Upload
zander-van-der-westhuizen
View
217
Download
0
Embed Size (px)
DESCRIPTION
Ek glo aan genade daarom leef ek uit dankbaarheid
Citation preview
Sondag 27 Oktober 2013
Hervormingsondag: Ef. 2:1-10
31 Oktober staan in ons kerk as Hervormingsondag bekend. Die NG
Kerk staan in die tradisie van die Hervorming waarin Martin Luther ’n
belangrike rol gespeel het. Nadat Luther op 2 Julie 1505 in ’n geweldige
donderstorm beland het en die weerlig ’n boom langs hom omgeslaan
het, het hy in sy doodsangs belowe om ’n monnik te word as die Here sy
lewe sou spaar. Hy het sy belofte gehou en het by ’n Augustynse
klooster aangesluit. Luther het groot erns met sy godsdiens gemaak en
was ’n uitstaande student. Op 29 jarige ouderdom is hy as ’n professor
in Bybelse Teologie in Wittenberg aangestel. Ten spyte van al sy studies
kon hy nie innerlike vrede kry nie. Hy was altyd bang dat die Here hom
sou straf omdat hy nie genoeg gedoen het om ’n regverdige God
tevrede te stel nie. Totdat hy in Rom. 1:17-18 ontdek het: “In die
Evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde
vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar
geskrywe staan: „Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat Hy
glo, sal lewe‟”. Dit was die keerpunt in sy lewe.
Vandaar die vier solas (alleen-) van die Hervorming: Christus alleen
(solus Christos), genade alleen (sola gratia); geloof alleen (sola fidei) en
Skrif (Bybel) alleen (sola Scriptura).
Luther het op 31 Oktober 1517 sy 95 stellings op die kerkdeur van
Wittenberg vasgespyker . Daarin het hy die sake uiteengesit waarvan hy
van die Roomse kerk verskil het. Die stryd wat daarop gevolg het, het
uitgeloop op die Hervormers wat uitgeban is uit die Roomse Kerk. Daar
word nou reeds beplan vir die 500 jarige herdenking van die Hervorming
in 2017.
Wanneer Luther in die stryd om die waarheid van die Evangelie gevoel
het dat dit vir hom te veel word, het hy terug gegryp na sy doop. Dit word
aangrypend beskryf deur die gedig van Neels Jackson oor Martin
Luther.
Martin vat aan sy voorkop
as die blitse om hom slaan
en die klipkerk se mure te dun is
om die kommer na buite te ban.
Martin vat aan sy voorkop
asof hy die doopwater nog kan voel
die koel lafenis van God se genade
wat oor sy babagesiggie spoel.
Martin vat aan sy voorkop
asof sy oumansvingers vat
aan die oeroue beloftes van God
met die water wat oor hom spat.
Martin Luther vat aan sy voorkop
en voel hoe sy hart bedaar.
Worstel ons ook soos Luther met die vraag of ons genoeg gedoen het
om ’n regverdige God tevrede te stel? Het ons klem op God as ’n God
van liefde, nie dalk vergifnis goedkoop gemaak nie? Vergeet ons dalk te
maklik watter duur prys die vergifnis van my sonde gevra het? Ons moet
onthou dat dit die lewe van sy eie Seun gekos het. Daarom behoort die
lewe van Christene anders te lyk as die van ander mense. Uit hulle
optrede behoort dit duidelik gesien te word dat hulle dankbaar vir die
verlossing wat hulle ontvang het nie.
Wanneer God ons verlos, het Hy ’n doel met ons lewe. Ons lewe nie
“meer t.w.v. vir onsself nie”. Mense wat eers die koninkryk van God soek
is mense wat uit dankbaarheid lewe omdat hulle in Christus uit genade
verlos is. Watter dinge behoort deel te wees van ons lewe uit
dankbaarheid?
Aanbidding: In die erediens is ons besig met die Woord, die gebed en
die viering van die sakramente. Hierdie lewe van aanbidding word
voortgesit in die lewe van elke dag waar ons in die teenwoordigheid van
die Here ons werk doen en met mense omgaan.
Omgee vir mekaar: Nie net met woorde nie, maar ook (juis) met dade.
Ons maak tyd vir mekaar, bemoedig en ondersteun mekaar, gee ons
geld en ons gawes, neem deel aan projekte wat ’n verskil in mense se
lewens kan maak. Daar word vertel dat in die 3e eeu met die pokke-
epidemie toe almal die siekes in die steek gelaat het, dit die Christene
was wat hulle versorg het – selfs ten koste van hulleself. Dit het
aanleiding gegee tot die grootste groei in die geskiedenis van die
Christelike kerk. Só dat die Christelike Kerk onder Konstantinopel die
Staatskerk geword het. In ’n land van armoede en ellende word ons
dikwels beskaam deur ander gelowe se vrygewigheid soos die “Gift of
the givers”. Ons grootste verleentheid in die land, kan ons grootste
geleentheid word wanneer ons ons lewe wy aan die goeie dade
waarvoor God ons bestem het. Van hierdie diens word ons nooit
vrygestel nie, hier is nie ’n aftreedatum nie, net ’n sterfdatum.
Getuienis: Die manier waarop ons die Here aanbid en die manier
waarop ons vir mekaar omgee, lewer die duidelikste getuienis van wie
ons is as mense wat uit genade verlos is en uit dankbaarheid lewe. Die
Seisoen vir Menswaardigheid waarop ons Sinode, saam met die ander
kerke van die familie van NG Kerke besluit het, kan ons daarin help.