12

Kampeervaardigheid I Honneur Antwoordboek... · Kampeervaardigheid I – Bladsy 2 1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud. Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word

  • Upload
    others

  • View
    0

  • Download
    0

Embed Size (px)

Citation preview

Page 1: Kampeervaardigheid I Honneur Antwoordboek... · Kampeervaardigheid I – Bladsy 2 1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud. Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word
Page 2: Kampeervaardigheid I Honneur Antwoordboek... · Kampeervaardigheid I – Bladsy 2 1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud. Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word

Kampeervaardigheid I

Kategorie: Ontspanning

Vlak: Vlak 1

Jaar Ingestel: 1986

Itemnommer: YOU5355

Oorsprong: Wêreldkonferensie

www.baanbrekers.co.za

© Sewendedag-Adventistekerk (2012)

Page 3: Kampeervaardigheid I Honneur Antwoordboek... · Kampeervaardigheid I – Bladsy 2 1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud. Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word

Kampeervaardigheid I – Bladsy 2

1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud.

Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word.

2. Verstaan en beoefen wildernis en kampeer etiket ten opsigte van natuurbewaring.

Wees bedagsaam teenoor ander kampeerders. Koop eerder ‘n tent met neutrale kleure wat met die

omgewing sal saamsmelt. Blou, groen en bruin kleure word verkies bo rooi en oranje. Mense gaan

kamp om te ontsnap van die skrilheid van die stad – so laat dit agter.

Wees ook bewus van die hoeveelheid geraas wat in julle kamp gemaak word. Moenie ‘n irritasie

wees vir ander mense of die dierelewe nie. Indien julle in die wildernis kampeer, maak seker dat

julle kamp buite sig van die staproete is. Die Parkeraad het gewoonlik riglyne ten opsigte van waar

daar gekamp mag word. Vind uit wat hierdie riglyne is en volg dit.

Moet nooit iemand anders se kampterrein betree sonder hulle toestemming nie, veral wanneer julle

tussen julle kampterrein en ander dele van die kampeergronde beweeg. Dit is baie onbeskof om

deur ‘n ander kamp te stap so gebruik eerder die pad, selfs al sal dit langer neem.

Laat die area skoner as wat julle dit gekry het. Indien julle ‘n groep kinders op ‘n kamp neem kan

julle ‘n kompetisie hou om te kyk wie kan die meeste rommel optel voor julle huis toe gaan. Moet

ook nie die bome verniel deur takke af te breek of klein boompies uit te trek nie.

3. Ken agt dinge om te doen wanneer jy verdwaal het.

Die beste raad oor verdwaal wees is – MOENIE! En die beste manier om te voorkom dat jy verdwaal

is deur op die pad te bly.

Indien jy skielik besef dat jy nie weet waar jy is nie, is hier ‘n paar dinge om te doen:

Bly kalm. Jy kan nie helder dink wanneer jy paniekerig is nie, so haal diep asem en ontspan.

Bid. Jy mag dalk nie weet waar jy is nie, maar God weet, so praat met Hom.

Bly waar jy is. Dit is baie makliker vir iemand om jou te kry as jy op een plek bly.

Luister vir die geluide van ander kampeerders, verkeer, watervalle, riviere, vliegtuie of

enigiets wat jou kan help om jou pad terug te vind.

Kyk om jou – dalk sal jy iets herken wat jou terug kan lei na die beskawing.

As jy ‘n fluit het, blaas op dit. As jy nie een het nie, roep hard. Iemand in jou groep sal jou

dalk hoor. Herhaal dit ongeveer elke 15 minute en luister na elke poging (drie van enigiets

word universeel herken as ‘n noodroep, so drie fluite, of drie roepe).

Indien jy ‘n kaart en ‘n kompas het, probeer om jou posisie vas te stel deur vir heuwels,

valleie of waterstrome te soek.

Jy kan probeer om weer die staproete op te spoor, maar jy wil nie verder wegbeweeg van

jou laaste bekende posisie nie. Merk jou posisie met iets – ‘n rugsak, hoed of ‘n groot rots –

maar maak seker dat dit iets duidelik is. Beweeg dan 10 meter uit in ‘n sirkel om jou merker

terwyl jy kyk of jy die staproete of ‘n landmerk herken. Indien jy niks herken nie, beweeg

nog 10 meter weg. Hou aan om in wyer kringe om jou merker te beweeg maar hou op

wanneer voor jy nie meer jou merker kan sien nie.

