9

Click here to load reader

Preek 25 Maart 2012

Embed Size (px)

DESCRIPTION

Dr Ferdie Clasen preek uit Johannes 15:1-8

Citation preview

Page 1: Preek 25 Maart 2012

1

Skriflesing: Johannes 15:1-8 Tygerpoort: 25 Maart 2012

Inleiding

As Ernie Els tydens ’n groot toernooi afslaan terwyl miljoene mense reg oor die wêreld na hom kyk, lyk dit asof dit die maklikste ding in die wêreld is. Waarskynlik kan hy dit net doen omdat hy elke dag ure en ure staan en oefen waar niemand hom sien nie. Sy goeie oefengewoontes maak dat hy die dinge wat regtig saak maak en wat regtig belangrik is, goed kan doen.

Geloofsgewoontes

Die afgelope kwartaal het ons baie met mekaar gepraat oor geloofsgewoontes. Ons het selfs ’n paar daarvan begin inoefen. En nou is die vraag natuurlik: hoekom het ons dit gedoen? Is dit nou regtig so belangrik dat ons nie daarsonder kan nie? Dit lyk vir my net soos Ernie Els se goeie oefengewoontes hom moet help om goeie gholf te speel, net so moet ons geloofsgewoontes ons help om uiteindelik te leef en te doen en te praat soos wat gelowiges behoort te doen. As ons in die lewe van elke dag spontaan ons geloof wil uitleef, dan moet ons by wyse van spreke ook gereeld op die oefenveld wees. Vir sportmanne en sportvroue is goeie oefengewoontes baie, baie belangrik; vir christene is goeie geloofsgewoontes uiters, uiters belangrik. Dit moet ons help om die dinge wat regtig saak maak, goed te kan doen. En wat is die dinge wat regtig saak maak?

Jesus se afskeidsgesprekke

Ek het ’n idee Johannes 14-17 vertel nogal vir ons van ’n paar belangrike dinge wat gelowiges behoort te weet en wat hulle behoort te doen. In hierdie paar hoofstukke is Jesus besig om vir oulaas met sy dissipels te gesels. Hierna sou Hy gevange geneem word, verhoor word, en uiteindelik oorgelewer word om gekruisig te word. Om hierdie rede word hierdie paar hoofstukke in Johannes gewoonlik die “afskeidsgesprekke” genoem. Party verklaarders praat selfs daarvan dat Jesus as’t ware hier besig is om sy testament op te stel. In die aangesig van sy naderende dood praat Hy vir oulaas met sy dissipels en in so gesprek sou mens mos nou kon verwag dat Hy net die heel belangrikste dinge vir hulle sou sê. En in die verse wat ons saamgelees het, praat Hy inderdaad van ’n klomp belangrike goed.

Ons moet naby aan Jesus leef

Jesus gebruik in hierdie verse die beeld van ’n wingerstok. En nou laat so ‘n beeld mens mos aan ’n klomp goed dink en ons sou inderdaad ’n hele klomp lesse daaruit kon haal. Ek wil aan die hand van hierdie beeld vanoggend net twee goed beklemtoon.

Page 2: Preek 25 Maart 2012

2

Dit lyk vir my Jesus sê hier vir sy dissipels dat een van die heel belangrikste dinge wat hulle moet onthou wanneer Hy weg is, is dat hulle baie, baie naby aan Hom moet bly. Hy sê dit trouens op die sterkste moontlike manier as Hy sê dat hulle in Hom moet bly en Hy in hulle. Daar moet so ’n noue band tussen hulle wees soos tussen ’n wingerdstok en ’n loot. ’n Loot kan nie bestaan sonder ’n wingerdstok nie. As daar nie ’n wingerdstok is nie, kan daar ook nie ’n loot wees nie. Meer nog: as hierdie loot nie vasgegroei is, ingegroei is, deel is van die wingerdstok nie, dan kan dit gewoon nie bestaan nie. Gelowiges is mense wat in ’n verhouding staan met Jesus Christus; ons is vasgemaak aan Hom; Paulus gebruik in sy briewe oor en oor hierdie gedagte as hy sê ons is “in Christus”. Sonder hierdie verbintenis aan Christus is dit gewoon nie moontlik om ’n christen te wees nie, net soos wat dit nie vir ’n loot moontlik is om sonder die wingerdstok ’n loot te wees nie. En dit lyk vir my dis hiermee wat ons geloofsgewoontes ons moet help. ’n Geloofsgewoonte is mos nou nie ’n doel op sigself nie. Nee, net soos ’n oefengewoonte moet ’n geloofsgewoonte my help met dit wat regtig saak maak. En in Johannes 15 sê Jesus wat regtig saakmaak is dat ons naby aan Hom moet leef. Dis só belangrik, dat Jesus dit selfs in sy testament inskryf: julle moet in My bly en Ek in julle! Ons het vir mekaar gesê een van die gewoontes wat ons hiermee kan help, is Bybellees, en ons het hierdie kwartaal ’n spesifieke manier van Bybellees ingeoefen – die Lectio Devina. Maar ons weet mos dit gaan nie op die ou einde om Bybellees ter wille van Bybellees nie. Dis hoogstens maar net ’n goeie gewoonte wat ons uiteindelik moet help om die Here beter te leer ken, om Hom nog meer lief te kry, sodat ons naby aan Hom kan leef.

