17
Italië 18 tot 28 September 2008 Plekke besoek: Florence, Rapallo & Portofino, Rome, Napoli, Pompeii & Sorrento, Positano en Amalfi 1. Soos vriend Hein by Aardklop voorverlede jaar gesê het: ‘Elke dag het sy eie klein uitdagingkies’ wat definitief ook geld in ‘n vreemde land: Soos om uit te vind watter bus jy moet kry hoe laat en watter kaartjie jy moet koop en dieselfde geld vir die rit terug? As nuweling gaan jy een of ander tyd op verkeerde bus of trein beland. Klim maar geduldig af en begin van vooraf. Jy moet toelaat vir genoeg tyd vir sulke probleme. 2. Dit gebeur ook met hulle. ‘n Tannie van so 68 jaar klim suid van Napels op die trein met haar fiets wat ‘n mandjie voor het wat lyk of daar ‘n kospakkie (karmenaadjie) en ruiker in is en skielik het sy my aan Alice of Wonderland laat dink. Toe die trein wegtrek vra sy waarheen dit op pad is, en het sy met onsteltenis verneem dat hierdie trein nie na Salerno op pad is nie, maar na Sorrento. Sy het maar by volgende stasie vinnig haar fiets afgestoot. 3. Twee locals wil ook hier op die trein klim. Hulle het tatoeermerke en dra ringe in hulle ore. Jongmense met netjiese sweetpakke (wat seker ‘n sokkerspan is) staan by die portaal binne die kompartement waar die treindeure oopmaak. Hierdie twee vra vir die sokkerspan of die trein Sorrento toe gaan. Maar jy kon die antagonisme sien en die ‘ons hou nie van julle tipe nie’ uitdrukkings. So hulle antwoord nie en hoe meer hulle vra hoe meer strak terugblikke kry hulle van hierdie span. Toe die trein amper wil ry, het ek einde laaste maar toe van agteraf geknik en hulle het onmiddelik opgeklim, deur die sokkerspan geskuur en bedeesd gaan sit. 4. Die verdwaal en disorientasie het definitief iets te doen met die Noordelike Halfrond. Ons van die Suidelike Halfrond en ek spesifiek was totaal gedisoriënteerd in Rome en moes byvoorbeeld eers in ‘n sirkel loop om die strate op te tel waarna jy soek. Eers dan kry jy rigting en weet waar noord en suid is. 5. Dit vat ‘n dag of twee om ‘n stad se busstelsel te verstaan, die patroon, plekke waar jy op- en afklim en ander plekke waar jy opklim oppad terug. Die kleur van roetes en busse, treine, die simbole, straatborde, ens. 6. Dit vat ook ‘n ruk om die treine te verstaan en jy moet op jou aangewese plek sit (kyk op jou kaartjie) anders word jy nou-nou weggejaag. Vind eers jou platform (Binari / Line/ Peron) en tweedens as die trein stop vind dan jou kompartement (Carruzo), derdens, jou sitplek: is dit by venster (Finostrino, 1

Italië Ervaringe September 2008 ou formaat

Embed Size (px)

Citation preview

Page 1: Italië Ervaringe September 2008 ou formaat

Italië 18 tot 28 September 2008

Plekke besoek: Florence, Rapallo & Portofino, Rome, Napoli, Pompeii & Sorrento, Positano en Amalfi

1. Soos vriend Hein by Aardklop voorverlede jaar gesê het: ‘Elke dag het sy eie klein uitdagingkies’ wat definitief ook geld in ‘n vreemde land: Soos om uit te vind watter bus jy moet kry hoe laat en watter kaartjie jy moet koop en dieselfde geld vir die rit terug? As nuweling gaan jy een of ander tyd op verkeerde bus of trein beland. Klim maar geduldig af en begin van vooraf. Jy moet toelaat vir genoeg tyd vir sulke probleme.

2. Dit gebeur ook met hulle. ‘n Tannie van so 68 jaar klim suid van Napels op die trein met haar fiets wat ‘n mandjie voor het wat lyk of daar ‘n kospakkie (karmenaadjie) en ruiker in is en skielik het sy my aan Alice of Wonderland laat dink. Toe die trein wegtrek vra sy waarheen dit op pad is, en het sy met onsteltenis verneem dat hierdie trein nie na Salerno op pad is nie, maar na Sorrento. Sy het maar by volgende stasie vinnig haar fiets afgestoot.

3. Twee locals wil ook hier op die trein klim. Hulle het tatoeermerke en dra ringe in hulle ore. Jongmense met netjiese sweetpakke (wat seker ‘n sokkerspan is) staan by die portaal binne die kompartement waar die treindeure oopmaak. Hierdie twee vra vir die sokkerspan of die trein Sorrento toe gaan. Maar jy kon die antagonisme sien en die ‘ons hou nie van julle tipe nie’ uitdrukkings. So hulle antwoord nie en hoe meer hulle vra hoe meer strak terugblikke kry hulle van hierdie span. Toe die trein amper wil ry, het ek einde laaste maar toe van agteraf geknik en hulle het onmiddelik opgeklim, deur die sokkerspan geskuur en bedeesd gaan sit.

4. Die verdwaal en disorientasie het definitief iets te doen met die Noordelike Halfrond. Ons van die Suidelike Halfrond en ek spesifiek was totaal gedisoriënteerd in Rome en moes byvoorbeeld eers in ‘n sirkel loop om die strate op te tel waarna jy soek. Eers dan kry jy rigting en weet waar noord en suid is.

5. Dit vat ‘n dag of twee om ‘n stad se busstelsel te verstaan, die patroon, plekke waar jy op- en afklim en ander plekke waar jy opklim oppad terug. Die kleur van roetes en busse, treine, die simbole, straatborde, ens.

6. Dit vat ook ‘n ruk om die treine te verstaan en jy moet op jou aangewese plek sit (kyk op jou kaartjie) anders word jy nou-nou weggejaag. Vind eers jou platform (Binari / Line/ Peron) en tweedens as die trein stop vind dan jou kompartement (Carruzo), derdens, jou sitplek: is dit by venster (Finostrino, finostrino? vir venster??) met Nr 34 of langs gang (Corridor) nr 36? Dan sit jy en klaar want jy is moeg gesoek al slepende met jou bagasie.

7. Almal waarsku jou om nie in ‘n taxi te klim nie, want dan vat hulle jou vir ‘n ‘ride’.8. Daar is min bedelaars. Ons was vooraf gewaarsku teen sigeuners maar het nie eers so iets teëgekom nie. Italië

het 60 miljoen inwoners en het seker nie eers ‘n kwart van ons land oppervlakte nie. Maar dit voel nie so nie, want jy sien nie mense wat op die straat drentel of net sit soos by ons nie, so ek dink maar hulle is by die werk.

9. In Italië ry jy aan die regterkant van die straat, jy loop aan die regterkant van die sypaadjie en jy loop aan die regterkant van die trappe op en af.