Klim in ‘n boom of teen ‘n heuwel uit. ‘n Hoër uitkykpunt kan jou verder laat sien.

Indien die son oor ‘n uur of minder gaan sak moet jy voorberei om ‘n gemaklike aand te

spandeer. Bou ‘n skuiling en steek ‘n vuur aan. Dinge sal beter lyk in die oggend en jou vuur

kan dalk ‘n redder lok.

Page 4: Kampeervaardigheid I Honneur Antwoordboek... · Kampeervaardigheid I – Bladsy 2 1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud. Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word

Kampeervaardigheid I – Bladsy 3

4. Wees vertroud met verskeie tipes slaaptoerusting geskik vir omgewing en seisoen.

Slaapsakke

Materiaal:

Daar is baie materiale, maar die belangrikste is: Gewone sintetiese isolasie, "hollow fibre" en

dons.

Gewone sintetiese isolasie. Seker die mees algemene slaapsak en baie voetslaners gebruik

dit. Dit het gewoonlik geen temperatuurgradering nie, beskou dit as +5 °C, of +10 °C vir 'n

dunnerige slaapsak.

Sintetiese dons (hollow fibre) is ideaal vir die voetslaner, lig en isoleer baie goed. Mens kry

dit in verskillende temperatuurgraderings en grotes. Let op, as daar nie 'n "hollow fibre"

etiket is nie is dit nie 'n hollow fibre slaapsak nie. 'n Hollow fibre slaapsak sal ook altyd 'n

aanwysing hê van die temperatuurgradering. Daar is verskillende temperatuurgraderings 0,

-5 °C en -10 °C

Dons is uitstekend, die beste, maar is baie warm en duur. Dit word gebruik in uiters koue

toestande, soos byvoorbeeld op die Drakensberge of in die Himalajaberge. -5 °C, -10 °C en

selfs laer.

Vorm en tipes:

Langwerpig

Die langwerpige slaapsak is waarskynlik die mees algemeen en gewildste vir ligte gebruik.

Hierdie is nie geskik vir rugsakreis nie aangesien hulle die minste hoeveelheid warmte

verskaf en die meeste weeg. Hierdie slaapsakke is reghoekig van vorm. Terwyl dit hulle

gemaklik en ruim maak, is die wye opening aan die bokant ‘n groot oorsaak van hitte

verlies. Anders as ‘n mummie-slaapsak, het dit nie ‘n kap wat met ‘n toutjie om jou kop kan

vasmaak nie.

Mummie-slaapsak

Die mummie-slaapsak maak met ‘n toutjie vas om jou kop sodat jy soos ‘n mummie

toegemaak is in die sak. Hierdie slaapsakke is nouer wat tot gevolg het dat dit warmer en

ligter is en dus kleiner verpak.

Vaatjie-slaapsak (barrel bag)

Die vaatjie-slaapsak is ‘n aangepaste mummie-slaapsak. Dit is wyer as die mummie en

verskaf amper dieselfde hoeveelheid warmte teen die koste van bykomende gewig.

Page 5: Kampeervaardigheid I Honneur Antwoordboek... · Kampeervaardigheid I – Bladsy 2 1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud. Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word

Kampeervaardigheid I – Bladsy 4

Matrasse

Matrasse se twee hooffunksies is om ‘n sagte oppervlak te verskaf om op te slaap en om isolasie te

verskaf tussen die person en die koue grond.

Opblaasmatrasse

Hierdie matrasse is baie gemaklik om op te slaap en kan klein opvou wanneer dit afgeblaas

is. Dit bied egter minder isolasie teen die koue as sponsmatrasse en is swaarder.

