28
Gereformeerde Kerk Innesdal 80 Jaar van Genade April/Mei 2018

80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

  • Upload
    others

  • View
    2

  • Download
    0

Embed Size (px)

Citation preview

Page 1: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

1

Gereformeerde Kerk Innesdal

80 Jaar van Genade

April/Mei 2018

Page 2: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

JAARGANG 9 NOMMER 4/5: APRIL/MEI 2018

Redaksielede en medewerkers

Naam Telefoon E-posadres

Seakle Godschalk 082 395 7582 [email protected]

Frans du Plessis 082 881 8280 [email protected]

Corrie Pretorius 072 741 7829 [email protected]

Elsa Godschalk 012 335 4810 [email protected]

Medewerkers:

Hermien Söhnge 073 822 9333 [email protected]

Kerkkantoor

Sr Hettie Beetge: [email protected], tel 012 331 1230, faks 086 275 6815

Kantoor is in die huis langs die kerk.

Tye: Maandag (0800-1200), Woensdag (0800-1200) en Vrydag (08:00-13:00)

Webadres: www.gksa-innesdal.co.za

Advertensies Besigheidsadvertensies kos R55 per kwartbladsy of R90 per halfbladsy per uitgawe.

U advertensie sal ook op die webblad geplaas word. Lidmate wat nie-

besigheidsdienste wil adverteer, kan dit gratis onder Klein Advertensies doen.

Bankbesonderhede

Lidmate wat bydraes direk in die kerk se bankrekening wil inbetaal, kan dit doen by

Absa, Tak: Ben Swartstraat, Rekeningnommer 050341801, naam Gereformeerde Kerk

Innesdal (gebruik asb u naam as verwysing vir die inbetaling).

Die Wingerdstok (of wynstok)

“Ek is die ware wynstok, en My Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug

dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodit dit meer

vrug kan dra.”

“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want

sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5

Page 3: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

1

INHOUDSOPGAWE

1. Van die Redaksie 1

2. Skrifoordenking 2

3. Lief en leed 5

4. Welkom 6

5. Afskeid 7

6. Van en vir die Susters 7

7. Bybelstudie – Dinsdagaand 7

8. Van die Kerkraad 8

9. Die Finansiële Situasie van ons Gemeente 8

10. Perie en Marinda van Niekerk 11

11. Kerknuus uit Pretoria 12

12. Vakature 13

13. Die Hervorming (4) 14

14. Philippus Jacobus Wilhemus Schutte (2) 18

15. Die Bybelgenootskap van SA op pad na 2000. Lena se nuwe

Testament 21

16. Psalmboektoepassing vir selfone en tablette 23

17. Heilige Grond 24

18. Boekbekendstellings 24

VAN DIE REDAKSIE As deel van die pogings om uitgawes te verminder en ook om voorsiening te maak

vir tegnologiese vordering en voorkeure van lidmate, is besluit om Die Wingerdstok

voortaan in elektroniese formaat beskikbaar te stel aan lidmate wat dit so verkies.

Lidmate sal in die toekoms drie keuses hê:

Ontvang Die Wingerdstok in gedrukte formaat soos tot op hede gedoen

Ontvang Die Wingerdstok in elektroniese formaat [pdf] per epos.

Laai Die Wingerdstok af van die gemeente se webblad [pdf]

Vir hierdie uitgawe sal ons as proefneming aan alle besoekpunte waarvan ons

eposadressse het, Die Wingerdstok per epos stuur. Alle lidmate sal ook, soos

gewoonlik, die gedrukte weergawe ontvang.

Lidmate wat verkies om Die Wingerdstok voortaan per epos te ontvang of self van

die webblad af te laai in plaas van om ‘n gedrukte kopie te ontvang word versoek

om my te laat weet by [email protected] sodat ons ‘n spesifieke eposlys

vir Die Wingerdstok kan ontwikkel en die aantal gedrukte kopieë dienooreenkomstig

kan verminder.

Br Seakle Godschalk

Page 4: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

2

Die lewe in die paradys of hiernamaals

Jy het seker ook al gehoor dat mense vrae in dié verband vra?

Miskien het jy self al gewonder:

Is daar kontak tussen die mense wat nog lewe en dié wat

reeds gesterf het, en

Sal ons mekaar herken en wat sal ons verhouding tot mekaar

wees in die Paradys of hiernamaals?

Kom ons kyk wat sê God se Woord in hierdie verband.

Is daar kontak tussen die mense wat nog lewe en dié wat reeds

gesterf het?

Uit die Bybel blyk dit asof ons hoogstens kan praat van ʼn sekere

kennis deur herinnering wat die mense in die Paradys of

hiernamaals van die aardse lewe het.

Die ryk man in die gelykenis onthou dat sy broers, soos hy, hulle nie

bekeer het nie. Daarom vra hy dat ʼn boodskapper uit die Paradys

of hiernamaals hulle moet gaan waarsku, maar die versoek word

nie toegestaan nie. Abraham antwoord dat hulle die woorde van

Moses en die profete het. As ons nie glo op grond van dit wat in

die Bybel staan en wat van die kansels af verkondig word nie, sal

niks ons kan oortuig nie – al sou iemand ook uit die dood opstaan

en ons kom waarsku. Dit alles weet Abraham uit sy aardse

herinneringe. Ook die siele onder die altaar onthou hoe die

goddeloses die regverdiges op aarde verdruk het. Hulle vra

daarom vergelding – ter wille van die eer van God. “En toe Hy die

vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van

dié wat gedood is ter wille van die woord van God en die

getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ʼn groot stem

uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser,

oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde

nie?” (Open 6:9-10)

Direkte kennis van elke ding wat op aarde gebeur na hulle sterwe,

is daar egter nie – kontak met die aarde is ook nie moontlik nie. In

Page 5: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

3

Jesaja staan: “Want U is ons Vader! Want Abraham weet van ons

nie, en Israel ken ons nie. U, o HERE, is ons Vader; ons Verlosser is

van ouds af u Naam.” (Jes. 63:16)

Om van ons kant af kontak met die afgestorwenes te probeer

maak, word ten sterkste deur God verbied. Lees maar die

geskiedenis van Saul en die heks van Endor in 1 Sam 28:7ev.

Dit is daarom ook sinneloos om langs ʼn pasgestorwene, of ʼn graf,

of tydens ʼn huldeblyk met hom of haar te praat asof hulle jou kan

hoor, of om vir, of tot hulle te bid – dank God eerder in jou

gebede vir die kosbare herinneringe. Dit is ook ongewens om op

aarde te lewe asof jou geliefde wat gesterf het, voortdurend kyk

wat jy doen. Vermy sulke gedagtes, bekommernisse en

vraagstukke, want God is alwetend en alsiende. Jy kan liewer

rustig voortgaan met jou lewe – deur onder meer God se wil te

soek en uit te leef.