10.Napels (Napoli) is ‘n ou stad, 3 de grootste in Italië, in die Campania provinsie, vuiler met meer misdaad van die Comorra-familie (soos Mafia?). Sien boek en film getitled Gomorra. Napels se Garibaldi-treinstasie (hoofstasie) en omgewing is vuilerig met infrastruktuuropgraderings wat aan die gang is. Afrikane verkoop Sjinese plastiek crab informeel op strate en blokkeer die sypaadjie. Dit dra regtig niks by tot die ekonomie nie.

11.Napels (Napoli) se verkeer is mal - ek sal nie hier kan bestuur nie. Hulle blaas hulle toeters vir enige-iets (amper soos ons eie irriterende taxi’s) en die ambulanse en noodvoertuie se geloei word aanhoudend gehoor.

12.Napels se Garibaldi-busterminus is bietjie gefragmenteerd (ook besig met bouwerk) maar tog vind jy jou bus. Dis gelukkig op een oop blok of plein geleë. Een oggend so teen 08:00 klim ek op die bus en hoor musiek van buite af. Toe staan daar ‘n jong man wat sing uit volle bors duidelik ‘n liefdeslied, terwyl sy kitaal en nog ander agtergrond musiek deur ‘n amplifier uitgeblaker word. Dit was aangenaam om iemand op daardie deurmekaar en vuil plein te kry wat net laat waai en met gevoel homself laat hoor bo die geraas van die stadsverkeer uit.

1

Page 2: Italië Ervaringe September 2008 ou formaat

13.Altyd teenwoordig teen die agtergrond van Napels is Mount Vesuvius. Hierdie caldera (ondergrondse deel van ‘n vulkaan) is nog steeds aktief alhoewel dit tans in ‘n rusfase is. Tog is die wetenskaplikes baie bekommerd oor die steeds naderende verstedeliking wat al teen die berg se hange opkruip.

14.Ek het my verwonder aan al die klein of stompgat karre wat hulle ry, die baie bromponies en fietse wat self ou mense ry. Kon eers nie die ding van die karre verstaan nie totdat ek een en een bymekaartel. Hulle strate is nou, parkering is min en daar is baie karre. In party strate (voor ons hotel in Napels) het hulle so geparkeer dat een alleen op ‘n slag nie daar sal kan uitkom nie. Baie van hierdie karre het ook die kneusplekke, skuurmerke, stukkende ligte en kantspieëls wat afgebreek het.

15.Florence (Firence) is stunning, oorweldig, outentiek en anders, pragtig, soos ‘n skildery waarin mense werklik lewe. Dis die tuiste van die Renaissance, ‘n kultuurstad met ‘n wêreldberoemde museum soos die Uffizzi waarvoor jy verkieslik vooraf plek moet bespreek, met ‘n indrukwekkende familie soos die Medici, ens. Jy mag geen kamera inbring by die Uffizzi nie. Die boeke oor die Uffizzi se skatte is baie volledig. Ek dink Florence beteken bloeisel en dit is seker een van die mooiste stede in Italië. ‘n Mens raak heeltemal oorweldig deur die ryke kuns skatte en ervarings, jy soort van verloor kop en daar is ‘n amptelike beskrywing vir hierdie gevoel: Stendhal sindroom of Florence sindroom! The Doors of Heaven, die groot katedraal Duomo (Michelangelo se graf is daarbinne), die Uffizzi, die Dawid en baie ander beelde, die Botticini se Geboorte van Venus en baie ander skilderye, die Ponte Vechio, die Standbeelde van Cossimo en andere, die Medici Paleis, Medici se nalatenskappe, Santa Maria Novelle Katedraal en Museum, Academica, ens, ens ens …Wat sal mens sê: "Italy, my Italy! Queen Mary's saying serves for me - (When fortune's malice Lost her Calais) - Open my heart and you will see Graved inside of it, Italy." - Robert Browning: British poet and playwright (1812 – 1889).

(Nota: Die Afrika Renaissance moet dan eintlik ‘n totale mistasting wees, ‘n misplaasde idée).16.In Florence skei hulle voetganger en motorverkeer baie effektief deur kettings aan paaltjies. Die plekke vir

voetoorgange is dan openinge in hierdie hindernisse. Hulle is ook heeltyd besig om ou geboue te restoureer. 17.Rome (Roma) is die Capital, die middelpunt, die idée van ‘n grootse Republiek. Daar is ‘n gesegde: "All History is

a Celebration of Rome". Op al die staatsgeboue en werke staan: SPQR - wat die Latynse afkorting is vir Senatus Populusque Romanus – die Senaat en Burgers van Rome. Of Pontifex Maximus agter name geskryf, sien jy orals veral in die Vatikaan wat die hoogste kerk toekenning is wat mens kan ontvang. Dit kom van die Pagan se tye maar die Vatikaan gebruik nog steeds die term. Dit beteken letterlik iemand wat brue bou met die gode of God.

18.Rome werk soos ‘n bom. Rome se middestad is groot, mooi en baie besig. Rome is ‘n kosmopolitaanse stad.19.Die stad Rome en St Peters Plein, die Coloseum, die Forum, Vittorio Emanuele II se monument is massief en dwing

respek af. Dit gee die gevoel van die middelpunt van die Republiek, die plek van die heerser (Emperor) en plek wat ryk is in geskiedenis. Jy kan nie van die geboue nie op een foto inkry nie. Die skaal sê vir jou dat jy nou by ‘n besonderse plek is. Die Forum in Latyns - Forum Romanum was die spil waarom Antieke Rome se beskawing onwikkel het en is in die middle van die stad geleë. Dit is geleë tussen die Palatine Hill en Capitoline Hill en groot dele word nog verder opgegrawe. Maar daar is lettelik duisende dinge wat jy kan besigtig soos masiewe pilare, dele van geboue, trappe gange, boë, museums, ens., ens. Die Forum is op ‘n vleiland gebou in die 7de Eeu VC. Die St Peters Katedraal en Museum is massief, die mense staan in toue van omtrent ‘n kilometer lank om in te kom. Dis ‘n moet sien maar kan jou maklik 2 dae neem om alles te besigtig.

20.As jy in Rome is maak jy soos die Romeine. Jy eet hulle roomys op die Spanish Steps so vyfuur in die middag saam met honderde ander wat ook op trappe sit of langs die fontein kuier. Hulle het ‘n amperse magiese betowering vir water in die fonteine by hulle pleine. Hulle kuier om die fonteine, drink die water en herdenk die plek waar water die ou Rome aanvanklik binnegekom het by die Trevi Fountain.