Ons moet vrugte dra

Dis die eerste belangrike ding wat Jesus ons leer in Johannes 15 .... dat ons naby aan Hom moet leef ... soos ’n loot aan ‘n wingerdstok. Die tweede belangrike ding waarmee hierdie beeld ons help, het te doen met vrugte dra. As ’n loot nie vrugte dra nie, dan word dit uiteindelik van die wingerdstok afgesny. As Jesus afskeid neem van sy dissipels, dan sê Hy vir hulle net so belangrik as wat dit is om naby aan Hom te bly leef, net so belangrik is dat hulle vrugte moet dra. Druiwelote is bedoel om vrugte te dra; christene is bedoel om goeie dade te doen; dis deel van wie ons is. Dis mos nou nie toevallig dat Jesus net in die volgende paragraaf vir die dissipels sê dat hulle mekaar moet liefhê nie. Dis hoe christene is; dis die rede hoekom die kerk bestaan – ons moet God se liefde met die wêreld deel. Die vreugde en die vrede en die geduld en die vriendelikheid wat hier in die kerk gekweek word, moet uiteindelik in die vrugtewinkels van die wêreld beland sodat die wêreld ’n smaak kan kry van dit wat in die kerk gebeur. Daar waar die oneerlike saketransaksies plaasvind, daar moet mense die vrug van eerlikheid smaak wat in die kerk gekweek word. Daar waar ongeregtigheid en verdeeldheid tussen mense heers, daar moet die vrugte van geregtigheid en liefde en vrede afgepluk word van die kerk se lote omdat ons lote tot binne in die wêreld moet groei. En ons kan net hierdie vrugte dra as ons dit êrens saam met mekaar inoefen. Die vrugte van die geloof groei nie sommer net vanself nie.

Page 3: Preek 25 Maart 2012

3

Geloofsgewoontes is soos water

Om hierdie beeld van Jesus so bietjie verder te vat, het ek nogal gewonder of mens ons geloofsgewoontes nie sou kon vergelyk met die water wat ’n wingerd nodig het om te kan groei nie. As ’n wingerd nie water kry nie, dan sal die lote nie vrugte dra nie. Uiteindelik sal die lote verdroog en van die wingerdstok afval. Net so help goeie geloofsgewoontes ons om naby aan Jesus te bly leef sodat ons uiteindelik ook goeie vrugte kan dra. Die water wat ons die afgelope kwartaal deur die kanale van ons gemeente laat vloei het, moet nou aanhou vloei. Ons moet aanhou om gereeld en ernstig met die Bybel besig te wees. Lectio Devina is een manier om dit te doen; daar is ook ander maniere. Die punt is net dat die water van die Woord moet bly vloei. Lees die Bybel, bestudeer dit, woon ons Bybelskool by, bly net op die een of ander manier besig met die Bybel. Dis ons eerste geloofsgewoonte. Die tweede is om doelbewus met mekaar as medegelowiges besig te bly. Kry vir jou ’n geloofsvennoot; skakel in by ’n omgee-groep, kuier gereeld saam met jou christenvriende. Hou net aan met die gewoonte om op die een of ander manier aan medegelowiges verbind te bly. Ons derde geloofsgewoonte het te doen met gee. Omdat ons alles van die Here ontvang het, gee ons ook maklik. Ons gee ons tyd en ons aandag en ons gawes en ons geld en ons liefde. Sorg dat jy op die een of ander manier bly gee. In ons persoonlike lewe moet ons dit doen, maar ook as gemeente. Skakel by ’n bediening in of gebruik die ander geleenthede wat die gemeente jou bied om die water van gee te laat aanhou vloei.

