169
LES 15 – Sondag 8 HK DRIE PERSONE - EEN GOD A. Die onbegryplike probeer begryp?! Moét ons ‘n hele les wy aan iets wat ons tog nie kan verstaan nie: God se drie-eenheid? Is daardie leerstuk nie hopeloos te moeilik nie? Onbegryplik? Watter troos kry ons daaruit vir ons gewone aldaagse lewe? Daar is selfs ‘n aparte geloofsbelydenis wat heeltemal oor God se drie-eenheid handel. Ons lees dit prakties nooit in die kerk nie, maar dit staan agter in ons kerkboek: die Geloofsbelydenis van Atanasius. Lees: Die Geloofsbelydenis van Atanasius art 1-4. Wat is volgens hierdie Belydenis (art 2) die algemene geloof, d.w.s. dit wat elkeen, orals in die wêreld en en in watter tyd ook al, moet glo? Wat bely ons in art 2 en 44 van hierdie belydenis? Bespreek saam: Mag ons dit regtig so sê? B. Dit is hoe God na ons toe kom in die Bybel. Die geloof dat ons een God het wat in drie Persone bestaan, is nie ‘n uitvinding van geleerde teoloë of filosowe nie. So kom God in die hele Bybel na ons toe.

tussendoopennagmaal.files.wordpress.com  · Web view2018-09-18 · Eks. odus 15: 6, 12 . Psalm 89: 14. Psalm 138: 7. Psalm 139: 10 . ... Die Gesalfde laat ons deel in die salwing

  • Upload
    haduong

  • View
    225

  • Download
    0

Embed Size (px)

Citation preview

LES 15 – Sondag 8 HK DRIE PERSONE - EEN GOD

A. Die onbegryplike probeer begryp?!

Moét ons ‘n hele les wy aan iets wat ons tog nie kan verstaan nie: God se drie-eenheid?Is daardie leerstuk nie hopeloos te moeilik nie? Onbegryplik?Watter troos kry ons daaruit vir ons gewone aldaagse lewe?

Daar is selfs ‘n aparte geloofsbelydenis wat heeltemal oor God se drie-eenheid handel. Ons lees dit prakties nooit in die kerk nie, maar dit staan agter in ons kerkboek: die Geloofsbelydenis

van Atanasius.

Lees: Die Geloofsbelydenis van Atanasius art 1-4.

Wat is volgens hierdie Belydenis (art 2) die algemene geloof, d.w.s. dit wat elkeen, orals in die wêreld en en in watter tyd ook al, moet glo?

Wat bely ons in art 2 en 44 van hierdie belydenis?

Bespreek saam:Mag ons dit regtig so sê?

B. Dit is hoe God na ons toe kom in die Bybel.

Die geloof dat ons een God het wat in drie Persone bestaan, is nie ‘n uitvinding van geleerde teoloë of filosowe nie. So kom God in die hele Bybel na ons toe.Ons het in Sondag 7 HK gesien: die 12 Artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis is 'n samevatting van die hele Bybel.Maar ons kan ook die 12 Artikels nog 'n keer saamvat:

Sondag 8 HKVraag 24 Hoe word hierdie artikels ingedeel?

Antwoord: In drie dele: die eerste handel oor God die Vader en ons skepping;

die tweede oor God die Seun en ons verlossing; en die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.

As ons vervolgens ook hierdie drie dele nog weer saamvat hou ons net een woord oor oor: GOD.

Die hele Bybel, van Genesis 1:1 tot

Openbaring 22:21 vertel ons oor God en sy werk. Al die strale wat deur die Heilige Skrif uitgestraal word, kom saam in een brandpunt: God.

Maar as ons vanuit daardie brandpunt weer terugkyk, sien ons orals in die Bybel onmiskenbaar drie afsonderlike Persone in ons een God raak:

GOD DIE VADERGOD DIE SEUNGOD DIE HEILIGE GEES Lees:Nederlandse Geloofsbelydenis art.9

C. Sommer nog ‘n

steekproef.Kom ons doen sommer nog 'n steekproef in die Bybel.

Lees: Handelinge 2: 14-40

In watter verse word oor God die Vader gepraat? In watter verse word oor God die Seun gepraat? In watter verse word van God die Heilige Gees gepraat? In watter verse blyk dat Vader, Seun en Gees een is?

D. Ook regdeur die Kategismus.

Ook die Heidelbergse Kategismus is vol van God se drie-eenheid. Orals word die drie onderskeie Persone in God aangewys:

Lees: Sondag 1 vr. 1 Sondag 7 vr. 21 Sondag 12 vr. 31 Sondag 14 vr. 35 Sondag 18 vr. 49 Sondag 21 vr. 54 Sondag 26 vr. 70 Sondag 30 vr. 80 Sondag 32 vr. 86 Sondag 44 vr. 115

E. In ons aldagse lewe.

Dit mag so lyk asof die leer van God se drie-eenheid nie soveel betrekking op ons aldagse lewe het nie. Gee dit ‘n mens troos, dat ons ‘n God het wat een en nogtans drie is?!Maar het jy uit die Kategismussondae wat jy sopas gelees het, agtergekom dat die drie-enige God nie net in die Bybel en in die Kategismus nie, maar ook in jou eie lewe ‘n baie groot rol speel?Hoe het jy al dadelik die eerste keer wat jy kerk toe gekom het, met die drie-enige God te doen gekry? En hoe kry jy nog elke keer as jy kerk toe kom, met Hom te doen?

Vraag:Watter Kategismussondag waarin oor die drie-enige God gepraat word, het jou die meeste geraak?

F. Dit gaan ons verstand te bowe.

Vir ons verstand is dit baie moeilik om te verstaan, ja eintlik onbegryplik hoe Een terselfdertyd Drie kan wees en Drie Een.Daar is allerhande pogings gedoen om dit tog te verduidelik. Byvoorbeeld met metafore:

'n man wat (1) by die huis man en vader is, (2)by sy besigheid direkteur is, en (3) in die kerk ouderling is.

Of een vlag met drie bane. Water wat ook mis en ook ys kan wees....

Vraag:Hoekom gaan ook hierdie vergelykings mank om God se Drie-eenheid te bewys?

Ons moet dit maar nie logies probeer verduidelik nie. Die Kategismus doen g'n enkele poging om die geheimnis van God se Drie-eenheid vir ons te verklaar nie. Ons moet eenvoudig dit wat God aangaande Homself in die Bybel geopenbaar het, aanvaar:

Sondag 8 HKVraag 25: Terwyl daar tog maar net een, enige goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik: die Vader, die Seun en die Heilige Gees?

Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.

Ons bely in Art.9 N.G.B. dat "hierdie leer die menslike verstand ver te bowe gaan"Dis ‘n pragtige beskeie uitdrukking. Ons moet aanvaar dat daar aan die HERE talle aspekte is wat ons met ons beperkte verstand nie kan bevat nie. As ons met ons gedagtes die plafon bereik het, sê ons nie: hierbo is niks meer nie. Ons weet: daarbo is nog ‘n tweede vloer en ‘n derde, ‘n vierde dalk ook nog waar ons nie kan bykom nie.

Lees: Jesaja 55: 8 en 9

As ons tog hoër wil klim en probeer uitkom by wat vir ons verstand onbereikbaar is, sal ons val en verongeluk!

G. Belangrik om te weet.

Is dit nou regtig belangrik om te weet dat die HERE uit drie afsonderlike Persone bestaan? Ja.

Dit maak ons klein en nederig. God het ons nie nodig nie. Hy is regtig nie eensaam sonder ons nie. Daar was ook 'n tyd wat God sonder mense geleef het: voor die skepping van hemel en aarde.

Dit maak ons dankbaar en verwonderd. Hierdie God het met sy liefde na ons toe gekom. En het ons ook na ons sondeval aanhou soek. En aldrie Persone in God soek die beste vir ons. Hulle werk saam aan ons verlossing. Daar is in die afgodediens dikwels ‘n hele aantal gode wat met mekaar kompeteer, mekaar met ’n slap riem probeer vang... En hoe sal ’n mens almal terselfdertyd tot vriend hou? Pons het maar een God. En by ons God werk die Vader die Seun nie teë nie, en die Heilige Gees staan nooit in die pad van die Seun nie. Want hulle is een. Wanneer Christus vir ons pleit by die Vader, hoef ons nie bevrees te wees dat die Vader miskien nie na Hom wil luister nie. En wanneer die Vader ons leven oorspoel met baie moeites en verdriet, het Hy regtig nie vir ’n oomblik van Christus se verlossingswerk vergeet nie

Dit maak ons versigtig. Ons mag die drie Persone in God nie van mekaar losmaak nie. Ons mag nie die verlossingswerk van die Seun losmaak van die skeppingswerk van die Vader nie. God die Seun het ons nie kom verlos om ons ‘n plekkie in die hemel te kan gee nie, maar om weer as Vader se kinders op sy aarde besig te wees. Ons mag nie die die versoeningswerk van die Seun en die heiligingswerk van die Gees van mekaar losmaak nie. God skenk nie net vergewing aan sonraads nie, maar soek ook die daaglike vernuwing van hul lewe. Ons mag nie die vernuwingswerk van die Heilige Gees losmaak van Vader se skeppingswerk nie. Die Gees skenk nie allerhande abnormale gawes aan ons nie: bv. Dat ons in onverstaanbare klanke –engeletale- sou kon praat, maar werk daaraan dat ons weer normale mense word wat weer gaan leef soos God die mens in die paradys bedoel het.

Sommer ‘n paar voorbeelde dat ‘n mens, ook as jy in God glo as die drie-enige, nogtans die eenheid in die drieheid uit die oog kan verloor, soos die belydenis van Atanasius waarsku.

H. Ewig verlore gaan.

Vraag:Hoe voel jy nou, aan die einde van hierdie les, oor dit wat in art 2 en 44 van die Geloofsbelydenis van Atanasius staan?

I. Huiswerk.

LES 16 Sondag 9 HK - DIE SKEPPER IS MY VADER

A. Ewolusie?

Ons begin nou met die bespreking van elkeen van die 12 Artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof. En ons fokus op die eerste artikel: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde”. So het die HERE Homself al dadelik op die eerste bladsy van die Bybel bekendgemaak, Genesis 1.

Maar kan ons Genesis 1 nog wel lees as ‘n historiese verslag van die ontstaan van hierdie aarde en sy skepsele? Het die wetenskap nie bewys dat die aarde deur 'n groot ontploffing in die heelal ontstaan het nie?

En dat al die lewende wesens wat daar nou op aarde is, nie elkeen afsonderlik deur God geskep is nie, maar deur 'n geleidelike ontwikkeling uit vorige spesies gegroei het? Op so ‘n manier dat die sterkste spesies steeds oorleef het en die ander uitgeroei is?Gevolglik is die wêreld ook baie ouer as die paar duisend jaar waarvan die Bybel praat. Ons moet aan miljarde jare dink. B. Ewolusie in God se skepping?

Kan ons, as ons die Ewolusieteorie moet glo, terselfdertyd bly volhou dat God de Skepper van hemel en aarde is?Daar is christene wat meen dat dit wat die Bybel in Genesis 1 aangaande die Skepping vertel, gekombineer kan word met elemente uit die Ewolusieteorie:

Daar staan mos in Genesis 1 ook dat daar 'n ontwikkeling in God se skepping was: van water en materie het dit gegroei tot die mens.

Die ‘dae’ waarvan Genesis 1 praat hoef nie gewone dae van 24 uur gewees het nie, dit kan ook ‘tydperke’ wees. En staan daar nie in die Bybel dat by God duisend jaar soos die dag van gister is (Psalm 90: 4) en dat een dag vir Hom soos duisend jaar is nie (2 Petrus 3: 8).

Die ontwikkeling (ewolusie) by mens en dier gaan mos nog steeds voort: mense bereik telkens beter sportprestasies, vind al hoe ingewikkelder tegniese apparate uit, diere pas telkens by nuwe situasies aan...

C. Wetenskap teenoor geloof?

Die verdedigers van die Ewolusieteorie stel dit meestal so, dat hierdie teorie met die feite bewys kan word (die wetenskap ‘weet’!), terwyl ‘n mens die Bybel moet glo.Moet jou nie deur derglike bewerings van stryk laat bring nie. Daar is vir die Ewolusieteorie meer geloof nodig as vir die Bybel. Sou hierdie indrukwekkende wêreld vol ontelbaar baie verskillende skepsels regtig die gevolg van ‘n groot ontploffing wees?

Iemand het die Big Bang teorie vergelyk met ‘n ontploffing in ‘n verffabriek. Sou uit so ‘n ontploffing spontaan ‘n wêreldberoemde skildery soos van die groot Suid-Afrikaanse skilder Pierneef kan ontstaan?

Die Ewolusieteorie is gebaseer op fossiele en navorsing van die verskeie aardlae. Die ‘bewyse’ wat daaraan ontleen word, is egter niks meer as aannames nie.Die berekeninge is meestal rof: miljoene of selfs miljarde jare! Hoe groter die getalle, hoe meer onkontroleerbaar word dit. En as 'n mens dieselfde fossiel deur twee of drie verskillende wetenskaplikes laat ondersoek, verskil die resultaat van hul ondersoek meestal ook sommer 'n paar miljoen jare!

Vraag:Hoe voel jy oor die argument, met ‘n beroep op Psalm 90: 4 en 2 Petrus 3: 8, dat ons die woordjie ‘dag’ in Genesis 1 as die aanduiding van ‘n tydperk van miskien wel meer as ‘n miljoen jare kan opvat?

D. Die Bybel teenoor Ewolusie.

Elkeen wat die Bybel vanaf die eerste bladsy eerlik lees, moet erken dat elke poging om Darwin se teorieë en die Woord van God te kombineer, nie kan standhou nie.Die Ewolusieteorie staan vierkant teenoor dit wat die Skrif aangaande die skepping vertel.

Die eerste bladsy van die Bybel wys ons nie 'n onbekende Skepper wat iets in die heelal aan die gang gesit het en waarna alles verder soos vanself ontwikkel het nie.Genesis 1 vertel ons van GOD DIE VADER wat in ses gewone dae (“dit was aand en dit was môre”) hemel en aarde geskep het, alle plante en diere "volgens hulle soorte" of “na hulle aard” (!), en tenslotte as 'n heeltemal andersoortige wese: die mens as sy KIND.

Daardie mens het nie geleidelik uit die ander skepsels ontwikkel nie. Hy was heeltemal anders as die ander skepsels gemaak: God het sy eie lewensasem in die mens geblaas. Van hierdie skepsel sê Genesis 1 nie dat dit “volgens sy soort” of “na sy aard” geskep is nie. Hierdie kind van God is "na God se beeld, na God se gelykenis" geskape. Ons het in die eerste les oor Sondag 3 HK daaroor gepraat.

Vraag: Kan jy drie gedeeltes in die Bybel aanwys waar die mens "kind" van God genoem word, of waar die mens God sy "Vader" noem?

As die Ewolusieteorie reg sou wees, op watter stadium in die ontwikkeling van die aap na 'n mens het die mens dan "kind" van God geword?! Is daar ape wat 90% kind van God is? Of 50%?Word die mens deur sy voortgaande ontwikkeling dalk al hoe meer kind van God?!Alleen al oor hierdie rede is die Ewolusieteorie geheel en al verwerplik.Boonop: terwyl die Ewolusieteorie leer dat die mens as gevolg van ‘n voortgaande ewolusie steeds aanhou om te verbeter, leer God se Woord dat die mens as gevolg van die sondeval in sy hele wese verdorwe geraak het.

Lees:Dordtse Leerreëls hoofstuk 3 en 4, art 1 en 4

Volgens die Ewolusieteorie moet die dood uit die staanspoor tot die lewe behoort het: die sterker spesies oorleef telkens die swakker spesies. Sê die Bybel ook so?!

Lees:Romeine 5: 12 en 14a

Waar die Ewolusieteorie die mens hoogmoedig maak: hy is die mees geëwolueerde wese, maak die HERE se Woord die mens juis beskaamd en

nederig: God se kind wat amper goddelik gemaak is (Psalm 8: 6) het ‘n goddelose rebel geword.Dit is dus heeltemal onmoontlik om die Bybel en die Ewolusieteorie te wil akkordeer.

E. Die Skepper wou Vader word.

Wanneer die Kategismus in Sondag 9 uit die hele Bybel saamvat wie die Skepper vir ons is, val alle nadruk daarop dat Hy ons VADER is. Dit is die hoofsin, terwyl oor die skepping slegs in 'n bysin gepraat word:

Sondag 9 HKVraag 26: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus (wat die hemel en die aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer) ter wille van sy Seun Jesus Christus my God en my Vader is.

Lees ‘n slag Genesis 1 as die dagboek van ‘n Vader wat sy wêreldhuis voorberei het op die geboorte van sy eerste kind:

Watter dak het hy sy kind se kop gegee? Watter ligte dag en nag het Vader vir sy kind voorsien? Wat is die muurversiering waarbinne sy kind mog leef? Wat is die vloermatte onder die mensekind se voete? Wat is die speelgoed waarmee die mens mog speel?

Hierdie liefdevolle Skepper-vader is, ook na ons rebellie teen Hom, ter wille van sy Seun Jesus Christus steeds ons God en Vader. In dié besef mag en moet ons hier op aarde lewe en besigwees.

F. Vader se Skepping is ons tuiste.

Voordat As ons so weer rondkyk en rondstap in hierdie wêreld: ons Hemelvader se skepping, sal ons ook weer met respek Vader se skeppingswerk behandel. En in hierdie wêreld ons oorspronklike taak weer opneem: die aarde onderhou en ontwikkel tot God se eer.

Lees: Kom ons lees nog 'n slag die begin van die Les oor Sondag 3, "Nie God se skuld nie".

Daar was (en is) in die kerk mense wat meen dat ons wat deur Christus van die sonde verlos is, ons so veel as moontlik uit hierdie wêreld moet terugtrek. Christene soek mos "die hoëre dinge"! Ons kan maar in baie opsigte op rug draai op hierdie laër, aardse dinge.

Vraag: Ken jy voorbeelde daarvan in die kerkgeskiedenis?

Dit is egter 'n ernstige dwaling.Christus het nie gekom om ons uit hierdie wêreld weg te haal nie, maar om ons op ons oorspronklike plek in hierdie wêreld terug te sit! Die Here Jesus het ons weer tot God te kinders gemaak, ook met die doel dat ons weer ons kop, ons oë en ore en ons hande gebruik soos ons hemelse Vader dit eendag in die Paradys bedoel het.

As ons die skepping van ons Vader weer as ons tuiste beskou, sal ons ook alles daaraan doen om besoedeling van die skepping te voorkom en te bestry. Christene moet altyd bly soek na die ewewig tussen sowel die voortgaande ontwikkeling van die skepping as die skoonhou van die skepping.

Vraag:In watter opsigte werk jy saam aan die skoonhou van die aarde?

G. Vader is by ons in die jammerdal.

Vandag is Vader se wêreldhuis vir ons nie meer ‘n paradys nie. As gevolg van ons sondeval het die paradys ‘n jammerdal geword. Daar word baie gehuil in hierdie wêreld, ook deur kinders van God. Daar lê 'n vloek oor die skepping.

Maar danksy die Here Jesus, is God steeds my Vader! Hy is by my in hierdie jammerdal. En Hy help my deur.

Sondag 9 HK

Vraag 26: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus ter wille van sy Seun Jesus Christus my God en my Vader is. Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my met alles wat vir liggaam en siel nodig is sal versorg nie.

Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander. Want Hy kán dit doen as 'n almagtige God, en Hy wíl dit ook doen as 'n getroue Vader.

Kyk na sy skeppingswerk rondom ons: dit is die beste bewys hoé magtig Hy is! Wanneer Hy reeds so sorg vir blomme en voëls, sal Hy dan nie veel meer vir sy kinders sorg nie?

Lees:Matteüs 6:26-32Jesaja 40:12-31

H. Huiswerk .

LES 17 Sondag 10 HK: GOD SE VADERHAND

A. Hande?

Het die HERE hande? Die Kategismus praat wel daarvan.

Vraag: Hoeveel maal word in Sondag 10 van die hand van die HERE gepraat

Het God regtig hande??God is mos nie 'n mens nie. God is Gees (Joh.4:24).Dis reg, maar ons hemelse Vader pas Hom in sy woordgebruik in die Bybel telkens by ons voorstellingsvermoë aan. Daarom lees ons in die Skrif van die oë van die HERE, van die mond van die HERE, en ook van die hand van die HERE.

Opdrag: Soek in die Bybel twee tekste waarin van die oë van God, en twee tekste waarin van die mond van God gepraat word.

Sondag 10 HK staan apart stil by die Vaderhand van die HERE. As ‘n aanvulling by Sondag 9. Ons het in Sondag 9 bely dat ons hemelse Vader die hemel en die aarde met alles wat daarin is “deur sy ewige raad en VOORSIENIGHEID nog onderhou en regeer”.In Sondag 10 gaan dit nou spesiaal oor die vraag:Wat verstaan ons onder die VOORSIENIGHEID van God?

Terloops: daar is mense wat God Self "DIE VOORSIENIGHEID" noem.Dit is nie reg nie. As die Kategismus van God se voorsienigheid praat, dink hy nie aan God Self nie, maar aan iets wat God doen: Hy voorsien alles wat hier op aarde nodig is. Orals in sy skepping is god se hqande steeds besig.

B. Met sy hande gevou?

Daar is mense wat glo dat God hierdie wêreld wel geskape het, maar dan s¢, dat Hy nou niks meer daaraan hoef te doen nie. Hy kan nou maar in die hemel met sy hande oormekaar gevou sit en toekyk. Kom ons vergelyk dit met ons moderne wasmasjiene: 'n huisvrou hoef soggens maar net die wasmasjien in te stel en aan te skakel; daarna kan sy maar inkopies kan gaan doen of koffie drink sonder om haar wasmasjien verder dop te hou. Die outomaat werk mos sy program op sy eie klaar.

Sommige mense glo dat God op dieselfde manier met sy hande oormekaar gevou sit, nadat Hy die hemel en die aarde geskep het, omdat sy skepping voortgaan danksy natuurwette en allerlei kragte wat God in sy skepping ingebou het. Ons kan hierdie vergelyking selfs nog wel 'n bietjie verder deurvoer:Soos die fabriseerder van 'n wasmasjien maar net sorg dat sy apparaat goed werk, en dit hoogstens nog vir 'n jaar of wat waarborg maar vervolgens die gebruik daarvan aan die huisvroue oorlaat- so sou die HERE ook die gebruik en verantwoordelikheid vir sy skepping aan ons oorlaat. God bemoei Hom nie meer verder met die skepping nie. Hy het sy hande daaraan onttrek.

Lees: Artikel 13 NGB.Wie het volgens hierdie belydenisartikel bostaande opvatting gehuldig? En hoe noem Art 13 NGB hierdie gedagte?

C. Besige hande!

Wie so leer, maak van die HERE 'n ver, afstandelike en vir ons nou magtelose God. Maar die HERE openbaar Homself in sy Woord juis aan ons as die almagtige God wat Hom nog daagliks, ja, van sekonde tot sekonde, met sy skepping bemoei. Hy sit nie in die hemel met sy hande gevou nie. Maar Hy het hier op aarde nog in alles die hand. Hy vorm elke nuwe mensekind met sy hande in die moederskoot: Psalm 139: 13-15.

Ons lees byvoorbeeld van God se hand i.v.m. die uitredding van die volk Israël uit Egipte:Lees:Exodus 3:20 Exodus 7:4,5Exodus 14:8Exodus 15:6,12.

Ons lees van God se hand in die Psalms:Lees:Psalm 10:12 Psalm 21:9 Psalm 31:16Psalm 32:3,4 Psalm 89:14 Psalm 95:4,5

Psalm 109:27 Psalm 138:8 ens.

Die HERE voorsien as ons Hemelvader alle mense op aarde daagliks van alles wat ons benodig.

Sondag 10 HKVraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat alles (: lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank gesondheid en siekte, rykdom en armoede) ons nie per toeval nie maar uit sy vaderhand toekom.

Ons lees selfs op verskeie plekke in die Bybel dat die HERE self nie gebind is aan die natuurwette waaraan Hy sy skepping gebind het nie.

Vraag: Kan jy tenminste ‘n paar voorbeelde in die Bybel noem dat God sy eie natuurwette deurbreek?

D. Kom alle ellende ook uit God se hand?

Maar as die HERE dus alles hier op aarde in die hand het, kom alle lyding waarvan hierdie wêreld vol is dan ook uit sy Vaderhand?!As jou sussie in 'n motorongeluk sterf - moet ons dan sê dit was God se Vaderhand?As een van jou kennisse wreed deur rowers vermoor word - moet ons dan aanvaar dat dit uit God se Vaderhand gekom het?Die moord op soveel mense telkens deur terroriste- was dit God se wil?God is mos nie 'n wrede, grillerige tiran nie?

Dit klink asof ons nou die HERE wil verdedig: Hy sal tog nie so maak nie!

Maar in der waarheid verskoon ons onsself: ons verdien dit nie dat God so maak nie!Kom ons kyk nog 'n keer in die les oor Sondag 4: waarom kom daar ook natuurrampe, ongelukke, oorloë, terrorisme, ja, baie ellende uit sy Vaderhand?

Vraag:Wat het jy in Sondag 9 HK geleer gebeur met die kwaad wat ons Hemelvader in hierdie jammerdal oor ons beskik?

Lees: Hebreërs 12: 7-11. Waarom kan dit goed vir 'n kind wees om 'n pak slae te kry?

