UITGAWE 4 NOVEMBER 2014
SAP TIN VETERANE BOND
PADKOS
Deur: Martin Loubser
Tekens, gebare, verkeerstekens, merkers – dis alles goed met 'n spesifieke betekenis. Ons sien dit
op die pad, op ons seremoniële drag en ons gebruik dit ongelukkig soms op 'n lelike manier.
Spesifieke tekens be-TEKEN spesifieke goed. Dit is oral om ons.
Tekens het egter in die Bybel 'n besondere plek gehad en die Here het dit regdeur die Bybel
gebruik. Daar was 'n spesifieke plek daarvoor en daar is vandag steeds 'n spesifieke plek. Soms
word dit reg gebruik en soms word dit ongelukkig verkeerd gebruik – of liewer, misbruik. In die Ou
Testamentiese tyd het die Here wondertekens gebruik om mense se geloof in Hom te versterk.
GELOOF EN VERTROUE OP DIE HERE
Eks 4:1-5, 30-31
Maar toe sê Moses: “Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die
Here het nie aan my verskyn nie? Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy in jou hand?” “'n Kierie,”
antwoord Moses. “Gooi die kierie op die grond!” sê die Here vir hom. Toe hy dit op die grond gooi,
word dit 'n slang, en Moses het daarvoor padgegee. Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit
en gryp hom aan sy stert.” Moses steek sy hand uit en gryp hom, en skielik word dit weer 'n kierie
in sy hand.
Aäron het hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en daarna het Moses die tekens voor
die volk gedoen. Hulle het hom geglo. Toe hulle hoor dat die Here die nood van die Israeliete
gesien het en Hom hulle lot aangetrek het, het hulle in aanbidding gebuig.
Wondertekens, sodat die mense kon glo dat God in beheer was van hierdie opdrag aan Moses. Dit
is opvallend dat GEEN van hierdie wondertekens iets te doen gehad het met persoonlike voordeel
vir Moses nie.
Eks 6:27 – 7:5
Toe die Here in Egipte met Moses gepraat het, het Hy vir hom gesê: “Ek is die Here. Gaan sê vir
die Farao, die koning van Egipte, alles wat Ek vir jou gesê het.” Toe sê Moses vir die Here: “Ek
praat swaar, die Farao sal nie na my luister nie.” Maar die Here antwoord hom: “Kyk, Ek gee aan
jou gesag oor die Farao, en jou broer Aäron sal jou woordvoerder wees. Alles wat Ek jou beveel,
moet jy aan jou broer Aäron oordra, en hy moet dit vir die
Farao vertel sodat hy die Israeliete kan laat trek uit sy land uit. Maar Ek sal die farao hardkoppig
maak, sodat Ek baie tekens en wonders in Egipte kan doen. Hy sal wel nie na julle luister nie, maar
dan sal Ek Egipte my mag laat ervaar: met groot reddingsdade sal Ek die stamme van my volk
Israel uit Egipte bevry. As Ek Egipte tref, sal hulle besef dat Ek die Here is, en dan sal Ek Israel
tussen hulle uit laat trek.”
Hierna lees ons dat die Here die plae gebruik as tekens van Sy almag. Hierdie tekens het 'n
dubbele doel gedien: aan die een kant sodat Sy volk kon glo en weet dat Hy die opdrag gegee het
om te trek, en aan die ander kant sodat die Farao sou glo dat die Here die opdrag gee. Nietemin
het die Here die Farao se hart verhard, sodat Hy meer tekens en wonders kon doen. Die Here het
hierdie wondertekens gegee op Sy inisiatief sodat Hy sy planne kon deurvoer, en nie tot enige
persoon se voordeel nie, en dit het nie 'n element van toekomsvoorspelling bevat nie.
In Rigters 6 lees ons hoe die engel van die Here aan Gideon verskyn en dan 'n wonderteken doen
toe die Here aan Gideon die opdrag gee om die Midianiete te verslaan. Alles tekens sodat die
mense God se almag kan sien. Vandag soek mense steeds tekens.
Rigters 6:36-40
Gideon het vir God gesê: “Ek sal weet dat U deur my vir Israel wil red soos U beloof het, as ek 'n
stukkie vlieswol op die dorsvloer sit en daar kom dou op die wol terwyl die grond droog bly.” En dit
het toe gebeur: toe Gideon die volgende môre opstaan, het hy die stukkie wol uitgedraai en dou
daaruit gedruk, 'n hele kom vol water. Toe sê hy vir God: “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie!
Ek wil nog 'n keer iets vra. Laat my tog net nog een toets met die vlieswol toe: net die wol moet
droog wees, terwyl daar oral op die grond dou is.” Daardie nag het God dit so laat gebeur: net die
wol was droog en oral op die grond was daar dou.
Die Here praat met Gideon en gee hom 'n teken soos wat hy vra. Dink mooi of hierdie teken
enigsins vir Gideon se persoonlike voordeel of voorspoed was? Nee, hoegenaamd nie. Dit het
daaroor gegaan dat Gideon 'n opdrag gekry het om Israel te red. Ongelukkig is ons vandag nogal
lief daarvoor om op dieselfde manier 'n teken te probeer kry, maar gewoonlik tot ons eie voordeel.
Natuurlik is dit reg om 'n besluit wat geneem moet word te toets, om God se wil te vra, om seker te
maak dat ons doen wat die Here wil hê, en in besonder, om te weet of ons regtig God se stem
gehoor het, en nie ons eie stem nie.
