Upload
lethuan
View
249
Download
23
Embed Size (px)
Citation preview
‘n Tuin se tydslyn
Kompanjiestuine, Kaapstad
In the Gardens few are tough enough for this Hinterland stuff – are you? The children potter at the cage for hours the aged totter to their favourite flowers – it’s all they want to do. Cape Scenes, Rupert Shephard, 1954
.
Daar loop spoke met groen vingers in die Kompanjiestuine; hulle kom van ver, waar die voet
van die berg eers uitgedy het onder die galop van springbokkies, die heerskappy van brullende
leeus en die vrede van onbedreigde renosters – vandaar al kom hul stemme : uit die
soetwaters waar die Khoekhoen se vee gewei het en uit die eerste beddings wat gespit is deur
Hendrick Boom, ritmies wieg hul versugtinge vandag in die purperwinde van die wisteria. Bo -
oor al die stemme wat vir soveel dekades uit die vergete setels in Parlementslaan opklink, is
die suising van iets wat tyd en grense oorskry : die Moederstad se groen long.
‘n Huisgenoot voorblad van September 1936 met ‘n illustrasie van Wisterias in
die Kompanjiestuine deur D. de Beer
1
Josephus Jones se grondplan van die tuine soos dit
in 1791 daaruit gesien het.
Ons oudste tuin wat sy ontstaan te danke het aan die noodsaaklikheid van groente verbouiing
vir die verversingpos van die VOC, het sedert die Nederlanders se eerste voorbereiding en
aanplantings, binne die eerste maand nadat hulle aan wal gekom het, transformasies
ondergaan wat lees soos die dagboek van ‘n tuinier met nege lewens . Die organiese tydslyn is
‘n spoor wat loop van een koloniale bewind na die ander tot by die begin van ons uiteindelike
demokrasie. Die Nederlanders moes vroeg vrede maak met die elemente en hul tuinboukunde
daarna skik, soms het die saad wat per skip arriveer het, nie ontkiem nie en in verskeie
dagboekinskrywings van die tyd word daar uitgebrei oor die strawwe klimaat en wispelturige
weerspatrone waaronder die suidooster wat nouliks getemper kon word deur mirtehout
windskerms.
In Jan van Riebeeck se dagboek word vermeld dat die tuinier van die VOC Hendrik Boom op 29
April 1652 die eerste stuk grond voorberei het om uitvoering te gee aan Here Sewentien se
opdrag aan van Riebeeck om ‘n groente- en vrugtetuin aan te lê. Dit was in die omgewing waar
‘n tydelike houtfort opgerig is langs lopende soet water min of meer op die huidige hoek van
Adderley- en Strandstraat.
Boom het ook ‘n kruie- en medisinale tuin uitgelê. Daarna het verskeie ornamentele plante
gevolg en klaarblyklik is die eerste Rosa Centifolia op 1 November 1659 gepluk.
Met die toename in skeepsvaart om die Kaap en ‘n groeiende bevolking het die tuin in die
rigting van Tafelberg uitgebrei en teen 1661 het die tuin reeds 21 morg(17.9ha) beslaan. Die
sentrale aksis wat deur die middel van die tuin geloop het, het die tuin met die nedersetting
wat nader aan die see geleё was, verbind. Dit het Goewermentslaan geword wat na die
2
Heerengracht of Gentleman’s walk (Adderleystraat) gelei het en word beskou as die hoofaar
van Kaapstad. Die beskikbaarheid van vars water a.g.v die standhoudende strome wat deur
Tafelberg se afloop gevoer is was ‘n belangrike faktor in die kanalisering van water besproeiing.
Hierdie kanale het dan ook mettertyd die riglyne van die oorspronklike paaie bepaal en dus die
uitleg van die sentrale stadskern soos dit vandag daar uitsien.
Onder Simon van der Stel (1679 – 1699) het die tuiniers Hendrik Oldenland en Jan Hartog die
oorspronklike vrugte-en groentetuin aangevul met inheemse- en eksotiese plante, struike en
bome wat daartoe bygedra het dat dit ‘n wêreldbekende botaniese tuin geword het. Johan
Andries Auge is in 1751 as superintendent aangestel en het verskeie inheemse plantspesies
versamel tydens ekspedisies na die binneland. ‘n Strelitzia Nicolai wat vermoedelik deur Auge
geplant is groei steeds in die tuine.
Met die bankrotskap van die VOC teen die draai van die 18e eeu en die Kaap onder Britse
bewind tusen 1795 - 1803 was die tuin nie ‘n prioriteit nie en is algaande verwaarloos. Die
uitbreiding van landbougrond vanwee die vestiging van binnelandse setlaars (vryburgers) het
die afhanklikheid van die Kompanjiestuin as voedselbron algaande laat afneem en die fokus het
verder verskuif van kombuistuin na ornamentele tuin. Onder die Bataafse bewind van 1803 tot
1806 het die tuin weer ‘n groeifase ervaar en uitbreidings soos die sentrale Goewermentslaan
aslyn is verleng tot by Oranjestraat.
