58
UITGAWE 11 JULIE / AUGUSTUS 2015 SAP TIN EENHEID VETERANE BOND SIELSKOS Deur: Ilana Loubser

Bulle-TIN uitgawe 11 2015

Embed Size (px)

DESCRIPTION

Die amptelike nuusblad van die SAP TIN Eenheid Veterane Bond

Citation preview

UITGAWE 11 JULIE / AUGUSTUS 2015

SAP TIN EENHEID VETERANE BOND

SIELSKOS

Deur: Ilana Loubser

Die lewe gaan oor keuses...

Daniël 1:8 NLV

Toe Daniel as gevangene na Babel geneem is, is hy vinnig tot 'n leierskapsposisie in die

koning se paleis bevorder. Maar omdat hy 'n Jood was, het hy geweier om homself met

die koninklike kos en drank te ontheilig. Kon sy keuse sy loopbaan beïnvloed, of selfs sy

lewe gekos het? Beslis! Die keuses wat ons maak wanneer ons onder druk is, is die

gevolg van een van twee dinge:

• Duidelike oortuigings waarvolgens ons leef.

• Onduidelike oortuigings wat ons bereid is om aan te pas vir persoonlike gewin. In sy

boek 'Leadership Gold' skryf John Maxwell: "Nadat ons twintig stede in sewe dae

besoek het, was dit goed om by die huis te kom! Soos die klein privaat vliegtuig die

aanloopbaan genader het, het ons die sukses van die week gevier. Toe, in 'n oogwink,

verander alles. Die vliegtuig is deur 'n kruiswind getref en het begin val, met die wiele

uit balans. Die vlieënier het sonder huiwering die vliegtuig weer die lug in gestuur... ons

almal het besef dat ons kon sterf! Ons het stil gesit en kyk hoe die vliegtuig 'n paar keer

sirkel en toe veilig land. Terwyl hy die vliegtuig verlaat, vra John die vlieënier, 'Wanneer

het jy besluit om die vliegtuig eerder weer die lug in te stuur?' Die vlieënier antwoord,

'Vyftien jaar gelede.' Hy verduidelik toe dat hy, terwyl hy as jong vlieënier besig was

met sy opleiding, vooruit besluit het hoe hy sou optree as 'n probleem in die lug

ontstaan. Sy besluit was lank voor die krisis geneem." Maak seker dat jy 'n plan in plek

het voor die probleem homself voordoen.

1 Konings 3:9 NLV

Keuses is 'n bepalende faktor in hoe jou lewe gaan uitdraai. Toe Salomo die troon as jong

man bestyg het, het hy vir wysheid om die regte besluite in sy lewe te maak, gebid. Die

legendariese basketbal-afrigter John Wooden het gesê: "In alles wat jy doen is daar 'n keuse

wat jy moet maak. Hou in gedagte dat die keuses wat jy maak, op die ou einde jou maak wie

en wat jy is." Sommige van ons maak die lewe moeiliker deur slegte keuses te maak; ander

beweeg makliker deur die lewe omdat hulle goeie keuses maak. Die waarheid is dat jy die

gevolge van jou keuses moet dra. Dink hieroor na:

• Jou keuses openbaar wie jy werklik is. Die teoloog H.P Liddon het gesê, "Wat ons op

groot geleenthede doen sal afhang van wie ons alreeds is, en wie ons is, is die resultaat

van vorige jare se self-dissipline."

• Hoe hoër jy styg, hoe moeiliker sal jou keuses wees. Koning Salomo kon enige vrou wat

hy begeer, kry. Ongelukkig het hy vrouens gekies wat hom verlei het om ander gode te

dien (1 Konings 11:3).

• Jou keuses verander jou, ten goede of ten kwade. Wanneer jy 'n keuse gemaak het, word

jy 'n onderdaan van daardie keuse. Dit beïnvloed jou lewe en die lewens van ander. C.S.

Lewis het gesê, "Elke keer wat jy 'n keuse maak verander jy die sentrale punt van jouself,

die deel wat besluite neem, in iets anders as wat dit voorheen was. En as jy na jou lewe in

'n geheel kyk, verander jy stadig maar seker hierdie sentrale punt van jouself in of 'n

hemelse wese, of 'n duiwelse monster." Maak jou keuses biddend en verstandig.

Deur: Martin Loubser.

Hierdie verslag oor die aangeleenthede van die Bond doen ek uit nederige dankbaarheid en

waardering. Op elke faset van hierdie verslag kan daar niks anders as dankbetuiging en waardering

uitgespreek word teenoor lede van die TIN familie wat doodeenvoudig die bul by die horings gepak

en uit die modder gesleep het nie. Met sulke lede in ʼn Bond kan daar niks anders as suksesverhale

vertel word nie.

Finansies van die Bond.

Sedert die uitgawe van die laaste bulle-TIN het die finansiële toestand van die Bond merkbaar

verbeter. Ek wil namens die bestuur en die bondlede langs hierdie weg my dank uitspreek aan lede

en ondersteuners wat uit hulle eie inisiatief en uit hulle eie sak projekte aangepak het om die wa

deur die drif te trek.

Ek wil die volgende mense spesifiek bedank :- Ons Koördineerder, TIN veteraan Henk van Heerden

met sy wyn en beker projek, TIN veteraan Henry Visagie met sy horlosie projek en ondersteuner

Johannes Wolmarans met sy “patches”, T-hemde en pette, beide die Bond en die Beelde se fonds

ʼn betreklike hupstoot kon gee. Hulle bydrae het meegebring dat die bond se normale operasionele

funksies ten minste kon voortgaan.

TIN veteraan Robert van Onselen is permanent aangestel as tesourier en die projekte het genoeg

fondse gegenereer sodat die besigheidsrekening soos in ons grondwet bepaal nou geopen kan

word. Hartlik welkom op die bestuur Robbie.

BESTUURSVERSLAG DEUR

DIE WAARNEMENDE VOORSITTER

Onthou dat dit enige lid vrystaan om op enige stadium navraag te doen en geregtig is op ʼn uitleg

van die inkomste en uitgawes van die Bond. ([email protected])

Bond dasse

Hierdie aangeleentheid verdien ook spesiale vermelding met ons dank aan TIN veteraan Daan

Croukamp en TIN veteraan JP Swanepoel wat die inisiatief geneem het om met ʼn donasievorm wat

ons ontwerp het te poog om deur hulle werkgewers vir ons borgskappe te kry om ons dasse te

borg. Ons hou styf duim vas dat hierdie missie sal slaag en ons eersdaags vir julle goeie nuus kan

gee..

