4
EREDIENSBEDIENING Die amptelike verkondiging van Gods Woord is aan die kerkraad opgedra (NGB Art. 30; KO Art.48). Dit beteken dat die kerkraad die onvervreembare reg en verantwoordelikheid het om reëlings hiervoor te tref, te sorg vir die instandhouding van die eredienste en gereeld oor die uitvoering van hierdie opdrag te besin. In Berg-en-Dal funksioneer daar 'n Erediensbedieningsgroep wat saam met die leraars, spesifiek hiervoor verantwoordelikheid aanvaar. Hierdie bediening gee uiting aan dit wat in ons missie gestel is, naamlik dat: "Die Ned. Geref. Kerk Berg-en-Dal geroep is om as gemeenskap van gelowiges God Drie-Enig te verheerlik, deur... God te aanbid en vreugdevol te loof onder die suiwer bediening van sy Woord en die sakramente in ons eredienste..." BEDIENINGSTERREIN EN PERSONEEL Daar is op 'n Sondag gedurende die skoolkwartale, vier eredienste in Berg-en-Dal: Amptelike erediens om 09:30 in die kerkgebou: gelei deur een van die leraars of besoekende leraar en onder toesig van die kerkraad. Volg meestal 'n volledige liturgie waarin die Afrikaanse Bybelvertaling (1983) en Liedboek van die Kerk gebruik word. Bywoning: Gemiddeld 360 lidmate per Sondag (39% van lidmaattal). Hoogste bywoning in Februarie, Augustus en September (tot 63% van lidmaattal); die laagste in Junie, Julie en Desember.

erediensbediening

Embed Size (px)

DESCRIPTION

erediensbediening

Citation preview

Page 1: erediensbediening

EREDIENSBEDIENING

Die amptelike verkondiging van Gods Woord is aan die kerkraad opgedra (NGB Art. 30; KO Art.48). Dit beteken dat die kerkraad die onvervreembare reg en verantwoordelikheid het om reëlings hiervoor te tref, te sorg vir die instandhouding van die eredienste en gereeld oor die uitvoering van hierdie opdrag te besin.

In Berg-en-Dal funksioneer daar 'n Erediensbedieningsgroep wat saam met die leraars, spesifiek hiervoor verantwoordelikheid aanvaar.

Hierdie bediening gee uiting aan dit wat in ons missie gestel is, naamlik dat:

"Die Ned. Geref. Kerk Berg-en-Dal geroep is om as gemeenskap van gelowiges God Drie-Enig te verheerlik, deur...

God te aanbid en vreugdevol te loofonder die suiwer bediening van sy Woord en die sakramente in ons eredienste..."

BEDIENINGSTERREIN EN PERSONEEL

Daar is op 'n Sondag gedurende die skoolkwartale, vier eredienste in Berg-en-Dal:

Amptelike erediens om 09:30 in die kerkgebou: gelei deur een van die leraars of besoekende leraar en onder toesig van die kerkraad. Volg meestal 'n volledige liturgie waarin die Afrikaanse Bybelvertaling (1983) en Liedboek van die Kerk gebruik word.Bywoning: Gemiddeld 360 lidmate per Sondag (39% van lidmaattal). Hoogste bywoning in Februarie, Augustus en September (tot 63% van lidmaattal); die laagste in Junie, Julie en Desember.

Gesinsdiens om 09:30 in die saal: 'n amptelike erediens met korter liturgie, toegespits op gesinne met kleiner kinders (onder ouderdom van 10/11, dit wil sê kleuters tot Graad 4). Sover moontlik deur een van die leraars gelei onder toesig van 'n ouderling en diaken. Gesinsdiens duur 'n halfuur en word gevolg deur die Junior Kategese van hierdie kinders.Bywoning: 120 tot 160 doop- en belydende lidmate per Sondag.

Op die eerste Sondag van elke kwartaal is daar slegs één oggenddiens - 'n kinderdiens in die kerkgebou. Daardie oggende vind daar ook 'n Nagmaalsdiens by Siësta Tehuis vir Bejaardes plaas.