E. God hou selfs die duiwel in die hand

Maar wat dan van die duiwel? Kom al die ellende hier op aarde nie van die duiwel af nie?

Vraag:Kyk nog ‘n slag in artikel 13 NGB. Wat bely ons daar oor ons Vader

in die hemel en die duiwels en ons vyande ?

Die duiwel en sy bose geeste is soos perde waarvan God die leisels hou. Sodat hulle niks kan doen nie as God hulle nie die leisels gee nie. Ons sien dit duidelik in die lewe van Job. Dit is die duiwel en sy bose geeste wat verskriklik baie ellende in Job se lewe mag veroorsaak. Maar slegs omdat en sover God

dit toelaat.

Lees: 2 Samuel 24: 1 en 1 Kronieke 21: 1.Wat is die opvallende verskil?Is hierdie twee verskillende beskrywings in stryd met mekaar?

Dit gaan ons verstand te bowe (sien art. 13 N.G.B.) waarom God die duiwel toegelaat het om die mens tot sonde te verlei. Maar dit gee ons onuitspreeklike troos om nogtans te weet dat niks per toeval oor ons kan kom nie, maar dat alles deur die beskikking van ons goeie hemelse Vader oor ons kom.

Ons bid omtrent elke dag die bede uit die "Onse Vader": “En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.."

Het jy ooit nagedink oor daardie woorde? God kán ons dus aan die duiwel se versoeking oorgee, die teuels laat vier en ons in die hande van die duiwel oorgee, maar Hy kan die duiwel ook keer en ons uit sy hande red.

Sondag 10 HK Vraag 28: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees.

Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

F. God se regterhand

Die Bybel praat dikwels meer spesifiek van God se régterhand:

Lees:Eksodus 15: 6, 12 Psalm 89: 14Psalm 138: 7Psalm 139: 10 Jesaja 41: 10

Waarskynlik word dit maar net gedoen omdat die meeste mense veral met hul régterhand besig is.Daardie aanduiding het vir ons egter 'n ekstra betekenis.Immers: Wie sit vandag aan God se regterhand in die hemel? God se groot Seun, ons Verlosser, die Koning van die kerk, mag vandag God se hand lei en stuur. Alles op aarde gebeur vandag om Christus ontwil. Nie net ons hemelse Vader nie, maar ook Christus het alle dinge hier op aarde in die hand.Ons is dus in baie goeie hande!!

G. Huiswerk

Bylae by LES 17 Sondag 10 HK: GOD SE VADERHAND

Stellings om onder bespreking te neem

.

1. Indien God regtigwaar alles bestuur, sou daar nie ’n sondeval gekom het nie.

2. God laat baie in sy skepping aan natuurwette oor: Hy kan Self terugsit.

3. Die ellende in hierdie wêreld kom nie van God af nie, maar van die duiwel.

4. Indien God alles bestuur, het ek nie meer ’n eie verantwoordelikheid nie.

5. Dronk karbestuurder ry ’n kind dood: dit is nie God se skuld nie maar die bestuurder s’n.

6. Wanneer God jou lewe bestuur gaan dit altyd goed.7. ’n Mens kan God se leiding in jou lewe net uit die Bybel aflees.8. Indien God alles bestuur, mag ons die woordjie “toevallig” nie

meer gebruik nie.9. As jy vir’n mens dankie sê, weerhou jy van God die eer.

LES 18 Sondag 11 HK: Jesus, ons heelmeester

A. ‘n Naam: ‘n houvas.

Ons het almal 'n naam. Selfs twee name: 'n voornaam en 'n van.

‘n Naam is 'n onmisbare middel in ons onderlinge verkeer.Jy kan iemand se naam roep as jy sy aandag wil trek.Ek kan iemand se naam noem en almal weet dadelik van wie ek praat al is hy of sy self ook nie aanwesig

nie. 'n Naam maak dus kontak, 'n naam gee herkenningSelfs die naam van 'n mens wat lankal dood is, roep 'n wêreld van herinneringe op. Want 'n mens "maak" tydens sy lewe "naam".

Vraag: Ken jy 'n naam wat by jou aangename herinnerings oproep?En ook 'n naam wat dadelik onaangename gedagtes oproep?

Die Seun van God het na sy geboorte as ‘n mens ook so'n naam ontvang. 'n Heel gewone naam soos al die ander mense. Want Hy het mens onder die mense geword.In hierdie les, oor Sondag 11, kyk ons na spesiaal na daardie naam: JESUS. ‘n Onopvallende naam in Israel. Talle seuns en man het die naam gedra. Ook in sy Naam het Christus sy goddelike grootheid weggesteek.

Vraag:Watter baie meer opvallende naam sou God ook vir sy Seun kon gekies het?

B. Jesus (Grieks), Josua (Hebreeus).

Die naam JESUS is eintlik die Griekse weergawe van die Hebreeuse naam JOSUA. Deur sy ouers, broers en susters ens. is ons Here dus waarskynlik JOSUA genoem, Nie Maria of Josef nie, maar God die Vader self het hierdie naam gekies.

Vraag: Ons lees dit twee keer in die Bybel dat God self die naam vir sy Seun gekies het. Waar?

God het hierdie naam met 'n spesiale bedoeling gekies. Want 'n naam is nie net 'n hulpmiddel in ons onderlinge verkeer om mekaar te kan roep of te kan herken nie;meestal het 'n naam boonop ook 'n betekenis. 'n Naam kan ook iets sê oor die persoon. Soms word vanweë 'n heel spesiale rede 'n naam aan 'n kind gegee.

In die bybel staan daar talle name met 'n spesiale betekenis:

Isak: ............................................ Benjamin: ............................................

Moses: ...........................................

Samuel: ..........................................

Petrus: ..........................................

Vraag:Weet jy wat jou eie naam beteken? Ken jy mense wat 'n naam met 'n spesiale betekenis dra?

Die HERE het vir sy Seun die naam JOSUA/JESUS gekies omdat dit beteken: DIE HERE GEE HEIL. Ons vind daardie betekenis nog terug in die naam wat mense vroeër dikwels vir die Here Jesus gebruik het: HEILAND. Daardie naam beteken soiets soos: Hy wat heil bring.

Maar wat bedoel ons met die wordjie ‘heil’? Dit is afkomstig uit die Duits. Daar ken hulle die werkwoord heilen, wat heelmaak,genees, weer gesond maak beteken. Maar ons ken dit ook in Engels: healing,‘Heil’ beteken dus: Die lewe word weer heel, weer gesond gemaak.En ons sou die benaming Heiland dus met Heelmeester of Dokter kon vertaal.

Dus:HEILAND -----> HEELMEESTER -----> DOKTER.

C. Heelmeester Jesus.

Só het die Israeliete Jesus leer ken. So het Hy homself bekendgestel.

Lees:Matteüs 9: 11, 12

Hy het naam gemaak as die dokter wat selfs die ergste siektes kon genees. Hierdie dokter kon selfs iemand uit die dood terugbring!

Vraag: Kan jy 5 besondere genesings deur Jesus noem?

Maar hoé genees hierdie Dokter??Dit word baie mooi duidelik is die bekende geskiedenis van Markus 2: 1-5 Daar is 'n aantal mense wat hul verlamde vriend na Jesus toe bring. Hulle verwag: Jesus kan hierdie man van sy verlamming verlos. Maar waarvan verlos dokter Jesus hom eerste?

Wat dink hy wil Jesus daarmee aan daardie man, aan sy vriende en aan ons almal leer?God se Seun het aarde toe gekom om as dokter nie net ons buitekant weer gesond te maak nie. Hy begin aan die binnekant, by ons sondige hart. DIE VERGEWING KOM EERSTE, DAARNA DIE GENESING.

Vraag:Hoekom hierdie volgorde?

Sondag 11 HK Vraag 29: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat heelmeester/dokter beteken?

Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sóndes verlos en by niemand anders daardie genesing te soek of te vind is nie.

D. Genesing geweier .

Oor hierdie rede het baie Jode Jesus egter verwerp! So 'n dokter het hulle nie gesoek nie.Eers roep hulle nog: "Hosanna!" (Matteüs 21: 9). 'n Paar dae later roep hulle egter: "Kruisig Hom".

Terloops: Weet jy wat "Hosanna" beteken? Daardie Hebreeuse woord is van dieselfde werkwoord afgelei as die naam Josua. Daardie naam is uitgespreek as Jehosjua.En Hosanna as Jehosjuanna"Jehosjuanna" beteken: "Ag HERE, gee tog heil “ (sien: Psalm 118: 25)Jehosjua/Jesus was God se antwoord op hierdie smeking van sy volk: "Die HERE géé heil!”Nogtans het hulle Hom as dokter afgewys. Hulle wou hul lewe nie laat heelmaal op Jesus se manier nie.

Vraag:Watter heil dink jy het die Jode gesoek?

Verval ons ook nie maar dikwels in dieselfde fout as die Jode nie? Soek ons ook nie dikwels in die eerste plek ‘n lewe waarin daar geen siektes meer is nie, geen hartseer, geen armoede, geen oorloë...

E. Onderwerp jou aan sy mes.

Hoe dom en kortsigtig is ons dan!Ons is dan soos mense met 'n dodelike kwaal wat by hulle dokter maar net elke keer 'n klomp pynpille kom haal, terwyl alleen 'n ingrypende operasie ons nog kan red.Jesus het nie sulke pynpille nie.Hy is 'n chirurg wat met sy mes diep sny. Hy soek die diepste kwaaddoener in ons lewe: die sonde.

Vraag: Wat is die mes waarmee Jesus ons opereer? Sien Hebreërs 4: 12.

Aanvanklik lyk dit asof Jesus se werkwyse glad nie so effektief is nie. Dit vra baie geduld van 'n mens. En dit veroorsaak, soos koors, 'n stryd in jouself.Maar dit is die enigste manier om weer gesond te word voor God.

Daarom moet ons ons heeltemal aan Hom uitlewer.Nie terselfdertyd ook probeer om sélf te dokter nie: "Ek kan myself wel oppas. Wag maar, ek sal regkom! ens."

Ons moet ook nie ons probleme in die lewe uitmekaar trek en Jesus se hulp slegs vir die "geestlike lewe" inroep terwyl ons vir die res allerhande ander hulpverleners soek nie.

Vraag:In watter soort heelmeesters stel baie mense hul vertroue?

F. Alles of niks

Wie so maak, ken nie regtig vir Jesus nie. Dié sal ook nie deel in die heil van Jesus nie!Die Kategismus sê:

Sondag 11 HK Vraag 30 Glo dié mense wat hulle saligheid by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste heelmeester Jesus?

Antwoord: Nee, maar hulle verloën Hom met die daad alhoewel hulle met die mond in Hom roem. Slegs een van twee dinge is immers moontlik: óf Jesus is nie 'n volkome geneesheer nie, óf dié wat hierdie dokter met 'n ware geloof aanneem, het in Hom álles wat vir hulle ewige genesing nodig is.

Dit is dus alles of niks by hierdie dokter. Jy sal jou heeltemal aan sy diagnose en terapie moet onderwerp. En jou dus eers deur Hom van jou sondeskuld moet laat verlos.Maar as jy so maak en danksy Hom vergewing kry, waarborg die vergewing wat Hy vandag al skenk, dat daar eendag ook 'n totale genesing sal volg!

G. Huiswerk.

LES 19 Sondag 12 HK: Christus gee weer geur aan die lewe

A. Ruik

Jy ken seker maar die gesegde: “Ek kon dit tog nie ruik nie?”Kan ander mense aan jou ‘ruik’ dat jy ‘n christen is? Waaraan kan hulle dit ‘ruik’?Hierdie les gaan daaroor.

In die vorige les het ons gefokus op die naam wat God vir sy hemelse Seun gekies het toe dié as ‘n mens aarde toe gekom het: Jesus, of Josua.Maar ons noem Hom meestal met twéé name: Jesus Christus.

Sondag 12 van die Kategismus gee nou aan daardie tweede naam spesiale aandag.

Is dit 'n tweede voornaam?Dan is dit egter eienaardig dat in die Bybel die twee voorname dikwels ook in omgekeerde volgorde staan: bv. Romeine 6: 11, 23; 1 Korintiërs 1: 4.Of is Christus miskien Jesus se van? Maar dan is die omgekeerde volgorde nog steeds snaaks.Nee, Christus is sy titel, die aanduiding van sy amp. Soos ons in ons samelewing ook mense ken wie se ampstitel ons gewoonlik saam met hul naam noem.

Vraag:Kan jy daarvan drie voorbeelde gee?

B. Gesalfde.

Jesus se ampstitel het iets met ruik van doen. Want weet jy wat die naam Christus beteken?Dit is die Griekse woord vir gesalfde. Iemand wat met olie gesalf is.Dalk het jy al die Hebreeuse woord vir gesalfde gehoor: messias. Christus is in die Bybel maar net ‘n Griekse vertaling vir messias. Maar as ons dit in Afrikaans vertaal, kry ons: gesalfde.Dus:Hebreeus: MessiasGrieks: ChristusAfrikaans: Gesalfde.

Opdrag:Lees ‘n slag hardop Johannes 7: 25-27, 31 en 40-42. En lees dan elke keer ‘Messias’ pleks van ‘Christus’. Daarna lees jy dit nog ‘n keer, en nou met ‘Gesalfde” pleks van ‘Christus’.

Die woord gesalfde dui ‘n persoon aan wat deur God tot ‘n spesiale amp geroep en met ‘n heilige salfolie in sy amp bevestig is. Daar was in die tyd van die Ou Testament net drie ampte waarvoor dit gegeld het.

Vraag:Weet jy watter drie ampte dit was? Sien: Exodus 28: 41 en 29: 7, 1 Konings 19: 16 en 1 Samuel 10: 1 en 16: 13

C. Geurige olie.

Hoekom het die HERE vir daardie olie gekies as ‘n inwydingsritueeel vir daardie klas ampsdraers? Ons weet dat dit ‘n aanduiding was van die Heilige Gees wat so ‘n geroepe ampsdraer kom vervul en vir sy amp bekwaam het.Maar hoekom het God ólie gekies as ‘n simboliek vir die Heilige Gees?

Jy kan verskeie verklarings daarvan lees: olie is gebruik as ‘n medisyn om wonde te behandel. Die ampsdraer

sou op vyandigheid kon stuit, maar die Gees sou hom elke keer deurhelp;

olie is gebruik om jouself op te fris. Die Heilige Gees sou ‘n ampsdraer wat moedeloos begin raak het, elke keer weer opfris;

olie is gebruik om lampe te laat brand. Die Heilige Gees was die ‘brandstof’ om die ampsdraer tot ‘n lig vir sy omgewing te maak;

olie is gebruik in die bereiding van kosse. Die Heilige Gees sou die ampsdraer tot voedsame kos vir God se volk maak.

Al hierdie verklarings is egter maar net raaiskote, terwyl dit glad nie nodig is om te raai nie. Want kom ons lees die hoofstuk in die Bybel waar ons die eerste keer oor daardie spesiale salfolie lees.

Lees:Exodus 30: 22-25. Kenmerkend vir daardie spesiale salfolie was, dat dit geurig moes wees. Dit moes ‘n heerlike geur versprei. Dit was ‘n soort van parfuum. Of ‘n soort van lugverfrisser soos ons dit in toilette gebruik

Lees:Exodus 30: 26-29.

Daardie spesiale parfuum is dus nie direk aan ménse toegedien nie. Die HERE het allereers sy heiligdom, die tabernakel en later die tempel, met sy inhoud daarmee laat salf. Dit moes in sy hele huis heerlik ruik! Daardie heerlike geur was ‘n veelseggende simboliek: orals in hierdie wêreld stink dit. Dis verstikkend! Bose, duiwelse geeste verpes die atmosfeer. Net

in die HERE se huis kan ‘n mens nog (of: weer) ruim asemhaal. By Hom heers die Héilige Gees.

Lees:Exodus 30:32-33Die geur wat in die HERE se huis gehang het was so spesiaal dat niemand dit vir homself of vir iemand anders mog gebruik nie! Ons kan nooit op ons eie, los van die HERE, die ‘lugbesoedeling’ deur die duiwel en sy onreine geeste ioruim nie.

D. Geurige personeel.

Lees: Exodus 30: 30Met dieselfde geurige salfolie moes toe vervolgens ook die personeel in God se huis, die priesters, gesalf word. Hulle was deur die HERE in diens geneem om as 't ware die heerlike geur vanuit God se huis na buite toe te bring, in 'n samelewing waar alles gestink het van die sonde. Hulle moes, vervul met God se Gees, die bose geeste verjaag en dit vir ander mense leer dat ‘n mens net by die HERE en sy huis asem kan skep.Later is ook profete en konings met dieselfde geurige salfolie gesalf.

Lees: 1 Konings 19: 16, 1 Samuel 16:13 en 1 Konings 1:39

By die salwing van Salomo tot koning, kom ons weer agter dat die priester Sadok die horing met olie "uit die tent", dus: uit die tabernakel, die HERE se huis, moet haal. Dáár is daardie spesiale parfuum berei en gebêre.

Alhoewel daar dus drie onderskeie ampte was het aldrie aan een en dieselfde doelwit gewerk: die geur van God se heilige nabyheid moes die hele lewe deurtrek.

Vraag:Hoe moes die priesters daaraan gewerk? En die profete? En die konings?

E. Teleurstellende personeel.

Die triestige rooi draad deur die OT is egter dat al die messiasse, die christusse, die gesalfdes wat daar in die Ou Testament was, dit nie reggekry het om die ‘stank’ van die sonde te oorwin nie. Hulle kon nie eers in hul eie lewe van die sonde ontslae raak nie! Heelparty het selfs pleks van om die verstikkende geur van die sonde te help oorwin, daardie stank nog verder help versprei!

Vraag:Kan jy voorbeelde noem van slegte priesters, vasle profete en goddelose konings?

Daarom moes daar 'n béter Messias, 'n béter Christus, 'n béter Gesalfde kom. 'n Volmaakte Profeet, Priester en Koning wat aldrie die ampte tegelyk sou vervul en uiteindelik die geur van God volkome terugbring op aarde. Sy koms is in die Ou Testament herhaaldelik aangekondig:

Die beter Priester: Psalm 110: 1 en 4. Vgl Hebreërs 5: 5, 6 Die beter Profeet: Deuteronomium 18: 15 en 18. Vgl

Handelinge 3: 22-24 Die beter Koning: Psalm 89: 4,5 . Sagaria 9: 9, Vgl Johannes

12:15

Vrome Israeliete het ook al hoe meer na die Christus/gesalfde begin uitsien.

Vraag:Onthou jy nog hoe die Jode onder mekaar oor Jesus gepraat het in Johannes 7

F. Jesus, die Christus .

Die Jesus, die Seun van God, is hierdie volmaakte Priester, Profeet en Koning. God het sy eie Seun in die wêreld gestuur. Die Here Jesus is ook met die Heilige Gees gesalf. Maar dié keer was die simbool nie meer die heilige olie nie, maar 'n duif: Matteüs 3: 16,17. ‘n Herinnering aan die duif wat Noag uit die ark losgelaat het en wat ‘n teken van nuwe lewe na die sondvloed kom bring het? Of ‘n verwysing na ‘n offerdier (Levitikus 1: 14): hierdie volmaakte Ampsdraer het gekom om Homself te offer vir die skuld van sy volk? Hoe sit ook sy, Hy het die mag van die duiwel en sy

onreine geeste verbreek en vir almal wat in Hom glo ‘n lewe oopgemaak waarin jy weer ruim kan asemhaal.

Sondag 12 HK Vraag 31: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?

Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is tot ons hoogste Profeet en Leraar, tot ons enigste Hoëpriester, en tot ons ewige Koning, As Profeet het Hy aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak. As Priester het Hy ons met die enigste offer van sy liggaam verlos en tree Hy met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons in;

As Koning regeer Hy ons met sy Woord en Gees en beskerm en bewaar Hy ons by die verlossing wat Hy vir ons bewerk het.

G. Ons is ook gesalfdes.

Onthou jy nog die vraag aan die begin van hierdie les: kan mense dit ruik dat jy ‘n christen is?Het jy al ooit daaroor nagedink wat daardie benaming beteken: christen? Jy dra dieselfde ampstitel as die Here Jesus! Jy is nou ook ‘n gesalfde.

Lees:Psalm 133: 2. Wat het gebeure met die reukolie wat van Aäron se kop afgeloop het?

Almal wat in Christus as die beloofde redder glo, word by Hom ingelyf. Ons het dit al geleer in Sondag 7 HK. ‘n Gelowige behoort voortaan by Jesus, soos die liggaamsdele by die Hoof. En soos by Aäron loop as ‘t ware ook by Jesus die reukolie van die kop af ondertoe, oor die hele liggaam. Die Gesalfde laat ons deel in die salwing waarmee Hy gesalf is, sodat al die liggaamsdele ook gesalf word. Met ander woorde: die Heilige Gees wat Hom vervul, vervul ook ons.

In die Ou Testament was die Heilige Gees slegs in 'n beperkte mate aanwesig. Daar was maar ‘n geringe aantal priesters, profete en konings. En selfs van daardie mans moes die Heilige Gees Homself dikwels, vanweë hul sondes, weer terugtrek. Maar nou dat die gesalfde Jesus die mag van die sonde gebreek en ons met God versoen het, kan Hy die Heilige Gees in volheid aan ons gee. Saam met Jesus is ons nou almal gesalfdes.Die mense het dit na Pinkster ook al gou ‘geruik’. Terwyl hulle aan Jesus tydens sy lewe op aarde die naam Christus nie wou toeken nie, het hulle wel sy volgelinge Christene genoem (Handelinge 11: 26). Dit was aanvanklik heel waarskynlik 'n skeldnaam en 'n spotnaam gewees, maar dit het tog bewys dat die Gees van Christus dermate in die lewe van sy volgelinge deurgewerk het dat dit ooglopend was.

H. Hoe ‘ruik’ ons?

Lees:2 Korintiërs 2: 14-16.

Daar is vertalings wat in vs 15 praat van ‘wierook wat vir God gebrand word’, maar dit staan nie so in die Griekse teks nie. Daarin word van “’n aangename geur van Christus (= die Gesalfde)”. En dan kan jy maar dink aan die reukolie waarvan ons in Exodus 30 gelees het. Ons versprei as christene/gesalfdes nou saam met Christus die aangename geur van God in hierdie wêreld waarin die nog ruik na die duiwel.

Vraag:Nie almal sal positief op die geur van Christus reageer nie. Watter gevolge kan volgens 2 Korintiërs 2: 16 daardie geur ook hê?

Sondag 12 HK Vraag 32: Waarom word jy 'n christen genoem?

Antwoord: Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing het, sodat ek:

as profeet sy naam kan bely,

as priester myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy,

en as koning in hierdie lewe met 'n vrye en goeie gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna in ewigheid saam met Christus oor alle skepsele kan regeer.

Opdrag: Bespreek (eventueel in groepies) hoe jy vandag klaar besig is

om die stank van die sonde teë te gaan as: - profeet/profetes

- priester/priesteres - koning/koningin

Bespreek vervolgens hoe jy dit nog meer sou kon doen. Bespreek ook of daar dalk dinge in jou lewe, in julle gemeente

se lewe is wat vir buitestanders ‘n ónaangename geur versprei.

Die Kategismus sê jy mag met 'n vrye gewete teen die sonde veg.Ook in jou eie lewe is daar nog reste van die sonde, dit ‘stink’soms ook nog daarvan. Tog mag jy 'n vrye gewete hê. Die duiwel kan jou nie meer daaroor aankla nie. Want Christus is dit wat jou sondes en swakhede met sy sondeloosheid en krag bedek.

I. Huiswerk

.

LES 20 Sondag 13 HK: Christus, ons Broer en ons Heer

A. Broer?

Mag ons die Heer Jesus Christus “ons broer” noem? Mense verskil daaroor van mening. Hoe voel jy daaroor?

Lees:Markus 3: 31-35 en Hebreers 2: 11-12.

Jesus het egte (half)broers en susters gehad. Hulle het dieselfde Ma gehad. Tenminste twee van hulle het na sy terugkeer na die hemel ‘n belangrike posisie in Jesus se gemeentes gekry: Jakobus en Judas. Altwee het ‘n brief geskryf wat in die Nuwe Testament bewaar is. Kyk bietjie hoe hulle hulself bekendstel aan die begin van hul brief. “Ek is ‘n (half)broer van Jesus die Gesalfde”?Jesus het wel ons Broer geword. Maar dit bring nie mee dat ons Hom nou ook in alle opsigte as ‘n broer kan aanspreek en behandel: heeltemal aan ons gelyk nie.

B. Die natuurlike kind en aangenome kinders.

In die Apostoliese Geloofsbelydenis noem ons Jesus “God se eniggebore Seun”. Oor daardie benaming gaan hierdie les. En dan benadruk ook die Kategismus die groot afstand wat daar steeds tussen die Here Jesus Christus en ons is, al het Hy ook ‘n mens geword en noem Hy ons ook sy broers en susters.

Sondag 13 HK Vraag 33: Waarom word Christus die eniggebore Seun van God genoem, terwyl ons tog ook kinders van God is?

Antwoord: Omdat alleen Christus die ewige natuurlike Seun van God is, terwyl ons om sy ontwil uit genade tot kinders van God aangeneem

is.

Die groot verskil tussen God se eniggebore Seun en ons is:

HY ONS

God, een in wese met die Vader, mens, skepsels van die Vader.van nature God se Seun, tot kinders van God aangeneem.van ewigheid God se Seun, eendag God se kind geword.