Die Bond se Webwerf

Ook hierdie los ent is deur ʼn TIN veteraan uit sy eie opgetel en TIN veteraan Blackie Swart is hard

aan die werk om die webwerf in ere te herstel. Ook ʼn spesiale woord van dank aan hom namens

die bestuur en lede.

Ons eerste Gedenkdiens – 29 Augustus 2015

Ons eerste gedenkdiens was ʼn REUSE sukses en het groot indruk op selfs die mees kritiese

mense gemaak. Ook hier namens die bestuur en alle lede ons dank en waardering aan ons

Koördineerder Henk van Heerden wat met behulp van ʼn komitee van TIN lede gesorg het vir al die

reëlings en die absoluut ongelooflike uitvoering van die gedenkdiens. Die lede wat saam met Henk

betrokke was vir die gedenkdiens was TIN veterane Louis Lubbe, Werner Wasserman en Henk

Kotze, hierdie lede het ook ʼn groot aantal van die kostes uit hulle eie sakke gedra.. Ook ʼn woord

van dank aan elke persoon wat betrokke was om die diens ʼn sukses te maak deur een of ander

funksie, hoe klein ookal, te verrig. Die besondere herdenkingsdiens sal vir baie jare as ʼn besondere

en spesiale geleentheid onthou word.

Ons beelde en die beeldefonds.

Onder die bekwame leierskap van ons Kommunikasie Koördineerder, Henk van Heerden en die

entoesiasme van talle lede vorder ons beeldeprojek goed en is in volle vaart. Daar is ʼn magdom

werk gedoen om dit te laat gebeur en is ons positief dat ons beelde een van die dae weer ons

trotse geskiedenis sal uitbeeld!

Die miniatuur beeldeprojek het so gevorder dat die heel eerste miniatuur beeldjie op 29 Augustus

by die gedenkdiens aan ons ere president TIN veteraan Johan Viktor oorhandig kon word.

Aandeelhouers sal binnekort met hulle beeldjies kan spog. Onthou dat die beeldjie ʼn “limited

edition” gaan wees, daarom moet daar, Indien daar enige belangstelling is om so ʼn beeldjie te

bekom, so gou as moontlik met Henk by [email protected] kontak gemaak moet word vir

bestellings en om teleurstelling te vermy.

Die amptelike blad van die SAP TIN veterane Bond; Die bulle-TIN.

Sonder die insette van lede is hierdie blad niks anders as ʼn nuusbrief nie en wil ons lede asseblief

aanmoedig om moed bymekaar te skraap en vir ons hulle stories, ondervindings of enige ander

insette te stuur sodat dit ʼn lekker lees ondervinding vir die lesers kan wees.

Neem kennis dat die bulle-TIN voortaan elke tweede maand sal verskyn om die werkslas, tyd en

moeite met die samestelling daarvan te regverdig.

Werwing van nuwe lede en ondersteuners.

Almal word vriendelik versoek om nuwe lede vir die Bond te werf, bring die mense wat u weet

kwalifiseer aan boord sodat ons ons agtergrond en geskiedenis kan deel. U word egter versoek om

nie aansoekvorms of bankbesonderhede te verstrek nie aangesien dit vantevore chaos veroorsaak

het. ʼn E-pos adres van ʼn belangstellende op die Facebook groep of aan my by

[email protected] sal sorg dat die aansoeker onmiddellik mee gewerk word.

DIE STERKTE VAN DIE BOND

Die totale sterkte van die bond is tans 94. Dit word soos volg saamgestel:-

Bestuurslede 5

Erelede 4

Lede 69

Ondersteuners 16

Oorlede 2

Geskors 2

Martin Loubser

Weereens dankie aan elkeen wat ʼn inset gelewer het, moed ingepraat het en geduldig

was. Ons is ʼn jong maar trotse bond en die “veglustige leeu” sal van krag tot krag gaan.

Vordering en statistieke

Aansoekvorms op aanvraag uitgestuur:- 543

Aansoekvorms teruggestuur en goedgekeur:- 130

Lede wat na goedkeuring betaal en as lede geregistreer is:- 85

Aansoeke afgekeur wat nie aan toelatingsvereistes voldoen nie:- 6

TIN BOND BRING HULDE AAN ‘N

ONTSLAPE KAMERAAD

Wilhelm Diederik Fouchè

08 Augustus 1940 – 19 Julie 2015

Voorsitter van die SAP TIN Veterane Bond

en lid van die Koevoet Veterane Bond.

Deur: Martin en Ilana Loubser

Die verassingsdiens van wyle Willie Fouchè het op 24 Julie 2015 in Rustenburg plaasgevind.

Lede van die SAP TIN Veterane Bond en die Koevoet Veterane Bond het die diens

bygewoon en aan hom sy laaste militêre eerbewys betoon. Elke TIN en Koevoet Veteraan

was op een of ander manier betrokke by die seremonie. Elke veteraan is vooraf behoorlik

ingelig wat sy funksie sou wees om die kleurryke seremonie, eie aan ’n veterane bond,

suksesvol uit te voer.

Vriende en familie lede van Willie Fouchè het voor die kerkgebou die gedenkdiens afgewag.

Die kis is van die lykswa die kerk ingedra deur veterane van die SAP TIN Eenheid Veterane Bond

wat gelei is met die vaandels van die TIN Veterane Bond wat regs voor en die Koevoet Veterane

Bond wat links voor die kis uitgedra is.

Die diens is gelei deur ons Kapelaan Ds. Jan du Preez. Skuins agter oom Willie se kis was ’n

foto van hom aan die voet van ’n kruis met ’n model van ’n Casspir onder die foto. Die kis was

die kerk ingedra met sy TIN beret bo-op die kis geplaas. Die TIN en Koevoet vaandels is voor

die aanvang van die diens voor in die kerk geplaas.

Na afloop van die erediens het die finale eerbewys seremonie plaasgevind gelei deur Dicks

Dietrichsen. ’n Huldeblyk aan oom Willie Fouchè is deur Dicks Dietrichsen voorgelees waarna

die vaandels voor in die kerk ontplooi is (Koevoet links en TIN regs). Tydens die Laaste Taptoe

is die vaandels gestryk terwyl veterane salueer.

