16
Goedvoelstories van Hoop Bymekaargemaak deur die NGK Riversdal-Wes lidmate as deel van ons gemeente se ‘Maak-’n-verskil’ - projek Februarie - Maart 2017 Die doel hiervan is om dié en ook ander stories van hoop uit te dra. Ons leef in ’n tyd waarin elkeen van ons as gelowiges, maar ook die hele Suid-Afrika, dit so nodig het! ‘Pay it forward!’ “As jy eers hoop gekies het, dan is enige iets moontlik.” Christopher Reeve

Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

  • Upload
    others

  • View
    1

  • Download
    0

Embed Size (px)

Citation preview

Page 1: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

Goedvoelstories van Hoop

Bymekaargemaak deur die NGK Riversdal-Wes lidmate as deel van ons gemeente se ‘Maak-’n-verskil’ - projek

Februarie - Maart 2017

Die doel hiervan is om dié en ook ander stories van hoop uit te dra. Ons leef in ’n tyd waarin elkeen van ons as gelowiges,

maar ook die hele Suid-Afrika, dit so nodig het! ‘Pay it forward!’

“As jy eers hoop gekies het, dan is enige iets moontlik.” Christopher Reeve

Page 2: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

Ons, hier in Noordwes, is pas deur ‘n vreeslike droogte, en vandag kan ons getuig van God se groot seën wat in die laaste vier maande oor ons gereën het!

Met hierdie sakkie saad, bid ons vir die natuur daar by julle, vir julle gemeente en vir elke gemeentelid wat geraak word deur die brande. Mag God vir julle sorg, voorsien en seën, en mag Hy die eer en verheerliking daarvan ontvang.

Saam met die hoop dat dié saad binnekort daar by julle sal groei, bid ons dat die saad van God se Woord regoor ons land sal groei.

Ons bid vir julle. Tonne Jesus liefde, NG Kerk: Leeudoringstad

Jesaja 41:10 Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”

Roy Stamper vertel tydens ons erediens sy goeie storie. Hy was ’n mis-dadiger wat deur God verander is en nou voltyds in diens van Transnet, sy storie is ‘n getuienis van God se omgee en kragtige liefde.

Nadat hy ’n paar keer in Pollsmoor was, woon hy ’n werkswinkel by waar hy gehelp sou word om ’n nuwe begin met sy lewe te maak. Nadat ‘n ge-vangene wat ’n inbreker, verkragter en moordenaar was, vertel het hoe die Here sy lewe nuut gemaak het, besluit Roy om sy lewe vir die Here te gee. Hy doen dit met behulp van Mother Joy wat hom genooi het na hul Fellow-ship op Vrydae. Daar het hy God leer ken en deel van ’n geloofsgemeen-skap geword. Mother Joy het Roy as haar seun aangeneem en toe hy in 2004 vrygelaat is, het sy hom ingewag en aan hom klere en kos verskaf totdat hy vir homself onafhanklik kon sorg. Sy is vandag 89 jaar oud.

My dogter en haar verloofde besluit om in Desember te trou en hulle hartsbegeerte was ’n buitelugtroue. My gebed was al baie lank ’n smeking dat God - nie alleen vir ’n mooi dag sal sorg nie – maar dat die hele geleentheid pragtig en mooi moet wees tot Sy eer alleen.

Soos wat die tydjie nadergekom het, wissel die weervoorspellings van koue (!), wind tot min reën. My smeekgebed bly egter onveranderd ... en die groot dag was pragtig. Nie te warm nie, geen wind of reën nie en ’n Godsfees. Groot is God!!!

Ek het vandag ook op ‘n keer aan Job gedink. Ons het nogtans rede

om God te loof want daar was geen lewensverlies en ‘n mens verwonder jou aan almal se hulp en liefde. Mag hierdie dag

ons sterker maak. (Ria Odendaal)

Page 3: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

Ek en my vrou, Marthie, moes na Johannesburg vlieg vir ‘n begrafnis. Op pad na Pretoria vir die begrafnisdiens, lui my selfoon. Ons buurman op die plaas sê dat hy jammer is om die slegte nuus (of dalk nie) aan ons oor te dra. Die 2500 liter water tenk net agter ons huis, het met ‘n groot slag - wat hy tot in sy huis kon hoor - bo van die 6 meter hoë platvorm afgeval en uitgemekaar gebars. Ons hoenderhok se deur sit direk onder die watertenk. My vrou haal klokslag, elke oggend om 07:15 die eiers uit en dit is presies om 07:15 wat die tenk, as gevolg van geroeste boute, onder die swaar gewig meegegee en afgeval het. Die gewig van die 2500 liter water is min of meer 2500 kilogram. As ons ma vroeër afgesterf het, sou die begrafnis vroeër plaasgevind het en sou ons heel moontlik op hierdie spesifieke dag, tuis gewees het. Die tenk kon een van ons getref het en noodlottig beseer het. Toevallig? Nee! Niks in ons lewe is toevallig nie. Dit is hoe fyn God ons lewe beplan, lank voor ons gebore is.

‘n Jonggetroude paartjie het in ‘n nuwe woonbuurt ingetrek. Die eerste oggend terwyl hulle ontbyt eet, sien die jong vroutjie die buurvrou terwyl sy haar wagoed buite ophang.

“Daardie wasgoed is nie baie skoon nie,” sê sy aan haar man. “Die buurvrou weet nie hoe om wasgoed behoorlik te was nie. Miskien moet sy oorskakel na ‘n ander waspoeier toe.”

Haar man het opgekyk na die buurvrou se wasgoed, maar nie ‘n woord gesê nie. Elke keer wanneer die buurvrou haar wasgoed op die draad hang, het die jong vroutjie dieselfde opmerkings oor die wasgoed gemaak.

