8

Click here to load reader

PR10042011

Embed Size (px)

DESCRIPTION

Joh19:26-27 Joh 19:28 Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” • Jesus het God se opdrag uitgevoer. Hy het die doel van God met sy lewe bereik – al was dit op 33 jarige ouderdom. In gehoorsaamheid gee Hy sy lewe aan die Vader oor. • Daar kom ‘n punt waar ‘n mens nie meer bid vir genesing nie, maar vir berusting. Bid vir sterwensgenade om te kan laat gaan. Die dood is vir die persoon wat ly ‘n uitkoms, ‘n verlossing van die aardse smart en pyn. Luk 23:46

Citation preview

Page 1: PR10042011

Sondag 10 AprilIn die skadu van die dood

Skriflesing: Joh 19:17-29; Luk 23:44-46

Die onderwerp van die dood is nie net vir begrafnisse nie. Wie oor die

lewe wil praat, kan nie anders as om oor die dood te praat nie.

Sonder die dood kan ons nie menslik wees nie, en tog vat die dood

alles van ons weg wat menslik is! Die dood is vir die moderne mens

wat op die hier-en-nou ingestel is, ’n bedreiging. Die werklikheid van

die dood word ontken deur nie daaroor te praat nie of om dit sover as

moontlik te vermy. Mense sterf in hospitale en ons hou ons kinders

weg van siekte en begrafnisse. Dood is iets wat net met ander

mense kan gebeur en waarvan ons net op die TV en in flieks sien.

Toe daar vir ’n seuntjie gesê is: “Jou oupa is dood”, het hy gevra:

“Who shot him?” Dit is sy verstaan van die dood.

Omdat die dood dié een aspek is waaroor die moderne wetenskap

nie beheer het nie, word die sterflikheid opgebreek in siektes wat

gediagnoseer en behandel kan word – dikwels teen astronomiese

kostes. Daar word altyd gepraat oor die moontllikhede van herstel en

nie oor die moontlikheid van die dood nie. So word mense

onvoorbereid gelaat op die werklikheid van die dood.

Die lyding en die sterwe van Jesus konfronteer ons met die

moontlikheid en die werklikheid van sy dood – óók van ons eie dood.

Daarom moet ons in hierdie tyd van die kerklike jaar daaroor met

mekaar praat. Die kruiswoorde van Jesus gee vir ons ’n insig oor hoe

Hy sy sterwe hanteer het – en help ons ook in die proses.

‘n Mens kan skielik te sterwe kom of dit kan ’n gestadige proses wees

as gevolg van veroudering of kroniese siekte. Of die dood kan ’n

geweldadige gebeurtenis soos die kruisiging van Jesus wees.

Page 2: PR10042011

In die skadu van die dood is daar vir Jesus nog sake om af te handelJoh19:26-27 Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief

was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” 27Daarna sê

Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het

die dissipel haar in sy huis geneem.

Vir oulaas neem Jesus verantwoordelikheid vir die versorging van sy

moeder op sy skouers. Jesus het geweet wat die lot van ‘n weduwee

in daardie samelewing was. Die taak om om te sien na sy moeder,

wat eintlik die verantwoordelikheid van sy tweede oudste broer was,

gee Hy vir sy dissipel Johannes. Hy verklaar sy geestelike broer, die

seun van Maria en vir Maria die moeder van sy geliefde dissipel. So

behoort mense in die geloofsfamilie as broers en susters vir mekaar

te sorg!

In die lig van ons eie kwesbaarheid en die werklikheid van die dood

wat ons soos ‘n skaduwee volg, is daar is sake wat ons voortdurend

in orde moet kry. Jakobus sê: “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe

môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en

sommer weer verdwyn” (Jak 4:14). Dit gaan om ‘n

lewensingesteldheid in die lig van ons eie kwesbaarheid. Ons sal nie

vir ewig op aarde wees nie.

Baie moeite en verdriet kan mense gespaar word as daar betyds

gepraat en reëlings getref word oor die dinge wat belangrik is.

Sorg altyd dat jou finansies in orde is? Weet die vir wie jy

verantwoordelik is, wat daarmee aangaan?

Is daar voorsiening gemaak vir die versorging en behuising vir die

wat agterbly as jy sou wegval?

Page 3: PR10042011

Kan die wat agterbly sonder jou aangaan in praktiese sake:

Rekenings, onderhoud by die huis, ens. Hoe dikwels gebeur dit

dat ‘n man sy vrou so oningelig en selfs afhanklik hou, dat hulle

totaal verward en hulpeloos is as die hy wegval!

