Upload
others
View
0
Download
0
Embed Size (px)
Citation preview
BESTUUR VAN WINGERDE TYDENS DROOGTE TOESTANDE
11/1/2016 Praktiese Riglyne
Saamgestel deur Lucinda Heyns (Instituut vir Wingerd- en Wynwetenskappe)
Met erkenning en dank aan die volgende individue en organisasies wat bydraes
gemaak het aan hierdie dokument:
Hanno van Schalkwyk en Francois Viljoen (VinPro)
Dr. Philip Myburgh (LNR-Nietvoorbij)
Dr. Albert Strever (Universiteit Stellenbosch)
Wes-Kaapse Wingerd Besprekingsgroep
Bestuur van wingerde tydens droogte toestande
Bladsy 1
Bestuur van wingerde tydens
droogte toestande
Praktiese Riglyne
INLEIDING
Hierdie dokument bevat praktiese riglyne vir die
bestuur van wingerde tydens droogte
toestande. Hou in gedagte dat hierdie slegs
riglyne is en dat wingerd bestuurspraktyke
aangepas moet word volgens die spesifieke
area, klimaat, grondtipe en wyndoelwit.
WATER BESTUUR EN BESPROEIING
Gewoonlik na goeie winterrëen, is die
grondwater profiel by veldkapasiteit by bot.
Tydens droë seisoene, is dit waarskynlik nie die
geval nie.
Basiese beginsels by verski l lende
fenologiese stadiums van die
wingerdstok
Blom tot korrelset: Lootgroei, bevrugting
en selverdeling vind plaas tydens hierdie
fase. Waterstres gedurende blom en
korrelset kan ʼn negatiewe impak op
opbrengs hê. Stres tydens hierdie fase lei
tot swak set en klein korrels.
Korrelset tot deurslaan: Selvergroting
vind plaas tydens hierdie fase. Matige
waterstres tussen korrelset en deurslaan
is voordelig om oormatige korrelgroei te
verhoed. Oormatige stres tydens hierdie
periode kan lei tot baie klein korrels en
kan rypwording vertraag. Wingerdstokke
kan onder hewige stres water onttrek
vanuit die korrels om lote te onderhou,
wat kan lei tot ontydige korrelinkrimping.
Deurslaan tot oes: Wingerdstokke is
minder vatbaar vir waterstres tydens
hierdie fase. Lootgroei behoort teen die
tyd te staak en die hoof vraagpunte is
die korrels/trosse. Die floëem, nie meer
die xileem, is hoofsaaklik aktief om water
te vervoer na die korrels. Die floëem is
minder vatbaar vir veranderinge in
grondwatervlakke. Daar moet egter
steeds genoeg grondvog wees om
permanente verwelking van die
wingerdstok te vermy. Grond-
watervlakke moet dus steeds gemonitor
word.
Na-oes tot bot: Akkumulasie van
koolhidraat reserwes word beperk indien
wingerdstokke oormatige waterstres
ervaar tydens die na-oes periode. Te
veel besproeiing na-oes kan egter
vegetatiewe groei induseer wat
koolhidraat reserwes gebruik.
Besproeiing strategie in droë jare
Hierdie strategie is spesifiek van toepassing op ʼn
uiterse droë jaar waar die winter rëenval nie
voldoende was om die grondwater tot by
veldkapasiteit te benat teen die begin van die
groeiseisoen nie.
1. Indien daar slegs kapasiteit is vir een
besproeiing: Dien besproeiing toe voor
blom.
2. Kapasiteit vir twee: Dien besproeiing toe
voor blom en tydens deurslaan.
3. Kapasiteit vir drie: Dien besproeiing toe
voor bot, voor blom en by deurslaan.
Bestuur van wingerde tydens droogte toestande
Bladsy 2
Faktore om in ag te neem rakende
plant waterverbruik, verdamping en
besproeiing.
Groter lowers het ʼn groter water
behoefte. Vermy oormatige groei in
wingerde. (Sien lowerbestuur en
bemesting afdelings).
ʼn Verhoging in watertoediening aan ʼn
wingerdstok lei oor die algemeen tot ʼn
verhoging in opbrengs, maar slegs tot
op ʼn punt. Daarna hou opbrengs op om
te verhoog, bly dit dieselfde of kan dit
selfs verminder.