Sothodiens om 15:00 in kerkgebou: 'n amptelike erediens vir Sothosprekendes in Dan Pienaar, gelei deur 'n leraar van die NG Kerk in Afrika en onder toesig van die NGKA Bloemfontein-Noord. Reëlings en skakeling word deur die Getuienisbedieningsgroep van Berg-en-Dal hanteer.Bywoning: 20 tot 60 lidmate per keer.

Page 2: erediensbediening

Aanddiens om 18:00 in kerkgebou: 'n amptelike erediens, maar het 'n meer in-formele en tóg intieme karakter, wat meestal saamhang met die spesifieke tema vir die aand. Enkele aanddienste per jaar word aan die ekumene gewy, en kan dus ook by ‘n ander gemeente/kerk plaasvind.Bywoning wissel tussen 7% en 10% van ons lidmate.

Kerkmusiek speel 'n belangrike rol in Berg-en-Dal se aanbidding en lofprysing. Vir dié doel het die kerkraad 'n orrelis in diens wat saam met leraars leiding neem in beplanning van die kerksang/musiek. (Vir meer besonderhede: sien Bylaag 13). Daar is ook 'n koor en 'n begeleidingsgroep wat gereeld aan eredienste deelneem. Besoekende kore of sanggroepe is welkom en word deur die Erediensbedieningsgroep uitgenooi. Om die belange van kerkmusiek te bevorder, is die Koragiete (vriende van die orrel en kerksang) in 2003 in die lewe geroep wat verskillende programme en fondsinsamelingsprojekte aanbied.

'n Groot aantal lidmate het hul gawes beskikbaar gestel om by ons eredienste aangewend te word: vir erediensbeplanning; hulp by die gesinsdiens; blomme/voorbereiding van gebou; verwelkoming by deure; voorafsang; koor; begeleiding; voorleeswerk en hulp met bandopnames. Hierdie lidmate se name is op die Gawebank in die kerkkantoor beskikbaar.

Besluite wat die kerkraad oor die karakter en inrigting van ons eredienste geneem het, hang saam met ondersoeke wat na erediensbelewing in die algemeen (2002), die Gesinsdiens (2003) en aanddienste (2004) gedoen is. Hierdie bevindinge en besluite word volledig beskryf in Bylaag 12. Dié bylaag bevat ook riglyne vir die liturgiese inkleding van die kerkjaar en vir die lei van voorafsang.

FUNKSIONERING

Die taak van die Erediensbedieningsgroep in Berg-en-Dal is as volg:

Die bedieningsgroep sien toe dat besluite van die kerkraad oor eredienste in Berg-en-Dal deur almal daarby betrokke uitgevoer word en dat die nodige reëlings getref is vir die instandhouding van hierdie eredienste.

Die bedieningsgroep dien as skakel tussen die kerkraad, die orrelis/koorleier, begeleidingsgroep, koor en besoekende kore/sanggroepe, die Koragiete en lidmate.

Die bedieningsgroep dien ook as skakel tussen die kerkraad en instansies betrokke by die erediens buite Berg-en-Dal, bv. die Rings- en Sinodale Kommissies vir die Erediens en ander gemeentes.

Die bedieningsgroep begroot jaarliks vir die werksaamhede van hierdie bediening, help met die insameling van fondse om die werk in stand te hou en bestuur daardie begroting.

Page 3: erediensbediening

Die bedieningsgroep dra sorg vir navorsing, beplanning, inligting en voorligting in belang van eredienste in Berg-en-Dal, en adviseer die kerkraad oor beleid en besluite wat in dié verband geneem moet word.

Die bestuur van die Erediensbedieningsgroep word as volg saamgestel:

Die ouderling wat deur die kerkraad as voorsitter vir hierdie bediening aangewys en bevestig is: die leraars; die orrelis; 'n verteenwoordiger van die koor; 'n verteenwoordiger van die begeleidingsgroep; 'n verteenwoordiger van die Koragiete; en enige ander belangstellende lidmate van Berg-en-Dal.

Om bogenoemde funksies effektief uit te oefen, vergader die bestuur van die Erediensbedieningsgroep ten minste een keer per kwartaal. Verslag van hierdie vergadering word aan die Bestuursraad gelewer. Indien nodig, kan die voorsitter van die bedieningsgroep 'n spesiale vergadering belê.