Die vraag is, het ons vandag nog tekens nodig of nie? Waar pas fisiese, bonatuurlike tekens in wat
bo die mens se begrip staan? Hoekom? Om te weet of God bestaan?
Om te weet of dit Sy opdrag is of Sy goedkeuring wegdra? Of is dit dikwels vir eie gewin? Waarvoor
soek jy dit?
Terug na tekens in die Bybel, en nou in die Nuwe Testament. Jesus het baie wonderwerke gedoen.
In Joh 2 lees ons hoe Jesus, sy ma en die dissipels na 'n bruilof in Kana genooi is. Daar doen Hy
Sy eerste openbare wonderwerk en verander water in wyn. Baie mense wat lief is vir die voggies
sou graag daai ding wou doen! Maar Jesus se doel daarmee was nie om die drankrekening af te
bring nie...
Joh 2:11
Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur Sy heerlikheid
laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.
Kan jy sien dat daar geen persoonlike voordeel vir enige iemand was nie? Die woord wat hier in
Joh 2:11 gebruik word is wonderteken, en nie wonderwerk nie. Ek wil graag 'n lyn trek tussen 'n
teken en 'n wonderwerk (soos bv. die genesing van mense), wat wel persoonlike voordeel vir
iemand inhou.
Die wondertekens waarna ons nou gekyk het, het almal te doen gehad met geloof in die Here. Dit
was hoekom dit gedoen is. Maar nie almal wat dit gesien het wou glo nie ...
Joh 12:37
Alhoewel Jesus baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie.
Net so moet ons oppas dat ons geloof in God nie van wondertekens afhanklik raak nie. As jy
afhanklik is van wondertekens om te glo, maak die Bybel geen impak meer op jou lewe nie.
Matt 12:38-39
Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: “Meneer, ons wil 'n wonderteken van
u sien.” Maar Hy antwoord hulle: “'n Slegte en afvallige geslag vra 'n teken, en geen teken sal aan
hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona".
Kameraad, jy het nie regtig meer 'n wonderteken nodig nie. Weet jy, mense soek tekens om hulle te
help om besluite te neem. Vir ander werk, of oor 'n bediening, of 'n huweliksmaat, ens. Daar is
teoreties niks daarmee verkeerd nie. Ongelukkig gaan soek mense dit soms op die verkeerde
plekke, en om die verkeerde redes. En meestal gaan dit dan net oor eie gewin. Ek het al baie kere
gehoor dat mense so 'n teken soek, en dan na enige iets gryp net om die antwoord te kry wat hulle
in elk geval wou hoor. Iemand vertel eendag dat hy van werk wou verwissel maar 'n teken wou hê.
Hy bid toe en vra die Here vir 'n teken. As sy vennoot by sy kantoor sou instap en kom groet, sou
hy dit as 'n teken beskou dat hy moes aanbeweeg, en andersom. Punt is, die vennoot het in elk
geval elke oggend ingestap en gegroet. Dit is 'n bespotting maak van 'n wonderteken.
So 'n paar praktiese punte om te oordink:
Die Here werk soms met die oop en toemaak van deure. Maar ongelukkig skop ons soms toe deure
oop, en dwing ons ons wil op God af.
Ons het nie wondertekens nodig vir dinge wat ons weet verkeerd is in God se oë nie, bv. “Here, as
dit of dat gebeur, dan weet ek U keur 'n egskeiding goed, sodat ek met Poppie by die werk kan
trou”. Dit werk nie so nie!
Soms laat die Here ons toe om met verantwoordelikheid 'n saak self goed te ondersoek, en dan 'n
goeie berekende besluit te neem. En dan seën Hy ons in die besluit wat ons neem.
Moenie niks doen, of nooit 'n besluit neem, of nooit iewers betrokke raak, of geen risiko neem, of
sommer net passief raak, omdat die Here nog nie 'n duidelike teken gegee het nie.
Oppas vir wie jy vra vir bevestiging van tekens. Mense praat maklik, en hou baie van oulik klink, en
sê goed wat jou in die sloot laat beland.
Oor die algemeen dink ek nie jy het bo-natuurlike tekens nodig nie. Gee jouself oor aan die Here en
vertrou op Hom alleen!
UIT DIE PEN VAN DIE SEKRETARISSTIGTING, VORDERING EN NUTTIGE INLIGTING
STATISTIEKE
Aansoekvorms op aanvraag uitgestuur:- 468 (+22)
Aansoekvorms teruggestuur en goedgekeur:- 72 (+8)
Lede wat na goedkeuring betaal en as lede geregistreer is:- 67 (+5)
Aansoeke afgekeur wat nie aan toelatingsvereistes voldoen nie:- 5 (+1)
DIE STERKTE VAN DIE BOND
Die totale sterkte van die bond is tans 75 en word soos volg saamgestel:-
Bestuurslede 6
Erelede 4
Lede 57
Ondersteuners 8
Lede oorlede 1
Oktober 2014
1. Ian Kirby
2. Jeffrey Eric Chatzkeldwitz
3. Jan Daniël Croucamp
4. David Petrus Pretorius
5. Elias Albertus Nel
6. Petrus Jacobus Brits
November 2014
1. Dean van der Sandt
2. Schalk Willem Vorster
3. Denis Parsons
4. Robert Louis van Onselen
5. Clarke van Dyk
6. Andre Brits
7. Thomas Clack
NUWE LEDE VIR OKTOBER EN NOVEMBER 2014.