Slot

As ons met die gewoontes aanhou, as ons die water laat bly vloei, dan sal ons gemeente ook aanhou om vrugte te dra. En dan sal ons naby aan die Here bly leef. Nie ter wille van onsself nie, maar sodat die boer verheerlik kan word. Uiteindelik is dit mos nou maar waarom alles gaan. Ek hoop jy het dit raakgesien – dat die verse wat ons saamgelees het begin en eindig met ’n verwysing na die Vader. Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer, sê Jesus in vers 1; en in vers 8 eindig Hy hierdie deel van sy gesprek met die woorde: My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is. Ook ons goeie geloofsgewoontes het niks met onsself te doen nie, maar met die eer van die Vader. Mag dit wat ons hierdie kwartaal begin doen het en hopelik gaan aanhou doen, ons help om so naby aan die Here te lewe en so vrugte te dra dat die Vader daardeur verheerlik word. Amen.

Page 4: Preek 25 Maart 2012

4

Skriflesing: Johannes 19:17-22 Tygerpoort: 6 April 2012 (Goeie Vrydag)

Inleiding

Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode. Die Koning van die Jode. Soos ’n advertensiebord het dit bokant sy kop gehang. Soos die opskrif van ’n koerant wat die hoofnuus van die dag aankondig. Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode. Dié opskrif het die oë laat rek. Want alle oë kon dit lees. Of jy Hebreeus of Latyn of Grieks gepraat het, jy kon dit lees en jy kon dit verstaan. Dié opskrif het die tonge losgemaak. Want as jou oë begin afbeweeg op soek na die koning waarvan die opskrif praat, dan sien jy .... ’n kruis! ’n Koning .... aan ’n kruis? Dit kan tog nie! Dis ongehoord. Dis ondenkbaar. Dis onverstaanbaar en onverklaarbaar. Dis lagwekkend. Behalwe ..... behalwe as die koning .... God is!

God is ’n vreemde Koning

Die God van die Bybel. Die God van Abraham, Isak en Jakob. Die God waarvan Johannes ons vertel. Dié God het gekies om anders te wees. Dié God het gekies om ’n vreemde soort van Koning te wees. Hy het gekies om nie die soort Koning te wees wat die mense wou gehad het Hy moes wees nie. Eintlik moes hulle dit al agtergekom het toe Hy die vorige Sondag Jerusalem op ’n donkie binnegery het. Eintlik moes hulle dit agtergekom het met elke gebeurtenis wat tussen daardie Sondag en die Vrydag sou plaasvind. Op die Sondag het die skare hulle klere voor Hom oopgegooi en hulle palmtakke geswaai. Hulle het geskree: Hosanna! Hosanna! Maar die Man op die donkie het gehuil toe Hy die stad binnegery kom. Hy het goed geweet dat hulle met hulle palmtakke eintlik maar net die politieke winde wou aanwaai. Hulle wou hê die Koning op die donkie moes hulle bevry van die Romeinse juk. Hulle wou hê die Koning op die donkie moes hulle belange kom dien en hulle weer ’n sterk nasie maak soos wat hulle was in koning Dawid se tyd. Met hulle Hosannas! wou hulle Hom kroon, maar Hy het gekom vir die kruis. Vir die res van daardie week sou dié boodskap oor en oor bevestig word. Op die Maandag het Hy weer hard en duidelik gesê dat Hy nie gekom het om mense se belange en mense se voorkeure te dien nie, maar om God se eer te vestig. Op daardie Maandag het Hy die tempel gereinig van alle verkeerde bedoelings en motiewe sodat God weer sy regmatige plek kon kry.