Kranse en blomme is deur TIN en Koevoet veterane, familie, vriende en swart lede verbonde

aan die Koevoet Bond aan die voet van die foto gelê

Die kis is die kerk uitgedra na die lykswa deur veterane van die Koevoet Bond weereens

gelei met die vaandels van die Koevoet Veterane Bond en TIN Veterane Bond wat voor die

kis uitgedra is. Oom Willie se Koevoet beret was op die kis geplaas toe die kis uitgedra

word. Terwyl die kis in die lykswa geplaas word het die vaandels voor die lykswa stelling

ingeneem terwyl vriende, familie en veterane finaal afskeid geneem het en Ds. Jan du

Preez die seën uitgespreek het.

Veterane van die TIN en Koevoet bonde het ’n erewag langs die pad gevorm en die lykswa is

deur die vaandels die kerkgronde uitgelei terwyl veterane met ’n saluut finaal afskeid geneem

het van ’n kameraad terwyl hy na sy finale rusplek gelei is.

Wilhelm Diederik Fouchè

Rus in vrede, ons sal jou nie vergeet nie.

SALUUT!

Op 8 Augustus 1940 word Wilhelm Diederick Fouchè op die plaas Buffelshoek naby Thabazimbi

gebore. Hy begin sy skoolopleiding in Van Wykskraal in Thabazimbi Laerskool en daarna voltooi

hy sy hoërskoolopleiding in Brits Hoër Landbouskool.

Op 13 Januarie 1959 rapporteer die 18 jarige jongeling as Student Konstabel by die Suid-

Afrikaanse Polisiekollege in Pretoria. In September 1959 word hy uitgeplaas na Johannesburg

Sentraal en die bosveldknaap vind op die harde manier uit wat die stad is. Op 1 Februarie 1960

word oom Willie verplaas na Rustenburg waar hy dan ook sy vrou Hester Maria Fourie ontmoet.

Hy word verplaas na Pilansberg, Groot Mariko en Thabazimbi. In 1967 word hy Sersant en toe

hy in 1970 bevorder word na Adjudant Offisier, word hy die Stasiebevelvoerder van

Wolmaransstad en later Lichtenburg.

In 1973 ontvang oom Willie TIN opleiding. Hy word ook opgelei as TIN instrukteur. In daardie

stadium het lede van die Suid-Afrikaanse Polisie reeds diens gedoen in Rhodesië by die

Rhodesian Light Infantry (RLI). In 1974 vra die British South African Police (BSAP) vir hulp van

Suid Afrika en saam met Kaptein Dave Pretorius word oom Willie ʼn stigterslid vir die SAP

gedeelte van Police Anti Terrorist Unit (PATU) en spesifiek PATU1. Oom Willie onthou baie goed

hoe hy gedurende Kersfees 1974 dringend opgeroep is om bevel te vat van PATU 4 nadat A/Off

Dippenaar gedood is.

Op 27 Januarie 1975 ry hulle om voorraad in Salisbury te gaan haal en sy voertuig trap ʼn

dubbele kaasmyn met die linker voorwiel naby Njakasoro dam. Sy lewe is gered deur die feit

dat die Bedford gepak was met sandsakke en “conveyor belt”. Wel, nou weet almal ook hoekom

oom Willie soms moeilik en met ʼn kierie geloop het, dit is die rug wat sedertdien net nooit wou

herstel nie.

HULDEBLYK AAN WYLE WILLIE FOUCHÈ

VOORGELEES TYDENS SY GEDENKDIENS

In 1975 en op sy verjaarsdag begin oom Willie met offisierskursus. As Luitenant was hy

Stasiebelvoerder op Gobabis, Ventersdorp en in 1981 as Kaptein ook Stasiebevelvoerder op

Rustenburg. In 1983 word die Fouchés verplaas na CR Swart Plein in Durban. Die

stasiebelvoerder aldaar was ʼn sieklike man en oom Willie was die grootste gedeelte van sy tyd

die waarnemende Stasiebevelvoerder.

In Maart 1985 word hy verplaas Ovamboland toe. Aanvanklik en as deel van blootstelling word

hy gevegsbevelvoerder van ZO (Zulu Oscar) met Baksteen Coetzee (RIV) van ZV (Zulu Victor)

wat leiding gee. Hierna word hy die Ops Offisier waar hy diep spore trap in die bestaan en

aktiwiteite van Koevoet. In 1886 word oom Willie bevorder na die rang van Majoor en in 1988

Luitenant-Kolonel. In 1992 is hy bevorder tot Kolonel.

Op ʼn dag spreek iemand hom aan as “oom” oor die twee rigting radio waarop Generaal Dreyer

tussenbeide kom en vra waar die rang van “oom” vandaan kom. Hier kry oom Willie toe sy rang

as “oom”, die rang wat hy tot sy dood toe gedra het. Hy beskou sy tydperk by Koevoet as die

kroon van sy polisie loopbaan. Hy vertel met ʼn grynslag dat gedurende September 1987, tydens

ʼn operasie in die omgewings van Evali en Vintiset, min of meer ʼn 100km binne Angola, hulle in

ʼn APLA basis vasgery het en toe maar begin het met “role call” en inspeksie. Hulle

teenwoordigheid vang ook die APLA soldate onkant en hulle gee hulle samewerking. Op 10

Januarie 1990 is oom Willie een van vier koevoetlede wat heel laaste padgee uit Ovamboland.

Hy is betrokke met die vestiging van Koevoet lede in Suid Afrika. Hy werk ook onder andere by

die Distrik Kommandant Kantore in Krugersdorp en in ʼn stadium deel hy ʼn kantoor met

Generaal Sterk Hans Dreyer by hoofkantoor.

Oom Willie se vrou, Tannie Hester, was die sleutel in sy lewe. Sy is ʼn gekwalifiseerde mediese

suster en was intens betrokke in oom Willie se loopbaan. So het sy tydens hulle Koevoet

tydperk lede gehelp met mediese versorging. Uit hierdie huwelik is vier dogters gebore, Soekie,

Adrie, Debbie en Jackie. Drie van die vier dogters is met voormalige Koevoetlede getroud. Die

Fouchè familie beleef dan ook tragedie toe een skoonseun, Herman du Plessis, sterf tydens ʼn

Koevoet aksie.

Die weduwee dogter is later weer getroud met ʼn man uit koevoet geledere. Die jongste dogter

het as laerskool kind, agt aanvalle in Oshakati en een in Eenhana beleef.

As ʼn mens van Generaal Sterk Hans Dreyer praat, dan het oom Willie vir jou gesê dat dit die

beste bevelvoerder en mens is vir wie hy ooit gewerk het. Daar was groot respek en agting by

oom Willie vir hierdie man wat gebore is om ʼn leier te wees.