Welkom aan die volgende nuwe lede in ons Bond, dit is ons bede dat julle die samesyn
en kameraadskap in ons familie sal geniet!
BELANGRIKE EN NUTTIGE INLIGTING
BESTUUR
Voorsitter: Willie Fouchè Sel: 083 654 8791 epos: [email protected]
Onder Voorsitter: Tiny Nortè Sel: 083 269 2071 epos: [email protected]
Sekretaris: Martin Loubser Sel: 084 990 2025 epos: [email protected]
Tessourier: Sean Clayton Sel: 084 447 3487 epos: [email protected]
Kommunikasie: Christo Giani Sel: 074 169 9538 epos: [email protected]
Bestuurslid: Dicks Dietrichsen Sel: 082 875 0018 epos: [email protected]
EREPRESIDENT
Johan Viktor (Genl) – Wie daar was toe die bosoorlog op 26 Augustus 1966 begin het.
ERELEDE
JG Dreyer (Genl) – Legende in sy eie reg.
Jan du Preez (Genl, Ds, Dr) – Ons eie geestelike herder en Kapelaan.
Pine Pienaar – Voorsitter van die Koevoetbond, ons moederbond.
Groete
Martin Loubser
UIT DIE PEN VAN DIE TESOURIER
Goeie dag vriende en mede manskappe van die gewapende leeu wat altyd brul.
Die jaar 2014 is nou vinnig besig om tot ‘n einde te loop en die meeste van ons sal binne die
volgende week of twee ‘n welverdiende wegbreek kan neem van die afgelope jaar se gejaag
en baie stres. Ek glo dat nie een van ons het laasjaar hierdie tyd gedink dat ons ‘n huis van
ons eie sal hê nie, maar waar polisieman ‘n wil het, sal hy beslis ‘n weg vind. Sovêr het ons
baie reggekry en ek voel dat daar nog baie in die nuwe jaar (2015) vermag sal word. Ons
sal die nuwe jaar begin met die uitreiking van ons pragtige dasse waarvoor ons al so baie
lank wag. Ek het ‘n nuwe sagteware program aangekoop vir die vervaardiging van foto ID
lidmaatskapkaarte en daar word ook hard gewerk aan idees vir die lidmaatskapsertifikate
waarop elke lid trots sal kan wees.
Deur: Sean Clayton
Die bond se tuisblad het ook gegroei van ‘n baie nederige begin tot ‘n groot en kragtige
tuisblad wat nou ‘n ‘groep gesels plek’ en winkel sal insluit asook aanlyn betalings met die
nuutste sekuriteit. Die huidige koste van die webblad beloop tans net oor die R64000.00. Die
tuisblad sal dan ook die voordeur en ingangsportaal vir die publiek wees, plaaslik en
internationaal. Daar is reeds baie buitelandse besoekers tot die blad wie aan veterane
groepe van buitelandse organisasies behoort. Daar sal ook plek wees vir mense wie
donasies aan die bond wil skenk.
Die Bond se bank balans staan nou op R26431.00, waarvan ‘n redelike gedeelte sal gaan vir
die aankoop van die dasse, R750.00 vir die ontwerpers fooi wat reeds betaal is. Daar sal
ook fondse gebruik word vir die vervaardiging en verspreiding van die lede se sertifikate.
Sodra die nuwe ontwerp goedgekeur word, sal die foto ID lidmaatskapkaarte ook vroeg in
die nuwe jaar aan lede uitgereik word. Lede sal ook vroegtydig gevra word om ‘n ID grootte
foto te stuur in dieselfde formaat as die foto wat in die ID boek voorkom. Daar was hard
gewerk deur almal om hierdie skip te laat seil, en daarvoor se ek baie dankie vir elkeen se
bydrae. Ek wens julle elkeen en julle familie ‘n geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige 2015
toe.
UIT DIE PEN VAN DIE KOMMUNIKASIE
KOŐRDINEERDEROp Saterdag 8 November 2014 om 12:00 kom die families van Koevoet en TIN Veteraan lede in
Pretoria bymekaar vir ‘n braai. Ons het heerlik saam gekuier op die vooraand van die kranslegging
by die Uniegebou om “Poppy Day” te herdenk. Ou vriende herontmoet en nuwe vrienskappe word
gesluit. Mense kom vanaf so vêr as Kuruman, Potchefstroom, Middelburg en Rooiberg en daar is
lekker gekuier. Die weer verander skielik, die hemele maak oop maar ons maak ‘n plan “B”, vlug
almal, braivleisvuur en al onder ‘n dak in en die kuier gaan voort!
DEUR CHRISTO GIANI
ONTMOET ONS ERELEDE
Ontmoet Luitenant-Generaal J.G. Dreyer of beter bekend as Sterkhans, erelid van die TIN Veterane
Bond:
Genl Dreyer is alom bekend as die vader van Koevoet, ‘n polisie taakspan aanvanklik onder die
bestuur van die veiligheidspolisie maar later deel van die Suidwes Afrika Polisie (SWAPOL).
In 1978 nader die hoof van die SA Weermag, Genl Magnus Malan die Kommissaris van die Suid-
Afrikaanse Polisie, Genl Mike Geldenhuis vir hulp met die insameling van inligting oor terroriste
bedrywighede in die voormalige Suidwes-Afrika, gebasseer op die Rhodesië model van die Selous
Scouts. Die SAW Recces en die Veiligheidspolisie sou saamwerk.