Die afgestorwenes het dus slegs kennis van die aarde omdat hulle

self vroeër op aarde geleef en gebly het en hulle kan slegs onthou

hoe dit hier op aarde was toe hulle geleef het – met die aardse

dood word alle bande verbreek.

Sal ons mekaar herken?

Sal ons mekaar herken en wat sal ons verhouding tot mekaar

wees in die Paradys of hiernamaals? As ek vandag sterwe en in

die Paradys of hiernamaals aankom, sal ek byvoorbeeld my kind

wat doodgebore was, kan herken? Sal ons daar bly wees om ons

geliefde en vriende weer te sien?

Hieroor gee die Skrif vir ons duidelike antwoorde. Kom ons kyk eers

na Jesaja. Daar word aan ons geskilder hoe Nebukadnesar in die

doderyk aankom. Dit is ʼn spottende beskrywing – die koning van

Babel word met sy aankoms dadelik herken en met jullende en

snydende spot begroet. “Die doderyk daaronder is in beroering

om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die

skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van

die nasies van hulle trone opstaan. Hulle hef almal aan en sê vir

Page 6: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

4

jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy het soos ons

geword. Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou

harpe; onder jou is wurms as ʼn bed gesprei, en maaiers is jou

bedekking. Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van

die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger

van die nasies!” (Jes. 14:9-12)

Van weerskante af sal daar dus herkenning wees. Ook die

gelowiges onderling sal mekaar herken. As Dawid se kindjie by

Batseba sterf, dan sê hy in 2 Sam 12:23: “Maar nou is hy dood —

waarom sou ek dan vas? Sal ek hom nog kan terugbring? Ek gaan

na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie.”

Dink ook aan die woorde van die Here Jesus in Luk. 16:9 met

betrekking tot die oneerlike bestuurder: “En Ek sê vir julle: Maak vir

julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle

die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.”

Hieruit kan ons eerstens aflei: dat weldoeners hartlik deur dié wat

van hulle hulp op aarde ontvang het, verwelkom sal word, en

tweedens dat die vriende wat ons op aarde gemaak het, ons met

blydskap en vreugde sal verwelkom in die Paradys en hiernamaals

met Christus, of in die doderyk en hel sonder Christus.

Wat ʼn heerlike vooruitsig en wete vir die gelowiges, dat ons met

liggaam en siel aan ons getroue Saligmaker behoort – ʼn

verbondenheid wat nooit verbreek kan word nie. Hierdie wete

verdryf alle vrees vir die dood.

Hierdie herkenning is natuurlik ʼn geestelike misterie – ʼn geestelike

bewuswording van mekaar. Eers op die nuwe aarde onder ʼn

nuwe hemel sal ons mekaar volkome ken.

Ons moet besef dat die verhoudinge daar anders sal wees as hier

op die aarde. Die natuurlike verhoudinge word totaal oorheers

deur die geestelike – daar is ons almal kinders van God. Daarom,

al sou jy jou kind in die Paradys of hiernamaals herken en bly wees

oor sy of haar teenwoordigheid, sal daar nie meer die ouer-kind-

verhouding wees of voortgesit word nie.

Page 7: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

5

Alle ander aardse verhoudings, byvoorbeeld man-vrou, broer-

suster, ouer-kind ens. sal ook nie meer bestaan nie – die

verhouding tot God sal alle klem dra (Matt 22:30; Mark 12:25).

In Luk 13:27 lees ons die volgende woorde van Jesus aan al die

ongelowiges. “Ek sê vir julle, EK ken julle nie waar julle vandaan is

nie. Gaan weg van My, al julle werkers van ongeregtigheid!”

Anderkant die aardse dood deel God sy heerlikheid net met

mense wat Hy herken en ken as gelowiges. Wat ʼn wonderlike

vooruitsig!

[Die wonder van verheerliking met die wederkoms van Christus,

(2015:23-25) deur G.H. Buys.

LIEF EN LEED

Sr Cornelia Spang is na ’n lang siekbed oorlede en is op 26 April

begrawe. Ons bid om die vertroosting van die Heilige Gees vir Br

Frans, Sr Zuzette en Henno.

Sr Hermien Söhnge se suster Marie, ’n ou bekende by ons, is

oorlede. Mag die Heilige Gees sr Hermien vertroos.

Daar is ’n groeisel in Br Antonie Kruger se aorta wat verwyder

moet word.

Br Gerrie Vermaak en sr Elsa Ströh verduur baie pyn en ongerief

weens kanker.

Br Theuns en sr Anna de Beer is ook deur siekte platgetrek maar

kon laas naweek weer die erediens bywoon.

Sr Annatjie Botha het harttoetse ondergaan in Steve Biko hospitaal

en sterk tans tuis aan. Sr Christine Olivier was ook vir toetse in die

hospitaal.

Page 8: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

6

Sr Karen Buys het longontsteking gehad.

Br Hannes vd Walt het sy knie beseer en sr Grietjie moes bontstaan

om hom te versorg.

Gerugte dat br Frans en sr Tinie du Plessis Botswana burgerskap

gekry het, is nie waar nie, maar hulle het die kampeer by Chobe

duidelik baie geniet.

Baie geluk aan br Seakle en Sr Elsa Godschalk met die geboorte

van hul kleindogter, Aneska.

Baie geluk ook aan br Perie en sr Marinda van Niekerk met die

geboorte van hul tweede kleinkind.

Br Koos en sr Dineke van Heerden het in Februarie hard gewerk

om alles reg te kry vir hulle jongste dogter, Nellie, se troue in

Heidelberg. Nellie het sowat ’n jaar gelede in Nederland verloof

geraak. Dit was ’n groot plattelandse troue, met baie gaste.

Dineke se ma en pa, hy is reeds 90 jaar oud, het ook die troue

vanuit Nederland kom bywoon.

Sr Marianne van Geer se man (br Jan) het ‘n operasie ondergaan.

Br Jan en sr Alta Pretorius is weer terug na hulle besoek aan

Europa.

Br Frans du Plessis

WELKOM

Br Chris Human is as diaken vir wyk 2 bevestig. Seën op u

ampswerk toegebid.

Van die GK Naboomspruit het by ons aangesluit: Br Eras en sr Joey

van Aarde, 16de Laan 733, Wonderboom-Suid, 0084.

