die Ooste, met 17e- en 18de-eeuse Nederlands as vrugbaarste
voedingsbron en taallandskap.
Volgens Arnoldus Pannevis is hierdie taal deur die Voorsienigheid met verloop van tyd vir
ons voorberei, sodat dit vir ons die middel sal wees om kennis te ontvang en mee te deel. Hy
sê ons moet die taal gebruik sodat ons in die toekoms vir onsself en die wêreld volkome dié
mense sal word wat ons behoort te wees.
Tans word ’n stryd vir Afrikaans gevoer. Dit is óns stryd, óns verantwoordelikheid om te
verseker dat hierdie Voorsienigheidstaal in vryheid sal voortbestaan en gedy.
Die mitochondriale taal-DNS word deur die moeder oorgedra aan haar kind as die
onvervreembare erfskat van menswees. Dit is dus ons gebóórtereg om ons moedertaal,
Afrikaans, nie net te besing nie, ja, elkeen op sy eie manier, maar om die taal te koester en ten
alle koste te verdedig. Sonder die lewegewende stem van ons taal is ons stom, verlore en
vergete.
Nou ten slotte, my gedig met die titel:
22
bron van taal
u kinders hier op aarde dra in hulle wese met hart en mond
u hemelboodskap van tere liefde en koestering in hulle rond
selfs onbewus of vergete uit watter glansende Buiteoord
die suiwer harmonie van u goddelike klank en woord
hulle daagliks sorgsaam begelei deur die slagvelde
van hartseer of haat of ’n pynvolle stryd om te stry
die kosbare trillings van u stem is in onverganklike note
soos goudstof tot nadenke uitgestrooi oor die wêreldseë
deur eenwording ingeskulp met die Skepping se waterweë
en na duisende jaargetye uitgespoel op elke aardse strand
as pragtige siervorms vergestalt in ametisgetinte deinings
sinvol beteken deur u eggo se sproeipalet van eb en vloed
in verwondering opgetel en afwagtend teen die oor getulp
om te luister na die sagte roepstem van u lieflike brontaallied
en dit met die ligte oggendbries in te dra na elke landgebied
as herinnering van woorde op u skoot en aan u knie geleer
taalgeborge ingenestel as kosbare erfgoed onvervreem
uit die hede se verlede tot in ewigheid met U verheem
Helena Liebenberg
7 Februarie 2011
23
BRONNELYS
Primêre bronne
VOC-dokumentreekse: Wes-Kaapse Argief
Resolusies van die Politieke Raad van die Kaap de Goede Hoop: C1-231
Inventarisse: MOOC8/1-75
Vendusierolle: MOOC10/1-8, 25
Monsterrolle: VC39/2-VC48 en NA12537-12653
VC-dagregisters: 1680-1730 (VC9-23); 1779-1791 (VC33-34)
M16: Lijst van het Corps Pennisten (1794)
VOC-dagregisters: Nationaal Archief, Den Haag
Jare in Wes-Kaapse Argief ontbreek in NA gefotografeer: 1687, 1692, 1695 (NA10717),
1699 (NA 10720), 1700 (NA 10721), 1704 (NA10724), 1706 (NA 10726), 1709 (NA 10729),
1713 (NA10732), 1714 (NA10733), 1789 (NA10808)
Sekondêre bronne
Boshoff, S.P.E. en G.S. Nienaber. 1967. Afrikaanse Etimologieë. S.A. Akademie vir
Wetenskap en Kuns. Pretoria.
Bosman, D.B. en H.B. Thom. 1952. Jan van Riebeeck. Dagregister, Deel 1-3 (1651-1666).
Kaapstad: Balkema. Elektroniese weergawe: DBNL © 2010 dbnl / erven D.B. Bosman /
erven H.B. Thom http://www.dbnl.org/tekst/rieb001dagh01_01/colofon.htm
Da Silva, P. (Ed.) 1996. A Dictionary of South African English on Historical Principles.
Oxford: Oxford University Press.
Du Toit, P.S. 1937. Onderwys aan die Kaap onder die Kompanjie, 1652-1795. Kaapstad en
Johannesburg: Juta.
Gordon, E.V. 1956. An Introduction to Old Norse. Second Edition revised by A.R. Taylor.
Oxford: Clarendon Press.
Jansen, Ena en Wilfred Jonckheere. 1999. Boer en Brit. Afrikaanse en Nederlandse tekste uit
en om die Anglo-Boereoorlog. Pretoria: Protea Boekhuis.
Kloeke, G.G. 1950. Herkomst en groei van het Afrikaans. Leiden: Universitaire Pers Leiden.
Kluge, Friedrich. 1883. Etymologisches Wörterbuch der deutschen Sprache. Bearb. von
Elmar Seebold. 23, erw. Aufl. Berlin, New York: De Gruyter, 1995.
Le Roux, T.H. 1966. Die dagboek van Louis Trigardt. Pretoria: J.L. van Schaik Bpk.
Raidt, E.H. 1985. Afrikaans en sy Europese Verlede. Kaapstad: Nasou.
Raper, P.E. 1987. Dictionary of Southern African Place Names. Johannesburg: Jonathan Ball
Publishers.
Scholtz, J. du P. 1972. Afrikaans-Hollands in die Agtiende Eeu. Verdere voorstudies tot ’n
geskiedenis van Afrikaans. Kaapstad: Nasou.
24
Van der Merwe, H.J.J.M. 1960. Die tweeklanke en verkleinwoorde by Van Riebeeck.
Oorgedruk uit Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, April 1960.
Van Rensburg, C. Platduits en Afrikaans. Taalfasette 1968, Deel 7. Pretoria: J.L. van Schaik,
Beperk.
Van Wyk, G.J. (red.). 2003. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Stellenbosch: Buro van
die WAT.
Van Wyk, G.J. (red.). 2007. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Supplement. Stellenbosch:
Buro van die WAT.
Weijnen, A. Zeventiende-eeuwse Taal. Vijfde Druk. Zutphen: N.V. W.J. Thieme & Cie.
Woordeboek van die Afrikaanse Taal. 2009. Elektroniese weergawe: A-R. Stellenbosch: Buro
van die WAT.
Woordeboek der Nederlandsche Taal. Elektroniese weergawe. Leiden: Instituut voor de
Nederlandse Taal (INT)
Elektroniese bronne
https://www.wikipedia.org
________________________________________________
Bronafkortings in artikel
JvRDR : Jan van Riebeeck, Daghregister
C of RvdPR : Resolusies van die Politieke Raad van die Kaap de Goede Hoop
VC : Verbatim Copies
VC-DR : Verbatim Copies-reeks, Daghregister
https://www.wikipedia.org/