Ongeveer ‘n maand later was die jong vroutjie die een oggend uiters verbaas om silwerskoon wasgoed op die buurvrou se wasgoeddraad te sien. “Kyk! Sy het geleer hoe om haar wasgoed behoorlik te was. Ek wonder wie het haar bietjie touwys kom maak?”

Haar man antwoord toe, “Ek het vanoggend bietjie vroeër opgestaan en ons venster skoongemaak!”

Dit is soms ‘n goeie idee om eers te kyk of jou venster skoon is, want wat ons sien terwyl ons na ander kyk, hang grootliks af van die vlekkeloosheid van ons eie venster waardeur ons kyk.

Voordat ons kritiek lewer, is dit ‘n goeie idee om onsself eers af te vra of ons in staat is om die goeie as die slegte in mense te sien.

‘n Paar jaar gelede ry ons in die donker vanaf Mosselbaai na Riversdal. Meteens is daar digte mis rondom ons. Ons kan skaars die katogies sien. Die pad was stil met net af en toe ’n motor. My dogtertjies (seker so 6), merk toe op: Kyk hoe goed is Jesus. Hy stuur kort-kort ’n kar van voor sodat Pappa kan sien waar om te ry!“

Page 4: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

Gedagte uit ‘n plakkerskamp: Baiekeer dink ek in my binneste; party mense word gebore en van kleinsaf het hulle ‘n ordentlike en lekker lewe, hulle hoef nooit te sukkel nie. Hulle lewe, teenoor ons lewe, is ‘n groot verskil. En ons lewe maar net een keer en nou’s die lewe nog so sleg vir die een keer wat ons lewe. Dis waaraan ek dink. (Die skrywe was in Die Burger van ‘n lang tyd gelede).

Dankie Here dat U my U kind gemaak het! Dankie vir al die dinge wat ek in die verlede gehad het! Dankie vir al die dinge wat ek in die verlede kon doen! Dankie vir al die dinge wat ek nog het en wat ek nog kan doen!

Dankie, my Vader, vir U wonderlike voorsiening in al ons omstandighede en dat die wêreld vol is van U troue liefde! En dankie dat U my oë oopmaak om dit te sien!

Ek sê dankie vir U genade so onverdiend elke dag.

Dankie Jesus vir al die omgeemense in my lewe.

Dankie, dankie Here vir al die engele wat U oor my pad stuur as dinge sleg gaan, dit om my donker word en ek geen vooruitsigte het nie.

Dit was ‘n Sondagoggend in ons kerk toe ek weereens besef hoe goed en betroubaar die Here in my lewe is. Na dinge wat onlangs gebeur het, was dit weer vir my soos baiekeer in die verlede baie duidelik. Die Here is altyd daar. Hy doen baie meer as wat ek gevra het. Ek wil sing! Gee dat die lied in my nooit verstil nie.

Na ‘n bedrywige dag by die winkel waar ek vir die eienaar instaan, was dit op Woensdag, 15 Februarie, doodstil en rustig. Twee volwasssenes het met ‘n groepie kinders op die sypaadjie gestaan. Twee kinders het ingekom. ‘n Bruin seuntjie het aan my ‘n selfgemaakte kaartjie oorhandig en ‘n lekker drukkie gegee. Dankie, drukkie-seuntjie, dit sal my nog lank bybly. Ek het later uitgevind dit is ons eie Wes-Kerk se KIX-groep. Dankie Aletta en helpers.

Ek wil, as brandslagoffer, net vir ds. Deon en Riversdal-Wes gemeente baie dankie sê vir die wonderlike bydrae wat ek van julle ontvang het. Dinge het so donker gelyk en die moed was maar laag. Na jul skenking is daar weer lig in die tonnel en ‘n mens voel sommer weer lus vir die lewe.

Na aanleiding van die verterende vuur wat alles uit sy pad gevee het, wil ons graag ons opregte dank en waardering uitspreek vir die meelewing, simpatie en die welkome finansiële bydrae vir die herstel en opbou van strukture wat in die slag gebly het. Ook uit ander oorde word hulp aangebied. Baie dankie. Die boodskap hieruit is dat jy nie alleen staan nie, maar bemoedig en gemotiveerd is om die verskroeide aarde met die hulp van Bo en goeie reën weer te laat pronk soos dit was. Ons liewe Heer sal daarvoor sorg. Groot waardering.

Page 5: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

Ek lees dit nou net in die koerant en is SO bang dit gaan verby! Jerry Monyai, taxibestuurder wat ‘n vrou help na ‘n kaping. Volgens “Beeld”, Saterdag 29 Oktober 2016 sê hy: “Ek ken die pyn daarvan om gekaap te word en dit is hoekom ek haar gehelp het. Ongeag die kleur van haar vel: Dit is my land, my mense!”

Saam met die Psalmdigter wil ek getuig van God se genade en liefde en dra ek hierdie Psalm op aan u, ds. Deon en u gade, asook aan Wes-gemeente: “Here U is (ons) lewe, U sorg vir (ons). Wat (ons) ontvang, kom alles van U af. ‘n Pragtige deel is vir (ons) afgemeet, ja wat (ons) ontvang het, is vir (ons) mooi. U leer (ons) hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is.” Psalm 16.

Daar is nog eerlike mense: Ek het gister my motorsleutels verloor. Ek het orals op my spore teruggeloop sonder sukses! Maar Jesus sê vir my: Bly kalm. Ek stap terug huis toe vir my spaarsleutels. ‘n Halfuur daarna kom my man terug van die polisiestasie met my sleutels. Baie dankie aan die persoon wat dit gekry het vir eerlikheid en omgee.