Selnommers: 073 239 2632 en 071 017 1983, onderskeidelik. E-

posadres: [email protected] (Wyk 04)

Page 9: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

7

AFSKEID

Diaken Johan Labuschagne en oudl Frans du Plessis het eervolle

ontslag uit die amp van ouderling ontvang.

Br Johan en sr Sue Labuschagne het Mosselbaai toe getrek.

Brs Dirk (jnr) en Gerrie van Zyl het sonder attes vertrek.

VAN EN VIR DIE SUSTERS

KAMEELDRIFT DAMESOGGEND

Kameeldrift bied hulle jaarlikse Damesoggend aan op 18 Augustus

2018 by St Mary’s Diocesan School for Girls, Duxbury Road,

Hillcrest.

Susters word gevra om die datum solank oop te hou. Meer

inligting rakende kostes, die beskikbaarheid van kaartjies, ens. sal

deurgegee word sodra die inligting beskikbaar is.

Sr Elmarie Wood

BYBELSTUDIE – DINSDAGAAND

Ons vorder fluks met die boek Jesaja. Onlangs het ons Jesaja 53

behandel. Hierdie baie bekende hoofstuk is moontlik die enigste

hoofstuk in die Ou Testament waarvan elke vers in die Nuwe

Testament direk aangehaal of na verwys word. Merkwaardig,

maar gesien die aard van die hoofstuk wat ‘n direkte profesie van

Jesus Christus en sy verlosserswerk is, heeltemal verstaanbaar.

Enige lidmaat is welkom om Dinsdae van 1800-1900 by ons aan te

sluit in die konsistorie.

Br Seakle Godschalk

Page 10: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

8

VAN DIE KERKRAAD

Die beplanning vir die basaar in Junie en die feesnaweek in

November is goed op dreef. Ons versoek almal om te help om

ontbytkaartjies aan familie en vriende buite die gemeente te

verkoop om meer voete by die basaar te kry.

Ds. Wikus en oudl. Thys Olivier het die klassisvergadering op

Bronkhorstspruit bygewoon. Die versorging van emeritus

predikante bly ’n probleem en die klassis sal by die volgende

vergadering in September, wat hier by ons sal plaasvind, ook

verder daaraan aandag gee.

Die kerkraad het ook ’n brief van meegevoel aan Die Kandelaar

gemeente gestuur na hulle predikantspaar tragies in ’n

motorongeluk oorlede is.

Die Handelinge van die Algemene Sinode wat in Januarie

plaasgevind het, is nou op die GKSA se webwerf

(www.gksa.org.za) ter insae beskikbaar. Ons sal ook die skakel op

die gemeente se webwerf plaas.

[Sien ook die afsonderlike bydrae oor die finansiële situasie van

ons gemeente.]

Br Frans du Plessis

DIE FINANSIËLE SITUASIE VAN ONS GEMEENTE

Die Eiendoms- en Finansiëlekommissie het hard gewerk om ’n

begroting vir die nuwe jaar aan die kerkraad voor te lê. Dit gaan

maar moeilik sonder ‘n kassier, en die keiser (staat) se vereistes

moet nougeset nagekom word. Nadat daar ernstig besin is oor

besparings en verbeterings aan die inkomste, is die begroting

voorlopig goedgekeur sodat daar met vaste uitgawes

Page 11: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

9

voortgegaan kan word. Die kommissie kyk nou na verdere

besparings en waar bydraes verhoog kan word.

Daar is ook heelwat diskresionêre items wat vir eers nie sal aandag

kry nie. Veral onderhoud waarvoor daar nie fondse is nie, sal in die

toekoms probleme skep omdat ons nie betyds aan alles kan

aandag skenk nie. Ten spyte hiervan oorskry die uitgawes die

inkomste steeds met meer as R10 000 per maand en ons fondse

sal teen die einde van die jaar uitgeput wees as ons nie die

tendens kan omkeer nie.

In die afgelope twee finansiële jare is elke maand meer lopende

uitgawes aangegaan as die bedrag wat ingesamel was. Dit is ten

spyte van die feit dat die E&F kommissie in die laaste finansiële

jaar daarin geslaag het om die uitgawes met ongeveer R 200 000

te besnoei. Geen kapitale uitgawes is ook aangegaan nie. Indien

al die bydraes wat aan die kerkraad belowe is tydens huisbesoek

egter wel inbetaal was, sou ons reserwes met sowat R 50 000 per

jaar gestyg het.

Die kerk se kontantreserwes het egter nou so laag gedaal dat

hierdie patroon nie weer herhaal sal kan word nie, want dan sal al

ons reserwes uitgeput wees voor die einde van hierdie finansiële

jaar. Laat ons almal ook hierdie saak met die nodige erns

benader; ons mag nie vergeet van die instandhouding van die

kerk van Christus nie. Ons weet immers dat Hy nog nooit van ons

vergeet het nie en dat ons elke dag seëninge uit Sy hand

ontvang.

Ouderlinge Frans du Plessis en Charl Small

Ter inligting [veral vir nuwe lidmate] haal ons die gedeelte uit die

Jaarprogram wat Finansies aanspreek hier aan:

Ramings: Die kerkraad word jaarliks vir vasgestelde bedrae in die

kerkverband van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika geraam

(aangeslaan). Hierdie ramings is 'n verpligte betaling om die

uitgawes vir kerklike fondse, administratiewe- en reiskoste,

salarisse en die kostes van kerklike vergaderings en

Page 12: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

10

gesamentlike werksaamhede asook die emeritus-predikante/

predikantsweduweesfonds te dek.

Die gemeente se inkomste is in die vorm van maandelikse

bydraes deur lidmate. Ons vra u vriendelik om u bydraes gereeld

af te dra. Bydraes word in 'n spesiale bydraekoevert, met al die

nodige gegewens daarop, in die bussies by die deure afgedra,

verkieslik nie later nie as die tweede Sondag van die maand.

Hierdie bydraes word verwerk en 'n nuwe koevert tesame met 'n

kwitansie sal aan u besorg word. Bydraekoeverte is ook by die

kantoor beskikbaar.

U kan u bydrae ook by wyse van 'n elektroniese oorplasing of

aftrekorder gee. Tree asseblief hieroor met u ouderling of die

kassier in verbinding. Die ouderling sal gereeld tydens huisbesoek

die bydrae en finansiële posisie van die kerk met u bespreek.

Alhoewel dit 'n vrywillige bydrae is, gee ons uit dankbaarheid ons

deel aan die Here. U benadering van hierdie saak moet in die

geloof geskied. Die riglyn vir u maandelikse bydrae word op 5%

van u bruto inkomste gestel, dit wil sê R5.00 uit elke R100.00 wat u

verdien.