Gewoonlik wanneer hoë frekwensie
besproeiing toegedien word (14 dae
intervalle of korter), sal ʼn klein
vermindering in water toevoer nie
gelykstaande wees aan groot
oesverliese nie.
Besproei eerder vir langer tydperke,
minder gereeld, in plaas daarvan om
minder water per besproeiing toe te
dien. Dit sal die dieper grondlae benat,
waar water steeds beskikbaar is vir die
wingerdwortels, en sal verdamping
vanaf die grondoppervlakte verminder.
Waar grond ʼn medium tot hoë
waterhouvermoë het, vermy gereelde
besproeiingstoedienings. Daar is bevind
dat wynkwaliteit asook effektiwiteit van
waterverbruik (kg druiwe geproduseer
per kubieke meter water toegedien),
verbeter wanneer gronde besproei
word teen ʼn hoër grondwater tekort.
Kleigronde induseer aanvanklik meer
geil groei aan die begin van die
groeiseisoen. Later in die seisoen is die
water in kleigronde egter moeiliker vir
wortels om te absorbeer, in vergelyking
met water in sandgronde. Daarom is dit
belangrik om die lower te beperk by
wingerde in kleigronde, veral indien
daar moontlik nie later in die seisoen
meer genoeg water beskikbaar gaan
wees om die lower te onderhou nie.
Water verdamp vinniger waar dit drup
om warm plastiek.
Besproeiing tydens die nag beperk
waterverliese deur verdamping, voordat
die water die grond infiltreer.
Verdampingsverliese is hoër waar korter
besproeiingstoedienings, meer gereeld
gemaak word.
Maak seker die besproeiing sisteem
funksioneer optimaal om effektiwiteit te
verseker:
o Maak stukkende mikrospuite reg.
Kontroleer dat lote wat laag
hang of onkruid nie die
benattingspatroon van
mikrospuite belemmer nie.
o Vermy lekplekke en beskadigde
pype om water te bespaar
(Fig.1).
Figuur 1: Beskadigde pype en lekplekke mors water.
(Beeld: Jeff Joubert)
o Maak seker die besproeiing-
stelsel funksioneer teen die regte
druk volgens die ontwerp.
o Filters moet gereeld nagegaan
en skoongemaak word.
Bestuur van wingerde tydens droogte toestande
Bladsy 3
Meet van grondvog
Die meet van grondvog en plant
waterstatus help om ingeligte besluite te
neem en besproeiing strategieë
suksesvol te implementeer. Hierdie is
veral van uiterse belang in jare waar
waterbronne beperk is.
Om te weet wat die waterhouvermoë
van die grond is, sal verhoed dat
besproeiing toegedien word verby die
punt waar die grond die water kan
vashou. Sodoende word waterverliese
as gevolg van dreinering verby die
wortelsone verhoed.
Wortelverspreiding en
grondvoorbereiding
Bepaal waar die wingerdstokke se
wortelstelsels gekonsentreer is en maak
seker hierdie sone word benat tydens
besproeiing. Die toediening van water
verby die wortelsone kan lei tot water
verliese.
Korrekte, diep grondvoorbereiding by
vestiging van ʼn wingerd, lei tot goed
ontwikkelde en verspreide wortelstelsels
wat die wingerd se buffer kapasiteit
verhoog tydens droogte tydperke.
Waterverbruik beplanning
Tydens droogte tydperke mag water
beperkings in werking tree. Dit is goeie praktyk
om jaarlikse waterverbruik te monitor en
deeglike rekords daarvan te hou terwyl druif-
gehalte en opbrengs ook in aanmerking
geneem word. Hierdie inligting kan help met
beplanning tydens droë jare waar dit krities is
om te weet hoeveel water die wingerd
benodig asook hoeveel water tot jou beskikking
is. Dit mag nodig wees om aanpassings te maak
aan opbrengs en gehalte doelwitte, gebaseer
op die beskikbare hoeveelheid water.
GRONDOPPERVLAKTE BESTUUR
Deklaag
ʼn Deklaag wat bestaan uit organiese
materiaal beperk verliese deur middel
van oppervlakte afloop en verdamping.