As voorsitter van die TIN Veterane Bond was dit Oom Willie se visie om:

die kamaderie wat geheers het onder lede van die SA Polisie toe hulle grensdiens gedoen het ʼn

ereplek te gee sodat dit behoue kan bly en voortbestaan. Om seker te maak dat afgestorwe TIN

lede nooit vergeet sal word nie. Om te verseker dat die SA Polisie se TIN geskiedenis nie

verlore gaan nie.

Die 31ste November 1993 was sy laaste werksdag in die Suid-Afrikaanse Polisie. Oom Willie

was werklik ʼn “Biblioteek” wat die die Polisie en grensdiensgeskiedenis aanbetref. Oor PATU,

TIN en Koevoet is daar min wat hy nie geweet het nie.

Die volgende medaljes word aan hom toegeken;-

1. Die SA Polisie Medalje vir Troue Diens (10 jaar)

2. Die SA Polisie Ster vir Troue Diens (20 jaar)

3. Die SA Polisie Ster vir Verdienste (30 jaar)

4. Die SA Polisie 75 jaar Gedenkmedalje

5. Die SA Polisie Medalje vir die Bekamping van Terrorisme (+2 balke)

DIE EERSTE GEDENKDIENS

VAN DIE SAP TIN EENHEID VETERANE BONDDeur: Ilana Loubser met foto’s deur Blackie Swart, Mari-Linda Jephta en Annette Nel

Agtergrond

Sedert die stigting van die SAP TIN Eenheid Veterane Bond het ons talle gedenkdienste

bygewoon van veterane bonde wat hulde aan hulle gesneuwelde makkers gebring het. Vir die

eerste keer na ons gestig is, een jaar en 2 maande gelede het ons ons eerste gedenkdiens

aangebied waar lede van die SAP TIN Eenheid wat tydens die uitvoering van hul pligte die

hoogste prys betaal het, vereer is.

Die 26 ste Augustus 1966 merk die begin van die Bosoorlog toe die eerste skermutseling te

Ongulumbashe in die weste van Ovamboland tussen SWAPO en lede van SA Veiligheidsmagte

wat uit lede van die SAP, SA Lugmag (helikopters) en SAW valskermsoldate bestaan het,

plaasgevind het. Dit dui onomwonde daarop dat SAP TIN daar was toe die geskiedkundige

oomblik in ons geskiedenis gebeur het.

Die Slag Van Ongulumbashe merk dan ook die amptelike gedenkdag van die SAP TIN

Eenheid Veterane Bond en is ook so in ons grondwet aangeteken. Hierdie dag sal voortaan

elke jaar so naby as moontlik aan 26 Augustus herdenk word. Hierdie jaar was dit klein en

intiem en was slegs die Koevoet Veterane Bond en SAVA genooi om dit by te woon. Volgende

jaar is die 50ste herdenking en gaan dit ʼn groot geleentheid wees waarheen so veel as

moontlik veterane bonde genooi sal word om saam met ons die gesneuweldes van die SA

Polisie TIN Eenheid te gedenk..

Ons gedenkdiens is gehou by die Koevoet muur van Herinnering. Aan die regterkant van die

Koevoet beelde was ’n reuse swart en wit foto van die Maleoskop beeldegroep gevolg deur die

Polisie Ster vanaf die ingang van Maleoskop. Aan die regterkant van die kateder was die name

van 107 lede wat die hoogste prys betaal het tydens TIN verwante dienste vanaf 1967 tot 1992.

Die eerste produksie van die miniatuur Maleoskop Beeldegroep is prominent langs die Polisie

Ster vertoon. Aan die linkerkant was die vaandelstaander agter ’n volkleur embleem van die

SAP TIN Eenheid geskilder deur Ilana Loubser.

Die gedenkdiens is bygewoon deur veterane van die SAP TIN Veterane Bond, die Koevoet

Veterane Bond en SAVA vergesel deur hulle eggenote, kinders, vriende en ondersteuners.

Die gedenkdiens het begin met ’n amptelike vaandel plasing

seremonie onder leiding van die parade bevelvoerder TIN

Veteraan Martin Loubser. Die TIN vaandel was hanteer

deur TIN Veteraan Blackie Swart wat die TIN vaandel vir die

eerste keer sedert die bestaan van die SAP TIN Veterane

Bond senior tot ander vaandels geplaas het. Die Koevoet

vaandel was gedra deur Koevoet Veteraan Dicks

Dietrichsen en die SAVA vaandel deur Veteraan Billy Cox.

VERLOOP VAN DIE GEDENKDIENS

Die vaandel plasing is

gevolg met ’n

verwelkoming deur die

seremonie meester TIN

Veteraan Werner

Wassermann.

Na die verwelkoming is

daar ’n huldeblyk gebring

aan die afgestorwe

voorsitter van die SAP TIN

Veterane Bond deur TIN

en Koevoet Veteraan

Dicks Dietcrichsen

Die treffende erediens

het gevolg gelei deur TIN

Veteraan Ds. Jan du

Preez met die

wapenrusting van God as

tema. Hierdie boodskap

sou almal wat fyn

geluister het beslis vir ’n

geruime tyd bybly.

Na afloop van die erediens is ’n

kleurryke geskiedenis van die SAP TIN

Eenheid aangebied deur TIN Veteraan

Louis Lubbe wat ook die skrywer is van

die boek ”Van Ovamboland tot

Masjonaland” is.

’n Huldeblyk is gebring ter nagedagtenis van lede van die SAP TIN Eenheid wat in die

uitvoering van hul dienste gesneuwel het tussen 1967 en 1992. Hierdie seremonie het meeste

van die gehoor aangedaan gelaat. Nadat die parade bevelvoerder stelling ingeneem het, het

die seremonie begin met die klankbeeld wat op Maleoskop by die Maleoskop Beeldegroep

gebruik is. Die klankbeeld het begin met kontak geluide (wat met die hulp van ’n rookmasjien

gesorg het vir ekstra effek) en geëindig het met die Credo van die SA Polisie. Gedurende

hierdie klankbeeld is die gehoor op aandag geroep en het veterane op bevel gesalueer tydens

die speel van die Laaste Taptoe. Die Laaste Taptoe was gevolg deur 2 min stilte en die

Oggendsinjaal.

’n Kranslegging vind plaas om eer te betoon aan ontslape kamerade. Die eerste krans word gelê

deur die hoof funksionaris, die Erepresident van die SAP TIN Eenheid Veterane Bond, Genl.