21.Die Forumgedeelte, Coloseum en die Capitoline Hill in Rome beslaan omtrent 16 hektaar. Rome en ook Napels lyk partykeer soos ‘n bouerswerf soos hulle die verlede opdiep. So oor ‘n tyd sal mens nog meer van hulle

2

Page 3: Italië Ervaringe September 2008 ou formaat

besonderse verlede sien. Antieke Rome was ‘n baie besige stad met sowat 1 miljoen inwoners. So as “Rome nie in een dag gebou is nie, sal hulle dit ook nie in een dag kan opgrawe nie”. Voor die Vittorio Emanuele II museum staan twee pilare waarop Trajan (Dacian Wars) en Marcus Aurelius se veldtogte (in Germania 2e Eeu NC) spiraalsgewys uitgebeeld word. Dit is so 33 m hoog met spiraaltrappe aan binnekant. Daar is oral nog beelde van al die Emperors. ‘n Orkes het lekker musiek gespeel op die sypad toe ons omgedraai het vanaf die Piazza Venecia wat voor die Vittorio Emanuele II monument is, so 7 uur die aand.“Travel is the ruin of all happiness! There's no looking at a building after seeing Italy”- Fanny Burney (English Writer, 1752-1840)

22.In die Coloseum is mense in die Romeinse tyd vermaak en die program kan soos volg verloop: a) Perdekoets resies, b) Teregstelling van die oortreders of Christene, c) Oorlogsgevegsnabootsing d) Sien jou geliefde Gladiator in gevegte met ander gladiators of selfs met diere, tot die dood toe. (Arena beteken mos sand wat gewoonlik deur bloed gevlek is?) Die Coloseum kon 50 000 mense huisves, omtrent soos Loftus Versfeld, maar kon blykbaar al die mense uitlaat binne 10 tot 15 minute!!?

23.Vir enige besoekers aan Italië se kultuurhistoriese erfenisse is dit baie, baie nodig om die geskiedenis op te lees en dan sorgvuldig die plekke te kies waarheen jy wil gaan. Jy het sowat ‘n jaar voor die tyd nodig want lees gaan jy lees en jy sal nie spyt wees nie en die besoek sal jy dan werklik baie geniet en leersaam vind. Die algemene probleem is dat jy plekke besoek en verby dinge gaan waarvan jy nie die vaagste benul het nie, wie, wat, wanneer en hoekom dit daar is nie. Jy is soos ‘n moroon wat by kunsskatte en ‘n ryke geskiedenis verbywandel in jou slaap sonder om dit agter te kom.

24.Italianers is eintlik ook ‘n mengsel van Romeinse - , Etruskaanse-, Venisiese-, Sabinitiese -, Samnitiese -, Oskaanse-, Liguriese -, Umbriaanse -, asook bietjie Griekse bloed met ‘n baie lang ryk en soms bloeddorstige geskiedenis (soos die res van Europa). Die Etruskane (of is dit nou Etruskiërs?) kom van êrens in Klein Asië en het saam met hulle gebring ‘n geskrewe taal, filosofie, boukuns (indrukwekkende boog of arch), beeld- en skilderkuns, ingenieursvaardighede, wapens, landbou, ens. Die Romeine het laasgenoemde verder ontwikkel en dit met welslae aangewend in die bou van Rome se Forum, Coloseum, Pantheon, dreineringswerke, riolering en water toevoer, ens. Die Venisiërs was baie behendige skeepsbouers en seevaarders, die Sabiniete (die ‘Sabines’ hulle het blykbaar mooi vrouens gehad en Rome het hulle eens gelok na hulle stad toe sodat die Romeine met hulle kon trou) en Samniete was kunstenaars, jagters en het ook landbou beoefen. Die Pantheon (beteken Tempel van al die gode) is in 27 VC deur Marcus Agrippa gebou en later herbou en is dus meer as 2000 jaar oud. Dis die oudste kerkgebou wat nog steeds in gebruik is, eers aanvanklik deur Pagan gelowe gebruik en is toe vir die Rooms Katolieke Kerk gegee in 609 NC met die val van Rome. Ons hare het regop gestaan toe hulle ‘n Christelike / klassieke musiek uitvoering in die Pantheon gegee het in hierdie antieke ingenierswonder met sy gat (oculus) in die dak en die plek was vol mense. Die fondasie van die Pantheon (kyk by sy agterkant) is sowat 6 meter onder Rome se huidige straatopppervlakte.

25.Hulle openbare lewe wentel om pleine. Voor elke groot gebou of katedraal is daar ‘n plein wat die gebou aankondig en ‘ruimte’ daarvoor skep, maar dis ook ‘n aantrekkingskrag weens die mooi beelde of fontein of so-iets, maar is ook funksioneel want dis waar mense bymekaar kom en kuier. Jy voel veilig daar, welkom en wil daar vertoef so lank as moontlik. Hulle stede is meer menslik. Ons moderne stede het hierdie beproefde konsep heeltemal verloor daarom probeer ons in winkelsentrums (soos Irene Mall en elders) veilige, aangename, kuierplekke skep. Hulle was suksesvol in ‘place-making’ in die skepping van ‘sensible places’, meelewende plekke, iets wat ons moderne mens, met sy gejaagde lewe in gefragmenteerde stede, altyd oppad tussen woon en werkplek in sy motortjie, nie meer kan verstaan nie of enigsins onthou nie. St Peter’s Square is massief, Republic Square naby die hoofstasie in Rome, die Piazza della Rotondo voor die Pantheon is alles indrukwekkend. Jy kan nie eintlik Rome te voet aandurf nie, die skaal daarvan is net te groot. "For us to go to Italy and to penetrate into

3

Page 4: Italië Ervaringe September 2008 ou formaat

Italy is like a most fascinating act of self-discovery, back down the old ways of time. Strange and wonderful chords awake in us, and vibrate again after many hundreds of years of complete forgetfulness." - D.H. Lawrence (English Author, Poet, Artist, 1885 - 1930).

26.Na twee dae in Italië het ek ‘n snaakse gevoel van verontwaardiging my beetgepak oor ons liewe land Suid-Afrika. Ek was bewus van ons min kultuur-historiese skatte, ons patetiese regering en landsburgers wat omtrent niks van die geskiedenis opgeskryf het nie. Dit was ‘n gevoel van leegheid en teleurstelling. Selfs Napels, die vuil plek, is stukke beter as ons stede en as hulle depressief oor hulle stad is, weet ek nie wat ons behoort te wees nie. Daar is gedaileerde beskrywings uit die Antieke tye deur baie mense soos die twee Plinys oor Pompeii en sy verwoesting in 79 AD, in antieke Athene oor hofsake en baie ander dinge. Dink aan Plutarch, Aurelis Augustinus en Herodotus wat biblioteke vol geskryf het oor die Antieke tye. Alhoewel skryfkuns reeds 3000 VC ontwikkel is, het Suid-Afrika omtrent geen historiese rekords voor die 17de Eeu nie. As ons ons land wil bemark vir toeriste, sal ons eers meer aandag aan diamante soos die Kruger Nasionale Park moet gee, misdaad moet effektief hanteer word en standaarde (instandhouding, hygiene, basiese maniere) moet gehandhaaf word. Toeriste kan nie staat maak op ons openbare vervoer nie. Ons sal ons land moet regruk!!