C. God se enigste Seun: die bewys van sy liefde!

Nogtans wil die benaming "eniggebore Seun van God" vir die Here Jesus nie net die groot afstand tussen Hom en ons benadruk nie.Dit is Jesus Self wat hierdie benaming een dag gebruik het. In ‘n gesprek wat Hy met die Skrifgeleerde Nikodemus gehad het.

Lees:Johannes 3: 16

Toe Jesus hierdie aanduiding vir Homself gekies het, wou Hy daarmee veral duidelik maak hoeveel dit ons hemelse Vader werd was om ook óns as sy kinders te kan behou!"Eniggebore" beteken: God het maar net een so ‘n Seun!

Die HERE het dit eendag van Abraham gevra om sy seun "sy enigste, wat hy liefhet" (Genesis 22: 2, 16) aan Hom te offer. Abraham was bereid om dit te doen, maar die HERE het hom op die laaste oomblik gekeer. So 'n groot offer wou Hy van Abraham nie vra nie.

Maar dit wat Hy Abraham nie wou aandoen nie, het Hy Homself wel aangedoen: Hy het ons só liefgehad dat Hy sy enigste Seun, op Wie al sy liefde gekonsentreer was, op die ou end nie gespaar het nie, maar ter wille van ons opgeoffer het. Toe Hy Hom aarde toe, en kruis toe, ja, hel toe gestuur het, het God dus alles gegee wat Hy kon gee.

Dit is die klank van daardie opvallende benaming: "eniggebore Seun": kyk hoe groot en verregaand is God se liefde vir mensekinders wat hul rug op Hom gedraai het!

Die dissipel Johannes was getuie van Christus se gesprek met Nikodemus. En hy het die veelbetekenende klank van in Jesus se selfbenoeming verstaan. Dis dié dat ons hierdie benaming vir Jesus net by Hom raakloop. Hy het dit tot die uitgangspunt van sy Evangeliebeskrywing gemaak:

Lees:Johannes 1: 14 en 18

Ook in Johannes se eerste brief kom dié benaming nog 'n keer terug. En moet maar kyk, Johannes het verstaan dat die aanduiding “eniggebore Seun” alles met God se liefde te make het.Lees: 1 Joh 4: 9 en 10

D. God se enigste Seun: die laaste uitweg!

Johannes het uit Jesus se gesprek met Nikodemus tegelyk verstaan: hierdie Jesus is dus die laaste redmiddel wat God aan die wêreld voorhou!!

Lees: Numeri 21: 4-9 en Johannes 3: 16-18 en 36

Toe Moses tydens die woestynreis van God se volk ‘n koperslang gemaak en op ‘n stok omhooggehou het, was God se oordeel al besig om die Israeliete met die dood te straf. Slegs deur hul vertroue op daardie koperslang te stel, kon die wat nog geleef het gespaar bly. Dit was hul laaste uitweg.God se eniggebore Seun is nou óns ‘koperslang’. ‘n Nog baie groter blyk van God se geduld en vergewende liefde. Toe God op die ou end sy eniggebore Seun gegee het, het Hy alles gegee wat Hy kon gee. Sy liefde het sy grens bereik. Hierdie Seun is nou regtig die allerlaaste uitweg. Dié wat selfs die eniggebore Seun van die Vader nog durf te verwerp, en dus die hoogste blyk van sy liefde durf verag, verwerp alles. Dié verwerp die ewige lewe!

E. Wee jou as jy die Seun afwys.

God se eniggebore Seun het hierdie waarskuwing later ook nog ‘n keer in 'n gelykenis laat hoor.

Lees:Markus 12: 1-8

Vraag: Wat soek God uit ons lewe? God het vroeër ook al knegte gestuur. Wie? Ken jy knegte van God uit die OT wat deur God se volk

doodgemaak is? Hoe noem Christus in vs 6 die seun wat op die ou end gestuur

word? Wat maak God as selfs sy Seun verwerp word?

F. Die eniggebore Seun: genade.

Ons hemelse Vader wou nie net so ver gaan dat Hy sy enigste en geliefde Seun vir ons oorgegee het nie. As Hy ons wou red, moes Hy ook so ver gaan!! Alleen sy hemelse Seun kon ons nog uit die heerskappy van die duiwel verlos en die mag van die sonde verbreek. Slegs Hy kon ons weer tot God se kinders maak.

Ons het reeds in Sondag 5 en 6 van die Kategismus geleer waarom ons Verlosser ware God moes wees.

Lees:Sondag 5 en 6 HK, vraag en antw 15-17

Ons het deur ons opstand teen God so 'n kloof tussen Hom en ons geslaan, dat ons dit sélf nooit meer kon oorbrug nie.Die mens het dit sinds die sondeval wel aanhoudend probeer, maar dit is 'n onmoontlikheid. Selfverlossing sal nie werk nie.

Vraag: Kan jy voorbeelde noem van mense wat dit probeer het en vandag steeds probeer?

Pleks dat ons van ons eie weer na die hemel kan opklim, moes God se enigste Seun vanuit die hemel na die aarde neerdaal. En in ons plek in die hel neerdaal. Met ander woorde, God Self moes ons kom verlos. En dus is ons kind-wees van Hom die ene genade.

G. Die Seun en die Vader is een.

Die apostel Johannes het dit tot die tema van sy Evangeliebeskrywing gemaak: Jesus van Nasaret is die eniggebore Seun van God, Self God saam met die Vader. Hy moes uit die hemel neerdaal om as die Lam van God die sonde van die wêreld weg te neem. Dit is die rooidraad deur sy boek. Hieronder word daarvan talle voorbeelde genoem. Jy kan by die huis op jou eie tyd ‘n keer daardeur gaan.

Joh 1:1,2,14; 1:18; 1:34; 1:50Joh 3:13-18; 3:31-36Joh 5:18 e.v.Joh 6:38,41; 6:69Joh 8:19,23Joh 9:35-39Joh 10:30-33

Joh 12:44,45Joh 14:7-11 Joh 16:15, 28-30 Joh 17:1-8Joh 19:7Joh 20:28

H. Arius

Die duiwel het regdeur die kerkgeskiedenis probeer om die geloof van God se volk in 'n Verlosser wat uit die hemel moes neerdaal, te ondergrawe. Reeds in die eerste eeue na Pinkster moes die kerk walgooi teen die dwalings van die ketter ARIUS.

Ar¡us was 'n ouderling in Alexandrië in die 4de eeu. Hy het geleer: die Seun het wel alreeds voor die skepping van die wêreld bestaan, maar Hy is nie God wat van ewigheid af bestaan nie. Hy is die eerste en hoogste skepsel van die Vader en bly as sodanig aan die Vader ondergeskik.

As die hoogste mens het Hy die pad na die verlossing gebaan. Sy ménslike krag was daarby deurslaggewend.Ook Arius het dus 'n vorm van selfverlossing geleer.Terwyl die Evangelie ons leer dat ons slegs DEUR GENADE verlos word.

Vraag: Watter twee Belydenisskrifte het ons aan die stryd teen Arius se dwaalleer te danke? Een van daardie twee is 'n uitbreiding op die Apostoliese Geloofsbelydenis. Op watter punte is daardie een uitgebreider?

I. Die eniggebore Seun is ons Heer.

God se Seun het ons nie kom verlos sodat ons nou weer op ons eie kan aangaan nie. Ons sal nooit meer sonder Hom kan regkom nie. Daarom het Hy ons tot sy eiendom gemaak. Hy het daarvoor die hoogste prys betaal: sy kosbare bloed!Opdrag:Lees nog ‘n keer hoe de Kategismus dit al dadelik in die eerste vraag en antwoord bewoord het.

Ons Broer is nou ons Heer/Eienaar. Ons was slawe van die duiwel, ons het knegte van Christus geword. Maar knegte wat Hy sy vriende noem!

Lees:Johannes 15: 14, 15Wat is wel die voorwaarde om deur Jesus as sy vriend(in) beskou te word?

God se Seun mag nou as ons Heer die wet voorskrywe. Hy skryf ons sy en ons Vader se wet aan ons voor! En Hy vra volkome gehoorsaamheid.

Lees:Romeine 1: 5 en 16: 26Paulus se opdrag was nie maar net om heidene tot geloof te bring nie. Paulus omskryf dit net effens anders. Hoe?

As ons Hom dus ons Heer Jesus Christus noem, erken ons daarmee sy eiendomsregte oor ons. Vader se eiendomsregte. En dan ontworstel ons aan die eiendomsregte wat die duiwel nog wil laat geld.

Lees:Romeine 6: 16-19Wanneer Paulus skryf oor ons ‘lede’, bedoel hy ons oë, ore, mond, hande, voete, geslagsorgane... Probeer om dit konkreet te maak hoe jy jou nuwe Eienaar daarmee kan dien.

Ons nuwe Heer eis ons dus volledig op. Maar as ons besef hoeveel Hý bereid was om vir óns te doen-en as ons besef hoe 'n groot liefde van God vir ons daarin sigbaar geword het,wil ons tog ook niks anders nie as om voortaan aan hierdie Heer gehoorsaam te wees?

Lees:Matteüs 7: 21Dit is dus nie genoeg om Jesus maar net jou Heer te nóem nie. Jy sal ook die daad by die woord moet voeg.

Sondag 13 HK Vraag 34: Waarom noem jy Hom ons Here?

Antwoord: Omdat Hy ons na liggaam en siel, nie met goud of silwer nie, maar met sy kosbare bloed, van die sonde en uit die heerskappy van die duiwel vrygekoop het en ons so tot sy eiendom gemaak het.

J. Huiswerk.

LES 21 Sondag 14 HK: Immanuel – God met ons

A. Maria.

Hoe belangrik was, en is steeds, Jesus se moeder Maria? Volgens die Roomse kerkleer het Maria na Jesus se geboorte nie seksuele gemeenskap met Josef , en dus ook nie nog anders kinders gehad het nie. Hulle lei dit af uit Matteüs 1: 25.

Vraag: Dink jy daardie afleiding is tereg? Onthou jy nog wat ons is die vorige les bespreek het oor

boeties en sussies van die Heer Jesus?

Volgens die Roomse leer het Maria nes Jesus ook na de hemel opgevaar en neem sy daar nou onder die heiliges die vernaamste plek in. Jy weet dalk dat Rooms Katolieke christene daagliks vir Maria bid: “Heilige moeder van God, bid vir ons!”.In die buiteland is daar Rooms katolieke kerkgeboue met ‘n aparte kapelletjie waarin vir Maria kersies gebrand word. Aan die wand is daar talle teëltjies met tekste soos: “Baie dankie Maria, moeder van God!”, of: “Maria het ons gehelp”.Is dit nie te veel eer vir Maria nie? Kom haar Seun nie enigsins in haar skaduwee te staan nie?

B. God se Seun het mens geword.

Ons het vanaf Sondag 11 vier name vir ons Heiland bespreek:JesusChristusGod se eniggebore seunons Heer.

Die Bybel noem nog 'n vyfde naam. Dié naam word in die Apostoliese Geloofsbelydenis, en daarom ook in die Kategismus nie genoem nie. Wel in 'n ander Belydenisskrif.

Lees: Nederlandse Geloofsbeydenis, art 18 die laaste gedeelte.

Hoe word God se Seun aan die einde van hierdie artikel genoem?

Waar lees ons hierdie naam in die Bybel? Dit is 'n mooi naam.

Die eniggebore Seun van God het mos, behalwe die sonde, mens soos ons almal geword. In alles aan ons gelyk. In hierdie les oor Sondag 14 van die Kategismus kyk ons spesiaal na hierdie menswording van God se Seun.

Sondag 14 HK Vraag 35: Wat beteken dit dat God Se seun: ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria?

Antwoord: Die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is en bly, het die ware menslike natuur aangeneem uit die vlees en bloed van die maagd Maria, deur die werking van die Heilige Gees. So het Hy ook die ware nakomeling van Dawid geword, in alles aan sy broers gelyk, behalwe die sonde.

C. God se Seun het self sy ma gekies.

Niemand van ons het sy eie moeder gekies en sy eie geboorte gereël nie. Ons wás eenvoudig nie daar voor ons ontvangenis en geboorte nie. Christus was egter ook sy geboorte in Betlehem daar!Maria se Kind is nie verwek omdat ‘n man en ‘n vrou na ‘n kind verlang het nie (vergelyk Joh 1: 13). Hierdie Kind is verwek omdat Hy dit self so wou gehad het. Hy wat alreeds die ewige Seun van God in die hemel was, het self 'n moeder op aarde gekies om haar seun te word. Hy het bewustelik ons menslike natuur aangeneem.

Geen saad van 'n man het hierdie Kind in Maria se skoot verwek nie. Sonder geslagsverkeer met 'n man het Maria swanger geraak. Ook sonder kunsmatige inseminasie. Sonder verwekking in 'n proefbuis.

Die Heilige Gees van God het hierdie Kind in Maria se skoot laat groei.Want ons Verlosser moes wel 'n egte mens wees.Maar Hy moes terselfdertyd 'n mens sonder sonde wees.En vanaf die sondeval kan ons mense nog slegs sondige kinders verwek en ter wêreld bring.

Vraag: Hoe lui die eerste sin van ons Doopsformulier? En hoe lui die eerste vraag aan die doopouers?

Maria se seun was na Adam die eerste mens wat weer sonder enige sonde in die wêreld gekom het. God en mens terselfdertyd.

D. God en mens tegelyk.

Ons Heer Jesus Christus het soos ons almal 9 maande in ‘n moederskoot gegroei. En toe Maria se tyd gekom het (Lukas 2: 6) is Hy op die gewone manier gebore. Maria het Hom geborsvoed. Hy het sy eerste woordjies leer praat, Hy het rondgekruip, die eerste wankele treetjies leer loop, met sy boeties en sussies gespeel, skool toe gegaan.... Hy was kind onder die kinders, mens onder die mense. Hy het geslaap, geëet, gehuil...... Hy was in alles ‘n gewone mens

Vraag:Waar lees ons in die Bybel dat die Heer Jesus geslaap het? Dat Hy geëet het?Dat Hy dors was?Dat Hy uitgeput was?Dat Hy gehuil het?

Maar tegelykertyd was Hy steeds heeltemal God. Alhoewel Hy sy God-wees meestal weggesteek het agter sy mens-wees, het sy goddelikheid ook heel wat kere vorendag gekom.

Vraag:Kan jy ‘n paar voorbeelde noem dat die mens Jesus terselfdertyd ook sy goddelikheid gewys het?

E. Heeltemal God en heeltemal mens.

Daar het dus ‘n unieke Persoon op aarde rondgeloop toe God se Seun as tegelyk ook ‘n mens in Israel geleef en gewerk het. Steeds heeltemal God maar nou ook heeltemal mens.

Dit is vir ons beperkte en deur die sonde verduisterde menseverstand onmoontlik om te verstaan : God en mens in een Persoon. Dit was op ‘n stadium in die kerkgeskiedenis daarom ‘n groot strydpunt. pogings onderneem om dit verklaarbaar te maak.

In die 5de eeuw was daar 'n leraar NESTORIUS wat geleer het dat daar nie ‘n volledige saamgaan van God en mens kan gekom het nie. Want is dit nie onmoontlik dat God-wees en mens-wees volledig kan saamgaan in een Persoon nie. Kom ons vergelyk dit met olie en water: daardie twee bly mekaar afstoot. So het in Jesus sy Godheid en sy mensheid wesenlik van mekaar geskei gebly. Jesus was volgens Nestorius daarom nie die ewige natuurlike Seun van God nie, maar slegs 'n mens wat deur God as sy Seun aangeneem is en spesiale gawes van Hom ontvang het. (Ons noem dit daarom: die leer

van die adoptianisme)

In dieselfde eeu was daar 'n ander leraar, EUTICHES, wat presies die teenoorgestelde geleer het. Toe die ewige Seun van God mens geword het, het die god-wees en die mens-wees in Jesus in so 'n mate vermeng, dat daar een nuwe natuur ontstaan het: ’n mengvorm. Kom ons vergelyk dit met ‘n glas wat vir die helfte met water en vir die ander helfte met wyn gevul word. Nou is dit nie meer water nie, en ook nie meer wyn nie. So het die godheid van Christus en sy mensheid ook geheel en al vermeng geraak.

Albei leraars is deur die EKUMENIESE KONSILIE VAN CHALCEDON IN 451veroordeel. Dié Konsilie het uitgespreek:die twee nature in die een Persoon van Christus (Goddelik en menslik) isON-GEDEELD EN ON-GESKEI (teen Nestorius), want ons Verlosser moes volkome mens én volkome God terselfdertyd wees. (sien Sondag 6 HK vr en antw 16 en 17).Terselfdertyd het die Konsilie uitgespreek dat die twee nature in ChristusON-VERMENG EN ON-VERANDERD (teen Eutiches), want ons Verlosser het heeltemal God gebly, maar moes ook volkome mens word om ons Middelaar by die Vader te kan wees.

Kyk mooi na hierdie uitspraak: die Konsilie het slegs teenoor die dwalinge uitspreek hoe dit nié is nie. Daar is nie ook ‘n uitspraak gedoen oor hoe dit

wél is nie. Die Konsilie het beskeie gebly: dit bly vir ons 'n geheimenis wat ons verstand te bowe gaan!

F. God se Seun het ‘n seun van Dawid geword.

God se Seun het mens geword om as mens onder die mense te leef in 'n wêreld waarop God se vloek rus. En Hy moes as mens onder die mense sterf om ons van dié vloek te verlos.Daarom het Hy wel 'n gewone ma gekies, maar tog ook 'n besonderse ma. Maria het, deur haar verlowing met Josef maar misskien ook wel deur haar eie ouers, tot die familie van koning Dawid behoort.God se eniggebore Seun het opsetlik oor hierdie rede hierdie ma gekies.Hy wou naamlik familie, en opvolger word van koning Dawid. Hy wou vir God se volk 'n koning soos Dawid word.Dawid was een van die beste konings wat God se volk gehad het. 'n Man na God se hart! (1 Sam 13:14).Moet maar kyk in die boek Konings: al die latere konings word met Dawid vergelyk, maar byna niemand was soos hy nie.

Dawid was 'n broer vir sy volk, wat hom nie bo sy mense verhef het nie, maar langs hulle gestaan het. Dawid was 'n koning wat die mag van die sonde en die stryd teen die sonde in sy eie lewe geken het. Maar wat ook sy volk voorgegaan het in berou en bekering. Dawid was ‘n regte hérder wat God se skape vol liefde opgepas het.

Na Dawid se dood het God in die Ou Verbond meermale so 'n nuwe Dawid aan sy volk beloof.Lees: Jeremia 23: 5Jeremia 30: 9Esegiël 34: 23, 24Esegiël 37: 24

Hierdie nuwe Dawid sou egter nooit, soos sy voorvader, in ‘n ernstige sonde val nie. Hy sou ook nie een of ander tyd weer deur die dood wegval nie. Hierdie seun van Dawid sou tot in ewigheid oor God se volk regeer.Lees: 2 Samuel 7: 13, 16Psalm 89: 4, 5 Psalm 132: 11, 12

Dié koning wou God se Seun word.Soos Dawid die stryd teen die sonde met sy volk saamgestry het, so wou Christus met ons die stryd saamstry. Soos Dawid die versoeking van die sonde in sy eie lewe geken het, so wou Christus dit in die tyd van sy lewe op aarde leer ken.

Maar waar Dawid dikwels gestruikel het, wou Christus orent bly en die mag van die sonde vir altyd breek.

G. God se Seun het ‘n priester-koning geword.

Daarom moes Hy nie net KONING soos Dawid wees nie, maar ook PRIESTER om die skuld van sy volk by God te versoen.Soos die HERE al aan sy voorvader Dawid voorsê het. Dawid het reeds geweet dat hy ‘n Nakomeling sou kry wat ver bo hom wat Dawid is sou uitstaan. Hy noem Hom in Psalm 110: “my Heer”. ‘n Koning wat in die hemel aan God se regterhand sou mag sit en tegelykertyd ook priester wees.

Lees:Psalm 110. Watter voorganger van Dawid in Jerusalem was ook terselfdertyd Priester en Koning?

Om so ‘n priester-koning te wees het God se Seun aarde toe gekom en ook mens geword. Maar ‘n volmaakte, sondelose mens. Met goddelike krag om die mag van die sonde vir goed te breek.

Lees:Hebreërs 7: 26-28 en daarna vs 25.En Hebreërs 4: 14-16

Sondag 14 HK Vraag 36: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?

Antwoord: Dat Hy ons Middelaar (= Borg) is, wat met sy onskuld en volkome heiligheid my skuld en onheiligheid waarmee ek verwek en gebore is, voor God bedek.

H. Maria.

Hoe voel jy, na hierdie les: is dit reg om Jesus se ma Maria te aanbid of vir haar te vra of sy vir ons by haar hemelse Seun wil bid?Is daar ‘n manier wat ons haar wél kan en mag eer?

Lees:Lukas 1: 41-42 en 46-48

I. Huiswerk.

LES 22 Sondag 15 HK: Gebore om te sterwe

A. Iets vergeet?

Het die skrywers van die Apostoliese Geloofbelydenis nie iets vergeet nie?Van die geboorte van ons Heer Jesus uit Maria se moederskoot spring ons sommer oor na sy kruisiging en dood.

- En in Jesus Christus, sy Eniggebore Seun, ons Here,- wat ontvang is van die Heilige Gees,- gebore uit die maagd Maria;- wat gely het onder Pontius Pilatus,- gekruisig is,- gesterf het.......

Het die Apostoliese Geloofsbelydenis nie die 33 jaar van die Here Jesus se lewe vergeet nie? Sy vlug na Egipte, sy jeug in Nasaret, sy preke, sy wonders.....?Nee, die Kategismus vat daardie 33 jaar saam in die die woordjies: “wat gely het.”...Ons dink meestal dat Christus eers aan die einde van sy lewe gely het: toe die doodsangs Hom in die tuin van Getsemane oorval het, toe Judas Hom verraai en die senior priesters Hom gevange geneem en aan ‘n kruis laat spyker het.Toen het sy lyding wel baie swaar geword. Maar in der waarheid het Jesus se lyding al by sy geboorte begin.

B. ‘n Lewenslange lydensweg.

God se Seun het as mens in die wêreld gekom om 33 jaar te ly onder die gevolge van ons sondes. Hy moes die 33 jaar van sy lewe hier op aarde ervaar wat ons ongehoorsaamheid aan God teweeggebring het. Hy moes God se woede daaroor verduur.

Sondag 15 HK Vraag 37: Wat verstaan jy onder die woordjie: gely?

Antwoord: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde,

maar veral aan die einde daarvan, die woede van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het.

Die Kategismus onderskei Jesus se liggaamlike lyding en dit wat hy aan sy siel gely het.

Vraag:Kan jy ‘n paar voorbeelde noem hoe Jesus liggaamlik gely het?En ook voorbeelde van hoe sy siel seergekry het?

Ons kan eintlik daardie twee nie van mekaar losmaak nie: sy liggaamlike en sy sielslyding nie.

Maar Hy het ook gewoon soos alle kinders soms sy kop gestamp, geval en sy knie beseer, dalk in die werkplek van sy vader Josef met 'n hamer op sy duim geslaan of 'n splinter onder sy nael gekry..... Ons is gewoond aan derglike pyn. Dit hoort maar by die lewe.Maar Hy het geweet: dit hoort juis nié by die lewe nie! Dit is die gevolg van Gods vloek oor sy mooie skepping sinds die sondeval.

Jesus het ook in al daardie dinge God se straf op die sonde gevoel! Dié liggaamlike pyn was nie die ergste nie. Sy siel het veral seergekry. Boonop moes Hy leef temidde van mense wat aan die sonde en sy gevolge gewoond geraak het. Wat nie eers meer daarvan geskrik het nie. Mense wat met mekaar rusie maak. Dalk het Josef en Maria ook wel ‘n keer ‘n uitval gehad, en het sy (half-)boeties en- sussies af en toe gebaklei. Sy eie leerlinge het eersugtig gestry oor die belangrikste plekke in Jesus se koninkryk. Israël se geestlike leiers was hoogmoedig, skynheilig, oneerlik... Dit alles was vir Hom 'n lewenslange kwelling. Hy wat self sonder enige sonde was, is ondergedompel in ons menselewe wat die ene sonde geword het.

Lees: 2 Kor 5:21 die begin

C. Ondergedompel in ‘n sondige wêreld.

Verbeel jou: jou Pa neem jou saam Johannesburg toe, maar as julle daar is, los hy jou skielik in die gevaarlikste deel van die middestad, daar waar manlike en vroulike prostitute probeer geld verdien, waar dwelmverslaafdes alles probeer om nuwe dwelms in die hande te kry, waar bendes mekaar beveg, waar mense sommer op straat geskiet of met ‘n mes doodgesteek word. In daardie wêreld word jy agtergelaat, en nie net vir ‘n paar ure nie, nee, vir jare. Voortaan sal jy daar maar moet sien en kom reg.Hoe sou jy voel?Wel dalk verstaan jy dan iets van wat God se Seun moes gevoel het van dat Hy in Betlehem gebore is. Sy eie Vader in die hemel, wat Hy met sy hele liggaam en siel liefgehad het, het Hom in die sondige mensewêreld ingestuur en Hom prysgegee aan die menselewe wat deur die sonde geteister was. Dalk sou jy daar in Johannesburg na verloop van tyd op ‘n manier gewoond raak daan daarsie verskriklike lewe. Jou daarby aanpas. Maar Jesus het nooit daaraan gewoond geraak nie, nooit Homself daarby aangepas nie.Hy het met sy suiwere siel aanhoudend gevoel hoe verdorwe die lewe as gevolg van ons sondeval geword het. Hy het daagliks God se woede oor ons sondes daarin gevoel. D. ‘n Versoenende lyde

Dwarsdeur die kerkgeskiedenis was daar telkens dwaalleraars wat ontken het dat Christus die woede van God oor ons sondes moes dra. Hulle het geleer dat Christus slegs onder die haat van mense gely het omdat Hy 'n beter mens as almal was. Sy lyding en dood was egter ‘n voorbeeld vir ons: moenie kwaad vir kwaad vergeld nie, maar vergeld maar kwaad vir goed.Jesus wás inderdaad in hierdie opsig ‘n voorbeeld vir ons. Maar God se Woord leer baie duidelik dat Jesus se lyding ‘n baie groter betekenis gehad het. Hy moes wel deeglik daardeur versoening met God bewerk, deur voldoening aan God te gee.