Later in die seisoen, sal ʼn deklaag lei tot
hoër grondvog inhoud in die dieper
grondlae, in vergelyking met kaal,
onversteurde grond of grond waar vlak
bewerking plaasgevind het.
Dekgewasse
Dekgewasse wat in die lente steeds
aktief groei, kan met wingerdstokke
kompeteer vir water.
Kies eenjarige dekgewasse met korter
groei siklusse wat onkruid onderdruk.
Grondvogmeters, indien beskikbaar, kan
help met besluitneming ten opsigte van
die dekgewas. Soos byvoorbeeld
wanneer om dit te spuit met
onkruiddoder of wanneer om dit plat te
rol.
Sommige dekgewasse kan ʼn goeie
deklaag vorm aan die einde van hul
groeisiklus (Fig. 2). Dit kan help om
onkruid te onderdruk, grond
temperatuur laer te hou en om verliese
deur verdamping te verminder.
Figuur 2: Dekgewasse kan ʼn goeie deklaag vorm.
(Beeld: Lucinda Heyns)
Bestuur van wingerde tydens droogte toestande
Bladsy 4
Onkruid
Onkruid kompeteer met wingerdstokke
vir water. Beheer onkruid chemies, vroeg
in die seisoen en beheer voloppervlakte
tydens die somer.
Meganiese verwydering van onkruid
vernietig fynwortels naby die
grondoppervlakte wat beteken daar is
minder wortels wat ligte reënbuie, waar
water nie diep infiltreer nie, kan benut.
Vlak bewerking is ook geneig om
verdamping te verhoog, in vergelyking
met kaal, onversteurde gronde.
BEMESTING
Dien slegs die nodige hoeveelheid
fosfaat en kalium bemesting toe, mits
analises toon dit is enigsins nodig.
Vermy oormatige stikstof bemesting om
groeikrag te beperk.
Moenie bemesting op die grond-
oppervlakte toedien indien daar nie
reën gaan wees wat die bemesting in
die grond kan help inwas nie.
LOWERBESTUUR
Groter lowers vereis meer water. Suier
goed om onnodige vraagpunte te
verwyder en geilheid te beperk.
Tydige tip en top aksies kan
ongewenste, groot lowers verhoed en
dus verliese deur transpirasie beperk.
OESBEHEER
Groot oesladings kan die rypwordings-
proses vertraag of die druiwe kan dalk
nie die gewenste rypheidsgraad bereik
nie. Vertraagde rypwording beteken die
druiwe hang langer aan die stok en is
dus blootgestel aan warm temperature
vir ʼn langer tydperk en het ‘n groter
waterbehoefte. Wees versigtig vir hoë
produksie strategieë in droë jare (Fig. 3).
Figuur 3: Wees versigtig vir hoë produksie strategieë,
veral waar stokke of lote swak groei toon. (Beeld:
Gert Engelbrecht)
Vermy addisionele stres op
wingerdstokke deur streng oesbeheer
toe te pas, veral waar stokke of lote
swak groei toon.
Verminder oes deur trosse voor
deurslaan te verwyder. Hierdie praktyk
moet versigtig bestuur word, aangesien
daar bewys is dat oormatige
trosverwydering die fotosintetiese
kapasiteit van die wingerdstok kan laat
afneem, wat beteken dat dit die effek
van droogte vererger. Met ander
woorde, waar oes te veel verminder
word, kan die wingerdstok se
fotosintetiese aktiwiteit só drasties
afneem, dat die wingerdstok nie
genoeg koolhidrate kan produseer om
die lower te kan onderhou nie. Die
doelwit is dat die wingerdstok moet
ophou groei, een tot twee weke voor
deurslaan.
WINTERSNOEI
Snoei volgens die groeikrag van die loot.
Dit wil sê, los slegs een ogie op kort, dun
en swak lote.
Wees konserwatief met die ooglading
van draers.
Bestuur van wingerde tydens droogte toestande
Bladsy 5
JONG WINGERDE
Goeie wortelontwikkeling vereis ʼn
grondomgewing met ʼn goeie balans
tussen gronddeurligting en -humiditeit.
Beide te veel en te min water kan dus
nadelig wees vir ʼn jong wingerdstok se
wortelontwikkeling (Fig. 4).