‘n Glimlag kos niks, maar beteken so baie. Dit verryk diegene wat dit ontvang, sonder dat die persoon wat dit gee, armer word. Dit neem ‘n oomblik om te glimlag en soms kan die herinneringe daarvan vir altyd duur. Niemand is so ryk en so welvarend dat hy sonder ‘n glimlag deur die lewe kan gaan nie! En niemand is so arm dat hy nie daardeur verryk kan word nie. ‘n Glimlag bring geluk in die huis, voorspoed in die besigheid en is ook ‘n wagwoord van vriendskap. Dit bring rus vir bedroefdes en is die beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand van waarde is, alvorens dit weggegee word nie. Sommige mense is te moeg om te glimlag, daarom moet jy aan hulle jou glimlag gee, want niemand het ‘n glimlag so nodig as juis dié een wat nie ‘n glimlag het om te gee nie.

Dankie, Here, vir U genade oor my kinders.

Na E-Nuus vanaand, het ons alweer gewonder waarheen die land, landbou en mense gaan met alles wat nou aangaan. En toe - na ons stiltetyd, 'n kalmte. Hennie lees toe die volgende (sonder om te soek ...): Matteus 10:26 Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. 27 Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin. 28 Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan. 29 “Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30 Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31 Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” God is working!

Page 6: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

Tomatoes !!! A teacher asked her students to bring some tomatoes in a plastic bag to school. Each tomato was to be given the name of a person whom that child hates. So, the number of tomatoes would be equal to the number of persons they hate. On a pre-determined day, all the children brought their tomatoes well addressed. Some had two, some had three and some had five, some even had 20 tomatoes in accordance with the number of people they hated. The teacher then told them they had to carry the tomatoes with them everywhere they go for two weeks. As the days passed the children started to complain about the decay and smell of the tomatoes. The students who had many tomatoes complained it was very heavy to carry and the smell was too much. After a week, the teacher asked the students “How did you feel this week?” The children complained of the awful smell and heavy weight of the tomatoes, especially those who carried several tomatoes.

The teacher said, “This is very similar to what you carry in your heart when you don’t like some people. Hatred makes the heart unhealthy and you carry that hatred everywhere. If you can’t bear the smell of spoilt tomatoes for a week, imagine the impact of bitterness on your heart as you carry it daily.” The heart is a beautiful garden that needs regular cleaning of unwanted weeds. Forgive those who have angered you. This makes room for storing good things. Get Better, Not Bitter!!!

Om mooi dinge te kan beleef en sien, stimuleer die goedvoelhormoon binne-in my ELKE DAG. Ek loof God vir die voorreg om te kan sien, hoor, beleef ... Om in Riversdal te mag bly en hierdie pragtige deel van ons land “myne” te mag noem, is ‘n onbeskryflike voorreg. Mag my oë NOOIT gewoond raak aan die berg, die groen plante en blomme nie. Dankie, HERE!

My hart is vol vreugde en dankbaarheid. My dogter het ‘n spesiale man ontmoet en hulle is so verlief en gelukkig. Gebede van baie mense oor hierdie liefde is in God se tyd beantwoord. Ons juig!

Psalm 71:20 is ‘n ware beskrywing van my lewe - veral die afgelope twee jaar: “U het talle benoude ervaringe oor my gebring, maar elke keer weer my lewe gered, my elke keer weer weggeruk uit die mag van die dood.”

Vanoggend het ek halfsewe begin stap. Dit is so lekker stil en rustig. Sien geen mens of iemand wat iewers heen ry nie. Al wat ek hoor, is die stilte van ‘n Sondagmôre, mense wat nog rustig slaap of rustig in hulle huise besig is met opstaan. Verder is daar die mooiste voëlgeluide waar dit baie boomryk is. Al die plante, bome en grasperke lyk so verfris na die reëntjie van die nag. Wat ek verder ervaar, is die klammigheid op my vel. Ek ervaar die vars skoon lug wat ek kan inasem en besef die wonder om te kan lewe. Ek sê baie dankie Here vir ‘n normale, gesonde liggaam wat kan opstaan en gaan stap en dit alles kan ervaar en staan in verwondering! Dit voel of ek ‘n stukkie van die paradys met my vroeë stappie ervaar het!

Page 7: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

Dis moeilik om te verduidelik - baie deurmekaar, maar maklik om te verstaan en gemaklik vir doen. Dis soos tyd wat gelyktydig vinnig en stadig verbygaan. Die gevoel van Klaasvakie in jou oë, maar hy is nêrens te sien nie. Deursigtige wind wat gesien kan word. Die weergode wat die donderweer laat slaan gedurende ‘n bloulugdag. ‘n Mens verstaan nie, maar tog doen jy. Dis ‘n kwessie van waar of onwaar, maar... Ja... Net altyd “maar”. Die reënboog in die lug ... Waar begin hy, waar stop hy? Hoe kan jy aan iets raak wat nie gesien kan word nie? Als is gelyktydig, maar tog verskillende tye. Verstaan jy? Ja, jy doen. Nee, jy doen nie. Hoe is daar ‘n moontlikheid vir vir ewig en ewig en ewig? Dis angs van vrees, maar opgewondenheid van vrede. Jou brein is te klein en kan nie wyd dink nie, maar tog glo jy aan die onmoontlike. Dis onmoontlik, maar moontlik. Dis iets wat nie verstaan kan word nie, maar jy vertsaan. Dis onsigbaar, maar jy sien. Jy kan nie raak of vat nie, maar jy hou dit vas. Een ding om te verstaan - luister mooi: Dis belangrik, baie belangrik ... Dis jy, dis ek, DIS GOD!