Kolonel Sterkhans Dreyer was voorheen verbonde aan die veiligheidstakke van Pietermaritzburg
en Port-Elizabeth. Hy kry die taak om die gedagte te verwenslik en is na Rhodesië waar hy die
BSAP model van die Selous Scouts bestudeer.
Onder bevel van die SA Polisie Veiligheidstak en met Kol Dreyer in beheer, begin Operasie ”K” wat
later spontaan die naam Koevoet ontwilkkel. Kol Dreyer trek ‘n paar uitgesoekte manne vir die
taak en die ondersoekspanne begin met inligtinginsameling. Vyf hippos is aan die taakspan
toegeken maar ook het hulle met gewone voertuie hulle taak verrig. Kol Dreyer begin dadelik met
werwing van spesiale Konstabels en hulle waarde is vining duidelik. Hulle kom uit die plaaslike
gemeenskap en insameling van inligting word vergemaklik.
.
Vier van die aanvanklike vyf Hippos
Die insameling van inligting werk goed maar daar ontstaan ‘n probleem om die Weermag wat moet
reageer op die inligting, betyds by die aanvalspunte te kry. Ops “K” begin met ‘n eie gevegspan en
die suksesse is vining baie duidelik. Die gebruik van die Casspir voertuig bring ‘n groot verbetering
aan spoor opvolg en veiligheid tydens kontakte mee. Die sukses en hartseer van Koevoet is
aangeteken in die geskiedenisboeke en beskikbaar in Suid Afrika.
Generaal Dreyer het op 20 November verjaar en die TIN Veterane Bond wat ook heelwat Koevoet
lede het, wens Generaal Dreyer baie geluk met sy 83ste verjaarsdag . Ons wens hom seën toe met
goeie gesondheid in sy jare wat voorlê. Ons weet dat die tannie ons Generaal sommer lekker
bederf het.
Christo Giani staan saam met Genl Sterkhans
Dreyer (regs)
Landmyne
Elnic Steenkamp se bosherinneringe
Op 14 Augustus 1974 was daar ses voertuie onderweg vanaf Rushinga basis na Mount Darwin om
voorrade te gaan haal, vyf Bedford vragmotors en ‘n "spook voertuig“. Om een of ander rede is
daar volstaan by die besluit om die voorrade Bedford sonder lede met net die bestuurder, voor as
"spook" te laat ry en die ware "spook" direk agter dit. Konstabel Claassen, wie se pa daardie jare
Stasiebevelvoerder iewers in die suide van Suidwes was, was passasier in die spookvoertuig.
Ongeveer halpad na Mount Darwin trap Claassie se "spook" n myn, gelukkig met amper geen
beserings en bietjie trauma maar nie so erg dat hy of die bestuurder ge “casavac” hoef te word
nie. Tydens die geharwar na die myn kom die BSAP van voor af in die tweespoor pad met twee
Land Rovers sonder om die myn wat verder vir ons lê en wag te trap..
Daar word besluit om vir Classie nou op die "spook" Bedford te vervoer verder na Mount Darwin vir
mediese behandeling. Ons het skaars begin ry, ongeveer twee kilometer van die eerste myn af
trap arme Claasie se Bedford sy 2de myn binne twee kilometer. Gelukkig het die water in die
Bedford se bande, die “conveyer belting” en sandsakke op die bak hul werk gedoen en weereens
was Classie baie gelukkig om geen ernstige beserings op te doen nie.
Nodeloos om te sê dat die trauma baie erg was vir my ou troepmaat maar die Hoër Hand was
daardie dag met hom en ons.
STORIES UIT DIE BOS
Twee dae later het ons vergoed daarvoor deur drie van vyand te skiet in n hinderlaag met 13 van
ons Polisiemanne, twaalf met of swaarloop R1's of LMG's en ek die enigste een wat n enkelskoot
FN gehad het.
Hierdie kompanie van Majoor van Staden van Vryburg, later Afdelingskommissaris in die Wes-Kaap
as ek reg is, was geteister deur landmyne in daardie tyd. Altesaam 33 myne in die twee maande
wat die kompanie op Rushinga was binne ons bedieningsgebied afgetrap.. Gelukkig was daar slegs
vier of vyf wat deur die kompanie self getrap is.
Ek glo tot vandag toe dat konstabel Claassen se twee myne binne twee kilometer n wêreld rekord
moet wees.
Elnic se manewales
Gedurende 1973 /1974 was die "basis kompanie" op Binya Hills in Noord-Oos Rhodesië opgedeel
in drie peletonne, een op Binya Hills self, een meer na die Mudzengezi rivier se kant toe aan die
westekant, ek dink dit was Gutsha, en dan een peleton verder noord van Binya Hills meer na die
Zambezi se kant toe. Die basis se naam, as dit een gehad het, kan ek nie onthou nie maar daar
was ‘n grondpad verbinding daarvandaan van noord na suid waar dit aangesluit het by n T-
aansluiting van die pad vanaf Binya Hills wat van Oos-na Wes geloop het waar dit dan later suid
gedraai het, oor die Escarpment tot by die teerpad aansluiting na Centenary waar al die basisse in
die Noord-Oos vallei voorrade gaan haal het.
Die "noordelike basis" se stoorman cum kroegman cum grensvegter het vir vier maande
aanmekaar grappe vertel en het ‘n onversadigbare drang na bier gehad net soos sy mede manne
op die basis. Kom ons noem hom maar Steyntjie van Durban.
Sy eie basis se bier voorraad is mildelik voorsien deur die weeklikse voorrade wat op Centenary
gaan haal is deur hulle self maar dit was bietjie min.