Sponsmatrasse

Hierdie matrasse is dunner en minder gemaklik as opblaasmatrasse. Dit kan van oopsel-

spons of toesel-spons gemaak word. Oopsel-spons word ook in meubels en gewone

matrasse gebruik. Dit is liggewig en ietwat dik. Die grootste nadeel van hierdie matrasse is

dat dit water opsuig soos ‘n spons. Toesel-sponsmatrasse suig nie water op nie en is

kompak, kan klein oprol en bied goeie isolasie teen die koue.

5. Verskaf ‘n lys van persoonlike items benodig vir ‘n naweekkamp.

Klere vir warm weer

Hou egter in gedagte dat die weer skielik kan verander. Neem dus ook klere saam vir koue weer.

Dik kouse

Denimbroek

Koel hemde (kortmou)

Koel hemde (langmou)

Hoed of keps

Stewels

Klere vir koue weer

Onthou om in lae aan te trek. Dit sal jou help om jou temperatuur beter te beheer. Dit is nie goed

om in koue weer te sweet nie aangesien jou klere sal nat word. Dit is beter om wolklere te dra

aangesien dit nie soos katoen koud word wanneer dit nat word nie. Jou buitenste laag klere moet

windbestand wees.

Termiese onderklere

Koel hemde (polyester of ander sintetiese materiaal)

Warm hemde

Woltrui

Windbreker

Sweetpakbroek

Nylonbroek (vir die buitenste laag)

Oorjas

Wolkouse

Stewels

Warm hoed of mus

Gemaklike maar beskeie slaapklere soos ‘n sweetpak. In baie plekke is dit warm gedurende

die dag en koud gedurende die nag. So wees voorbereid.

Page 6: Kampeervaardigheid I Honneur Antwoordboek... · Kampeervaardigheid I – Bladsy 2 1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud. Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word

Kampeervaardigheid I – Bladsy 5

Persoonlike toerusting

Slaapsak

Sponsmatras of opblaasmatras

Handdoek

Flits

Sakmes

Kwart rol toiletpapier

Bybel

Kamera

Insekweerder

Notaboek en potlood

Toiletware (tandeborsel en –pasta, sjampoe, ens.)

6. Beplan en neem deel aan ‘n naweekkamp.

Daar is baie aspekte in die beplanning van ‘n kamp, soos die keuse van die kampgronde, die

datums, die spyskaart, toerusting en vervoer. Die hele groep behoort so ver moontlik by hierdie

beplanning betrokke te wees. Wanneer al die besluite geneem is, moet die kos gekoop word, die

nodige toerusting herstel, vervang of gekoop word, ens.

Op die dag van die kamp moet almal bymekaarkom om die toerusting te laai en dan by die

kampgronde af te laai en op te slaan. Met die afloop van die kamp moet die toerusting weer

afgeslaan en gelaai word. By die huis word dit weer afgelaai, skoongemaak en gebêre. Indien van

die tente of seile nog klam was moet dit by die huis eers weer opgeslaan word sodat dit behoorlik

droog kan word en dan eers gebêre word.

7. Wees in staat om ‘n tent behoorlik op en af te slaan. Beoefen brandvoorsorgmaatreëls

terwyl die tent in gebruik is.

Daar is baie verskillende tipes tente en elkeen se metode is anders. Die eerste en belangrikste ding

om te doen is om die instruksies wat saam met die tent gekom het, deeglik te lees. Hou hierdie

instruksies op ‘n veilige plek.

Kies ‘n gepaste, gelyk area sonder enige skerp voorwerpe wat jou tent kan skeur. Indien jy die tent

onder ‘n boom wil opslaan moet jy eers kyk of daar nie dooie takke aan die boom is wat op die tent

kan val nie. Volgende moet die tent uitgepak en op die grond uitgesprei word. Indien jy ‘n grondseil

onder die tent wil plaas moet jy dit eerste op die grond uitsprei. Lê dan op die seil waar die

slaapplekke gaan wees en verwyder enige bulte onder die seil.

Sprei nou die binnetent op die grondseil uit en oriënteer die ingang in jou gekose rigting. Slaan die

penne in die grond in om te voorkom dat die wind die tent wegwaai terwyl jy dit opslaan. Skuif eers

al die hoof tentpale in hul buise in voordat jy die tent oplig. Daar is gewoonlik aluminium “hake”

aan die ankerbande wat amper soos ‘n vraagteken lyk. Hierdie hake kan aan die punte van die pale

ingeskuif word. Wanneer al die pale in posisie is kan die buitetent oor die binnetent gegooi word.