Page 5: Preek 25 Maart 2012

5

Op die Dinsdag van die week voor die Vrydag word Hy besoek deur ’n afvaardiging van die Grieke. As die Jode Hom dan nie wil hê nie, dan kan Hy dalk die Grieke se Koning word. Die afwagting was groot: sou Hy dalk hierdie laaste kans gebruik om die kruis vry te spring en deur die Grieke gekroon te word. Maar sy antwoord bevestig sy keuse: ’n koringkorrel moet in die grond val en sterwe, sê die Koning wat die stad op sy donkie binnegery het, eers dan bring die koringkorrel ’n groot oes in. Dan breek die Woensdag van daardie laaste week aan. ’n Vrou met ’n vles olie wys dat sy iets begin verstaan van dit waaroor dit eintlik gaan. Die gebreekte kruik in haar hand en die strome duursame olie wat oor haar Meester se kop loop, word die voorspel tot ’n gebreekte liggaam en die strome liefde wat twee dae later, op die Goeie Vrydag, oor die wêreld sou spoel. Op die Donderdag word hierdie boodskap inderdaad deur die Koning self aangekondig toe Hy saam met sy volgelinge aan tafel sit: dit is my liggaam en dit is my bloed, neem dit, eet dit, drink dit. Ek gee Myself .... vir julle! Ja, in God se oë maak die opskrif van die Vrydag toe tog sin: Jesus, die Koning van die Jode. ’n Koning aan ’n kruis. Die Jode het beswaar gemaak: ’n kruiseling kan tog nie hulle Koning wees nie! Maar Pilatus was onversetlik: wat ek geskrywe het, het ek geskrywe. Die grafskrif bokant sy kop staan vas; tot vandag toe nog. Hierdie kruisteks plaas ook vir jou en vir my voor ’n keuse. Ons kan beswaar maak; of ons kan dit aanvaar.

God het vreemde volgelinge

Natuurlik het ons keuse implikasies. Want wie die opskrif aanvaar, aanvaar ook die Koning. Die Koning aan die kruis. En wie dié Koning aanvaar, moet ook onder dié Koning leef en dié Koning se voorbeeld volg. Die Koning aan die kruis. Die vreemde Koning. Wie Hom aanvaar, sal ook, soos die Koning, vreemd wees in die oë van die wêreld. Want mense wat, soos Hy, God se belange dien en nie hulle eie nie, is wêreldvreemd. Mense wat, soos Hy, bereid is om soos ’n koringkorrel aan hulleself te sterf en ander se belange hoër te ag as hulle eie, is wêreldvreemd. Maar as die Koning aan die kruis hang, dan kan die Koning se volgelinge tog nie sonder ’n kruis nie. Soos Hy, sal ons ook ons lewe moet verloor om dit te behou. Soos Hy, sal ons ook ons eie belange moet prysgee. Sal ons ook aan onsself moet sterf.

Slot

As ons in sy voetspore volg, sal dit die bewys wees dat ons die opskrif bokant sy kop reg verstaan het.

Page 6: Preek 25 Maart 2012

6

Dit sal die teken wees dat die gebeure van daardie Vrydag ons lewens verander het. Eers dan het dié Vrydag ’n Goeie Vrydag geword. Amen.

Page 7: Preek 25 Maart 2012

7

Skriflesing: Johannes 20:1-21 Tygerpoort: 8 April 2012 (Paassondag)

Inleiding Dis finaal. Die Koning is dood. God is dood. Dié god wat die Jode die vorige Sondag met hulle palmtakke Jerusalem wou binnelei. Dié god wat die Grieke met hulle lourierkranse wou kroon. Dié god wat ek en jy ook soms wil inspan om ons belange te dien en ons voorspoed te waarborg. Dié god wat ons dikwels maar net as ’n soort versekering teen ons aardse teenspoed en ongeluk wil gebruik. Dié god wat ons soos ’n artikel kan nadertrek wanneer ons hom nodig het en weer wegpak nadat ons hom misbruik het. Dié god is dood. Nee, dié god bestaan nie. Dié god het nog nooit bestaan nie.