Johan Viktor. TIN Veteraan Elnic Steenkamp plaas ’n kruis namens die SAP TIN Eenheid

Veterane Bond gevolg deur Wollie Wolmarans namens die ondersteuners van die SAP TIN

Veterane Bond. ’n Krans word gelê deur Koevoet veterane Gert Nel en Jonas Kampulu namens

die Koevoet Veterane Bond. Daarna word blomme gelê deur verskeie veterane, ondersteuners,

familie en vriende.

Na afloop van die kranslegging is bedankings gedoen en aandenkings aan eregaste oorhandig.

Die heel eerste oorhandiging was die miniatuur Maleoskop Beeldegroep, beeldjie nr. 1 aan die

hooffunksionaris TIN veteraan en erepresident, Genl. Johan Viktor deur TIN veteraan Martin

Loubser.

’n Aandenking van die gedenkdiens is aan al die eregaste wat hierdie onvergeetlike

geleentheid bygewoon het oorhandig deur die SAP TIN Eenheid Veterane Bond.

Spesiale vermelding is gemaak van die twee hoof eregaste van die dag, TIN veteraan Johan

Viktor en TIN Veteraan Johann Visage wat in lewende lywe aan die Slag van Ongulumbashe

deelgeneem het op 26 Augustus 1966.

TIN veteraan Johan Viktor

TIN veteraan Johann Visage

Die helde van die dag

Dankbare erkenning aan die persone wat vir die dag verantwoordelik was. ’n Komitee van

TIN lede, Louis Lubbe, Henk Kotzè en Werner Wassermann onder leiding van Kommunikasie

Koördineerder Henk van Heerden het gesorg vir die beplanning, voorbereiding en uitvoering

daarvan tot in die fynste detail. Ons salueer julle!

Veteraan Henk van Heerden

Veteraan Henk Kotzè

Veteraan Louis Lubbe

Veteraan Werner Wassermann

Tradisioneel het veterane aangetree vir groepfoto’s

Vir die res van die dag was daar heerlik gebraai, gekuier en gesels

DIE GESKIEDENIS VAN DIE SA POLISIE TEENINSURGENSIE (TIN) EENHEIDDeur Louis Lubbe soos oorgedra Tydens die gedenkdiens op 29 Augustus 2015

49 jaar gelede het die eerste skote geklap op Ongulumbashe in Ovamboland. Dit word allerweë beskou

as die begin van die Bosoorlog wat 23 jaar lank sou duur – een van die langste oorloë in Afrika.

Nou waar het alles begin?

Teen 1960 was daar slegs 46 blankes in Oos-Caprivi waarvan sewe polisiemanne was. Swart

stamgetalle sowat 15 000. Gedurende Maart 1966 kry die Veiligheidstak van die SA Polisie inligting dat

daar ’n terroriste opleidings basis iewers in Ovamboland bestaan.

Gedurende dieselfde maand word drie insypelaars gearresteer wat die grens naby Rundu na SWA

oorgesteek het. Kapt. Theunis “Rooi Rus” Swanepoel, kapt. Johan Viktor (later generaal) en ander

lede van die SA Polisie Veiligheidstak is per Dakota na Rundu en het die prisoniere teruggebring na

Pretoria vir ondervraging.

Tydens die ondervraging (eina) is waardevolle inligting bekom oor die vyand se toekomstige planne en

die beoogde stigting van terroriste basisse. Veiligheidstak se “Anti Terrorist Unit” (ATU), het opdrag

ontvang om dringende aandag aan die insypelings probleem te gee.

Teen Mei 1966 is lede van Veiligheidstak onder groot geheimhouding op pad na Ovamboland onder die

dekmantel van PASCO CIVIL ENGINEERING wat inligting sou inwin vir ’n geskikte plek in Ovamboland vir

die bou van paaie en ook die oprigting van ’n radiomas. Saam met hulle is ’n “mak terr” wat die taal van

die Ovambo’s praat en die gebied ken. Hy staan net bekend as die “Majoor” ʼn “Mak terr” is ʼn terroris wat

na arrestasie oorgehaal is om homself aan die kant van die van die Veiligheidsmagte te skaar.

Die klompie “siviele ingenieurs” se familie tuis weet nie waar hulle is nie - en ook weet hulle self nie hoe

dit by die huis gaan nie. Vir bykans drie maande swerf die manne van “PASCO Engineering” in

Ovamboland rond totdat daar positiewe inligting kom oor die moontlike ligging van die basis.

Laatmiddag op 22 Augustus1966, verlaat vier van die manne en die “Majoor” die kamp te voet op ’n 50

km-tog in die rigting van Ongulumbashe om die bestaan van die basis te bevestig, en ook om verkenning

te doen om te bepaal of ’n grondaanval op die basis moontlik is.

Ligdag skuil hulle in die bosse en hervat weer die volgende aand hul tog. Halfnege daardie nag kom

hulle wel op die terroriste basis af. Kapt. Swanepoel (die Rooi Rus) en die “Majoor” kruip tot sowat 20

meter vanaf die basis se buiterand. Op daardie tydstip was daar 16 terroriste in die kamp wat met ses

Russiese masjiengewere en ses outomatiese pistole gewapen was. Eenkant vanuit ’n draagbare radio

het Radio Tanzanië geblêr. Swanepoel en die “Majoor” het teruggekruip na waar die ander twee gewag

het.

Die vierstuks stap toe regdeur die nag terug en bereik die PASCO-kamp teen sonsopkoms die volgende

oggend – tot die dood toe moeg en met 100 kilometers se stap agter die rug. Dieselfde agtermiddag

ontmoet hulle vir kol. Dillon en twee offisiere op Ruacana Lughawe om die aanval te beplan. Daar word

besluit om Alouette helikopters in die aanval te gebruik. Vier helikopters is na die Swartkop Lugmagbasis

in Pretoria gestuur.

Honderd-en-vyftig uitgesoekte polisiemanne word uit verskeie eenhede getrek asook lede van die SAW

se 1-valskermbataljon, Bloemfontein saam met kapt. Jan Breytenbach. ’n Strawwe opleiding en super

fiksheid word verseker en die groep moes ook vinnig leer hoe om uit ’n helikopter te ‘abseil’,

“bosvaardigheid” onder die knie kry asook die gebruik van radio’s.

Van die 150 polisiemanne wat aanvanklik genomineer is vir die opleiding is slegs 35 gekies om saam te

gaan buiten die lede van die SAW se Valskermbataljon. Eers op 23 Augustus is almal ingelig oor presies

waarheen hulle op pad is.