Lees: Jesaja 53: 5 6 Handelinge 2: 23Romeine 3: 25Romeine 5: 8, 9, 19Kolossense 1: 19, 20 Hebreërs 9: 11-14

Sondag 15 HK Vraag 37: Wat verstaan jy onder die woordjie: gely?

Antwoord: Christus het na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan, die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag verduur.

So het Hy met sy lyding as die enigste versoenende offer ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos en vir ons die genade van God, die kwytskelding van ons skuld en die ewige lewe verkry.

E. Gely onder Pilatus.

Behalwe die Heer Jesus word daar net twee ander mense in die Apostoliese geloofbelydenis genoem: Maria en Pontius Pilatus.Christus se moeder en Christus se moordenaar.Jy kan seker verstaan hoekom Maria genoem word. Maar waarom ook Pilatus? Waarom dan nie ook Judas, Herodes of Kajafas nie?Het Pilatus so ‘n groot rol in Jesus se lyding gespeel?Die Kategismus noem Pilatus: 'n "wêreldlike regter". Hierdie Romeinse goewerneur in Jerusalem was die offisiële owerheid in daardie dae, die verteenwoordiger van die Romeinse keiser. En God het dit so gelei dat nie net die Joodse leiers nie, maar ook hierdie offisiële regter wat die wêreldgesag van daardie dae verteenwoordig het, amptelik vonnis moes vel oor die Heer Jesus. Jesus se sterwe was nie maar net ‘n Joodse aangeleentheid nie- dit het die hele wêreld geraak.

Lees: Romeine 13: 1 en 4. Wat word daar gesê oor gesagsdraers in hierdie wêreld?

God het Pilatus in diens geneem om namens Hom ‘n oordeel oor sy se eniggebore Seun uit te spreek. Jesus het dit self ook baie mooi besef:

Lees: Johannes 19: 11.Wat sê Christus self vir Pontius Pilatus?

Toe Christus voor Pilatus se regterstoel gestaan het, het Hy sy eie Vader agter Pilatus sien staan. En toe Pilatus vonnis gevel het, het Christus daarin die stem van sy eie Vader oor Hom hoor vonnis vel. En watter vonnis!

Vraag: Hoe het Pilatus se vonnis gelui: skuldig of onskuldig?

Hoeveel keer het hy dit uitgespreek? (Sien: Johannes 18: 38, Johannes 19: 4 , 6, 12 en Matteüs 27: 24)

Voor Pilatus se regterstoel het dit ekstra duidelik geword: hierdie Jesus word nie oor sy eie skuld kruis toe gestuur nie! Hy sterf as 'n regverdige vir ons, die onregverdiges.

Lees:1 Petrus 3:18a

Sondag 15 HK Vraag 38: Waarom het Jesus onder die regter Pontius Pilatus gely?

Antwoord: Hy moes onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel te word om ons daardeur te bevry van die streng oordeel van God, wat oor ons moes kom.

F. Gely aan ‘n kruispaal

Danksy die inmenging deur Pontius Pilatus het Jesus aan ‘n kruis gesterf. Want dit was ook hoe God dit wou gehad het. Jesus het daarom vooraf al geweet dat Hy gekruisig sou word:

Lees:

Johannes 3: 14, en Johannes 12: 32, 33.

Die kruisdood was fisies ‘n verskriklike wrede dood. Veral as daar nie toue nie, maar groot spykers gebruik is om die gekruisigde aan die kruis vas te maak. Maar ook nou was die liggaamlike lyding vir Jesus nie die ergste nie. Ook nou was dit sy siel wat die meeste gely het.Die gebruiklike doodstraf in Israel was naamlik ‘n steniging.

Vraag:Weet jy ‘n voorbeeld van iemand in die OT wat gestenig is?En van iemand in die NT?

Maar dit was nie genoeg dat die Joodse leiers Jesus gestenig het soos hulle dit later met Stefanus gedoen het nie. Iemand wat gestenig is, is naamlik nie onvermydelik vir ewig verlore nie. Party van hulle het hul skuld nog voor hul dood met berou voor God bely: Josua 7: 20.Slegs in uitsonderlike gevalle van goddeloosheid is in Israël iemand doodgemaak en daarna aan 'n paal opgehang. Die regters het so iemand dan as 't ware aan God uitgelewer. Hulle wou met dié ophanging van sy lyk vir almal wys: ons kon slegs die helfte van die straf voltrek: ons kon slegs sy liggaam doodmaak. God moet die ander helfte voltrek: hierdie mens verdien dit dat God hom vir ewig vervloek en ook die ewige dood in die hel laat sterf.

Lees: Deuteronomium 21: 22, 23Ken jy in die Bybel voorbeelde van mense wat aan'n paal opgehang is?

Hierdie straf wou die Joodse leiers hê moes Jesus ontvang. Weens Godlastering. Het hy, wat ‘n mens is, homself mos nie as God voorgedoen nie?Maar hierdie straf het Ghodf die Vader ook vir sy Seun gekies. Want die ewige dood in die hel: dit is die straf wat ons almal verdien het.Daarom moes Christus dié straf vir ons almal dra. Om ons daarvan te verlos.

Lees:Galasiërs 3: 10, 13

Sondag 15 HK Vraag 39: Sit daar iets meer in

dat Christus gekruisig is en nie op 'n ander manier gesterf het nie?

Antwoord: Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het, omdat die kruisdood deur God vervloek was.

G. Huiswerk.

LES 23 Sondag 16 HK: Neergedaal na die hel

A. Onder Siberië?

Hoe voel jy oor bostaande beriggie in ‘n tydskrif? Sou die gloeiend hete hel regtig êrens onder die yskoue Siberië geleë wees? ‘n Rukkie terug was dit die groot nuus wat vanuit ‘n kerk in Pretoria versprei is. ‘n Ander tydskrif vertel nog bietjie meer besonderhede:

“Wat die wetenskaplikes gehoor het, het hul hare laat regop staan. Van duisende meters onder die grond kon hulle die pynkrete van mense hoor. Inderhaas is die toerusting terug na die oppervlakte gebring, nagegaan en weer laat sak. Die slag was die krete selfs duideliker... asof daar honderde-duisende mense in pyn verkeer.”

Sou dit regtig so wees?Die hel is wel êrens 'n plek in God se wye heelal. Ons weet egter nie waar dit is nie. Dit is net soos met die hemel: God het die hel vir ons hier op aarde onsigbaar en onbereikbaar gemaak.

B. Christus in die hel.

Was die Heer Jesus Christus in daardie plek?In die Apostoliese Geloofsbelydenis word die beskrywing van Christus se lydensweg mos afgesluit met die woorde: "...en neergedaal het na die hel".

Waaraan moet ons by dié woorde dink? In die Apostoliese Geloofbelydenis word van die neerdaling na die hel gepraat nadat gesê is dat Christus begrawe is.Daarom word in die Rooms-Katolieke Kerk en in die Lutherse Kerk geleer dat die Here Jesus na sy begrafnis en voor sy opstanding hel toe gegaan het. Hy het daar -die duiwel oormeester en -die siele van die gestorwe gelowiges uit die tronk bevry, en aan die siele van die ongelowiges sy oorwinning, en dus hul ewige straf aangekondig.

Die Bybel vertel egter niks van so'n reis van ons Here Christus na die hel nie. Die Roomse verklaarders beroep hulle vir 'n reis van Christus na die hel op 1 Petrus 3: 19.

Lees: 1 Petrus 3: 19Gaan dit hier wel oor ‘n hellevaart van die Heer Jesus? Vergelyk vs 22.

Daar was en is ook teoloë wat die woordjie "hel" maar net as "doderyk" lees. Volgens hulle is die woorde "neergedaal na die hel" net 'n aanvulling by "begrawe": na sy begrafnis was Christus in die ryk van die dood.Maar sou dit nie 'n heeltemal oorbodige toevoeging wees in hierdie geloofsbelydenis wat juis so beknop as moontlik wil wees nie?

Die Heidelbergse Kategismus gee daarom 'n heeltemal ander verklaring:die woorde "...en neergedaal het na die hel" vertel nie van iets wat na Christus se begrafnis nog gebeur het nie. Maar hierdie woorde vorm 'n samevatting van Christus se hele lydensweg. Vanaf sy geboorte in Betlehem het die Seun van God al in die hel begin afsak.

C. Is die hel ‘n vuurpoel?

Jy sal dit beter verstaan as ons eers 'n slag nadink oor hierdie vraag: wat is die hel?

Glo jy bostaande storie? Indien nie, hoekom nie?

Ons weet wel dat die hel 'n vreeslike plek is. Die Bybel praat byvoorbeeld van: "die buitenste duisternis", "'n onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie."

Daar was en is heelwat mense wat 'n tamelik simpele voorstelling van die hel het: duiwels met bokhorings en vurke pynig jou in 'n donker afgrond met vuur en wurms.

Die Bybel praat inderdaad oor vuur en wurms i.v.m. die hel.

Lees: Markus 9: 44 en Jesaja 66: 24

Jesus herinner in Markus 9 aan 'n beeldspraak wat die HERE aan die einde van die boek Jesaja gebruik. Die HERE roep daar die beeld op van die Ben-Hinnomdal net buite Jerusalem. Daardie dal was die stortplek vir vullis by Jerusalem, waar wurms in die gemors gekruip het en altyd 'n vuurtjie gesmeul het.Terselfdertyd was dit die strafplaas vir die goddeloses waar hulle lyke onbegrawe bly lê het, met vuur verbrand en aangetas deur

wurms. So sal daar in die hel 'n onophoudelike ontbinding wees! Sien ook Matteüs 7: 13: die breë pad lei na die verderf. Maar onthou: dit is net ‘n metafoor.

D. Die hel: jy is uitgesluit uit God se feessaal

Die liggaamlike pyn is nie die ergste lyding van die hel nie.Die Here Jesus het self in 'n aantal gelykenisse probeer duidelik maak wat die hel so vreeslik maak.

Lees: Matteüs 22: 11-13

Hierdie feesganger was reeds binne in die feessaal vol ligte, maar die koning laat hom verwyder. Hy word buite toe gejaag, in die donker in.

Lees: Matteüs 25: 1-12

In die gelykenis van die vyf wyse en die vyf dwase meisies gebeur basies dieselfde ding: vyf meisies kom te laat vir die bruilofsfees. Hulle was ook genooi, hulle het hulle ook op 'n manier vir die fees gereed gemaak, hulle was selfs al in die feessaal om daar op die bruidegom se koms te wag (sien vs 6), maar op die ou end staan hulle buitekant terwyl binne die

fees gevier word. Hulle hoor die feesvrolikheid, sien die feeslampe, maar hulle is uitgesluit!

Lees: Lukas 16: 19-31

Na sy dood kom Lasarus in die hemel, maar die ryk man in die hel. Maar hulle twee kan mekaar dus nog steeds sien! Dit het ons ook in Jesaja 66: 24 gelees: die mensen in die nuwe Jerusalem het die lyke buitekant die stad, op die vullishoop sien lê.

Vraag:Kan hulle by mekaar kom, soos die man in sy ‘visioen’ op die vorige bladsy vertel het?

Wat maak dus die hel tot so'n vreeslike plek?Jy is buitegesluit uit God se feessaal. Jy mag van 'n afstand sien hoedat God se kinders die ewige vreugde geniet, maar jy behoort nie (meer) daarby nie. Omdat jy in jou lewe vir die goddeloosheid gekies het, gee God jou vir ewig aan die god- loosheid oor: jou lewe het ‘n lewe sonder God geword. Vader in die hemel draai sy rug op jou noudat jy jou lewe lank jou rug op Hom gedraai het. Dit is die verskrikking van die hel: Omdat jy tot jou dood toe God verlaat het, verlaat God jou nou ook.

Vraag: Waarom sou die Heer Jesus bogenoemde gelykenisse afgesluit het met die woorde: "Daar sal geween wees en gekners van die tande"?

E. Christus deur God verlaat

In dié hel het ons Here Jesus Christus neergedaal. Vanaf sy geboorte het Hy daarin al hoe dieper afgesak.Hy was nie liggaamlik in die plek van die hel nie. Maar Hy het wel die verskrikking van die hel ondergaan. Sy eie Vader in die hemel het al hoe meer sy rug op Hom gedraai! Hy is uit die gemeenskap van God en mense uitgestoot. Selfs die eerste skeppingsgawe van God, die lewenslig, is drie ure lank aan Hom ontneem.Wat presies dit gewees het: God se Seun deur God die Vader verlaat, gaan bokant ons verstand. Die Kategismus praat van “onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking. Jesus het Hom dermate deur God en mense verlate gevoel dat Hy op die ou end uitgeskreeu het: "My God, My God, waarom het U My verlaat?"

Vraag:Wat het gebeur sodra Christus hierdie woorde geroep het?

F. Ek deur God aangeneem

Ons sê soms, wanneer ons baie swaarkry in hierdie lewe: “Dit is geen lewe meer. Dit is ‘n hel!”. Tog moet ons dit liewer nie meer so sê nie. Want hoe swaar ons ook kry, dis nie die hel nie. Dit is wel ‘n aanvegting vanuit die hel. Die duiwel val ons aan, soos hy eendag Job aangeval het. Maar ons word juist aangeval ómdat ons van Christus is! Omdat die hel ons moes laat los. Omdat Christus klaar in ons plek al die helse verskrikkinge deurstaan het. Christus is klaar deur God verlaat, sodat ons deur God aangeneem en nooit meer deur Hom verlaat sou word nie. Daarmee mag ons onsself vertroos.

Sondag 16 HKVraag 44: Waarom volg daar: neergedaal het na die hel?

Antwoord: My Heer Jesus Christus het onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking, ja, ‘n helse kwelling verduur, gedurende sy hele lewe maar veral aan die kruis.

Daarom mag ek in my swaarste aanvegtinge verseker wees en myself volkome daarmee vertroos dat Hy my van die helse angs en pyn verlos het.

G. Verskil in straf

Sê-nou jy sou op ‘n stadium ook jou rug op God en Christus draai en jou nooit meer daarvan bekeer nie. Dan sal die hel vir jou ‘n groter verskrikking wees as vir ander. Want daar is verskil in straf in die hel. Die hel sal vir een

mens vreesliker wees as vir die ander. Die gehuil en gekners van die tande by die een meer as by die ander.

Lees:Matteüs 11: 22 en 24.Waarom sou Christus juis die inwoners van Kapernaüm so ernstig waarsku?

Daar is dus verskil in straf in die hel. Vir iemand wat eers self ‘n kerklidmaat was, is die kwelling van die hel erger as vir iemand wat altyd ‘n ongelowige was. Jy is genooi vir die fees in God se Koninkryk, jy het al ‘n voorsmakie daarvan geproe. As jy nogtans uitgegooi moet word in die diepste duisternis daarbuite, kry jy ekstra swaar. Want jy sal in die hel nie jou verstand en jou geheue verloor nie. Juis in die hel sal jy die waarkuwende opmerkings van jou Ma onthou, die gebed van jou Pa by die boekevat, die preke wat jy gehoor het. En ook hierdie katkisasieles. Dit alles sal jou selfverwyt maar net groter maak.Mag dit jou aanspoor om nog meer die lewe by die Heer Jesus Christus te soek!

H. Huiswerk

LES 24 Sondag 16 HK (vervolg): Christus het gesterf, ons mag lewe!

A. Volbring?!

Aan die einde van sy lange lydensweg mog Christus uitroep: "Dit is volbring!" (Grieks :τϵτϵλεσται). En soos ons in die vorige les gesien het, het sy hemelse Vader toe vir Hom die lewenslig teruggegee. Nadat dit drie ure lank angswekkend donker was. Hoekom het Christus toe nie van die kruis afgekom nie, maar die laaste asem uitgeblaas? As sy lyding volbring was, hoekom was dit toe nog nie verby nie? Hoekom moes Hy nog sterf? Of was die uitroep "Dit is volbring!" effens voorbarig?

Dié begryplike vraag stel die Kategismus in Sondag 16. Die antwoord is: die dieptepunt van Christus se lyding was toe verby. Maar die eindpunt was nog nie bereik nie. Want as ons Borg moes Christus die héle pad loop wat ons weens ons opstand teen God moes gaan. Die pad van wieg tot graf. Daaroor gaan dit in hierdie les.

B. Ons lewe: ‘n voortdurende sterwe.

Vraag: Wat was die straf wat God aangekondig het indien Adam en

Mannin aan Hom ongehoorsaam sou wees? Het die HERE daardie straf direk voltrek?

Oënskynlik het Adam en Mannin die aangekondigde straf vrygespring. Hul lewe het wel baie swaarder geword as gevolg van God se vloek. Maar hulle mog daarom aangaan met leef. Het God dan nie woord gehou nie?? Hy het mos gesê: “Die dag as julle van daardie een boom eet, sal julle....”

Lees:Die gebed voor die doop, in ons Doopsformulier.Hoe word ons lewe daar omskrywe?

Die lewe was vanaf die oomblik wat Mannin geëet en ook vir Adam gegee het, geen léwe meer nie. Want die band met die Gód van die lewe was deurgesny. Hulle het hul rug teen die lewe gedraai. Hul lewe het sterwe geword.

Vir ons besef is ‘sterwe’ iets van ‘n oomblik: nou sterf hy! Maar die Bybel leer ons om die sterwe as ‘n proses te sien, ‘n pad wat ‘n doodloopstraat is.

Van dat die mens van die verbode boom geëet het, het hy geestelik dood geraak. Die God van die lewe was nie meer die middelpunt van sy lewe nie. Hy het homself op die troon geplaas.Daarom sou hierdie ‘lewe’ soos vanself eendag op die liggaamlike dood uitloop. 'n Mens wat nie meer saam met God wil lewe nie, mág ook nie meer vir altyd op God se aarde lewe nie. God breek sy liggaam weer af en laat dit weer verdwyn in die aarde waaruit Hy dit by die skepping gehaal het. En daarna is nie alles verby nie. Na die liggaamlike dood volg die ewige dood. Die godverlatenheid van die hel.

C. Christus het ons dood gesterf.

Dié hele pad moes Christus in ons plek loop.God se regsgevoel het dit geëis. Slegs wanneer hierdie straf ten volle gedra sou word, en sodoende ons skuld by Hom volledig vereffen sou wees, sou daar vir die mens ‘n nuwe lewe met Hom moontlik wees.

Ons het in die les oor Sondag 15 HK al gesien hoe Christus gedurende sy hele lewe die geestelike dood ondergaan het. Hy het mos na liggaam en siel gely onder die sonde en God se toorn daarin ervaar.Vervolgens het Hy die ewige dood verduur, tydens die dieptepunt van sy lyding aan die kruis. Ons het dit in die vorige les, oor die verskrikking van die hel, gesien. By Hom was dus die volgorde van die sterwensproses effens anders as by ons.Maar dis dié dat Christus, al kon Hy ook reeds uitroep: “Dit is volbring!” omdat Hy die dieptepunt van die sterwenspad klaar deurgemaak het, tog

nog nie van die kruis kon afkom nie. Want Hy moes ook die liggaamlike dood nog sterf. Sy liggaam waarmee Hy in alles sy God en Vader wou dien, sy mond waarmee Hy God wou prys, sy oë waarmee Hy in alles God se majesteit op aarde aanskou het, sy hande waarmee Hy mense genees en geseën het - dit alles het uitgeval, en sy liggaam het 'n lewelose lyk geword.

Sondag 16 HK Vraag 40: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?

Antwoord: Weens die regsgevoel en betroubaarheid van God kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie.

D. ‘n Begrafnis: onderstreping van die dood.

'n Lewelose lyk kan nie hier op aarde lank bewaar word nie. Dit het op aarde onhoudbaar geword. Dit moet begrawe word. Die begrafnis is die beseëling van die dood. 'n Menseliggaam, eendag deur God uit die aarde tevoorskyn gehaal, verdwyn vir straf weer in die aarde. Dit keer weer tot stof.Ook dié smaad het ons Borg in ons plek ondergaan.

Sondag 16 HK Vraag 41: Waarom is Hy begrawe?

Antwoord: Om daarmee te onderstreep dat Hy werklik gesterf het.

Die begrafnis het nie tot doel gehad om te bewys dat Christus regtig dood, en nie skyndood, was nie. Daarvoor was meer oortuigende bewyse.

Vraag: Watter meer oortuigende bewys sou jy gee dat ons Here Jesus regtig dood was?

Die begrafnis van Christus se lyk was die onderstreping van die feit dat Hy regtig gesterf het. So het Jesus in ons plek die hele pad van wieg tot graf geloop om ons skuld by God te vereffen. Danksy Hom is ons nou vry van skuld en op pad na die ewige lewe!

E. Ons sterf ook ‘n kruisdood.

Maar ons is nog nie in die ewige lewe nie! Ons kry in hierdie lewe nog daagliks met die gevolge van ons sonde te make. Ons lewe is nog vol ellende: siekte, eensaamheid, ongelukke, oorloë, natuurrampe, die dood.Waarom? Waarom neem die HERE ons nou nie sonder dat ons nog moet sterf hemel toe nie?

Vraag: Daar is twee mense van wie die Bybel vertel dat hulle nie 'n gewone dood gesterf het nie, maar op 'n besondere wyse deur die HERE weggeneem is. Weet jy watter twee?

God plaas ons nie soos met ‘n towerslag in die ewige lewe nie.Hy laat ons 'n weg soontoe loop. Soos Christus in ons plek 'n weg moes loop wat al hoe meer na die diepte afgebuig het, so laat God ons nou 'n weg loop wat eers geleidelik uit die diepte opklim.

Moes Christus eers die geestlike dood sterwe, God laat ons nou eerst weer groei in ‘n geestlike lewe. God wil ons eers opvoed in ‘n nuwe lewe met Hom. Ons is danksy Christus se sterwe wel verlos van die ewige dood: die

hel. Maar ons moet eers nog wel 'n moeisame stryd stry voordat ons in die hemel mag ingaan.

Lees: Dordtse Leerreëls V,1 en 2.

Waarvan verlos God ons wel? Waarvan verlos Hy ons nog nie heeltemal nie? Wat ontstaan daarom nog steeds? Wat moet ons daarom doen?

Die Kategismus gebruik 'n mooie vergelyking: ons ou mens -dit is ons sondige aard- word nie dadelik verander in ‘n nuwe mens nie, maar saam met Christus eers gekruisig, op dié wyse langsamerhand gedood en tenslotte begrawe.Ons sondige natuur hang voorlopig nog maar net aan 'n kruis.Hy het sy krag dus al wel verloor en klaar ter dood veroordeel. Maar hy is nog nie dood nie! En soos 'n gekruisigde tot op die laaste aanhou worstel om van die kruis af te afkom en weer te mag lewe , so sal ons ou mens ons tot op ons sterfbed toe met sy stuiptrekkings bly pla. Dit kan nog 'n marteling wees.

Lees:Romeine 7: 15-24

Deur hierdie daaglikse stryd wat ons nog teen die sonde moet stry, asook deur die swaarkry onder die gevolge van die sonde wat steeds nog daar is: spanning, siekte, ongelukke, die dood van ons geliefdes ens., herinner die HERE ons voorlopig nog telkens aan ons skuld teenoor Hom. En aan wat Christus alles in ons plek moes ly.Sodoende dwing Hy ons om al hoe duideliker te besef dat ons alleen uit genáde verlos word. Ja, Hy dwing ons op dié wyse om die lewe buite onsself, in sy gekruisigde Seun Jesus Christus, te soek.Tog het die einde van die sonde in ons lewe in sig gekom. En 'n nuwe lewe het in ons opgestaan: die Heilige Gees het sy intrek in ons lewe geneem: ons wíl nie meer sondig nie. En die Gees bewerk in ons 'n lewe waarin ons onsself weer as 'n dankoffer aan God toewy.Die eerste gevolge van Christus se oorwinning op die sonde word vandag alreeds in ons lewe merkbaar.

Sondag 16 HK Vraag 43: Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?

Antwoord: Deur sy krag word ons ou mens

saam met Christus gekruisig, gedood en begrawe. Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie maar kan ons onsself as 'n dankoffer aan Hom toewy.

Vraag: Hoe omskrywe Paulus in Galasiërs 5: 19-21 die praktyke van ons sondige natuur ("vlees")?En hoe in Galasiërs 5: 22-24 die vrug van die werk van die Gees?

F. Ons liggaamlike dood bring ons in die ewige lewe.

Eers as ons sterwe, word die doodsteek aan die sonde toegedien.Daarom moet ons, alhoewel Christus klaar vir ons gesterf en ons straf alreeds gedra het, ook nog sterwe. Om die sonde af te sterwe. Maar dit maak ons sterwe, hoe moeilik dit ook al kan wees, dus tot die definitiewe verlossing van die sonde en sy gevolge. Die dood het danksy Christus vir ons die poort na die ewige lewe geword. Die wete kan ‘n mens partymaal na die sterwe laat verlang!