Tydsaam: Wat word van persoonlike kontak? Dit is lekker om ‘n grappie of opbeurende SMS te kry, maar moenie vergeet van ‘n kuiertjie oor die foon of oor ‘n koppie tee nie. Kyk hoe verhelder Ouma en Oupa se gesig as die kleinkinders bel. Ek het ondervinding hiervan en wens ek kon die horlosie terugdraai om dit reg te maak. Dit was ‘n Kersseisoen en ons familie het gaan kuier. My vriendin en haar man wat oorkant ons gewoon het, het tuisgebly. Die aand voor ons vertrek, het almal nog kosgemaak en geskenke uitgedeel. Oor die feestyd is oor en weer SMS’e gestuur, maar nie persoonlik kontak gemaak nie. Die aand voor ons sou terugry huis toe, voel ek dat ek gou my vriendin moet bel. Toe besluit ek dat ek haar mos die volgende dag gaan sien, dan kan ons mekaar alles self vertel. Die volgende dag op pad huis toe bel haar man om te sê dat my vriendin die vorige aand in haar slaap oorlede is. Hoekom het ek haar nie gebel nie, want nou is haar stem ewig stil? Moenie dat die gejaagdheid van die lewe en die tegnologie ons soos masjiene maak nie - gesels, kuier oor en weer, drink saam tee - lééf met hart en siel en moet nooit iets uitstel nie. Mirinda van Tonder (Bloemfontein)

Goeie storie uit Kathu: Die onnie, Riaan van Straaten, het ‘n gestremde dogtertjie op sy rug getel en haar so gehelp dat sy 60m saam met haar klasmaats kon “hardloop”. Angela het nie bene en sy wou só graag deelneem!

Page 8: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

Ek het ‘n whatsapp van iemand ontvang wat op soek was na ‘n jong dame wat twee kinders kan help met skoolwerk. Sy moes ‘n geldige rybewys hê om hulle skool toe te vat en die namiddag weer te gaan haal, want hulle bly op ‘n plaas. Ek het toevallig van so ‘n dame geweet wat pas van Holland af teruggekom het en ook besig was om verder vir onderwyseres deur die pos te studeer. Ek het haar ouma by wie sy tuis was, gekontak en haar telefoonnommer gegee. Hulle het die persoon gekontak, sy het vir ‘n onderhoud gegaan en die pos gekry. Beide partye is gelukkig.

Theresa Visagie, ‘n enkelmoeder woonagtig te Albertinia, is vir die afgelope drie jaar as ‘n kassier in diens by Superspar, Riversdal. Sy beskik nie oor eie vervoer nie en daar is ook nie openbare vervoer waarmee sy tussen haar woning en werk kan reis nie. Sy werk ook skofte en dit beteken dat sy party weke van 08:00 tot 14:00 en ander weke 14:00 tot 19:00 aan diens is. Vir die afgelope 3 jaar ryloop sy daagliks tussen Albertinia en Riversdal. Gevra of sy nie bang is vir verkragting of ontvoering nie, getuig sy dat sy vas glo dat sy nog nooit gehinder is deur mense wat haar opgelaai het nie. Sy het nie ’n dag oorgeslaan om na ‘n reis te bid en dankie te sê vir haar veilige reis nie. Uit dankbaarheid getuig sy dat dit vir haar uit eie krag onmoontlik sal wees om die reise veilig te onderneem en om daagliks betyds vir haar werk te wees nie.

Ek en my man het vriende oorgenooi vir ete. Wanneer dit gebeur het, het ek ons drie kinders in die middag móég gespeel, vroeg kosgegee, gebad en in die bed gesit. Dit het beteken dat ons en ons vriende heerlik kon kuier. Die betrokke aand, net voordat ek die gaste nooi om te kom aansit, doen ek iets totaal en al anders as wat my gewoonte was. Ek skep ‘n klein bordjie kos en neem dit na my dogter se kamer. Toe ek in-stap, skiet haar ogies vol trane. Sy vra: “Hoe het Mamma geweet? Ek het nou net vir Jesus gebid en gevra Mamma moet asseblief vir my ook van die lekker kos bring, want ek is nog honger!”

Suid-Afrika se vlag het Saterdag vir die eerste keer sedert 2013 op die wennerspodium by die Twee Oseane-ultramarathon in Kaapstad gewapper. Lungile Gongqa van Khayelitsha het die aanslag van langasems van Lesotho, Zimbabwe, Kenia en Ethiopië afgeweer om die 56 km in 3 uur 9 minute en 43 sekondes te wen. Atletiekbase van die Westelike Provinsie was ook breëbors oor Gongqa se prestasie. Die vorige keer toe ’n WP-atleet gewen het, was die 38-jarige Gongqa nog nie eens gebore nie. Don Hartley was die vorige Kaapse wenner in 1973 en 1972. Gongqa se vorige beste posisie was ’n 29ste plek in 2012 met ’n tyd van 3:25:04. Hy het R250 000 in sy sak gesteek.

Page 9: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

Klee jouself reg: Klere is vir die meeste van ons baie belangrik. Ons hou van nuwe en mooi klere. Paulus sluit aan by ons liefde vir klere wanneer hy in Kolossense 3:12-14 sê dat ons as gelowiges ons ook op ‘n sekere manier geestelik behoort te klee. Hy sê: “Klee julle met nederigheid, begrip, goedgesindheid, sagmoedigheid, geduld, vergifnis en liefde.”

Ek dink dis goeie raad vir die tye waarin ons ook lewe. Dit wil voorkom of mense aggressiewer en wreder word. Kyk maar net hoe woedend raak ons op die paaie of hoe ongeduldig is ons wanneer ons in toue moet staan en wag. Dit lyk dan beslis nie of ons na Paulus geluister het en ons geestelike klere aangetrek het nie. Dit lyk eerder of ons dit by die huis gelos het. Paulus stel voor dat ons begrip aantrek en sien hoe dit pas. Stel jouself in iemand anders se skoene. Probeer verstaan hoekom iemand op ‘n spesifieke manier optree. Daar is dalk ‘n baie goeie rede voor.