Hy reël toe met die voorrademan van Binya Hills dat ‘n ekstra voertuig, as Binya gaan voorrade
haal, ook saamgestuur word en hom op te tel by die kruising waar hy deur sy basis adgelaai is agv
‘n tekort aan voertuie. Hy sou dan nou maar staan en wag totdat Binya se voertuie verbykom en
dan saamgaan Centenary toe vir die ekstra voorraad.
So met die terugkomslag word hy met sy Bedfordvrag vol bier dan afgelaai by die T-aansluiting
waar hy dan man alleen en dapper sou wagstaan oor sy biervoorraad totdat sy basis se manne ’n
voertuig of tyd beskikbaar sou hê om hom te kom haal.
Ek besef later dat die Noord-Oos vallei daardie tyd ’n "no go area" was en dat daar groot groepe
insypelaars deurgekom het.
Steyn het sy dapperheid en sy lus vir bier verloor die keer toe sy basis nie ’n voertuig beskikbaar
gehad het om hom te kom haal nie. Hy het ’n hele namiddag en nag tot die volgende oggend man
alleen sy bier moes oppas voordat sy basis hom kon oplaai.
Saluut Steyn, jy het van jou bier gehou my ou maat. Gelukkig dat die kompanie bevelvoerder nooit
jou manewales agtergekom het nie.
My Eerste Kontak Deur Christo Giani
Vroeg die oggend is ons veld toe. Dit was inderwaarheid my eerste operasionele dag by Koevoet
Zulu Foxtrot (ZF) en ek voel maar onseker oor wat ek moet doen, waar ek moet vat en waar ek
moet los. Frans Conradie, my gevegspanleier plaas my in beheer van ‘n permanent “geleende”
Buffel en verduidelik dat ek vinnig sal leer maar meer spesifiek, “skiet wanneer nodig en skiet raak”,
ons werk vir “koppe” of “kills”, ‘n Koevoet term wat beteken terroriste, lewendig of dood. Ons is
ongeveer 40 mense in die gevegspan, vyf van ons is wit lede.
My patrolliehond, Simba, is saam met my. Die hond en die Buffel wil nie lekker saamwerk nie. Die
kantplaat is te hoog vir die hond om self op te spring en as ek hom optel moet almal wat reeds op
die Buffel is bontstaan want dan “tackle” Simba wat voorkom. Almal moes wag dat ek eers vir
Simba optel, as ek dan opgeklim het en vir Simba onder heheer het, dan klim almal op.
Saam met my klim ‘n jong swart lid op. Ek leer hom ken as Bennie en hy begin spontaan met my
gesels. Hy praat ‘n goeie Afrikaans en op so ‘n manier dat ek dink ons mekaar al lankal ken. Hy
plaas my op my gemak en wil alles weet oor Pretoria. Ek weer, wou weet wat vir my wag hier in
Ovamboland; hoeveel kontakte hy al gehad het en waaroor die oorlog gaan. Bennie sê dat hy nie
kan onthou hoeveel kontakte hy gehad het nie maar dit is baie. Hy verseker my ons gaan beslis
“koppe” kry, miskien sal ons ook eie mense verloor maar ons sal mooi oppas… en dan is Pretoria
weer sy belangstelling. Bennie het vir my soos ‘n broer geword, ek sou my lewe vir hom gee.
Frans Conradie (RIV) Spanleier van Zulu Foxtrot. Foto erkenning aan Servamus
Ons draai van die pad af en ry na ‘n kraal wat van die pad af sigbaar is. Die manne spring van die
“karre” af en begin rondkyk op die grond. Die plaaslike bevolking (PBs) word ondervra. Sommer
vining skreeu Spotty, die beste spoorsnyer ooit in my boek, dat hy ‘n spoor het en so begin my
eerste opvolg in Owamboland. Terwyl die spoorsnyers voor die karre uithardloop en die spoor volg,
is daar ander wat net saamhardloop. Hulle gee beskerming aan die spoorsnyers en help soek as
die spoor verloor word. Ek is ‘n plaasseun van Gravelotte en het al baie te doen gekry met
spoorvolg. As plaas polisieman en hondeman weet ek van spoorsny maar dit was die eerste keer in
my lewe dat ek sien ‘n mens kan spoorsny terwyl jy hardloop.
Bennie met R1 op die grond, my beste vriend
Soos ons die spore volg hou Bennie my ingelig. Dan en wan is Bennie ook op die spoor en van die
ander lede is vining om geselskap te soek en my ingelig te hou. Op ‘n stadium sê Bennie dat die
spore groep vergroot het na omtrent 15 terroriste. Frans laat weet oor die radio dat die spoor baie
vars is.
Wanneer ‘n mens vind dat die groep spore daarop dui dat hulle hardloop, weet jy dat die terroriste
die gedreun van ons voertuie gehoor het en hulle hulle dan uit die voete probeer maak en ongeveer
so vyf kilometer voor ons is. Hulle het altyd noord gehardloop in die rigting van die Angola grens.
Hierdie groep het nie gehardloop nie en die spoorsnyers glo dat hulle al moes begin hardloop het.
Dit is al na 2 uur die middag, ons is al omtrent 5 ure op die spoor en nog steeds hardloop hulle nie.