Figuur 4: Jong wingerdstokkies vereis sorgvuldige
bestuur om te verseker dat goeie wortelstelsels
ontwikkel na vestiging. (Beeld: Lucinda Heyns)
Aanhoudende, gereelde besproeiing
waar slegs die bogrond benat word, sal
vlak wortelstelsels in jong wingerde
induseer. Gronde is geneig om te her-
kompakteer met besproeiing of reënval
na grondvoorbereiding. Indien die
bogrond kompakteer word as gevolg
van kort besproeiingstoedienings, sal
wortelontwikkeling in die dieper
grondlae beperk word wanneer langer
besproeiings later in die seisoen
toegedien word om dieper
wortelontwikkeling aan te moedig.
Om genoegsame wortelontwikkeling in
jong wingerd te verseker, moet vlak, kort
besproeiing toegedien word, slegs
totdat die wingerdstokkies begin groei.
Hou grondvog op hierdie stadium by 30-
40% van plant beskikbare water.
Sodra die lote ongeveer 30cm lank is,
moet langer, minder gereelde
besproeiing toegedien word. Grondvog
kan dan gehou word by 70-80% van
plant beskikbare water. Besproeiing
moet dan toegedien word oor die
totale beskikbare worteldiepte wat
geskep is tydens grondvoorbereiding. Dit
sal die wingerdwortels aanmoedig om
dieper in die grond in te groei, op soek
na water, en sodoende ʼn diep
wortelstelsel te vestig wat die
grondvolume optimaal benut.
Die monitering van groeipunte is ʼn
handige riglyn om te gebruik om te
bepaal wanner jong wingerdstokkies
waterstres ervaar (Fig. 5).
Figuur 5: Eerste tekens van waterstres in ʼn
wingerdstok. Die loot groei aktief, maar die rankies
begin afwaarts te hang. (Beeld: Hanno van
Schalkwyk)
Dit is beter om eerder konserwatief te
wees en nog ʼn jaar te wag vir
wortelstelsels om genoegsaam te vestig,
in plaas daarvan om haastig te wees
om jong wingerd te begin oplei en
addisionele stres te plaas op
vegetatiewe groei. Veral in ʼn seisoen
waar die wingerdstokkies moontlik reeds
meer stres as in ander jare.
Bestuur van wingerde tydens droogte toestande
Bladsy 6
OORWEGINGS BY PARSTYD
Druif monsterneming:
Ekstreme toestande sal variasie binne ʼn
wingerd vererger. Daarom is dit dus
noodsaaklik om apart monsters te neem
in gedeeltes van ʼn wingerd waar daar
verskille is in grondtipe, groeikrag of
oeslading.
Dit is beter om meer gereeld monsters te
neem, voordat oesdatum finaliseer
word.
Rypwording en druifanalises:
Oor die algemeen, vind vrugrypwording
in warm, droë jare vinniger plaas wat
beteken dat oesdatums vroeër is as in
ander jare. Suiker akkumulasie in die
korrels vind vinniger plaas en druiwe
mag dalk laer suurvlakke hê. Druiwe van
wingerde wat stres ervaar het, het
gewoonlik hoër pH vlakke.
Die ‘optimale rypheid’ venster is geneig
om kleiner te wees tydens droogte
periodes.
Kleiner korrelgroottes beteken die dop
tot sap verhouding is groter, wat ʼn
aanduiding is van hoër konsentrasies
tanniene en antosianiene in die wyn.
Stres kan egter die totale fenole en
antosianiene drasties verminder wat die
konsentrasie effek teëwerk.
Die effek van suur byvoegings op die pH
en titreerbare suur van sap is minder
voorspelbaar in jare waar wingerdstokke
onder addisionele stres geplaas was.
Oes en afmaal
As gevolg van vroeër oesdatums en
verkorte rypwordingsperiodes, kan die
inname van rooi druiwe heelwat meer
oorvleuel met inname van wit druiwe as
in ander jare. Beplanning van
kelderspasie is noodsaaklik.
Temperature by pars mag hoër wees as
in ander jare. Produsente moet dalk
noodgedwonge pars tydens die warmer
gedeeltes van die dag, aangesien die
rypheidsperiodes verkort is.
Waar druiwe warmer gepars word en
lang afstande vervoer word, mag dit
voordelig wees om ekstra swael by die
druiwe te voeg om dit te beskerm.