Tydens Nagmaal, wat vier keer per jaar gevier word, word daar

aan lidmate die geleentheid gegee om 'n Spesiale Dankoffer te

gee. Vir hierdie doel is spesiale koevertjies beskikbaar wat tydens

huisbesoek deur die wyksouderling aan lidmate voorsien sal word.

Die koevertjies kan tydens die Nagmaalsdiens in die bussies by die

deure afgedra word.

Kollektes:

In die banke: Vir die Diens van Barmhartigheid

By die deure: Vir die Kerkkas tensy anders op die

Jaarprogram aangedui

Die begroting van die Gereformeerde Kerk Innesdal word soos

volg verdeel:

1. Woordbediening

2. Ramings

Page 13: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

11

3. Verbeterings

4. Instandhouding

5. Salarisse en lone

6. Administrasie en ander

Perie en Marinda van Niekerk

Br. Perie en sr. Marinda is vanjaar 35 jaar getroud, waarvan hulle

die laaste 29 jaar in Innesdal gemeente deurgebring het. Hulle het

mekaar ontmoet nadat Perie se niggie besluit het sy beter nou ‘n

plan maak. Marinda en die niggie was jare lank skoolmaats.

Marinda was ‘n nooi Mansvelt met sterk Nederlandse

verbintenisse. Haar oupagrootjie is deur die Nederlandse regering

in die 1800’s na Suid-Afrika gestuur met die opdrag om die

“kombuistaal” wat volgens gerugte in die land posgevat het, te

kom ontmoedig en weer goeie gehalte Nederlands as voertaal te

bevorder. Tydens sy werk in die Stellenbosch omgewing het hy

egter tot die besef gekom dat Afrikaans reeds so ver gevorder het

dat dit inderdaad as ‘n nuwe, volwaardige taal beskou moet

word. Hy het in Suid-Afrika aangebly en voortgegaan met sy werk.

Mettertyd het hy ‘n Afrikaanse woordelys saamgestel asook ’n

boekie met Afrikaanse idiome. Marinda se pa was ‘n onderwyser.

Hulle het in Johannesburg gewoon en was lidmate van die NG

Kerk. Na skool het sy B.Cur. by die destydse RAU gestudeer en

eindelik by die Departement van Gesondheid beland. Sy is tans

betrokke by opleidingsprogramme vir verpleegsters.

Marinda het ‘n voorliefde vir kunstige skeppings. Sy het al kaartjies

gemaak, blomme geteken, glaskrale gemaak en pottebakkery

beoefen. Sy was ook tot onlangs betrokke by die beeldende

kunste kenteken wat die Voortrekkers vir hoërskoolleerlinge

aanbied.

Perie het telkens verhuis omdat sy pa in die polisiediens was en

gereeld verplaas is. Later het sy pa by die hoofkantoor in Pretoria

beland en toe het dit darem rustiger gegaan. In die twee jaar wat

ds. Stavast by Wonderboom-Suid gemeente was het Perie daar

Page 14: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

12

belydenis van geloof afgelê. Perie het ook begin as ‘n polisieman,

toe aangeskuif na die destydse Mielieraad, maar die langste deel

van sy loopbaan in die elektriese voorraadbedryf deurgebring. Hy

koop en verkoop ook karavane, maar hou genoeg tyd oop vir

visvang saam met die kleinseun. Die twee het nog groot planne

vir die toekoms.

Hulle twee dogters, wat altwee in die gemeente grootgeword

het, is nou reeds getroud. Marileen wat bestuursrekenmeester

geword het, woon in Johannesburg. Hulle het een seuntjie.

Henriëtte het gaan sielkunde studeer, maar is tans werksaam by ‘n

prokureursfirma. Hulle eersteling is sedert my onderhoud met Perie

en Marinda gebore.

Die Van Niekerks is familiemense. Die groot bederf vir hulle is om

goeie vriende te maak en ook hegte familiebande te hê. (Praat

van planne maak: Henriëtte se skoonma het 'n aangeboude

tuinwoonstel gekry agter in die Van Niekerks se erf. Nou hoef die

kinders glad nie te skeduleer om by albei ouers uit te kom nie, alle

paaie lei na die Van Niekerks toe.) Elke kersfees is die ganse

familie ook saamgetrek op dieselfde plek, niemand word

verskoon nie.

Oudl Charl Small

KERKNUUS UIT PRETORIA

Annlin Emeritus-predikant dr Jan Venter is oorlede.

Die Kandelaar Die gemeente is geskok deur die afsterwe van hul

predikant en sy vrou dr Jac en Ina Howell tydens ‘n padongeluk.

Pretoria-Sentraal Emeritus-predikant ds Hennie Venter is

oorlede.

Magalieskruin Ds Danie Snyman het geëmeriteer.

Page 15: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

13

Rietvallei Ds Gerhard van Rhyn het die beroep na Komatipoort

aanvaar.

Brooklyn Ds Jacques Tredoux van Dendron/Magalakwin het die

beroep na Brooklyn aanvaar.

Vakature

GSDP benodig 'n gekwalifiseerde onderwyser (met die nodige

kwalifikasies) vir die aanbied van: IGO: GR 10 - GR 12

Indien u deel wil wees van 'n gelowige, gemotiveerde en

entoesiastiese span van ± 40 personeellede en indien u glo in

onderwys vanuit God se Woord, wat hand-aan-hand loop met

hoë akademiese standaarde, verneem ons graag van u.

Vereistes:

• Kandidaat moet lidmaat wees van 'n kerk in die GKSA- of

VGKSA-kerkverband

• Kandidaat moet gereformeerd wees in leer en lewe

• Kandidaat moet oor 'n B-Ed- of toepaslike kwalifikasie beskik

Aansoeke

SLEGS indien u aan bogenoemde vereistes voldoen, voorsien ons

van die volgende:

U Curriculum Vitae

Getuigskrif van u huidige predikant

Handig bogenoemde in teen DV Woensdag, 16 Mei 2018 aan een

van die volgende:

Posbus 31120, Totiusdal, 0134

[email protected] / [email protected]

Dickensonlaan 1180, Waverley, Pretoria

Vir verdere inligting kontak Mev Jana Terblanche by

[email protected]

Page 16: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

14

Indien u, nadat u aansoek ingedien is, niks van ons verneem nie,

moet u asseblief aanneem dat u aansoek onsuksesvol was.

