April 2016 | Instituut vir Christelike Onderwys | | 012 332 0336
Onder Ons: ICO nuus. Tyd
Lead Story Headline
ICO Skolenuus: Rustenburg Christelike Akademie
Inhoud
Tyd
Skole nuus:
Afskeid
Verwelkoming
Dankie
Terugvoer GJLC:
Hoofdeseminaar
Jaarprogram
2016:
Afslag op
internetdienste
Nuwe produkte
‘n Kwart van hierdie jaar het verbygespoed en baie van ons sal ‘n lys van belangrike dinge kan
opnoem waarmee ons, onsself besig gehou het. Meeste van ons in die onderwyswêreld kan getuig
dat daar nog baie ander dinge is wat ons MOET doen maar doodgewoon nie die tyd daarvoor vind
nie. Miskien is dit tyd om so bietjie voorraadopname te doen. Bietjie terug te dink en te sif. Wat was
werklik belangrik en wat nie? Waaroor is ons spyt en wat sou ons graag wou verander? Het ons die
tyd benut soos goeie rentmeesters?
Prediker 3 vers 1 – 8 leer ons van balans. Elke ding het sy vaste tyd. Geboortedag, sterfdag,
planttyd, af te breek, op te bou, huil , lag, treur, spaar, weggooi, tyd om te werk, om te praat, stil te
bly, lief te hê, te haat, oorlog en vrede. Ons kan die lysie nog verder uitbrei met vele dinge waarvoor
daar tyd moet wees.
Hierdie lysie spreek van lewenssiklusse, soms lê die skaal die kant toe, ander kere weer daardie
kant toe. Ongelukkig leef ons in ‘n tyd waarin alles vinnig moet gebeur, die skaal beweeg teen ‘n
gevaarlike spoed en ons loop die gevaar om te verdrink in so baie dinge wat ons moet doen.
Ons het ook verleer om te wag. Wie kan nog onthou hoe ons dertig jaar gelede geduldig vir ‘n bus
moes wag? Vandag raak ons ongeduldig as die rekenaar bietjie lank vat om ‘n e-pos oop te maak.
Wat leer die Here ons dan in Prediker oor tyd? Hy leer ons nie van horlosietyd nie, maar van priori-
teit. Ons moet die vraag anders stel, nie meer hoeveel tyd het jy nie, maar wat is jou prioriteit?
Prediker leer ons van prioriteite: daar moet tyd wees vir plant (skeppend besig wees), ‘n tyd om ‘n
lewe te red (luister ons nog werklik as tieners met ons oor hul probleme praat), ‘n tyd om te bou
(ons moet aan verhoudinge bou om kinders aan ons toevertrou te vorm, dit vra tyd), ‘n tyd vir vrede
(in ons skole, klasse en huise),’n tyd om lief te hê, ‘n tyd om ons te verdiep in die Woord, dat dit ons
dring, ons aksies bepaal, ons optrede by die skool rig en ons vul met die wysheid om rentmeesters
te wees van tyd.
Kyk weer na die voorraadopname: is ons besig om die kinders aan ons toevertrou op te voed in die
vrese van die Here of is ons besig om onsself, die ouers en kinders besig te hou met allerlei sake
wat oulik is, maar die tydskaal heeltemal omgooi?