27.In die suide van Napels is beide die antieke stede Pompeii en Ercolani (Herculaneum). Pompeii met ‘n geskatte bevolking van so 30 000 in sy gloriedae, is indrukwekkend en daar kan jy sien hoe mense sedert 600 VC gelewe het. Neem Vesuvian treinroete wat jou by Pompeii aflaai. Pompeii is eers deur die locals (Oskans en Samniete) gebou en toe oorgeneem deur die gevorderde Etruskiers en later deur die Grieke en Romeine. Ook die Griekse, Oosterse en Egiptiese invloede is sigbaar in kuns en geskrifte, Tempel van Isis, ens. Jy sien hout lintels, baksteenmure, terracotta teëls, lood en koper waterpype, gebakte klei waterpype en reservoir, kleipotte, cobblestone paaie, vloerteëls, mosaiek skilderye, ander skilderye (frescoes) teen mure, beelde, altare, name van huise, tuine, waterfonteine in strate, kleiwaterpype, betongietsels van mense wat gesterf het tydens uitbarsting, grafte, rioolpype en mangatdeksels. By die Forum (sentrale plein) is groot tempels, markte vir diere, graan, varsprodukte, katoen en materiaal, munisipale kantore, weeghuis, bakkery, wynpars, wegneem eetplekke, bakkerye, materiaal kleurplekke, openbare toilette, openbare baddens met warm en koue water, bordele, finansiele sentrum, podium vir openbare toesprake, ens. Jy kan ook kyk na die arena en gymnasium vir Gladiators, twee ander arenas vir verhoogproduksies, blyplekke van die Gladiators, privaat en ander wonings, stadspoorte en stadsmuur, ens. Ek het aan die sement gevat en probeer verstaan hoekom dit so hard is? Dit het gevoel soos daardie harde dele in ‘n kliphardgebakte baksteen en ek kon nie ‘n merkie maak daarop nie!! Berg Vesuvius se vulkaan het die stad vernietig terwyl dit ook 17 jaar tevore herbou moes word na hewige aardbewings van Vesuvius. Die National Archeological Museum in Napels huisves die meer sensitiewe dinge wat hulle oral uitgegrawe het; duisende muntstukke, juwele, kombuisgereedskap, potte, panne, vase, beelde, wapens, Gladiators se kopskerms, kunswerke, mosaiekwerke, urns, mummies, ens. Ons het nie tyd gehad vir Ercolani nie, maar Pompeii is ‘n belewenis. Rondom die antieke Pompeii is gewone moderne Pompeii. Hulle is nog steeds besig met opgrawings in ou Pompeii. Moet nie iets koop by die stalletjies naby die hek nie, want koeldrank (Coke) kos presies 4 maal (€4.00) meer as elders (€1.00).

28.Deur die hele Italië het ons omtrent niks enkelverdieping geboue gesien nie. Dit gaan oor hulle boustyl maar ook hulle aanpassing by klein en baie steil terreine. Hulle idée is om kompakte stede te bou. As jy trein ry sien jy die klein kompakte Middeleeuse (of nog ouer) dorpies met hulle stadsmure en jy wonder hoe dit daar is, wie bly daar en waarvan leef hulle, wat is vir hulle belangrik?

29.Rapallo (noord-wes kus) is bietjie soos Margate, kleinerige kusdorpie, amper plattelands, besig maar tog ook lekker rustige atmosfeer. Portofino, sowat 15 km verder, is uit die wêreld, - speelplek van die rykes, klein, mooi, idilliese vakansie kusnedersetting wat jy dink mens net op poskaarte kan sien. Toe ons by die strand kom het ‘n

4

Page 5: Italië Ervaringe September 2008 ou formaat

kunstenaar ‘n stuk klassieke musiek gespeel tussen al die rustige vakansiegangers wat ons ervaring van hierdie mooi plek verder verdiep het.

30.Ons het die CinqueTerre dorpies uitgelaat weens gebrek aan tyd en krag. Dis ‘n moet om te besoek en vir ons ‘n teleurstelling dat ons dit nie gemaak het nie. Hulle is klein heuwelagtige, geissoleerde, skilderagtige kusdorpies aan noordwes kus naby Pizza en La Spezia, wat eerder met die trein bereik word. Hierdie 5 dorpies is Manarolla, Vernazza, Riomaggiore, Monterosso en Portovenere.

31.Ongeag waar jy is, is hulle busdienste werklik baie goed, so ook hulle metro en tussenstedelike treindienste. En belangrik die mense gebruik dit, dis baie besig en nie net vir die armes nie. Rykes en middelklas gebruik ook bv treindienste en busdienste. As jy op die internet betaal het en nie ‘n kaarjie het nie, kyk die kondukteur baie vinnig op sy handtoestel en druk sommer vir jou daar ‘n kaartjie uit. Jy voel nooit onveilig op treine of busse nie.

32.In Rome het ‘n busbestuurder (wat nie op diens was nie) vir ons mooi beduie dat skelms kan sien ons is toeriste en hulle sal dan ons rugsakke probeer oopmaak of selfs stukkend sny indien dit op jou rug is. Sy advies is: Hou dit altyd voor jou op jou skoot vas. Maar moenie worry nie, hulle is nie geweldadig nie en sal jou nie aanrand nie.

33.Een aand klim vat ons die bus by die Coloseum terug hotel toe. Ek klim voor in om die bestuurder te vra waarheen hy gaan. Grieta klim agter in, ek weet nie hoekom nie. En toe is dit die verkeerde bus, al wat ek kon doen was om kliphard te skreeu: Griieetta aaff!! wat sy gelukig gehoor het. Die ander passasiers het my betekenisvol aangekyk.

34.Vir advies op stasies soek ons die ‘groen uniform mannetjies’ van Trenitalia, Eurostar of die Metro wat op die treine werk. Hulle help met advies in Engels oor watter treine waarheen geneem moet word.

35.By die busterminus soek ons die ‘blou uniform mannetjies’en hulle is behulpsaam met die busroetes.36.By die busse moet jy jou kaartjie (gewoonlik binne die bus) laat valideer (validate). Jy druk dit in so geel bussie

wat die datum en tyd daarop druk en weer uitspoeg. As jy naby so geel bussie staan in vol bus moet jy maar ander se kaartjies vir hulle indruk en weer terug aangee.

37.By treine moet jy dit (validering) gewoonlik op die stasie doen voordat jy opklim. By busstoppe en by treine, kyk waar is die geel streep en staan agter dit!!