In 1806 was die Kaap weer onder Britse bewind en dit was dan ook die begin van “institutional
creep” met die geleidelike oprigting van verskeie geboue soos onder andere Sint George’s Kerk
(1834) – wat later vervang is deur Sint George’s katedraal (begin in 1901), die Nasionale
Biblioteek (1854-1857) en die Parlementsgeboue (1875-1885).Teen 1848 is die onderste deel
van die tuine beskibaar gestel vir publieke gebruik wat ook die begin was van die landskap se
karakter soos wat dit grotendeels vandag daar uitsien . Die oprigting van die Suid Afrikaanse
Museum op die mees ornamentele deel van die tuin het gelei tot die bedanking van die hele
Tuin Kommissie in 1890. In 1892 is die beheer van die tuine verplaas van die Koloniale Regering
na die plaaslike Munisipaliteit en volwaardig oopgestel as publieke ruimte vir die landsburgers.
3
‘n
Man sit en lees langs die welige drolpeer naby die roostuin Die tuine in die Victoriaanse tydperk
Vandag kan die volk op lowergroen gras baljaar en piekniek hou. Stap deur die tuin en dit roer.
Kinders voer die spekvet eekhorings wat soos boodskappers uit ‘n kinderverhaal al hulle
geheime na die hoogste bome toe aandra. Hadedas marsjeer naby die ou waterkanaal,
Janfrederik wip vernuftig tussen die akkerblare en ‘n duifformasie swiep teen die blou lug bo
die Delville Wood kanon. ‘n Maer man met ‘n reuse groen plastiekpadda verskyn in die
wandellaan naby ‘n Vrekboom: die padda is te koop. Onder die plaat palmbome neem twee
meisies in ligroos klere fotos van hul vriend Kurt Abrahams wie hulle glo moontlik die volgende
James Dean is. Laatmiddag verskyn ‘n groot groep Japanse toeriste. Hulle kameras flits so woes
rondom ‘n albino eekhoring dat jy sal dink dis een van die groot vyf wat hier tussen die reuse
rubberboom uittroon. ‘n Ent verder word die standbeeld van Cecil John Rhodes nageboots vir ‘n
Kodak oomblik. Onder eertydse tuinier Andries Auge se Outeniekwa Geelhoutboom is ‘n man
besig met Houdini se truuks. Met behendige reptielbewegings klim hy oor en deur ‘n groot
swaar ketting - ‘n katspoeg verder verdwyn ‘n bruid in wit chiffon langs ‘n bloedrooi poinsettia.
4
Rory Phelan is sedert 2006 direkteur van die Kompanjiestuine. Hier staan hy by wat beskou word as die oudste gekweekte boom in Suid Afrika – ‘n Pyrus communis (Saffraanpeer) Dit is ‘n oorblyfsel van die produksietuin wat dateer uit die VOC tydperk. Hierdie spesie kan tot 500 jaar oud word .
Kelvin Duminy werk al agt jaar in diens van die tuin: Boslelies is sy grootste
vreugde en jaar na jaar wag hy vir Augustus wannneer hulle vlam vat onder die bome.
Rory Phelan is sedert 2008 die huidige direkteur van die tuine en hy glo aan ‘n tuinboukundige
diens wat daarna streef om die kwalitiet van die omgewing in al sy fasette te verbeter. Die man
dra ‘n leeftyd se tuinkodeks met hom saam wat strek van die Bronx in New York tot by die
Jardin de Pamplemousses in Mauritius. Hy is reeds agt en twintig jaar lank ‘n tuinboukundige
en het sy opleiding aan die Durban Botaniese tuine ontvang waarna hy vir etlike jare parke in
5
Amanzimtoti bestuur het, daarna Sol Kerzner se hoteltuine op die Comoro-eilande en later die
tuin van die UN Plaza Hotel in New York. Toe die winters in die V.S.A te straf word het hy
teruggekeer na Suid Afrika en betrokke begin raak by gemeenskapstuine in Inanda, Natal en
Mbekweni in die Paarl. Sy groeiende filosofie van gemeenskapstuin wat funksioneer op die vlak
van metropolitaanse tuin, kom hier goed te pas.