Die kruis

Dis finaal. Die ware God is die God van die kruis. Die een wat drie dae later opgestaan het. Die een wat die dood oorwin het. Die een wat lewe. Vir altyd. Dis finaal. Die grafdoeke is opgerol. Onthou jy nog die verhaal waarvan Johannes ons in hoofstuk 11 vertel? Die verhaal van Lasarus wat uit die dood opgestaan het. Daar lees ons dat Lasarus met die grafdoeke en al uit die graf gekom het. Natuurlik kon Lasarus se grafdoeke nie weggepak word nie, want dit sou weer gebruik moes word omdat Lasarus uiteindelik weer sou sterf. Maar met Jesus is dit anders. Hierdie keer word die grafdoeke opgerol en weggepak, want dit sal nie weer gebruik word nie. Nooit weer nie. Hy is klaar met die dood. Vir altyd. Dis die boodskap van die Sondag na die Goeie Vrydag. En die boodskap sê wie God regtig is. Hy is toe nie die god wat die mense begeer het nie; maar wel die God wat die mense nodig gehad het. Broodnodig gehad het. Die ware God, die God van Paassondag, is die God van Goeie Vrydag. Dis die God van die kruis. Dis die God met die littekens aan sy hande en die merke aan sy sy. Na Goeie Vrydag en Paassondag sou niemand ooit weer kon twyfel aan God se voorkeure nie: nie ’n kroon nie, maar ’n kruis; nie mag en heerskappy nie, maar selfprysgawe en diens; nie eiebelang nie, maar vergifnis en liefde.

Page 8: Preek 25 Maart 2012

8

Dis die taal van die evangelie; dis die blye boodskap wat die enigste en die ware en die lewende God aan die wêreld gebring het.

Ek stuur julle ...

En dis die boodskap waarmee ek en jy die wêreld ingestuur word. Ons het niks anders om te gaan verkondig en niks anders om te gaan uitleef nie, want ons word gestuur soos wat die Vader vir Hom gestuur het. As ons saam met Hom opgewek is en saam met Hom lewe, dan kan ons nie iets anders doen as wat Hy gedoen het nie. As ons ooit weer die palmtakke en die lourierkranse uithaal, as dit ooit weer gaan om ons eie belang en ons eie voorspoed en ons eie mag en ons eie krag, dan moet ons weet dis nie die evangelie van die Bybel waarmee ons besig is nie. As ons soos Hy gestuur word, dan beteken dit dat ons ook die pad moet loop wat Hy geloop het: die pad van selfprysgawe; die pad waarop ek my eiebelang en my eie eer moet neerlê. Die pad wat vra dat die eie-ek gekruisig word. Ook ek en jy word vanoggend opnuut gestuur om, soos die gekruisigde Koning, nie net vergifnis te gaan verkondig nie, maar om dit te gaan leef. Al sou dit beteken dat ons soms, soos Hy, ander se skuld op ons moet neem en daarmee na God toe gaan. Mense wat Paasfees gevier het, vra immers nie wie se skuld dit was nie. Ook en en jy word vanoggend opnuut gestuur om, soos die gekruisigde Koning, nie net van God se liefde te gaan vertel nie, maar om dit te gaan leef. Al sou dit beteken dat ons ook, soos Hy, dalk met littekens en wonde anderkant uitkom. Mense wat Paasfees gevier het, vra immers nie wat dit gaan kos nie. Dis finaal. In God se oë is daar geen ander pad as die pad van die kruis nie. En daarom sal ek en jy, nadat ons oë hierdie naweek gefokus was op die kruis van Golgota, na hierdie naweek moet opstaan, ons eie kruis moet opneem, en ons nuwe lewe moet gaan uitleef. Op die voetspoor van ons Koning. Die Koning van die kruis. Dis wat dit beteken om in die oorwinning te leef. Dis wat dit beteken om die nuwe lewe te leef. Dis wat dit beteken om Paasfees te vier. In die oë van die wêreld is dit ’n vreemde manier van lewe. Dis ’n vreemde manier van feesvier. Dis ’n vreemde manier van oorwin.

Slot

Maar dis God se manier. Die enigste God, die ware God, die lewende God. Dis die boodskap waarmee ons die wêreld ingestuur word: ’n kroon in die vorm van ’n kruis; oorwinning deur selfprysgawe; vrede deur diens en selfopoffering. Dis die evangelie van die Bybel. Dis die boodskap van Paasmore. Sonder die kruis, maak die oop graf geen sin nie. Sonder selfopofferende liefde, beteken die oorwinning niks. Dis die boodskap wat ons nou met ons lewe moet gaan oorvertel .....

Page 9: Preek 25 Maart 2012

9

Amen.