Trek goedgesindheid bo-oor aan - in jou huwelik, soek na dit wat in jou maat se beste belang is, bederf jou maat en probeer meer doen as wat daar van jou verwag word, met ander woorde wees goed vir die ander een.

En dan nederigheid. As daar nou ooit ‘n gebied is waar trots, die behoefte om reg te wees en die stryd om mag voorkom, dan is dit in ‘n huwelik. Die gebrek aan nederigheid lei tot elke moontlike stryd. Nederigheid is om jou eie foute te erken en te erken dat die ander een ook ‘n sê het.

Sagmoedigheid is nog ‘n waardevolle kledingstuk in die lewe. Dit is om nie opvlieënd of humeurig of rusiemakerig of aanvallend te wees nie. Ons kan elkeen met ‘n paar kledingstukke van sagmoedigheid doen.

Geduld is ‘n noodsaaklike kledingstuk. In ‘n huwelik, en ‘n ouer-kind-verhouding veral, het ons geduld nodig. In verhoudings het ons die vermoë om partykeer mekaar se verkeerde knoppies te druk. Geduld verf humor.

Nog noodsaaklike kledingstukke is verdraagsaamheid en vergifnis. Daar is baie wat in verhoudings verdra moet word. Nêrens anders nie as in die huwelik en tussen ouers en kinders het ‘n mens herhaaldelik nodig om te sê: “Ek is jammer”; “Ek was verkeerd”; “Ek is lief vir jou”. Vra en gee vergifnis so dikwels as nodig. Bo-oor al die klere sê Paulus, trek liefde as ‘n oorjas aan. Die onvoorwaarlike soort liefde, dié soort wat sê ek het jou lief, maak nie saak wat nie. Hierdie is nie van natuurlike stof gemaak nie. Dit is van geestelike goed geweef. Jy kan dit nie uit jou eie krag skep nie, jy het die Here nodig. Mag God deur Sy gees aan ons die genade gee om ons elke dag só te klee. Ds. Janine Bevolo-Manders (Nederduitsch Hervormde Kerk Witfontein in Pretoria-Noord)

Om geestelik te groei is ‘n geloofskeuse wat jy elke dag kan maak. Kies elke nuwe dag om jou wortels nog dieper in die geloofsgrond te anker, om die lewende water van die Skrif jou eie te maak, om versterk te word deur die kragtige voeding van die Gees en om konstant te fokus op die Lig wat jou help om nuwe horisonne te ontdek en ‘n ryker en dieper mens te word.

Page 10: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

Daar is tye wat ons wonder of God ons regtig liefhet. Veral wanneer ons die dag drooggemaak het, soos ‘n mislukking voel of ander en onsself teleurgestel het. Die wonderlike waarheid is dat ons Vader se liefde nie van ons menslike beoordelingskale afhang nie. Sy liefde is nie te danke aan ons prestasies, goeie optrede of mooi persoonlikheid nie. Veel eerder het Hy ons lief ten spyte van wie ons is. Ten spyte daarvan dat ons oor ons eie menswees struikel, wil Hy ons optel. Al hou ons aan om die verkeerde dinge te doen, wil Hy ons weer vergewe. En al dink ons soms dat ons Sy liefde nie werd is nie, wil Hy dit oor en oor aan ons bevestig. Moenie van God af wegdraai wanneer jy met jouself stoei of aan jou eie waarde twyfel nie. Hy is by uitstek daar om om na mense uit te reik wat bewus is van hul feilbaarheid en om van gebrokenes héél mense te maak. Daar waar ek en jy menslike foute maak, vee Hy dit uit; wanneer ons in ons eie vermoë twyfel, wil Hy ons herinner dat ons soveel meer saam met Hom kan doen, en wanneer ons onsself en ander in die steek gelaat het, sal Hy ons weer help om perspektief te kry. Onthou: God se liefde is nie afhanklik van hoe ons voel en wat ons dink nie. Hy het ons elkeen, ten spyte van onsself, oneindig lief! Milanie Vosloo (Leef Tydskrif, Oktober 2012)

Sy maak ‘n verskil: Waar Pat Henning (51) werk, kring die seën uit. Ripple blessing was dus ‘n gepaste naam toe sy verlede jaar besluit het om ‘n nie-winsgewende liefdadigheidsorganisasie te begin. Dié ma van twee volwasse kinders en haar groep bedryf onder meer ‘n Christelike klub vir kinders, ‘n tienerklub en voedingskemas vir sowat 40 bejaardes en 2000 kinders. Hulle versprei ook maandeliks kospakkies aan gesinne. ‘n Span van 18 vrywilligers help haar die afgelope paar jaar met haar liefdeswerk in die armste dele van die Kaapse Skiereiland. Om vir ander te gee, kom vir Pat natuurlik. Sy en haar span het almal eie beroepe, en gebruik hul tyd en talente om mense vaardighede soos kralewerk te leer. “Ons wil soveel mense moontlik help om hulle eie inkomste te genereer.” Ek moes onlangs George-Lughawe toe om my hondjie op ‘n vlug te sit. Ek vra toe ’n goeie vriend om my te vergesel sodat hy kon bestuur en ek die hondjie kon hanteer.

By die lughawe aangekom, parkeer hy die motor langs die gebou waar VRAG besorg moes word. Nadat ons die hondehok besorg het, die vorms voltooi en die betaling gedoen het, stap ons na die hoofgebou vir koffie.