38.Jy koop trein en bus kaartjies by die Bigglieterra of op straat by the Tabaschi wat met ‘n groot T gemerk is. Die Tabaschi is klein straatwinkeltjies wat eintlik koerante en tydskrifte, sigarette verkoop. Maar hulle kan jou ook help deurom die regte kaartjie te koop en hulle sal ook vir jou kan beduie watter bus om te vat en waar hulle bushalte is. Die ding wat ek nog steeds nie verstaan nie is dat jy een dag ‘n spesifieke kaartjie by hulle kan koop en die volgende dag glad nie? Vir apteke het hulle ‘n H soos vir ‘n hospitaalteken wat groen is, jy sien dit oral.

39.Ons het begin praat oor die businspekteurs wat jy nêrens sien nie en toe gedink die mense roofry seker lekker. Net die volgende dag staan ek op die bus en hier kom ‘n ongeskikte Italianer en vra-skree vir my ‘VIETO’. Ek dog toe hy verwar my met iemand, maar na ‘n paar verdere herhalings baie harder slaan hy skielik oor en sê: TICKET! Toe haal ek maar vinnig my kaartjie uit en wys hom ek het dit gevalideer. As jy dit nie doen nie word hulle baie kwaad en kry jy blykbaar ‘n fris boete net daar: €100 of €500? Dit sal in elk geval te veel vir ons wees.

40.As jy onseker is of die bus die regte een is, klim maar voor by die bestuurder in en vra of die bus jou soontoe neem? Hulle kan ook Engels praat. Eenkeer aan die begin het ek eers na ‘n paar kilometres verneem of dit die bus na Portofino is? Die busbestuurder het groter as ek geskrik en gesê ek is WRONG en MUST GO BACK TO THE BIG PLACE so asof ek moet weet waar dit is. Toe hy klaar geskrik het, ek ook, toe besef hy dat ek maar net moet afklim en oorkant die pad is die regte bushalte waarnatoe hy my toe meer beheersd beduie het. Jy wag nooit langer as 20 minute vir ‘n bus nie.

41.Hierdie busse tussen Rapallo en Portofino (seker so 15 kilometer roete) ry kuslangs op nou teerpaaie. Hulle blaas toeters voor elke blinde draai (omtrent al die draaie is blindes) om te waarsku hulle is op pad.

5

Page 6: Italië Ervaringe September 2008 ou formaat

42.Die busroete van Sorrento (suid van Napels) verder suid al langs die Amalfi-kus is ‘n ander soort belewenis. Dis ‘n nou pad langs afgronde en ‘n toeterdrukkery vir die vale. As voertuie van voor kom by draaie stop hulle, moet eers terug en vorentoe by mekaar verbyskuur. Dis die eerste keer dat ek gesien het hulle ry dat van die bagasie bo aftuimel om draaie en toe ons uiteindelik stop in Positano het ‘n medepassier (Sjinees) wat dit nie langer kon verduur nie, maar ‘n kat gaan skiet langs die die eerste trappies wat hy kon kry. Hulle is egter meesters as dit by busbestuur kom want ek sal definitief nie daar met ‘n kar ry nie.

43.Die meeste toeriste was oosterlinge wat soos Sjinese lyk, en almal het hierdie klein hoë tegnologie selfoon / kamera kombinasies wat enige ding afneem wat beweeg of stilstaan. Hulle verstaan ook nie as die personeel binne St Peters “no photos” of “no flashes” aanhoudend met kort onderbrekings skreeu nie.

44.Positano is die prentjie-mooi klein dorpie teen die kus (Under the Tuscan Sun) met ‘n eenrigting in vanaf Sorrento en eenrigting uit na Amalfi se rigting. Hierdie straatstelsel wentel af na die klein strandjie en weer op aan die anderkant uitwaarts. Daar is egter steil trappe wat jou kortpad strand toe vat en telkens hierdie strate kruis. As jy teen die steil berge opkyk dan sien jy oral klein boerdery aktiwiteite: druiwe, perske of olyfbome, ens. Daar is die mooi klein winkeltjies en veral die Lemon winkel moet jy besoek.

45.Ons was herfstyd in Italië en omtrent die hele tyd was ons by die kus. Maar daar is geensins die bedompigheid van die kus soos aan ons Ooskus in Suid-Afrika nie. Jy ruik nie die see nie en jy hoor ook nie die see nie. By ‘n Duitse Gastehuis op die Amalfi-kus wat aan die Middellandse See is, staan heel gepas die volgende: Kleine huis binne loopafstand van die meer. Daar is nie golwe nie en dit laat jou aan ‘n groot pan of meer dink. Die water is helderblou en baie mooi. Daar is heelwat eilande naby die kuslyn en die fotos daarvan lyk so misterieus mooi met die diepblou see, helder lug. Dis seker die Amalfi-kus wat hom laat dig het: “Live in the sunshine, swim in the sea, drink the wild air… “ - Ralph Waldo Emerson (1803 – 1882) American essayist and poet.

46.Hulle boer in stede op klein landerye, met tonnels tussen woonstelle en hoë geboue, teen steil berge oral en dis nie kommersieel en groot soos by ons nie. Hulle benut die grond baie goed, maar steeds lyk dit nie of hulle die omgewing skend of benadeel nie. Dit moet hulle resep vir vars produkte wees elke dag by die mark.

47.Oor algemeen is die mense behulpsaam, as hulle jou verstaan. Moet egter nie vir middeljarige en ouer mense enige-iets vra nie, hulle verstaan doodgewoon net nie Engels nie.

48.Moet ook nie enige-iemand ‘n kombinasie vraag vra in Engels nie soos: Is die goedkoper om met bus te ry na Pompeii of moet ek eerder die trein neem? Vra net ja of nee vrae, wat enkelvoudige antwoorde gee of iets soos wat die bedrag is?

49.Italiaanse vroue hou van mooi lyk, mooi aantrek, grimeer en daai skoene: altyd met mooi, blinkerige patroon daarop of dit nou tekkies is of nie. Mans wat in stad werk trek ook formeel aan grys of swart pakke met wit of effekleurrige hemde. Hulle lyk baie goed.

50.Polisiemanne lyk trots, hulle nasionale polisie (met swart en wit en rooi uniform en swart leerkamaste) lyk baie deftig en dwing gesag af. Daar was ‘n veiligheidswag binne die McDonalds op Garibaldi stasie in Napels wat binne die eetplek op aandag gestaan het, deftig met uniform, hare netjies gekam. Ek dink toe ag dit lyk darem maar mooi al doen hy niks nie. Net toe gaan praat hy met mense wat aangesit het by ‘n tafel. Grieta sê toe dat hy hulle weggejaag het omdat hulle nie iets bestel het nie en sommer net wil sit en rus. Die tafels is vir mense wat wil sit en eet! Hulle munisipale polisie of metro polisie het grys uniforms. Al hierdie polisiemanne kan soort van Engels praat! Die Italianers trek warm aan al is dit nie koud nie.