Die Kompanjiestuine is ons Central Park meen hy, en groen ruimtes in die stedelike landskap is
van belang omdat daar in die mens se onderbewussyn ‘n noodwendige behoefte tot interaksie
met die natuur bestaan. Groen ruimtes verskaf surplus suurstof wat lei tot ‘n fundamentele
gevoel van goedgesindheid en die addisionele vreugde wat die natuurlike skoonheid van plante
, voёls en insekte het. Op ‘n vlak van genetiese geheue weet die mens dat alles wat leef met ‘n
komplekse web van die lewe verbind is. Bome en plante absorbeer besoedelingstowwe en
verminder die “stedelike hitte-eiland effek” wat in metropolitaanse gebiede voorkom as gevolg
van die digtheid van geboue, teer en konkreet.
Van die bome wat oor tyd deur verskeie kurators hier aangeplant is sluit in die Judasboom,
Koraalboom, Fakkelboom, Kiepersol, Franse esdoring, Louriermagnolia en - volgens Dennis
Bailey wat al dertig jaar hier werk - ‘n spokende Moerbeiboom. Binne hierdie konteks het
Phelan vrede met die argument vir suiwer inheemse aanplanting – daarvoor het ons per slot
van sake vir Kirstenbosch, hierdie is ‘n tuin wat ‘n samesmelting is van beide eksotiese en
inheemse plantsoorte en die talle spesies skep hul eie hoogtepunte binne die verskeie
seisoene, soos byvoorbeeld klein eilande geel narsings se kontras met die strak lyne van
strelitzia beddings. Die tuin is ‘n botaniese refleksie van 359 jaar se kulturele kruisbestuiwing.
Benewens die groot verskeidenheid van bome is daar ontelbare ander plantspesies wat wissel
van Asaleas, Kniphofias, Proteas, Clivias, Watsonias, Verbena, Nasturtiums, Agapanthus,
Hydrangeas, Sikadeё, Arctotis, Plectranthus, Acanthus, Helichrysum, sukkulente, eksotiese
dekplante, verskeie bolplante en rose met name soos Satchmo, Tineke, Harmonie, Just Joey en
Bride’s dream. Sommige van die voёls wat hier nes maak sluit in Kaapse witogies, Hartlaubse
meeus, Kroonkiewiete, Olyflysters, Gewone kwikkies, Witborskraaie, Dikkoppe, en
Fiskaallaksmanne. Die tuin is vandag sewe en ‘n half hektaar groot en word deur ‘n personeel
6
van vyf en twintig in stand gehou. Die tuin word gefinansier deur die Stad Kaapstad asook deur
privaat skenkings en word deur die Cape Heritage Trust bestuur.
Heelwat restourasie werk is die afgelope paar jaar aangepak waaronder die Bothy - (afgelei van
die ou Skotse word Both wat beteken arbeiders kwartiere) en wat onder andere al gebruik was
as tuinierskwartiere, kuratorshuis, saadstoor en vergaderplek vir die Botaniese tuine komitee.
Tans is dit nie in gebruik nie en verskeie opsies word vir die Victoriaanse gebou oorweeg.
Ook die eertydse direkteurswoning is in 2008 opgeknap en huisves nou die netjiese
inligtingsentrum. Daar is 23 “groen kamers” te vind in die tuine. Dit is ruimtes in
terreinargitektuur wat in skaal is met die mens ten opsigte van skutting en intimiteit en wat jou
lei van een ruimte na ‘n ander. Hierdie beginsel van tuinontwerp skep intrige tussen die
deurloop na verskeie areas sodat die ervaring van ‘n tuin as’t ware in openbarende hoofstukke
kan plaasvind. Ook die voёlhuis het vernuwing ondergaan en tjirpende kwarteltjies wei tussen
rooibeksysies terwyl daar ywerig nes gebou word uit die grassoorte wat in die hokke
aangeplant is. Daar is ook Namakwaduifies, Java sperwers, Kaapse kanaries, Zebravinke, en ‘n
vuurvinkie. Koi-visse swem rustig in die vierkantige damme waaruit die voёls water drink. In die
pyplyn is planne om die ontwerp guru van die agentskap Animalfarm, Porky Hefer se reuse
wewersneste in die bome tuis te maak want Phelan voel sterk oor die feit dat daar eko-
vriendelike aktitiwiteite vir veral kinders geskep moet word. Verder word daar beoog om weer
‘n groentetuin te vestig wat gebaseer sal wees op die oorspronklike Hollandse ruitplan.
Eers wanneer hy die trasering van die twee uiteenlopende karaktertrekke as grafiese tydlyne op
die kaart in sy kantoor uitwys, word die nalatenskap van die historiese inplanting wat die tuin
so merkwaardig maak, duidelik : die Nederlanders se reghoekige matigheid oorheenliggend tot
die sieraad van die Engelse tuiniers se kronkelende romantiek.
