Upload
zander-van-der-westhuizen
View
223
Download
0
Embed Size (px)
DESCRIPTION
Dr Danie Dreyer preek uit Handelinge 9:1-19 met VERSOENING as tema.
Citation preview
1
Nagmaal Sondag 10 Februarie 2013
Versoening
2 Kor. 5:14-19
2 Kor17”Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is
verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het
ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening
van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening
bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself
versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die
boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou”.
Miskien sou ons ons verhouding met God en ons lewe as Christene
kon vergelyk met ons hand: Die handpalm en die vyf vingers. Die
handpalm verbind die hand met die res van die liggaam en die vyf
vingers maak dit moontlik dat die hand sy spesifieke funksies kan
vervul. Dan sou ons kon sê (by wyse van vergelyking) dat die
handpalm die geloof en die liefde is waarmee ons as deel van die
liggaam van Christus, aan Hom verbind is. Hy het hom by my doop
aan my verbind - én ek het een of ander tyd in my lewe in die geloof
daarop geantwoord.
Nou is die vraag: Hoe leef ek as nuwe mens?
Ons kan dit vergelyk met die vyf vingers wat almal ook met ’n v
begin: Verteenwoordiger, vervreemding, versoening, vergifnis,
vreugde.
Verteenwoordiger.
By ons mannebybelstudie is ons van die begin die jaar besig met
Genesis. Ons word meer en meer bewus daarvan dat as jy nie
2
Genesis 1-11 verstaan nie, jy ook nie die res van die Bybelse
Boodskap gaan verstaan nie. In Gen. 1:27 lees ons dat “God die
mens geskep het as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy
die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep”. Vanmôre is dit
belangrik om te onthou: As verteenwoordiger van God is jy soos die
duim van die hand. Die ander vingers kan eintlik nie hulle hul funksie
vervul as daar nie ’n duim is nie. In alles wat ons doen, moet ons
bewus wees daarvan dat ons daar is om God te verteenwoordig. Ons
moet as nuwe mens nie in die eerste plek ter wille van onsself optree
nie – wanneer ons bestuur, in die bank, by die grenspos, in die
munisipale kantoor en aan die etenstafel. Dit is nogal as
skrikwekkende gedagte! As man of vrou in my huwelik, as ma en pa
wat my kinders moet opvoed soos ek beloof het, as oupa en ouma
moet my klein kinders iets van God in my kan sien, as werkgewer en
werknemer, as skolier by die skool en as student op universiteit moet
ons as beeld van God Hom in alles verteenwoordig. Die enigste
manier waarop sekere mense iets van God kan leer ken is in my en
jou woorde en optrede.
Vervreemding
Terwyl ek so praat het jy sekerlik (soos ek) ongemaklik begin voel
omdat ons weet dat die ideaal nie die werklikheid is nie. Ons is nie
wat God ons bedoel het dat ons moet wees nie. Ons is van God en
mekaar vervreem. As kinders van Adam en Eva vertoon ons eerder
die karakter van die ou mens. Ons is op onsself en ons eie belange
afgestem. Daarom haal Paulus Ps. 14 aan wat sê: “Almal het
afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie,
3
selfs nie een nie.” Dalk kan jy dit ook nou beaam: “Die goeie wat ek
wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit
doen ek. Ek, ellendig mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan
verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons
Here” (Rom. 3:19, 24-5).
Die sonde vervreem ons van God en van mekaar en van die wêreld
waarin ons lewe. Daar is slegte dinge wat in ons lewe gebeur wat ons
laat twyfel of God regtig vir ons omgee; ons doen verkeerde dinge en
verkies om eerder van God weg te vlug. In ons huwelik en gesinne
raak ons van mekaar vervreemd omdat ons ongelooflik selfsugtig is.
Ek word kwaad en as ek nie sin kry nie, vat ek my goed en ek loop.
Dit is hartseer dat statistiek wys dat dat dit egskeidings nie beduidend
minder is tussen mense wie sê dat hulle Christene is. Verstaan ons
dan werklik iets van die Christelike boodskap van versoening?