51.Die son kom later in Italië op en mens sukkel dan om vroeg op te staan. Winkels (behalwe die bar of kafees) maak eers so 09:30 oop. Ek dink die hele Italië word in elk geval dan eers behoorlik wakker.

52.Soos die een professor gesê het: ‘Smôrens dan gaan ons eers bar toe en drink ‘n ekspresso en dit kickstart ons, dan is ons reg vir die dag’. In die môre, orals in die strate ruik jy lekker cappuccino en ekspresso en veral die mans kuier en sit op bar stools of staan by hoë klein ronde tafels en geniet hulle ekspresso. Ekspresso is mos so ‘n klein

6

Page 7: Italië Ervaringe September 2008 ou formaat

ou beteurte koppie met baie sterk koffie daarin. Maar as jy gelukkig is kan jy vra vir ‘Americano’ wat ‘n groot koppie koffie is, net by sekere hotelle. Hulle koffie is smaaklik soos hulle kos. Hulle cappuccino is lekker!! (Het ek my verbeel, maar hulle koffie is sterk en geurig, maar nie galsterig nie?)

53.Jy moet hulle nie aanjaag as hulle kos of cappucino maak nie. Jy kry gevoel dat daar ‘n mate van trots is in wat hulle doen, so wees maar versigtig. Maar die eindresultaat is altyd bevredigend. Ek dink dis ‘n soort van eer vir hulle om goeie kos vir jou voor te sit. Hierdie trotsheid van die Italianers: dis nie die arrogante trots van neerkyk op andere nie, nee, net ‘n netheid, fermheid, ‘n wete en rustigheid van wie hulle is, bloot op die self gefokus.

54.‘n Mens tel bietjie ‘dialek’ of streekverskille in die taal op: Noorde sê: Entrate vir Ingang en in Napels in die suide sê hulle: Ingresso. En Excido is Uitgang. Goeie more is Buon guorno en goeie middag is Bon asera. Hallo en koebaai is net: Ciao. Wat kos dit? is: Quanta costa? You’re welcome is: Prego; Ja is Sie en Nee is No; Thank You is: Grazie. Jy tel so in Italiaans: Een : Uno, Twee : Duo (nie soos ek eers gesê het deo nie, dan weet hy nou regtig nie wat jou besiel nie), Drie : Tre, Vier : Quattro, Vyf : Cinque, Ses : Sei, Sewe : Siete, Agt : Otto, Nege : Nove, Tien : Dieci.

55.Hulle lyk kort van draad as hulle bestuur en blaas toeter en beduie vir mekaar, maar sonder om te ontplof. Hulle gaan maar net weer aan asof niks gebeur het nie, amper gemoedelik. Almal druk maar in om plek te kry in verkeer tydens spitstyd. Hulle stop regtig as daar ‘n mooi vrou oor pad wil gaan of kinders of oumense. Maar jy moet maar voetoorgange gebruik anders sal hulle oor jou ry. Die probleem is dat hulle jaag en as jy oor die straat probeer loop of hardloop (veral by die Garibaldi-plein in Napels) sien jy jou weg tussen karre deur, maar dan kom die bromponies nog vinniger deurgevleg wat jy nie sien nie en dis waar jy jou Moses teëkom.

56.Hulle is lief vir hulle honde, aan leibande op strate, ens., oral sien jy hulle. Hulle tel self hulle honde se glipsies in die strate op. Baie hotelle laat honde toe as deel van die pakket. By Hotel Stella in Rappalo het die eienaar van die hotel se Labrador genaamd ‘Catch’ binne en buite die hotel se ontvangs gelê, al agter die koeligheid aan. Ek dink die regering het wetgewing gemaak toe ons daar was (Sept 2008) om honde op busse en treine te verbied.

57.Dit lyk of alles wat hulle doen, hulle dit tydsaam doen, maar dat hulle moeite doen om alles mooi te maak, so kunstig. Selfs straatname en nommers sal sierskrif wees of omsoom met ‘n blommekrans.

58.Daar is baie baie kerke in Italië se middestede. Partykeer is dit oud en lyk vuilerig, gras groei op dakke maar daar is altyd die pragtige beelde of skilderye van Moeder Maria en Kind of die kruisiging van Jesus. Op die Amalfi-kus pad is daar beelde en skilderye langs voetpaaie en soms is daar ruikers daarby neergesit wat daarop dui dat plaaslike inwoners se geloof nog lewendig is en intiem ervaar word.

59.Die Italianers is verenig as een land in 1861 onder koning Vittorio Emanuele II. Hulle moes oor ‘n baie lang periode in die geskiedenis en op ‘n baie intensiewe en dramatiese en beslissende manier die rol van Moeder Maria en Jesus se kruisiging ervaar het. Hulle was en is nog steeds ontsaglik en oorweldig bewus van Jesus se tyd op aarde en het as gevolg daarvan baie indrukwekkende, gedetaileerde, op groteske skaal en op baie plekke met baie moeite en inspanning, ‘n baie ryke historiese erfenis nagelaat in die vorm van katedrale, massiewe geboue, pleine, museums, kunskatte, ens. Hierdie dinge oorweldig ‘n mens tydens jou besoek en jy kan nie anders as om ‘n diep respek vir hulle te ontwikkel nie en met ander oë te kyk na die nalatenskap van die Roomse Kerk ook in die Vatikaanstad. Konstantyn het die massiewe Arch langs die Coloseum gebou na ‘n suksesvolle veldslag om dit te gedenk. Inskripsie by Arch lees: To the Emperor Caesar Flavius Constantinus, the greatest, pious, and blessed Augustus: because he, inspired by the divine, and by the greatness of his mind, has delivered the state from the tyrant and all of his followers at the same time, with his army and just force of arms, the Senate and People of Rome have dedicated this arch, decorated with triumphs. Hy het in 313 NC met die Edik van Milaan afgekondig dat die Christelike geloof nou aanvaar word in die Romeinse Ryk en Christene mag nie meer vervolg word soos in die verlede nie. Ek verstaan dat hy ‘n teken in die lug ontvang het voor hierdie veldslag wat daarop gedui het dat hy die oorwinning sou behaal en het dit gesien as ‘n Goddelike ingrype en is toe bekeer. Hy het gesien: IN HOC

7

Page 8: Italië Ervaringe September 2008 ou formaat

SIGNO VINCES (Engels: In this sign, conquer). Ons kan dit vandag maar net so aanvaar want toe die Romeine nie meer die Christene vervolg het nie, kon die Evangelie oor die aardbol versprei word.“A man who has not been to Italy, is always conscious of an inferiority, from his not having seen what it is expected that a man should see” - Samuel Johnson (English Poet, Critic and Writer, 1709 - 1784).