Daardie selfde nag is ses Alouette III-helikopters in ’n Hercules gelaai om die volgende dag via

Walvisbaai (waar die helikopters gereed gekry is) na Ovamboland te vertrek en op 25 Augustus vlieg die

aanvalsmag na Ruacana.

Op 26 Augustus 1966, kort na sonsopkoms, styg die eerste helikopter op vanaf Ruacana en vlieg in die

rigting van die Ongulumbashe basis met die “Rooi Rus” as aanvalsmag bevelvoerder en Dillon oorhoofs

in bevel. Nie lank daarna nie klap die skote bokant die basis. Ofskoon ’n helikopter van veraf gehoor

kan word, het dit nogtans die terroriste in die basis verras. Hulle het sekerlik nie ’n lugaanval verwag nie

en het in verskillende rigtings gespat, maar nogtans op die helikopters geskiet.

Vanuit die helikopters is dit met vuur beantwoord. Een terroris het selfs met sy pyl en boog na een van

die helikopters geskiet. Hy het later tydens die ondersoek gesê: “… I dashed off, armed with a bow and

arrows, with which I began to shoot at the Alouettes, which were above and behind me as I ran.

Suddenly I was confronted by raiders pointing their firearms at me so I stood still and raised my hands in

surrender.” Toe dit duidelik raak dat die geveg verby is, het hulle die omgewing gevee. Die aanval het

minder as ’n halfuur geduur – twee terroriste is doodgeskiet, een gewond en agt gearresteer.

SWAPO, meesters van propaganda, het egter op 1 September 1966 ’n verklaring uitgereik dat hulle

slaags geraak het met die SAW en dat 15 SAW-lede gedood en verskeie beseer is …en so begin ’n

gewapende stryd wat 23 jaar sou duur.

John Voster, minister van Justisie kondig die aanval in die parlement aan en op 28 Augustus is dit op die

voorblad van al die dagblaaie.

Gedurende die middel sestigerjare was daar maar slegs 24 polisiemanne in die nie-polisie-sone

(Ovamboland, Kavango, Kaokoland en Caprivi).

Ná Ongulumbashe het die noodsaaklikheid ontstaan om ’n Teeninsurgensie Eenheid op die been te

bring. Ene Kapt. Jan Brand (later kolonel) en vier ander kollegas is genomineer om die

Teeninsurgensie Eenheid te stig. Hierdie lede is eers deeglik deur die SA Weermag in Oudtshoorn

opgelei, en daarna is die SA Polisie se Teeninsurgensie Eenheid (TIN) formeel by die Polisiekollege op

die been gebring.

’n Vriend van John Vorster, destydse Eerste Minister van Suid-Afrika, het ’n plaas naby Rustenburg

gehad. Dié het hy tot TIN se beskikking gestel vir praktiese opleiding. Die teoretiese deel van die ses-

weke opleiding is by die Polisiekollege gedoen en die praktiese deel in Rustenburg. Teen die einde van

die kursus was die lede geskool in die hantering van wapens, handgranate, opstel van hinderlae en teen-

hinderlae, oorlewing en kaart- en kompas lees. Menige polisieman wat hul opleiding op Rustenburg

gehad het sal jou kan vertel van die nagpatrollies wat deur digte bosse Katbos gegaan het, en waarin jy

so verstrengel geraak het dat van jou kollegas jou tussen die dorings moes kom uitkap.

Dit was egter eers ná ’n gewapende aanval op 18 Mei 1967 op 3 polisiemanne wat ’n roetinebesoek aan

’n veerboot op die Zambezirivier gebring het, dat eenhede van die SA Polisie na die noordelike grens

van Suidwes-Afrika gestuur is om die insypeling van terroriste na hierdie gebiede die hoof te bied. Die

siening was dat dit vir die polisie nie veel aanpassing sou kos om die taak te vervul nie – veral in die lig

van sy tradisioneel militêre karakter, paramilitêre opleiding en vermoë om ondersoek te doen en inligting

in te samel.

Polisiemanne is van hul normale bedrywighede in Suid-Afrika onttrek en tydelik na TIN Eenheid

oorgeplaas en ná opleiding in die SWA grensgebied, Caprivi, ontplooi. Die doel was om die hele

grensgebied teen gewapende insypelaars te bewaak, hulle op te spoor en uit te wis en om die plaaslike

bevolking (PB’s) te beskerm.

Polisiemanne is van polisiestasies van oral oor die land en SWA onttrek . Dit was dus glad nie ongewoon

om ’n “plaaspolisieman” van ’n klein stasie in die Kalahari, ’n motorwerktuigkundige van die SAP

Motorhawe, ’n bedrogspeurder van die Handelstak in Johannesburg, ’n lid van die Onluste Eenheid in

Soweto, ’n hofordonnans van die landdroshof in Upington, ’n hondeman van Pretoria,

veiligheidspolisieman van Hoofkantoor in Pretoria, ’n speurder van die Narkotika-tak in Johannesburg, ’n

lid van Brixton se Blitspatrollie Eenheid of iemand van ’n klein driemanstasie in die noorde van

Zoeloeland op dieselfde basis te hê nie.

Dit het gesorg vir ’n kleurvolle potpourri van manne wat drie of vier maande, en selfs langer,

saamgesnoer is onder die vaandel van TIN . Elkeen bring die stories van die wêreld waarin hy werk

sáám bos toe.

In die begin was daar nie ’n ding soos ’n gekamoefleerde voertuig of kamoefleer uniforms nie.

Voetpatrollies het bestaande uit slegs twee lede, watter kans het twee lede wat in ’n hinderlaag inloop?

ʼn Spierwit oop bakkie of oop Land Rover tydens voertuigpatrollies was aan die begin die norm. As ’n

voertuig ’n landmyn afgetrap het, was die kanse goed dat iemand wat agterop is bokveld toe sou wees.

Aanvanklik is lede met ’n swaar khaki oorpak en swaar stewels uitgereik, daarmee sou hulle

voetpatrollies in die versengende hitte stap. Ná die eerste of tweede patrollie is die oorpakke nie meer

gedra nie en die manne het kaal bolyf en sonder keps en met stewels sonder kouse, ’n waterbottel oor

die een skouer en ’n wapen oor die ander skouer gestap. Hulle was bereid om dit te doen.

Een lid wat saam met my op Impalila Eiland was, het elke patrollie slegs in sy sandale (flip-flops) en

onderbroek gestap.