Maak seker dat dit reg om is.

Buitetente het dikwels elastiese toue wat aan plastiekknippe aan die paalankers vasmaak. Hulle het

ook gewoonlik toue aan die vier hoeke wat die buitetent van die binnetent weghou sodat dit

waterdig is. Hierdie toue moet nie te styf gemaak word nie, anders sal die wind dit uittrek.

Indien moontlik moet die tent nie afgeslaan word voor dit heeltemal droog is nie. Wag tot die

oggenddou verdamp het. Dit is natuurlik nie altyd moontlik nie – dit kan dalk reën wanneer dit tyd

is om huistoe te gaan, so jy sal ‘n nat tent moet afslaan. In so geval sal jy die tent weer moet

opslaan sodra jy by die huis kom. As jy ‘n nat tent bêre sal dit gou deur muf geruïneer word.

Voor jy jou tent afslaan moet jy eers seker maak dat alles uit die tent gehaal is. Vee dan die tent

uit, trek die buitetent af en sit dit binne in die binnetent. Sprei dit so plat uit as wat jy kan. Maak

seker dat die buitetent nie aan die grond raak en sodoende grond of blare optel nie.

Laat sak nou die pale, trek dit uit die tent en vou dit op. Indien die pale in dele is met ‘n lang

elastiese band wat deur hulle loop is dit beter om die pale uit te stoot as om dit uit te trek. Trek

nou die tentpenne uit en vou die tent versigtig op. Sit alles terug in die sak.

Hou enige vure ten minste ses meter weg van die tente. Vonke kan uit die vuur skiet en op die tent

land. Dit kan dan ‘n gaatjie in die tent brand of selfs die tent aan die brand steek. Moet nooit enige

vuur (kers, lamp, stoof) binne die tent aansteek tensy jy seker is dat die tent daarvoor ontwerp is

nie.

Page 7: Kampeervaardigheid I Honneur Antwoordboek... · Kampeervaardigheid I – Bladsy 2 1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud. Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word

Kampeervaardigheid I – Bladsy 6

8. Ken en beoefen behoorlike kampsanitasiebeginsels vir beide primitiewe sowel as

gevestigde kampterreine.

As jy by kampeergronde kamp wat oor toilette beskik, gebruik dit. As jy in die wildernis kampeer

sal jy of ‘n latrine of katgate moet maak. Dit moet ten minste 60 meter weg van enige waterbron

(soos ‘n stroom, rivier of meer) wees, en ten minste 30 meter weg van jou kamp. Grawe ‘n vlak gat

7-10cm diep en gebruik dit as jou toilet. Gooi dit (en enige toiletpapier) dan met grond toe. Op

hierdie diepte is daar baie bakterieë in die grond wat jou afval sal komposteer. As jy ‘n dieper gat

grawe sal dit langer neem.

Net omdat jy kamp beteken dit nie dat jy jou persoonlike hygiene kan afskeep nie. Was jou hande

voor jy eet en na jy die toilet gebruik het. Borsel jou tande voor jy gaan slaap en na ontbyt. Was

jou gesig en maak jou vingernaels skoon.

Hou ook jou kombuis skoon en was jou skottelgoed sodra jy klaar geëet het. Skottelgoed moet met

warm, skoon seepwater gewas word. Gooi ‘n paar druppels bleikmiddel in jou afspoelwater. Dit is ‘n

goeie idee om jou skottelgoed water te kook terwyl jy jou kos voorberei sodat dit gereed is om te

bebruik wanneer jy klaar geëet het.

9. Maak behoorlik gebruik van ‘n mes en ‘n handbyl. Ken tien veiligheidsmaatreëls ten

opsigte van hulle gebruik.

Mes veiligheid

Hou die lemme skerp. Dit is moeilik om ‘n stomp mes deur hout te druk. Meer krag moet

gebruik word wat tot ‘n ongeluk kan lei.

Stoot altyd die lem weg van jou en neem die heeltyd in ag waarheen die lem sal gaan.