Jaargang 2016 uitgawe 8
Verwelkoming
2
Skole Nuus: Tyd vir afskeid
Vir Marietha Nel, 18 jaar die hoof van Akademie Reformia, het die tyd aangebreek om die tuig neer te lê. ICO eer jou vir al die mooi werk wat jy by Akademie Reformia gedoen het. Jy was ‘n vrugbare instrument in die Here se hande en het getrou jou roeping uitgevoer. Mag Hy ook sy seënende hand oor jou hou waar jy ook al mag gaan. Hiermee dan haar afskeidsboodskap:
“Die skrywer van Prediker stel duidelik dat daar ʼn tyd vir alles is in die verloop van ons lewens. Ek stem saam met die skrywer en glo dat Akademie Reformia die afgelope agtien jaar die plek vir my was. Die 18 jaar by Akademie Reformia, waarvan ek vir tien jaar as hoof gedien het, was voorwaar vol hoogtepunte en ook soms laagtepunte. Soos Nehemia het ek die afgelope jare bygedra om die mure te bou, elke steen wat ons saam gelê het was ʼn voorreg en ʼn seën. Ek is opreg dankbaar vir die geleentheid om deel te wees van die bou en bevordering van Akademie Reformia. ʼn Nuwe tyd het nou egter aangebreek en daarmee saam word dit iemand anders se voorreg om verder aan Akademie Reformia te bou en te ontwikkel. Ek weet die skool sal van krag tot krag gaan. Ek bid almal betrokke by die besondere skool, wat altyd naby aan my hart sal lê, mildelike seën toe. Vriendelike seëngroete, Marietha Nel”
Deur die jare was ICO (ARSO) ‘n kruk waarop ek kon leun. Dit was ‘n groot voorreg om deel van die span te wees. Ek vertrou
dat elke hoof, personeel en ouer die roeping van reformatoriese onderwys sal uitleef en laat voortleef deur ons nageslag tot
Sy eer. Ek bid julle toe Fil 2:4:”Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander.” Soli Deo Gloria
Hartlik welkom aan Mnr Hennie Combrink en sy gesin by die ICO familie. Mnr Combrink is aangestel as die nuwe hoof by Akademie Reformia. Pietersburg was die stad waar hy opgegroei en in 2003 gematrikuleer het. Hennie het ʼn groot liefde vir die natuur en verwerf ʼn B-Tech graad in natuurbewaring waarna hy vir SAN-Parke gewerk het. Hy was vir ʼn aantal jare in die Kruger Park werksaam as ʼn veldgids en het staptoere gelei. Hy vertel van ʼn noue ontkoming wat hulle met ʼn witrenoster gehad het en toe ongelukkig die dier tussen die gaste van kant moes maak. Na 5 jaar in die wildtuin het Hennie besef dat die lang tye alleen in die wildtuin nie meer vir hom goed is nie. Hy het ook ʼn verlange gehad na die gemeenskap van gelowiges, die naaste kerk was 90km ver. Na baie gebed het daar uitkoms gekom in die vorm van ʼn oproep van Piet Joubert Skool in Pietersburg. Hier het Hennie sy vuurdoop in die onderwys gehad. Met geen onderwys- ondervinding nie was dit sink of swem. As ʼn man nie vir ʼn witrenoster skrik nie, sal hy ook nie vir die uitdagings in die onderwys skrik nie. In 2012 voeg Hennie hom by die personeelkorps van die Chris Hofmeyer Laerskool. Aangesien dit ʼn klein laerskool is, word dit van personeel verwag om alles te kan doen, van redenaars, konserte en sport afrig tot dien op die beheerliggaam en die skoolbus bestuur. Hy het gou besef hy sal verder moet studeer en in 2013 verwerf Hennie sy nagraadse sertifikaat in Onderwys aan Unisa en in 2014 sy B.Ed Honneurs (Cum Laude) ook aan Unisa. Hennie is getroud met Lynn-Marie en hul dogtertjie Lize is op 25 Februarie 2016 gebore. Hul is meelewende lidmate van die Gereformeerde Kerk Pietersburg Suid. Met al die druk wat tans in die onderwyswêreld is, het Hennie besef dat privaat christelike onderwys die enigste pad is waar hy sy toekoms in die onderwys sien. In Maart 2016 is hy genooi vir ʼn onderhoud by Akademie Reformia waarna hy as die nuwe hoof aangestel is. Hy sien die pad waarop die Here hom gelei het, deur die wildtuin, die volgehoue gebed vir uitkoms en die lesse by openbare skole, as voorbereiding op die taak waartoe die Here hom nou geroep het Hy bely ook soos in 1 Tim 6:12 “stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.”
Dankie
Langs hierdie weg bedank ICO elkeen wat op sy of haar manier bydra tot die uitbou van Christelike Onderwys in SA Dankie vir voorbidding, dankie vir dienste aangebied en gelewer, dankie vir kollektes en donasies en ‘n warm dankie vir u volgehoue ondersteuning.
3 Terugvoer van die GJLC vergadering: (Gauteng Joint Liaison Committee)
Protokol: Tydens die laaste vergadering is ‘n versoek gerig dat alle
privaat, gesubsidieer of nie gesubsidieerde skole deur hulle assosiasie moet werk met belangrike navrae.‘n Skool kan byvoorbeeld nie net die department oor subsidienavrae nader nie, dit word op die JLC hanteer. Elke provinsie het sy eie JLC. Meeste van dieselfde tipe sake word by die Gauteng JLC hanteer, tog sal dit wys wees as skole in ander provinsies namens ICO ‘n verteenwoordiger kan stuur om die vergaderings by te woon. Mnr Theo Buccoli het onderneem om ‘n lys van kontak- besonderhede van JLC voorsitters te stuur. Sodra ICO dit ontvang het, sal dit versprei word.