In ons land is daar soveel dinge wat ons uitmekaar dryf, wat mense
van mekaar vervreemd. Dit bevestig ons slegte en verkeerde
persepsies teenoor ander mense. Hoewel ons dankbaar is as sport
ons nader aan mekaar bring en as ’n wêreldberoemde orkes kom om
deur hulle musiek te probeer om grense oor te steek, maar dit is nog
nie werklike versoening nie.
Versoening
Die Bybelse boodskap van versoening is dat versoening nie
goedkoop is nie. Dit vra ’n prys – ’n duur prys! Die prys word in die
Bybel word gesien in die praktyk van die offer. Die offer is vir ons
iets vreemd. Ons kan nie verstaan dat iets of iemand geoffer word
nie. In die Bybelse tyd was die offer ’n algemene praktyk. Die offer
4
het veral twee betekenisse gehad: Jy het geoffer om jou
afhanklikheid van ’n godheid te bely en so jou respek te betoon. En
tweedens het jy geoffer om versoening te doen vir jou skuld uit vrees
vir straf. En wanneer jy dan die offer bring, moet jy die beste gee wat
jy het. En binne hulle (patriargale) kultuur waar die voorbestaan van
die familie die belangrikste was, was die oudste seun as die draer
van die lewe die kosbaarste. Daarom was dit ’n algemene praktyk
onder die Kanaäniete om hulle oudste seun aan Baäl as die god van
die vrugbaarheid te offer. Dit het dikwels ook in Israel gebeur. Die
opdrag aan Abraham om vir Isak te gaan offer as ’n brandoffer, moet
in hierdie lig gesien word. Maar dan gebeur dit dat ’n lam (skaapram)
gegee is om in die plek van Isak geoffer te word. Daarom kan die
Nuwe Testament sê dat God sy Seun, sy eersgebore gegee het as
offer vir ons sondes. Vir hom was daar nie ’n plaasvervanger nie. Hy
het gesterf in ons plek, sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Hy het
die versoening vir ons gebring en hierdie boodskap van versoening is
aan ons toe te vertrou. Hoe wonderlik om te weet, om vir iemand te
sê: “Jy hoef nie jou oudste seun te offer nie. Iemand het jou so
liefgehad dat Hy sy Seun gegee het om vir jou en my sonde te
sterwe!”
Vergifnis
Vergifnis is daarom ook nie goedkoop nie. Wanneer jou vrou die kar
afgeskryf het, vergewe jy haar maar jy bring die offer, jy betaal die
skade; as jou kind die onverskillig is en seerkry, vergewe jy
hom/haar, maar jy betaal vir die behandeling; as daar ontrou in die
5
huwelik was, kan jy hom/haar vergewe, maar jy bring die offer om die
stukkende verhouding weer te laat werk.
God het deur die offer van Christus aan die kruis vir ons versoening
gedoen. Hy het die volle losprys betaal. Hy het aan God se
geregtigheid voldoen. Daarvan is die nagmaal vanmôre die bewys!
Wanneer ons dan in geloof deel kry aan die werklike betekenis van
die nagmaal, word ons ook opgeroep om uit dankbaarheid vir die
Here te gaan lewe. “Die boodskap van die versoening het Hy aan ons
toevertrou” (vs. 19).
Vreugde
As ons vir mekaar sê: “Raak deel van die beweging”, bedoel ons ten
diepste daarmee: “Raak deel van God se liefdesbeweging na die
wêreld deur versoening te bring waar daar vervreemding is; liefde
waar daar haat is; vergifnis waar daar wraak is”. Dit is nie maklik nie.
Inteendeel in eie krag is dit menslik onmoontlik. Dit vra iets van ons.
Ons land en ons omstandighede; ons huwelike en ons gesinne; die
wêreld smag na hierdie boodskap wat ’n verskil kan maak om ons
lewe en ons omstandighede te verander. Dit is voorreg om hierdie
boodskap te mag deel met ander mense. Ons gaan die vreugde
daarvan smaak as ons die boodskap uitdra en iets daarvan word
waar in mense se lewens!
Maar, glo ons regtig in hierdie boodskap van versoening –
omdat dit ’n verskil in ons eie lewe gemaak het?