Oksidasie en die groei van ongewenste
mikro-organismes vind vinniger plaas by
hoër temperature.
Druiwe wat warmer by die kelder
aankom, mag die verwerkingstempo by
die kelder laat afneem, veral waar die
afgemaalde druiwe verkoel moet word.
Dit kan ook addisionele stremming plaas
op die kelder se verkoelingskapasiteit.
Klein korrels of korrels wat dehidreer is,
bevat minder sap, wat afmaal en die
pomp van afgemaalde druiwe by die
kelder kan bemoeilik. Hou van die vrye
afloop sap apart, sodat dit weer by die
afgemaalde druiwe gepomp kan word
om verwerking te vergemaklik.
Bestuur van wingerde tydens droogte toestande
Bladsy 7
VERWYSINGS:
1. Myburgh, P.A., 2003. Possible flood
irrigation technologies to reduce water
use of Sultanina grapevines in a hot, arid
climate. S. Afr. J. Plant Soil, 20, 180-187.
(http://www.tandfonline.com/doi/pdf/1
0.1080/02571862.2003.10634932?needAc
cess=true)
2. Myburgh, P.A., 2011. Growing stone fruit
and grapes where water resources are
limited Part 1 - Soil management. S. Afr.
Fruit J., Jan 2011/Dec 2012, 52-54.
(http://www.hortgro-science.co.za/wp-
content/uploads/2015/09/Myburgh-soil-
management-1.pdf)
3. Myburgh, P.A., 2012. Growing stone fruit
and grapes where water resources are
limited Part 2 - Irrigation management. S.
Afr. Fruit J., April/May 2012, 30-38.
4. Myburgh, P.A., 2013. Effect of shallow
tillage and straw mulching on soil water
conservation and grapevine response. S.
Afr. J. Plant Soil. 30, 219-225.
(http://www.tandfonline.com/doi/full/10
.1080/02571862.2013.867459?src=recsys)
5. Myburgh, P.A., 1995. Riglyne vir
aanvullende besproeiing van wingerd in
geval van beperkte water (Afrikaans).
Wynboer Tegnies, January, 11-12.
6. Van Schalkwyk H., 2015. Irrigation tips
with limited water supplies during
drought conditions, VinPro.
7. Dippenaar L., Hoe weet ek as my
wingerd water stres ervaar?, VinPro.
8. Hoheisel G. & Moyer M., 2015.
Grapevine management under drought
conditions, Washington State University
Extension.
(https://www.researchgate.net/publicati
on/292147084_Grapevine_Management
_Under_Drought_Conditions?_sg=Slyosb
hT8gRqt7Yd-
U9C6QJVPrq30m0pETh8nkfANzgNaCkHo
jlWxuDNsox2b7pmfuCUE3SpRN667DS9ac
ZBAA)
9. Retallack M. & Scholefield P., Grapevine
Management Options in times of
drought and water restrictions, South
Australian Wine Industry Association
10. Goodwin I., Managing water stress in
grapevines in greater Victoria,
Agriculture notes November 2002, State
of Victoria, Department of Primary
Industries.
(http://agriculture.vic.gov.au/agriculture
/horticulture/wine-and-
grapes/managing-water-stress-in-grape-
vines-in-greater-victoria)
11. Beckingham C., May 2004. Irrigating
Grapevines with limited water supplies,
New South Wales Agriculture.
(http://www.dpi.nsw.gov.au/__data/ass
ets/pdf_file/0008/184328/Irrigating-
grapevines-with-limited-water-
supply.pdf)
12. Simos C., Bell S., Leske P. & Godden P.,
2007. Winemaking implications of
drought – dealing with fruit from water-
stressed vines, Australian Wine Research
Institute. (http://www.awri.com.au/wp-
content/uploads/drought_response.pdf)
VRYWARING: Hierdie dokument is
saamgestel deur die Instituut vir
Wingerd- en Wynwetenskappe
(IWWW) en is ʼn gesamentlike
projek tussen verskeie
organisasies in die Suid-
Afrikaanse wynbedryf. Hierdie
dokument is onderhewing aan
die IWWW se vrywaringsklousule
wat beskikbaar is op ons
webwerf: www.igws.co.za
Voorblad beeld: Lucinda Heyns