Die telefoon in sy kantoor lui: dis ‘n korporatiewe groep wat ‘n spanbou sessie in die tuine wil
kom hou. Geen probleem, sê Phelan, dit staan julle vry om die “paddocks” daarvoor te benut,
solank julle net nie gaan ploeg nie. Hierdie onbelemmerde ruimte van ses grasperke onder
lanings akkerbome aan die suidoostelike kant van die tuine is aangrensend tot die Groot
Sinagoge en Gardens Commercial High School. Dit is omring deur waterkanale en in die 17de
7
eeu is ‘n verskeidenheid wilde diere binne hoё gevormde heinings aangehou vir die besigtiging
van besoekers.
In die broeiseisoen, vertel Phelan, bring van die besoekers soms ‘n beseerde klein eekhorinkie
wat die uit die nes geval het en soms ‘n siek tortelduif of mank kolgans . Oor die legendariese
gerugte dat parkbewoners die ganse soms vang vir die pot, is daar nie bevestiging nie. Dis
Vrydagmiddag en vir Phelan lê die rondte van vader Cloete nog voor, aleer die naweek
aanbreek. Ons groet duskant die oudste boom in die tuin.
Vroeg die volgende oggend loop ek drie joernaliste raak by die tydelike bonsai uitstalling waar
elkeen verdiep is met sy eie Wabi sabi . 37 Bonsai boompies wat behoort aan lede van die Cape
Bonsai Kai is te besigtig en sluit in spesies soos Acacia galpinii(Apiesdoring), Taxodium
distichum(vlei-sipres) en Diosphyros whyteana (Swartbas) – almal ideale spesies vir hierdie
duisend jaar oue Japanese kunsvorm. Die miniatuur olienhout en -karee lyk soos japsnoete
onder die tamaai papierbasbome, hoewel laasgenoemde veel jonger is as die dwergies. Op ‘n
Saterdagmiddag sal jy gewoonlik ‘n bruidsgevolg hier teekom. Hulle figureer onder ‘n
Australiese vyeboom of by Thorne se fontein, dan beweeg hulle met sissende sluiers tot by die
boonste terrasse vir ‘n foto sessie onder die wakende oё van die beeldhouer Alfred Turner se
monumentale uitbeelding van Castor en Pollux.
Morake Ofentse mik en druk om Lloyd en Comfort se huweliksdag onder die
reuse Australiese vy vas te lê
8
‘n groep skoolkinders van Wallacedene Sekondêre Skool
vertoef by Thorne se fontein wat in 1900 opgerig is as skenking van die burgemeester Sir William Thorne
So wandel landsburgers en besoekers al vir dekades deur die lieflike ou tuin
met sy poele skaduwees
Dis heerlike lente wannneer ek teen middel September saam met Andrew Lamprecht
(kunskurator en lektor by die Michaelis Kunsskool aan die suidwestekant van die tuine),
melkskommels drink by die ou tuinrestaurant wat grens aan Koninging Victoriastraat . Om ons
bars die bloeisels van Ridderspoor, Vingerhoedjies en Verbleikblomme uit hul nate en ons volg
die bedwelmende reuk van Saliehout. Die Tretchikoff uitstalling in die Suid Afrikaanse
Nasionale Kunsgalery, waarvan hy die kurator was, loop eersdaags ten einde. Lamprecht het
as’t ware hier opgegroei, en hy onthou heelwat van die eksentrieke siele wat amper so
emblematies soos die monumente geword het – die onberispelik geklede lang, maer vrou met
die gitswart hare opgestapel in ‘n mossienes.
9
Dan was daar die vrou wat jare lank die katte kom voer het. Op ‘n keer het hy ‘n Nederlandse
kunstenaar ontmoet wat ‘n tulpprojek hier kom plant het wat een maal ‘n jaar tot ‘n
beduidende patroon sou uitblom. Die geheimsinnige man het beloof om verdere kommunikasie
oor die projek aan te stuur maar so ‘n brief het Lamprecht nooit bereik nie. Driehonderd jaar
gelede sou jy seker kon aanvaar dat sy skip iewers tussen die Kaap en Amsterdam gesink het.
Die Kompanjiestuine verwelkom skenkings om sodoende as ‘n tuin van uitnemendheid te bly voortbestaan. Kontak asseblief vir Rory Phelan by tel: 021 400 2521
Lien Botha, Oktober 2011
Bronne:
-Company’s Garden Cape Town: The history of the Company’s Gardens Vol I (1652 – 1806) en Vol II (1806 -1988), Report prepared for the City of Cape Town by Gwen Fagan, 1989
-Company’s Garden Self-guided Walk, City of Cape Town heritage pamphlet no 10, Heritage Resources Section, City of Cape Town for City Parks and Nature Conservation, 2005
-Gesprekke: Rory Phelan, Kelvin Duminy, Dennis Bailey en Andrew Lamprecht, September 2011
10
11