60.Hulle roomys is lekker en anders. Jy kry eksotiese soorte soos waatlemoen, spanspek, swart bessie & spumante.61.Die Margaretha Pizza is die oorspronklike pizza van Napels en smaak so lekker eenvoudig soos dit lyk. Die kors is

dun en krakerig en die vulsel is ook dun en smaaklik, eenvoudig. Oor algemeen stop hulle nie hulle pizza’s met te veel vulsel nie en hou dit eenvoudig. Ek dink hierdie pizza moet volgens tradisie en wet net op ‘n sekere manier gemaak word. Hulle gebruik eerder kruie as speserye.

62.Hulle kos is goed, hulle wyn is goed. Hule vrugte en groente is en lyk smaaklik. Daar is iets van hulle toegewydheid of ‘attention to detail’ in hulle kos ook. Maar hulle eet nie ‘gemorskos’ nie. Selfs hulle McDonalds se burgers is met baie beter brood gebou, nie die witbrood spookasem-twak wat ons ken nie en die biefpattei is ook groter. Een keer het hulle nie Coca Cola gehad nie en het toe sommer bier (birra) in die plek daarvan gegee.

63.Hulle croisante is altyd soet en soms met sjokolade of konfyt daarbinne. Ek hou eintlik net van souterige croisante, maar jy eet maar om die dag deur te sien. Hulle hou van broderigheid maar dis lekkerder en meer vullend (swaarder) as ons s’n. Hulle hou van hulle kase en spesifiek Mozzarella kaas, eet dit net so of saam cocktail tamaties.

64.In die middestede (miskien ook voorstede) kry mens nie eintlik supermarkte nie, ook nie drankwinkels nie. Kos koop jy by winkels of restaurante so-ook die wyn en hulle sal vir jou sê waste soort word aanbeveel. Slegs in Rapallo was daar ‘n supermark. In algemeen kry mens nie eintlik hardehout nie, net wyn. Hulle wyn het altyd gaaf geproe al was dit van die goedkoopste wat ek gekoop het (weens die Rand-Euro wisselkoers). Wyn is vanaf so 1 Euro tot sowat 15 Euro per bottel. Maar vir 3.5 Euro sal jy oral regkom. Al die wyn is gewoonlik plaaslike geproduseer. Vesuviana area buite Napels is bekend vir hulle goeie wyn en so ook baie ander plekke.

65.Jy kry drie tipes gebottelde fonteinwater: Aqua Naturale wat gewoon (Stil) is, Aqua Frisante wat effens bruis en Sparkling wat soos ons s’n behoorlik borrel.

66.Hoender is ‘n pollo. Jy kan ook ‘n halwe pollo bestel en beduie hoe lyk ‘n half, soos die man by Rapallo se boeremark, hy wys een UNO met die een hand wat hy dan sny met die ander hand met ‘n vernufige beweging in die helfte ‘deursny’. Perske is iets soos Pesche.

67.Ons was by klein boeremark in middel van Rapallo. ‘n Belewenis met mooi watertand vrugte, effens duur maar baie lekker. Hulle kuier daar, party met hulle honde aan leibande. Hulle verkoop ook blomme, kase en koue vleis, wyne en ingelegde goeters by die mark. Jy kry die idée hulle boer op klein skaal, nie kommersieel nie, sit baie moeite in hulle vars produkte. Hulle cocktail / Roma tamaties smaak soet en suur en is helderrooi. Ons het 1½ kg druiwe daar gekoop en dit binne 20 minute opgeëet.

68.As hulle aande restaurant toe gaan dan eet hulle en kuier hulle. Ons kelner was baie teleurgestel toe ons na die pizza opspring en die rekening vra. Hy het juis begin beduie watse soort spesiale visgereg hulle die aand gehad het en ons kon sien ander wat reeds daarmee besig was. (Pizza is ‘n voorgereg, weet hierdie dom toeriste dit dan nie?) Na die pizza sal hulle ‘n hoof-visgereg stadig wegpak saam met ‘n bottel wyn of twee, ‘n broderige nagereg en as jy weer sien is dit reeds sekerlik 23:00. Hulle kuier en geniet dit terdeë. Hulle jaag nie. (behalwe in die verkeer). Ek dink die Europese lande aan die Middelandse See is almal omtrent dieselfde wat betref kos en wyn: Hulle hou van goeie smaaklik en eenvoudige kos en mors nie hulle tyd met wyn of koffie wat ondrinkbaar is nie.

"They eat the dainty food of famous chefs with the same pleasure with which they eat simple, peasant dishes, mostly composed of garlic and tomatoes, or fisherman's octopus and shrimps, fried in heavily scented olive oil on a little deserted beach." - Luigi Barzini, ‘The Italians’ (1964). One of the nicest things about life is the way

8

Page 9: Italië Ervaringe September 2008 ou formaat

we must regularly stop whatever it is we are doing and devote our attention to eating”. - Luciano Pavarotti and William Wright, ‘Pavarotti, My Own Story’.

69.By die Creative City kongres by Federico II Universiteit (gestig in 1224) in Umberto Coarseway in Napels was hulle baie behulpsaam en vriendelik en het uit hulle pad gegaan om vir my etekaartjies te gee, notaboek en CD van al die papiere wat gelewer is ens. Van die papiere was baie goed. Ander het hulle sommer gestop nadat hulle die aanbieder gedreig het om op te hou praat. Amerikaners was baie krities oor hulle regering en die bail out planne vir die banke en een het voorspel en dit vir ons almal neergeskryf dat oor 2 maande gaan VSA ‘n resessie tegemoet. Een professor het gesê die regering se planne kan nie werk nie kan nie want hulle is te STUPID. Bly om te hoor ander smaak ook so ‘n ou ietsie van ons probleme. Die kongres was ietwat deurmekaar, spreekbeurte verander sonder aankondigings, sprekers word nie voorgestel nie en eers na ‘n ruk kom jy agter wie is nou eintlik aan die woord is en waar trek ons op die program. Daar was egter ‘n lewendige vertalingsdiens agter die skerms aan die gang. Jy moes net die kopfone aansit en inskakel by Engels of Italiaans. Hulle vertalings is ook soms onsamehangend, maar ek dink dit is hoe sommige Italianers praat en dink. Die kongres het so 20:00 elke aand opgehou. Een Amerikaner se aanbieding het heeltemal verkeerd begin toe hulle nie die skootrekenaar se program of projektors aan die gang kon kry nie en toe raak hy aan die beduie en slaan met sy hand die mikrofoon raak en sê hard: “O SHIT” wat jy duidelik in die kopfone kon hoor. Min het gelag want die meeste is Italianers en Europeërs. Ek wonder hoe dit vertaal sou kon word? Sy aanbieding was darem goed gewees.