Weet jou naasbestaandes wat jou wense is ten opsigte van die

begrafnis? Verkies jy ‘n ter aarde bestelling of ‘n verassing?

Het jy ‘n behoorlike testament ? Is daar met al die

belanghebbendes gepraat?

Is daar ‘n Lewende testament wat bepaal wat met jou moet gebeur

as jy lewensonderhoudende mediese sorg nodig het? Gaan praat

met jou dokter daaroor?

Is daar verhoudings wat reggestel moet word?

Is daar onopgeloste konflikte, woede, haatdraendheid of

onvergewensgesindheid? Stel dit reg voordat dit te laat is. Spyt

kom dikwels te laat.

Miskien is vandag die dag om aandag te gee aan die dinge wat jy

dikwels geneig is om uit te stel!

In die skadu van die dood is daar behoeftes om na om te sienJoh 19:28 Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en

sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

Dit is wonderlike dat die woorde van Jesus vir ons opgeteken is:

“Ek het dors”. Hoe dikwels het ek nie al die dors gesien as gevolg

van die koors nie. Ons moet bedag wees op mense se fisiese

behoeftes wanneer hulle swaarkry.

Maar in die aangesig van die dood is daar ook intense emosies.

Daar is ’n angs en vrees vir die onbekende. Daarom is die vraag

dikwels of ons aan mense moet sê dat hulle besig is om te sterwe.

Sal ons hulle nie laat hoop verloor nie? En omdat ons bang is vir

Page 4: PR10042011

hulle reaksie, laat ons hulle dikwels onvoorbereid op die

werklikheid van die naderende dood. Is dit nie liefdeloos nie?

Die kuns van die ondersteuning van die persoon is om so naby die

persoon te kom om te kan ontdek wat die persoon weet en wil

weet - én die moed te hê om daaroor te praat. So word die ruimte

geskep waar die persoon veilig voel om te praat en sy vrees en

angs te deel.

Die mees algemene vrese en bekommernisse is:

Die vrees vir eensaamheid, pyn en lyding.

Die verlies van jou waardigheid en beheer oor jou

liggaamsfunksies.

Die verlies van jou familie, vriende, van jou eie identiteit en jou

liggaam wat jou in die steek gelaat het. Hierdie gevoel word

uitgedruk in die woorde:”Ek is net ’n oorlas vir julle”.

Mense twyfel op hulle sterfbed of hulle saak met die Here reg is.

Of hulle genoeg gedoen het om die Here tevrede te stel.

In die skadu van die dood moet daar ’n punt kom wat jy gereed is om oor te geeLuk 23:46Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees

oor.”

Jesus het God se opdrag uitgevoer. Hy het die doel van God met

sy lewe bereik – al was dit op 33 jarige ouderdom. In

gehoorsaamheid gee Hy sy lewe aan die Vader oor.

Daar kom ‘n punt waar ‘n mens nie meer bid vir genesing nie,

maar vir berusting. Bid vir sterwensgenade om te kan laat gaan.

Die dood is vir die persoon wat ly ‘n uitkoms, ‘n verlossing van die

aardse smart en pyn.

Page 5: PR10042011

Elke mens moet die punt bereik waar jy bereid is afskeid te neem.

Die punt waar jy bereid is om jou familie, jou vriende, jou werk, jou

leefstyl en helaas ook die lewe self te laat gaan. Daarmee gaan

baie emosies gepaard en mense reageer verskillend. Daar is

ontkenning, woede, verslaentheid, hartseer of onttrekking.

By Jesus was daar ‘n stille berusting. Die werk wat Hy moes doen,

het Hy gedoen. Hy kan in vrede sterf en Homself in die hande van

sy Vader oorgee.

Daarom kan ons weet dat die dood in Christus oorwin is. Hy het

die angel van die dood weggeneem en in Hom is die dood die

deurgang tot die ewige lewe. Daarom kan die gelowige steeds

hoopvol wees in die aangesig van die dood. Eintlik lê die beste

nog voor!

Die oomblik van sterwe is vir die gelowige die laaste geloofstap in

sy/haar lewe.

Pragtig word dit verwoord in die woorde van Lied 562:

Ek weet aan wie’k my toevertrou het,

Al wissel dan ook dag en nag;

Ek ken die Rots op wie ek gebou het,

Van wie ek al my heil verwag.

Eens aan die einde van my lewe

sal ek, van dood en sonde vry,

vir al U seën en goedheid, Here,

U nuut my dank- en loflied wy.

Lied 562:4

Hulle wat vir Christus gelewe het, kan in Christus sterwe met ‘n

geloofsbelydenis wat oorgaan in dank- en ‘n loflied!