Die Gereformeerde Skool Dirk Postma is 'n onafhanklike,

gereformeerde skool in Waverley, Pretoria, met ± 400 leerlinge in

die kleuter-, laer- en hoërskool.

DIE HERVORMING (4): VOORLOPERS VAN DIE HERVORMING

In die vorige artikel het ons na enkele vroeë voorlopers van die

Hervorming gekyk: monnik Gottschalk in die 9de eeu, die

Waldense in die 12de eeu en John Wycliff in die 14de eeu. In

hierdie artikel kyk ons na voorlopers in Tsjeggië (destyds Boheme).

Johannes Hus van Praag (1369-1415)

Voor Johannes Hus was daar al hervormingsgerigte optrede in die

destydse Boheme. Die Waldense het ‘n sterk invloed gehad en

die klimaat ryp gemaak vir opposisie teen die roomse kerk se

misstande. Manne soos Koenraad van Waldhausen (oorlede

1369), Johannes Milicz (oorlede 1374) en Matthias von Janow

(oorlede 1394) het deur hul prediking probeer om die bederf in die

kerk bloot lê.

Maar die eintlike hervormer (en nasionale held) in Boheme sou

Johannes Hus word. En dit nie onder direkte invloed van die

Waldense nie maar wel van John Wiclif se leer. Johannes Hus is op

6 Julie 1369 as kind in ‘n arm gesin in die dorpie Hussenesz in

Boheme gebore. Op jong ouderdom sterf sy vader. Johannes was

‘n skrander en leergierige seun en ‘n edelman-familievriend het

hom aan die Universiteit van Praag laat studeer. In 1394 – op 25-

jarige ouderdom – word hy as lektor aangestel en begin hy lesings

oor die Bybel aanbied. Twee jaar later behaal hy sy graad in vrye

kunste en begin verder in teologie studeer. Nog vier jaar later (dis

nou al 1400) word hy priester. In 1402 word hy deur die aartsbiskop

van Praag as prediker in die Betlehemkapel in Praag aangestel

Page 17: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

15

waar hy net in die landstaal mog preek (dit was reeds

merkwaardig in die lig van die algemene gebruik om in latyn te

preek). In 1403 word hy biegvader van koningin Sophia. Hy word

op 34-jarige leeftyd deur die koning van Boheme as rektor van die

Universiteit van Praag en professor in Wysbegeerte aangestel.

In hierdie tyd was daar ook ‘n nasionaal-gebaseerde konflik aan

die Universiteit van Praag weens ‘n oormatige invloed van

Duitsers. Die Boheme oorreed die koning om die stemstelsel te

verander sodat hulle die meerderheid stemme sou kry. Dit gebeur

toe so. Die Duitsers onttrek toe uit Praag en stig hul eie universiteit

in Leipzig. Dit het daartoe bygedra dat Johannes Hus ook ‘n

Tsjeggiese nasionale held geword het.

In daardie stadium was die

geskrifte van John Wiclif

redelik bekend in Boheme

weens aktiewe interaksie

tussen Engeland en

Boheme – koning Richard III

van Engeland was getroud

met Anna, die dogter van

Karel IV, keiser van Duitsland

en koning van Boheme. Op

‘n dag kry Hus besoek van

twee volgelinge van John

Wiclif. Hulle verduidelik deur skilderinge op die muur van sy

studeerkamer die verskil tussen die nederige intog van Jesus en

die praalsiekte van die destydse pouse. Hulle oorhandig ook aan

hom enkele boeke van Wiclif. Dit laat Hus se oë begin oopgaan.

In die Betlehemkapel preek hy nou die Bybel en Christus alleen. Hy

word ‘n bestryder van die pouslike hiërargie en stel die sondes van

die pous aan die kaak. Hy het die korrupsie onder die geestelikes

veroordeel, en die volk gekritiseer vir hul aanbidding van beelde,

hul geloof in valse wonderwerke en die onderneem van

“bygelowige pelgrimstogte”. Hy het ook die gebruik gekritiseer om

by die mis wel die brood aan gewone gelowiges te gee, maar die

beker met wyn van hulle te weerhou.

Page 18: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

16

In 1409 word hy deur die biskop van Praag van kettery aangekla,

maar hy word deur die koning en die universiteit beskerm.

Wanneer pous Johannes XXIII in 1412 in Boheme ‘n aflaat laat

verkondig om sy veldtog teen die koning van Napels met wie hy in

konflik was, te finansier, tree Hus openlik daarteen op. Die pous is

woedend en spreek in 1413 die ban oor Hus uit. Nie net oor Hus

nie, maar ook oor Praag – ‘n slim politieke skuif wat tot gevolg het

dat Hus se beskermhere hulle aan hom onttrek. Hus wyk uit Praag

na sy geboortedorp waar hy in die kasteel van ‘n bevriende

edelman die Bybel in Tsjeggies vertaal. Die invloed hiervan is so

groot dat Hus se Bybeltaal die skryftaal van die Tsjegge geword

het. Hier skryf hy ook verskeie boeke, waarvan Oor die kerk die

belangrikste was. Hierin verklaar hy dat die ware kerk uit die

uitverkorenes bestaan en dat nie die pous nie maar Christus alleen

die hoof van die kerk is. Alleen die Heilige Skrif bepaal wat

waarheid en dwaling is, nie die pous of enige kerklike vergadering

nie. Die roomse kerk het so ontaard dat dit die Antichris geword

het.

Twee jaar later kom hy weer in Praag. Koning Sigismund oorreed

hom om sy leer by die konsilie van Constanz te verdedig en

belowe hom vrygeleide [wat hy later verbreek het]. Hus besluit om

na die konsilie te gaan. Onmiddellik na sy aankoms word hy

gevange geneem en in ‘n kloostersel opgesluit. Hier was hy ‘n

gevangene tot die dag van sy teregstelling. Hy het ernstig siek

geword en baie pyn verduur. Die konsilie laat hom nie toe om sy

leer te verdedig nie, maar dring bloot aan op volledige

herroeping. Wanneer Hus om gewetensredes nie hieraan voldoen

nie, word hy op 7 Junie 2015 in ‘n skynverhoor in die

teenwoordigheid van 34 kardinale, 20 aartsbiskoppe, 160

biskoppe, 250 prelate, 4 keurvorste, 20 hertoë en 80 grawe

verhoor en ter dood veroordeel. Op 6 Julie 1415 – op sy 46ste

verjaardag – word Johannes Hus op vernederende wyse ontwy as

priester en al psalm-singende op die brandstapel verbrand. Sy as

word in die Ryn-rivier gegooi.