Ons soek spore
Frans stop en gee opdrag dat ons die spore verder te voet moet volg. Hy los so 10 manne by die
voertuie en die res van ons begin stap. Ek en Bennie is op die regter vleuel. Nou en dan gaan
staan of sit ons maar dan is dit weer vorentoe. Kort-kort praat Frans oor die radio met die manne by
die voertuie en dan volg hulle ons spore totdat ons die voertuie se gedreun hoor, dan moet hulle
weer vasstaan.
Dit is later na 5 uur die middag maar ons haal nie die terroriste van tussen 15 en 20 man in nie.
Ons kom op ‘n groot droë shona af en gaan sit in die bos. Vir die wat nie weet nie, ‘n nat shona is
soos ‘n vlei maar in die somer droog dit uit en dan is dit net een groot oop stuk veld. Die spore loop
reg deur die shona. Frans verduidelik dat ek, Bennie en die regter vleuel regs om die shona moet
beweeg terwyl hy en die linker vleuel na die anderkant toe sal opvolg. Net voor ons begin beweeg
besluit Frans dat dit te laat is en dat die donker ons gaan vang. Hy hou ook nie van die idee dat as
ons aan die anderkant van die shona kom ons op mekaar gaan afstap nie. Hy gee opdrag dat ons
deur die shona moet opvolg. Aan die anderkant sal ons dan die voertuie roep en onttrek omdat dit
skemer en vinnig donker word.
Die geleende Buffel met my span: “Zulu–Foxtrot–Kris”
Soos wat ek en die regter vleuel deur die shona stap is dit omtrent 200 meter na die anderkant
waar ‘n baie groot boom staan. Ons stap deur die shona en ons is almal oop en bloot.
Omtrent halfpad deur die shona klap die skote. SWAPO se manne het ‘n hinderlaag gelê aan die
oorkant van die shona maar alles aan die linker vleuel se kant. Dit is die eerste keer in my lewe wat
ek die vuurkol sien blom aan die voorkant van ‘n geweerloop en ek weet die koeëls is vir ons
bedoel. Ons gaan met spoed grond toe en begin terugskiet. Ek sien ontploffings by die boom aan
my kant. Ek kan vorentoe skiet maar daar is niks aan die gebeur voor my nie. Ek sien dat Frans
hulle in die SWAPO doodsakker ingestap het en baie vuur trek. Ek kon nie lê en skiet na waar ek
sien die aanval vandaan kom nie aangesien Frans en die regter vleuel voor my in my vuurlyn was.
Ek staan op en begin bo-oor my mense skiet reg op die vuurkolle. Bennie skreeu dat ek moet plat
lê maar ek gaan in ‘n hurkende posisie en gee maksimum vuur. Ek is op my 3de 20 rondte
magasyn en kan sien hoe die terroriste aan die anderkant opspring en hardloop. Ek skiet direk op
hulle maar die bosse is te ruig. Ek besef dat om ‘n mens dood te skiet nie ‘n eenvoudige aksie is
nie. Bennie skreeu weer vir my ek moet plat lê en die keer gehoorsaam ek hom.
Tipies die shonas van Owamboland, hierdie een het nog bietjie water in
Daar is een geweldige ontploffing regs voor my en toe ‘n tweede. Die tweede ontploffing omtrent 15
na 20 meter van my. Ek is gedisoriënteer en probeer sien maar dis dynserig voor my en ek hoor
niks. Ek voel hoe my linker lae rug pyn en ek dink ek is dood. Ek verwag om ‘n engel te sien wat my
die dinge aan daardie kant van die aardse lewe gaan verduidelik maar toe is die engel Bennie. Hy
gryp my aan my regter skouer en skreeu dat ons moet vorentoe. Hulle gooi mortiere en ons is in
die trefgebied. Ek is baie bly om Bennie te sien, hy sien ek is onvas op my voete en hou my vas
terwyl ons na die groot boom toe gaan.
Toe ons aan die anderkant van die shona kom wil Frans weet wie beseer is omdat hy gesien het
dat ons in die mortiere se trefakker was. Almal was ongedeerd. Die seer in my linker rug was beter
en ek was weer by my volle positiewe. Ek voel waar ek seer het en haal ‘n mortier se stertvin uit my
harnas uit. Die stertvin is nog warm en ek besef dat die vin op my geval het; ek spekuleer dat dit in
die lug opgeblaas is en my op een of ander manier getref het tydens die afkomslag. Daar is nie
bloed nie behalwe dat dit baie seer is. Ek verduidelik vir Frans ons almal is “OK”. Frans wil weer
weet “waar is die “kills”, “ons soek koppe”! Daar is werklik nie een nie maar ons kry wel
bloedspore, dit word donker en ons kan nie opvolg nie.
Ons soek in die omgewing van die groot boom en kry twee “heatstrims” wat afgevuur is maar nie
ontplof het nie. Dit is duidelik dat hulle verwag het ons gaan skuiling soek by die boom en hulle
mortier en heatstrim vuur gerig het op die boom. Gelukkig het nie een van ons dadelik gehardloop
vir die boom nie.
Dit is so te sê donker toe ons voertuie by ons aankom. Frans sê ons sal die volgende dag met
eerste lig kom spore soek en opvolg. Ons ry terug Eenhana basis toe.
Ek kan voel iets is nie lekker met my lae rug nie en hou aan vryf. Bennie en die ander wil kyk wat
fout is maar dit is donker en die Buffel stamp te veel, hulle kry niks gesien nie. Ek voel dat my hemp
nat is waar dit seer is en probeer sien of dit bloed is maar kan niks sien nie. Ek proe toe maar, maar
dit smaak ook nie soos bloed nie.