Daarna stap ons oor die pad na die kantoor waar die parkering betaal sou word. Op pad terug na ons motor wat by “vrag” parkeer was, moes ons weer oor die pad stap. En wat sal ek voor my voete op die sypaadjie sien lê? My eie oorbel wat ek daar moes verloor het op pad na die hoofgebou. Is dit toeval of ’n wonderwerk van Bo? Ek besef al hoe meer en meer dat ons die wonderwerke wat daagliks oor ons pad kom, miskyk. Dankie ds. Deon vir die geleentheid dat ons kan vertel van die goeie dinge wat oor ons pad kom, ek sê baie dankie daarvoor.

Page 11: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

As jy ‘n boek oor jóú lewe sou skryf, wat sal die titel wees? Sal dit iets vertel van hoop, moed, vreugde en verwagting? Of sal die temas meerendeels draai om jou swaar– en seerkry, jou pyn en beproewings ... Jou vreugdelose bestaan? Dalk het jy goeie rede om swaarmoedig na die lewe te kyk. Tog kan ons as kinders van God anders oor die lewe dink: 1. Jy word versorg! Jou liefdevolle Vader waak met deernis oor jou en sal

elke dag van jou lewe na jou omsien. 2. Jy is vry! Wanneer Christus jou verlos het, is daar geen rede waarom

jy jouself voortdurend oor jou eie gebrokenheid hoef te kruisig nie. 3. Jy is nie alleen nie! Die Trooster-Gees is elke oomblik by jou om jou te

help skryf by jou om jou te help skryf aan jou lewensverhaal. Vra die Gees om jou daagliks met vreugde te verras, bid dat die Lig jou wêreld sal ophelder en weet dat die groot Versorger jou heeltyd met lewensblyheid en vrede wil seën. Leef daarom vandag met verwagting omdat jy uit sien na ‘n heerlike hemeltuiste waar vervulling oorweldigend gaan wees. Milanie Vosloo (Leef Tydskrif - Oktober 2007)

Sondag, 8 Januarie 2017, stuur ek voor kerk op whatsapp die volgende seënbede vir my familie en vriende: Die Here is voor jou om die weg gelyk te maak Die Here is agter jou om die aanvalle van die bose af te slaan Die Here is langs jou om jou in Sy arms toe te vou Die Here is rondom jou om jou te beskerm Die Here is onder jou om jou te dra as jy val Die Here is bokant jou om jou te seën Die Here is binne jou om jou te lei met Sy Heilige Gees So seën God jou van nou af tot in ewigheid. AMEN

Groot was my verbasing toe ds. Jacobs dieselfde seënbede oor die gemeente uitspreek na die diens. Wat dit vir my so besonders maak, is toe die dominee sê: Die Here is langs jou om jou in Sy arms toe te vou, dat ek meteens die windjie wat by die venster inwaai teen my arm voel. En toe ervaar ek weer die wind wat bokant my kop waai toe dominee sê: Die Here is bokant jou, om jou te seën. Ek dank die Here vir so ‘n ongelooflike ervaring en dat ek Sy teenwoordigheid so intens kon ervaar.

Dr. Liana Roodt van die Groote Schuur-hospitaal het ’n projek gestig met die naam Project Flamingo wat vroue met borskanker ’n tweede kans gee. Dr. Roodt en haar span werk fleksie-ure om pasiënte in te pas wanneer daar nie normale tyd vir operasies is nie. Project Flamingo bied hierdie projek aan persone wat dit nie kan bekostig nie en is dus gratis vir hierdie pasiënte. “Every day one should at least hear one little song, read one good poem, see one fine painting and if at all possible - speak a few sensible words.” - Johann Wolfgang von Goethe

Page 12: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

Hoe sê mens dankie? Wag geduldig op die Here se antwoorde op die regte tyd. Dit is al hoe ek dit kan beskryf as ek terugkyk op my eie lewe.

Ek is ‘n geskeide man en ek was die een wat die huis verlaat het. Ek het twee pragtige dogters (18 en 21 op daardie stadium) wat my hele lewe was en is. Ek het alles vir hulle gedoen van doeke omruil, bottel gee tot hare vasmaak en rokke stryk toe hulle nog te klein was om dit self te doen.

Nadat ek uit die huis is, het ek geworstel en gewonder, het ek te gou moed opgegee? (23 jaar) Moet ek nie maar teruggaan vir my kinders nie, want ek verlang vreeslik baie na die gesinslewe en my kinders. Ek het skuldig gevoel, want ek het gevoel dat ek my kinders in die steek gelaat het en dit voel asof hulle my kwalik neem omdat ek uitgetrek het.

Ek het van dag een af gebid en gevra dat die Here my leiding moet gee en antwoorde stuur, maar ek was ongeduldig en die vrede en vreugde waarna ek so verlang het, wou net nie oor my gemoed spoel nie.

Elf Maande het verbygegaan waarin ek dan die antwoord kry en die volgende kry ek ‘n antwoord wat die teenoorgestelde sê. My verhouding met my kinders wou net nie beter raak nie en die skuldgevoelens wou nie beter word nie.

Ek was “down the dumps” en ek het die Dinsdagaand gesê ek wil nie bid nie, want ek twyfel of God regtig luister na my gebede. Die Woensdag lei die Gees my en sê ek moet my oudste dogter vra wat sy in haar middagetensuur maak, want ek wil saam haar gaan koffie drink. Sonder om te aarsel, stem sy in en sê dit gaan lekker wees. Ons het heerlik gekuier en gesels en ek het besef dat dit die regte tyd was vir die koffiedrink. Dit sou nie 6 maande, 3 maande of self ‘n week gelede dieselfde positiewe uitwerking gehad het nie (God se tydsberekening is perfek).