Subsidie: Geen subsidie is nog uitbetaal nie. Verwagte betaling is iewers in Mei. Alle skole moet steeds aansoek doen vir subsidie, maar geen ANA uitslae is nodig nie, aangesien die ANA’s nie geskryf is nie.
“Right and responsibilities” (R&R) Alle skole het weer hierdie dokument ontvang. Dit is belangrik dat u skoolbestuur ook die dokument onder oë kry. Alhoewel sekere sake nie baie duidelik uiteengesit is nie, is dit ‘n dokument wat ons skole se onafhanklikheid beskerm. Die distrikskantore is nie altyd bewus van hierdie dokument nie en gaan uit onkunde vereistes stel waaraan onafhanklike skole nie hoef te voldoen nie. Die JLC forums het nou ‘n versoek aan GDE gerig om die dokument aan die distrikskantore te versprei, om sodoende ‘n verleentheid te voorkom. ‘n Voorbeeld van so ‘n saak is dat die departement kwartaallikse progressie skedules van elke skool vereis. Onafhanklike skole hoef dit slegs aan die einde van elke jaar in te dien. Oppas dat u nie besig gehou word met onnodige administratiewe take nie.
Onduidelikheid in die R & R dokument: Verskeie skole het gekla dat die inligting nie altyd duidelik is nie. Indien u onseker is kan u ICO gerus kontak. Daar is tans ‘n komitee bestaande uit die ISD, verteenwoordigers van die onafhanklike sektor asook GDE wat die dokument hersien en sake meer duidelik maak.
Algemene eksamens “Common exams”: Slegs onder-presterende gesubsidieerde privaatskole moet hierdie eksamens skryf. Geen ander privaatskole mag gedwing word om dit te skryf nie. Indien u van mening is dat dit tot voordeel van die leerlinge is, is u welkom om dit te skryf. Ongelukkig lê die probleem veral by die voorgeskrewe werke. Privaatskole verkies om letterkundige werke te behandel wat met hulle etos ooreenstem en die “common exams” hou dit nie in gedagte nie.
Studiesentrums: Alle sg studiesentrums wat oa deur IMPAK bedryf word, word tans deur die Departement ondersoek aangesien daar kommer is oor die kurrikulum wat daar aangebied word.
Eksamensentrums: Ongelukkig is daar nog nie ‘n finale antwoord op die kwessie oor skole wat matriek leerlinge het en waar die eksamensentrum in gedrang is nie. Dit word nou op hoogste vlak ondersoek en aandag aan gegee aangesien dit in ‘n krisis ontaard. ICO hou u op hoogte hiervan.
Registrasie van ECD sentrums: Op elke vergadering word daar gepleit vir ‘n gestandaardiseerde vorm asook proses. Mr Mdingi het die navraag na ‘n ander department verwys, aangesien dit nie onder sy jurisdiksie val nie. Daar is dus nog geen bevredigende antwoord op hierdie probleem nie.
Hoofdeseminaar
Vrydag 27 Mei 2016; 7:30 – 15:00
Aangebied deur ICO en FEDSAS by ICO se kantoor in Pretoria
Wie moet dit bywoon: Alle hoofde, adjunkhoofde en departementshoofde asook
voorsitters of afgevaardigdes van die skoolbestuur. (Ook ander belangstellendes)
Tema: Leierskap en bestuur in die skoolomgewing
ʼn Uitreksel uit die nuwe webtuiste:
www.ico.org.za
Back Page Story Headline
4
Jaarprogram In die blokkie hiernaas is die belangrike datums vir 2016 aangedui. Dit sal goed
wees indien u dit so op u jaarbeplanner aanteken.
Meeste hoofde het reeds ‘n boodskap ontvang rakende die hoofdeseminaar. Dit is
ook so in die vorige nuusbrief bekend gestel. U ontvang die formele uitnodiging
volgende week. Ons besef dat heelwat van u ook voltyds voor ‘n klas staan tog is
dit belangrik dat u die toerustings geleenthede aangryp. Dit dra by tot die opbou en
versterking van ons skole. ICO beskik ongelukkig nie oor die skoolbestuur se e-pos
adresse nie, dit sal dus op prys gestel word indien u dit asseblief so aan hulle sal
deurgee.