By Eenhana aangekom is Bennie saam met my na die tent en hy kyk na my rug. Die warm
mortierstertvin het my ‘n ordentlike blaas gebrand, so groot soos ‘n man se vuis wat ek stukkend
gevryf het en nou ‘n rou wond is.
Bennie vat my na die weermag se medics toe en hulle ontsmet en behandel die brandwond. Die
velle word afgesny en ‘n rooi vloeistof aangesmeer wat amper erger as die hel brand. Hulle gee my
pynpille om te drink en ‘n wit poeier wat ek moet oorgooi. Dit werk vining. Die medics beveel aan
dat ek die volgende dag rustig moet vat en nie veld toe moet gaan voordat die brandwond nie beter
is nie. Dit is skaars my eerste dag en ek sien nie kans om nou al in die kamp te bly nie. Ek vertel vir
niemand van my wond nie maar toe ons terug is in Oshakati vertel ek Frans daarvan. Hy is tevrede
dat ek “OK” is en waardeer dat ek nie oor my ou skrapie “gehuil” het nie.
Die volgende dag is ons weer veld toe en ons gaan soek die “ambush” groep se spore. Ons volg op
en kom op ‘n lyk af in die veld, hy is in uniform geklee en het sy AK by hom. Hy was in die maag
gewond en moes deur die nag beswyk het. Ons kry die groep se spore en volg op. Kort-kort breek
van die spore weg maar ons bly op die duidelikste spore. Ons maak weer kontak en skiet twee
dood. Ons volg verder op en skiet nog een dood. Op die spoor tel ons inspuitings, gewere,
uniformstukke en ander uitrusting op. Frans verduidelik dat hulle adrenalien gespuit het en oppad is
na Angola toe. Die helikopters word geroep maar die terroriste is oor die grens Angola in. Die
weermag weier ons toestemming om oor die grens te gaan en ons moet die opvolg staak waarna
ons terugkeer Eenhana toe.
Ek was baie dankbaar dat ons nie daardie dag gestap het nie anders sou ek gebrul het met die oop
wond. Was ek gewond in ‘n kontak, ek weet nie, besluit julle maar. Al wat ek weet is dat so ‘n
mortier stervin ongelooflik seer brand. Ek het nog die stertvin as ‘n aandenking.
Tydens my diens by Zulu Foxtrot was ek betrokke in 53 kontakte waarin 121 terroriste gedood is
waaronder twee Kubane. Drie SWAPO lede is ook gevange geneem maar ongelukkig verloor ons
een van ons eie spanlede.
HERINNERINGSDAGDeur Ilana Loubser
Gemeenskappe regoor Suid Afrika bring hulde
aan diè wat in die oorloe en veldslae gesterf
het. Hierdie herdenking het ‘n dieper
betekenis omdat dit 100 jaar is sedert die
begin van die eerste Wêreldoorlog.
Sederdien word hierdie herdenking elke jaar
herdenk ter herinnering aan die wat nie net in
die eerste Wêreldoorlog gesterf het nie maar
ook elke ander person wêreldwyd wat in diens
van sy land gesneuwel het.
Majoor Tim Lane het die seremonie by die
Uniegebou gelei en gesê dat die twee minuut
stilte ‘n langstaande tradisie in Suid Afrika is.
Die eerste minuut is sodat ons diè kan onthou
wat gesterf het en die tweede om dankie te sê
vir diè wat oorleef het.
Ons is aangemoedig om al die soldate te
onthou wat eeue gelede gesterf het in die
naam van vryheid en vrede, ambasadeurs in
die naam van die wat vir hul lande gesterf het.
Die seremonie het uitgeloop op ‘n
kranslegging deur militêre veterane
organisasies soos die Suid - Afrikaanse
Legioen, die SAP TIN Veterane Bond en
Koevoet. Diplomate en Militariste van Serbië,
Japan, Frankryk, Duitsland, Britanje, Kanada
en Korea het ook hulde gebring.
Ongeveer 245 000 Suid Afrikaners van alle
rasse het vrywillig aangesluit om militêre diens
te verrig in die groot Oorlog, meer as 12 000
het gesneuwel gedurende die 4 jarige oorlog.
Diè wat hul lewens verloor het is begrawe in
Statebond oorlogsgrafte in Afrika, die Midde
Ooste en Europa.
Hierdie soldate sal elke jaar herdenk word op
die 11de uur van die 11de dag van die 11
maand of op die naaste Sondag aan die
vasgestelde herdenkingsdag meer bekend as
‘Poppy day’.
Geskiedenis is gemaak deur ons 5 maande
oue bond. Die TIN Bond was goed
verteenwoordig met meer as 10 lede geklee in
hul seremoniële drag en ons vaandel wat trots
wapper in die Wind
Martin Loubser (Sekretaris) het die vaandel
gedra tydens die vaandel seremonie.
Tiny Nortjè (Ondervoorsitter) het namens TIN
‘n krans gelê.
In Flanders Fields the poppies blow
Between the crosses, row on row,
That mark our place; and in the sky
The larks, still bravely singing, fly
Scarce heard amid the guns below.
We are the Dead. Short days ago
We lived, felt dawn, saw sunset glow,
Loved, and were loved, and now we lie
In Flanders Fields.
Take up our quarrel with the foe:
To you from failing hands we throw
The torch; be yours to hold it high.
If you break faith with us who die
We shall not sleep, though poppies grow
In Flanders Fields.
IN MEMORIAM
Gebore 26 Augustus 1953 en sterf op 21 November 2014 aan ‘n hartaanval.