Wanneer jy hout split moet jy nooit op die agterkant van die lem kap nie. Dit verswak die

aanhegsel tot die handvatsel en buig die lem.

Maak altyd ‘n sakmes toe wanneer dit nie in gebruik is nie of wanneer jy dit dra.

Hou alle lemme weg van hitte. Hitte sal die temper verwyder en die lem sag maak. ‘n Sagte

lem sal nie teen ‘n hoek hou nie so dit is amper onmoontlik om skerp te hou.

Moet nooit ‘n nat mes in sy houer plaas nie.

Moet nooit jou mes vir ‘n skroewedraaier gebruik nie.

Handbyl veiligheid

Hou die byl skerp.

Voor jy enige hout kap, neem eers ‘n ligte oefenswaai om seker te maak dat die byl nie aan

iets sal haak nie. (soos ‘n oorhoofse tak)

Neem in ag wat sal gebeur indien jy jou teiken mis – sal jy per ongeluk ‘n vinger raakslaan?

‘n Voet? ‘n Bystander? Laat heelwat ruimte vir foute.

Maak seker dat die bylkop stewig aan die bylhandvatsel vas is. As dit los is kan jy dit

vasmaak deur die handvatsel nat te maak of deur ‘n hardehout wig deur die oog van die lem

in die handvatsel in te slaan. Jy kan ook die handvatsel vertikaal op ‘n harde oppervlak kap.

Hou bystaanders ‘n armlengte plus twee byllengtes weg.

Wanneer jy vir iemand ‘n byl aangee moet jy vir hulle die handvatsel gee eerder as die lem.

Loop met die lem weg van jou af.

Steek die byl in sy skede wanneer jy dit nie gebruik nie.

Maak altyd seker dat jy vas op jou voete is wanneer jy ‘n byl gebruik of dra.

Stop en rus wanneer jy moeg is. Moeë mense is meer geneig om foute en ongelukke te

maak.

Moet nooit jou byl vir ‘n hamer gebruik nie.

10. Vure:

a. Demonstreer die vermoë om ‘n area vir ‘n kampvuur te kies en voor te berei.

Moenie ‘n vuur binne ses meter vanaf ‘n tent maak nie. Vonke uit die vuur kan ver beweeg

en ‘n gat in die tent brand of dit selfs aan die brand steek. As iemand in die tent is kan dit

dodelik wees. ‘n Vuur moet ook nie onder bome gemaak word nie aangesien dit die

boomtoppe aan die brand kan steek. Bly ook weg van voertuie.

Daar is baie metodes om ‘n area voor te berei vir jou kampvuur. As jy in ‘n gevestigde

kamparea is, kyk vir ‘n plek waar daar reeds ‘n vuur gemaak was. Moenie ‘n vuur in ‘n nuwe

area maak as daar reeds vuurputte beskikbaar is nie. Indien jy ‘n vuur in ‘n nuwe area moet

maak, grawe eers die gras uit en sit dit in die koelte. Hou dit dan nat sodat jy dit weer kan

terugsit wanneer jy vertrek. As daar nie gras is nie moet jy die area skoonmaak sodat daar

Page 8: Kampeervaardigheid I Honneur Antwoordboek... · Kampeervaardigheid I – Bladsy 2 1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud. Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word

Kampeervaardigheid I – Bladsy 7

slegs anorganiese materiaal in die vuurkring is. Maak ‘n area dubbel die grootte van die

beplande vuur skoon. Plaas dan klippe, met geen of klein gapings tussenin, in hierdie ring

om ‘n klein muurtjie te bou. Hierdie muurtjie moet 15 – 20cm hoog wees en reg rondom die

sirkel gaan. Voor jy die vuur aansteek moet jy seker maak dat jy die middele naby en

gereed het om die vuur te blus. Dit kan ‘n brandblusser of ‘n emmer met sand of water

wees. Die kring behoort nou reg te wees vir ‘n vuur.

b. Ken kampvuurveiligheidsmaatreëls.

Plaas die vuur op ‘n veilige plek. Dit moet ten minste drie meter skoon wees reg

rondom.

Moenie ‘n vuur onder oorhoofse takke aansteek nie.