Lees:Filippense 1: 21 en 23

En dit kan naasbestaandes troos as een van hulle geliefdes in Christus gesterf het: sy of haar heengaan was ‘n verlossing.En selfs ‘n begrafnis word dan ‘n hoopvolle gebeure: ‘n sterflike liggaam word in de aarde teruggelê, sodat God eendag ‘n nuwe, onverganklike liggaam daarvoor kan teruggee.

Lees: 1 Korintiërs 15: 44a

Vraag: Maak dit saak of 'n mens nie begrawe nie, maar veras word?

Sondag 16 HK Vraag 42: As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?

Antwoord: Ons dood is nie 'n betaling vir ons sonde nie, maar slegs 'n afsterwe van die sonde en 'n deurgang tot die ewige lewe.

G. Huiswerk.

LES 25 Sondag 17 HK : Christus neem ons saam in ‘n nuwe lewe in.

A. Kersfees en Paasfees.

Vir baie mense is Kersfees ‘n mooier fees as Paasfees. Kersfees word ook baie meer uitbundig gevier as Paasfees. Maar het dit jou al opgeval dat in die Bybel baie meer aandag aan Christus se opstanding gegee word as aan sy geboorte?

Vraag: Wat vertel die vier evangeliste oor Christus se geboorte? En wat vertel hulle oor sy opstanding? Hoekom sou Jesus se opstanding baie meer aandag kry as sy

geboorte?

B. Getuies.

Daar is die laaste eeue christene, ook teoloë, wat beweer dat die Heer Jesus nie fisies opgestaan het nie. Dis mos ‘n onmoontlikheid! Hy het, so sê hulle, na sy kruisdood ‘opgestaan’ in die harte van sy leerlinge wat in Hom hul verdere lewe altyd in gedagte gehou het. En so staan Hy steeds op in harte van mense wat in die Bybel oor sy lewe gelees en met Hom beïndruk geraak het.Die vertellings in die Evangelie van sy opstanding sou maar net stories wees wat eers later gegroei het.

Lees:1 Korintiërs 15: 1-8.

Vertel Paulus maar net ‘n storie? Hoekom sou hy vertel van daardie meer as 500 mense aan wie

Jesus na sy opstanding verskyn het en van wie die meeste toe Paulus sy brief geskryf het, nog geleef het?

Daar was ‘n hele paar getuies van Jesus se opstanding, wat dit self aanvanklik ook nie kon glo nie. Maar hulle kon die feite niet konfronteer nie.

Lees:Johannes 21: 24Handelinge 2: 32Handelinge 3: 15

Vraag:

Watter apostel moes ekstra deur Jesus daarvan oortuig word dat Hy regtig opgestaan het?

C. ‘n Leë kokon.

Lees:Johannes 20: 1-9.Een van die getuies, Johannes vertel self hoe moeilik die werklikheid van Jesus se opstanding tot hulle wou deurdring. Hy was die eerste wat by Jesus se graf aangekom het nadat Maria Magdalena kom sê het dat die graf oop gelê het. Hy het, na hy gou-gou in die graf ingeloer het, nie binnetoe gegaan nie. Jy weet natuurlik dat dit nie ‘n graf was soos ons grafte deesdae nie. Dit was ‘n ruimte in die rotse, partymaal selfs met meer as een kamer. En daarin ‘n soort van beddens van klip waarop die oorledenes neergelê is. Hoekom het Johannes nie in Jesus se grafkamer gaan rondkyk nie? Omdat hy die doeke nog sien lê het, vertel hy self. Baie mense meen dat daardie grafdoeke netjies iewers op ‘n stapeltjie gelê

het. Maar dit was gans en al ontmoontlik. Johannes het vertel, 19: 39-40, dat Josef van Arimatea saam met Nikodemus Jesus in doeke toegedraai het saam met ‘n mengsel van omtrent 50 liter mirre en aalwyn. Daardie geurstowwe was bedoel om die lykgeur so lank as moontlik weg te hou, sodat mens nog ‘n paar dae in die graf by die oorlede kon sit en treur. Maar daardie mirre en aalwyn het taamlik gou van die doeke ‘n harde kors gemaak wat soos ‘n

harnas om die liggaam gesluit het.

Johannes het daardie kokon sien lê. En omdat hy vanuit die lig in die donker gekyk het, het hy gemeen dat Jesus se liggaam steeds daar gelê het en dat Maria Magdalena onnodig onrus gesaai het. Eers toe Petrus wel in die grafkamer ingaan en agterkom dat die kopdoeke

nie by die res van die doeke gelê het nie, sien hy en Johannes dat die kokon leeg is!

En dan besef hulle altwee dat hier ‘n wonder plaasgevind het. Want watter mens kry dit reg om ‘n lyk weer uit so ‘n harde harnas te haal sonder om eers die harnas oop te splyt?!

D. ‘n Lewende Borg.

Die Kategismus vra glad nie na die feite van die opstanding nie. Die feite soos die Bybel daarvan vertel, word sondermeer aanvaar. In Sondag 17 word direk gevra na die nut van Christus se opstanding vir ons.

Ons is geneig om by die belang van Christus se opstanding vir ons hoofsaaklik aan later te dink: danksy Christus se opstanding mag ons eendag ook uit die dood opstaan en met 'n nuwe liggaam na die aarde terugkom.Maar kyk 'n bietjie in antw 45: van ons eie opstanding in heerlikheid praat die Kategismus eers in die derde plek ("Ten derde....")Die Kategismus begin eers met 'n ander ding. Wat baie belangriker is as ‘n nuwe liggaam. Want dit sal ons niks help om 'n nuwe liggaam te kry, as daar nie eers iets verander het in ons verhouding tot God nie!

Vraag: Kry die goddeloses op die dag van Christus se wederkoms ook nuwe liggame?Sien Daniël 12: 2 en Johannes 5: 28, 29.

Daarom laat die Kategismus ons eers na vandag kyk. Die nut van Christus se opstanding sal nie eers eendag blyk nie. Vandag al mag ons die vrugte pluk van Christus se terugkeer uit die dood. Want al dadelik na sy opstanding het Hy iets aan ons, sy kerk, begin uitdeel: die kwytskelding van ons sondes.

Lees:1 Korintiërs 15: 17.

As Jesus nie werklik opgestaan het nie, is ons nog gevange in ons sondes. Hy sou wel die kwytskelding deur sy lyding en dood vir ons verdien het, maar dit sou ons tog nie bereik het nie.

Lees: Miga 5: 4 (in die Ou Vertaling) en Efesiërs 2: 14 die eerste woorde.

Daar staan nie: "Christus bring aan ons vrede" of: "Christus bewerk vir ons vrede" of: "Christus deel vrede aan ons uit" nie. In altwee Bybelgedeeltes staan daar: "Christus IS ons vrede".Dit is baie sterk bewoord. Ons vrede, ons versoening met God, is geheel en al van sy persoon afhanklik. Hy sal in eie Persoon die vrede tussen God en ons moet waarborg.. Hy staan in lewende lywe voortaan tussen God en ons om vir ons vergewing van ons sondes te bepleit. En dus kon Hy nie dood in ‘n graf bly lê nie, maar moes Hy in ons lewe terugkeer vir die uitvoering van hierdie taak.

Kom ons vergelyk dit met die voorbeeld wat iemand wat wou borg staan vir ‘n vriend wat in ‘n finansiële verknorsing beland het. Hy het die skulde van sy vriend oorgeneem, sake begin regmaak by die skuldeisers, by die Belastingdiens. Hulle het ook afgespreek dat die vriend alle nuwe rekeninge wta hy nie kon betaal nie, vir sy borg sou gee. Maar sê-nou die borg het alles omtrent op orde gekry en toe sterf hy. Wat kon hy toe nog vir sy vriend beteken? Die hele hulp sou platgeval het! So staan of val die kwytskelding van ons skulde by God ook met Christus. Slegs deur Hom kan daar vrede wees tussen God en ons. Want sonder Christus se aanhoudende hulp sal ons nie regkom nie

Lees:Sondag 5, vraag en antwoord 13.

Ons benodig hierdie Borg vir die res van ons lewe hier op aarde. Elke dag, ja, heeldag moet Christus tussen God en ons in bly staan en ons skuld by die Vader bedek.

Lees: Romeine 8: 33, 34Verstaan jy nou hoekom Paulus skryf dat Christus se opwekking uit die dood méér is as sy sterwe? Met watter woorde omskryf die apostel Christus se borgskap vir ons?

Ons kan en mag nou elke dag met ons nuwe skulde na Christus gaan, wat dit dadelik weer by die Vader vereffen.

E. ‘n Opvoedende Borg.

Daar is nog ‘n tweede wins wat ons, nie eendag nie maar vandag al, danksy Christus se opstanding ontvang: ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek.Want Christus maak dit as ons Borg nou wel elke dag aanhoudend reg vir ons by God. Maar óns is nog nie reg nie! Ons hou nog aan met sonde doen. Ons maak ons steeds in baie opsigte skuldig aan onverantwoorde gedrag.

Lees:Dordtse Leerreëls V, 1 en 2

Soos ons gesien het, mag ons met daardie steeds nuwe skulde na Christus toe gaan om dit by die Vader te laat verseffen. Maar Christus kom as ons Borg ook na óns toe. Met sy opvoedende krag, sy Heilige Gees. Hy kom leer ons om ‘n nuwe, ‘n beter lewe te lei.

Kom ons gebruik nog ‘n keer die voorbeeld van die man wat wou borg staan vir sy vriend. Hy vereffen nie net sy skuld nie, maar leer hom vervolgens ook hoe om sy finansies meer sorgvuldig te beheer. Om nie meer so veel skulde te maak nie.So help en leer Christus ons om nie meer so onverantwoord te leef en soveel skulde by God te maak nie.

Vraag: By jou doop is alreeds gebid of jy saam met Christus mog begrawe word in die dood, maar ook met Hom opstaan in 'n nuwe lewe. Kan jy dit in jou lewe agterkom dat daardie gebed verhoor word? Waaraan?

In vroeëre lesse het ons al geleer dat die Kategismus hiervoor telkens twee woorde gebruik: Christus laat ons deel in sy GEREGTIGHEID (= kwytskelding van skuld),maar ook in sy HEILIGHEID (= die wil om geen skuld by God te maak nie) .

Die Kategismus wys deurentyd daarop dat hierdie twee onlosmaaklik saamgaan:

Sondag 6, antw. 18Sondag 12, antw. 31Sondag 18, antw .48 (ten derde)Sondag 23, antw. 60 Sondag 24, antw. 64Sondag 26, antw. 70Sondag 28, antw. 76Sondag 32, antw. 86Sondag 33Sondag 44, antw.115

F. Eers volmaak na hierdie lewe.

Hierdie opvoedingsproses deur die Heilige Gees duur ons hele lewe hier op aarde. Ons raak hier nooit klaar geleer nie. Ons het in die Dordtse Leerreëls hoofstuk V gelees dat God dit opsetlik laat gebeur. So word ons ons hele lewe met ons skulde teenoor God gekonfronteer en bly ons daagliks bewus van ons afhanklikheid van ons hemelse Borg. Terselfdertyd laat God ons liggaam ook steeds meer aftakel: ons kom in alle opsigte al hoe meer met leë hande te staan.

Christus se opstanding waarborg egter dat ook ons eendag met verheerlikte liggame, heeltemal vry van skuld en van ons sondige geaardheid in ‘n nuwe lewe sal opstaan.Daardie lewe sal die ene dankbaarheid wees vir die borgskap van Christus in ons aardse lewe reeds verrig het.

Sondag 17 HK Vraag 45: Waarom is Christus se opstanding vir ons belangrik?

Antwoord: Ten eerste: Christus het deur sy opstanding die dood oorwin,

sodat Hy ons nou kan laat deel in die kwytskelding van ons skuld, wat Hy deur sy dood verkry het.

Ten tweede: ons word deur sy krag nou ook al in hierdie lewe tot ‘n nuwe lewe opgewek.

Ten derde: Christus se opstanding in vir ons ‘n betroubare waarborg

dat ons ook eendag in heerlikheid mag opstaan.

G. Huiswerk

LES 26 Sondag 18 HK: Ons Borg is terug in die hemel.

A. Waar is die hemel?

In die eerste les oor Sondag 16 HK het ons gewonder waar iewers die hel is. Onder Siberië soos wel beweer is?In hierdie les gaan dit oor Christus se hemelvaart. Na sy opstanding het ons Here Jesus Christus nog 40 dae op aarde gebly. Daarna het Hy hemel toe gegaan. Weet jy waar die hemel is?

Ons dink meestal maar: êrens bo ons. So sê die Bybel dit ook. Dar word mos in die Tweede Gebod van God se Wet gepraat van “die hemel wat bo die aarde is”. Maar as die hemel bo ons hier in Suid-Afrika is, wat dan van die mense wat aan die ander kant van die aardbol leef?

Ons meen meestal maar dat die hemel baie ver weg is. Nog verder as die verste ster of planeet. Maar miskien is die hemel wel nader aan die aarde as wat ons dink.

Lees:Handelinge 7: 55, 56 en Handelinge 9: 3-5

Dalk omring die hemel wel die aarde. Die afstand tussen hemel en aarde is naamlik nie 'n kwessie van kilometers nie, maar van onsigbaarheid. God het die hemel en sy bewoners vir ons onsigbaar gemaak.

Vraag: Hoe lui die eerste Artikel van die Geloofsbelydenis van Nicea?

Ook die engele is onsigbaar. Maar hulle is elke dag by ons!

B. Wat is die hemel?

Die Bybel gebruik meer as een beeld om vir ons duidelik te maak wat die hemel is.

Lees:

Matteüs 3: 12 en Johannes 14: 2.

Met hierdie metafore kan ons die verhouding tussen hemel en aarde dus so omskrywe:die aarde is die akker waarop ons eers ryp vrugte moet dra voordat ons in die skuur van die hemel gebêre word.Of: die hemel is die woonplek en kantoor van ons hemelse Vader, die aarde is die besigheid en werkplek waar Hy ons as sy kinders aan die werk gesit het.

Vraag:Onthou jy nog uit die les oor Sondag 3 HK wat ons werk in Vader se besigheid hier op aarde behels?

Voor ons sondeval het hemel en aarde nog ‘n eenheid gevorm. In de paradystyd het die deure tussen hemel en aarde altyd oopgestaan en was die hemel nie onsigbaar nie. Soos daar in ‘n besigheid heel wat heen- en weer geloop word tussen woning en werkplek, so was dit toe ook tussen hemel en aarde. Adam en Mannin sal seker ook maar geregeld engele ontmoet het, wat saam met hulle werkers in God se besigheid was. En God het met die mens in het paradijs gewandel waartydens hulle dalk ook ‘n werkbespreking gehou het.

C. ‘n Toe hemel.

Toe het ons sondeval gekom. God se kinders het opstandelinge geword wat nie meer tot God se eer in sy besigheid wou saamwerk nie, maar het sy wêreld in wese vir hulleself kom opeis. God se akker het giftige vrugte begin voortbring. Ons het in opstand gekom teen sy ‘direkteurskap’ en wou net soos Hy wees. Ons wou voortaan self baas wees. Ons het gemeen ons het ‘n gereëlde werkbespreking met Hom nie meer nodig nie. God moes liewer maar nie meer soveel met ons inmeng nie. Ons sou wel self regkom.In wese het ons ons Skepper en Vader toe buitekant die deur gesit. En ja, toe het Vader self die deur ook toegemáák. Hy het Hom in sy hemelwoning teruggetrek en daardie woning selfs van toe af vir die eiewyse mens onsigbaar gemaak. Sodat ons hier op aarde nou min of meer aan onsself oorgelaat is. God het sy besigheid nie hardhandig weer van ons afgeneem nie. Maar Hy laat ons nou wel op allerhande maniere vasdraai in ons eiewysheid. Hy hou ons dop, en sonder dat ons dit verneem, hou Hy hier op aarde nog steeds die leisels in die hande. Maar die deur naar de hemel is vir ons toe, die hemel self onvindbaar. Ons is deur die swaartekrag aan hierdie aarde gebind. Dit is hoe die hemel vir ons hier op aarde buite ons gesigsveld geraak het. Daar het ‘n afstand gekom wat ‘n mens nie in kilometers of in ligjare kan uitdruk nie. Dit is ‘n afstand wat ‘n mens in skúld moet uitdruk.

As gevolg van ons eie skuld het die hemel vir ons onsigbaar geword en voel God nou dikwels onbereikbaar.

D. Vir Christus weer ‘n oop hemel.

Nogtans het God nie vir ewog sy rug op ons hier op aarde gedraai nie. Sy liefde en vergewende genade was so groot dat Hy sy Eniggebore Kind aarde toe gestuur. En daardie Seun het as weer ‘n volmaak gehoorsame mens in ons plek die werk doen waarin ons gefaal het. Hy het hier op aarde in Vader se besigheid weer besig gegaan tot God se eer. Hy het die ryp vrugte voortgebring wat in ons lewens nie meer gegroei het nie. En toe ons Here Jesus dit alles gehoorsaam volbring het, het Hy weer hemel toe gegaan

Toe het die eerste Kind van God wat sy werk op aarde volbring het, tuisgekom.En die deur het vir Hom wawyd oopgestaan.

Vraag:Kyk bietjie in vraag én antwoord 46 van Sondag 18 HK. In die antwoord word ‘n ander werkwoord m.b.t. Christus se hemelvaart gebruik as in die vraag. Wat is die verskil?

Die swaartekrag het Hom nie langer op die aarde vasgehou nie. Hy het sommer losgekom van die grond en na die hemel opgestyg. Hy vorm die eerstelinge van die oes wat God in sy skuur kan bêre.

E. Christus is nou ons helper in die hemel.

Toen Christus in die hemel opgeneem is, het sy volgelinge nie saam met Hom gegaan nie. Die swaartekrag het hulle met albei voete op die grond vasgehou. Soos ons vandag steeds nog ons plek hier op die aarde het.Tog het Christus by sy hemelvaart geen afskeid van ons, sy kerk, geneem nie. Hy is "ons ten goede”in die hemel, sê die Kategismus:

Sondag 18 HK Vraag 46: Wat verstaan jy onder: ‘opgevaar het na die hemel’?

Antwoord: Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem, en Hy is vir ons daar ten goede totdat Hy weerkom om oor die lewendes en die dooies te oordeel.

Op watter wyse is Christus vir ons ten goede in die hemel?Dit noem die Kategismus in Vraag en Antwoord 49:

Sondag 18 HK Vraag 49: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is.

Ten tweede dat ons ons menslike natuur (= Christus as 'n mens van vlees en bloed soos ons) in die hemel as 'n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof, ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem. Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur, deur wie se krag ons soek wat daar bo is, waar Christus aan die regterhand van God sit, en nie wat op die aarde is nie.

Ons is nie volmaakte kinders soos Christus nie. Ons is nog in baie opsigte ongehoorsame, onbruikbare kinders vir God. Maar Christus bedek by sy Vader nou ons sondes en tekortkomings en vra vir ons vergewing. Ja, op ‘n manier het Hy ons selfs al saamgeneem in die hemel in, na sy en ons Vader toe! As ons hoëpriester dra Hy ons almal se name op sy skouers en op sy hart. En waarborg Hy die vrede tussen God en ons.Dit is eerste ding wat die Kategismus noem.

Tweedens wys die Kategismus daarop dat Christus in hoogseie Persoon, steeds ‘n mens van vlees en bloed, ook die lewende bewys, die waarborg, vorm dat daar, ten spyte van die sondes wat daar nog by ons oorgebrly het, ook vir ons weer 'n plek in die hemel wag. Christus

is die eerste mens wat in ‘n nuwe liggaam tuisgekom het in die Vaderhuis. Vader wag nou ook vir ons. Christus is die eersteling van die vrugte van God se akker, en dus die waarborg dat die skuur nog altyd wag vir die oes ook uit ons lewe.De Kategismus gebruik ‘n ander, maar ook sterk metafoor: Christus is die hoof en ons is die ledemate. Wat is ‘n hoof sonder ‘n liggaam? En wat is ‘n liggaam sonder ‘n kop? As ons hoof al klaar in die hemel is, waarborg dit dat ook ons eendag daar sal uitkom.

Vraag: Wat belowe Christus aan sy dissipels in Joh14:2,3?En wat vra Hy aan sy Vader blykens Joh 17:24a?

F. Christus stuur ons ‘n ekstra helper uit die hemel.

Die derde ding waarop die Kategismus wys, is dat Christus vanuit die hemel sy Heilige Gees na ons toe stuur. Hy het ons hier op aarde agtergelaat. Ons moet hier nou weer die werk in Vader se besigheid gaan doen soos God dit in die Paradys bedoel het. En soos Christus ons dit voorgedoen het.Ons moet nou weer die vrugte begin voortbring wat Gods nog altyd gesoek het.Ons kry dit egter op ons eie nooit reg nie. Maar Christus se Heilige Gees help ons nou daarby. Hy maak ook van ons weer gehoorsame kinders wat ons by ons werk op aarde weer deur die hemel laat beheers. Die Heilige Gees laat ook in ons lewe vrugte groei vir God.

Vraag: Die Kategismus sê dat die Heilige Gees ons leer “om te soek

wat daar bo is”. Beteken dit dat die Gees ons leer dat die lewe en die daaglikse werk op aarde eintlik nie so belangrik is?

Waaraan kom jy by jouself agter dat die Gees ook jou lewe nou op die hemel rig?

G. Is Christus steeds by ons?

Indien Christus nou in die hemel is, is Hy dan nog wel by ons hier op aarde. Hy het mos belowe: “Ek sal met julle wees tot die einde van die wêreld”. In die kerkgeskiedenis het was dit op ‘n stadium ‘n taai tameletjie.

Luther het geleer dat Christus, omdat Hy God én mens is, na sy opstanding uit die dood 'n menslike liggaam met goddelike eienskappe gekry het en daarom nou orals terselfdertyd aanwesig kan wees.

Soos yster wat in die vuur gehou word, self ook vurig begin gloei en dinge aan die brand kan steek, op dieselfde wyse sou Christus se liggaam deur die kontak met die goddelikheid vergoddelik wees en terselfdertyd in die hemel en op die aarde kon wees.

Daarom het ook Luther, net soos die Roomse Kerk, geglo dat Christus by die Nagmaal regtig liggaamlik, met sy vergoddelikte liggaam, in die kerk neerdaal en aanwesig is in die brood en die wyn.

Vraag: Ons het in Les 21, oor Sondag 14 HK, geleer dat Luther se gedagtes oor 'n vermenging, en dus: verandering van Christus se menslike en goddelike natuur, al deur 'n dwaalleraar in die eerste eeue van die Christelike kerk geleer is.

Onthou jy nog sy naam? Watter vergelyking het ons in Les 21 vir daardie leer gebruik? Watter Konsilie het hierdie ketter veroordeel?

As Luther se gedagte reg sou wees, sou ons Here egter nie meer 'n egte mens soos ons wees nie en dus ook nie ons Borg by God kan wees nie.

Vraag: Waarom moet Christus as ons Borg volkome mens soos ons wees? Sien Sondag 6 HK, vr 16.

Christus is liggaamlik in die hemel. En wanneer ons die nagmaal vier, kom Hy nie regtig met sy menslike liggaam in die kerk nie. Maar omdat Hy God is, omdat Hy een is met die Heilige Gees, kan Hy tog daagliks by ons wees.

Sondag 18 HK Vraag 47: Is Christus dan nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie?

Antwoord: Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie. Maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie.

Maar as Christus as mens in die hemel is, en as God by ons op aarde, kan Christus Homself dan in twee helftes opdeel?Kan sy Godheid en sy mens-wees dan afsonderlik van mekaar te werk gaan?

Vraag: Ons het in les 21, oor Sondag 14 HK, gesien dat daar in die eerste eeue van die Christelike kerk ook reeds 'n dwaalleraar was wat geleer het dat die God-wees en die mens-wees in ons Here Jesus Christus nooit mooi by mekaar aangesluit het nie, maar eintlik van mekaar geskei gebly het

Onthou jy nog sy naam? Watter vergelyking het ons in Les 21 vier sy dwaalleer

gebruik? Watter Konsilie het hierdie ketter veroordeel?

Kom ons vergelyk ons opgestane Heer in die hemel met 'n sterk lamp. Sy menslike liggaam is soos die glasbolletjie, sy goddelikheid is soos die lig binne-in die lamp.Die lig kom vanuit die glasliggaam en verlig ook die hele kamer, of saal, waarin die lig skyn. Maar die glas bly op een en dieselfde plek.So bly Christus se menslike liggaam in die hemel, maar sy goddelike lig omstraal ons ook hier op aarde.

Sondag 18 HK Vraag 48: Maar as die mensheid nie orals is

waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Die godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is oral teenwoordig. Hieruit moet volg dat die godheid wel buite sy aangenome mensheid is maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.

H. Huiswerk.

LES 27 Sondag 19 HK: Ons Broer staan aan die roer in die hemel.

A. Alle mag in die hemel en op aarde?!

Na sy opstanding uit die dood het die Heer Jesus vir sy leerlinge gesê dat Hy nou alle mag in die hemel en op die aarde ontvang het: Matteüs 28: 18.Maar daarna het Hy teruggegaan hemel toe en na baie eeue nog altyd nie teruggekom aarde toe nie. En wat kom ons agter van sy mag in hemel en op aarde?! Die geskiedenis na Christus se hemelvaart is vol oorloë, misdadigheid, kerkvervolging.....Wie staan aan die roer? Christus? Of is dit die president van Amerika, van Rusland, van China?