Laat daardie dag stuur my suster ‘n wonderlike boodskap vir my: “God gee ons nie altyd wat ons wil hê nie, maar ALTYD wat ons nodig het. Hy sorg vir die REGTE mense in jou lewe, vir geleenthede, deurbrake en liefde op die regte tye. Moenie hoop verloor met hoe jou lewe tans verloop nie. Al kan mens nie sien wat voorlê nie, weet ons dat ons vir God het, en solank ons God het, is NIKS onmoontlik nie. Hou aan bid en vertrou. GOD SAL VOORSIEN!”

Daardie komende Sondag lees ds. Deon uit Ester 4 vers 14 en preek oor die feit dat die Here jou op ‘n spesifieke plek plaas met ‘n doel. Hy vat jou uit dit wat jy gewoond is en waar jy dink jy in beheer is en Hy sit jou waar Hy jou nodig het. Ek bel my jongste dogter daardie middag en ons gesels vir meer as ‘n uur. Sê dankie deur geduldig op die Here se antwoorde en leiding te wag.

Page 13: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

Kelner + Ingenieur Op 'n ouderdom van 22 was ek 'n kelner by die Dros in Potchefstroom. Met 'n matriekgemiddeld van 47% sonder wiskunde & wetenskap gee U my die opdrag om ingenieurswese te studeer. Ek het U lank gevra vir rigting en dus was ek opgewonde, maar mense het gesê dit was bo my vuurmaakplek.

Ek het sonder twyfel begin studeer, eers by 'n kollege vir 3 maande en toe by die Pukke (met 'n beurs). Om by die NWU in te kom, was nie maklik nie. Hulle het my meer as 3 keer afgekeer en nadat ek met die direkteur gesels het, maak U vir my die deur oop. U bemoediging het my bankvas laat staan op U opdrag. Die vrees van die Here is die begin van wysheid (Spreuke 1:7). Ek moes eers leer om U stem te gehoorsaam sonder om na al die negatiwiteit te luister. Om U te gehoorsaam was belangriker as om my graad klaar te maak. Dus het U my gehelp om elke vak te slaag, sonder 'n enkele hereksamen. Sela, Prys die Here. Van 'n gemiddeld van 47% het U my gelei na 'n ingenieur’s graad met 69%. My raad aan elke jongmens is, laat die vrees van die Here belangriker wees as jou vrees vir mislukking, die wêreld, en mense se opinies. Maar lees Psalm 19:9. Die bevele van die Here dui die regte koers aan en dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig. Dankie Here dat U my die kans gegee het om my droom uit te leef. Dankie dat U my nooit in die steek laat nie al wou ekself moed opgee. Ek is lief vir U.

Die liefde van Jesus, vir my, is wonderbaar!

My huisie is verkoop en ek gaan trek na KwaZulu-Natal om naby my kinders te wees. Gedurende Desembermaand was ek amper 4 weke daar om uit te kyk vir ‘n geskikte, veilige plekkie wat “pet friendly” is en ook nie te ver van hulle af is nie (en sonder my hondjie gaan ek nêrens!).

Maar niks duik op nie. Ses tot agt agentskappe het my later op hulle databasis gesit. My senuwees was aan flarde.

Intussen bid ek voortdurend: “Here, ek kan nie teruggaan Riversdal toe sonder ‘n prentjie in my kop oor ‘n blyplekkie nie.” Ons het egter reeds ‘n paar plekkies gesien, wat uiters power was.

Ek besluit toe om terug te vlieg op Maandag, 09 Januarie, maar toe dit by die bespreking kom, sê ek vir my dogter ons moet dit nog ‘n paar dae uitrek tot Donderdag, 12 Januarie. Die Woensdagmiddag voor die Donderdag wat ek moes terugvlieg, bel my dogter my om 14:00 om te sê dat sy my gou kom oplaai, daar is nog ’n plekkie waarna ons kan gaan kyk. En VOILA! Alles wat my hart begeer! Veilig, “pet friendly”, stapafstand strand toe, klipgooi van kinders af ... Ons het ’n wonderlike Here.

Page 14: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

Die einde van die wêreld ... en stene wat draai: Op die 12de van die 12de maand 2012 was ek besig om ‘n skoorsteen met pleister en klippe oor te bou. My plaasassistent, Hendrik Esau, ‘n man van vaste beginsels, meng die bousand en sement. Hendrik begin sy werksdag stiptelik om 08:00 en werk stiptelik tot 16:00. Op die betrokke dag was Hendrik hard besig om die sement in die kruiwa te meng. Soos gewoonlik gesels ons terwyl ons werk. “Hendrik, weet jy dat daar mense is wat aantuigings maak dat vandag, die 12de van die 12de maand 2012 die einde van die wêreld gaan wees?” Ek was bo-op die leer en kyk af na Hendrik. Toe hy dit hoor, staak hy sy werk onmiddellik, “tools down”. Ek hou hom van bo-af dop. Hendrik kyk in die lug op, ver verby die sterre en stap om die huis om aan die ander kant ook te kyk. Hy kom terug en gaan aan met sy werk. Bly eers stil. “Meneer, dit lyk darem nog nie soe.” Die dag was heel warm, die sweet tap sommer so van Hendrik af, soos wat hy die sement meng, en die swaar ysterklippe aangeee. Die bouwerk het nogal goed gevorder tot so 15:55 met net 5 minute van Hendrik se werksdag oor. Daar is net genoeg bousement oor in die kruiwa vir nog een steen. Ek vat die sement en een steen by Hendrik. Toe ek die steen neersit, stort die bouwerk ineen en die klippe val op ‘n groot hoop. Hendrik haak af in ‘n vreemde taal en ‘n paar vloekwoorde kom oor sy lippe. Daar kom die begin van die einde nou! Hendrik stap agter uit om die spul mooi te bekyk. Een groot gemors. Hendrik, hande op sy heupe, die hele dag se arbeid tot niet. Die tyd 16:00. Hendrik swaai om en daar gaan hy, sy werksdag is om. Soos hy wegstap, sê ek: “Hendrik, in die Bybel staan daar al wat ‘n steen is, sal gedraai word.” Hendrik stap aan en ek kan sien hy dink oor dit. Ewe skielik steek hy in sy spore vas, swaai om en sê: “Maar nie so gou nie, nie so gou nie.” En daar trek hy huis toe.