Op 28 November 2014 om 11:00 bring die SAP TIN Veterane Bond hulde aan ontslape
TIN veteraan Pine Pienaar tydens die gedenkdiens by die Hervormde Kerk, Montana.
Die diens is waargeneem deur Generaal Jan du Preez, Kapalaan van TIN en Koevoet Veterane
Bonde. Dicks Dietrichsen lei die TIN Veterane seremonie, Oom Willie Fouchè lê ‘n krans namens
die bond en Christo Giani hanteer die vaandel seremonie. Die draers van die kis was Tiny Nortje,
Daan Croukamp, Chris Lötter, Henk Kotze, Gerd Pieters en Martin Loubser.
Alle lede staan erewag terwyl Martin Loubser die saluut bevel gee toe lykswa met die stoflike
oorskot die kerkterrein onder saluut verlaat.
Dankie aan een en almal wat hierdie dag vir die familie maar ook vir ons self besonders
gemaak het. Dankie vir die lede wat verskoning aangeteken het, ons besef dat werk en
weeksdae dinge soms moeilik maak.
DITJIES EN DATJIES OP
As dominees skeidsregter wil speelDeur Ds Jan du Preez (TIN Kapelaan)
Ons wat in die jare sestigs jong polisiemanne was, sal onthou dat daar kort-kort uit Hoofkantoor
opdragte gekom het oor hoe ons papier moes bespaar. Vandag, dekades later voer ons daai
opdrag uit, want nou kom die papier uit ons eie sakke!
Kom ons gebruik die ruimte om egte polisiehumor met mekaar te deel.
Die volgende storie het met ʼn ompad my ore bereik. Daarom kan ek nie pa staan vir die volle
waarheid daarvan nie, maar ek vertel die storie soos ek dit naasteby onthou.
En wie weet – dalk was Tiny een van die sondebokke in die verhaal. Op sy dag het hy ook vir
Oshakati se dorpspan uitgedraf.
Volgens mondelinge oorlewering was die plaaslike predikant elke Saterdag die skeidsregter.
Sak die skrum, soek die man van die kleed summier die fout by die sugtende, swetende,
malende klompie manne hier reg onder sy neus. En dan val die fout byna altyd op die ”poelies-
manne”; maar selde of ooit op hul opponente.
Natuurlik was die bobbies ook nie op hul bekke geval nie. Waag die skeidsregter om na hul
mening verkeerd te blaas, laat hulle uit die bakoond hul ontevredenheid luidkeels hoor.
En vir die uitspoeg van hul misnoeë en om hul boodskap hard en duidelik oor te dra, is kerktaal
op daardie oomblik geheel en al onvanpas.
Uit die moeë en omgesukkelde bos-vegters slaan daar uit die skrum tale op wat, gegeur met
die reuk van swawel-dampe, naasteby so klink: “Die bleddie man ken nie sy fokken reëls nie!”
Of: “Sy oë is donners toe! ʼn Stokblinde sou beter rêf as hy.”
Kom Maandag, kom die predikant klok-slag by generaal Dreyer kla. En so gaan dit tot
satwordens elke Maandag na die Saterdag se rugbywedstryd.
Sê die dominee eendag: “Generaal, ek kan die polisiemanne se gevloek en slegsê in die
skrums net nie meer vat nie. Praat tog asseblief met die manne dat hulle my nie so vloek en
slegsê nie.”
Antwoord oom Sterk-Hans: “Daar’s ʼn oplossing vir die probleem dominee, hou net op rêf.”
HIERDIE MAAND SE VERJAARSDAE
NOVEMBER
15 Dean van der Sandt
071 049 9309
17 Johan Harmse
082 784 9989
17 Johannes Viktor
19 Koos Brits
24 Nico Pretorius
084 211 1573
HULDE AAN HULLE WAT DIE HOOGSTE
PRYS BETAAL HET
November1 1968 Sersant R.G. Fall
3 1988 Konstabel L.J. du Preez
8 1984 Sersant N.K. Abrahamson
11 1967 Konstabel W.M. Naude
18 1982 Sersant J.J.L Niemann
19 1974 Konstabel Basie Harmse
24 1986 S/Konstabel T Nekundi
Indien daar enigiemand is wat in die boek belangstel en ‘n kopie wil aanskaf kan hulle die
skrywer direk kontak by:
082 859 0764
(011) 803 6348
Die prys van die boek is R 350.00
VAN OVAMBOLAND TOT MASJONALAND
Die voorsitter van Koevoet Veterane Bond, Pine Pienaar, het aan TIN Veterane Bond vier
Casspir model voertuie (skaal 1:35) as ‘n reeks geskenk vir TIN Bond fondsinsameling . Ons
het die Casspirs op veiling op 16 Facebook bladsye en het tans ‘n bod van R6000.00. Die
veiling sluit die 20ste Desember 2014. Die modelle word deur Pine Pienaar self gegiet en op
hout gemonteer. Daar sal ‘n sertifikaat deur die Koevoet Veterane Bond uitgereik word saam
met die modelle.
Tydens ‘n fonds insameling vir die MOTHS het net die Casspir model R9000.00 gehaal.
Plaas jou bod of oortuig jou “connection” om die huidige bod te verbeter deur Christo Giani te
kontak by 0741699538 of [email protected]
VEILING
Stuur insette, stories, foto’s en ander plasings
na [email protected] voor die 25ste van
elke maand.
Redaktrise – Ilana Loubser
Regisseur – Martin Loubser