Moenie brandstof, paraffien, ens. gebruik nie. Leer om ‘n vuur daarsonder aan te

steek.

Blus die vuur heeltemal voor jy dit verlaat. As dit te warm is om jou hande in die as

te druk, is dit nie voldoende geblus nie. Gooi dit nat met water, keer die kole om met

‘n graaf en maak seker dat al die kole geblus is.

Moenie ‘n vuur op vlambare materiaal soos gras of blare maak nie.

Grawe die gras uit (hou dit nat sodat jy dit kan terugsit wanneer jy vertrek), en

verwyder die dooie blare en take.

Hou brandblusservoorraad naby die vuur. ‘n Emmer met water of sand, of ‘n

brandblusser word aanbeveel.

Moenie brandende stokke uit die vuur verwyder nie.

Let op vir warm as wat uit die vuur onstnap en blus dit onmiddellik.

Dra behoorlike skoene om ‘n vuur.

Wees bewus dat papier, karton en blare swewende warm as produseer wat uit die

vuurput styg en meters ver kan land.

Moenie ‘n vuur in ongunstige weersomstandighede aansteek nie (sterk wind of

droogte).

c. Wees in staat om ‘n vuurhoutjie behoorlik aan te steek.

Drie dinge word benodig vir ‘n vuur om te begin: suurstof, brandstof en hitte. Die

vuurhoutjiekop is brandstof wat aangesteek kan word teen ongeveer 182°C, wat deur

wrywing verkry kan word. Die suurstof word deur die lug verskaf. Om ‘n vuurhoutjie aan te

steek moet die vuurhoutjiekop vining en ferm teen die strook aan die kant van die

vuurhoutjiedoos getrek word. Hou jou vingers weg van die vuurhoutjiekop. Wanneer die kop

ontvlam sal die temperatuur drasties toeneem en die vuurhoutjie aan die brand steek. Vuur

verkies dit om opwaarts te klim en jy sal die groote van die vlam tot ‘n mate kan beheer

deur die kop afwaarts (vir ‘n groter vlam) of opwaarts (vir ‘n kleiner vlam) te kantel.

Beskerm die vlam versigtig teen wind (wat die temperatuur verlaag) deur jou hand om dit te

hou en dit na die fynhout te neem wat jy wil aansteek.

d. Oefen om ‘n vuur te maak met slegs een vuurhoutjie en deur slegs natuurlike

materiaal te gebruik.

Om ‘n vuur aan die gang te kry moet jy drie dinge hê: 1. Suurstof 2. Brandstof en 3. Hitte.

Die beskikbare hoeveelheid van elkeen van hierdie faktore sal bepaal word deur hoe jy jou

vuur pak.

Om ‘n vuur aan die gang te kry moet jy tontel aansteek. Die tontel moet lank genoeg brand

om die fynhoutjies aan te steek, en die fynhoutjies moet lank genoeg brand om die dik hout

aan te steek. Dit is belangrik om eers al hierdie tipes brandstof gereed te hê voor jy ‘n

vuurhoutjie trek.

Begin deur die tontel in die middel van jou kring te sit. Tontel bestaan uit fyn materiaal soos

klein takkies (so dik soos ‘n potlood se lood), stukkies droë bas, droë gras, ou voëlnessies,

dennenaalde, ens. wat maklik ontvlam. Pak nou dikker houtjies op die tontel. Hierdie is die

fynhoutjies met ‘n dikte tussen ‘n potlood se lood en omtrent 4cm. Die dunste takkies moet

die naaste aan die tontel wees.

‘n Goeie manier om dit te doen is deur twee houte ongeveer 8cm dik, parallel en 15-20cm

uitmekaar op die grond te sit met die tontel in die middel. Lê nou ‘n dun, reguit stok op die

dik stokke oor die middel van die tontel. Dit kan die dwarslat genoem word. Sit nou nog

potlood-grote stokkies met een punt op die dwarslat en die ander punt op die grond. Doen

Page 9: Kampeervaardigheid I Honneur Antwoordboek... · Kampeervaardigheid I – Bladsy 2 1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud. Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word

Kampeervaardigheid I – Bladsy 8

dit aan altwee kante van die stokkie asof jy ‘n dak bou oor die tontel. Dit kan die balke

genoem word. Jy kan nou nog twee dwarslatte weerskante van die eerste een pak en nog

balke maak met beitjie dikker houtjies. Maak seker dat daar ‘n gaping is tussen hierdie en

die eerste balke.