70.Een aand so teen 18:00 uur het stem uit die kopfoon gesê dat hy nou moeg is. Ek het gekyk na die spreker wat glad nie moeg gelyk het nie, en toe gewonder wat nou aan die gang is. Die stem het gesê dat hy nou koffie gaan soek en dat die vertaaldiens tydelik opgeskort is. Die vertaler het na my toe geloop (seker omdat ek senior lyk en grys is) en soort van verskoning gevra dat die diens nou eers gestaak is sodat ‘n koffie-breek geneem kan word. Ek het beleefd dankie vir die vertaaldiens gesê en dat dit nie ’n probleem is nie en maar verder gemaak-luister na die Italianer se onverstaanbare gebrabbel. Dit was nogal lagwekkend.

71.Federico II Universiteit (Napels) se professore was was uiters krities teenoor hulle eie Burgemeesteres ene Rosa Iervolino wie se termyn net daarna verstryk het. Hulle het gesê sy het nie die misdadigers vasgevat nie, iets wat sy in haar toespraak soort van erken het. Die geagte professore het morbied en depressief gelyk as hulle oor Napels praat en hoe alles agteruitgegaan het (en dit alles by ‘n internasionale Creative City kongres in Napels waar hulle die gasheer is!!). Hulle het gesê dat stedelike vernuwing moet deur moet sekere waardes onderlê word, wie se waardes word geneem? Want die Burgemeesteres s’n was duidelik nie aanvaarbaar nie. Eers lank daarna kom ek in die nuus agter dat die Mafia van Napels is die Comorra familie wat baie probleme veroorsaak. Hulle vullis is nie verwyder nie weens vol asgate en baie het gesê (in koerante) dat dit ook Comorra se skuld is. Die Kardinaal Aartsbiskop Crescenzio Sepe van Napels het hierdie konflik so beskou: “it exists the beauty and the awful of Naples, but to me it doesn't exist a fractured or selective love. The first concern of those who love Naples is, like the good Samaritan, its wounds, because this is the only way for making real the full and total sharing link." Goed gestel, 10 uit 10 vir jou Cressie ou kêrel!

72.Die professore het ook hulle uiterste teleurstelling (gatvolheid) duidelik te kenne gegee oor hulle stad (Napels) se vertragings in die publieke vervoerprojekte wat al in 2009 moes klaar wees en nou eers in 2012 voltooi gaan word weens kapasiteitsprobleme in die stadsraad. Ek het skielik tuis gevoel in Napels want in Suid Afrika is kapasiteitsprobleme … en die ewige gestruggle … endemies. Ek het nagelees dat hierdie ‘n Europese Unie gesteunde projek is wat nou ‘n groot verleentheid vir die stad en die land geword het.

73.Snaakse uitsprake van die Italianers: Cultural – koel-tril; Based – bas-set; Turnover – toen-ovr; Small – smal.74.Italianers by die kongres praat emosioneel en as jy nie hulle verstaan nie klink hulle heftig of selfs kwaad.

9

Page 10: Italië Ervaringe September 2008 ou formaat

75.Dit is duidelik dat die Europese Unie ‘n faktor geword het in al hierdie lande: hulle nommer plate het die afkorting en wapen van die EU in, voor groot geboue wapper die vlag van die EU, die EU finansier groot projekte en hulle betaalmiddel is die Euro, ens.

76.Italianers moet baie goeie bouers en konstruksie-mense wees. Hulle het seker honderde tonnels deur berge gebou vir die treine en paaie orals oor. Paaie teen die steil afgronde en geboue wat wegsmelt in rotswande.

77.Op TV het hulle omtrent alles in Italiaans vertaal van CSI tot Samantha Who. Dit klink nogal baie, baie snaaks. Maar hulle saai ons Currie Cup lewendig en soms na die tyd uit. Ek het 2 wedstryde gesien. So iemand daar dink seker dat ons hulle iets van rugby kan leer. Oor hulle taal en godsdiens kom ‘n mens tot die gevolgtrekking dat hulle niks anders nodig het nie, dankie!

78.Hulle het nie juis groot ‘petrol vulstasies’ in die stede nie. Dis gewoonlik net so ‘n 3-4 meter strook op die sypaadjie waar daar plek vir ‘n kar is om langs te stop, 2 operators, een plastiese stoel en ‘n emmer met lap binne en draad oliestaander met oliehouers, sambreel of eenvoudige klein afdakkie en die 2 of 3 pompe vir brandstof.

79.Amalfi was verste suid waar ons gedraai het. Jammer ons kon nie Isle of Capri besoek het nie, hulle sê dis ‘n moet. Amalfi is ‘n klein ouerige kusdorpie en het regoor die hoofstrand ‘n plein wat jy net sal ontdek as jy binnelands drentel deur die Porta della Marina. As jy eers daar inkom word jy bewus van die groot kerk met sy baie trappe na die ingang, ‘n waterfontein en beeld in die middel van die ouerige plein, die reuk van cappuccino en ander kos, jy sien al die klein winkeltjies, restaurant sitplekkies met sambrele, vrugte in rakke en droë chillies in bossies vasgebind, keramiekbordjies, poskaartstaanders, uithang ysternaamborde en lampe. Daar is blomme in ‘n vaas by die beeld in die middel van die fontein neergesit. Jy raak bewus van al die mense wat daar rondstaan, party met hulle honde aan leibande, mense wat op die trappe sit, by die fontein se rand sit en werk op ‘n laptop of rondkyk, koerant lees, fotos neem en kuier of iets geniet en jy hoor hulle sagte geklets en gewerfskaf. Dubbelverdiepinggeboue met balkonne, met blompotte waaruit rankers uitrank oor die reëlings, verandas en houtraamvensters kyk af op die plein. Helderkleurige blomme in blompotte versier die plein en balkonne. Die plek voel tydloos en dit trek jou aan. Jy voel welkom daar. Hierdie lekker het ons beleef by die Trevi Fountain en die Spanish Steps in Rome, die mark, sypaadjie in Rapallo, strande in Portofino en Positano, middedorp van Sorrento en Florence, maar jy sal dit beslis ook ervaar in die omliggende Tuscany, asook in die Cinqueterre dorpies. "I love the language, that soft Latinate, which melts like kisses from a female mouth, and sounds as if it should be written on satin with syllables which breathe of the sweet South." George Gordon Byron, 6th Baron Byron: English poet and a leading figure in Romanticism (1788 - 1824)

80.Hoe sluit mens af na so ‘n vreemde maar tog aangename ervaring? Italië en sekerlik Europa is ‘n moet sien vir Suid-Afrikaners. Jy sal dan ook moet sê: "Italy is a dream that keeps returning for the rest of your life."Anna Akhmatova: (Anna Andreevna Gorenko) - Leading light in the Saint Petersburg tradition of Russian Poetry (1889 1966).

Met groot dank aan ons kinders Carien en Bredenkamp van der Merwe wat ouma en en die honde en die huis opgepas het en Carien wat goeie navorsing vooraf gedoen het en ‘n uitstekende gids oor Italië saamgestel het.

Lukas & Grieta van der Merwe Pretoria 2009

10