Hou die seminaar van 18 Julie in Pretoria ook in gedagte. Dit beloof om ‘n baie
interessante seminaar te wees met sprekers soos Hettie Britz en dr Cas Olivier wat
in die vorm van ‘n werkswinkel onderwysers weer gaan toerus om hul belangrike
taak uit te voer. Intussen vertrou ons dat elke skool ook hard besig is met die Maak
–‘n –Plan kompetisie, ons sien uit na julle kreatiwiteit!
Nuwe produkte: Glorieryke Psalms
Alhoewel dit nie in die volle sin van die woord ‘n nuwe produk is nie, is ons dankbaar
om mee te deel dat dit nou ‘n ICO produk is met ‘n mooi nuwe baadjie. Deur middel
van hierdie CD’s maak ons Psalmsing weer deel van ons lewens. In dankbaarheid,
aanbidding, beproewing en vreugde kan ons sing. Die Psalms op die CD’s word deur
Arso of ICO skole gesing en is aangevul deur orrel en ander instrumente.
Hierdie stel van vyf CD’s met al 150 Psalms is volgens die Totiusberyming. Verskeie
melodieë (Geneefs en sommige alternatiewe melodieë) word gesing. Die volledige stel
(5 CD’s ) is beskikbaar teen R180 by ICO of by Boekenhout by www.boekenhout.co.za
Webtuiste
Dit is vir ICO baie aangenaam om aan te kondig dat ons nuwe webtuiste uiteindelik
aktief is!
Die skakel is www.ico.org.za Mev Lydia van der Kooy saam met ‘n anonieme skenker
is ons webmeester en behartig die bedryf van die webtuiste.Daar is nog ‘n paar
aspekte waaraan ons werk, ons vra dus vir nog so ‘n bietjie geduld.
Instituut vir Christelike Onderwys |
[Company address]
Vriendelike ICO-groete
Saskia Meijer
Belangrike datums vir 2016
1. 27 Mei 2016:
Hoofdeseminaar
aangebied deur ICO
en Fedsas
2. 18 Julie 2016:
Jaarlikse ICO-
onderwyserseminaar:
Van toeka tot nou in
die onderwys
3. 3 September 2016:
Jaarlikse
ICO-Kunstefees
4. 31 Oktober 2016: ICO
Hervormingsfees
Leierskapskursus
ICO ontwikkel ‘n splinternuwe kursus!
‘n Kursus wat graad 7 leerlinge toerus om met verantwoordelikheid diensbaar te kan optree. Dit is gewoonlik die graad 7 leerlinge wat reeds die vermoë moet hê om sekere verantwoordelikhede op hul skouers te kan dra bv diens in die biblioteek of hulp by sportbyeenkomste ens. Met hierdie kursus wil ons hulle leer om hul gawes te ontdek, om meer te wete te kom oor roeping en goeie kommunikasievaardighede aan te leer. Die kursus sal op 18 Julie by die onderwyserseminaar beskikbaar gestel word.
Afslag op internetdienste
Op 3 Maart 2009 het OKASA in die Staatskoerant regulasies gepubliseer wat vir afslag aan skole op elektroniese kommunikasies voorsiening maak. Die regulasies skryf voor dat alle lisensiehouers, skole wat internet diens ontvang, ʼn totale minimum afslagkoers van 50% moet gee. Die afslag is van toepassing op die totale koste wat deur die lisensiehouer gehef word en sluit in maar is nie beperk nie tot die volgende:
Enige aansluitingskoste vir toegang tot die Internet;
Koste van toerusting wat gebruik word vir of in verband met aansluiting met die internet;
Alle oproepe gemaak na ʼn internet diensverskaffer.
Die regulasies waarna verwys staan bekend as: “Regulations in terms of Section 4 read with section 73 of the Electronic Communications Act 36 of 2005”.
Elke ICO skool sal die dokument ontvang en kan by sy diensteverskaffer aansoek doen vir afslag, hulle moet net die Gazette toon. Elke skool kan by sy diensteverskaffer aansoek doen. Hulle moet net die Gazette toon.