Moenie hierdie stapel aansteek voor jy voldoende dik hout bymekaar gemaak het vir die

vuur nie! Dik hout moet ‘n deursnee van meer as 7cm hê. Die hopie wat jy hierbo gemaak

het sal nie langer as ongeveer 5 minute brand nie so jy het nie baie tyd om die dik hout op

te pak nie.

Sodra die tontel aangesteek is, kan jy die dik hout op die eerste twee houte pak. Dit werk

goed aangesien die hout naby genoeg aan die fynhoutjies is om aan die brand te steek maar

nie so naby is dat dit die vloei van suurstof beperk nie.

11. Demonstreer hoe om vuurmaak hout te beskerm in nat weer.

Dit is logies dat jy jou vuurmaak hout sal wil droog hou en daar is baie maniere om dit te doen.

Een effektiewe metode is om die hout op ‘n grondseil te pak en die seil dan oor die hout te vou. Sit

dan een of twee swaar houte op die seil om dit vas te pak. Hierdie houte sal nat word maar dit sal

verhoed dat die res van die hout nat word. Deur die hout op die seil te pak verhoed dat die

onderste hout nat word maar dit is nie noodsaaklik nie.

Vuurmaakhout kan ook in ‘n toe sleepwa of in die kattebak van ‘n motor gehou word indien dit

beskikbaar is. Nog ‘n opsie is om dit in ‘n kombuistent te hou.

12. Bak stokbrood.

Dit is belangrik om ‘n goeie bed kole te hê. As jy probeer om stokbrood op oop vlamme te bak

gaan jou brood buite gebrand en binne rou wees. Maak die brood deeg of bring gevriesde

voorafgemaakte deeg saam. Kry ‘n reguit stok sowat 100-130cm lank en maak die punt skoon

deur die bas te verwyder of dit met skoon water te was. Draai die deeg in ‘n dun, spiraalvormige

laag om die stok. Dit moet die boonste 10-15cm van die stok bedek. Wanneer die deeg goed aan

die stok vas is kan jy die ander punt van die stok in die grond steek of dit met klippe of groot

stukke hout steun sodat die brood oor die kole hang. Die deeg moet op ‘n afstand vanaf die vuur

gehou word waar dit ongemaklik warm is om jou hand te hou. Draai die stok elke paar minute tot

die brood goudbruin is (dit is waarom jy ‘n reguit stok nodig het). Jy kan sommer die brood van die

stok af eet. Hierdie is ‘n goeie aktiwiteit vir die vroeë oggendure wanneer almal probeer warm

word om die vuur. Dit werk net so goed in die aand.

13. Verduidelik die behoorlike prosedures ten opsigte van die was en skoonhou van die

kook- en eetgerei.

Geen vuil skottelgoed moet op die kampterrein rondlê nie. Dit moet onmiddellik gewas word sodra

jy klaar geëet het.

Gebruik twee groot skottels om die skottelgoed in te was (of opsioneel, drie skottels). Een word

met seepwater (verhit indien moontlik) gevul en die ander word met afspoelwater en een teelepel

bleikmiddel per vier liter water gevul. Die derde opsionele skottel word met water gevul en word

gebruik om die skottelgoed in af te spoel voor dit in die seepwater gewas word. As die derde

skottel nie gebruik word nie moet die borde met papierhanddoek uitgevee word voor dit in die

seepwater geplaas word. Dit sal verhoed dat die seepwater walglik word. Al die skottelgoed moet

gewas, afgespoel en afgedroog word.

Wie ookal op kombuisdiens is (en almal moet ten minste een keer aan diens wees) is

verantwoordelik vir die was van die kookgereedskap. Weereens moet die potte, panne en

kookgereedskap so skoon as moontlik wees voor dit in die seepwater geplaas word. Na dit

afgespoel is moet dit drooggemaak en gebêre word. Die kombuisbemanning moet dan die rommel

behoorlik weggooi om te voorkom dat die kamp deur diere besoek word. Diertjies mag dalk oulik

wees, maar hulle kan ‘n groot gemors maak!