Hus se dood het nie die einde van die reformasie in Boheme

beteken nie. Sy vriend Hiëronimus van Praag wat sy verhoor by die

konsilie van Constanz bygewoon het, het eers onder druk geswig

Page 19: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

17

en sy ondersteuning aan Hus herroep. Hy kom egter tot besinning.

Nadat hy op die konsilie sy herroeping plegtig herroep het, word

hy ook ter dood veroordeel en op 30 Mei 1416 verbrand.

Hierna breek ‘n tyd van onrus aan waartydens die reformatoriese

sieninge veral onder die edeles en die universiteit gesteun word.

Die wynbeker word aan gelowiges bedien en die prediking vind in

die volkstaal plaas. Wanneer die volksleiers weier om Sigismund

wat sy belofte van vrygeleide aan Hus verbreek het, as koning te

erken, breek ‘n burgeroorlog uit (die Hussitiese oorlog van 1420-

1436). ‘n Eie Boheemse en Morawiese kerk (die Morawiese

broeders) het tot stand gekom wat tot die 17de eeu in Boheme

aktief was. Vandag is daar ‘n Tsjeggiese Hussitiese kerk wat sy

wortels na Johannes Hus herlei.

Ander ontwikkelinge wat die Hervorming aangehelp het

Net soos wat daar voor die geboorte van Christus verskeie

ontwikkelinge die omstandighede vir Sy koms voorberei het (“die

volheid van die tyd”) net so was daar in die tydperk voor die

Hervorming verskeie ontwikkelinge wat Europa voorberei het.

Gedurende die Middeleue het kunste en wetenskap in diens van

die kerk gestaan. In die 14de en 15de eeu kom daar verandering,

veral die oplewing van die ou kultuur van die Romeine en Grieke.

In 1453 val Konstantinopel in die hande van die moslem-Turke en

vlug baie Griekse gekeerdes na die Weste. Dit het onder andere

bygedra tot die Renaissance (herlewing) van die ou kulture.

Hierdie mense is Humaniste genoem.

Die humanis Desiderius Erasmus van Rotterdam, Nederland, het

die kerk ‘n groot guns gedoen deur die Nuwe Testament in Grieks,

die oorspronklike taal waarin dit geskrywe was, uit te gee. Hierdeur

kon mense wat Grieks magtig was, die werklike betekenis van die

Nuwe Testament beter verstaan as uit die latynse vertaling

[Vulgaat] wat altyd gebruik was.

Daarmee saam val die ontdekking van nuwe seeweë en nuwe

wêrelddele, en die ontwikkeling van nuwe tegnologie. Dit alles het

Page 20: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

18

gelei tot ‘n groter waardering van kennis en verset verskerp teen

die kerk wat die mense doelbewus in onkunde probeer hou het.

Die uitvinding van die boekdrukkuns het dit moontlik gemaak dat

nuwe idees op groot skaal gedruk en versprei kon word. Dit het

baie bygedra tot die vinnige verspreiding van literatuur voor en

tydens die Hervorming. In die lig daarvan dat die Bybel in die

volkstaal [saam met die Psalmboek in volkstaal] deur die Roomse

Inkwisisie as die mees verbode beskou was, moet die uitvinding

van die boekdrukkuns as die belangrikste sneller vir die

Hervorming beskou word.

Die eeue-lange proteste teen die wantoestande in die kerk het

die aarde vrugbaar gemaak vir ‘n doelgerigte

hervormingsbeweging

(word vervolg)

Br Seakle Godschalk

Philippus Jacobus Wilhelmus Schutte (deel 2)

‘n Eerste predikant kom eers na 13 jaar in die Kaap aan by name

van ds Johan van Arckel. Op 18 Augustus 1665 is die eerste

selfstandige Gereformeerde Kerk in Kaapstad, met een ouderling

en een diaken, gestig. ‘n Groot terugslag tref Kaapstad met die

afsterwe van hul predikant, ds van Arckel, skaars 5 maande na die

Terloops: Om die roomse kerk katolieke kerk te noem is om aan hulle

‘n eretitel te gee waarop hulle glad nie geregtig is nie. Die roomse

kerk is juis die roomse kerk omdat die mag in Rome gesetel bly. Die

ware kerk soos artikel 27 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely,

is die “enige katolieke of algemene kerk”. Laat ons nie daardie

eretitel prysgee aan die roomses nie.

Page 21: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

19

stigting van die eerste gereformeerde gemeente. Die stigting van

die Gereformeerde gemeente van Stellenbosch volg 22 jaar later

in 1687.

Die herroeping van die Edik van Nantes in 1686 jaag ongeveer 200

Franse Hugenote vanuit Frankryk na die Kaap. Hulle eie predikant,

ds. Pierre Simond, kom saam. Hulle streng Gereformeerde

opvattings het ‘n sterk invloed op die kerk in Suid-Afrika gehad.

Hulle het veral ‘n hoë waarde aan Psalmsang in eredienste

geheg, en vorentoe sou hierdie invloed juis later ‘n bydrae lewer

tot die Gereformeerde stryd teen die liberale mensgemaakte

liedere .

Aanvanklik was akkerbou baie gewild aan die Kaap, maar later

het veeteelt ander uitbreidingsmoontlikhede teweeg gebring.

Veeteelt het die uitbreiding verder weg van die Kaap gestuur en

nuwe rigtings is ingeslaan. Met voordele kom daar ook nadele -

die Godsdiensbeoefening en kerk-meelewing het afgeskaal

weens tekorte aan kerke en predikante. In 1797 word die

gemeente van Graaff Reinet gestig en dit was juis uit hierdie

gemeente waar roepstemme van ontevredenheid reeds in 1833

gekom het.

Die rol wat Klassis Amsterdam in Suid-Afrika se kerkgemeentes

gespeel het, was dramaties. Geen selfstandige optredes is

toegelaat nie. Waar Christus die Hoof van elke gemeente moes

wees, het Amsterdam se Klassis hierdie eer vir homself toegedig.

Gemeentes het mekaar nie geken nie en gemeenskaplike

probleme is nooit hanteer nie. Hierdie onbybelse tekortkoming het

De Mist goed gepas. Na die eerste 143 jaar se Hollandse invloed in

die Kaap en kort asemteug van die Britte tussen 1795 en 1803, het

die Nederlandse invloed weereens vanaf 1803 tot 1806 tydens die

Bataafse tydperk, ‘n rukkie vlam gevat totdat die Britte in 1806

hulle tweede oorname vasgemaak het. De Mist het ‘n verskriklike

rol tydens die Bataafse regeringstydperk gespeel – hy was ‘n

liberalis van kop tot tone, wat aangeblaas was deur die liberale

slagspreuk van die Franse Rewolusie - vryheid, gelykheid en

broederskap en sy nuwe Kerkorde van 1803, met 52 radikale

artikels, het in die Hervormde Kerkgenootskap neerslag gevind.