Besprekingsvraag:Is daar rede om verbaas en ongerus te wees noudat ons maar min (of niks?) verneem van Christus se mag in hemel en op aarde?

B. In die hemel opgeneem.

Toe die Here Jesus Christus hemel toe gevaar het, wat was die laaste wat die dissipels gesien het?

Lees:Handelinge 1:9Waarom vertel die Bybel dit spesiaal? Was dit as 't ware die gordyn wat agter ons Heer toegetrek is, omdat ons nie in die hemel mag kyk nie?

Vraag: Ons lees in die Ou Testament ook 'n paar keer van 'n spesiale wolk? - Waar? - Wat was die betekenis van daardie wolk? - Wanneer verskyn die wolk ook nog ‘n keer in die Nuwe Testament?

Miskien mag ons sê: die wolk by Christus se hemelvaart was die koninklike voertuig waarmee God die Vader self sy Seun na die hemel kom haal het. Ons het mos in Sondag 18 HK gelees dat Christus nie net na die hemel opgevaar het nie, maar dat Hy ook na die hemel opgeneem is.

C. In die hemel op die

troon.Die wolk by Christus se hemelvaart was in elk geval 'n letterlike vervulling van 'n visioen wat die profeet Daniël gesien het.

Lees: Daniël 7: 1- 14

Die profeet sien vier diere uit die see opkom.

Wat beteken daardie diere? (Sien: vs 16,17)

Vervolgens sien Daniël 'n Oue van dae. Wie is Hy?

Waarom word Hy so genoem? Daarna verskyn daar in die visioen

een soos die Seun van 'n mens. Wie is Hy?

Wat ontvang hierdie Menseseun van die Oue van dae?

Hoé het die Seun van 'n mens na die Oue van dae toe gekom?

Ons lees in die Evangelies dikwels dat Christus Homself "die Seun van die mens" noem.As ‘n gevangene van die Joodse Raad verwys Hy selfs baie duidelik na Daniël 7: Matteüs 26: 63-64.Kort voor sy hemelvaart , Handelinge 1: 6, vra die dissipels aan Christus of Hy nou die koningskap, of: koninkryk, in Israel weer gaan oprig. Christus gee nie 'n regstreekse antwoord nie. Die wolk waarmee hulle Hom egter kort daarna in die hemel sien ingaan, is die antwoord: Hy ontvang nou daarbo alle mag in die hemel en op die aarde. Maar sy troon staan voorlopig nog daarbo: in die hemel.

Sondag 19 van die Kategismus fokus op Christus se regering in die hemel.In Sondag 18 is ons aandag gevra vir Christus as ons Priester in die hemelSondag 19 vra ons aandag virChristus as ons Koning in die hemel.Niemand minder as ons Broer, ‘n mens van vlees en bloed, staan nou aan die roer in die heme!.

D. In die hemel aan God se regterhand.

Ons Koning sit in die hemel op die troon aan die regterhand van God.

Die Bybel praat dikwels van God se regterhand. Ons het in die les oor Sondag 10 HK al daarby stilgestaan:

Lees:Exodus 15:6,12 Psalm 89:14Psalm 138:7Psalm 139:10 Jesaja 41:10

Al daardie Bybelgedeeltes leer vir ons dat God niet met gevoude hande in die hemel sit nie. En al glad nie met die hande in die haar nie. Dit is Hy wat in alles die hand het.Maar vanaf sy terugkeer in die hemel sit Jesus Christus dus aan God se regterhand.

Lees:Openbaring 5: 1-7

Christus ontvang uit God se regterhand die regeringsprogram wat nog afgewerk moet word om tot ‘n nuwe aarde te kom. En dit impliseer dat God se groot Seun, ons Verlosser, die Koning van die kerk, nou God se hand mag lei en stuur. Hy mag ingryp in die geskiedenis van die wêreld. En van die kerk. En van jou lewe. Die Vader regeer alles deur sy Seun.Christus is, soos Josef in Egipte, die onderkoning aan Wie die Vader die volle beheer oorgedra het.

Sondag 19 HK Vraag 50: Waarom word daar bygevoeg: “...en sit aan die regterhand van God”?

Antwoord: Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Hom daar kan bewys as die Hoof van sy Christelike Kerk, deur Wie die Vader alles regeer.

E. Christus regeer as die Hoof van sy kerk

Antwoord 50 van Sondag 19 benadruk dat ons Here Jesus Christus as hoof van sy kerk alles regeer in die hemel.Hy voel steeds aan ons verbind, ja, Hy hou in sy hele regering rekening met ons, sy kerk op aarde. As ons Broer staan Hy aan die roer.Sy regeringsprogram het dan ook slegs een teiken: die voltooiing en verlossing van sy kerk.Dit impliseer dat feitlik die hele wêreldgeskiedenis kérkgeskiedenis is.Alles wat daar in die wêreld gebeur, alle politieke ontwikkelinge in ons eie land,alle gebeurtenisse in jou eie lewe,alles werk daaraan saam dat daar straks ‘n volk van God op ‘n nuwe aarde leef!

Reeds in die tyd van die Ou Testament het God die wêreldgeskiedenis ingeskakel terwille van sy kerk.

Lees: Jesaja 41:1-4, 25

Wie was die staatsman wat in daardie dae so groot opslae gemaak het omdat hy omtrent die hele wêreld onderstebo gekeer het?

Wie het sy optrede voorberei en begelei?

Lees: Esra 1:1,2.

Wat was een van die eerste regeringsdade van hierdie staatsman, toe hy in Babel die troon bestyg het?

Wie het dit tevore al aangekondig?

Lees: Jeremia 29:10

Hoeveel jaar moes Israel se ballingskap in Babel duur?

Die HERE het dit dus so gelei dat daar in Babel 'n nuwe koning die troon bestyg wat besluit om die Israeliete te laat teruggaan na Jerusalem toe, presies in die jaar toe die aangekondigde tyd van die ballingskap volgemaak is!

Lees: Lukas 3:1

Watter politici moes daaraan saamwerk dat die Verlosser van die kerk op God se tyd in Betlehem gebore is?

Die kerk is die spil waarom die hele wêreldgeskiedenis wentel. Sal jy dit bly glo, as jy maar net mense hier op aarde besig sien? Sal jy dit bly glo, as daar dinge gebeur wat vir jou gevoel hoegenaamd nie sin maak nie? Ook in daardie dinge staan ons Broer aan die roer en Hy gebruik dit vir ons beswil.

F. Ons Hoof skenk ons sy hulp

Ons Koning het self ons daarop voorberei dat die laaste deel van die wêreldgeskiedenis nie ‘n maklike tyd sal wees nie. Juis sy kerk sal swaarkry in daardie dae. Ons Koning in die hemel voorsien ons egter van hemelse krag. Soos ons in die les oor Sondag 18 HK klaar gesien het, stuur Hy vanuit die hemel sy Heilige Gees na ons hier op aarde. En die Gees is as ‘t ware ‘n tregter waardeur Christus hemelse gawes in ons uitstort: geloof, liefde, hoop en volharding...

Sondag 19 HK Vraag 51: Watter nut bring hierdie ereplek van ons Hoof Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste dat Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitstort.

Ten tweede dat Hy ons met sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar.

Vraag:Kan jy voorbeelde noem van Christene wat ten spyte van baie beproewings en swaarkry standgehou het?

Die feit dat daar vandag steeds ‘n kerk van God op aarde is, ondanks baie vervolgings, dwaalleer, interne rusies, magsmisbruik of ernstige nalatigheid van ampsdraers en kerkelijke vergaderings, is die bewys dat Christus vanaf sy troon in die hemel sy kerk hier op aarde daagliks bystaan. As ons maar net onder die ‘tregter’ bly staan.

Vraag:Hoe doen ‘n mens dit konkreet: onder die ‘tregter’van die Heilige Gees staan?

G. Huiswerk

LES 28 Sondag 19 HK (vervolg) : Ons Heer kom weer.

A. Jesus kom weer. Wanneer?

Ons het in die vorige les oor Sondag 19 geleer om vol vertroue na die wolke te kyk:Iewers agter daardie ‘gordyn’ is Jesus Christus. Daar staan sy troon en hou Hy die leisels van alles wat hier op aarde gebeur in die hande. Maar kyk jy ook nog gereëld vol verwagting, ja, vol verlange na die wolke? Toe Jesus by sy hemelvaart deur ‘n wolk van sy leerlinge weggeneem is, het

daar mos skielik twee engele by die volgelinge gestaan wat aangekondig het dat Christus net so sal kom soos hulle Hom na die hemel sien wegvaar het. Eendag kom ons Broer en Koning terug op die wolke!Een van die dissipels, Johannes, herinner aan daardie belofte van die engele in die inleiding op sy beskrywing van die Openbaring wat hy ontvang het.

Lees:Openbaring 1: 7

Daardie engele het egter geen datum genoem nie. Christus het wel gesê Hy sal gou maak. Tog wag ons al omtrent 2000 jaar. Hoe gou is gou?!

B. Jesus vra geduld.

Die Heer Jesus het ons wel daarop voorberei dat ons langer op sy terugkoms sal moet wag as wat mens sou verwag. Hy het ‘n storie vertel van 10 meisies wat, saam met ‘n bruid, voorsien van feeslampe vir die koms van ‘n bruidegom gewag het.

Lees:Matteüs 25: 1- 12Daardie bruidegom het belaglik laat eers kom opdaag. Wanneer?

Ook óns Bruidegom, Christus, kan voor ons gevoel laat wees. Hy vra geduld. Ekstra olie in ons lampe sal nie verkeerd wees nie. Ekstra geloof dat Hy

regtigwaar wel terugkom, al voel dit partymaal glad nie so nie. Ons moet dus waaksaam bly en elke dag Jesus se terugkeer verwag.

C. Voortekens?

Kan ons regtig nou reeds elke dag Christus se terugkoms verwag? Moet daar nie eers allerhande voortekens plaasvind nie? Het Jesus tydens sy lewe hier op aarde nie gepraat van ‘tekens van die tye’ wat sy terugkoms aankondig nie?Daar was en is sektes wat, met gebruikmaking van gegewens uit veral Daniël en die Openbaring, die presiese datum van die wederkoms probeer bereken het. Hulle noem ook voortekens wat nog moet plaasvind

Party leer dat elke mens orals in die wêreld ‘n strepieskode op sy voorkop of op sy regterhand gaan kry, as ‘n vervanging van ons bankkaarte, biblioteekkaarte en so meer. En dat Christene daardie kode sal moet weier omdat dit die merk van die dier is en die syfers onder die strepies in ‘n bepaalde samevoeging die getal 666 vorm.

Lees:Openbaring 13: 16-18.

Daar is Christene wat uit Rom 11: 25 en 26a aflei dat daar eers 'n massale bekering van die Jode sal plaasvind voordat Christus weerkom. En hulle beskou die ontwikkelinge m.b.t. die huidige staat Israel teen die agtergrond van Ou- Testamentiese profesieë as duidelike voortekens wat die terugkeer van die Messias voorberei.Hulle verbind hieraan die leer van ‘n Duisendjarige Ryk wat dadelik na die massale bekering hier op aarde sal aanbreek: Christus kom weer uit die hemel en bestyg die troon in Jerusalem, omring deur Jode wat Hom nou tog as hul Koning aanvaar. Die gelowiges wat reeds gesterf het, staan op en regeer saam met Hom vanuit Jerusalem oor die hele aarde. Na duisend jaar keer Christus egter terug na die hemel en mag die Satan met sy duiwelse magte vir die laaste keer probeer om die kerk te verwoes.As die nood op sy hoogste is, kom die Redder uit die hemel egter vir die tweede maal na die aarde vir die definitiewe verlossing. Hulle beroep hulle vir hierdie leer o.m. op Openbaring 20

D. Soos ‘n dief

Indien dit inderdaad so sou wees dat eers hierdie soort van voortekens moet plaasvind voordat ons Heer uit die hemel kan terugkom, kom Hy dus voorlopig nog nie terug nie. Want ons het b.v. nog nie daardie strepieskode op ons voorkop of ons hand ontvang nie. Dus kom Christus ook nie terug ‘soos ‘n dief in die nag’, enige tyd as ‘n mens dit nie verwag nie. Maar dit is wel wat die Bybel duidelik vir ons leer.

Lees: Matt 24: 43-44, 1 Tessalonisense 5: 1-2 2 Petrus 3: 10

Die Bybel leer ons nie om Christus se wederkoms te probeer bereken nie.Die Bybel waarsku juis daarteen.

Die mense wat ‘n massale bekering van die Jode verwag, lees te veel in Romeine 11: 25-26a. Hulle lees daardie teks so, dat daar 'n tydelike verharding oor die volk Israel gekom het. Onderwyl gaan die heidene in God se Koninkryk in. Maar as die getal wat God uit die heidene verkies het, vol geraak het, kom daarna ook die hele volk Israel tot bekering.Paulus praat egter nie van 'n tydelike verharding wat oor Israel gekom het nie, maar van ‘n gedeeltelike verharding. Daar is ook Jode wat wel Jesus van Nasaret as hul Redder aanvaar het.Paulus sê ook nie: eers sal die volheid van die heidene ingaan en daarna sal die hele Israel gered word nie. Hy skryf dat, terwyl nou ook uit die heidene die getal van wie deur God uitgekies is, vol word, op hierdie manier die hele Israel verlos word.

Paulus praat van twee soorte "Israel".

Lees: Romeine 9: 6

Die ware "Israel" is die gelowiges, kinders van Abraham, die vader van die gelowiges.Paulus vergelyk die ware "Israel" met 'n boom: Romeine 11: 17 e.v.

God moes ‘n gedeelte van die boom se takke afbreek: Israeliete wat in ongeloof verhard het. Om sy boom tog weer vol te maak, ent God heidene wat tot

geloof kom in hul plek.En so, op dié wyse, word tog die hele (boom) “Israel” gered.

Die wat hulle vir hul leer oor ‘n Duisendjarige Ryk o.m. op Openbaring 20 beroep, ignoreer die feit dat daar in die laaste Bybelboek aanhoudend simboliese getalle gebruik word. Duisend jaar is die aanduiding van 'n vol en langdurige periode.Die tyd tussen Christus se hemelvaart en wederkoms is bedoel.Dat die duiwel met 'n ketting gebind word, beteken: hy kan dit nie langer keer dat die Evangelie alle volkere op aarde bereik nie.Die gelowiges wat saam met Christus regeer, regeer nie hier op aarde, in Jerusalem, nie, maar saam met Christus in sy troonsaal in die hemel.

E. Tipering van die laaste dae.

In sy sogenaamde "Rede oor die laaste dinge" (Matteüs 24, Markus 13) het Christus ons wel iets oor die tyd wat aan sy wederkoms voorafgaan gesê. Maar ook in dié rede trek die Here ons aandag van spesiale voortekens af.Die Skrif gee slegs 'n algemene tipering van die "laaste dae", ‘n aantal kenmerke van die tyd wat aan die terugkoms van die Here Jesus voorafgaan.

Opdrag:Probeer om saam vanuit die bybelgedeeltes hieronder te omskrywe wat ons daardie tyd (óns tyd!) kan verwag.

1. Matteüs 24: 37-39 / 1 Tessalonisense 5: 3 / 2 Petrus 3: 3, 4

…………………………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………

2. 2 Tessalonisense 2:3 / 2 Timoteüs 3: 1-5

…………………………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………

3. Markus 10: 30 / Markus 13: 9, 19 / Johannes 16: 33 / Handelinge 14: 22 / 2 Timoteüs 3: 12 / Openbaring 3: 10

…………………………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………

4. Markus 13: 21, 22 / Handelinge 20: 29, 30 / 2 Timoteüs 3: 8 / 1 Johannes 2:18, 19 / Openbaring 13: 11 (vergelyk Openbaring 19: 20)

…………………………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………

5. Markus 13: 10,11 / Johannes 16: 7-11 en 33 / 2 Timoteüs 2: 9

…………………………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………

Die natuurrampe wat die Skrif aankondig as tekens van Christus se wederkoms, gaan nie in 'n stygende lyn aan die wederkoms vooraf nie, maar begelei die wederkoms (Markus 13: 24-27, 2 Petrus3: 10, Openbaring 6: 12-17)

F. Waaksaam aan die werk.

Aangesien die Here weerkom soos 'n dief in die nag, word daar van ons 'n aanhoudende waaksaamheid verwag. Hy kan enige dag weerkom! Dit beteken egter nie dat ons heeldag maar bietjie moet sit en wag nie.

Lees:Matteüs 24: 42-47Hoekom is die Heer van die slaaf baie tevrede oor sy kneg?

Lees:Matteüs 25: 14-23

Christus het by sy vertrek na die hemel sy skatte hier op aarde aan ons, sy knegte (m/v), toevertrou. En Hy verwag dat ons daarmee sal woeker om, solank Hy nog nie terug is nie, daarmee wins te maak. Vir Hom.

Vraag:Op watter maniere en waarmee kan jy vandag winsgewend vir jou Heer in die hemel besig wees?

G. Die dag van die terugkeer van ons Heer.

Op God se tyd kom die Heer Jesus op die wolke na die aarde terug. Skielik. Maar ook op so ‘n wyse dat niemand Hom kan miskyk nie.

Lees:Matteüs 24: 27 en Openbaring 1: 7

Dan sal elkeen ook sy ontelbaar baie engele sien, wat vandag nog onsigbaar hul werk verrig. Die dag van Christus se terugkoms word vir sy en ons vyande die dag van die eindafrekening, maar vir ons die dag van die finale verlossing. Ons mag "sonder verskrikking" voor sy regterstoel verskyn, soos na ons doop alreeds gevra is. Want die Regter is dieselfde Persoon wat vroeër in ons plek in die beklaagdebank gestaan en ons straf gedra het.

Lees: Art 37 NGB

Op die dag van Christus se wederkoms sal "die boeke geopen word”In artikel 37 NGB word gesê dat daardie "boeke" die "gewetens van die mense" is.Dit is 'n ou eksegese van Openb 20:12.Hierdie uitleg is egter aanvegbaar. Daar is Gereformeerde Kerke in die wêreld wat wel die verwysing na Openb 20:12 gehandhaaf, maar daardie eksegese uitgelaat.Ons moet liewer dink aan "die lêers met die bewysstukke, die dossiers" waarvolgens die hemelse Regter elkeen sal oordeel. As jy egter elke keer weer jou sondes bely en jou toevlug tot Christus geneem het, sal daar in jou lêer ‘n skone rekord wees: Christus s’n! Hy het al jou sondes van jou af weggeneem en die straf daarvoor klaar gedra..Dit word die grond vir ons vryspraak.En dis dié dat ons die dag van Jesus te wederkoms met sterk verlange mag verwag.

Sondag 19 HK Vraag 52 HK: Christus kom terug om te oordeel die lewendes en die dooies. Sien jy met gespanne verwagting daarna uit?

Antwoord: Ja, want Hy kom wel as die Regter, maar Hy is terselfdertyd my Redder. Hij het mos eers in my plek in God se beskuldigebank gestaan en God se straf reeds van my weggeneem.

Vandag se lewe kan nog vol verdriet en vervolging wees, maar eendag sal Christus al sy (en dus ook my) vyande vir ewig veroordeel. Terwyl Hy my en al die ander gelowiges in die wonderlike lewe in die hemel sal neem.

H. Huiswerk.

LES 29 Sondag 20 HK. Die Heilige Gees.

A. Ook aan my gegee?

In hierdie les oor Sondag 20 gaan dit oor die Heilige Gees van God. Wie is Hy en wat doen Hy? In die Kategismus is dit maar ‘n klein paragrafie. Terwyl die werk van die Gees veelomvattend is. Maar die Kategismus kan dit doen omdat die Heilige Gees reeds verskeie male in die voorgaande sondae van die Kategismus ter sprake gekom het.

Vraag:In watter vrae en antwoorde?

Sondag 20 leer jou om te sê dat die Heilige Gees ook aan jou gegee is. Kan ‘n mens dit sommer sê? Is jy seker dat dit ook by jou die geval is? Hoe weet jy? Waaraan ‘n mens dit agter?Die Here Jesus Christus het die Heilige Gees 'n keer vergelyk met die wind.

Lees:Johannes 3: 8.

Die wind self is onsigbaar, maar dit wat hy uitwerk is wel merkbaar. Soos dit ook met die Gees van God. Jy kan Hom nie sien nie, maar sy werk in jou lewe kan jy wel agterkom.

B. ‘n Persoon. Nie slegs ‘n energie nie.

Die metafoor van die Gees as die wind sou ons kon laat dink dat die Heilige Gees slegs as 'n krag, 'n goddelike energie is. Daar ís ook heelparty

mens, ook predikante, wat so dink. Hulle noem die Gees: "die aktiewe teenwoordigheid van God in hierdie wêreld."In God se Woord lees ons egter van die Heilige Gees as 'n Persoon. Hy is saam met die Vader en die Seun een van die drie Personen van die goddelike Drie-eenheid.

Lees:Johannes 14: 16 Christus noem die Gees die: ................. Romeine 8: 11 Die Gees wil in ons: ......................... Efesiërs 4: 30 'n Mens kan die Gees: ....................... Handelinge 5: 3Ananias en Saffira het vir Hom: .............. Openbaring 2: 11 Ons word opgeroep om na Hom te: ...........

C. Die Heilige Gees- eers vanaf Pinkster?

Ons vier die koms van die Heilige Gees elke jaar met Pinkster. Het God se Gees eers toe op die aarde begin werk?Nee, ons lees al op die eerste bladsy van die Bybel oor die Gees wat, nadat God die hemel en die aarde geskep het, op die waters gesweef het. Die Gees was al dadelik by God se skitterende skeppingswerk betrokke. En sindsdien speel die Gees ‘n beslissende rol in God se onderhouding van sy skepping.

Vraag:Hoe word in die Geloofsbelydenis van Nicea de Heilige Gees getipeer?

Die Heilige Gees was ook al daar toe die HERE die volk Israel saamgeneem het uit Egipte na Kanaän toe: Jesaja 63: 10. Hy het ampsdraers geïnspireer vir hul belangrike werk: Regters 6: 34, 1 Samuël 16: 13.Nogtans kon die Gees Homself na ons sondeval nie meer volledig ontplooi nie. Die Gees van God is baie gevoelig vir die sonde. En vanweë die sonde moes Hy Homself telkens weer terugtrek.

D. Pinkster: God kom woon by sy kerk!

Dit het egter met Pinkster verander.

Lees: Handelinge 2: 17 en 4.Watter werkwoorde gebruik die Bybel daar met betrekking tot die koms van die Heilige Gees?

Vanaf die Pinksterdag het God in sy volheid in die kerk kom woon. Soos Hy dit altyd begeer en beloof het.

Lees:Exodus 25: 8Esegiël 37: 26, 27Johannes 14: 23

God het dit ook met sigbare en hoorbare tekens indrukwekkend vir almal in Jerusalem gewys dat Hy nou meer naby sy volk gekom het as tevore. Daar was die geluid van ‘n stormwind en daar was orals vuur. Met dié tekens het God tydens die Ou Testament ook meer as een keer na sy volk toe gekom.

Lees:Exodus 19: 16Psalm 50: 3

Dit was die sigbare en voelbare teken van sy aanwesigheid. Maar ook skrikwekkende tekens! Destyds het daardie stormwind en vuurvlamme God se volk op 'n afstand gehou. Die wind het jou weggeblaas, die vuur het jou verteer as jy te naby wou kom.God wou woon by die mense. Maar die sonde van die mense het veroorsaak dat God afstand moes skep. Hy het ‘n eie woning betrek: die tabernakel, en later die tempel. Maar Hy moes Homself in daardie woning wel onbenaderbaar terugtrek agter die gordyn met gerubs

Hoe is dit egter op die Pinksterdag in Jerusalem? Dieselfde tekens is weer daar; maar wat is die groot verskil? Daar is slegs die geluid soos dié van ‘n kragtigte stormwind, maar niemand word weggeblaas nie. Daar is vuurvlammetjies op almal se koppe, maar daar word selfs nie ‘n haar

geskroei nie!God hou sy volk dus nie meer op 'n afstand nie. Maar Hy kom woon nou by hulle. God se volk word nou self die tempel van die lewende God.

Vraag:Wat het gebeur dat God nou wel in volheid by die mense kan woon?Het God op die Pinksterdag in Jerusalem by álle mens kom woon?

E. Veroorsaak die Gees bomenslike gevolge?

Wat was die gevolge toe die wind van die Gees op daardie dag in Jerusalem so kragtig begin waai het? Waaraan kan ek agterkom dat die Gees ook in my kom woon het?

Daar is Christene wat glo dat die Heilige Gees buitengewone kragte in ‘n mens losbreek:

jy begin gesigte sien en ontvang profesië; jy kan in bomenslike tale (engeletale?)praat; jy het kragte van genesing; ensovoort.

Daar was inderdaad wel van daardie tekens in die eerste tyd van die Christelike kerk.Alhoewel mense nie “bomenslike” tale gepraat het. Die praat van bestaande tale was een van die eerste tekens van die Heilige Gees op die Pinksterdag. En blykbaar het dit later by party Christene n nog wel voorgekom. Paulus skryf daaroor in 1 Korintiërs 14. Daar is vertalings wat daar praat van “ongewone tale” maar Paulus gebruik nie daardie woord nie. Hy praat gewoon van “tale”. Boonop maak hy die praat in ander tale nie, soos heelparty charismatiese Christene vandag, tot dié kenmerk van ‘n Geesvervulde gelowige sodat almal veral daarna moet streef nie. Hy perk dit juis in!