14. Beskryf slaapklere en hoe om snags warm te bly.

‘n Goeie slaapsak is noodsaaklik om snags warm te bly. Kampeerders moet beslis nie met hulle vuil

dagklere bed toe gaan nie. Dit sal net die slaapsak vuil maak en die kampeerder ongemaklik maak.

Dra termiese onderklere, slaapklere en/of ‘n sweetpak. Lae klere sal jou warmer hou, maar as jy

baie rondrol kan dit om jou draai en ongemaklik word.

Page 10: Kampeervaardigheid I Honneur Antwoordboek... · Kampeervaardigheid I – Bladsy 2 1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud. Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word

Kampeervaardigheid I – Bladsy 9

15. Leer ‘n geestelike les uit die natuur gedurende jou kamp.

Daar is baie moontlikhede om hierdie vereiste te voltooi. Jesus het op baie geleenthede die natuur

gebruik om lesse te ilustreer:

Voëls – Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val

sonder die wil van julle Vader nie. Matteus 10:29

Blomme – En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie

en hulle maak nie klere nie. Maar ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos

een van hulle nie. Matteus 6:28,29

Water - Jesus ontmoet die Samaritaanse vrou by Jakob se put. Johannes 4:7-38

16. Verduidelik en beoefen die leuse: “Neem slegs foto’s en laat slegs voetspore”.

“Neem niks behalwe foto’s nie, laat niks behalwe voetspore nie” is selfverduidelikend. Dit beteken

dat jy nie die natuur steur terwyl jy dit geniet nie. As jy ‘n mooi klip sien, los dit daar vir iemand

anders om te geniet. As jy ‘n lekker eet op die staproete, moenie die toedraaipapiertjie daar gooi

nie – neem dit saam met jou.

Daar is ‘n paar uitsonderings op beide hierdie reëls. As jy rommel sien, natuurlik, tel dit op. Gooi

dit in die naaste asblik. Neem ook in ag dat voetspore nie altyd skadeloos is nie. Baie plante wat

jare neem om te groei kan met ‘n enkele voetspoor vernietig word. Bly op die paadjie.

Een van die belangrikste maniere waarop mense ‘n merk op die land laat is deur ‘n kampvuur te

bou. Vir “geen spoor”-kampeerdery, bring ‘n kampstofie. Ongelukkig is die kampvuur een van die

hoofaantrekkings vir baie mense, so dit is nie maklik om hierdie raad te volg nie. As jou kampplek

‘n vuurring of ‘n bestaande vuurput het, gebruik dit. Indien nie, en jy moet ‘n vuur hê, plaas dan ‘n

grondseil op die grond en bedek dit met 15-20cm mineraalsand. Mineraalsand is sand wat geen

organiese materiaal bevat nie en kan op ‘n strand gekry word of waar ‘n groot boom omgeval het

en grond opgelig het. Die sand moet diep wees sodat die hitte nie die grondseil affekteer nie. Hou

op om nuwe hout op die vuur te sit lank voor jy dit gaan blus en druk stokkies wat nie klaar

gebrand het nie in die vuur. Laat hulle dan toe om tot as te brand. Wanneer jy gereed is om te

vertrek moet jy die vuur behoorlik blus en die as oor ‘n wye area versprei. Plaas die sand terug

waar jy dit gekry het en tel jou grondseil op.

Verwysings:

http://www.wikipedia.org

http://en.wikibooks.org/wiki/Adventist_Youth_Honors_Answer_Book

http://www.campmaster.co.za

http://www.ndabavoetslaanklub.co.za/t_slaapsak.htm

Page 11: Kampeervaardigheid I Honneur Antwoordboek... · Kampeervaardigheid I – Bladsy 2 1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud. Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word

Kampeervaardigheid I – Bladsy 10

Page 12: Kampeervaardigheid I Honneur Antwoordboek... · Kampeervaardigheid I – Bladsy 2 1. Wees ten minste in graad 5 of 10 jaar oud. Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word