Page 22: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

20

As gevolg van ‘n paar liberale uitgangspunte in hierdie Kerkorde

van De Mist is dit onder die ware Gereformeerdes as ongewild en

gevaarlik beskou. Baie humaniste glo vandag nog soos hy geglo

het - die kerk is ‘n vereniging van mense – as jy wil deelneem is jy

welkom, anders hoef jy ook nie. Die kerk is diensbaar aan die staat

en moet goeie burgers oplewer, in plaas van Christus wat die Hoof

van elke gemeente moet wees. Só is die Dordtse Kerkorde met

dié van De Mist vermeng of vervang. De Mist vermy die Bybelse

gebruik van God se Naam, hy skaal God laer af en verwys eerder

na ‘n Hoër wese – ‘n Naam wat nie vir ‘n Gereformeerde uit die

Bybel geleer word nie. Die Sinode is die kerk en die gemeentes

takke daarvan – ‘n onding wat reeds weer ‘n ruk lank sy kop

uitsteek – waar is die kennis dat Christus Sy kerk regeer en nie die

liggaam nie? Hy het ook ‘n reuse invloed uitgeoefen op skole –

neutrale staatskole moes ‘n weg baan waar ouers geen

seggenskap oor die opvoeding van hulle kinders het nie en waar

geen godsdiens toelaatbaar is nie. En dit was reeds só in 1803 – só

herhaal die liberale gees hom telkens en bring steeds meer en

meer verantwoordelikheid vir die Christen Gereformeerde in die

hedendaagse tyd.

Die Britse tyd vanaf 1806 het nie minder stryd vir die

gereformeerdes gebring nie, inteendeel, meer. De Mist se Liberale

Kerkorde het voortgeleef, staatsgesag het verskerp, kerklike

vryheid as erfenis van die reformasie is ingeperk, ‘n tekort aan

predikante was steeds ‘n realiteit en om alles te vererger en ‘n

skok vir die behoudende Gereformeerdes te gee, is sendelinge

van die Londense Sendinggenootskap en Skotse predikante

ingevoer. Andrew Murray, Colin Fraser, George Morgan, Henry

Sutherland en Alexander Smith moes hulle Skotse vaderland

verlaat, eers in Nederland die taal aanleer en dan die roete na

die Kaap aanpak. Dit kan dalk hier genoem word dat meeste van

die Skotse predikante Calvinisties-puriteins gedink het en dat hulle

wel die Skrifwaarhede gekoester het. Hulle het immers in ‘n reeds

liberale tydsgees in Suid-Afrika beland.

Wanneer het die stryd teen die Gesange begin en hoekom was

daar ‘n stryd? Soos die Psalms skrifgetrou is en van Christus sing, so

Page 23: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

21

kan die mensgemaakte Gesange nie oor dieselfde kam geskeer

word nie. In 1807 is die Evangeliese Gesange sonder die

toestemming van die Nasionale Sinode deur sekere partikuliere

sinodes in Nederlandse Kerke ingedra – en hoekom sou dit dan

nie ook oor die woelige waters na Suid-Afrika oorspoel nie?

Op 15 November 1812 het die Kerkraad van Stellenbosch ‘n aksie

geloods waar 2000 eksemplare van die Gesangeboek bestel kon

word – dis nou sonder dat dit deur ‘n Kerkvergadering aan die

Woord of belydenisskrifte getoets is. Uiteindelik het dit nie net by

staan in die kring gebly nie, maar reeds sittende in die Liberale

kring, rapporteer ds Fleck van Kaapstad op 6 Desember 1813 dat

die Gesangeboeke gekom het en dat dit reeds op die tweede

Sondag van Januarie 1814 in gemeentes gesing mag word -

sonder om dit deur ‘n kerkraad of meerdere vergadering te toets

aan die waarhede van die Skrif.

[Toespraak by die Gereformeerde Gemeente Carltonville se

kerkkamp 9-11 Februarie 2018]

Br Andries Buys

DIE BYBELGENOOTSKAP VAN SA OP PAD NA 200: LENA SE NUWE TESTAMENT

Hoewel die herdenking van die 200ste bestaansjaar van die

Bybelgenootskap van Suid-Afrika eers in 2020 sal plaasvind, word

daar reeds aktief inligting ingesamel oor die werk van die

Genootskap in die loop van die twee eeue.

‘n Besondere aspek waarop tans gekonsentreer word, is die rol

wat die Bybel in die lewens van Suid-Afrikaners gespeel het, en

hier is waar die verhaal van Lena se Nuwe Testament inpas:

In 1737 het eerwaarde Georg Schmidt van die Morawiese

Sendinggenootskap die sendingstasie Genadendal, naby die

huidige dorpie Greyton in die Overberg, gestig – een van die

oudste sendingstasies in die land. As deel van sy werk as prediker

Page 24: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

22

moes hy eers ook sy gemeente leer lees en skryf – in Nederlands,

omdat hy hulle taal nie geken het nie.

‘n Verdere deel van ‘n sendeling se taak was onder andere ook

om sy mense die waardigheid en waarde van selfwerksaamheid

te leer, met die oog op hul eie onderhoud. Omdat Genadendal in

‘n vrugbare kloof geleë is, met sterk water, was een van die eerste

prioriteite die aanlê van ‘n groentetuin en die plant van

vrugtebome. So staan daar vandag nog ‘n peerboom wat eerw.

Schmidt in 1738 daar geplant het. Heelparty groot eikebome wat

uit later jare dateer, versier die strate. Die geboue en terrein, ook

waar die peerboom staan, is verklaar tot Nasionale

Gedenkwaardighede, terwyl ‘n steggie van die peerboom

bewaar word in die Infruitec-gedenktuin (Heritage Garden) in

Stellenbosch.

Toe eerwaarde Schmidt begin om sy bekeerlinge te doop, het hy

teenstand van die plaaslike kerkgeledere aan die Kaap gekry

omdat hy nie ten volle gelegitimeer was nie, en moes hy in 1744

terugkeer na Europa. Met sy vertrek het hy ‘n Nederlandse Nuwe

Testament aan een van sy bekeerlinge, Lena Tikhue, oorhandig.