Gedurende September 1967 is die eerste opgeleide lede ook na Rhodesië gestuur. Op 18 Julie 1968

word Danie du Toit doodgeskiet in Rhodesië.

Intussen het die SA Polisie ’n plaas naby Groblersdal (Maleoskop) vir hul berede afdeling aangekoop. Dit

was egter nie geskik vir die doel waarvoor dit aangeskaf is nie en in 1970 is dit aan Genl. Pat Dillon

aangebied om die teeninsurgensie opleidingsbasis daar te vestig.

Die plek was pragtig boomryk, regte bosveld maar verder woes en totaal onontwikkeld. Harde werk het

voorgelê.

Kapt. Jan Brand en sy handjievol kollegas het saam met die lede wat op kursus was, bosse en bome

met pik en panga uitgekap om die basis te help vestig. Alles wat nodig was – wapentuig kos en water –

is elke twee weke na Maleoskop geneem vir die praktiese deel van die opleiding. Twee weke se

teoretiese opleiding in Pretoria en twee weke op Maleoskop. So het dit aangegaan tot in 1974 toe daar

ietwat van ’n meer permanente struktuur op die basis opgerig was. Stadig maar seker het die sentrum

begin vorm aanneem.

Tydens die grensdiens era was daar op enige tydstip 216 kursusgangers besig met opleiding. Daar was

drie afsonderlike kampe met dertig instrukteurs, tien ondersteuningspersoneel en vyftig arbeiders.

Maleoskop is uitgebou tot ’n uiters goed toegeruste opleidings sentrum van wêreld standaard.

Vroeg in 1968 begin SWAPO met sy infiltrasies in die Oos-Caprivi maar die Polisie was een te veel vir

hulle en alreeds teen Maart 1968 is 160 insypelaars opgespoor en verskeie in kontakte gedood. In 1971

en 1972 is daar ’n merkbare toename van terroriste aanvalle op polisiepatrollies asook polisiebasisse in

die Caprivi. In dié tydperk is landmynvoorvalle verantwoordelik vir die dood van 5 polisiemanne en die

verwonding van 35.

Op daardie stadium is TIN eenhede van Ovamboland (SWA) deur die Caprivi tot in Masjonaland

(die ooste van Rhodesië ) ontplooi oor ’n afstand van 2000 km en 54 basisse. Basisse met

pragtige name soos Oshakati, Bagani, Katima Mulilo, Pandamatenga, Shishuma en Kanyenba.

Eenhede soos die “Kit Bag Squad” en PATU (Police Anti terrorist Unit) het nie eens ’n vaste basis

gehad nie. Die manne het twee weke patrollies gestap in versengende hitte oor ruwe terrein,

saans onder sterre geslaap en net gereeld radio kontak gemaak om hul ligging te gee. Aanvanklik

is slegs blanke lede na SWA en Rhodesië gestuur maar sedert Maart 1972 word die eerste

anderskleurige lede saam met hul blanke kollegas noorde toe gestuur vir teeninsurgensiediens.

Polisieversterkings (asook eenhede van die SA Weermag) is gedurende Januarie 1972 na die gebied

gestuur, omdat die SA Polisie eenvoudig nie die mannekrag gehad het om ’n nasionale staking, onrus in

die skole én ander verpligtinge in Namibië gelyktydig te hanteer nie.

Met die polisie se getalle alreeds dun gesaai in die Republiek, het eenhede van die SAW kom hand bysit

en sodanig hul teenwoordigheid in die operasionele gebied uitgebrei dat alle eenhede van die SA Polisie

in 1973 (tydelik) uit die gebied onttrek en deur die SAW vervang is. Die SAP het egter voortgegaan met

sy normale polisiepligte in die operasionele gebied.

In 1973/74 neem die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) die teeninsurgensie verantwoordelikheid by die

SAP TIN oor en word laasgenoemde onttrek maar die SAP bly nog steeds in Rhodesië aan. Op 11

November 1975 verkry Angola sy onafhanklikheid van Portugal en die gevolglike onttrekking van die

Portugese magte aan Angola het die hele noordelike grensgebied toeganklik gemaak vir SWAPO

insypeling na Suidwes-Afrika. 1976 word die SAP weer in SWA se operasionele gebied herontplooi en in

1979 word die Koevoet Eenheid gestig wat tot aan die einde van die oorlog (1989) aanbly. Namate die

Bosoorlog in omvang en intensiteit toegeneem het, het noodsaaklike veranderings plaasgevind.

Teeninsurgensie opleiding, gevegsmetodes, voertuie en selfs die vyand het teen die einde van die oorlog

(1989) ’n heeltemal ander vorm aangeneem as wat dit aan die heel begin (23 jaar vantevore) daar

uitgesien het. Nie meer wit bakkies en oorpakke nie maar hul eie kamoefleer uniform, gekamoefleerde

voertuie en die alombekende landmynbestande Casspir.

Die SA Polisie se TIN-eenhede is in 1975 uit Rhodesië onttrek en in die operasionele gebied (grotendeels

in Ovamboland) herontplooi – ofskoon nie op dieselfde skaal as drie jaar vantevore nie. Dié keer was dit

(aanvanklik) om die SAW behulpsaam te wees en ook om ’n Tuiswag op die been te bring om die

tradisionele leiers teen SWAPO te beskerm maar is in 1985 finaal uit Suidwes-Afrika onttrek.

Koevoet, wat alreeds in 1979 op die been gebring is, sou egter aanbly totdat die laaste skote in 1989 oor

Ovamboland se vlaktes weggesterf het, 23 jaar nadat die eerstes by Ongulumbashe afgevuur is. Op

21 Maart 1990 word die Namibiese vlag gehys oor ’n onafhanklike Namibië.

Vir die volle 23 jaar wat die Bosoorlog geduur het, was daar ’n eenheid of eenhede van die SA Polisie

intensief by dié oorlog betrokke.

Met die onafhanklikwording van Namibië, is SAP TIN eenhede alreeds ontplooi op Suid Afrika se grense

met Botswana, Namibië, Zimbabwe en Swaziland. ’n Nuwe politieke toekoms het voorhande gelê en in

September 1992 word die SAP TIN Eenheid finaal ontbind.

Maleoskop het ongelukkig nie ’n grondeis vrygespring nie. Die plaaslike stam wat aanspraak op die

grond sou maak se voorouers se grafte was op ’n gedeelte van die terrein en, te verstane, wou hulle

vrylik toegang daartoe hê.