Daardie tekens was naamlik maar net bedoel as die ‘klokke’ wat die mense ‘kerk toe’geroep het. Mense moes nie op die tekens fokus nie, maar as gevolg van die tekens nog meer op die gepredikte evangelie van Jesus Christus fokus.

Vraag:Wat het Petrus op die eerste Pinksterdag in Jerusalem gedoen toe daar baie mense as gevolg van die tekens na die vergadersaal van die Christene toe gekom het? Het hy ook aan hulle tekens begin uitdeel?Na daardie eerste Pinksterdag het die tekens al al taamlik gou weer begin verdwyn. Omdat die Woord van die HERE al hoe duideliker begin klink het.

F. Die Gees plaas die Vader en die Seun in die kollig.

Jy het dit seker al ‘n keer iewers gesien: ‘n pragtige outydse gebou, ‘n kerk, ‘n raadsaal die Uniegebou in Pretoria of soiets, wat saans in die kollig van ‘n paar sterk lampe baai. Die lampe self is skaars sigbaar en trek ook nie die aandag nie. Maar die ou gebou lyk in daardie lig des te pragtiger.Ons sou die Heilige Gees met so ‘n sterk lamp kon vergelyk. Hy vra in die Bybel nie baie aandag vir Homself nie, maar plaas vir ons die Vader en die Seun in die kollig.Die Bybel gebruik daarvoor ‘n hele aantal benamings vir die Gees.

Opdrag:Lees die tekste hieronder (ewentueel in groepies) en probeer verstaan wat met elkeen van daardie omskrywings van die Gees bedoel word.

2 Korintiërs 4: 13 Johannes 14: 17 Efesiërs 1: 17 Romeine 1:4 Romeine 8:2 1 Petrus 4: 14 Hebreërs 10: 29

G. Die Gees werk met die Woord.

Op watter manier werk die Heilige Gees? Hoe word die wind van die Gees voelbaar?Kom ons begin by jou doop: al dadelik aan die begin van jou lewe, by jou doop, het die gemeente vir jou gebid of die HERE wou gee dat jy van kleinsaf "deur die Heilige Gees geregeer sou word".

Lees: Die gebed na die doopsbediening.In daardie gebed word ook genoem wat konkreet gebeur as 'n kind deur die Heilige Gees geregeer word. Te wete?

Die woord van God: dit is weg waarlangs die Heilige Gees na ons toe kom, in ons kom woon en werk. Dit is hoe God altyd gewerk het! Hy het gepráát en hierdie wonderlike aarde het tot stand gekom (Psalm 33: 9). En na de sondeval het God die mens na Hom teruggeroep en weer met hulle gepraat. Die Heer Jesus het God se Wóórd kom saai soos ‘n saad wat

ontkiem en vrugte dra. En na Pinkster het die Heilige Gees die luidspreker se volumeknop op die hoogste stand gedraai: in alle tale verkondig mense orals in die wêreld nou die groot dade van God. En daardie woorde, deur gewone mense oorgedra, bewerk wonders van geloof, bekering, lewensvernuwing....

Daarom kan die apostel Paulus in Kolossense 3: 16 ook skrywe: “Laat die Woord (!) van God ryklik in julle woon..."En daarom word ons in Openbaring 2: 7, 11, 17 en 29 opgeroep om: “...te luister na wat die Gees vir die gemeente sê”.En die apostel Paulus noem in Efesiërs 6: 17 die Woord van God “die swaard van die Gees”.

Die Heilige Gees werk deur middel van God se Woord.Daarmee dring Hy deur tot in ons hart en daarmee sny Hy die sonde uit ons lewe uit.Die Gees begin sy werk in jou deur jou ouers se godvresende opvoeding. Maar Hy sit dit voort

hier in die katkisasieklas sondags in die kerk tydens die gesamentlike bespreking van God se Woord in

verenigingsverband so dikwels jy self God se Woord lees, ensovoort

.

H. Moenie die Gees bedroef nie.

Lees:Handelinge 7: 51 Efesiërs 4: 301 Tessalonissense 5:19 Hebreërs 10: 29

Wanneer dink jy maak ‘n mens jou skuldig aan hierdie sonde waarteen die Bybel waarsku? Mag dit so wees dat jy juis die mooi gevolge van die Gees steed meer ervaar.

Sondag 20 HK Vraag 53: Wat glo jy van die Heilige Gees?

Antwoord: Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God.

Ten tweede is Hy ook aan my gegee sodat Hy my deur 'n ware geloof aan Christus en al sy weldade deel laat kry, my troos en ewig by my bly.

I. Huiswerk.

LES 30 Sondag 21 HK. Die kerk: Christus se herderswerk.

A. Buite die kerk geen saligheid?

In hierdie les fokus ons op die kerk. Wat is die kerk? Hoe belangrik is die kerk?

Opdrag:Bespreek saam, of in groepies, die stelling: “Buite die kerk is daar geen saligheid, geen ewig behoud vir ‘n mens”. Kan ons so sê?

Waarskynlik het julle in jul bespreking wel ‘n paar keer oor ‘ons’ kerk gepraat. Het jy geweet dat ons woord ‘kerk’ van die Griekse woord ‘kuriakè’ afgelei is, wat weer saamhang met die woord ‘Kurios’ wat ‘Heer’ beteken? ‘Kerk’ beteken dus ‘van die Heer’.Die kerk is nie van ons nie, maar dit is die werk van ons Heer in die hemel, Jesus Christus. Hierdie les wil jou probeer help om dit beter te verstaan.

B. Een onsigbare kerk?

Daar is baie verskillende kerkgenootskappe in ons een land.

Vraag:Hoeveel verskillende kerke kan jy noem?

Baie mense vergelyk die kerk oor die hele wêreld met 'n groot huis met almal afsonderlike kamers. Jy kan die buitemure van die kerkhuis nie sien nie: dié is vir ons mense onsigbaar. Hulle praat in dié verband van: "die onsigbare kerk". Net God sien die buitemure. Wat jy wel kan sien is al die binnemure wat ons (helaas!) opgetrek het: al die verskillende kerke wat ons mense gestig het. Ons het as gevolg van die sonde almal in aparte kamertjies teruggetrek. Tog vorm ons almal saam steeds die een kerk van die Here Jesus Christus.

Elkeen wat glo in God as ons Skepper en Vader en in die verlossingswerk van sy eniggebore Seun Jesus Christus behoort aan die ‘onsigbare kerk’.Vraag: Hoe word hierdie kerkopvatting dikwels in praktyk gebring as 'n seun en 'n dogter uit twee verskillende kerke trou?

Die fout in hierdie opvatting is, dat daarvan uitgegaan word dat ‘geloof’ iets is wat ‘n mens een of andere tyd ontvang en solank as wat jy dit nie weer ‘weggooi’ nie is jy nou dus ‘n gelowige. Maak nie so baie saak aan watter kerkgemeenskap jy behoort nie, solank as wat jy ‘n gelowige bly, behoort jy aan Christus se een kerk.

C. Christus vergader, beskerm en onderhou.

Die kerkopvatting van die een onsigbare kerk fokus veral op die ménse, die gelowiges. Christus hoef nie meer baie moeite vir hulle doen nie- Hy hét dit klaar gedoen, sodat hulle klaar gelowiges is. Hy kan sy aandag nou op ander mense wat nog nie glo nie toespits.

Vraag:Is jou geloof altyd ewe sterk? Twyfel jy nooit?

Iemand het ons geloof ‘n keer met ‘n jojo vergelyk: soos wat jy ‘n jojo moet probeer bo hou deur hom telkens weer op te trek, aangesien hy van sy eie ondertoe rol, so moet ons geloof ook elke keer weer opgetrek word. Want ook ons geloof sak van sy eie ondertoe.

Wel, dáárvoor gebruik Christus sy kerk hier op aarde. Vanuit die kerk roep Hy deur sy Gees en Woord mense om in Hom te glo. Maar in die kerk help Hy die wat na sy roepstem begin luister het, ook deur sy Gees en Woord om te aanhou glo. Dis Hy wat daar elke keer geduldig

die ‘jojo’ van ons geloof weer optrek.

Sondag 21 HK Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene christelike kerk?

Antwoord: Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom 'n gemeente (wat tot die ewige lewe uitverkies is) vergader, beskerm en onderhou. Hy doen dit

deur sy Gees en Woord en die mense wat Hy byeenbring is saamverbonde deur een endie dieselfde geloof.

Christus is hiermee al besig al van die begin van die wêreld af en sal daarmee aangaan tot die einde toe.

Lees mooi in vraag en antwoord 54 van Sondag 21 HK: daar word nie gepraat van wat ons as gelowiges klaar bereik het nie, maar van wat Christus steeds besig is om te doen! Die kerk is die vergadering van die gelowiges. En daardie woord vergadering of versameling (sien Art 28 NGB) is geen selfstandige naamwoord nie, maar ‘n werkwoord: Christus is besig om mense bymekaar te bring/te versamel as gelowiges.

Ons moet die kerk dus nie vergelyk met 'n gebou met verskillende afdelings, waar dit nie eintlik saak maak tot watter afdeling jy behoort nie. So 'n siening op die kerk ken nie meer beweging nie: as jy een keer binnekant is, is jy veilig. So 'n siening op die kerk kweek gemaksug en onverskilligheid.Ons moet die kerk daarom liewer vergelyk met 'n weg waarop Christus mense roep en met Hom saamneem na die ewige lewe toe. Hierdie kerkbegrip ken steeds beweging: ons ¡s nog nie waar ons moet wees nie! Hierdie kerkbegrip dwing om aanhoudend te hoor en te gehoorsaam.

D. Herderswerk.

In God se Woord wordt die vergaderwerk van God en Christus dikwels met die werk van ‘n herder vergelyk wat sy kudde bymekaar bring en bymekaar hou, teen gevare beskerm en voorsien van kos en water.

Lees:Psalm 23

Soek nog 4 ander Psalms waarin die HERE met 'n herder en sy volk met 'n kudde skape vergelyk word.

Alhoewel die HERE self die Opperherder is, gebruik Hy mense as onderherders om sy skape op te pas. Al in die Ou Testament:

Lees:

Psalm 78: 70-72 Jeremia 23: 1, 2Esegiël 34: 1-12

Ook nadat die Here Jesus die nuwe Goeie Herder geword het (Johannes 10: 11-16), bly Hy mense as onderherders inskakel om sy skape op te pas:

Lees: Johannes 21: 15-17 1 Petrus 5: 1-4 Handelinge 20: 28, 29

Vraag: Hoe noem ons die huis van die predikant? Wat beteken daardie woord? Is daar meer huise in ons gemeente wat dié naam sou kan dra?

Wat is die taak van sulke onderherders in Christus se diens?Hulle moet vir die Opperherder sy skape vergader, beskerm en onderhou.

Vraag: Waaraan ken skape blykens Johannes 10 hul eie herder uit en waarom volg hulle nie die huurling nie?

Dus hoef onderherders maar net een ding te doen: hulle moet die stem van die Goeie Herder vir die skape hoorbaar maak en hoorbaar hou. Onderherders van Christus het volgens Artikel 29 NGB drie middele om die stem van die Opperherder aan sy skape te laat hoor:

Hulle bedien sy Woord 2. Hulle onderstreep sy Woord met die sakramente 3. Hulle roep terug na sy Woord deur tugmaatreëls.

Deur hierdie drie middele roep die Gees van die Here Jesus Christus God se skape uit die wêreld weg om hulle saam te neem na die waterfonteine van die lewe toe. Elke Sondag in die eredienste, deur huisbesoek en katkisasieklas is Christus besig om ons op te pas en by Hom vas te hou.

Vraag:Verstaan jy nou beter hoekom daar in ons belydenis staan, art 28 NGB, dat daar buite die kerk geen saligheid is nie?

E. Ware en valse kerk

Jy sal nou ook verstaan:Jy kan nie sommer aan enige kerk, maak nie saak watter een, behoort nie. Want nie orals waar mense as ampsdraers besig is, is Christus besig nie. Nie orals waar 'n gebou staan wat die naam ‘kerk’ dra, is Christus se kerk nie.

Nie orals waar kerkdienste gehou word, word Christus se stem suiwer hoorbaar gemaak nie. Want nie alle ampsdraers is goeie herders nie.

Dis hoekom die Nederlandse Geloofsbelydenis sê “dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is”

Lees:Art. 29 NGB die beginAan watter kenmerke kan ons die ware kerk uitken?

Om die ware kerk te kan uitken moet ons dus nie allereers op die kerklidmate ag slaan nie , maar op die werk van die ampsdraers: is hulle goeie herders van Christus?

Waar ampsdraers op 'n heeltemal verkeerde manier met Christus se skape omgaan, is die valse kerk."Vals” beteken hier nie, dat al daardie mense vals en gemeen is nie.

Kom ons vergelyk dit met vals tande: aan die buitekant lyk hulle meestal baie beter as die egte tande; maar hulle is namaak. Hulle het geen wortel nie.So is dit ook met die valse kerk: oënskynlik kan dit daar baie beter lyk as in die ware kerk. Maar dit is slegs skyn: in der waarheid ontbreek die wortels in God se Woord.

Vraag:Watter kenmerke het die valse kerk volgens Art 29 NGB?

Elke skaap van Christus moet dus mooi luister of hy nog steeds die goeie herders volg. Neem hulle saam jou agter Christus aan? En as jy agterkom dat jou ampsdraers valse herders, huurlinge geword het, moet hy hulle los en die goeie ampsdraers weer soek en volg.Want die pad agter verkeerde herders aan lei na die ondergang.

Lees:Mattheüs 7: 15Handelinge 2: 40Handelinge 20: 29, 30Romeine 16: 17, 18Galasiërs 1: 92 Thessalonisense 3: 61 Johannes 4: 12 Johannes 1: 9,1 0

F. Binding aan die belydenis.

Ook troue herders kan die regte spoor byster raak. Daarom gebruik die Gereformeerde Kerke wat deur die Reformasie in die 16de eeu ontstaan het, 'n waardevolle hulpmiddel wat ampsdraers en lidmate by die eenheid van die geloof moet bewaar: drie belydenisskrifte as ‘Formuliere van Eenheid’ (d.w.s. deur middel van hierdie formuliere probeer die kerke die eenheid in die ware geloof te bewaar). Hierdie drie foruliere is:

die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, en die Dordtse Leerreëls.

Deur die Nasionale Sinode van Dordrecht 1618/1618 is 'n Ondertekeningsformulier ingevoer wat deur alle ampsdraers en ook deur dosente by ‘n teologiese opleiding by die aanvaarding van hul ampsdiens onderteken moet word.Hulle verklaar daarmee dat hulle die gereformeerde belydenisskrifte aanvaar as ‘n mooi en betroubare samevatting van God se Woord, en die Gereformeerde leer daarvolgens sal leer en verdedig. Indien hulle nogtans bedenkings sou kry teen enige onderdeel van die belydenis, beloof hulle dat hulle dit nie openlik sal uitdra nie, maar vertroulik eers in die kerklike vergaderings sal bespreek.

Lees:Gereformeerde Kerkorde, artikel 53

Wat gebeur met ampsdraers wat hierdie formulier nie wil onderteken nie, of wat naderhand hul belofte wat hulle met hul handtekening bekragtig het, verbreek?Op hierdie manier waak Gereformeerde Kerke daarteen dat hulle valse kerke sou word.

G. Christus is nog steeds besig.

Gaan almal wat vandag aan 'n valse kerk behoort en ampsdraers volg wat nie goeie herders is nie, dus vir ewig verlore?!Nee, dié gevolgtrekking mag ons vandag nog nie maak nie.CHRISTUS IS MOS NOG ALTYD BESIG om sy skape te vergader!

Hy kan ook dwalende skape nog by die kudde bring. Hy kan hulle selfs vanaf hulle sterfbed nog in die stal bring, al het hulle ook hul lewe lank die verkeerde ampsdraers gevolg.

Aan die ander kant is die lidmaatskap van die ware kerk ook nie outomaties 'n waarborg dat jy sal salig word nie. Jy sal 'n lewende lidmaat moet wees wat ook regtig luíster na die stem van die herders en hulle gehoorsaam volg op die regte paaie.Jy sal jou ook self moet beywer daarvoor dat jou gemeente ‘n ware kerk bly.

Vraag:Hoe kan ‘n mens jou daarvoor beywer?

Sondag 21 HK Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene christelike kerk?

Antwoord: Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom 'n gemeente (wat tot die ewige lewe uitverkies is) vergader, beskerm en onderhou.

Hy doen dit deur sy Gees en Woord en die mense wat Hy byeenbring is saamverbonde deur een en die dieselfde geloof. Christus is hiermee al besig al van die begin van die wêreld af en sal daarmee aangaan tot die einde toe.

Ek glo dat ek van hierdie gemeente ‘n lewende lidmaat is en ewig sal bly.

H. Huiswerk.

LES 31 Sondag 21 HK (Vervolg). Kerkverband en kerkregering.

A. Pous? Sinode?

Weet jy watter amp die Pous het? Weet jy wat 'n Sinode is?Weet jy wanneer die Klassis waaraan jou gemeente behoort die laaste keer vergader het ?Het jy al ooit in ons Kerkorde gekyk?Onthou jy nog die laaste keer dat van die kansel aangekondig is dat Kerkvisitatore die gemeente sal besoek?Hierdie soort sake gaan ons in dié les bespreek.

B. Baie gemeentes- een kerk.

Ons het in die vorige les geleer:ons Heer Jesus Christus vergader, beskerm en onderhou orals in hierdie wêreld sy skape. Hy gebruik daarvoor die diens van onderherders, ampsdraers.Op elke plek vorm die ampsdraers saam die kerkraad van daardie gemeente.Al daardie afsonderlike gemeentes met 'n kerkraad, in ons land, maar ook wêreldwyd, vorm egter saam die een kudde van Christus. Hulle is saamverbonde deur een en dieselfde geloof. Daarom mag die gemeentes plek-plek mekaar nie ignoreer nie: in Christus vorm hulle 'n eenheid.

Die vraag in hierdie les is nou:op watter wyse moet daardie eenheid konkreet gestalte kry?Hoe moet al die afsonderlike kerkrade en gemeentes aan die eenheid wat daar in Christus is gestalte gee?

C. Hiërargie.

Die ROOMS KATOLIEKE KERKleer dat al die plaaslike gemeentes onderafdelings van die een wêreldkerk is. Die hoof van hierdie wêreldkerk is die Pous in Rome, die opvolger van die apostel Petrus en dus die verteenwoordiger van Christus op aarde. Aan hom is die sleutels van God se koninkryk toevertrou.Onder die Pous is daar Kardinale,

daaronder Aartsbiskoppe,daaronder Biskoppe, daaronder Priesters en ander plaaslike ampsdraers.Die plaaslike gemeentes word dus van bo af geregeer en bymekaar gehou. Ons noem dit hiërargie: 'n regering deur "heiliges".

Vraag: Wat sê Art. 31 NGB oor die mag en gesag van die een ampsdraer oor die ander?

Die ANGLIKAANSE OF ENGELSE KERKken ook so'n hiërargie. Alleen erken hulle nie die Pous van Rome as hul kerkhoof nie.Die staathoof van Engeland is hul kerkhoof. En onder hom is die aartsbiskop van Canterbury ‘n soort van pous.

Die LUTHERSE KERK lyk baie na die Roomse en Engelse kerk. Maar hier is die kerklike ampsdraers nie onderworpe aan 'n Pous nie, maar aan die landelike, provinsiale en plaaslike owerhede. Die landskerk is dus 'n staatskerk.

PROTESTANTSE KERKEDaar is ook Protestantse kerke wat 'n hiërargiese kerkregering aanvaar het, soos in ons land die Nederduits Gereformeerde Kerk en die Nederduits Hervormde Kerk. Ook hulle beskou die plaaslike gemeentes as onderafdelings van die een landskerk beskou word. Die Algemene Sinode is die hoogste bestuursliggaam van die kerk, met daaronder 'n Provinsiale of Partikuliere Sinode, daaronder Klassikale of Ringbesture en heeltemal onder die Kerkrade met hul gemeentes.Al hierdie verskillende bestuursliggame bestaan permanent.

Vraag: Wat is die groot gevaar van so ‘n hiërargiese kerkregering vir die plaaslike kerke en kerklidmate?

D. Independentisme.

In reaksie op die hiërargiese kerkopvatting is daar ook kerke wat juis die selfstandigheid van die plaaslike kerk so sterk beklemtoon dat hulle geen inmenging van kerkbesture bo die kerkraad aanvaar nie. Die afsonderlike kerke kan wel in konferensies bymekaarkom maar daar word geen besluite geneem waaraan die kerke almal gebind is nie. Plek-plek kies die kerke self watter koers hulle wil vaar. Ons noem hierdie kerkopvatting INDEPENDENTISTIES.Mens kry dit b.v. by heelwat Baptiste Kerke. Ook die meeste Evangeliese Gemeentes is independentisties. Daar is wel situasies waarin twee

Evangeliese Gemeentes in dieselfde gebou hule kerkdienste hou, die een soggens en die ander saans, terwyl hulle verder glad nie ‘n band met mekaar het nie.

Vraag: Wat is die gevaar van die Independentistiese kerkopvatting?

E. Gereformeerd kerkverband.

Die GEREFORMEERDE KERKE het al vanaf die tyd van die Reformasie in die 16e eeu ook hul vertrekpunt in die selfstandigheid van die plaaslike kerke geneem. Die kerkrade is nie onderworpe aan die opperbestuur van 'n wêreldkerk, of 'n staatskerk of 'n landskerk nie, maar is regstreeks aan die Heer Jesus Christus self verantwoording verskuldig.

Lees:Openbaring 1: 20 - 2: 1Wat beteken dit dat Christus tussen die sewe goue kandelare rondbeweeeg en die sewe sterre (= die boodskappers/predikante) in sy regterhand hou?

Tog het dit bydie Gereformeerde kerke nie tot indpendenisme gelei nie. Omdat die Jesus Christus Opperherder oor almal is, kan en mag die plaaslike kerke egter nie as los sand langs mekaar nie leef. Daarom het hulle 'n VERBAND van kerke gevorm waarin hulle met mekaar saamleef. Binne hierdie kerkverband kom die kerke op reëlmatige basis bymekaar in:

Klassisse (elke derde maand), Partikuliere of Provinsiale Sinodes (elke jaar) en Algemene Sinodes (elke derde jaar).

Hierdie vergaderings is geen besture bo die kerkrade nie, maar vergaderings van afgevaardigdes uit die kerkrade, in diens van die kerkrade.

Daardie vergaderings bestaan ook nie permanent soos in die hiërargiese kerkopvatting nie, maar slegs solank die afgevaardigdes bymekaar is om die sakelys wat aan hulle deur die kerke opgedra is, af te handel. Na afhandeling van die agenda word die vergadering gesluit en bestaan hy nie meer nie. Slegs die kerkrade bly as permanente bestuurliggame bestaan.In die gereformeerde kerkverband word ‘n Klassis ten opsigte van ‘n kerkraad, of ‘n Sinode ten opsigte van ‘n Klassis dikwels ‘n “meerdere vergadering" genoem, terwyl die kerkraad of klassis dan die “mindere” vergadering heet.Maar dit beteken nie dat 'n "meerdere vergadering" meer gesag as 'n "mindere vergadering" het nie. Ons bedoel maar net dat in 'n "meerdere" vergadering meer kerke verteenwoordig is.

F. Gereformeerde kerkorde.

Die Gereformeerde Kerke het hierdie verkeer met mekaar in ‘n kerkverband gereël in 'n Kerkorde. Die Kerkorde wat ons huidig gebruik, is gebaseer op die Kerkorde wat deur Die Gereformeerde Kerke in Nederland aanvaar is in hul Nasionale Sinode van Dordrecht 1618/1619. In die Kerkorde is ‘n hele aantal afsprake vasgelê wat die kerke oor hul omgang met mekaar gemaak het. ‘n Mens sou die Kerkorde ‘n klomp vrywillige verpligtings wat die kerke op hulle geneem het, kon noem.

Vraag:Is dit nie ‘n innerlike teënstrydigheid nie: ‘vrywillige verpligtings’?

Die Kerkorde is in vier hoofstukke ingedeel:I oor die ampteII oor die vergaderingsIII oor die leer en die erediensIV oor die tugV) slotartikels.

In die Kerkorde is o.m. afgespreek hoedat iemand ampsdraer kan word, wat die regte en pligte van 'n ampsdraer is, hoe 'n Klassis of Sinode saamgestel moet word, wat in so'n vergadering behandel mag word, hoe die kerke op mekaar sal toesien; daar is afsprake gemaak oor die liturgie en die tugoefening oor lidmate en ampsdraers wat in sonde leef...

Opdrag: Lees die Kerkorde en beantwoord die volgende vrae:1. Hoe kan iemand sonder ‘n teologiese opleiding nogtans tot die amp van bedienaar van die Woord toegelaat word? (Art. 8 KO)

2. Wat mag iemand doen wat meen dat hy deur die uitspraak van 'n mindere vergadering veronreg is? (Art. 31 KO)

3. Wanneer hoef 'n besluit wat met meerderheid van stemme geneem is, nie as bindend aanvaar te word nie? (Art. 31 KO)

4. Wat is die taak van die predikante wat kerkvisitasie moet hou? (Art. 44 KO)

5. Wie se hulp moet ingeskakel word by die skorsing van 'n ouderling? (Art. 79 KO).

Vraag:Wat is die verskil tussen die Gereformeerde belydenisskrifte en die Gereformeerde kerkorde? Wat is belangriker: die belydenis of die kerkorde?