Hoe duidelik spreek God se woord tot ons in Suid-Afrika. Psalm 33: “Die Here kyk vanuit die hemel en sien die hele mensdom. Vanuit Sy woning seën Hy al die bewoners op die aarde. Omdat Hy hulle harte gemaak het, verstaan Hy alles wat hulle doen.”

Ons land is in chaos gedompel, want die leiers van Suid-Afrika het die inwoners op die pad van verwoesting gelei. Ons het leuens ons veilige vesting gemaak, valsheid en bedrog ons skuilplek.

Jesaja 40: “Hy verlaag vername mense tot niks en verlaag regeerders van die wêreld asof hulle nie bestaan nie! Ek maak die lig en skep donkerte. Ek die Here, is die Een wat al hierdie dinge doen. Ek gee voorspoed en stuur slegte tye.” (Jesaja 45)

‘n Oproep om die Here te vertrou. “Moenie vir enige iets of enige iemand bang wees nie, behalwe vir die Here, die Almagtige. Hy alleen is die Heilige Een. As julle Hom vrees, hoef julle vir niemand anders bang te wees nie.” (Jesaja 8)

Here, wees ons genadig! Ons wag op U. Wees elke dag ons krag, ons redding in nood.

Page 15: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand

My storie: Ons doel op aarde. Toevallig? Nee. Die storie begin op ons ouers se huweliksdatum die 2de Oktober 1943. Ons pa was heelwat ouer as ons ma. Albei is gebore in jare van onrus in Suid-Afrika. Ons pa is op 18 Junie 1899 gebore. Die betrokke jaar breek die Tweede Vryheidsoorlog uit. 10 Oktober 1899, die ultimatum wat die Britse mag aan die Boere gegee het, se sperdatum, 09 Oktober 1899 is verstreke. Ons ma is in Springs, een van die myndorpe op die Witwatersrand, op 10 April 1922 gebore. 1922 was die jaar van die groot mynwerkerstaking, die “Rand Revolt”. Die mynwerkers het gestaak omrede hulle lone ingekort was. Hulle het kommando’s begin vorm. Generaal Jan Smuts was verplig om die weermag in te stuur om die staking tot ‘n einde te bring. Deur die jare van al die onrus in ons land, twee wêreldoorloë en nog meer, het ons ouers vreedsaam geleef en gesterwe. Dit was nie nodig vir hulle om vrede met enige persoon te maak nie. Hulle het nie vyande gehad nie. Ons ouers het ‘n gelukkige lewe saam gehad en was baie lief vir ons kinders en mekaar. Tyd het aangestap en ons pa is 1980 oorlede, op die ouderdom van 81 jaar. Ons ma het die res van haar lewe as ‘n weduwee deurgebring. Sy het altyd oor die toekoms gepraat. Sy was nie bang om dood te gaan nie, want sy het geweet daar was ‘n wonderlike man wat vir haar wag. Sy het uitgesien na daardie mooi dag wat sy tot sterwe sou kom, om so weer te herenig met ons pa. Die jare het aangestap. Ons ma was geseënd met goeie gesondheid, het motor bestuur en tennis gespeel tot oor haar tagtigste jaar. Met die verloop van tyd, het ons ma gesê sy gee nie om om lank te lewe nie, maar wil nie ouer as 93 word nie. Dit is oud genoeg het sy altyd gesê. Ons was later verplig om ons ma op 90 jaar in ‘n ouetehuis in Pretoria te plaas. Die adres en ligging van die ouetehuis was nogal interessant. Die straatname het na generaals van die Boereoorlog verwys: Chris de Wet, Koos de la Rey, Louis Botha en Danie Theron, die verkenner. Toevallig? Nee. Sy was nog blakend gesond op haar 93ste verjaarsdag, 10 April 2015. Al ons kinders en kleinkinders was die groot dag by haar om dit te vier. ‘n Paar maande later het sy skielik agteruitgegaan en swakker geword, veral die laaste week of twee van September het sy geweier om te eet. Sy het net ‘n klein hoeveelheid kos daagliks geëet en net op tye wat ons oudste suster by haar was en haar gevoer het. Ons ma het nog verder verswak en tot sterwe gekom op die 10de Oktober 2015. Dit was slegs 8 dae na ons ouers se huweliksherdenking op 2 Oktober. My mening is, en ek kan verkeerd wees, maar ek glo en voel ek is sekerlik reg, ons ma wou sterf op haar huweliksdatum. Sy wou op haar troudatum met ons pa herenig, maar God het gesê: “Nee, jou doel op aarde is nog nie verby nie.”

“Die simfonie wat God oor ons lewe skryf, sluit ook mineurtone in, self dissonante klanke en vermoeiende fuga-passasies. Maar dié van ons wat die hand van die Meesterdirigent met vertroue deur die eerste bewegings volg, sal uiteindelik saam met Hom die grand finale sing.”

Page 16: Goedvoelstories van Hoop - NG Wes-Kaapland Sinode · 2017-05-23 · beste middel teen moeilikheid, maar helaas, dit kan nie gekoop of gesteel word nie, want dit is iets wat vir niemand