’n Onderhandelingsproses tussen die SAP en die plaaslike (bo-Kopa) stam, wat ses jaar lank sou duur

was op die vooraand om hande te skud en ’n ooreenkoms te onderteken toe die bevelvoerende offisier

van Maleoskop, op daardie stadium Kol. Kallie Schuld, uit die bloute ’n oproep van Jackie Selebi

ontvang het om Maleoskop binne twee maande te ontruim! Geen redes vir die besluit is gegee nie.

Teen Januarie 2003 is Maleoskop ontruim en tot op hede bly geen stamlid op die terrein nie. Kakiebos en

roes is al wat van Maleoskop oorgebly het.

Op Maleoskop het daar ’n pragtige beeldgroep tussen die granietkoppies gestaan. Die beeldhouer was

ene brigadier Buks van Staden. Met die sluiting van die basis is die beelde oorgeplaas na die SA

Polisiemuseum in Pretoria. Dit het sy eie verhaal wat daarna met hierdie kunswerk gebeur het.

Ten tye van die onafhanklikheid van SWA was TIN alreeds ontplooi op Suid Afrika se grense met

Namibië, Botswana, Rhodesië, Swaziland, Mosambiek en Lesotho.

Teen 1992 het die winde van verandering ook oor Suid Afrika gewaai en gedurende September 1992

het TIN ophou bestaan. Ons salueer hulle!

DITJIES EN DATJIES OP FACEBOOK

VERJAARSDAE

SEPTEMBER

7 Ilana Loubser 084 579 1269

8 Jeff Chatzkelowitz 082 653 2121

21 Elnic Steenkamp 071 643 1704

23 Petra Swanepoel 082 454 2689

24 JP Swanepoel 072 111 3797

28 Pieter Smit 082 356 7165

OKTOBER

1 Mark Brummer 082 923 0901

6 Robert Cooke 082 781 7571

10 Eldred Niemandt 072 372 3629

13 Schalk Vorster [email protected]

27 Phil Carpenter 083 777 3929

30 Bennet Visser 082 573 2240

HULDE AAN HULLE WAT DIE HOOGSTE

PRYS BETAAL HET

SEPTEMBER16 1974 A/O JP Breytenbach

25 1980 A/O WJ Kok

OKTOBER5 1971 Kapt HTS van Eeden

29 1972 Sers GJ de Klerk

3 1973 Konst RN Otto

1 1974 Konst LJ Buys

1 1974 Konst M Erasmus

4 1974 Konst JW Cloete

7 1974 Sers M Mpahlawa

13 1974 Sers L Weitz

MALEOSKOP BEELDEFONDS

Help ons om ons geskiedenis te restoureer.

Elke bietjie help!!!

MINIATUUR TIN BEELDJIES

• Hou in gedagte dat hierdie beeldjies ’n

BEPERKTE UITGAWE is.

• ’n Bêrekoop opsie is beskikbaar teen 3

maandelikse paaiemente van R500-00 elk.

Bestel by:-

072 407 0786

[email protected]

Horlosies R150-00

HORLOSIE

Bestel by Johannes Wolmarans

072 487 2341 [email protected]

TIN Pet R 70-00

TIN Hemp R180-00

Patches R 50-00

TIN PETTE, T-HEMDE EN PATCHES

Bestel by Henk van Heerden

082 770 5574

[email protected]

TIN wyn bottels R70-00

TIN bekers R80-00

TIN plakkers R5-00

Maleoskop wyn bottels R70-00

TIN BEKERS, WYN EN PLAKKERS

STAANDE EN NUTTIGE INLIGTING VIR NUWE

LEDE

Dra van die seremoniele drag.

Soos vervat in die Grondwet Par 5.3

BELANGRIKE EN NUTTIGE INLIGTING

BESTUUR

Voorsitter: (Waarnemend) en

Sekretaris: Martin Loubser Sel: 084 990 2025 epos: [email protected]

Kommunikasie: Henk van Heerden Sel: 082 770 5574 epos: [email protected]

Tesourier: Robert van Onselen Sel: 079 826 8468 epos: [email protected]

Addisionele lede:

Elnic Steenkamp Sel: 072 184 7703 epos: [email protected]

Robbie Cooke Sel: 082 781 7571 epos: [email protected]

EREPRESIDENT

Johan Viktor (Genl)

Facebook geslote groep (slegs vir TIN lede)

https://www.facebook.com/groups/535440839915941

Linkedin

http://za.linkedin.com/pub/tinveteraan-bond/a1/494/548/

Facebook Page (vir almal)

https://www.facebook.com/coinveteransleague

Indien daar enige iemand is wat in die boek belangstel en ‘n kopie wil aanskaf kan hulle die

skrywer direk kontak by:

[email protected]

082 859 0764

(011) 803 6348

Die prys van die boek is R 350.00

VAN OVAMBOLAND TOT MASJONALAND

KENNISGEWING DEUR DIE REGISEUREk wil dit onomwonde duidelik stel dat die redaksie GEEN verantwoordelikheid neem vir

die korrektheid van die inhoud van jou plasing nie. By ontvangs van jou inset doen ek

die nodige taalversorging en sal maksimum dalk uitbrei op afkortings en TIN terme sodat

ons leke lesers ook verstaan. Dit klink dalk na ʼn snaakse versoek maar moenie plasings

stuur as jy dit nie gepubliseer wil hê nie.

Plasings wat jy op Facebook maak is openbare inligting en sekere plasings word as ʼn

reël van ons groep afgetrek en in die blad geplaas vir diegene wat nie op ons Facebook

groep is nie. As jy ʼn probleem hiermee het moet jy my asseblief laat weet, ons sal jou

versoek respekteer.

Martin Loubser

VERSOEK DEUR DIE REDAKTRISE

Ek wil almal vriendelik vra (ek sal selfs soebat as ek moet) om tog pen op papier te sit

en julle bosstories met ons te deel, ernstig of komies. Die blad sal niks anders as ʼn

inligtingsblad wees as dit nie vir die stories is wat lede tweemaandeliks plaas nie. As jy

nie ʼn skrywer van formaat is nie, moet jy nie bekommer oor spelfoute en

taalkonstruksies nie, die regisseur (Martin Loubser), klap ʼn storie vinnig reg.

Ilana Loubser

Stuur insette, stories, foto’s en ander plasings

na [email protected] voor die 20ste van

Oktober 2015.

Redaktrise – Ilana Loubser Sel: 084 579 1269

Regisseur – Martin Loubser