G. Kerklike korrespondensie wêreldwyd.

Prakties gesproke is dit die maklikste om in 'n kerkverband van Gereformeerde Kerke saam te leef binne een land, tussen kerke wat dieselfde taal praat.Maar die Here Jesus Christus vergader regdeur die wêreld sy skape. Hoe onderhou die kerke in die verskillende lande en wêrelddele dan die band aan mekaar?Gereformeerde kerkverbande in verskillende lande wat mekaar as ware kerke erken, beoefen KORRESPONDENSIE met mekaar. Hulle beskou hulself "een in leer, diens en tug", en slegs deur landsgrense, taal en kultuurverskille geskei.

Kerklike korrespondensie impliseer baie meer as dat die kerke mekaar op ‘n gereëlde basis briewe stuur. Hulle gee uiting aan hul eenheid deur

mekaar se lidmate tot die heilige Nagmaal toe te laat; aanvaarding van mekaar se lidmate wat met ‘n getuienis (‘attestaat’)

van hul kerkraad na ‘n andere kerkraad verhuis; toelating van mekaar se predikante om te preek en die sakramente te

bedien; die moontlikheid om mekaar se predikante te beroep.

Om die eenheid in stand te hou, het die kerke afgespreek: mekaar se Sinodehandelinge te lees en mekaar se besluite te toets; om afgevaardigdes na mekaar de Sinodes te stuur; om geen belangrike besluite m.b.t. die Belydenis en/of die Kerkorde te

neem sonder om die buitelandse susterkerke daarin te ken nie.

Daar kan ook ‘n praktiese hulpverlening van mekaar wees, b.v. wanneer die een kerkverband die sendingwerk van susterkerke in ‘n ander wêrelddeel finansieel onderskraag.

Elke vierde jaar kom Gereformeerde kerke wêreldwyd bymekaar in die International Conference of Reformed Churches (ICRC).

Vraag: Met watter kerke in die buiteland beoefen ons Kerke korrespondensie?

H. Huiswerk.

LES 32 Sondag 21 HK (Vervolg II). Die gemeenskap van die heiliges.

A. Wat sal jy maak?

Bespreek saam die volgende vrae en motiveer jul antwoorde: Indien daar in jou gemeente die kerklike bevestiging

plaasvind van ‘n troue van ‘n paartjie wat jy van geen kant af ken nie, sal jy soontoe gaan?

Indien jou kerkraad die gemeente oproep om ‘n jongmens weens verharding in ‘n ernstige sonde op te roep om hom te bekeer, maar ken nie vir daardie persoon nie, voel jy geroepe om hom te besoek of ‘n brief aan hom te stuur?

Iemand sê: “Ja, ek onttrek my aan die kerk. Maar ek onttrek my nie aan die gemeenskap van die heiliges nie!”- wat sal jou antwoord wees?

B. Eenheid allereers in jou eie gemeente.

Ons het in die vorige lesse oor Sondag 21 gesien dat die kerk se lidmate in die Skrif met skape vergelyk word. Die skape word op elke plek deur hul eie herders (=kerkraad) vergader, beskerm en onderhou. Nogtans behoort al die afsonderlike gemeentes tot die een kudde van ons Here Jesus Christus. Almal volg mos dieselfde Herder! Daarom onderhou die afsonderlike en selfstandige plaaslike gemeentes 'n kerkverband.

En daarom beoefen die verskillende kerkverbande regdeur die wêreld korrespondensie met mekaar.

Indien selfs die skape van verskillende gemeentes en in verskillende wêrelddele 'n band met mekaar moet onderhou, hoeveel te meer die skape wat aan dieselfde gemeente behoort!

Hulle is deur die Groot Herder bymekaar gebring om voortaan sáám agter Hom aan te gaan, om mekaar by Hom vas te hou, om die dwalendes terug te roep......Die kerk is allereers in elke gemeente plek-plek ‘n GEMEENSKAP VAN HEILIGES.

Sondag 21 HK Vraag 55: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede gemeenskap met die Here Christus het en in al sy skatte en gawes deel.

Vraag:Wat mag ons daarom volgens art. 28 NGB nie doen nie?En wat moet ons wél doen?

C. Heiliges?

Is ons as kerklidmate heiliges? Is jy ‘n heilige?

Lees: 1 Korinthiërs 1:2

Die apostel Paulus noem die lidmate van die gemeente in Korinte wel “heiliges”. Maar as jy verder lees in sy brief aan hierdie gemeente, kom jy al gou agter dat die lidmate in Korinte glad nie volmaakte Christene was nie. Inteendeel. Daar was verskeie sondes in die gemeente.

Vraag:Watter sondes lees jy raak in hierdie brief?

Nogtans skryf Paulus met oortuiging dat daardie kerkmense heiliges was. Want hy het al dadelik in vers 1 van sy brief duidelik gemaak dat 'n mens nie deur jou eie inspanning daardie benaming kan verwerf nie.

Vraag:Hoe word ‘n mens volgens Paulus ‘n heilige?

"Heilig" beteken in die Bybel nie "volmaak" nie. Heilig beteken dat God ons deur Jesus Christus van die doodloopstraat van die sonde afgehaal het, sodat ons weer saam met Hom en tot sy eer sal lewe. Ons is daardeur nie sommer dadelik volmaak nie, maar ons is op ‘n pád geplaas waarop ons weer volmaak mag wórd.

Lees:Sondag 44 HK, vr en antw 115.Wanneer bereik ons eers die volmaaktheid?Lees: Efesiërs 4: 1-16 Die heiliges moet volgens Paulus nog groei.

Waarmee vergelyk hy hulle in vs 14? Wat moet heiliges toenemend bereik (vs 13)? Waarmee vergelyk Paulus in vs 12, 15 en 16 die heiliges

saam? Wat is die taak van die ampsdraers wat Christus aan sy kerk

gee? (vs 11,12) Wie voeg die heiliges saam tot 'n eenheid? (vs 15b en 16a).

Lees:Hebreërs 10:24-25.Waar begin die beoefening van die gemeenskap van die heiliges?

D. Een liggaam.

Ook in 1 Korintiërs 12:12 e.v. gebruik die apostel Paulus die beeld van 'n liggaam vir ons as kerklidmate. Hierdie beeldspraak verduidelik baie mooi hoe nou ons in die kerk aan Christus verbind is: Hy is die Hoof, ons is die lede.Sy Gees regeer vanuit die Hoof die hele liggaam. Maar as jy 'n liggaam onthoof, sal die liggaam dadelik doodgaan. 'n Liggaam sonder hoof kan nie bestaan nie. 'n Kerk sonder Christus kan ook nie bestaan nie.

Hierdie beeldspraak maak egter ook baie mooi duidelik hoe nou ons aan mekaar verbind is:

ook as jy 'n lid van die liggaam afsny, sterf dit dadelik af. 'n Lid kan ook nie sonder die liggaam bestaan nie. 'n Kerklidmaat kan nie sonder die gemeente bestaan nie.Slegs as ons saam by Christus bly, kan ons lewe en funksioneer.

Ons is in die kerk almal verskillend, met verskillende gawes en moontlikhede. Soos daar in 'n liggaam ook baie verskillende lede is. Maar

daar is geen lid oorbodig nie. Almal is op hulle eie plek in die liggaam belangrik. Ons het mekaar almal nodig.

Sondag 21 HK Vraag 55: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.

Vraag:Watter verskillende gawes in die kerk kan jy uitwys?

Soos in 'n liggaam die afsonderlike lede mekaar aanvul, ondersteun, korrigeer, so moet ook die lidmate van die kerk mekaar help, ondersteun, aanvul en korrigeer.

Vraag: Op watter verskillende maniere kan ons mekaar in die kerk help en aanvul?

Soos in geval van siekte in een van die lede die hele liggaam koorsig raak om die siekte te probeer oorwin, so moet ook in die kerk al die lidmate saam die pyn van die sonde by een van hul broeders en susters voel en daarteen stry. En as ons nie soo maak nie, sal die hele liggam siek raak en kan doodgaan.

Vraag: Hoe kan ons teen die sonde by 'n medekerklidmaat stry?

E. Wat sal jy maak?

Bespreek nou nog kortliks weer ‘n keer die vrae in paragraaf A van hierdie les? Het jou standpunte verander?

E. Moet jou nie in die uiterlike misgis nie!

Ons kan ons ook misgis in die belangrikheid van 'n bepaalde lid misgis!

Lees: 1 Korintiërs 12:22

Hoeveel keer per dag kam jy jou hare, en poets jy jou tande? En hoe gereëld versorg jy jou lewer? Jou milt?Snaakse vrae, nè?Maar jy sal moet saamstem dat jy meer tyd aan jou hare spandeer as aan jou lewer. En meer tyd aan jou tande bestee as aan jou milt. Nogtans is jou lewer heelwat belangriker as jou hare. En jou milt as jou tande. Mens kan ook met 'n kaal kop en sonder tande honderd jaar oud word. Maar sonder lewer of milt kan jy nie 'n dag meer lewe nie. Daardie liggaamsdele is van lewensbelang.Wel, dit is wat Paulus bedoel in 1 Korintiërs 12:22. Ons kan baie beïndruk wees met bepaalde lidmate en ander lidmate glad nie raaksien nie. Terwyl van daardie lidmate vir wie ons nie ‘n oog het nie in die HERE se oë belangriker kan wees dan daardie broer of suster met wie ons so beïndruk is.G. ‘n Gemeenskap wat van vergewing leef!

Lees:1 Korintiërs 12: 15-21

Omdat ons as lede van Christus se liggaam almal verskillende gawes het en sommiges gawes nie so ooglopend soos ander is nie, kan dit gemaklik gebeur dat die een lidmaat op die ander begin neersien.

Vraag: Watter soort mense in die kerk kan maklik hoogmoedig raak?

Dit kan ook maklik gebeur dat lidmate wat ‘n slegte verlkede het of dink hulle het maar min gawes, minderwaardig voel teenoor die ander kerklede.In Christus se kerk leef ons egter almal van dieselfde vergewing van ons sondes wat Christus vir ons moes verdien. Ons is almal, hoe verskillend ook al, mense met 'n sondige aard waarteen ons ons hele lewe lank moet stry.Dit is die wonder van die kerk: Christus verenig daar sondaars!Hy het ons almal gekies en geroep om lede van sy liggaam te wees. Hy het aan ons almal sy Heilige Gees gegee om nuwe mense van ons te maak. Dit is ‘n wonder wat ons almal klein, beskaamd en verwonderd moet maak. Dit is ‘n wonder wat ons daarvan sal weerhou om op mekaar neer te sien.Dit is ‘n wonder wat ons sal help om nie minderwaardig teenoor die ander in die kerk te voel nie.

Sondag 21 HK Vraag 56: Wat glo jy van die vergewing van

die sondes?

Antwoord: Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my hele lewe lank moet stry, nooit meer wil dink nie.

Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom nie.

H. Huiswerk.

LES 33 Sondag 22 HK. Lewe na die dood.

A. Wat is ons na die sterwe te wagte?

Opdrag:Bespreek saam die volgende vrae:

Wat gebeur met 'n mens na sy dood? Sal ons mekaar nog herken in die nuwe lewe na ons dood? Wat moet ons ons by ‘n “ewige lewe” voorstel?

B. ‘n Graf vorm die grens.

Daagliks wordt daar oor die hele wêreld ontelbare grafte gegrawe. Daar gaan nie 'n dag verby waarop daar nie êrens op die aarde 'n mens sterf nie.Dalk het jy ook al 'n keer aan 'n graf gestaan: van jou oupa of ouma, van 'n boetie of sussie, dalk één van jou ouers, van 'n vriend......Wanneer ons aan 'n graf staan, staar ons onsself vas teen 'n grens waar verby ons nie kan kyk nie: 'n menseliggaam wat in 'n kis toegesluit is en in die aarde verdwyn. Dis die finale afskeid van iemand wat gesterf het.Want niemand het nog ooit van anderkant daardie grens af teruggekom

om vir ons te vertel hoe dit daar is nie.

Vraag: In die Ou Testament lees ons wel van mense wat uit die dood

weergekeer het. Kan jy twee noem? Ook die Here Jesus het mense uit die dood in hierdie lewe laat

terugkeer. Kan jy drie noem?

Van watter apostels lees ons in die boek Handelinge dat hulle mense uit die dood teruggebring het?

Maar selfs uit die mond van die mense wat in die Bybelse tyd tydelik uit die dood weergekeer het, hoor ons hoegenaamd niks oor die dae wat hulle dood was nie. Deesdae lees 'n mens af en toe oor ervarings van mense wat skyndood was of byna dood: hulle het 'n helder lig gesien, mooi musiek gehoor, stemme gehoor.....

Maar ook dié verhale is so teenstrydig en verwarrend en dikwels maar net 'n spieëlbeeld van die idee wat hulle tydens hul lewe oor die dood gehad het, dat ons dit ook nie as betroubare inligting kan aanvaar nie.Daarom sit ons met baie vrae. Maar kom ons probeer in hierdie les, die laaste een oor die twaalf artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis, vanuit God se woord antwoorde op daardie vrae vind.

C. Die graf ‘n slaapkamer?

In die hemel is daar volgens hierdie teoloë dus vandag nog geen mense nie.

Dit lyk asof hierdie gedagtes steun ontvang uit wat ons veral in die Ou Testament lees. Daar is byvoorbeeld verskeie Psalms wat die magteloosheid van 'n mens in die graf besing. Asof die graf die finale einde van ‘n menselewe is.

Lees: Psalm 6: 6Psalm 30: 10Psalm 115: 17

Ons kan sulke Skrifgedeeltes natuurlik nie sommer eenkant skuif nie. Die Skrif herinner ons daarin aan die dodelike erns van die dood. Die dood is nie gewoon die natuurlike einde van 'n menselewe nie. Die dood is die afbraak van die lewe wat God bedoel het, as die straf vir ons sondeval.‘n Mensonterende einde van mense wat vir hulleself soveel eer gesoek het dat net soos God wou wees. Ons ervaar mos so ook die dood? 'n Mens word, sonder dat iemand dit kan keer, weggeskeur uit al die lewensverbande waarin God 'n mens geplaas het. Hy wat sterf, daag skielik nie meer by sy werk op nie, nie meer in die klaskamer nie, sy plek in die kerk is leeg, by die huis sit iemand anders op sy stoel. Paulus noem in 1 Korintiërs 15: 26 die dood “die laaste vyand”.

D. Sterwe? Lewe!

Gelukkig vertel die Bybel meer oor ons lewe na die dood as wat jy in daardie Psalms gelees het. Die Bybel praat wel van ons siel en ons liggaam.

Lees: Matteüs 10: 28

Ons liggaam kan doodgemaak word –deur vyande, maar ook deur ‘n siekte, ‘n ongeluk of iets dergeliks- terwyl ons siel dan aanhou leef.

Lees:Johannes 11: 25, 26

Ons siel word dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word, terwyl die liggaam in die graf verdwyn.

Lees:Filippense 1:23,24

Vraag: Kan jy self nog ander Skrifgedeeltes aanwys waarin ons lees dat God se kinders na hul dood nie in die graf verdwyn nie, maar dadelik na die hemel gaan?

Daarom bely ons in Sondag 22 HK:

Sondag 22 HK Vraag 57: Watter troos gee die opstanding van die liggaam jou?

Antwoord: Eerstens dat my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word....

Jy mag by die woordjie "siel" eenvoudig aan jouself dink , aan jou persoonlikheid , sonder jou liggaam. Soos jy is, soos jy voel, soos jy bly kan wees of omgekrap kan voel, soos jy die HERE vrees- dis jou siel. ‘n Identiese tweeling het omtrent dieselfde liggaam. Maar hulle is elkeen wel ‘n unieke persoonlikheid. Hulle het elkeen ‘n eie siel.

Dis vir ons maar moeilik om ons 'n mens sonder liggaam voor te stel. Maar die Bybel praat nog altyd baie menslik oor die siele van die wat reeds gesterf het. Hulle is steeds persone met hul volle bewussyn. Hulle dra nog die name wat hulle op aarde gedra het. Hulle kan steeds praat en dink. Hulle lees by God.

Lees:Markus 12: 26, 27.

E. Die Heilige Gees as waarborg.

Ons het by die les oor Sondag 20 geleer, dat die Gees van die Heer Jesus Self deur die Woord in ons kom woon het om ewig by ons te bly. Die Heilige Gees verlaat God se kinders nie weer vir 'n hele ruk as hulle sterf nie. Inteendeel, Hy wat vandag reeds die begin van die ewige vreugde in hul harte bewerk, neem hulle siel, wanneer hulle sterf, voorlopig saam na hul Heer en Hoof Christus toe. In die hemel. Hy laat hulle by hul sterwe meteens die eerste opstanding deurmaak.

Vraag: Hoe noem die apostel Paulus in 2 Korintiërs 5: 5 die Heilige Gees?

F. Saam met Christus regeer.

Wat doen al God se kinders wat reeds gesterf het, vandag in die hemel?Hulle mag saam met Christus regeer, vertel die Bybel.

Lees:Openbaring 20: 4.

As ons hier op aarde 'n lyk in 'n kis moet lê, staan bo in die hemel alreeds 'n troon klaar waarop die oorledene mag sit! In Christus se troonsaal mag hy, of sy, die verdere wêreldgebeure meemaak.En daaruit mag ons maar rustig aflei dat die wat die hemel ingegaan het, regtig nie die aarde uit die oog verloor nie. Die hemel is glad nie die plek van volmaakte rus soos wat talle mense dink nie. Die hemel is Christus se regeringssentrum. Soos Christus na sy hemelvaart nie sy rug op die aarde gedraai het nie, maar vanuit sy hemelse troonsaal die geskiedenis op aarde regeer, so mag die ontslape gelowiges Christus se regering van die aarde meebeleef. Hulle het 'n plek gekry in die krisissentrum.

Kan hulle ons hier op aarde dus almal persoonlik sien en ken?Ons weet nie.Ons weet wel dat hulle 'n baie breër blik gekry het as wat hulle voorheen op aarde gehad het. Hulle stel nie meer hoofsaaklik belang in hul eie klein familie- en vriendekring nie. Hulle het nie meer net 'n oog vir die moeites en probleme binne hul eie gemeente nie. Hulle weet hulself nou betrokke by Christus se wêreldwye werk van kerkvergadering. Hulle is nie tevrede met hul eie hemelse heerlikheid nie, maar hulle verlang na die heerlikheid van die ganse kerk. Hulle besef nou eers reg wat die gemeenskap van die heiliges beteken en hulle sien uit na die dag dat alle lede van Christus se liggaam vir altyd by hul Hoof Christus sal wees. Hulle leef saam, hulle bid saam en hulle sien hoedat ons Here Jesus Christus met 'n groot haas sy terugkoms voorberei.

Lees: Openbaring 6: 9, 10

Die hemel is dus nie die plek van absolute rus nie. Ook daar heers spanning oor die verloop van die geskiedenis op aarde.

Lees: Hebreërs 12: 1, 2

Ons neem as Christus se kerk as 't ware aan 'n afloswedstryd hier op aarde deel.Die wat reeds gesterf het is die ploegmate wat reeds hul rondetjies geloop het. Hulle het nie solank kleedkamers of huis toe toe gegaan nie, maar as 'n "wolk van getuies" sit hulle rondom ons op die paviljoen gespanne en toekyk. Hulle spoor ons aan om met al ons krag te hardloop.

G. Opstanding van die liggaam.

Die verblyf saam met Christus in sy regeringsentrum is maar net 'n tussentyd. Die dag sal kom waarop Christus alle dooies uit hul graftes orals in die wêreld sal opwek; ook die liggame uit die see; selfs verbrande en die liggame wat deur bomme uitmekaar geruk is.Dan kry almal 'n nuwe liggaam.

Lees:1 Tessalonisense 4: 13- 181 Korintiërs 15: 51, 52

As ons die dag wat Christus weerkom nog hier op aarde leef, sal ook ons liggaam van die een oomblik op die ander verander word van ‘n verganklike in ‘n onsterflike liggaam. Ons kry ons nuwe liggame uit dieselfde grond waarin ons ou liggame begrawe en verteer was. Ons kry 'n verheerlikte

liggaam soos Christus. Dit is 'n liggaam waarin die Heilige Gees van Christus voortaan 'n volmaakte beheer het sodat daar nooit meer plek vir die sonde sal wees nie.

Sondag 22 HK Vraag 57: Watter troos gee die opstanding van

die liggaam jou? Antwoord: Eerstens dat my siel hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word.

Tweedens dat ook hierdie selfde liggaam van my deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word.

Ons nuwe liggaam sal nie ‘n vreemde liggaam wees nie. “Hierdie selfde liggaam van my” wordt eendag weer opgewek, bely ons in die Kategismus. As ons daardie dag in die spieël kyk, sal ons nie in ‘n vreemde gesig staar nie. Ons ontvang weer ons ou, maar vernude liggame terug. Liggame waarin ons mekaar dus ook weer kan herken.

H. Herkenning?

Is dit so? Sal ons mekaar regtig in die nadoodse lewe weer van vroeër kan herken?Daar is mense wat dit nie kan glo nie. Dan sal ons mos ook baie mense, dalk ook geliefdes, familie, of selfs kinders van ons, pynlijk mis? Wat hel toe moes gaan. Is daar dan selfs in die ewige lewe steeds nie die volmaakte vreugde nie?

Tog lees ons in die Bybel van herkenning ook anderkant die dood en die graf.

Lees: Lukas 13: 28Lukas 16: 19-31

Jesus sê dat ons eendag Abraham, Isak en Jakob en al die profete in die ryk van God sal sien. Dan sal ons seker ook maar weet wie hulle is.Christus vertel dat daar selfs herkenning is tussen mense in die hel en in die hemel! En moenie sê dat Hy dit nie so bedoel het nie, maar slegs ‘n storietjie vertel het. Christus het ‘n gelykenis vertel. En dit is altyd ‘n

vertelling oor iets wat hier op aarde werklik so kan gebeur maar wat ons terselfdertyd iets leer oor God se koninkryk.Maar werp dit nie ‘n skaduwee oor die blydskap van die nuwe, verloste lewe nie?Moet maar aanvaar dat ons daardie dag volkome vrede met God se beslissings sal hê. Ons sal God se regverdige oordele aanbid. Die wat ons eendag sal mis, woú tog ook nie by God, op sy nuwe aarde, wees nie? Maar dan kán hulle nou tog ook nie daar wees nie? Terselfdertyd sal ons des te meer dankbaar en verwonderd wees dat ons wél by God mag leef. Wie van ons het dit verdien? Dit is mos net Christus wat dit vir ons verdien het!

Ons sal nie net ons familie en vriende van vroeër herken nie. Ons het hier op aarde geleer om al God se kinders as broeders en susters in die gemeenskap van die heiliges lief te hê. Ons leef nie meer in die klein kringetjies van vroeër nie, maar in die een groot kring van God se huisgesin waarvan Christus die middelpunt vorm. Ons leef saam met Sara en Rut, met Moses en Hiskia, met Maria en Priscilla, met Augustinus en Calvyn, met daardie kind wat so jonk nog gesterf het en die seun met wie ons in hierdie lewe so baie rusie gemaak het.Deur ons Hoof Christus is ons as een liggaam onlosmakelik aan mekaar verbind. Een liggaam, geregeer deur die een Gees van Christus.

I. ‘n Ewige lewe om God te loof.

Wat alles ons dan gaan doen?Daarvan vertel nie Bybel nie baie nie. Dit is soos ‘n present wat ons al wel kan sien, maar die geskenkpapier sit nog om. Eers wanneer Christus weerkom, sal die papier afgehaal wees en sal daar geen vrae meer wees nie.Gaan ons ons ou taak voortsit?

Vraag: Onthou jy nog watter taak God aan die mens in sy skepping gegee het? Ons het dit al bespreek in Les 5 oor Sondag 3 ("Nie God se skuld nie")

Of ontvang ons 'n ewige lewe die tyd om van die rykdom van God se gesuiwerde skepping te geniet? Mag ons in vliegtuie en ruimtetuig die verste uithoeke van God se wêreld bewonder? Sal ons Johann Sebastian Bach self hoor orrelspeel?

Die Skrif leer veral dat ons geen oomblik meer net aan onsself sal dink en net met onsself sal besigwees nie, maar dat ons eindelik weer sal wees soos Adam was in die Paradys: mense wat in alles hul God en Vader soek en loof en prys.

En ons het veel en veel meer redes om te loof en te prys as Adam: nie net oor God se skeppingswerk nie, maar nog veel meer oor sy verlossingswerk. Kyk bietjie hoe regdeur die Kategismus gewys word op hierdie roeping van die mens om God te loof en te prys:

Lees: Sondag 3, vr 6 Sondag 32, vr 86 Sondag 36, vr 99 Sondag 47, vr 122 Sondag 52, vr 128 Sondag 22, vr 58

Sondag 22 HK Vraag 58: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?

Antwoord: Ek ervaar nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart. Maar ná hierdie lewe sal ek volkome saligheid besit -'n saligheid wat geen oog gesien, wat geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie- om God daarin ewig te prys.

Vraag:Ervaar jy regtig die begin van die ewige vreugde nou alreeds in jou hart? Wanneer? Hoe?

J. Huiswerk.