Byna 50 jaar later, in 1792, het drie geordende sendelinge, Hendrik

Marsveld, Daniel Schwinn en Christian Kühnel, op Genadendal

aangekom om die werk voort te sit. Groot was hul verbasing toe

hulle Lena, toe reeds feitlik blind, ontmoet en sy die Nuwe

Testamentjie, netjies toegedraai in velle, uit ‘n leersak haal en ‘n

jong Khoi-meisie vra om vir hulle daaruit te lees. Sy het al die jare

die gemeente onder die peerboom bymekaargekry en vir hulle

daaruit gelees en self leer lees. Voorin is geskryf “Uit hierdie boek

het ons elke dag gelees.”

Die gehawende Testamentjie het vir byna 50 jaar hierdie groepie

Christene bymekaargehou. Dit is steeds te sien in die museum op

Genadendal, saam met talle artikels wat getuig van die ywerige

werksaamheid van die gemeenskap deur die jare. Onder andere

was Genadendal lank bekend vir sy handgemaakte

”Herneutermesse” – eerwaarde Schmidt was oorspronklik van

Herrnhut in Sakse, wat moontlik die naam verklaar. (Ongelukkig

Page 25: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

23

het die geheim vir die samestelling van die staal verlore geraak en

is die vervaardiging van die messe gestaak.)

** ** ** ** ** **

Die Bybelgenootskap, verantwoordelik vir die daarstel van

Bybelvertalings, die druk en die verspreiding daarvan, is afhanklik

van donasies, erflatings, individuele aftrek- of debietorders (bv. die

“Bybel-per-maand”-klub), kollektes, en fondsinsamelings van alle

slag en soort, waarvan gereeld berig word in die kwartaallikse

uitgawe van “Die Saaier”. Ook ons as gemeente maak ons

bydrae deur gereelde kollektes, soos voorgeskryf deur die

Administratiewe Buro, vanwaar dit na die Bybelgenootskap

gekanaliseer word. (Die datums vir vanjaar se kollektes is

aangetoon in ons gemeentelike kalender onder

“Bybelverspreiding”: Hemelvaart-erediens, ook Sondag 2

September en 30 Desember.)

Sr Hermien Söhnge

Psalmboektoepassing vir selfone en tablette

Die Deputate Gereformeerde Publikasies het ons

Psalmboektoepassing intussen laat opgradeer. Laai gerus gratis af

vir almal wat Android en Apple slimfone of tablette het. Die

toepassing se naam is: GKSA Psalms. Die toepassing se nuwe

soekfunksie is van besondere waarde.

Daar is sommige wat probleme ondervind met die Android

weergawe. Laat weet my asb. per e-pos watter probleme jy

ondervind by [email protected], sodat ek dit kan aanstuur na

Bybelmedia.

Daar word fluks gevorder met die herset en samestelling van die

teks van die Groen Psalmboek. Dis nou in 'n proses van proeflees

en sodra die finale teks beskikbaar is om te druk sal ons voortgaan

om ook 'n toepassing vir die Groenboek te ontwikkel. Daar is

Page 26: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

24

ongelukkig nie 'n tydsraamwerk beskikbaar nie, maar ons hou

goeie moed dat ons dit in die tweede gedeelte van die jaar

beskikbaar sal kan maak.

Ds Ronald Bain

HEILIGE GROND

Hier by die sterfbed voel ek om my skoene uit te trek. Dis heilige grond dié. Dis

hier waar gordyne oopgeskuif word, deure oopgemaak word tussen hier en

daar; tussen ons wat God in die gees sien en die sterwende wat God met

nuwe oë sien.

En in hierdie stil, heilige oomblik verwonder ek my aan dit wat in my gemoed

opborrel: onuitspreeklike liefde, vrede, en opwinding oor ‘n héél lewe.

Wie is ek dat dié lig wat op ‘n ander deur die oopgeskeurde gordyn straal,

ook my nou mag verlig?

(Ds Johan Fleischmann, Geref. Kerk Kaapstad, 12 April 2018)

Ingestuur deur sr Hermien Söhnge

Die Dordtse Leerreëls - Preke deur ds Christiaan Jooste

Vanjaar in 2018 herdenk ons, as Gereformeerdes, na 400 jaar, die

Sinodesitting van Dordrecht, wat vanaf 3 November 1618 tot 29

Mei 1619 in Dordrecht in Nederland plaasgevind het.

Die GK Wonderboompoort het vanjaar se herdenking van die

Sinode van Dordrecht begin met die bekendstelling van die boek

oor Die Dordtse Leerreëls, saamgestel uit die 34 preke, wat ds

Christiaan Jooste vanaf 15 Maart 2015 tot 28 Februarie 2016

daaroor gelewer het.

Die eerste druk is reeds uitverkoop. Daar word ‘n herdruk beplan.

Page 27: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

25

Christelike onderwys Vakbenaderings vir hoër- en

laerskoolonderwysers

Gaan Christelike onderwys voortbestaan in Suid-Afrikaanse skole?

Wroegings oor hierdie vraag vind plaas in die media, howe en

onder ouers en onderwysers. As 'n gelowige ouer of onderwyser is

daar 'n goeie kans dat jy self ook al oor hierdie vraag gewonder

het. Nietemin, die antwoord hierop is eenvoudig. Solank daar

onderwysers is wat hul lesse vanuit die Christelike perspektief

aanbied, sal Christelike onderwys in Suid-Afrikaanse skole bly

voortbestaan.

'n Glansboek Christelike onderwys: Vakbenaderings vir hoër- en

laerskoolleerlinge bied gelowige onderwysers 'n raamwerk vir die

Christelike perspektief op al die vakgebiede wat tans deel vorm

van die kurrikulum van Suid-Afrikaanse hoër- en laerskole. Die

boek is geskryf deur outeurs met eerstehandse kennis van

onderwys in 'n Christelike milieu en bied raad ten opsigte van die

Christelike beskouing vir alle skoolvakke.

Waar die wêreld probeer om vir leerlinge te leer om hulle

skoolvakke van hul geloofslewe te skei, moedig die boek

gelowige onderwysers aan om hul benadering, asook die van

hulle leerlinge, te rig op God.

Skole wat 'n gratis hardekopie van die boek wil bekom, is welkom

om 'n epos aan Pieter Bisschoff by [email protected] te

stuur sodat ons die nodige reëlings kan tref om die boek aan u te

besorg. 'n Elektroniese weergawe van die boek kan ook gratis by

www.christelikemedia.org afgelaai word.

Page 28: 80 Jaar van Genade April/Mei 2018 - gksa-innesdal.co.za · sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15: 1, 2 en 5. 1 INHOUDSOPGAWE 1. Van die Redaksie 1 2. Skrifoordenking 2 3. Lief

26